God se wet is relevant vir gelowiges van alle tye!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-05-10
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die Kategismus eindig in Sondag 33 met die goeie werke, werke wat – so lees ons daar – nie op eie goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie, maar wat volgens die wet van God gedoen word. Dit gee dan aanleiding vir die Kategismus om vervolgens oor te gaan tot die behandeling van die wet van God, daardie wet wat elke Sondag-oggend in die erediens voorgelees en aangehoor word.
Alhoewel, as ons om ons heen kyk, dan is dit nie meer so vanselfsprekend om elke Sondag-oggend die wet te lees nie. Al meer word daar vraagtekens by hierdie gebruik geplaas. Die gemeente van vandag staan mos nie meer by die berg Sinai nie? Ons is mos nie meer onder die wet nie, maar onder die genade? Ander, wat nie so ver wil gaan nie, is van mening dat die wetslesing afgewissel kan word met toepaslike gedeeltes uit die Nuwe Testament. Weer ander is van mening dat die predikant ‘n parafrase van die wet kan gee, sodat die sleur van die wetslesing deurbreek kan word.

Tog is dit opmerklik dat die Nuwe Testament ons leer dat die wet van God, die tien gebooie, blywende geldigheid het. Dink maar net aan die uitleg wat Jesus self van die wet gee in sy bergrede (Matt. 5:17 e.v.), en aan sy opsomming van die vyfde tot die negende gebod in Mattheus 19. Dink ook aan die sesde tot negende gebod wat Paulus opnoem in Romeine 13 en aan die vermelding van die sesde en sewende gebod in Jakobus 2. Uit hierdie gedeeltes blyk baie duidelik dat God se tien verbondswoorde nie iets is wat met die koms van Christus verval het, soos wat met ander mosaiëse wette gebeur het nie. Nee, hierdie tien gebooie het blywende geldigheid, en daarom is dit ‘n treffende gewoonte om aan die begin van die Sondag-oggend erediens hierdie tien gebooie te lees, en dit elke jaar vanuit die Kategismus te behandel. En met hierdie behandeling wil ons vanmiddag weer begin.

Tema: God se wet is relevant vir gelowiges van alle tye!
1. Uit genade word ek vry
2. Deur sy wet bly ek vry

1. Wanneer Sondag 34 begin deur die vraag te stel: hoe lui die wet van die Here?, dan is dit opvallend dat die opstellers in die antwoord nie onmiddellik wegspring met die woorde van die eerste gebod nie: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie”. Nee, die antwoord begin met die sogenaamde ‘aanhef’ tot die wet: “God het al hierdie woorde gespreek: Ek is die HERE, jou God wat jou Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” Of soos wat dit staan in Exodus 20:1: “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê…” Maar, gemeente, wanneer was ‘toe’? Wanneer het God al hierdie woorde gespreek? Wel, die meeste van ons ken die antwoord op hierdie vraag. Natuurlik, by die berg Sinai, toe die volk op reis was vanaf Egipte na Kanaan. Aan die een kant was Egipte, die land van onderdrukking en van harde diensbaarheid waaruit die Here sy volk bevry het; en aan die ander kant was die land Kanaan, die land wat die Here aan sy volk belowe het, en waarheen die volk nou oppad was. En reg aan die begin van hulle reis tussen dié Egipte en Kanaan, by die berg Sinai, het die Here aan sy volk die wet gegee; toe het God al hierdie woorde gespreek…

Broers en susters, dit is geen onbelangrike stukkie inligting nie; hierdie datering in die aanhef van die wet is van groot belang vir ons verstaan van die wet. Want ons sien dat die Here sy wet nie aangekondig het vóórdat Hy die volk uit Egipteland bevry het nie. Sy verlossing van die volk uit Egipte was dus nie afhanklik van hulle onderhouding van die wet nie. As dít die Here se eis was, naamlik dat die volk eers die wet volledig moes nakom, eers presies elke gebod moes nakom, voordat Hy hulle sou verlos, dan sou die bevryding uit Egipte nooit plaasgevind het nie. Dan sou die volk vandag nog slawediens tussen die piramides verrig het.

