Die mens is gemaak om aan Gód se doel te beantwoord!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-11-15
Teks: 
Heidelbergse Kategismus, Sondag 3
Verwysing: 
HK 3-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wat is jou doel in die lewe? Waarvoor lewe jy? Wat dryf jou voort? Miskien is jy een van dié mense wat presies weet wat jy hierop wil antwoord: dalk is daar jou studies – daardie graad! – wat jy graag op ‘n goeie manier wil klaarmaak. Moontlik lewe jy vir jou kinders, of vir jou man of vrou. Miskien word jy voortgedryf deur teikendatums by jou werk. Dan is daar dalk ook sommiges onder ons wat nie so seker is oor waarvoor hulle lewe nie, wat selfs kan wonder wat nou eintlik die sin van die lewe is. Of miskien het jy net nog nie behoorlik oor hierdie vrae nagedink het nie.

Maar, gemeente, Sondag 3 dwing ons vandag om na te dink oor die doel van ons lewens, Gód se doel vir ons lewens – vir jou lewe, vir my lewe, en uiteindelik vir elke mens se lewe. Ja, ons het ‘n baie doelgerigte God! Jy het miskien jóú eie spesifieke doel in die lewe, of jy wonder miskien wat jou lewensdoel is, maar dan sê God: “Vergeet bietjie daarvan, julle doelstellings is sekondêr. Want ek het jou gemaak om aan my doel te beantwoord! Jy is spesifiek gemaak met die doel om My te ken en lief te hê; jy is gemaak om My te loof en te prys” (v/a 6). Ja, broer en suster, as jy Sondag 1 wil aanvaar, dan moet jy ook Sondag 3 aanvaar; as jy in v/a 1 bely dat jy nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort, dan moet jy ook kan bely dat dit vervolgens Hy is wat bepaal waarvoor jy lewe, of in elk geval: waarvoor jy behoort te lewe. 

En dit is goed om gereeld hieraan herinner te word. Want die mens, selfgesentreerd soos wat hy is, verloor maar al te maklik fokus. Selfs as gelowiges en as gemeente verloor ons fokus op waaroor dit werklik in hierdie lewe gaan. Ons is meesters daarin om God se prioriteitslys vir hierdie lewe om te draai sodat óns doele bo-aan staan en God se allesbeheersende doel ‘n afskeep-posisie ineem. En kom ons wees maar eerlik hieroor: wie van ons staan elke oggend op met die duidelike doel voor oë om God beter te leer ken en lief te hê? Wie van ons verrig ons dagtaak met die eer van God voor oë? Is ons dalk onrealisties as ons dit so stel? Dalk te swewerig? Kom ons kyk…

Tema: Die mens is gemaak om aan Gód se doel te beantwoord! Ons let agtereenvolgens op die mens se…
1. Formasie
2. Deformasie
3. Reformasie

1. Gemeente, die refrein wat regdeur Genesis 1 klink – “en dit was goed” – geld uiteraard ook vir die skepping van die mens. Ons kan selfs sê dat dit in besonder vir die mens geld. Die mens is goed geskape – so begin ook antwoord 6 van die Kategismus. Maar wat beteken dit nou eintlik dat die mens ‘goed’ geskape is? Wel, ons kan hierdie ‘goed’ die beste só verklaar dat God die mens gemaak het om aan die doel, waarvoor hy gemaak is, te kan beantwoord. Die mens is só gemaak dat hy kon doen wat God wou hê hy moes doen. Kom ons vat ‘n paar eenvoudige voorbeelde, sodat die kinders ook mooi kan verstaan wat bedoel word: jou pa se boormasjien… wat doen ‘n mens met dié ding? Wat is die doel van daardie boormasjien? Maklik, sy heel eerste doel is om gate te boor – dit is waarvoor hy gemaak is. En jou ma se haardroër? Wel, ‘n haardroër se eerste doel is om hare droog te blaas – en spesifiek vir daardie doel word dit ook gemaak. En wat van ‘n telefoon? Maklik, daarmee bel ons – dit is die primêre doel waarvoor hy gemaak is. Nou is die mens natuurlik nie ‘n ‘ding’ nie, maar ook vir die mens geld dat hy of sy met ‘n baie spesifieke doel deur God gemaak is. God het ‘n duidelike doel voor oë gehad het toe Hy gesê het: “Laat ons mense maak…”

