Daar is baie moontlikhede, maar daar is slegs een oplossing!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-11-29
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 5
Verwysing: 
HK 5-1 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus,

Ons het intussen by die tweede deel van die Kategismus gekom. In Sondae 2-4 het die Kategismus ons sonde en ellende behandel, en nou kom – vanaf Sondag 5 – die vraag aan die orde hoe ons dan van hierdie sonde en ellende verlos word. En dan is dit opvallend om te sien dat hier, in die deel van die verlossing, vir die eerste keer in die Kategismusvrae ‘n belydenis van skuld is. Let wel, in die vrae; in die antwoorde is die hele tyd al op Skriftuurlike wyse die skuld van die mens bely, maar dit is die eerste keer dat die vraagsteller so ver kom om te erken dat elke mens in skuld verlore is.

Ons sien naamlik in die deel van die ellende elke keer maar weer die soeke na uitkoms: eers in vraag 6 die suggestie dat Gód dalk die mens so sondig en verkeerd geskep het; en toe dit ontkrag is, toe kom die veronderstelling in vraag 9 dat God die mens eintlik onreg aandoen om van hom dinge te eis wat hy tog nie kan nakom nie; en toe dit beantwoord is, toe vind ons in vraag 11 nog die vraag of God dan nie ook barmhartig is nie. Maar nou is dit verby; alle verontskuldiginge is beantwoord, alle vlugroetes is afgesny. Ons vind aan die begin van Sondag 5 iemand wat homself oorgegee het. Daar het erkenning gekom; lees maar vraag 12: “Aangesien ons volgens die regverdige oordeel van God die tydelike en ewige straf verdien het…” Ja, – sê die vraagsteller – dit is wat ek verdien, ek staan skuldig! Kan u, kan jy dit met jou hele hart sê: ek verdien die tydelike en ewige straf? Het jy al sover gekom dat jy deurdronge is van, nee, nie van die sonde nie, maar van jou sondes?

Gemeente, die deel oor die ellende is nie verniet nie, dit is nie maar die skadukant van die geloof nie, dit is nie maar die deel wat ons liewer stilhou nie. Nee, dit is voluit deel van ons prediking uit die Kategismus, van alle prediking. En as ons hierdie deel deeglik deurgewerk en ons eie gemaak het, dan bly dit nie sonder vrug nie. Nee, elkeen wat erns maak met die deel oor die ellende, word – soos die vraagsteller – op sy knieë voor God gebring; elkeen wat hierdie deel persoonlik ken, soek nie meer na uitvlugte nie, maar leer om te vlug… na God toe! Wie sy totale verdorwenheid voor God leer raaksien en bely, staan nie meer buite die heiligdom nie, maar het reeds ingegaan in die heiligdom van die verlossing. En daarom is dit so mooi om te sien dat die skuldbelydenis van die vraagsteller aan die begin staan van die deel oor die verlossing. Ja, wie deur die Here tot egte skuldbelydenis gebring word, het reeds die eerste tree geplaas op die pad van die verlossing!

Want, gemeente, watter persoon, wat nie sy sonde besef nie, gaan die vraag stel hoe ons van God se straf bevry kan word? Watter ongelowige, wat nie besef dat hy in skuld verlore is nie, gaan vra hoe ons weer in genade aangeneem kan word? Niemand nie, want hy beséf nie eens die straf wat op hom wag nie, hy beséf nie eens dat hy dringend genade nodig het nie!

Maar hy wat sy skuld sien en bely, by hom kom daar ruimte vir die vraag: maar is daar dan nie verlossing moontlik nie? Hoe kan ons van hierdie straf bevry en weer in genade aangeneem word? En gemeente, op daardie soektog na ware verlossing neem die Kategismus ons vandag in Sondag 5.

Tema: daar is baie moontlikhede, maar daar is slegs een oplossing!
1. Pasop vir die namaaksel
2. Soek na die oorspronklike
3. Laat almal saamkyk na die meesterstuk

1. Broers en susters, daar is dus ‘n besef dat verlossing nodig is. En tog verstaan die vraagsteller nog nie onmiddellik hoe die verlossing bewerk moet word nie. Hy verstaan dat daar betaal moet word vir al ons skuld, vir al sy skuld, maar wie dit moet doen, is vir hom nog nie heeltemal duidelik nie. En voordat hy daarom na die eintlike verlosser gelei word, val die vraagsteller eers ‘n bietjie rond tussen ‘n paar ander moontlike opsies. Luister maar na die vrae wat hy stel: Kan ons deur onsself betaal (vraag 13 – opsie 1), of kan enige ander skepsel vir ons betaal (vraag 14 – opsie 2)?

