Moses se suiwer begeerte vir die gemeente van God!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-11-22
Teks: 
Númeri 11:29
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Grafte van begeerte – ja, dit is wat Kibrot-Hattaawa beteken. En watter treffende omskrywing is dit nie, broers en susters. Want in hierdie gedeelte in Numeri 11 gaan dit vir die grootste deel oor die sondige begeertes van God se volk, sondige begeertes wat uiteindelik tot hulle dood sou lei – grafte van begeerte. Hierdie sondige begeertes begin alreeds in vers 4 waar ons lees dat die gemengde bevolking met lus bevang was en vervolgens ook die kinders van Israel daarmee aangesteek het, en dit eindig in verse 32 en verder met ‘n gulsige begeerte na die kwartels wat skaars in die laer geland het.

Dit wil voorkom asof ‘n groot deel van die volk eenvoudig vergeet het waaroor hierdie reis gegaan het, asof hulle vergeet het waarvan die Here hulle verlos het en waarheen Hy besig was om hulle te lei. Al waaraan hulle kon dink, was hulle mae, kos, vleis! Egoïstiese begeertes na aardse en vleeslike dinge was besig om die volk van hulle God te verwyder. En dáár is die grafte van die begeriges, die kibrot hattaawa as die sigbare bewys van God se toorn oor sy ondankbare volk.

En dan, te midde van hierdie verwronge en sondige begeertes en luste van die volk, hoor ons van Móses se begeerte, sy gelowige versugting dat die hele volk tog asseblief die Gees mag ontvang. Hierdie gelowige begeerte is soos ‘n oase in ‘n droë woestyn. Dit is ‘n begeerte wat, as dit maar net werklikheid kon word, die grafte van sondige begeertes sou laat oopgaan om mense uit die dood uit op te wek; dit is ‘n verlange wat, as dit ooit bewaarheid sou word, die volk van die Here sou laat herlewe. Ja, dit is ‘n innige begeerte van die vriend van God… maar sóú dit ooit bewaarheid word?

Tema: Moses se suiwer begeerte vir die gemeente van God!

Moses het die volk se sondige begeerte na vleeslike dinge gehoor; hy het gehoor hoe hulle oor hulle huidige omstandighede gekla het. En hy moes verder aanhoor hoe hulle begin terugverlang het na die goeie, oue tyd. Klaarblyklik het die volk aan amnesie gely; hulle het sowaar vergeet hoe swaar hulle in werklikheid in Egipte gekry het; al wat hulle van die groen gras aan die ander kant van die draad kan onthou, is die visse en die komkommers en die waatlemoene waarvan hulle kon geniet in… ja, in die land van slawerny. Nou, dit is seker verstaanbaar dat hierdie gekla en geween Moses nie koud gelaat het nie. Daarom sien ons ook hoe hy, in ‘n oomblik van swakheid, moed begin verloor. Hy sien nie meer kans om hierdie hardnekkige volk na Kanaan te lei nie. Is daar dan geen hulp vir hom nie? Moet hy hierdie werk alleen doen? Dis mos nie sy volk nie? Het hy hulle gebaar, moet hy hulle aan sy bors dra? As dít is wat die Here wil hê, laat hy dan maar liewer doodgaan, want so sien hy nie kans om aan te gaan nie.

Gemeente, opmerklik genoeg lees ons nêrens dat die Here Moses oor sy swakheid verwyt het nie; inteendeel, die Here verskaf juis ‘n oplossing vir sy moeites. Moses moet ‘n lys van sewentig oudstes opstel en hulle by die tabernakel bymekaar laat kom. Dáár sou God dan van die Gees wat op Moses was, ook op hulle lê – só sou Moses gehelp word om die las van die volk te dra, sodat hy dit nie alleen hoef te doen nie. Moses het inderdaad gedoen soos wat die Here gevra het; hy het die sewentig oudstes rondom die tabernakel laat staan. Vervolgens het die Here neergedaal en van die Gees afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En as bewys dat hulle inderdaad die Gees ontvang het, sien ons hoe hierdie manne eenmalig geprofeteer het en luidkeels van God se groot dade vertel het. Pragtig sien ons hoe God die werk, wat vir Moses te swaar geword het, verdeel.

