Die vierde bede leer ons hoe realisties die Here na ons kyk!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-10-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 50
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ekonomiese resessie – hoeveel keer het ons nie al in die laaste jaar of wat hiervan gehoor nie? En ons het nie slegs daarvan gehoor nie, maar dit waarskynlik ook gevoel. Daar was of is moontlik nog enkele werkloses onder ons. Jy het verseker ook gevoel hoe die gewone dinge duurder geword het – die brood, die melk, die vleis. Miskien moes jy sny in jou uitgawes, miskien minder luuks lewe. As gemeente het ons dit beslis ook gevoel – die oorskot wat daar in die laaste jare op ons begroting was, het skielik verdwyn. Ja, wêreldwyd is hierdie ekonomiese resessie gevoel – hoewel, as ‘n mens na die kundiges luister, dan klink dit ook asof ons alweer besig is om uit hierdie resessie uit te kom. Miskien is dit goeie nuus vir mense wat ekonomies maar swaar trek, miskien is daar ietwat van ‘n verligting oppad.

Ons hoor egter nie dikwels die vraag wat God hiermee te make het nie. Die redes vir die resessie is legio, maar dat God dit so gelei het, en dat daardeur sy Naam geheilig word, en dat daardeur sy koninkryk gedien word… dit hoor ons nie so baie nie. Dankie tog dan vir die Onse Vader, vir die gebed wat die Here Jesus ons geleer het. Want hierin wys die Here Jesus dat die ekonomiese resessie en die mate waarin ons daaronder lei, alles met God te make het. Nadat ons die eerste drie bedes, wat gerig was op God en sy heerlikheid, afgerond het, het ons nou by die tweede groep van drie bedes gekom, wat gaan oor ons en ons nood: gee ons vandag ons daaglikse brood, vergewe ons sondes, lei ons nie in versoeking nie. Hieruit blyk duidelik dat daar in ons gebed ruimskoots plek is om ons daaglikse brood en die ekonomiese resessie en die fluktuering van rand en sent aan die Here op te dra. Daarvoor het die Here Jesus klaarblyklik ‘n goeie oog gehad. En dit wys vir ons hoe realisties ons God is. Ons God loop nie met sy kop in die wolke nie, maar het voluit oog vir ons ekonomiese behoeftes.

Tema: Die vierde bede leer ons hoe realisties die Here na ons kyk! En daarom let ons op:
1. Die gewone brood wat die Here gee
2. Die meer-as-gewone-brood wat die Here gee

1. Ons het nou reeds in die inleiding gekyk na die struktuur van die Onse Vader – die eerste drie bedes wat gaan oor die Here en sy heerlikheid, en daarna die volgende drie bedes wat gaan oor ons en ons nood. As ons vervolgens ons aandag rig op hierdie tweede stel van drie bedes (gee ons ons daaglikse brood, vergewe ons ons skulde, lei ons nie in versoeking nie), dan is dit goed om raak te sien dat dáárbinne ook ‘n bepaalde orde is. Die orde van die tweede stel van drie bedes is nie maar lukraak deur Jesus gekies nie, en dit is ook nie opsioneel vir ons om dit in hierdie orde te gebruik of te laat nie. Nee, baie spesifiek het Jesus die bedes aanmekaar geryg soos krale aan ‘n toutjie. En dan is dit opmerklik om te sien dat Jesus die vraag na die daaglikse brood voorop plaas. Nog voor die bede om sondevergifnis, en nog voor die bede om bewaring van die gevare van versoeking. Heel eerste die broodvraag!

Maar, broers en susters, van watter brood praat ons hier? En ek stel hierdie vraag doelbewus omdat daar dikwels in die geskiedenis gemeen is dat dit hier oor die geestelike brood gaan. Gevolglik het die kerkvader Hieronimus hierdie bede in die vierde eeu ook verander na: “Gee ons vandag ons bonatuurlike brood”, en dan het hy daarby gedink aan die nagmaalsbrood. Dit was volledig in lyn met die denke van daardie tyd, waar die geestelike dinge hoër geag is as die vleeslike dinge, waar die siel belangriker geag is as die liggaam. Daarom ook kon Bernardus van Clairvaux, die groot kloosterman van die middeleeue, tot nuwelinge sê: “As jy my klooster binnetree, laat dan jou liggaam agter.”