Onsself of ‘n ander skepsel? – broers en susters, hierdie is nie sulke vreemde vrae as wat dit met die eerste oogopslag mag lyk nie. As sondige, gebroke mense is dít die soort opsies waarna ons soek, dít is die soort verlossingsmoontlikhede waaraan ek en jy onsself vasgryp: kan ek dalk self? Of miskien daardie persoon na wie ek so opkyk? Of wat van die bloed van skape of bokke? Gemeente, so skép ons vir onsself verlossers; so máák ons vir onsself gode, wat ons kan aanbid, sodat dié ons kan verlos – want, ja, ons het mos verlossing nodig, dit het ons alreeds erken. Die roete wat die vraagsteller van die Kategismus hier volg, is tipies van ons almal: wat van myself – want ons doen dit mos die graagste self, ons word mos geleer om selfstandig te wees. Of anders ‘n ander, hetsy mens of dier…

En, volgens Paulus in Romeine 1, is dít juis waaroor God so toornig is. God is heilig vertoornd oor hierdie dom-astrantheid van die mens, wat dink dat hy sy eie verlossing kan bewerk deur sy eie god te skep. Hy, die ware God, kán dan gekén word! Hy is die Skepper en vanaf die begin van sy skepping dra sy werke die stempel van sy ewige krag en goddelikheid (vers 20)! In die sigbare werke van die skepping kan die onsigbare God aanskou word. God het Homself aan die mens geopenbaar, bekend gemaak! Maar wat maak die mens? Hy maak doelbewus sy oë daarvoor toe, hy wil dit nie sien nie! Dit is dus nie so dat die mens God miskyk omdat Hy onsigbaar sou wees nie; nee, dit is eerder so dat die mens weier om aan Hom die eer te gee. Die mens weier om Hom te erken vir Wie Hy is!

En, gemeente, moet u nie misgis nie: waarvan Paulus hier praat, gaan nie oor ateïsme of humanisme nie; dit gaan hier nie oor mense wat ontken dat daar enigsins ‘n god is nie. Nee, dit gaan hier oor sonde teen die eerste gebod: God word vervang met ander gode; God word misken in ‘n wêreld wat vol is van afgode en beelde. In die wêreld van die Grieks-Romeinse tyd, waarin Paulus sy brief geskryf het, was die opsies vir gode immers legio! Jy kon na hartelus gaan baljaar in die gode-mark. Maar, sê Paulus, met al hierdie opsies het die mens die ware God verduister. Die oogverblindende heerlikheid van die onverganklike God het hulle toegemaak agter ‘n veelheid van afgode, beelde van verganklike skepsels – mense, voëls, viervoetige diere en kruipende diere. Sien u, gemeente: in sy domheid skep die mens sy eie god en sy eie verlosser. Hoor u in Romeine 1 die vrae van die kategismus: kan ek self betaal? Kan enige ander skepsel vir my betaal?

En, gemeente, luister mooi na die manier waarop Paulus hierdie dwaasheid van die mens in vers 23 beskryf; hy sê daar: hulle het die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens. Kom ons trek hierdie sinnetjie bietjie uitmekaar, sodat u presies kan sien wat Paulus wil sê…

Die eerste wat u moet sien, is dat die mens op homself, volgens Genesis 1, alreeds ‘n bééld van God is; dus, die mens is nie self God nie, hy is ‘n afskynsel, ‘n gelykenis van God. Maar, volgens Paulus in vers 23, is dít nie waarvoor die mens God verruil nie; as dit maar was. Maar nee, hy veruil Hom eerder vir die bééld van ‘n mens. Of nee, nie eens dit nie. Die mens verruil God vir ‘n gelykenis – iets wat lyk soos – die beeld van ‘n mens. Sien u hoe Paulus hierdie woorde opmekaar stapel – gelykenis van die beeld van ‘n mens, terwyl die mens self ook slegs beeld van God is? En die rede hoekom Paulus dit so stel, is omdat hy die oneindige verskil in waarde wil beklemtoon tussen die oorspronklike en die namaaksel! Ons verruil God vir die beeld van ‘n beeld van ‘n beeld. Of anders gestel: ons verkoop die oorspronklike meesterstuk vir ‘n kopie van ‘n kopie van ‘n kopie… Hoe dwaas het ons nie geword nie, broers en susters? Om te dink dat ek of enige ander skepsel vir my sonde kan betaal, en dat God dit gaan aanvaar, is soos om met ‘n kopie van ‘n kopie van ‘n kopie van die Mona Lisa by die Ryksmuseum in Amsterdam op te daag, en te dink hulle gaan dit met groot gejuig daar ophang.

