God speel nooit wegkruipertjie met sy kinders nie!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-08-16
Teks: 
Psalm 147:19-20
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het in Januarie 2008 begin met die reeks preke oor die Psalms. Nou, een en ‘n half jaar later en amper twintig preke later, wil ons hierdie reeks afsluit. En ons doen dit met ‘n psalm uit die slot van die psalmboek. Ja, Psalm 146 tot en met Psalm 150 vorm saam die slot van hierdie omvangryke boek. En watter majestieuse slot is dit nie! Elkeen van die vyf psalms in die slot begin en eindig met die Hebreeuse woordjie ‘halleluja’, wat beteken: loof die Here. En om die kersie op die koek te plaas, is Psalm 150 een groot ‘halleluja’ – dit begin en eindig nie slegs met ‘halleluja’ nie, maar tussen-in vind ons ook nog elf keer die woorde “loof Hom” (in Hebreeus staan daar dan die werkwoordsvorm: hallel). Dus, gemeente, die psalmboek eindig op ‘n hoë noot, een van lof aan die Here! En binne daardie slot het Psalm 147 ook sy plek, ‘n loflied op die God wat Homself aan sy kinders bekend maak. Ek het die tema van ons teks soos volg saamgevat.

Tema: God speel nooit wegkruipertjie met sy kinders nie!
1. Die wonder dat ons God kan kén
2. Die wonder dat óns God kan ken

1. Gemeente, daar is goeie redes om aan te neem dat Psalm 147 ná die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap gedig is – redes wat ons in die psalm self vind! Kyk byvoorbeeld na vers 2: “Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is.” Ja, dit is die Here wat sy volk uit ballingskap teruggebring het en wat gesorg het dat die mure van Jerusalem, asook die res van die stad én die tempel, weer opgebou word. Hy is ook die Een wat, volgens vers 3, die geestelike en emosionele wonde wat sy volk tydens die vernederende ballingskap opgedoen het, genees en verbind het. En, volgens vers 13, is Hy ook die Een wat, nadat die mure rondom die stad herbou is, die grendels van die poorte sterk gemaak het. Daar is dus genoeg aanduidings om te kan sê dat ons hier te make het met ‘n lofpsalm van die teruggekeerde volk.

En hierdie agtergrond is nie sonder betekenis nie, broers en susters. Want die volk wat enkele jare gelede in ballingskap nog gekla het: “Die HERE het my verlaat, en die Here het my vergeet!” (Jes. 49:14), daardie einste volk besing nou in Psalm 147 die God wat nooit wegkruipertjie met sy kinders speel nie. Hulle besing die God wat geken kan word, wat Homself bekend máák. Ja, Psalm 147 is ‘n loflied op die God wat Homself op verskillende maniere aan sy volk openbaar. En soos ‘n goed inmekaargevlegte koeksister, so vleg die digter in hierdie psalm die verskillende maniere inmekaar waarop God Homself bekend maak. U kan dit self weer by die huis goed nagaan, maar ek wys kortliks vir u hoe God Homself openbaar. Daar is God se openbaring in sy werke teenoor sy volk waarvan onder andere in verse 2, 6 en 13 gepraat word – oor God wat Jerusalem opbou, wat die ootmoediges oprig, en wat die kinders van die volk seën. Dan is daar ook nog God se openbaring in sy werke in die natuur waarvan ons onder andere lees in verse 8 en 9, asook verse 15 tot 18 – oor God wat die diereryk met kos en water seën, wat koue en ys stuur om dit net daarna weer te laat smelt. Wonderlike wyses waarop God Homself kenbaar maak.