Gemeente, dit mag dalk baie vroom klink om alles so te vergeestelik, maar eintlik doen ons daarmee ons Skepper ‘n groot oneer aan. In feite word Hy daarmee verwyt dat Hy die mens met ‘n liggaam gemaak het, en nie slegs as ‘n siel nie. Asof die liggaam die sondige deel van die mens is, en die siel die hoëre, edele deel. Daarteenoor egter leer Jesus ons in Mattheus 15:19 dat die boosheid van die mens juis uit die hart uit kom; juis hierdie kamtige ‘edele deel’ van die mens is die bron van die kwaad. En daarom mag ons die liggaamlike nie met minagting behandel nie. God het die mens liggaam en siel gemaak. Hierdie twee sáám maak van my ‘mens’. Neem een daarvan weg en jy hou ‘n onvolledige mens oor, ‘n onmens. Liggaam én siel – en Jesus begín die tweede deel van die Onse Vader, opmerklik genoeg, met die liggaam; sy eerste aandagspunt is die liggaamlike…

Die brood waaroor dit hier in die vierde bede dus gaan, is baie eenvoudig die kos wat ons eet tot versterking van ons aardse en stoflike liggame. Jesus het hierdie stoflike en liggaamlike aspek nie geminag nie. Inteendeel, Hy ag goeie voeding só belangrik dat Hy ons leer om, wanneer ons eie nood in die tweede stel van drie bedes aan die orde kom, heel eerste dáárvoor te bid. Die broodvraag staan op die eerste plek in hierdie deel van die Onse Vader. Christus begin met my stukkie brood en my melk en my kaas.

En eintlik is dit so natuurlik, gemeente, want watter mens kan op ‘n leë maag, en sonder om te weet waar sy volgende maaltyd vandaan gaan kom, behoorlik nadink oor die sonde (die 5de bede) en oor versoeking (die 6de bede)? Sonde en versoeking – dit is die sogenaamde ‘geestelike’ dinge, wat óns waarskynlik eerder vooraan sou geplaas het. Maar dit is seker een van die laaste dinge waarmee die mens besig is wanneer hy krepeer van die honger, wanneer hy siek lê vanweë ondervoeding, wanneer sy verstand deur uithongering in ‘n dwaal beland het. En God weet dít ook.

Ja, dit is heeltemal waar, God se genade van sondebesef en God se krag vir die stryd teen die versoeking (die 5de en 6de bedes) is ‘n wonderlike rykdom, ‘n ongelooflike skat, maar dit is áltyd ‘n skat in breekbare erdekruike – swak liggame – soos wat Paulus sê in 2 Korinthiërs 4:7. En niemand het hierdie erdekruike beter geken as die Here Jesus nie; Hy het geweet dat ons liggame swak en breekbaar is. Immers, Hy was self ‘n mens wat op ‘n stadium in sy lewe as timmerman sy brood moes verdien (Mk. 6:3); Hy was self ‘n mens waarvan ons op verskeie plekke lees dat Hy honger gehad het; en verder was Hy ook God wat die honger van die skare opgemerk en versorg het. Ja, Jesus het ons erdekruike baie goed geken! En daarom leer Hy ons héél eerste bid: “Here, hou asseblief ons erdekruike in stand.” Daarmee begin Hy, sodat ons liggame sterk en gesond kan wees! So realisties is ons God, gemeente.

Net so min as wat ons van uitgehongerde en uitgeteerde kindertjies in Afrika sal verwag om in hulle toestand byvoorbeeld harde en fisiese arbeid te verrig, so min verwag die Here van ons om Hom voluit te dien op ‘n leë maag. Dus, bid maar rustig tot die Here of jy jou dag met ‘n koppie koffie en ‘n toebroodjie of ‘n bord pap mag begin. Bid maar rustig vir daardie middagete wat jy so nodig het. En bid maar rustig vir daardie heerlike bord kos waarna jy so verlang wanneer jy van die werk af kom. Ons God is nie ‘n tiran nie, maar ‘n Vader wat weet wat ons nodig het, selfs voordat ons Hom daarvoor vra. “Here, hou ons erdekruike in stand…”

Maar, broers en susters, ons kan nie hier stop nie. Ons moet ook nog iets by sê: “Here, hou ons erdekruike in stand …” Waarvoor? “… nie in die eerste plek ter wille van die erdekruike nie, maar ter wille van u skatte wat daarin moet kom. Ek smeek u, maak my erdekruik in staat om u skatte daarin te dra en só te werk dat u Naam daardeur verheerlik word.”