Ja, om jou eie verlossing te wil bewerk of dit deur ‘n ander skepsel te laat bewerk, is lagwekkend. Want terwyl jy die onverganklike kan kry, verkies jy willens en wetens die verganklike, iets waarin die dood heers. Terwyl God Homself as Verlosser aanbied, kies jy eerder vir jouself of vir ‘n ander skepsel. Is dit wat jy kies, broer en suster? Is jy in jou lewe dalk besig om ‘n kopie van ‘n kopie van ‘n kopie te aanbid deurdat jy God nie meer as Verlosser aanhang nie, maar iets anders in sy plek geplaas het? Is God nog jou enigste Verlosser in lewe en in sterwe, of het jy Hom dalk vervang met een van die talle gode op die 21ste eeuse gode-mark? Die god van geld en rykdom – vertrou jy dalk daarop om jou deur te trek? Die god van plesier en partytjie – omhels jy dalk hom om van jou grootste ellende ontslae te raak? Of dalk die god van …. en vul dan maar jou eie naam in; ja, dalk volg jy ‘n geestelike “spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die enigste verlosser in die land?” vir jou redding… Ondersoek jouself eerlik op hierdie punt.

Gemeente, laat ons asseblief nie die onverganklike met die verganklike vervang nie. Laat ons nie hier op aarde na ons verlossing soek, en sodoende ons eie nietige afgod skep nie. Maar laat ons maak soos die apostel Paulus wat álles prysgegee en as drek beskou het, net om Christus as wins te verkry. En laat die wêreld ons dan maar dwaas noem; of eerder: die wêreld gaan jou dwaas noem wanneer jy Christus as jou Verlosser aangryp. Die wêreld gaan jou belaglik maak omdat jy jou lewe bou op ‘n Redder aan ‘n houtkruis. Maar leer dan om verder te kyk as dit wat ons met die blote oog kan raaksien. Sien dat dit sinneloos is om jou God vir enige iets anders te verruil, hoe aanloklik daardie iets ook al mag lyk. Verruil eerder alles vir Hom, want slegs by Hom is daar verlossing!

Daarop let ons vervolgens: soek na die oorspronklike.

2. Slegs by Hom is daar verlossing… Dus, hoe baie opsies daar ook al mag wees wat ons in ons sondigheid uitdink, daar is uiteindelik slegs een ware oplossing; hoeveel kopieë ons ook al maak, daar is net een meesterstuk. Paulus maak dit baie duidelik in sy eerste brief aan Timotheus. In die gedeelte wat ons saam gelees het, is Paulus besig om Timotheus en die ander wat hierdie brief sou lees, op te roep om vir alle mense te bid. Hy maak nogal ‘n groot saak hiervan, en ons sal in die derde punt weer daarop terugkom.

In vers 5 gee Paulus vervolgens die grond vir hierdie oproep tot gebed; hy sê daar: “Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus…” Hierdie vers begin dus deur te sê dat daar net een God is. Dit is geen unieke uitspraak in die bybel nie; ons hoor in hierdie uitspraak die kern van die Ou Testamentiese teologie uit Deuteronomium 6:4: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” Dus, daar is net een God – dit is ‘n pragtige belydenis, wat ook in die Nuwe Testament op talle plekke na vore kom. Maar goed, hierdie belydenis sê nog nie dat daar nie dalk meer as een weg is om by hierdie een God uit te kom nie. Miskien verlos die een God, wat wil hê dat alle mense gered word, hulle op verskillende maniere – sommige via Hindoeïsme of Boeddhisme, ander via Judaïsme of Islam, weer ander via New Age of ander kultes, en ook sommige via die Christelike geloof? Miskien is daar baie weë na die een God toe?