Maar dit is nou die wonderlike boodskap: Israel verkeer in Egipte in groot nood, die volk sug vanweë die harde diensbaarheid, hulle hulpgeroep is groot. Kom die Here nou tot hulle en sê: Ek sal julle verlos, maar sorg eers dat julle hierdie tien gebooie nakom? Nee, by die bevryding uit Egipte praat die Here nie van ‘n wet nie, Hy noem nie eens die gehoorsaamheid nie. Hy verlos eenvoudig hierdie sondige en ongehoorsame volk uit die slawehuis van Egipte. Ja, presies, dit is wat hulle was – ‘n sondige en ongehoorsame volk, niks beter as die Egiptenaars nie; immers, wanneer Josua baie jare later in sy afskeidstoespraak in Josua 24 die volk oproep om die Here te dien en Hom te vrees, dan sê hy daarby: “… en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die HERE.” Ongelooflik! Die volk het dus dieselfde gode as die Egiptenaars gedien, hulle was nie trou teenoor die Here nie, hulle was nie trou aan die verbond wat Hy, vóór die slawerny in Egipte, met Abraham, Isak en Jakob gesluit het nie. Wie weet, dalk het die Israeliete selfs al vergeet Wie hierdie Jahwe is. En tóg bevry die Here hulle net soos wat hulle was! En dáárom, broers en susters, is die datering “toe het God al hierdie woorde gespreek…” so belangrik. Daarin sien ons: eers die genadige verlossing uit Egipte, en eers daarna die afkondiging van die wet by die Sinai. Die bevryding het prioriteit, die bevryding kom eerste.

En dit sien ons pragtig terug wanneer die Here in Deuteronomium 6, net nadat Hy in hoofstuk 5 vir die tweede keer sy wet afgekondig het, die bepaling gee: “As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die HERE onse God julle beveel het? dan moet jy aan jou seun sê…” Ja, wat moet die vader dan sê? Dan moet hy die verhaal van die bevryding vertel! Ons lees daar: “dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die HERE het ons deur ‘n sterke hand uit Egipte gelei. En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen. En Hy het ons daarvandaan uitgelei om ons in te bring, sodat Hy ons die land kan gee wat Hy aan ons vaders met ‘n eed beloof het.” En dán eers kom die vader uit by die insettinge van die Here. Maar eers die bevryding, eers moet dit vertel word!

Wat vertel ons vir ons kinders, broers en susters? Wat vertel jy jou seun wanneer hy vir jou kom vra hoekom daar ‘n tweede gebod is en wat daardie gebod beteken? Wat vertel jy jou dogter as sy wil weet wat die funksie is van die agste gebod? Begin jy dan dadelik met ‘n groot aantal ‘moets’ en ‘moenies’? Of vertel jy hulle van Jesus Christus en sy verlossing?

Want ja, gemeente, dieselfde prioriteit van bevryding bo wetsafkondiging vind ons ook in die verlossing deur Jesus Christus. Die Dordtse Leerreëls, onder andere, bely dit baie duidelik. Ons lees in hoofstuk 1, paragraaf 9 dat die uitverkiesing – ons bevryding uit die mag van die sonde en die dood dus – “nie op grond van ‘n vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of ooreenkoms tot stand gekom het asof dit as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis is nie.” God het nie vooraf iets in ons gesien wat Hom daartoe gebring het om ons te verlos nie; God het nie vooraf jou gehoorsaamheid aan sy wet gesien, en op grond daarvan besluit om jou te bevry uit die mag van die sonde nie; jy sit nie hier omdat die Here potensiaal in jou gesien het nie. Nee, Paulus sê dan so pragtig in Romeine 5:6-10 dat Christus, toe ons nog swak was, op die regte tyd vir die goddelose gesterf het, Christus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was, ons is met God versoen terwyl ons nog vyande was! – presies soos wat ons vandag ook in die nagmaalsformulier gelees het.