Dus, broers en susters, hoewel hierdie bede eerste staan in die tweede deel van die Onse Vader, staan dit nog nie op sy eie nie. Ons bid nooit vir ons daaglikse brood ter wille van die brood nie. Nee, ek bid vir brood sodat my spiere kan lewe en my polse kan klop en my bloed kan vloei en my lewe gesond en sterk kan wees, sodat ek man of vrou kan wees wat aan die Here toegewy is, mens van God wat myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom kan toewy. Dít is hoekom ek eet en drink! Sien u hoe nou die vleeslike en die geestelike met mekaar verbonde is? Ja, so naby as wat in die tabernakel die tafel met die toonbrode aan die brandofferaltaar gestaan het, so naby staan die kos wat ek eet aan my offerdiens aan die Here. Dié twee lê in mekaar se verlengde. Die een lei tot die ander, of beter: die een behoort tot die ander te lei. Die krag wat ek kry uit die kos wat ek eet, bring my tot diens aan die Here en tot diens aan my naaste. Ja, veral ook my naaste…

Want wanneer ek as kind tot “Onse Vader” bid, dan beteken dit klaarblyklik dat ek broers en susters het; broers en susters wat dalk heelwat minder het as wat ek het. En hierdie bede bring my verder ook in gemeenskap met al my naaste – naby en ver – wat dalk honger ly. Hierdie bede skep internasionale verbondenheid, broers en susters, waarvan ek myself nie eenvoudig kan afmaak nie. Ek kan nie sê dat die armoede en broodgebrek van ander my nie aangaan nie. Wanneer ons tot ons Vader bid vir ons dááglikse brood, en ons dan baie meer as dit ontvang, dan kan ons nie daarmee omgaan asof ons alleen op hierdie wêreld is nie. Die nood van ander is my verantwoordelikheid, juis wanneer my Vader so wonderlik sorg. In sy oorvloedige goedheid vir ons, lê ons verantwoordelikheid tot offerdiens aan die naaste wat gebrek ly. As ons dit nie meer sien en doen nie, dan word ons gebed om brood ‘n leë bede; dan word die vierde bede selfs lasterlik. Gemeente, dieselfde realistiese omgang van die Vader met ons, sy kinders, word van ons gevra in die omgang met die honger naaste. Dit help nie jy vergeestelik hierdie omgang nie; dit help nie jy sê vir jou naaste: “Gaan heen in vrede, word warm, word versadig!”, maar jy gee hom nie wat vir die liggaam nodig is nie, wat baat dit dan? (Jak. 2:16) Jou Vader in die hemel sê mos ook nie vir jou dat jy eers voluit in sy diens moet werk voordat jy kan eet nie? Waarom sou ons dit dan teenoor die naaste doen? Dus, dieselfde orde wat die Here handhaaf in hierdie tweede stel van drie bedes, waar die broodvraag heel eerste staan, mag van ons verwag word in ons omgang met die naaste – waar dit vir jou moontlik is, gee vir hom sy gewone brood vir die dag, sodat ook hy die Here kan dien.

Die tema was: die vierde bede leer ons hoe realisties die Here na ons kyk. Ons let vervolgens ook nog op die meer-as-gewone-brood wat die Here gee.

2. Ons het in die eerste punt gesien hoe realisties die Here is in die feit dat Hy die vierde bede eerste plaas in die reeks waarin ons vir ons nood bid – ons kan Hom nie dien op ‘n leë maag nie. Maar gemeente, nou moet ons ook waak om die realisme van die Here so aards te maak dat dit sekulêr word. Ja, die gevaar is dat ons die vierde bede só in ons wêreld intrek dat ons vergeet dat dit ten slotte oor meer as brood gaan. Die brood wil ons juis help om verder te kyk, want die Here se realisme kyk verder as die lewe op hierdie aarde. Kom ons probeer dit raaksien vanuit Mattheus 3 en 4, wat ons saam gelees het.