Maar wag nou vir ‘n oomblik… Dit was nie séwentig manne wat daar rondom die tabernakel bymekaar gekom het nie. Moses het nie mooi getel nie; eintlik was daar maar net 68. Twee van hulle het, om een of ander rede, in die laer agtergebly – Eldad en Medad. Maar ten spyte daarvan ontvang hulle ook van die Gees en profeteer in die laer – inderdaad, gemeente, die Gees waai waar Hy wil (Joh. 3:8). Toe hierdie gebeure Moses en Josua egter ter ore kom, is Josua nie baie gelukkig nie. Hy reageer onmiddellik en fel: “My heer Moses, belet hulle dit!” “My heer” – hoor u dit, Josua is bekommerd dat deur hierdie gebeure in die laer die gesag en die eer van sy heer, Moses, aangetas sou word. Móses is immers die leier van die volk; hy is die middelaar tussen God en die volk. En as daar geprofeteer word, moet dit slegs onder leiding van Moses plaasvind. Josua beperk dus die Gees tot Moses en tot diegene wat rondom hom vergader is. En geen wonder nie, want hy was immers as persoonlike dienaar aan sy heer verknog. As die Gees nou skielik ‘vrylik’ beskikbaar is, watter negatiewe effek gaan dit nie op Moses se gesag hê nie, en watter negatiewe effek gaan dit nie op die – kom ons noem dit maar – op die ‘binnekring’ hê nie? Ja, dit is ‘n onvolwasse oomblik in die lewe van die toekomstige leier van God se volk.

Maar Moses help hom reg: “Ywer jy vir my?” Moses vra as’t ware: “Maar Josua, waaroor gaan dit vir jou? Gaan dit vir jou oor my eer? Het jy regtig nodig om my gesag te verdedig? Het jy regtig nodig om vir my regte op te kom?” Hoe wonderlik is dit om te sien dat Moses deur die Here vanuit moedverlore se vlakte af opgelig en op die hoogte van die geloof geplaas is; Moses kan weer geloofstaal praat! En só leer hy vir Josua dat dit nie oor hom – Moses – gaan nie, maar dat dit gaan oor die volk van God! Hier is nie die eer van die ‘binnekring’ op die spel nie, maar hier gaan dit oor die welstand van God se volk! Dáárvoor moet geywer word!

En, gemeente, nou is dit fassinerend – en hartseer! – om te sien dat eeue later die Here Jesus se ‘binnekring’, sy vertrouelinge, in presies dieselfde slaggat getrap het: “Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie” (Mk. 9:38). Omdat hy ons nie volg nie… – sien u, hy is nie deel van ons groepie nie, hy is nie deel van die ‘binnekring’ nie, en daarom moet hy gekeer word. En dan sê Jesus: “Maar Hy volg My, en dít is vir My die belangrikste! Want wie nie teen ons is nie, is vir ons.”

Nou, broers en susters, hierdie optrede van die dissipels is simptomaties van hoe hulle na hulleself gekyk het. Net hiervoor het hulle immers nog met mekaar geredeneer oor wie van hulle die grootste is, wie van hulle die belangrikste is (vers 34). En toe alreeds het Jesus hulle geleer dat hulle, as sy leerlinge, bereid sal moet wees om die laaste te wees en om almal se dienaar te wees. Want dit gaan nie oor die dissipels nie; dit gaan nie daaroor hoe hulle deur ander ontvang word nie. Nee, die dissipels is juis geroep om ánder te ontvang, om ánder binne te haal in die volgelinge-kring van Jesus Christus. En daarin moet hulle selfs bereid wees om onbelangrike kindertjies, soos die een wat nou daar in hulle midde gestaan het, te ontvang. Só word die dissipels geroep om selfs die kleinstes te ontvang en soos dienaars te dra. En só sal hulle Jesus Christus ontvang; op dié manier word ‘n mens groot in die koninkryk van die hemele.