Goddeloos, sondaar, vyand… sien jy wat jou toestand was voordat en op die moment dat jy verlos is? Ons was, net soos die volk in die Ou Testament, in ‘n slawehuis waaruit ons nie in staat was om onsself te verlos nie. Meer nog, van nature wou ons selfs God se verlossing teenstaan deur die sonde. Dít was die slawerny van God se volk, van elkeen van ons. En ons het die slawerny gevoel, maar ons kon onsself nie verlos nie; ons het onder die verdrukking gely, maar ons het onsself tog nie bekeer nie.

En dan kom God in Christus om hierdie volk, hierdie sondige volk, te verlos! Hy verlos ons, deur Jesus Christus, uit die bande van die dood, Hy verlos ons van die tirannie van die owerste van hierdie wêreld. Maar hierdie verlossing is louter genade, en in geen enkele opsig ons verdienste nie! Dit is evangelie, broers en susters, en geen wet nie! Die wet word by hierdie verlossing nie eens genoem nie! Dít is die ryk evangelie wat vanaand, by die begin van die behandeling van die wet, tot ons kom: dat God sonder verdienste van ons kant, alleen uit genade, ons deur Christus uitgelei het uit die dienshuis van die sonde en die dood!

En dan sit daar vanaand mense in die gemeente vir wie dit ‘n voortdurende vraag bly of die verlossing vir hulle bedoel is. Hulle kyk na hulle eie lewens, en dan sien hulle hoe baie daarin ontbreek; hulle weet dat hulle al God se gebooie oortree het, en hulle harte kla hulle aan. En hulle kom so moeilik tot die vrymoedigheid en sekerheid van die geloof. Hoekom? Omdat hulle – en ons almal, broers en susters – so dikwels maar weer by die wet begin… Maar dan vergeet ons hoe Israel uit Egipte verlos is, dan vergeet ons dat by die bevryding uit Egipte die wet nie eens genoem word nie. Dan vergeet ons dat Israel in Egipte selfs die afgode van die Egiptenaars gedien het. Gemeente, die verlossing van die volk uit die slawehuis van Egipte was slegs gegrond in God se liefde, sy vrye welbehae! En dit geld vir ons vandag nog net so… Luister maar na die Dordtse Leerreëls in hoofstuk 1, paragraaf 7: “Die uitverkorenes is dus nie beter of waardiger as ander nie maar verkeer saam met die ander in die gemeenskaplike ellende. Nogtans het Hy hulle, uit volkome vrye welbehae van sy wil en uit louter genade, tot die saligheid in Christus uitverkies.” Nogtans… uit vrye welbehae… uit louter genade.

Gemeente, wanneer daarom Sondag-oggende die wet van die Here voorgelees word, hoor dan elke keer weer die prioriteit van God se liefde in Christus Jesus: “Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê: Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” En waak daarteen om die berg Sinai in Egipte te gaan neersit – want toe het God nie al hierdie woorde gespreek nie… Nee, eers die bevryding! U en ek is verlos sonder enige verdienste, sonder enige iets in ons. En dan sing ons saam met die bekende lied: Genade onbeskryflik groot, het U aan my bewys: verlore seun, ‘n wegloopkind, weer in die vaderhuis! Genade onbeskryflik groot: daar’s fees, ek is weer tuis! U Seun bring my – verlore mens – weer na die vaderhuis.

En nou, in die tweede plek: die handhawing van die vryheid.