Jesus se woorde in Mattheus 4:4, naamlik dat die mens nie net van brood alleen lewe nie, is ‘n aanhaling uit Deuteronomium 8. In daardie gedeelte beveel Moses die Israeliete om, wanneer hulle net daarrna in die beloofde land gekom het, nie te vergeet van die lesse wat die Here hulle tydens die woestyntyd geleer het nie. Moses herinner die volk aan die oefenskool van die woestyn. Hulle moet nie vergeet hoe die Here hulle in die woestyn verootmoedig het nie, klein voor Hom gemaak het. En Hy het dit gedoen deur hulle veertig jaar lank in die woestyn te laat rondswerwe. Dit  moes ‘n beproewing gewees het! En daarby het die Here hulle ook nog laat honger ly – kos was skaars in die woestyn, en dit is nie verniet dat die volk terugverlang het na die vleispotte van Egipte nie.

Moses herinner die volk aan hierdie veertig moeilike jare, maar daarby wys hy ook dat dit nie verlore jare was nie. Dáár, in die woestyn, het die volk lesse geleer wat rykdom hulle nie sou kon leer nie. In daardie jare was die Here vir sy volk soos ‘n Vader wat sy kinders, ter wille van hulle eie beswil, van tyd tot tyd moes dissiplineer. Ja, gemeente, sommige lesse kan slegs in tye van moeite geleer word. En die groot les wat die Here sy volk wou leer, is wat ons vind in die woorde van Moses in Deuteronomium 8:3, naamlik “dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan” (8:3).

Die volk moes leer dat “om te lewe” nie slegs beteken om te eet en te drink nie. En dit is so maklik om in so ‘n denkpatroon te verval – elke maand as die salaris weer binnekom, dan kan ons weer lewe; elke keer as ons die yskas weer van voorraad voorsien het, dan kan ons weer lewe. En so het die Israeliete waarskynlik ook gedink.

En daarom dat die Here aan hulle manna gegee het om te eet. Manna – daardie voedsel waarvoor die volk later so siek en sat was dat hulle kon opgooi daarvan. Maar dit was ook die voedsel waardeur die volk afhanklikheid van die Here geleer het, want die manna het na die volk toe gekom deur ‘n direkte bevel van die Here. So lees ons immers in Psalm 78:23-25: “En Hy het aan die wolke daarbo bevel gegee en die deure van die hemel oopgemaak; en Hy het manna op hulle laat reën om te eet en koring van die hemel aan hulle gegee. Mense het die brood van die engele geëet; Hy het hulle volop padkos gestuur.” Die volk moes leer dat hulle daaglikse voedsel, hulle porsie vir elke dag, slegs na hulle toe kom deur die Here se bevel, deur sy woord, en dat hulle daarom op Hóm moes vertrou! Want die manna het nie eers ‘n lang pad gestap vanaf die boer na die meelprodusent, en daarna na die bakker en uiteindelik na die winkel nie. Nee, die manna was so direk van die Gewer af, dat die volk nie anders kon nie as om te erken: God regeer, ons is van Hom afhanklik.

Die Here se bevel, sy wóórd, is dus die hoogste oorsaak wat bepaal óf en wát ons sal eet; die Here se bevel bepaal of ek môre ‘n heerlike maaltyd met my gesin sal geniet, die Here se woord bepaal watter verversings daar ná hierdie erediens by die huis sal wees. En dáárom, broers en susters: ons lewe nie van brood alleen nie; nee, ons moet agter die brood terug gaan na elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan. Dáárvan lewe ons!

En dit is na hierdie uitspraak van Moses waarna die Here Jesus baie eeue later verwys het toe die satan Hom probeer verlei het. Die Here Jesus het sopas veertig dae en veertig nagte gevas (terloops, die ooreenstemming met die veertig jare in die woestyn is nie toevallig nie), en dan misbruik die satan die Here Jesus se honger om Hom te versoek: “As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.” As U die Seun van God is – die satan trek in twyfel wat sopas deur die Vader self gesê is by Jesus se doop in hoofstuk 3:17: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.” Die satan se versoeking gaan nie oor klippe en brode nie; nee, satan versoek Jesus om die Vader se woorde in twyfel te trek; Hy wil hê Jesus moet begin wonder of dít wat die Vader sopas op skouspelagtige wyse geopenbaar het, werklik waar is. Maar Jesus weet dat die stem uit die hemel by sy doop absoluut waar en volkome betroubaar is: Hy is die Seun van God, en omdat Hy dit is kan Jesus ook volledig op die Vader vertrou om vir Hom te sorg. Jesus vat die Vader op sy woord, en daardeur weet Hy: Vader sal sorg!