Gemeente, dit is natuurlik ‘n baie gewilde gedagte in ons tyd. En ‘n bekende Rooms-Katolieke teoloog het daarom in sy boek ook daarvoor gepleit dat ons sal besef dat ons almal saam oppad is na die een God, elkeen met ‘n deel van die waarheid. Die Christelike geloof is ook op daardie pad. En op hierdie pad loop ons saam met miljoene ander mense van enige moontlike godsdiens en denominasie. Hoe langer ons saam met hulle reis, hoe meer kom ons in ‘n proses van kommunikasie met mekaar. En daarom moet ons altyd bereid wees om te leer, om die ander godsdiens se waarheid jou eie te maak en om jou eie waarheid te kommunikeer. En aan die einde van daardie pad sal daar nie meer Christene of Moslems of wie ook al wees nie, maar slegs God self – of hoe hy ookal in die ander godsdienste genoem word – sal alles in almal wees (1 Kor. 15:28). Die teoloog, wat hierdie siening uitgedra het, kies self vir die Christelike geloof, want ja, hy kan nou eenmaal nie twee paaie tegelyk loop nie… Gemeente, maak dit Paulus se oproep tot gebed nie oorbodig nie? Los maar die gebed, laat elkeen maar sy eie weg volg, uiteindelik sal ons tog almal by die een God uitkom.

En dan sê Paulus: Nee! Want behalwe dat daar net een God is, is daar ook net een Middelaar tussen God en die mense. Daar is dus net een weg tussen die mens en God, en dit is Jesus Christus. As die God-mens, God en mens in een Persoon, is Hy die enigste Een wat in staat is om die kloof wat daar, vanweë die sonde, tussen God en die mens ontstaan het, te oorbrug. As God is Hy in staat om aan God se standaarde te voldoen, en as mens is Hy in staat om ons verpligtinge na te kom. Die rede waarom Jesus dus die enigste Middelaar is, is omdat Hy die enigste is wat sowel ‘n Goddelike as ‘n menslike natuur het. As ons by God wil kom, moet ons via die Middelaar gaan, wat in staat is om mense by God te bring. Slegs Jesus Christus is in staat om aan beide kante van die verbond hande te vat en herstel te bring. En dit doen Hy, volgens Paulus in vers 6, deurdat Hy Homself gegee het as ‘n losprys vir almal. Deur sy bloed aan die kruis het Hy enersyds aan God se geregtigheid voldoen, en andersyds ons sondes betaal. Dus, Jesus Christus is die weg, en niemand anders nie!

Gemeente, hier ontmoet ons die Christelike geloof op sy nouste, maar ook op sy breedste punt. Die Christelike geloof is ‘n deur en deur eksklusiewe geloof, baie nou, soos wat Jesus ons leer wanneer Hy in sy Bergrede praat oor die smal weg en die nou poort. Die Christelike geloof leer ons dat daar net een God is, net een Middelaar, net een verlossing. En tog is die Christelike geloof ook geweldig breed en inklusief. Die een God en die een unieke weg tot verlossing is oop vir almal.

En juis daarom kan ek u vanaand oproep, broers en susters, en ek kan elke besoeker in ons midde oproep wat tot dusver ver van die Here gelewe het: jy moet by Jesus Christus wees vir verlossing van jou sondes en van die toorn van God, asook vir herstel van die verhouding met Hom. Is jou lewe stewig op daardie een, eksklusiewe weg? Bepaal daardie weg jou gedagtes, jou woorde en elke daad? Of loop jy dalk twee rye spore – met die een voet wil jy by Christus wees, met die ander soek jy na die dinge van hierdie wêreld… Is jou hart dalk verdeel tussen verskillende weë? Ja, miskien het jy nie God heeltemal verloën nie, maar dalk het jy naas Hom nog iets anders waarop jy jou vertroue stel, ‘n soort versekeringspolis, ‘n plan B… Vra jouself af wat dit vir jou beteken om ‘n Christen te wees, volgeling van Christus. Kan jy dit wees met ‘n halfhartige houding. Of vra die keuse vir Christus jou hele lewe? Dit is verseker die moeite werd om hierdie keuse te maak.
Ten slotte: laat almal na die meesterstuk kyk.