2. Wie by die wet begin, sal nooit die evangelie vind nie – so het ons in die eerste plek gesien. Maar, gemeente, wie die evangelie vind en daardeur bevry word, vind op hierdie weg van vryheid vervolgens ook die wet. Daardie persoon is verlos uit genade alleen, maar dan breek vervolgens ook die wet in sy lewe deur, die wet wat gehoorsaamheid van hom vra. Kyk maar na Israel. Israel het nie vanuit Egipte onmiddellik Kanaan binne gegaan nie. Nee, eers moes hulle nog verby die Sinai gaan, waar die Here aan sy volk die wet gegee het. Tussen die begin van die verlossing – Egipte – en die einde van die verlossing – Kanaan – het die berg van die wetgewing gelê. Die volk is uit Egipte bevry deur genade alleen, maar om Kanaan binne te kan gaan, moes daar gehoorsaamheid aan God se wet wees, of in elk geval ‘n begin van daardie gehoorsaamheid, ‘n begeerte tot gehoorsaamheid.

En daarom was daar baie Israeliete wat Kanaan nooit gesien het nie; hulle het wel die begin van die verlossing geken, maar nie die einde nie. Hulle kon nie ingaan nie, sê die Skrif, vanweë hulle ongeloof. Hulle het in opstand teen die Here gekom, hulle het hulself nie aan sy wet onderwerp nie. Hulle kon nie aanvaar dat die God van die verlossing ook weet wat die beste is om binne die verlossing te kan bly nie. So iemand bly dus nie binne die vryheid wat die Here uit genade geskenk het nie.

Ons sien dit baie duidelik in Jesaja 28, wat ons saam gelees het. Jesaja begin in die eerste ses verse van hierdie hoofstuk deur terug in die geskiedenis te kyk na Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk. Ons moet onthou dat die tienstammeryk in Jesaja se tyd al in ballingskap weggevoer is. En tog kyk Jesaja nog ‘n slag terug na die tyd toe die hierdie ryk nog bestaan het. En dan veroordeel hy die leiers van hierdie ryk oor hulle dronkenskap, hy veroordeel die dekadensie van Samaria se samelewing.

In vers 7 keer Jesaja egter sy aandag terug na Jerusalem met sy leiers. En dan skrik ons… Want Jerusalem, wat na ons mening altyd gunstig teen die tienstammeryk afgesteek het, lyk glad nie beter nie. En dan verstaan ons hoekom Jesaja, as inleiding tot hierdie hoofstuk, eers na Samaria gekyk het. Want Jerusalem, die woonplek van God, lyk dan net so sleg… Ons lees in vers 7: “En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn…” En selfs die tempel, wat ‘n toonbeeld van reinheid en heiligheid moes gewees het, is bevuil deur die uitbraaksel van die priesters. Ons kan aanneem, gemeente, dat as dit by die priesters en die profete al so gelyk het, dit onder die gewone volk nie veel beter gegaan het nie.

Tot hierdie priesters en profete rig Jesaja nou sy profesie. Maar hulle hou nie daarvan nie. Hulle skreeu vir Jesaja in vers 9: “Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak?” Húlle is immers die leraars van die wet, húlle is die manne wat die geheime van God kenbaar maak. Dink hy dat hulle klein kinders is, klein kinders wat pas klaar gespeen is? Hulle is keelvol vir Jesaja, hulle wil hê hy moet sy mond hou. Hy het in elk geval niks beters as die wet om aan hulle te verkondig nie, “want dit is gebod op gebod, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.” Die priesters en profete kla dat dit vir Jesaja slegs oor die wet gaan. Gister was dít verkeerd, vandag weer iets anders; nooit het hy ‘n goeie boodskap nie. En dan profeteer hierdie Jesaja ook nog die wegvoering na Babilonië – wat se onsin! Het die Here sy volk uit Egipte gelei om hulle nou weer na ‘n ander slawehuis te bring? En so jou hulle Jesaja uit as sedemeester: gebod op gebod, reël op reël.

Hoe hartseer… Diegene wat deur die Here aangestel is om aan die volk sy wet voor te hou, hulle spot met daardie wet en hulle lei die volk op ‘n dwaalweg. En hulle noem Jesaja, wat wel met die wet van God tot hulle kom, ‘n sedemeester, ‘n kritikus. En dit terwyl die wet juis deur die Here gegee is om die vryheid van die volk te handhaaf. Kyk maar na vers 12: “Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.” En daarom, só verkondig Jesaja, omdat julle die wet, wat aan julle rus en vryheid moes gegee het, verag het, daarom sal julle agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word (vers 13). Die priesters het gedink die wét bring slawerny. Wel, sê Jesaja, hulle sal agterkom wat werklik slawerny is wanneer hulle in ballingskap weggevoer word.