En sodat die mens aan daardie doel kon beantwoord, het God die mens vervolgens ook na sy ewebeeld geskep. Dit beteken enersyds dat God die mens in die regte verhouding tot Homself geplaas het (in ware geregtigheid, soos antwoord 6 sê), en andersyds dat Hy die mens in staat gestel het om in absolute toewyding aan Hom te lewe (in ware heiligheid, volgens antwoord 6). En dit alles het God gedoen sodat… – hoor u, met hierdie woordjie in antwoord 6 kry ons die doel waarvoor God die mens geskep het – sodat hy God, sy Skepper, reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam met Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

As jy nou hierna luister, broer en suster, kan jy dink met watter doel die eerste mense voor die sondeval gelewe het? Kan jy jouself voorstel waarna hulle gestreef het? Met watter intensie sou Adam en Eva soggens opgestaan het? Dink jy Adam het soggens opgestaan met die gedagte: “O, vandag moet ek baie hard werk, want daardie stukkie tuin moet nog omgespit word”? Dink jy Eva se laaste gedagte wanneer sy saans gaan slaap het, was: “Ag, môre-oggend moet ek weer vroeg opstaan, want daar wag ‘n klomp werk in die huis”? Dink jy Adam het hom bekommer oor teikendatums en produksiesyfers? Nee, gemeente, Adam en Eva het eenvoudig gelewe om God te loof!

En natuurlik het hulle God geloof in hulle werke, in die manier waarop hulle hul opdrag nagekom het. Maar hulle het nie ópgegaan in hulle werke en daaglikse arbeid nie; dit het hulle nie só opgeslurp dat hulle vergeet het hoekom hulle al hierdie dinge doen nie. Nee, altyd was die besef daar, die fokus op God: ek lewe tot sy eer! En só het hulle ook hulle werk gedoen: Adam het in sy omgang met die natuur en met die diere daarna gesoek om God beter te leer ken, en in die proses om name aan al die diere te gee, het hy sy liefde vir die Here gewys. En so het Eva ook haar werk in die tuin van Eden gedoen – alles tot eer van God! Elke woord, elke daad, elke gedagte op God gerig. Dít is die doel waarvoor God die mens gemaak het, en dit is ook waarvoor Hy hom toegerus het!

En, gemeente, daardie doel het nog nooit verander nie. Ons lees dit pragtig in Psalm 8, waar die digter homself verwonder oor die hoë posisie van die mens: “U het hom ‘n weinig minder gemaak as ‘n goddelike wese en hom met eer en heerlikheid gekroon. U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel…” Maar, let wel, hierdie hoë posisie het as doel dat die identiese refrein waarmee hierdie psalm in die begin en aan die einde omarm word, in ons lewens mag opklink: “o HERE, ons Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!” Steeds gaan dit oor die lof op God! En só verwoord die Kategismus ook die doel van ons lewens, nie net in antwoord 6 nie, maar op verskeie ander plekke. Ons lees byvoorbeeld by die verklaring van die derde gebod in Sondag 36 dat ons God se Naam só moet gebruik dat Hy in al ons woorde en werke geprys word. En in Sondag 47, by die verklaring van die eerste bede van die Onse Vader, bid ons dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat God se Naam deur ons geëer en geprys word.

Die doel wat God vir my lewe en vir elkeen van ons se lewens beoog, is nog presies dieselfde as by daardie heerlike begin. Ons onveranderlike God wil nog steeds hê dat ek Hom sal ken en liefhê, en Hy wil nog steeds dáárvoor geloof en geprys word. Nou, waarvoor leef jy, broer en suster? Dit is geen teoretiese vraag nie, maar ‘n diep persoonlike vraag! Vir jou in jou daaglikse lewe, vir ons in ons gemeentelike lewe! Wat is jou doel in die lewe? Met watter fokus het jy in die afgelope week jou werk gedoen? Met watter doel gaan jy môre jou eksamen skryf? Waar voor leef ons as gemeente? Ja, ons het ‘n baie doelgerigte God, maar stem óns doel en sy doel ooreen?