Broers en susters, sowel Josua (in die tyd van Moses) as die dissipels (in die tyd van die Here Jesus) het gelei aan ‘n soort eksklusiwistiese binnekring-mentaliteit. ‘n Mentaliteit wat selfgesentreerd geraak het, en wat bang was om beheer te verloor en die rykdom met ander te deel. En in beide gevalle het dit met die beste bedoelings gebeur, maar tog is die les van Moses aan Josua, en van Jesus aan sy dissipels baie duidelik: dit gaan nie oor julle nie, dit gaan nie oor julle eer en gesag nie. Kyk daarom wyer na die volk van die Here. Want dit gaan oor die versameling en die opbou van daardie volk! Dit gaan oor die welstand van die gemeente van God. Dit moet die uitsluitlike fokus wees!
Broers, as u daarom vandag die amp van ouderling of diaken op uself neem, waak teen hierdie binnekring-mentaliteit. Waak teen ‘n soort kerkraads-mentaliteit wat wil heers en wat al die kaarte hier styf teen die bors wil hou. Ons het nie nodig om enige eer of gesag te verdedig nie; ons het nie nodig om ons posisie te verdedig nie. Want ons is die dienaars van Christus! Ons is sy dienaars wat slegs soek na sy eer en na die welstand van die gemeente waaroor die Here ons aangestel het. Die kerkraad mag nooit ‘n eksklusiewe groepie word wat hoog bo die gemeente uittroon of wat op ‘n afstand van die gemeente bly staan nie. Nee, nederig en diensbaar in die midde van die gemeente. Net soos wat Moses en sy 68 helpers ook nie daar by die tabernakel bly staan het nie, maar vanaf die tabernakel terugbeweeg het in die laer om daar te gaan arbei, elkeen op sy plek – kyk maar na vers 30: “daarop het Moses hom in die laer teruggetrek, hy en die oudstes van Israel.” En onderwyl hulle besig was om terug te gaan in die laer, was twee ampsdraers alreeds daarin werksaam; hulle het nie eens die kerkraadsvergadering bygewoon nie, maar sommer dadelik aan die werk gespring. Selfs nog voordat hulle daar by die tabernakel amptelik bevestig is, was hulle alreeds besig om in hulle tente-wyk te spreek van die groot dade van God.

Gemeente, so wil die ampsdraers ook hulle taak verrig – in u midde, in jou lewe, in julle huise, soekende – smagtende! – na die welstand en die geestelike opbou van die gemeente en van elke lidmaat. En dit is ook presies hoe Paulus die taak van die ampsdraers in Efesiërs 4:11-12 formuleer: “En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus. Dít is die taak van die ampsdraers – nie om hulleself te bou nie, maar om jou te bou; nie om die kaarte styf teen die bors te hou nie, maar om jou op te tel en teen die bors vas te hou!

Bid daarom vir elke ampsdraer dat hy nie op homself gerig sal raak nie, nie sy eie belang sal soek nie. Bid vir die kerkraad as geheel dat ons nie na binne gerig raak nie, maar dat ons gefokus mag bly op die opbouing van die liggaam van Christus. Bid dit ook vir uself, broers, en vir die kerkraad as geheel. Bid dat in die lewens van die ampsdraers sigbaar mag word waarvan Paulus praat in 2 Korinthiërs 4: “In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om, sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word. Want altyd word ons wat lewe oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word. So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle!” Dit is ons bede, broers! Ons mag met ‘n pragtige boodskap in die gemeente rondgaan, ons mag ‘n geweldige rykdom gaan uitdeel. Laat dit dan ons gelowige begeerte, ons geestelike versugting wees dat elke lidmaat van harte daardie boodskap mag aanneem en vol mag word van die Heilige Gees!
----------------------
En so is ons weer terug by Moses, want dit was nou presies waarna hy in vers 29 gesmag het… Moses was, nadat hy Josua tereg gewys het, nog nie klaar nie. Nee, sy ware versugting het nou eers gekom. In teenstelling tot Josua wat die Gees tot ‘n klein groepie wou beperk, smag Moses daarna dat dít wat hy en die sewentig oudstes ontvang het, ‘n geskenk en ‘n ervaring vir die hele volk mag wees: “Ag, as die hele volk van die Here maar profete was, dat die Here sy Gees oor hulle mag gee.”

Nou moet ons net vir ‘n oomblik by die vertaling stilstaan. Want daar bestaan naamlik die gevaar van verwarring – asof die volk eers profete moes wees vóórdat hulle die Gees kon ontvang. Dit is in elk geval die indruk wat ons Afrikaanse vertaling wek. Maar ons weet van die sewentig oudstes dat hulle eers die Gees ontvang het en daarna – en as bewys daarvan – geprofeteer het. Nou, só moet ons na my mening Moses se woorde in ons teks ook vertaal, en dan klink dit soos volg: “Ag, as die hele volk van die Here maar profete sal wees, omdat die Here sy Gees oor hulle sal gee.” Dus, eers die Gees, en deur sy inwoning wórd die volk dan ook profete wat spreek van God se groot dade.

