Ons God is ‘n baie wyse boer…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-11-22
Teks: 
Jesaja 28:23-29
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die jurie is nog steeds besig met beraadslaging oor die vraag of ons onsself nog in die globale ekonomiese resessie bevind, of dat ons alreeds daaruit is. Daar is sommige optimiste wat meen ons is deur die ergste, en sommige lande het selfs al amptelik verklaar dat hulle uit die resessie is. Ek het ook die afgelope week op die radio gehoor hoe ‘n ekonoom sê dat die Suid-Afrikaanse geldeenheid in die afgelope jaar van die beste in die wêreld vertoon het – pragtig! Aan die ander kant is daar ook die pessimiste wat meen dat dit nog ‘n hele tydjie gaan vat om hier deur te kom, en dat die ergste moontlik nog oppad is.

Maar goed, ook al kom ons heelhuids deur die ekonomiese resessie, sit ons nog steeds met die dreigende El Nino-verskynsel wat ons, na bewering, hierdie seisoen gaan tref. En ons sit verder met ‘n regering waarin die sweer van korrupsie, nepotisme en selfverryking telkens maar weer oopbars. En asof dít nie genoeg is nie, hoor ons van ‘n jeugleier wat in sy onbesonnenheid al wat ‘n organisasie is, wil nasionaliseer. Met die gevolg dat mense in pessimisme begin beweer dat dit met ons huidige regering en hulle ekonomiese beleid nie sal verbeter in ons land nie; Suid-Afrika volg eenvoudig die afwaartse spiraal van vele ander Afrika-lande.

Gemeente, hoe kyk ons as christene na hierdie soort dinge? Hoe kyk jy na die vooruitsigte vir gewas en arbeid in die nuwe seisoen? Hoe lyk jou werksmoontlikhede? Hoe beoordeel ons die dinge waaroor die wêreld ure sit en analiseer en diskusieer? Neem ons hulle analise eenvoudig oor? Praat ons maar eintlik dieselfde taal as wat hulle praat – miskien met ‘n christelike sousie, maar in wese niks anders nie? Of het ons as gelowiges iets anders om te sê? Om dit konkreet te maak: glo ons as gelowiges nog met die hart en bely ons nog met die mond die voorsienigheid van God? Glo ons nog van harte dat God weet wat Hy doen, sowel in die globale ekonomie as in my persoonlike werksomstandighede? Die boodskap vir die prediking op hierdie biddag vir gewas en arbeid is daarom ook in die vorm van ‘n belydenis…

Tema: Ons God is ‘n baie wyse boer…
1. Hy is groot van beleid
2. Hy onderrig ons

1. Jesaja is in hoofstuk 28 besig om die leiers van die volk Israel met sy woorde onder hande te neem. En veral vanaf vers 14 wend hy homself direk tot die politici, die leiers. Hierdie leiers het daarna gesoek om Jerusalem te beveilig teen die aankomende Assiriese mag – op sigself natuurlik ‘n edel strewe. Maar waar het hulle die veiligheid gaan soek? – dit is die belangrike vraag. Volgens Jesaja in vers 15 het hulle ‘n verbond met die dood aangegaan, ‘n verdrag met die doderyk – waarskynlik verwys dit na diplomatieke bande wat hulle met Egipte gesluit het. In die Egiptiese godsdiens het alles immers om die mag van die dood gedraai; nie as vyand nie, maar as vriend en as die geheimsinnige bron van lewe. Dus, vir die beveiliging van hulle land en hoofstad het die leiers van God se volk die weg van diplomasie en wêreldse bondgenootskappe gevolg. En só, het hulle gedink, sal die golwende gésel – Assirië – nie na ons kom nie (vers 15). Só het hulle gemeen om hulleself te beveilig.