In hierdie opsig wil ek u ook net daarop wys, broers en susters, hoe verkeerd ons dikwels oor God se doel vir ons lewens dink. Ons soek God se doel dikwels in die verborge dinge: met watter man of vrou gaan ek eendag trou? In watter rigting moet ek gaan studeer? Sal dit die Here behaag om eendag vir my kinders te gee? Wat gaan ek alles in die lewe bereik? Dít is so dikwels die dinge waarna ons vra wanneer dit gaan oor God se doel vir ons lewens. Maar, gemeente, God se doel vir ons lewens lê nie in die eerste plek in die verborge dinge nie, maar in die geopenbaarde dinge! God se doel met ons lê in dit wat Hy van Homself openbaar in sy Woord, sodat ons Hom daardeur kan ken en liefhê en loof! Dáár lê die fokus van ons lewens! En dan vra ek maar weer: wat is jou doel in die lewe?
Die tweede gedagte: deformasie

2. Gemeente, wat het verander dat ons vandag hierdie soort vrae moet stel? As Adam en Eva volledig daarop uit was om God te ken, lief te hê en te verheerlik, wat het dan gebeur dat dit nou nie meer so is nie? Of in die woorde van vraag 7: “waar kom hierdie verdorwe natuur van die mens dan vandaan?” Wel, “van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.” Of om die woorde van vraag 8 te gebruik: Ons is glad nie in staat om iets goeds te doen nie en is tot alle kwaad geneig. Dit is dus die sónde wat in die wêreld ingekom het, gemeente, óns sonde, wat ons noodsaak om te vra: maar is Gód se doel met my lewe ook my doel? Streef God en ek dieselfde doel na? En dit is daardie einste sonde wat ons dwing om te erken dat dit nie altyd die geval is nie.

Want dit is presies wat die sonde doen: dit veroorsaak dat ons die doel mis! Om maar weer die voorbeelde van die boormasjien en die haardroër en die telefoon te gebruik… As die boorpunt van die boormasjien skeef is, gaan jy ‘n skewe gat kry – die doel word gemis! As die haardroër op ‘n dag nie meer wil blaas nie, dan kan jy nie jou hare daarmee droogblaas nie, en dan dien dit geen doel meer nie. En as die telefoon se gehoorstuk skielik nie meer werk nie, het dit ‘n nuttelose ding geword. Jy sien, as een van hierdie apparate nie meer werk soos dit moet werk nie, dan mis dit sy doel. So is dit met ons ook: ná die sondeval funksioneer ons nie meer soos wat ons moet nie, soos wat God ons gemaak het nie.

En nou is dit opmerklik dat die Hebreeuse woord (chataat) wat die meeste kere in die Ou Testament vir ‘sonde’ gebruik word, presies hierdie betekenis dra, naamlik ‘om die doel te mis’. Dit is die einste woord wat byvoorbeeld in Spreuke 19:2 gebruik word, waar ons lees: “… hy wat haastig is met die voete, trap mis.” Ja, dit is die realiteit van ons lewens: elke keer wanneer ons sondig, elke keer wanneer ons nie doen wat God van ons vra nie, wanneer ons nie uit liefde vir Hom optree nie, en nie sy eer soek in elke woord en daad nie, dan trap ons mis! Dit is ‘n baie pynlike gedagte vir elke gelowige, om te weet: elke keer wanneer ek sondig, trap ek mis, mis ek my doel.

En, gemeente, ons moet goed besef dat as hierdie misgetrappery ‘n lewenswyse word, iets wat eerder die reël as die uitsondering in my lewe word, dan word ons soos die heidene waarvan ons gelees het in Efesiërs 4:17-19 – dan word ons verdwaas in ons gemoed, dan word ons verduister in die verstand en vervreem van die lewe van God, dan word ons ongevoelig, en dan gee ons onsself oor aan ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe. En dan kan ons intussen allerhande pragtige en lofwaardige doele hê vir ons lewens – ek wil my medemens help, of ek wil ‘n goeie man vir my vrou en pa vir my kinders wees, of ek wil hierdie of daardie graad verwerf sodat ek ‘n bydrae tot die wetenskap kan maak, of watter doel ook al – maar dan mis ons Gód se doel vir ons lewens! En die uiteinde van so ‘n lewe is die ewige dood. So ‘n lewe, hoe doelgerig ook al, is uiteindelik doelloos! Of in die woorde van Paulus in Efesiërs 4:22: die ou mens met sy begeerlikhede gaan uiteindelik te gronde…