Maar, gemeente, hoe mooi hierdie verskillende vorms van God se openbaring ook al mag wees, dit is nog nie alles nie. Nee, God se openbaring bereik eers sy volheid en sy hoogtepunt in ons teks: “God maak aan Jakob sy wóórde bekend…” Sy woorde, God is dus bo alles ‘n sprekende God! Nou, alreeds in die verse voorafgaande aan ons teks lees ons van God se woord – in vers 15: “wat sy bevel na die aarde stuur – sy woord loop baie vinnig”, en ook in vers 18: “Hy stuur sy woord en laat hulle smelt”. Maar hierdie woord wat God tot die natuur spreek, en waardeur Hy die werke van sy hande stilweg aan Homself onderwerp, is tog ‘n ander woord as wat Hy tot mense spreek. Tot mense spreek God deur middel van die wonder van taal, wat hulle kan verstaan! God se woord tot ons is ‘n verstaanbare woord; meer nog: God máák sy woord verstaanbaar. Hy is soos ‘n pa wat, wanneer hy met sy tweejarige seun praat, babataal gebruik, eenvoudige woorde, woorde wat sy seuntjie kan verstaan. Só maak God ook met ons – Hy praat óns taal! Dít, broers en susters is die manier by uitstek waarop God Homself bekend maak. Natuurlik, sy werke is geweldig groot – sowel in die natuur as teenoor die mens. Maar God is bo alles ‘n sprekende God; God praat, sodat ons Hom kan ken! Met sy woord kom Hy baie naby aan ons!

En dit is dan ook die doel van God se spreke – Hy wil naby aan ons kom. Ja, dis reg, ons het onsself van God gedistansieer, vanaf die sondeval is ons mense wat van Hom af wegvlug. Maar dit beteken nog nie dat Hy ‘n veraf God is nie. “Onse God”, soos wat Psalm 147:1 God noem, is nie ‘n afstandelike God wat met ons wegkruipertjie speel nie – hoewel hy die volste reg het om dit wel met ons te doen. Nee, God is ‘n God van omgang, van kommunikasie, van gemeenskap. Die onverbreekbare harmonie en kommunikasie wat God in Homself as Vader, Seun en Heilige Gees beleef, dit wil Hy ook met die mens deel. En daarom kom Hy naby aan ons in sy spreke, kommunikeer Hy met ons op ‘n manier wat ons kan verstaan. En, broers en susters, hoe pragtig sien ons nie in Johannes 1 hierdie doel van God om naby aan ons te kom nie. Daar sien ons dat die woord – Gód se woord! – vlees geword het en onder ons kom woon het. God sou tot die uiterste gaan om intiem met ons te kan praat! En daarom moes die woord een van ons word, moes Hy onder ons sy tent kom opslaan (vers 14). U weet natuurlik dat dit hier oor Jesus Christus gaan, gemeente! Hy is die woord wat vlees en bloed aangeneem het. Hy het nie slegs God se Woord kom spreek nie. Nee, Hy is self God se Woord, Hy is die volle inhoud van wat God vir die mens wil sê. Jesus Christus, die Immanuel, God se Woord met ons. En deur die werk van sy Gees kom God se Woord vervolgens ook tot binne-in ons, Christus hier binne-in!

Gemeente, ons moet baie goed besef waaroor dit gaan wanneer ons Psalm hier sê dat God sy woord aan ons bekend gemaak het. Want ons beroem onsself daarin dat ons ‘n kerk is wat trou wil wees aan die Woord van die Here. Die Woord is vir ons die enigste grondslag van ons persoonlike en kerklike lewens. En dit is reg, só moet dit wees en só moet dit altyd bly! Maar pasop dat daardie Woord nie een of ander voorwerp word waarmee ons rondswaai nie: die Woord, die Woord! Die Woord moet nie die voorwerp word waardeur ander ons kan uitken nie. Nee, wanneer God sy woord aan ons bekend maak, dan wil Hy met daardie Woord in jou kom, sodat jy Hóm kan ken! “Die Woord” moet nie ‘n slagspreuk word nie, want dan bly dit op ‘n afstand. Nee, die woord waarmee God tot ons praat, is die swaard van die Gees (Ef. 6) waarmee Hy tot diep in jou hart wil indring. Jy het die woord in die diepste van jou lewe nodig, ek het die woord in die diepste van my lewe nodig, ons het dit saam nodig! Want ons is diegene wat, in die woorde van vers 3, gebroke is van hart, ons is diegene wat die wonde van die lewe in ons ronddra. En natuurlik verskil dit van persoon tot persoon; jy ken jou wonde, jy ken jou gebroke hart – miskien daardie seer oor iets wat iemand gesê of gedoen het, daardie wond oor iets wat jy in die verlede gedoen het waarmee jy tot vandag toe nog worstel, daardie pyn oor iemand wat jy verloor het. Wonde… ons almal het dit. Wonde vanweë die sonde – my eie sonde en die sonde van ander.