Maar, broers en susters, wat ons nou opval by hierdie versugting van Moses is dat dit spesifiek iets is vir die toekoms, iets wat tans nog nie ‘n werklikheid is nie. Moses, die middelaar van God se volk in die Ou Testament, smag na iets waarvan hy weet dat hy nie in staat is om dit te realiseer nie. Hy besef dat, alhoewel hy in hierdie fase van die volk se geskiedenis as’t ware die draer van God se Gees is, hy daarmee nog nie die seggenskap oor die Gees besit nie; hy kan nie bevel gee dat die hele volk nou skielik draers van die Gees moet word nie. Nee, daarvoor is iemand anders nodig. En so hoor ons ook die profetiese element in Moses se versugting – smagtend profeteer hy van die tyd wanneer die hele volk inderdaad die Gees sal ontvang en deur sy krag sal spreek van God se groot dade.

En dan weet ons vandag dat Moses se profesie in Christus werklikheid geword het – Christus, die groot profeet waarvan Moses in Deuteronomium 18 praat; Christus, die meerdere van Moses, soos wat die Hebreërskrywer sê. Toe hierdie Christus sy werk voltooi en sy plek aan God se regterhand ingeneem het, toe het hierdie Moses-versugting ‘n werklikheid geword. Toe het die sluise van God se genade op die Pinksterdag oopgegaan. Toe is vervul waarna Moses verlang het en waarvan Joël gespreek het: “Ek sal van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort en hulle sal profeteer.” (Hand. 2:17). Moses se versugting vind sy vervulling op die Pinksterdag.  

En wat ‘n wonder, gemeente! Ons lewe vandag in die tyd waarin Moses se versugting vervul is. Die druppende kraan van die Ou Testament, waarby slegs spesifieke persone – die konings, die profete en die priesters – in God se Gees gedeel het, daardie druppende kraan het ‘n bulderende waterval geword waarin die hele volk van God mag deel. Die hele volk – jonk en oud – mag onder God se stroom van lewende water gaan staan! Ja, vir Moses was sy versugting ‘n hoop vir die toekoms; in sy eie tyd kon hy niks daaraan doen om dit ‘n werklikheid te laat word nie. Maar ons, broers en susters, ons leef in die tyd van vervulling. Ons leef in die tyd waar nie slegs die sewentig oudstes met die Gees begiftig word nie, maar waarin die hele volk van God in sy Gees mag deel! Ons leef in die tyd van oorvloediger genade as die tyd waarin Moses gelewe het; ons leef in die bedeling van die Heilige Gees – vir al God se kinders! In daardie opsig is ons ryker as die volk van die Ou Testament.

Vir vandag se ampsdraers is Moses se versugting daarom nie meer ‘n toekomsversugting nie, maar ‘n realiteit wat vra om uitgewerk te word. Uiteraard, ons beskik nog steeds nie oor God se Gees nie, dit is nie in ons mag om Hom na eie goeddunke uit te deel nie… en dit sal ook nooit so wees nie. Maar die Gees is wel aan ons belowe as ‘n realiteit hier en nou! En oral waar hierdie belofte in geloof aangeneem word, daar kom neem die Gees sy intrek en daar kom bewerk Hy nuwe lewe. En daarom is dit so belangrik, broers, dat ons vol sal wees van dieselfde versugting as Moses en dat ons vervolgens elke lidmaat onder die waterval van God se Woord sal plaas. Dit is u taak! Bring aan elke lidmaat die suiwer Woord, tydig en ontydig. Roep elke lidmaat op tot geloof en bekering. En plaas op dié manier elke lidmaat in die magnetiese kragveld van die Heilige Gees – of hy/sy nou wil of nie… Rus elke lidmaat toe om te profeteer van God se groot dade.
En laat dit ook die agenda bepaal van ons kerkraadswerk – en hoeveel keer het ons dit nie in die afgelope jaar vir mekaar gesê nie: ons is nie ‘n administratiewe masjien nie. Dit is nie die taak van die kerkraad om oor allerhande onbenullighede besluite te neem nie. Dit is die uitsluitlike taak van die kerkraad om mense vanuit die Gees te leer lewe! Want sonder die Gees kan niemand bely dat Jesus Christus die Here is nie, en as iemand dít nie van harte kan bely en uitleef nie, sterf hy sonder hoop en sonder God. En dít, broers, moet ons harte aangryp!