En dan sê die Here: Nou goed, Ek sal kom om julle plannetjies te toets, om julle diplomatieke bande op die proef te stel. En ek gaan dit doen met reg as my riglyn en met geregtigheid as my skietlood (vers 17). En slegs as julle planne aan my norm voldoen, sal dit staande bly teen die komende storm. Want die storm kom! Ja, die voortstormende gésel, die Assiriërs, is oppad. En die Here se voorspelling is dat die leiers se verbond met die dood en hulle verdrag met die doderyk – Egipte – nie sal bly staan nie (vers 18). As die golwende gésel deurtrek, sal die leiers deur hom vertrap word. Die ellende van die Assiriese verwoesting, wat die leiers deur middel van hulle plannetjies buite die mure van Jerusalem wou hou, sal deur hulle in al sy verskrikking ervaar word. Daar sal geen rustyd wees nie; môre vir môre sal hulle die gésel voel; daar sal nie vir hulle plek wees om hulle moeë ledemate uit te strek nie, want die bed sal te kort wees dat iemand hom daarop kan uitrek, en die kombers te smal dat iemand hom daarin kan toedraai (verse 19-20). En in dit alles sal hulle met die Here self te make kry. Soos wat Hy by die berg Perasim en in die dal by Gibeon sy volk met sy geweldige wapens te hulp gekom het, só sal Hy daardie einste wapens nou teen sy eie volk keer (vers 21).

Watter verskriklike boodskap moes dit nie gewees het nie, veral vir die gelowiges, die godvresendes. Ag, die leiers het hulle nie te veel hieraan gesteur nie – hulle het, volgens vers 14, eintlik maar die woord van die Here gespot; dit het hulle nie werklik geraak nie. Maar wat van die gelowiges? Wat van daardie getroues?

Wel, gemeente, Jesaja het vir hulle ‘n woord van troos en bemoediging: “Luister, en hoor na my stem; let op, en hoor my woord” (vers 23). En dan gebruik Jesaja vervolgens ‘n beeld uit die wêreld van die landbou wat vir ons, met die eerste oogopslag, heeltemal onsinnig voorkom. Hy vertel vir sy luisteraars van ‘n wyse boer, en hoe hierdie boer in sy landbou-aktiwiteite te werk gaan. Hierdie boer ploeg nie net die hele tyd nie; nee, daar kom ook ‘n tyd om te eg. En hy doen beide sodat hy op ‘n stadium kan begin saai. En ook hierdie saai-werk doen hy nie onoordeelkundig nie; nee, hy doen dit op ‘n manier wat pas by elkeen van die gewasse: hy gooi swart komyn uit en strooi komyn en saai koring in rye en gars in vakke en spelt langs die kant. Alles op sy bestemde plek. En vervolgens spring Jesaja van die saaityd na die oestyd, en weer leer hy ons dat elke gewas – fyn en grof – ‘n eie behandeling vereis. Oor die teer saadjies van die komyn behoort daar nie ‘n dorsslee te gaan nie; nee, komyn word met ‘n houtstok versigtig uitgeklop. En broodkoring, wat wel ‘n harder behandeling kan deurstaan, moet natuurlik ook nie onder die wiele van die dorsslee en onder die pote van die perde verbrysel word nie – nee, versigtig word daaroor gegaan, dit word nie fyn gestamp nie.

Nou, gemeente, wat Jesaja met hierdie gelykenis wil bereik is om die gedagtes van sy luisteraars op te hef na hulle God en Vader. Hy is immers die Een wat hierdie boer onderrig om met oorleg in sy landbou-aktiwiteite te werk te gaan; Hy gee daardie wysheid aan die boer. Sou hierdie God dan nie self wys wees in sy optrede teenoor sy volk nie? Sou Hy nie oordeelkundig wees teenoor die volk wat Hy geplant het nie (soos wat Hy so dikwels in die profesieë sê)? Net soos wat die boer oordeelkundig die saadjies elkeen op hulle plek saai en elke gewas van die oes op sy eie besondere manier behandel, so werk die Here ook deur die geskiedenis heen baie oordeelkundig met sy volk en met elke individu binne daardie volk. Soms is daar tye van vrede wat Hy vir sy volk beskik, ander kere weer is dit nodig om dreiging en verdrukking te stuur; soms is daar tye van ekonomiese swaarkry, maar ander kere weer bring die Here tye van emosionele swaarkry. En dit alles doen Hy volgens sy wysheid: want, só sê Jesaja in vers 29, Hy is wonderbaar van raad en groot van beleid.