En daarom is die sonde in ons lewens so verwoestend – ek mis die doel wat God vir my lewe bepaal het, naamlik om sy Naam te verheerlik. Waar die eintlike doel van my lewe is om op Gód gerig te wees, volledig en van harte sy eer te soek, daar word ek nou selfgesentreerd, hoe mooi dit ook al verbloem word. En hou dit maar dop, gemeente, in wese is alle sonde egoïsme, ek-gerigtheid. Uiteraard sien die natuurlike mens, die mens wat in sy sonde lewe en daarin volhard, dit nie raak nie. Hy sien nie raak dat hy in wese ‘n opperste egoïs is nie… want hy help dan mense, en hy gee sy geld vir goeie doele, en hy is ‘n goeie vriend en buurman. Maar hy vergeet dat sy doel daarmee nie is om God se eer te soek nie. En alles wat nie op God se verheerliking gerig is nie, is sonde. Alles wat nie soek na God se eer nie, lei altyd tot deformasie, afbraak, verwoesting. Onthou dit wanneer jy weer sondig of wíl sondig: ek breek af, ek mis my doel… En nie slegs doen ek dit nie, ek is ook so; ek word gebore as ‘n doellose, my hele bestaan mis die doel. In die paradys het ons natuur so verdorwe geraak – dit mis só die doel – dat ons almal in sonde ontvang en gebore word (só sê antwoord 7). Daar is niks in my wat ook maar in die geringste die doel voor oë hou nie, daar is niks in my wat uit homself na God se eer soek nie. Dit is die realiteit van ons lewens… En wat doen God nou met ons?

Ten slotte let ons op die reformasie.

3. Seuns en dogters, wat doen pa met daardie skewe boorpunt waarvan ons sopas gepraat het? Wat doen ma met haar haardroër wat uitgebrand het en nie meer wil werk nie? Wat doen ons met die telefoon waarvan die gehoorstuk eenvoudig nie meer reggemaak kan word nie? Ons gooi dit weg, nie waar nie? Of ons gee dit vir die kinders om mee te speel. Hoe ook al, ons gebruik dit nie meer vir die oorspronklike doel nie. Nou, jy en ek is soos daardie apparate; ons werk nie meer reg nie, ons dien nie meer die oorspronklike doel nie. So, wat dink jy doen God met ons? Gooi Hy ons ook weg? Het Hy ons na die sondeval maar oorgegee aan die satan, sodat dié met ons kon maak wat hy self wou? Gelukkig nie! Want die Here wil weer regmaak wat stukkend geraak het; wat gedeformeer is, wil Hy weer reformeer; die ou mens wil Hy vervang met die nuwe mens; wat dood is, wil Hy weer gebore laat word. Want die Here laat die werke, wat sy hande  begin het, nooit vaar nie. Daar moet nuwe en doelgerigte lewe kom! Die Here wil die lewe in sy oorspronklike toestand herstel.

En dit doen Hy deur Jesus Christus. Jesus Christus, wat na die aarde gekom het met ‘n baie spesifieke doel, en wat ook aan daardie doel voldoen het. Johannes sê in 1 Johannes 3:8: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” Dit was waarvoor God Hom bedoel het, en Hy het nie vir een oomblik van sy doel afgewyk het nie. Hy het nooit vir een sekonde sy doel gemis nie. Nee, Hy was die nuwe mens wat sy Vader geken en van harte liefgehad het; Hy was die nuwe mens wat sy Vader verheerlik het, tot aan die dood aan die kruis. Gaan lees maar op u eie Johannes 17, Jesus se Hoëpriesterlike gebed, waarin Hy onder andere sê: “Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U my gegee het om te doen, het Ek volbring.”

En dit is deur Hom en deur die krag van sy Gees, broers en susters, dat óns nou ook weer onsself kan beklee met die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (Ef. 4:24). Deur die geloof in hierdie nuwe mens, Jesus Christus, kan ons ook weer nuwe mense word. Deur die geloof in Hom kan ons ook weer doeltreffend word, effektiewe skepsels van die Vader. Deur die geloof in Hom word ek verlos van my egoïsme en word dit moontlik om werklik weer vir God te lewe, en nie vir myself nie. En dit vra ‘n totale verandering van denke, broers en susters. Want ons sondige denke kan eenvoudig nie verstaan wat die sin daarvan is om 100% vir iemand anders te lewe of om volledig gerig te wees op die lof van iemand anders nie – want wat wen ek daardeur? Wat baat dit my? Ons hele sondige ingesteldheid soek na wins, eie wins. En dit daarom vra ‘n 180 grade omkeer – dit vra ‘n wedergeboorte – om suiwer te leer kyk, om te sien dat God my met ‘n ander doel gemaak het, en dat ek deur Jesus Christus en deur die krag van sy Gees weer aan daardie doel kan voldoen. Sodra ons daardie omkeer gemaak het, begin ons verstaan hoe wonderlik dit is om tot God se eer te lewe, en om by elke handeling vol liefde te vra: hoe kan ek U dien, Here? Waardeur word U geloof?