En dit is die les wat die Israeliete ook moes leer: vertrou op die Here wat belowe het om te sorg, wat gesê het dat Hy alles sal gee wat nodig is. Die mens se hele bestaan is afhanklik van God, van sy woord, sy bevel. Dit is wat die Israeliete moes leer uit daardie moeilike jare in die woestyn.

En dan wys die Here in Deuteronomium 8 verder dat Hy ook werklik sy woord hou. Hy sê daar: “Jou klere het aan jou nie verslyt en jou voet het nou veertig jaar lank nie geswel nie.” Veertig jaar lank het die Here daarvoor gesorg dat die klere en skoene van die Israeliete ‘n ongewone duursaamheid behou het, en dat hulle voete as gevolg van die vermoeienis nie opgeswel het nie – ‘n teken van sy sorg, ‘n gevolg van sy bevel. En dan vervolg Moses: “Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig” (vers 5) – waardevolle lesse wat die Here sy volk geleer het. Hulle het op die punt gestaan om Kanaan binne te trek, hulle het uitgesien na die rykdom van die beloofde land, maar hulle moes nie vergeet nie dat die Here ook in die droë woestyn goed was vir hulle, vir hulle gesorg het. Sy woord bepaal die voedsel vir elke dag; die volk lewe van sy woord!

Gemeente, laat ook ons nie vergeet om te reflekteer, terug te kyk na die tye van moeite en swaarkry in ons lewe nie, na daardie tye toe ons dalk elke sent moes omdraai. Laat ons die lesse wat die Here ons geleer het, nie vergeet nie. Laat dit ons klein maak, nederig. Want ons lewe nie in die eerste plek van brood en vleis en allerhande luukse artikels nie, maar ons lewe van die woord van die Here, sy bevel, waardeur ons alles kry wat ons vandag het. Deur sy bevel word u salaris betaal, deur sy woord word die koskaste gevul: “Wat leef in water en op land, verwag hul spyse uit u hand. Ontsluit U dit, hul word verkwik; hou U dit toe, hul word verskrik” – so gaan ons net hierna sing uit Psalm 104:17. Die hele skepping het deur sy woord ontstaan, en dit bestaan tot vandag toe nog deur daardie einste woord.

Geliefde gemeente, lewe daarom bo alles van elke woord wat uit die mond van die Here uitgaan. Deur daardie woord word die léwe, die ewige lewe, ons toegesê. En dan moet ons nie sug en dink dat ons nou skielik van die realistiese, stoflike dinge beweeg na die geestelike nie. Nee, dit is valse teenstelling. Net so realisties as wat my bord kos elke aand is, so realisties is die beloftewoord van die Here wat my wil lei en bring na die ewige lewe. Net so tasbaar en realisties soos wat die vleis en die aartappels op my bord, en die koffie in my koppie is, net so ‘n tasbare en realistiese werklikheid is die nuwe hemel en aarde.

Waak daarom daarteen om die een teenoor die ander te stel. Waak daarteen om met die kos in die mond te dink dat die hemel ver en geestelik is. Die Here is realisties in die gewone brood van elke dag, maar Hy is net so realisties wanneer dit gaan oor die nuwe Jerusalem – die stad van goud, met die twaalf pêrelpoorte, en die fondamente van edelstene. Geniet u daaglikse maaltyd, maar sien tegelykertyd uit na die maaltyd van die Lam in die koninkryk van God.

Spreek daarom, Here, en gee ons vandag ons daaglikse brood. Spreek Here, en gee ons die ewige lewe by U!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 67
Wetslesing + genadeverkondiging
Sing
Doopsbediening + dankgebed
Sing
Lees: Mattheus 3:13-4:4
 Mattheus 6:7-13
Sing Skr. 5
Teks: Sondag 50
Preek
Amenlied Ps. 104:17-19
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 146:3, 5 en 8
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 67
Gebed
Lees: Mattheus 3:13-4:4
Sing Skr. 5
Teks: Sondag 50
Preek
Amenlied Ps. 104:17-19
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 146:3, 5 en 8
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)