Gemeente, wanneer God ons uit genade bevry uit die dienshuis van die sonde, dan gee Hy vervolgens aan ons sy wet om daardie vryheid te handhaaf, om ons binne daardie vryheid te bewaar! Bevry uit Egipte, moes Israel die pad deur die woestyn gaan. En om hulle uiteindelik veilig in die vryheid van die beloofde land te bring, gee God by die Sinai aan sy volk die wet – daardie wet moes hulle behoue in Kanaan bring. Soos wat die vader in Deuteronomium 6:24 aan sy seun vertel: “Die HERE het ons beveel om al hierdie insettinge te volbring, om die HERE onse God te vrees, dat dit met ons altyd goed mag gaan, om ons in die lewe te hou soos dit vandag is.” Gemeente, God se wet is nie ‘n nuwe slawehuis nie, dit is nie ‘n nuwe juk nie. Nee, Jakobus noem die wet nie verniet die “wet van vryheid” nie! Die wet wil jou vry hou tot op die dag van die wederkoms. Die wet is goed, soos Paulus in Romeine 7:12 sê, sodat dit met jou goed kan gaan!

Kom ons gebruik die voorbeeld van ‘n pretloop, een van hierdie 10km-pretlope wat ‘n mens soms op ‘n Saterdagoggend sien. Dit kan gebeur dat iemand tydens so ‘n pretloop ‘n verkeerde afdraai vat en heeltemal verdwaal. Maar gelukkig vind een van die organiseerders hom en bring hom terug na die wedlooproete. En dan sê hierdie organiseerder vir hom: “Volg net die oranje padtekens wat oral langs die pad aangebring is, dan sal jy vanself by die eindpunt aankom.” Gemeente, wat dink u gaan hierdie hardloper sê? “Ag, die oranje padtekens belemmer net my vryheid, ek volg liewer my eie roete”? Nee, natuurlik nie, hierdie hardloper wil die eindpunt bereik, hy wil die medalje wen, en daarom is hy al te dankbaar dat hy nou duidelik weet hoe om die wedloop te voltooi – volg net die oranje padtekens.

Nou, dit is presies wat die wet van die Here doen. Die wet van die Here is die merkers langs die pad wat presies wys wat die roete is wat die Here uitgestippel het om op sy verlossingpad te bly en uiteindelik die eindpunt te bereik. En wie in eiewysheid die wet wil ignoreer, ja, hy sal – soos die volk in Jesaja se tyd – moet voel wat ballingskap is, gevange in jou eie sondigheid. Maar hy wat daarby bly, gemeente, vir hom wag uiteindelik die eindpunt – die vryheid van die beloofde Kanaan, die nuwe hemel en aarde.

Gemeente, luister daarom as verlostes(!) met aandag na die wet van die Here – wanneer dit elke Sondag voorgelees word, en ook wanneer elkeen van die gebooie in die prediking behandel word. En as die ampsdraers of ‘n mede-broer of –suster jou helder vanuit die wet van die Here vermaan om jou van jou verkeerde weg terug te bring na die goeie weg, luister dan. Luister en doen dit in jou lewe van elke dag, sodat dit met jou goed mag gaan en sodat jy in die lewe mag bly, die lewe met die Here.

Amen


Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 150:1 en 3
Lees kort nagmaalsformulier
• Terwyl tafel in gereedheid sing Ps. 23:1-3
• Aan tafel voltooi nagmaalsformulier + gebed
• Sing Ps. 105:21 en 22
Lees:  Deuteronomium 6:20-25
     Jesaja 28:1-13
Sing Ps. 78:1, 2 en 6
Teks: HK, