Christus bestyg die hemelse troon ter wille van sy kerk!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-05-21
Teks: 
Psalm 47
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeentes van Jesus Christus, ons Here,

Miskien het u enkele weke gelede op die televisie gekyk na die inhuldiging van ons nuwe staatspresident – die eed wat hy moes aflê, die ampsaanvaarding, die gejuig van die skare, die sing van die volkslied… Ja, met die inhuldiging van ‘n nuwe staatspresident gaan ‘n volledige seremonie gepaard. Nou, broers en susters, in die boek van die Psalms vind ons ook van hierdie soort seremonies, en dit word vir ons beskryf in die sogenaamde troonbestygingsliedere, psalms waarin gesing word van die optog waartydens die koning van Israel sy plek op die troon in Jerusalem ingeneem het. En Psalm 47, ons Skrifgedeelte vir hierdie hemelvaartsdag, is een van die psalms in hierdie kategorie van troonbestygingsliedere.

Na watter koning en na watter troonbestyging hierdie psalm presies verwys, is vir ons nie bekend nie. Maar dit is ook nie die belangrikste nie, want uiteindelik weet ons dat die aardse konings van Israel – Dawid, Salomo, Hiskia en al die ander – nie die eintlike konings van die volk was nie; hulle was slegs verteenwoordigers, en dikwels nog baie swak verteenwoordigers ook. Die eintlike koning van Israel is God self! Al hierdie troonbestygingsliedere, wat ons in die boek van die psalms teëkom, moet daarom in profetiese lig gelees en gesing word, dit moet gelees en gesing word in die helder lig van die Nuwe Testament. Want hierdie psalms wys nie slegs en in die eerste plek na die troonbestyging van die aardse konings in Jerusalem nie; nee, al hierdie psalms trek saam en vind hulle vervulling in die troonbestyging van Jesus Christus, toe God aan Hom alle mag gegee het in die hemel en op die aarde! Die Here Jesus Christus is nou die Koning van sy volk! Hy het by sy hemelvaart sy plek op die hemeltroon aan die regterhand van die Vader gaan inneem, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige – só sê Paulus in Efesiërs 1:21. En in daardie lig wil ons vanaand na Psalm 47 kyk as vooruitwysing na Christus se troonbestyging op die dag van die hemelvaart.

Tema: Christus bestyg die hemelse troon ter wille van sy kerk! Daarby wil ek twee vrae stel en beantwoord:
1. Vir wie klap ons hande?
2. Van wie sing ons psalms?

1. Stel jouself die volgende voor: die jaar is 701 voor Christus, die plek is Jerusalem. Die poorte van die stad is gesluit, die volk is binne. Buite staan die soldate, die gewillige stryders van koning Sanherib van Assirië; hulle het die stad omsingel en beleër. Bo-op die mure sit die wagters van Jerusalem om dop te hou wat gaan gebeur. Skielik gaan die poorte oop en drie manne gaan uit om met die soldate te praat, moontlik om met hulle te onderhandel. Duidelik misluk die onderhandelinge, die Assiriese soldate breek die gesprek af en wend hulle direk tot die soldate op die mure; almal kan hoor hoe hulle met groot selfvertroue roep: “Hoor die woorde van die groot koning, die koning van Assirië! So sê die koning: Laat Hiskia julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie. En Hiskia moet julle nie op die HERE laat vertrou nie deur te sê: Die HERE sal ons sekerlik red… Het die gode van die nasies elkeen sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar die gode van Sefarvaïm? En het hulle miskien Samaria gered uit my hand? Wie is daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land gered het uit my hand, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?”

Gemeente, hier is die wêreldheerser van daardie tyd, ‘n man wat homself die “groot koning” noem; geen volk en geen stad wat voor hom kon standhou nie. Maar wag, volke, moenie te vinnig vir hom hande klap nie. Want kyk, die engel van die HERE trek uit na die laer van hierdie Assiriërs en hy verslaan in een nag honderd-vyf-en-tagtigduisend soldate. Toe hulle die môre vroeg opstaan en gereed maak vir die stryd, was daar net dooie liggame oral waar hulle gekyk het. En die klein mensie, die stoffie, Sanherib, het opgebreek en weggetrek (Jes. 37:36 en 37). Wie is nou die groot koning?