Ja, ook die dreiging van die aanstormende Assiriërs is iets wat die Here, soos ‘n wyse boer, oor sy volk en land bepaal het. Wil Hy hulle daarmee vernietig? Is dit vir Hom lekker? Nee, net soos wat die boer se behandeling van elke saadjie en elke gewas die sukses van die oes beoog, so soek die Here ook die heil van sy volk; Hy soek hulle saligheid. En hoe dan anders, broers en susters? Hy het dan, volgens vers 16, ‘n grondsteen in Sion gelê, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is! Ja, God het in Jerusalem die fondament gelê vir ‘n nuwe gebou, ‘n nuwe koningshuis. Hierop wil Hy sy volk bou! God is besig om die nuwe gebou van sy getroue verbondsvolk op te trek! Sou Hy dit nou sommer net so ongedaan maak? Nee, deur alles heen – goeie tye en swaar tye, voorspoed en teëspoed wat deur Hom beskik word – soek God die heil van sy volk.

Ons mag dus daarvan verseker wees, broers en susters, dat God nie die ondergang van sy volk soek nie; Hy verlekker Hom nie in hulle swaarkry nie. Maar Hy weet wel, soos ‘n goeie boer, wat sy volk in elke fase van hulle geskiedenis nodig het om op hierdie kosbare hoeksteen te kan groei; Hy weet die beste hoe sy volk onder wisselende omstandighede behandel moet word, en hoe elke individu in sy volk versorg moet word. Hy weet presies waar om wat te doen, tot opbou van sy volk, ook al sien hulle dit self nie raak nie.

En wat Hy intussen van sy gelowige kinders vra, is om in geloof op hierdie hoeksteen te bou. Die gésel van Assirië gaan verseker deur die land trek; daardie gésel gaan vertrap en seermaak – daaroor bestaan daar geen twyfel nie. Maar die hoeksteen is intussen vas gegrondves; daaraan kan die Assiriërs niks maak nie; daardie hoeksteen kan nie opgelig en vernietig word nie. Nee, onwrikbaar lê dit daar in Sion, die sigbare bewys van God se nuwe bouwerk. Bou daarop, sê die Here vir die gelowige Israeliete. Moenie soos die leiers wees wat hulle hoop en heil elders gaan soek het nie, wat vir hulle diplomatieke bande gesmee het en sodoende vir hulleself ‘n skuilplekkie kon uitkrap nie. Nee, bou op hierdie hoeksteen wat Ek in Sion gelê het. In Sion is jou heil, te midde van alle onheil wat Ek in my wysheid oor Sion bepaal het.

Gemeente, hierdie gedeelte bied vir ons ‘n totaal ander manier van kyk na die wêreldgebeure en die gebeure in ons land; na die ekonomiese resessie, en na die El Nino-verskynsel, en na die ekonomiese ideologie van ons regering. Dit bring vir ons ‘n totaal nuwe perspektief op ons daaglikse werk, dalk onder moeilike omstandighede. Ons moet in dit alles ons goddelike landheer se werk leer sien, sy werk as die wyse boer. Hy weet wat sy kerk in elke fase van die geskiedenis nodig het; Hy weet wat sy gelowiges vandag en in die nuwe jaar gaan nodig hê. Soms is ‘n sagte behandeling nodig, soos om met ‘n stok die komyn uit te klop; ander kere is ‘n harde behandeling nodig, soos om met wa-wiele en perdepote oor die koring te ry, hoewel nooit so erg dat daarmee die koring fyngestamp word nie. Die Here se besturing van sy volk se lewe, van sy gemeente se lewe, van ons persoonlike lewens, is altyd goed afgemeet, berekend, en nooit vernietigend nie. Altyd opbouend, daarop gerig om die optimale oes te lewer. 