Laat ons daarom van harte daarna smag dat elke lidmaat vol kan word van die Heilige Gees. Dít is waarvan Psalm 133 ook so pragtig praat. In hierdie psalm gebruik Dawid die beelde van salfolie en van dou om die werk van die Heilige Gees mee te beskryf. Die salfolie waarmee Aaron, die hoëpriester, gesalf is, het nie net op sy kop bly lê nie. Nee, dit het eers afgedrup tot op sy baard, en uiteindelik afgeloop tot heel onder by die soom van sy klere. En op dieselfde manier loop die doudruppels wat op die berg Hermon val, af tot onder. Só wil die Gees, wat die eiendom is van die Hoof, Jesus Christus, deurwerk na die hele liggaam. Almal mag daarin deel! Ons wil hê almal moet daarin deel. Ons verlang daarna dat ons oudste lidmate vol is van die Gees, sodat hulle in wysheid en met lewenservaring kan getuig van God se werk in hulle lewens. Maar net so goed verlang ons daarna dat ons kindertjies vol is van die Heilige Gees, wanneer hulle hul eenvoudige kindergebedjie opsê. Ons verlang na Geesvervulde jongmense, Geesvervulde huwelike, ‘n Geesvervulde gemeenskap van heiliges. Ons verlang daarna dat mense deur die Gees opstaan en profeteer, dat daar tydens ons Bybelstudies getuienisse gelewer word waarvan ons moet sê: “Dit kom slegs van die Gees af”. Ons verlang na ‘n gemeente wat vervul is van die Heilige Gees!

Is dit onrealisties? Is dit charismaties? Nee, gemeente, hierdie vervulling met die Heilige Gees is ‘n werklikheid wat in Christus aan ons belowe word! Dit is iets wat Hy graag in ons midde wil sien! En dáárom bring die ampsdraers aan jou die Woord van Jesus Christus; ons kom in julle huise en ons vertel vir julle van die enigste Naam tot saligheid; ons kom by julle hospitaalbeddens en ons bid vir julle in die Naam van Jesus Christus; ons kom besoek jou in die tronk en ons lees van Christus se liefde vir sondaars; ons verkondig aan julle die Woord vanaf die kansel en ons seën julle met die genade van Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees. Ons verkondig Jesus Christus en niemand anders nie, en op dié manier wil Hy aan jou sy Heilige Gees gee!

En as jy dink: “Ja, maar hierdie werk van die ampsdraers is so gebrekkig; my ouderling praat nie baie goed nie, of hy luister nie mooi na my nie”, dan is jy heeltemal reg. Die ampsdraers is gebrekkig, en net soos Moses ontbreek die moed soms om verder te gaan. Maar hier gaan dit nie daaroor of ons die beste moontlike ampsdraers kan kry nie. Hier gaan dit oor gehoorsaamheid aan Christus – Hy het persoonlik hierdie weg gekies, die weg van die verkondiging deur swak mense, om aan jou en my sy Gees te gee! En daarom is die dringende oproep om jouself onder daardie verkondiging deur swak mense te plaas. Só wou God dit hê, en só – nie anders nie! – só deel jy in die salwing met die Heilige Gees. Só word jou sondige begeertes gereformeer tot suiwer en heilige begeertes. Laat ons gemeente nie ‘n Kibrot-Hattaawa word nie, maar laat ons wees wat ons naam sê: Maranata. ‘n Heilige begeerte na die koms van Jesus Christus.

Hierdie broeders mag u daarin voorberei en voorgaan. Ontvang hulle uit Christus se hand; ontvang hulle woorde as die Woord van Christus. En dan mag die hele volk van die Here profete wees, omdat Hy sy Gees oor hulle gegee het.

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 108
Wetslesing
Lees: Numeri 11 (hierdie geskiedenis vind plaas baie kort na die vertrek vanaf die berg Sinai; hierin sien ons ook iets van ons eie afvalligheid en ondankbaarheid; ook ons het telkens maar weer die begeerte om terug te keer na die slawehuis van die sonde)
Sing Ps. 78:10, 11, 13 en 14 (bely saam met Ps. 78 iets van ons eie afvalligheid)
Lees: Markus 9:30-41
 Psalm 133
Teks: Numeri 11:29
Gebed om ‘n seën oor die prediking
Preek
Amenlied Ps. 133
Bevestiging
Sing Ps. 134:2 en 3 (staande) – ons sing nie vers 3 en 4, maar verse 2 en 3: vers 2 die gemeente
en vers 3 die ampsdraers; só word sigbaar waaroor die Woordverkondiging gegaan het.
Bly staan vir opdragte
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 27:4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)