Stel jouself nog iets anders voor: dit is die jaar 539 voor Christus, en die plek is die koninklike banketsaal in Babilonië. Koning Belsasar hou fees saam met sy duisend maghebbers; die wyn vloei vrylik. Ons het hier te make met ‘n duidelike magsvertoon van die allerhoogste maghebber teenoor sy deputaat-maghebbers. Maar wag, julle maghebbers, moenie te ywerig met die hande klap vir hierdie allerhoogste van julle nie. Want kyk, ‘n hand teen die muur: “Mené, mené, tekél ufarsin”. Belsasar se rooi-gedrinkte gesig word spierwit. Wat sou dit tog kon beteken? Wel, sê Daniël vir hom, jy het die voorbeeld van jou vader, Nebukadnesar, gehad – hy wat homself baie hoog geag het, maar deur God tot erkenning gebring is dat daar Een hoër is as hy. Maar jy, Belsasar, jy het jou hart nie verneder nie, alhoewel jy dit alles weet; jy het jou verhef teen die Here van die hemel; die God in wie se hand jou asem is en voor wie al jou paaie is, Hom het jy nie vereer nie. Daarom het hierdie God jou koningskap geweeg en te lig bevind, en gevolglik sal Hy ‘n einde daaraan maak.

Hier is ‘n man, broers en susters, wat homself as die allerhoogste beskou het, maar wat intussen nie uit die geskiedenis van sy pa wou leer om homself voor die Here te verneder nie. En – so eindig hierdie stuk geskiedenis dan – in dieselfde nag is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood (Dan. 5:30). Wie is nou die allerhoogste?

Ja, wie is die groot koning? Wie is die allerhoogste? Dit was die vraag in 701 voor Christus; dit was die vraag in 539 voor Christus. Dit was deur die hele geskiedenis nog die vraag, ook in die jaar 2009 na Christus. En op hierdie vrae antwoord Psalm 47 so kragtig, so sonder twyfel: “Alle volke, klap met die hande; juig tot eer van God met ‘n stem van gejubel! Want die HERE, die Allerhoogste, is gedug, ‘n groot Koning oor die hele aarde.” Broers en susters, dit is Wie ons God is, dit is Wie Jesus Christus is, dit is die resultaat van sy werk hier op aarde wat uitgeloop het op sy hemelvaart – Hy is die Allerhoogste, Hy is die groot Koning! Daar is niemand soos Hy nie! Dit is die loflied wat moet klink op hemelvaartsdag.

Maar, gemeentes, is dit ons hartlike loflied? Vir wie klap ons hande? En tot eer van wie juig ons?

Ja, laat ons dit maar eerlik teenoor mekaar erken: so gou en so maklik trek ‘n Sanherib of ‘n Belsasar ons aandag en vertroue van hierdie Allerhoogste af. So maklik word ons daarvan oortuig dat vertroue op die Here nie werklik die antwoord is nie. Dit gebeur so maklik dat ons vinnig-vinnig ons vertroue teenoor hierdie groot Koning uitspreek, net om direk daarna maar weer die nutsman van ons eie lewens te speel of ons vertroue êrens anders te gaan stel. Telkens maar weer in ons lewens is ons tevrede vir die tweede beste. Neem nou byvoorbeeld ‘n ernstige siekte… Wat doen ek wanneer so iets my tref? Natuurlik, ek bid, maar is dit nie so dat dit daarna vir my belewenis tog maar weer die dokter is wat my moet help, wat my lewe moet red nie? En wat van daardie finansiële verknorsing? O, ek bid daaroor, maar ek het skaars my probleem voor die Here neergelê of vat ek maar weer die rekeninge en die skuldbriewe saam, want dit moet mos betaal word; die geld gaan nie uit die hemel val nie. En wat van ons land en sy probleme? Natuurlik is die Here Koning, sê ons, maar met Zuma aan bewind… Ons weet nie so mooi nie; gee ons maar eerder ‘n De la Rey om die boere te kom lei. Ag, en daardie versteurde verhouding met my man of vrou, wat doen ons daarmee? Natuurlik is die Here deel van ons huwelik, maar – só redeneer ons dikwels – uiteindelik kan net my man en ek, of my vrou en ek hierdie probleem uitsorteer.

Sien u wat ons doen, broers en susters, ons ontkrag ons eie belydenis met ons lewenswandel! Ons bely van Christus dat Hy opgevaar het na die hemel en dat Hy daar regeer aan die regterhand van God, die almagtige Vader, maar met ons lewe sê ons dikwels iets anders. Ons bely dat Hy gestel is bo alle owerheid en mag en krag, maar met ons optrede wys ons dat Hy nie ons vólle vertroue het nie. Ons bely dat daar hier op aarde niemand soos Hy is nie, maar intussen soek ons hier op aarde tog na iemand wat darem so ‘n bietjie soos Hy is. Dit is onlogies, dit is teenstrydig, dit stry met die eerste gebod van die wet van die Here: jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie; jy mag nie in die plek van die enige ware God of naas Hom iets anders uitdink of hê waarop jy jou vertroue stel nie (so sê antwoord 95 van die Kategismus). Jy mag dus geen ander Koning hê as Hom wat na die hemel opgevaar het en van daaraf regeer nie. En indien dit wel die geval is, dan word hemelvaart ‘n leerstuk sonder lewe, ‘n eenmaal-per-jaar-gebeurtenis sonder hande en voete in die daaglikse werklikheid. Só bly Christus daar ver weg in die hemel, en ek soek soos ‘n blinde my weg hier op aarde.

Maar, broers en susters, die Skrif roep ons juis op om die dinge te soek wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit (Kol. 3:1). As christene is ons veronderstel om op ‘n permanente basis boontoe te kyk, ons harte te verhef, na die troon van die Koning. Ons lewe hier op aarde moet ons daarbo soek! Slegs dan is ons lewens veilig! Maar wat doen ons? Ons loop al te dikwels met ons oë afwaarts gerig, na ons voete, want ek moet mos kyk waar ek loop. Nee, jy moet na Christus kyk, Hy weet waar jy moet loop, Hy weet waar jou lewe gaan, Hy regeer! Dis sy werk as Koning, en as Allerhoogste is daar niemand beter om dit te doen nie. Dit is wat Hy vir jou en my wil doen!

En dit is nou die opmerklike van Christus se hemelvaart en van sy heerskappy in die hemel – Hy sit daar aan die regterhand van die Vader – daar is geen hoër posisie denkbaar nie – en Hy sit daar … vir ons, vir sy kinders, vir hierdie pasgebore babatjie wat vanaand gedoop is! Hierdie Koning oor die hele aarde, vir Wie alle volke met die hande moet klap, Hy regeer ter wille van sy volk, sy kerk! By aardse heersers werk dit anders – ‘n persoon is miskien ‘n baie goeie leier, maar sodra hy bevordering kry, ‘n hoër pos, ‘n posisie in die hoogste vlakke van die regering, dan dink ons: “ag, nou sal hy nie meer tyd hê vir ons gewone mense nie”, en meestal is dit ook so. Maar Christus is anders! Hierdie Koning van die aarde is presies dít, juis ter wille van sy volk, juis om die belange van sy volk te kan behartig. En Psalm 47 toon dit pragtig vanuit die geskiedenis van Israel aan. Kyk maar…

Net nadat die digter bely het dat die Here Koning is oor die hele aarde, wys hy dat hierdie Here veral ook die Koning van Israel is. Immers, só lees ons in vers 4, Hy bring volke onder ons en nasies onder ons voete – pragtig, die verwysing na hoe die Here die heidense nasies voor sy volk verdryf het op hulle pad deur die woestyn en tydens die inname van die land Kanaan. Ons hoor as’t ware die basuingeklank van die priesters in ons ore, en ons sien as’t ware voor ons oë hoe die mure van Jerigo ingee. God stry vir sy vólk! En vervolgens vers 5: “Hy kies ons erfdeel vir ons uit, die trots van Jakob wat Hy liefhet.” Hier hoor ons iets van die verdeling van die beloofde land onder die twaalf stamme van Israel nadat die nasies verslaan is. God gee aan elkeen van sy kinders ‘n stukkie grond waar hulle kan woon en werk, Hy gee ruimte aan sy volk om Hom te kan loof. En dan nog vers 6: “God vaar op met gejuig, die HERE met basuingeklank.” Dit verwys hoogswaarskynlik na die opgang van die ark, toe Dawid dit vanaf die huis van Obed-Edom na Jerusalem toe oorgebring het; ons lees hieroor in 2 Samuel 6:15: “So het Dawid en die hele huis van Israel dan die ark van die HERE met gejuig en basuingeklank opgehaal” – presies dieselfde woorde as in Psalm 47:6 (‘gejuig’ en ‘basuingeklank’).