En daarom die oproep, broers en susters, rig jou fokus op hierdie Christus. Moenie dat jou lewensdoel bepaal word deur aardse dinge en begeertes nie. Moenie jou fokus rig op dit wat geen duursame geluk bring nie. Stel jouself ook voortdurend die vraag: waarvoor lewe ek? Hoekom gaan ek nou doen wat ek wil doen? Hoekom gaan ek nou hierdie lelike woorde uiter? Dien ek daarmee God, of dien ek my eie begeerte om iemand seer te maak? Hoekom gaan ek nou hierdie motor koop? Is dit tot eer van God of dien ek daarmee my eie verlange na status? Hoekom besluit ek om vanmiddag nie kerk toe te gaan? Wys ek daarmee liefde vir God, of doen ek dit slegs uit liefde vir myself? Sien u, gemeente, wanneer ons op dié manier na ons lewens kyk, is daar nie ‘n enkele duimbreedte van my lewe wat nie onder hierdie vraag gestel kan word nie. Daar is nie meer een enkele aspek wat nie onder die dwang kom van die vraag: tref ek die doel in Christus, of trap ek mis? Getuig my optrede van die nuwe mense wat ek deur geloof in Christus aangetrek het, of is dit die ou mens wat weer sy kop uitsteek?

En dit vra dan ook dikwels aktiewe verloëning, broers en susters. Doelgerigtheid – dus, om op God gerig te wees – kos stryd! Paulus noem gevolglik ook ‘n hele rits sake in Efesiërs 4:25 en verder wat opoffering kos: lê die leuen af, word toornig en moenie sondig nie, gee aan die duiwel geen plek nie, laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, bedroef nie die Heilige Gees van God nie, alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word…

Wanneer daar dinge is wat jou die doel laat mis, dan moet dit uit jou lewe verwyder word. Jesus stel dit in Markus 9 selfs nog radikaler: as jou hand jou laat struikel, kap dit af; as jou voet jou laat struikel, kap dit af; as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Want met een hand wat van harte God wil dien, en met een voet wat getrou Christus navolg, en met een oog wat opgehef is na die hemel, kan jy nog jou doel bereik. Maar wanneer een van hierdie ledemate nie na God se eer soek nie, dan mag jy moontlik twee gesonde hande en twee gesonde voete en twee gesonde oë hê, maar jy gaan die doel mis! Wees daarom onvoorwaardelik streng met jouself en met elke deel van jou liggaam en gees.

Gemeente, ons lewens is van nature soos daardie boor met die skewe punt, of soos daardie gebreekte haardroër – ons lewens mis die doel. Dit is óns fout. Maar sien raak dat God daarmee nie sy doel uit die oog verloor het nie. Hy gaan rustig voort om sy doel met die aarde en die mensdom te bereik. En iets daarvan mag ons alreeds hier in die kerk en in ons eie persoonlike lewens raaksien – ons sien hier in die kerk iets van God se bo-natuurlike werk om mense weer op sy doel te rig. Dit is immers slegs deur die werk van die Gees dat ons net hierna kan sing: “My God, wat tog my lewe is, hoe smag my hart as ek U moet mis…” Die natuurlike self kan dít nie sê nie, dis onmoontlik! Maar die nuwe mens sê: “Ek wil U prys my lewe lank, my hande ophef en U dank.” So word daar in die kerk iets sigbaar van die paradys, van daardie mooi en goeie begin.

En mag die Gees gee dat dit ook in ons daaglikse lewens sigbaar word – dan mik ek nie meer na daardie teiken by die werk nie, maar dan mik ek na God se eer, ook in die behaling van die teiken. Dan wys ek my liefde vir my Vader wanneer ek pligsgetrou vir die eksamens voorberei. Dan soek ons daarna om God te leer ken wanneer ons vanmiddag weer hier bymekaar kom. Mag die Gees gee dat die fokus van ons lewens verskuif – weg van myself, en volledig op God gerig. Want ek lewe om te loof!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 95:1, 2 en 4
Wetslesing
Sing Ps. 72:2, 4, 7
Gebed
Lees: Psalm 8
Efesiërs 4:17-32
Markus 9:42-50
Sing Ps. 8:3-7
Teks: HK, Sondag 3
Preek
Amenlied Ps. 63:1-3
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 146:1, 3, 8
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)