En daarom kan ons bely, broers en susters, dat die ekonomiese resessie nie maar net ‘n gebeurtenis is wat aan die hand van sekere gebeurtenisse verklaar kan word nie; nee, dit is Gód wat sê: “Hierdie omstandighede ag Ek wys vir my volk in 2008 en 2009; só wil Ek hulle in hierdie fase van die geskiedenis behandel.” En as ons inderdaad deur die resessie is, soos sommiges beweer, dan mag ons daarin God se boere-wysheid sien: “Só wil Ek in 2010 my kinders seën!” En verder is die El Nino-verskynsel nie in die eerste plek ‘n suiwer weersverskynsel wat elke soveel jaar sy opwagting maak nie; nee, dit is God wat bepaal: “In 2010 wil ek my kinders onder daardie verdrukking plaas; Ek wil die boere in Suid-Afrika daaronder laat swaarkrky, en Ek wil dit vervolgens laat deurwerk na alle verbruikers.” En net so is die regering se ekonomiese beleid die een wat God vandag vir ons bepaal het. Hy gebruik die gésel van ‘n Julius Malema en van die sosialisties-georiënteerde vakbonde om in hierdie fase van ons land se geskiedenis só met ons om te gaan.

En dieselfde geld vir jou persoonlike werk, jou daaglikse arbeid – as jy werkloos is, of ongelukkig is in jou werk; as dit goed gaan met jou werk en jy ten spyte van die ekonomie eintlik te veel werk het, dan sê die Here: “Dít is wat Ek in my wysheid op hierdie oomblik oor jou bepaal het; dít is hoe Ek gekies het om in hierdie fase met jou te handel.” Soos ‘n boer wat weet dat hy sy koring in rye, sy gars in vakke en sy spelt langs die kant moet saai, so weet die Here wat jy en ek en sy hele kerk in Suid-Afrika op hierdie stadium nodig het.

En dan moet ons inderdaad soms saam met vers 21 sê: “Vreemd is sy werk…, ongehoord is sy daad!” Dit wat die Here doen, is nie vir ons altyd begryplik nie. En nogtans kom dit van die Here van die leërskare, ons God, waarvan ons in vers 29 lees: “Hy is wonderbaar van raad, groot van beleid.” En daaronder mag ons onsself in die nuwe seisoen buig. Tot daardie God mag ons bid, want ons God is soos ‘n goeie boer wat weet wat Hy doen.

En ons mag weet dat God, in dit alles (of dalk beter: deur middel van dit alles), besig is om iets wonderliks in Sion te werk; Hy is besig om sy kerk te bou op die Hoeksteen, ons Here Jesus Christus. Ja, die Nuwe Testament leer ons baie duidelik in 1 Petrus 2:6 dat die hoeksteen waarvan Jesaja praat ‘n heenwysing is na Jesus Christus. Hy is die vaste en beproefde waarborg dat die Here sy kerk en elke gelowige deur wisselende omstandighede heen tog vashou en lei na daardie groot en suksesvolle oes! Ons mag by Jesus Christus wees te midde van alles wat die Here oor ons lewens bepaal. Deur die ekonomiese resessie en werkloosheid heen, te midde van onsekerheid en elke sent wat ons moet omdraai, by lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede… mag ons weet: ons lewens is seker op die hoeksteen! Ons God is – in Christus! – ‘n wyse boer.

In die tweede plek: Die Here onderrig ons.

2. Gemeente, God lei dus alle dinge in sy wysheid – van die ekonomiese beleid van ons regering tot die rand en sent in jou bankrekening. Hy weet presies wat Hy doen en waarheen Hy met ons gaan. Ons weet gelukkig óók waarheen Hy gaan, ons weet ook wat die groot einddoel is – die Skrif leer dit vir ons. En wanneer ons op ons hoeksteen, Jesus Christus, bou, dan mag ons verseker wees van ons eindbestemming. Maar kom ons wees eerlik, oor die pad daarheen… daaroor het die Here ons nie ingelig nie; wat ons op die pelgrimstog gaan teëkom, dít het die Here vir ons verborge gehou. Maar ons teks leer ons wel dat ons intussen in sy diens mag arbei – daarvoor rus die Here ons toe, daarvoor gee Hy ons alles wat ons nodig het. Want dit is mos God wat vir die boer die wysheid gee waarvan ons in ons teksgedeelte gelees het; kyk maar na vers 26: “En sy God het hom onderrig hoe om dit te doen, Hy leer hom.”

Ja, gemeente, daardie fyn kennis wat ‘n boer het om te weet wanneer en waar en hoe om wat te plant en te oes, en wat vir ons, nie-boere, ietwat van ‘n misterie bly – daardie kennis kom van die Here af. Die mens het nie van homself hierdie wysheid nie. Ook die kennis wat jy nodig het om jou dagtaak te verrig, is geen ingebore en natuurlike aanleg wat jy op een of ander manier van God kan losmaak nie. Dink jy die vaardigheid om ‘n rekenaar op te bou of rekenaarprogramme te skryf, dat dit iets is wat jy maar net in jou het? Is die byhou en kontrolering van die besigheid se boeke, en die opstel van die state ‘n natuurlike talent wat jy het? Is mense gebore bouers of ingenieurs of onderwysers of direkteure van maatskappye? Nee, broers en susters, dit is goddelike gawes! Ook Adam en Eva in die paradys moes van God hulle onderrig ontvang. En daarom sien ons ook hoe God in Genesis 2 soos ‘n goeie leermeester die eerste mense begelei het op die gebied van tuinbou en landbou. En ons sien ook hoe Besaleël en Oholiab in Exodus 31 gawes van die Here gekry het – of meer spesifiek: van die Heilige Gees – om kunstige dinge te kan maak. Ja, God is ons onderwyser, ons wyse leermeester in elke vakgebied waarin ons werksaam mag wees.

Dit is ‘n geweldige gedagte met ingrypende konsekwensies, gemeente, waarvan ons deeglik bewus moet wees. Ons beskou God dikwels as die bron van geestelike kennis, die Een wat ons lei in lewenswysheid, in die dinge van die Heilige Gees. Ja, God leer ons om die Bybel te lees, en Hy gee insig om die Skrif te verstaan en toe te pas, Hy help ons om te weet wat reg en verkeerd is. Maar hoe om kaste te bou of ‘n projek te bestuur, hoe om ‘n winkel te bedryf of aflewerings te doen, hoe om diere te versorg of siektes by mense te diagnoseer en gesond te maak… Nee, dit moet ons maar deur ervaring leer, of daarvoor moet ons maar vir ‘n paar jaar by ‘n universiteit gaan studeer. Dáár, aan die tersiêre instellings van ons land, dáár is die vakkundiges, die kenners by wie ons gaan kers opsteek. Met die gevolg dat die in-praktyk-bring van hierdie kennis dikwels ook los van God te staan kom – ons het dit los van Hom verwerf, ons gebruik dit ook los van Hom.

En om dan in ons teksgedeelte te hoor dat ook hierdie kennis en ondervinding van ons hemelse leermeester kom… dit het verreikende gevolge vir almal van ons, van jonk tot oud. Want nou kan en wil ek my lewe by die skool en by die werk nie meer van my godsdienstige lewe skei nie! Seuns en dogters, weet julle wie julle onderwyser is? Is dit in die eerste plek een van die menere of juffroue by die skool? Nee! Gód is heel eerste jou Onderwyser; Hy leer jou. Natuurlik, Hy gebruik daarvoor meneer of juffrou, maar Hy is die groot Leermeester. Dus, as jy bang is vir volgende jaar se wiskunde of wetenskap, as jy wonder of jy die Afrikaans of Engels onder die knie gaan kry, bid dan tot God! Vra dat Hy jou sal help, vra dat Hy jou sal laat verstaan hoe om hierdie som te doen of hoe om die Engelse werkwoordtye reg te kry. Hy het die boer geleer hoe om te boer, Hy wil verseker ook vir jou leer hoe om wiskunde en Engels te doen. En veral in hierdie eksamentyd waarin julle is, moet jy nie nalaat om jou oë toe te maak en jou hande te vou nie. Want ook in die eksamenlokaal werk God die antwoorde.

En julle, jongmense, wat dalk ambisieus is, wat streef na nog ‘n graad, ‘n meestersgraad, ‘n doktersgraad… wie is jou professor? Wie is die wêreldleier onder wie jy jou proefskrif gaan skryf? Is dit nie God nie? Soek daarom ook jou kennis by Hom! En dieselfde geld vir elkeen wat hom- of haarself in sy eie vakgebied wil verryk – dit is pragtig, doen dit. Bly op hoogte van die jongste verwikkelinge, dit is wat God van jou vra. Maar besef wie jou Leermeester is. En ook vir jou wat dalk nie ‘n kwalifikasie agter jou naam het nie, maar wat tog ‘n kenner op jou gebied is, wat met verloop van jare ‘n bloeiende besigheid en ‘n bekende naam opgebou het, onthou wie dit alles vir jou geleer het. Dit is nie ek met my twee hande nie… Dit is God wat my geleer het, vanaf daardie klein begin tot waar ek nou is.

En, gemeente, daarmee saam kom ook dat, as God my Leermeester is, dan mag ons as gelowiges nie tevrede wees met tweede-beste nie. Daarmee sê ek nie dat almal van ons die top hoef te bereik nie, of dat almal van ons eerste in ons klas hoef te staan nie. Maar ek moet wel die gawes wat God vir my gegee het, optimaal gebruik. ‘n Gelowige besigheidsman moet ‘n uitnemende besigheidsman wees. ‘n Christelike student moet die beste doen met wat hy of sy van die Here ontvang het. En Gereformeerde onderwys moet die beste onderwys wees wat daar is. Laat ons daarom in ons werk en studie, in ons arbeid vir 2010 ons Leermeester eer deur die gawes wat Hy ons gegee het, nie te begrawe nie, maar voluit te gebruik.

En dan kan daar moeilike tye en teëspoed kom, daar kan ook voorspoed en welvaart kom. Maar dan is die fokus nie meer op myself en op my prestasies nie, dan is die aandag nie meer gerig op daardie berg werk wat vir my wag nie. Nee, gebou op die hoeksteen Christus, ontvang ek enersyds die tye uit God se hand, en doen ek andersyds in dankbaarheid my werk. Gebou op die hoeksteen Christus is daar nie meer twee helftes van my lewe – ‘n gelowe helfte vir Sondag en ‘n ander helfte in die daaglikse realiteit van ek en my werk nie. Nee, dan is dit een en al Christus. In Christus se Naam bou ek dan kaste en huise; in Christus se Naam liaseer ek lêers en maak ek afsprake; in Christus se Naam trotseer ek die swaar tye en ‘n leë bankrekening. Want Christus is die hoeksteen op wie ons lewens onwrikbaar vasstaan. En laat dan maar buig en beef, al wat ons hier omgeef; laat berge uit hul stee, wegwankel in die see – ons sal nie beef of rugwaarts gaan!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 147:1, 3 en 4
Sing voor wetslesing Skr. 26:1
Wetslesing
Sing na wetslesing Skr. 26:11
Gebed
Lees: Jesaja 28
Sing Ps. 118:11 en 12
Teks: Jesaja 28:23-29
Preek
Amenlied Ps. 92:3, 5-7
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 65:4-7
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)