In al drie hierdie voorbeelde wys die Here dus dat Hy spesifiek dáár is vir sy volk, dat Hy in besonder Koning oor Israel is. Christus se koningskap ná sy hemelvaart, broers en susters, is daarom ook in besonder vir sy kérk. Hy het neergedaal om hier op aarde vir óns te stry; Hy het ook weer opgevaar ter wille van ons. En Hy regeer nou oor alle aardse krag en mag… Hoekom? Ter wille van óns! Sy fokus as Koning is nie in die eerste plek op die wêreld nie, maar is op die kerk, op hierdie twee gemeentes, op elke gelowige in hierdie gemeentes. Hy soek jou en my heil, nie net geestelik nie, maar ook liggaamlik. Hy soek jou heil in geloof en liefde; Hy soek jou heil in gesondheid en voorspoed, Hy soek jou heil in die huwelik, in die gesin, hier in die gemeente. Hy wil dit doen, en Hy kan dit doen.

En daarom is die vraag so dringend: vir wie klap ons hande? Op wie vertrou ons? Tot eer van wie juig ons? Dit is ‘n hemelvaartsvraag! Dit is ‘n vraag na die konkrete werklikheid van Christus se Koningsheerskappy in jou en my lewe. Vir wie klap ons hande?
In die tweede plek: van wie sing ons psalms?

2. Broers en susters, God se Koningskap ter wille van sy volk, waarvan die eerste helfte van die psalm so pragtig spreek, laat dit in die binneste van die digter so borrel en bruis dat hy dit nie meer kan inhou nie. Hy is so geesdriftig, so vol vreugde en entoesiasme dat hy in vers 7 tot viermaal ‘n oproep tot sang laat klink: “Psalmsing tot eer van God, psalmsing! Psalmsing tot eer van ons Koning, psalmsing!” En as rede voer hy dan aan: “Want God is Koning van die hele aarde… God regeer oor die nasies; God sit op sy heilige troon.” Ja, gemeente, dit is die realiteit na Christus se hemelvaart. Die Vader het alles aan sy heerskappy onderwerp; niks wat los staan van Hom nie. Alle rede dus om sy lof te besing.

Maar… ons moet onthou dat nog nie almal hulle aan Christus se heerskappy onderwerp nie. Daar is aan die een kant ‘n gewillige, vreugdevolle onderwerping, mense wat in geloof voor Hom buig, u en ek; maar aan die ander kant is daar ook die konings en die nasies van Psalm 2 – hulle wat teen God se gesalfde opstaan en wat sy bande wil stukkend breek. God lag vir sulke dwaasheid, en Hy vermaan die opstandiges: “Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde. Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie.” Christus is dus alreeds Koning, maar Hy word nog nie so deur almal erken nie. En daarom bid ons ook gereeld: laat u Koninkryk kom! Nie omdat Christus nog nie die Koning is nie, maar omdat nog nie alle mense hulle gewillig aan Hom wil onderwerp nie.

En, broers en susters, juis dit gee aan die digter se oproep tot psalmsang ‘n ekstra dimensie. Ons sing nie net om daarmee lof aan Christus te gee nie; nee, ons psalmsang, ons loflied, het daarby ook ‘n verkondigende en ‘n evangeliserende karakter. Ons sing om daarmee die wêreld te onderrig; dit is immers wat vers 8 sê: “psalmsing met ‘n onderwysing.” Ons sing, sodat die wêreld kan hoor dat Christus die Koning is. Ja, presies, die wêreld moet kan hoor van die Here Jesus. En as ek sê “die wêreld”, dan hoef ons nie onmiddellik ver en groot te dink nie; nee, begin heel eerste hier in die omgewing, die huise net hier oorkant die straat. Hoor hulle ons as ons sing? Soms is die gemeentesang in ons gemeentes asook die houding waarmee ons sing van so ‘n aard dat dit ‘n mens laat wonder: is ons skaam oor ons boodskap? Besef ons nog die wonder van dít wat ons sing? Het ons dan niks om vir die wêreld te sê nie? Sommige van ons katkisante sing asof hulle net nie wil hê die wêreld moet hulle hoor nie. En wat van die psalmsang tydens die huisgodsdiens? Word dit nog gedoen, weet ons bure nog wanneer ons besig is met die lees van die Woord? Hoor hulle dit nog in die kinderstemmetjies wat sing: “God het ek lief…”? O ja, daardie ander musiek wat ons soms luister, dit word kliphard aangesit sodat die hele omgewing saamluister, maar ons psalmsang, ons lofsang op ‘n Sondagmôre? Broers en susters, ons verhoogde Koning word by uitstek gedien deur middel van ons sang, maar soms wonder ‘n mens: is ons nog trots op hierdie Koning, is ons nog geesdriftig, is ons nog diep-dankbaar oor Hom?

Kom ons besef weer dat ons psalmsang onderrig is. Daarmee vertel ons vir mense van sonde, van verlossing, van dankbaarheid; daarmee verkondig ons Christus en sy Koningskap, ons verkondig die kerk en die vernuwing deur die prediking, ons vertel van bekering en nuwe lewe. Laat ons daarom sing! En as ons gesing het, laat ons dan ook uitgaan en vir mense vertel, laat ons evangeliseer en sending dryf, laat ons lewenswandel spreek van die liefde van ons Koning, laat die kerk vertel van Christus se sorg oor haar. Want dít is die manier wat die Here gekies het sodat die edeles van die volke saam met ons kan vergader; slegs op dié manier kan die volk van die God van Abraham groei en toeneem, soos wat ons lees in vers 10.

Maar hoekom word hier spesifiek gepraat van “die volk van die God van Abraham”? Wel, gemeente, dit was mos God se belofte aan Abraham? In jou sal al die volke van die aarde geseën word. In jou – was daar dan iets besonders in Abraham? Nee, maar God het wel iets besonders in Abraham gewerk, naamlik geloof! Onthou u dit nog: Abraham het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. Hierdie selfde geregtigheid is daar vir elkeen wat in dieselfde geloof as Abraham staan, elkeen wat hulle lewe aan die verhoogde Here oorgee, ongeag wat die konsekwensies daarvan is. Slegs deur geloof word heidene kinders van Abraham en burgers van die Koninkryk van die hemele. Geloof in Jesus Christus, wat vir ons ‘n vloek geword het sodat ons die belofte van die Gees kan ontvang – só het ons gelees uit Galasiërs 3. En juis dáárom moet ons getuig en vertel en sing en onderrig. Want hoe kan mense glo sonder een wat preek, soos Paulus in Romeine 10 vra. Die verkondiging, die lewende getuienis van die gelowiges – dit is die weg wat die Here gekies het tot behoud van mense. Die hemelvaart vra om besing en gepreek te word. Nie net as iets vir hemelvaartsdag nie, maar as iets vir elke dag. Van wie sing jou liedere, broer en suster? Van wie sing jou psalms? Laat ons saam met die digter van Psalm 45 sê: “My hart, ontroer deur mymering, sal lieflik van ‘n Koning sing. U, Koning van so ‘n ryksgebied, het God met vreugdesalf oorgiet. O God, u God, die maak U groot bo elke vors en troongenoot. Ek sal, o Vors, U eer bewys, u Naam deur die geslagte prys. Die volke sal, in U verblyd, U loof vir ewig en altyd.”

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 122 (by vers 1: vroue+dogters reël 1 en 2; manne en seuns reël 3 en 4, res almal saam)
Gebed
Lees doopsformulier + dankgebed
Sing Ps. 103:7 en 9
Lees:  Jesaja 31:4-9, 36:13-22
 Daniël 5:18-30
 Galasiërs 3:7-9, 13-14
Sing Ps. 97:1, 4 en 5
Teks: Psalm 47
Preek
Amenlied Ps. 47:1 en 2
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 47:3 en 4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)