En, broers en susters, dít is waarvoor die woord bedoel is: dit kom genees my sonde en my wonde. Deur die Woord mag ek Jesus Christus ken, die Geneesheer wat nie gekom het vir dié wat gesond is nie, maar vir dié wat siek is. En Hy spreek helende woorde, en Hy verrig helende dade, en Hy gee Homself as die volmaakte medisyne vir ons ewige honger en kommer. Dít is waaroor die woord gaan, gemeente, dít is die hoofdoel wanneer God naby ons kom met sy spreke – Hy wil hê ons moet sy liefde leer ken in Jesus Christus, Hy wil hê ons moet Hom leer ken, God ons Verlosser. Dít is Hóm wat jy teëkom wanneer jy soggens vroeg as dit nog donker is buite, of saans laat as jou oë al wil toeval, jou bybel oopmaak en lees. Dan is dit nie maar net ink op papier nie, woorde van duisende jare gelede nie. Nee, dan is dit God wat op daardie einste oomblik naby jou kom, jou trek met koorde van liefde, en met jou praat oor sonde en verlossing, oor wonde en genesing. Is dít hoe jy jou bybelstudie ervaar? Is dit hoe jy die prediking ervaar? Luister jy op dié manier wanneer daar uit die bybel voorgelees word? Besef ons nog die wonder wanneer God spreek? Die wonder dat ek Hom kan kén, daardie wonder wat Israel ervaar het toe God tot hulle gespreek tydens en ná hulle ballingskap?

En, gemeente, as jy dit besef, dan besef jy ook dat God nooit vryblywend tot jou spreek nie. Die woorde wat God tot jou spreek kan jy nooit langs jou neersit, soos wat jy jou bybel op jou bedkassie langs jou neersit nie. O ja, ons doen dit dikwels. Ons is soms soos die ongehoorsame volk van ouds wat luister en luister, en tog nie verstaan nie. Maar dit is nie hoe God dit bedoel het nie! En ons sien dit ook in die vervolg van vers 19: “Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en verordeninge.” Nee, “insettinge en verordeninge” dui hier nie in die eerste plek op wette nie; die totaalsom van God se openbaring is nie slegs ‘n klomp reëls nie. Nee, wat hierdie begrippe vir ons wil sê, is dat God se woorde tot ons ‘n reaksie vra, dit vra gehoorsaamheid. God wil geglo en vertrou word! En dit is presies ook wat die Here in verse 10 en 11 vir sy volk sê: “Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.” Hiermee wys God dat sy volk nie op skepsels moet vertrou nie; sy volk, wat sopas uit ballingskap teruggekeer het, moenie op ‘n sterk ruitermag of op ‘n kragtige weermag vertrou nie. Nee, “die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hóm vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.” Wanneer die lewende God uit liefde na jou toe neerdaal om met jou te praat, dan is dit nooit ‘n neutrale woord wat jy maar langs jou kan neersit nie. Nee, ons bely in die Dordtse Leerreëls: “almal wat … deur die evangelie geroep word, word in alle erns geroep. Want in alle erns en waarheid betuig God in sy Woord wat sy wil is: die geroepenes moet na Hom toe kom!” Ja, God wil hê dat ons sy woorde sal aanneem, dat ons dit sal toeëien, ons eie sal maak. Dit is die verantwoordelikheid wat op elkeen lê met wie die Here praat. Die Here gee nooit ‘n vryblywende woord nie. Nee, wanneer Hy praat, dan gee Hy aan ons sy hart, dan wys aan ons Christus, die hoeksteen! ‘n Steen waarby jy nooit neutraal verby kan stap nie, maar een wat ‘n keuse vra: bou op Hom en jy sal lewe; God sal jou oprig. Maar verwerp Hom, en God sal jou tot die grond toe verneder (vers 6).

Gemeente, dit is ‘n wonder dat ons God kan kén! Dit is ‘n wonder dat Hy Homself ná die sondeval nie verberg het nie, maar Homself kenbaar gemáák het in die Woord wat vlees geword het, Jesus Christus. In Hom, só sê Johannes 1:4, was lewe, en die lewe was die lig van die mense. Moenie hierdie lewenslig verag nie. Moenie dit julle seun weerhou nie; leer hom om die woorde van God in te drink, sodat hy kan lewe. En, gemeente, wees besig met die bybel, maak tyd om dit te lees en te oordink, stel jouself oop om daarin jou God te ontmoet.

Nederige en gelowige bybellees is om God te soek, en God sal diegene wat Hom soek nooit afwys nie! Mag jou soektog lei tot ‘n lewende verhouding met hierdie God!

In die tweede plek lê ons die klem net effens anders: die wonder dat óns God kan ken.

2. Daar is nog ‘n ander aspek waarop die teks ook ons aandag rig. Dit wil naamlik voorkom asof God se spreke deur sy woord nie vir almal bedoel is nie. Uiteraard, God se openbaring in die natuur is vir almal sigbaar. Die wolke en die reën, die gras op die berge, die sneeu en die ys en die water is toeganklik vir elke mens. Want – só sê Romeine 1:20 – sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid. Dis reg, vanweë die sonde sien ongelukkig nie almal Gód daarin nie – en dit is presies waaroor Paulus verder in Romeine 1 skryf – maar tog kan dit nie ontken word nie dat God Homself vir almal kenbaar maak in die natuur.

Maar dit lyk asof dit anders is met sy woord… Ons lees naamlik in ons teks dat God sy woord aan Jakob bekend gemaak het en aan Israel sy verordeninge. Ja, God gee sy Woord aan sy volk, die volk met wie Hy ‘n verhouding aangegaan het. En, só lees ons dan verder in vers 20, “so het Hy aan geen enkele nasies gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie.” Dus, buiten Israel was daar geen ander nasies wat op dieselfde manier God se woorde ontvang het nie. Maar hoekom nie? Was daar iets besonders aan Israel waarvan die ander volke uitgesluit was? Nee, gemeente, Israel het nie uitgestaan bo die ander volke nie. Inteendeel, die Here sê self in Deuteronomium 7:7: “Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.” En in Mattheus 11:21 verklaar die Here Jesus openlik dat Israel selfs onwaardiger as die ander nasies was om die evangelie te hoor, “want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het.” Nee, gemeente, die rede lê nie in Israel nie, maar in God self; luister maar na wat die Here vervolgens in Deuteronomium 7:8 sê: “Maar omdat die Here julle liefgehad het…” Dit is onverdiende liefde wat maak dat Israel die eksklusiewe voorreg kry om in ‘n verhouding te staan met die sprekende God.

Uiteraard het hierdie situasie na die Pinksterdag verander; God spreek nou nie meer net tot een volk nie, maar tot baie volke. Meer nog: uit alle volke van die aarde vergader God sy verbondsvolk, sy nuwe Israel. Maar steeds bly dit geld dat die woord nie vir almal is nie, nie alle mense – hoof vir hoof – hoor die evangelie nie. En daarom bly ook die beginsel dieselfde: vir daardie mense wat vandag tot Israel mag behoort, vir almal wat tot die kerk van Christus mag behoort en sy spreke mag aanhoor, vir hulle is dit steeds onverdiende liefde! Nou, gemeente, daarmee het die Arminiane, teen wie die Dordtse Leerrels opgestel is, moeite gehad. Volgens hulle stuur God die evangelie eerder na die een volk as na die ander volk omdat die een volk beter en waardiger is as die ander aan wie die evangelie nie meegedeel word nie. Maar daarteen het ons gelowige voorvaders in die 17de eeu hulle verset – op grond van die Skrif het hulle bely dat dit niks te make het met die waardigheid van die een volk bo die ander, of met die beter gebruik van die lig van die natuur nie.

Nee, die rede vir die feit dat, ook vandag nog, sommige in ‘n verhouding mag staan met die lewende en sprekende God en ander nie, moet toegeskryf word aan die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God – só het ons gelees in paragraaf 7. Hoekom mag jy in die kerk sit en na die woord luister en ander nie? Hoekom mag Luhan in ‘n gelowige gesin gebore word en die baba langs hom in die hospitaal nie? Hoekom mag – let wel, mág, nie móét nie! – hoekom mag jy katkisasie bywoon, en iemand anders weet nie eens van so iets soos katkisasie nie? Die rede lê nie in jou nie, die rede is nie dat jy uit so ‘n besondere familielyn kom, die rede is nie jou besondere opvoeding nie. Nee, die rede is baie eenvoudig: God wou dit so hê. Dit is sy keuse – Hy bepaal die getal van die sterre, en Hy gee aan hulle almal name (vers 4). Luhan is een so ‘n ster wat God gekies het, aan wie Hy ‘n naam gegee het, en wat deur sy ouers en in die kerk mag hoor wanneer God spreek. Jy is ook so ‘n ster; uit al die ontelbare aantal sterre wat jy tydens ‘n helder nag in die lug kan sien, word jy gekies om te hoor wanneer God spreek. Dit is pure genade!

En, gemeente, die blote feit dat ons verhouding met God nie ons keuse of waardigheid is nie, moet daarom ons houding bepaal. Die Dordtse Leerreëls sê gevolglik ook: “Daarom moet hulle wat sonder en teen enige verdienste so ‘n groot genade deelagtig word, dit met ‘n nederige en dankbare hart erken.” Sondige mense wat deel mag wees van die kerk van Christus om Hóm te hoor praat, soos wat ons hier mag wees, en sondige kinders wat ‘n gereformeerde skool mag bywoon, soos wat ons kinders mag doen, en sondige jongmense wat katkisasie mag bywoon, moet besef wat hulle werklik te beurt val. Ons sit nie hier uit verdienste nie. Nee, ons moet dit omdraai: uit genade wil die Here Homself hier openbaar.

Jakob het nie uit eie verdienste Israel geword nie; Jakob het Israel geword toe hy leer besef het hoe swak hy is, toe hy leer verstaan het watter bedrieër hy eintlik is, maar dat God nogtans met hom wil worstel (gaan lees maar Genesis 32). En dit is iets wat Israel telkens in sy geskiedenis weer moes leer verstaan – dink maar net aan iemand soos Jona wat nie wou hê dat Nineve hom moes bekeer nie, maar vir wie God geleer het: ek is vry in my genade. Gemeente, laat ons in groot nederigheid en dankbaarheid voor die Here buig; kom ons bewaar onsself daarvan dat ons, hoewel ons die Leerreëls van Dordt aanhang, nie dalk tog in die geheim arminiaans geword het nie – trots op ons afkoms, oortuig van ons waardigheid. Net nie dit nie!

Wat ons wel mag doen – meer nog: wat ons moet doen! – is om vir die volke te vertel waar hulle die heil kan vind. Op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees, soos wat die profeet Joël met die oog op die Pinkserdag profeteer. Ja, in die kerk is die heil – nie omdat ons daar is nie, maar omdat God Homself hier kenbaar maak. Maar weet die volke dit? Weet jou buurman waar hy die genade kan vind? Of sien hy in jou iemand wat tot ‘n eksklusiewe groepie behoort? Gemeente, God openbaar Hom nie aan almal nie – dit is ‘n feit. Maar dit maak nog nie die kerk eksklusief nie. Nee, in die Dordtse Leerreëls bely jy anders; lees maar hoofstuk 2, par. 5: “Hierdie belofte moet aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.” Gemeente, ons aanbid God se welbehae dat Hy nie aan almal die evangelie stuur nie: “so het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie! Halleluja.” Ja, maar intussen word ons wel gestuur om vir mense die goeie nuus te bring, in nederigheid en dankbaarheid. Mag die Gees ons vervul van verwondering oor God se verkiesende liefde: óns mag God ken! Maar mag Hy ons ook vervul van ywer, sodat ook ander Hom kan ken. En mag die Here só Jerusalem opbou, mag Hy versamel dié wat tot Israel behoort. En laat Jerusalem die Here prys, want dit is goed!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Skr. 4:3-5 (kom ons sing van die vrede wat daar in Jesus Christus is)
Wetslesing en genadeverkondiging uit 1 Tim. 1:14-15
Sing Ps. 124
Gebed
Doopsbediening en gebed
Sing Ps. 105:5
Lees:  DL III/IV, 7-8
 Johannes 1:1-13
Sing Johannes 1:14 uit Skr. 5
Teks: lees Psalm 147, en teks spesifiek verse 19-20
Preek
Amenlied Skr. 24:1-3
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 33:5, 6, 9 en 11
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)