3. Eksklusief… Ja, gemeente, so moet ons die verlossing deur die een Middelaar, Jesus Christus, noem. Niemand anders nie, nêrens anders nie. Ons is nie postmoderne gelowiges wat meen dat elkeen sy eie verlosser kan kies nie; ons is bybelse gelowiges wat vanuit die Skrifte moet sê: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12).

Maar besef ons dan ook wat die lot is van diegene wat hierdie Middelaar nie ken nie? Besef ons wat die uiteinde gaan wees van elke ongelowige mens in hierdie wêreld? Hierdie mense sal nooit by God kom nie; ja, hulle gaan dalk talle opsies uitprobeer, hulle gaan dalk talle moontlike weë bewandel, maar nooit gaan een van daardie weë na God toe lei nie. Jou buurman, wat nie glo nie, maar wat tog so ‘n wonderlike mens is, is oppad na die ewige verderf as daar nie verandering in sy ongeloof kom nie. Jou huishulp, vir wie jy so lief is, maar wat deelneem aan die voorvaderverering, gaan hel toe as haar lewe nie verander nie. Daardie ou of meisie, wat nie ‘n christen is nie, maar op wie jy tog verlief geraak het – terloops, moenie eens daaraan dink om met hom of haar ‘n verhouding te begin nie – daardie persoon is verlore as sy of haar lewe nie na Christus toe draai nie.

Gemeente, eksklusief beteken: sekeres word uitgesluit. Wie nie in die enigste Middelaar glo nie, is uitgesluit van die lewe met God, en sal nie gered word nie. En dit terwyl dit juis God se wens is dat alle mense gered moet word en tot kennis van die waarheid moet kom (vers 4)! En dit is nou presies Paulus se oogmerk in 1 Timotheus 2. Hy bied die eksklusiewe Middelaar aan as begronding vir sy oproep aan die begin van hierdie hoofstuk dat daar vir alle mense gebid moet word; hy roep op dat smekinge, gebede, voorbedes en danksegginge gedoen moet word vir alle mense. Die soort gebed wat Paulus hier op die oog het, is die evangelisasie-gebed; dit is die voorbede vir die verlossing van siele.
Gemeente, ons persoonlike en gemeentelike gebede behoort ‘n wêreldwye perspektief te hê. Ons gebede behoort groots, omvattend en wyd uitgestrek te wees. Dit behoort die groot sake van die dag en al die nasies van die wêreld te omvat, konings en almal wat hooggeplaas is; voorbede behoort gedoen te word vir herlewing en reformasie; ons behoort te bid vir sendelinge, evangeliste en kerkplanters, nie net hier in ons eie agterplaas nie, maar oor die hele wêreld; die swaarkry van die vervolgde kerk en die ellende van die verlore mensdom behoort elke week voor die troon van God se genade gebring te word! Die God wat die wêreld regeer, wil hê dat sy mense vir die wêreld moet bid!

Maar, broers en susters, hoe dikwels word ons gebede nie selfgesentreerd nie, hoe dikwels bid ons nog verder as die moeites binne ons eie kring? Hoe dikwels strek ons gebede verder as die grense van die VGKSA? As u en ek besef dat Christus die enigste Middelaar is, die Koning van die konings en Here van die here, sal dit dan nie ons harte raak wanneer ander mense ander gode dien nie, wanneer hulle ‘n kopie van ‘n kopie van ‘n kopie bewonder nie? Sal dit dan nie ons grootste wens wees dat hierdie verlorenes ook die meesterstuk kan aanskou nie? Gemeente, kom ons bid vir die mensdom in sy verlorenheid. En uiteraard, saam met bid gaan ook werk. Dit lyk vir my een van die moontlike swak punte van die gereformeerde kerke wêreldwyd, naamlik dat ons ons krag verloor het om helder te skyn, soos ‘n lig in die duister. Kom ons bid en werk sodat alle mense die smal weg mag vind. So wil Gód dit hê. En as ons Christus van harte liefhet, dan wil ons dit ook hê, nie waar nie?

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Sing Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Skr. 35
Gebed
Lees:  Romeine 1:17-23
 1 Timotheus 2:1-8
Sing Skr. 5
Teks: HK, Sondag 5
Preek
Amenlied Ps. 107:1, 3 en 10
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 146:2-4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)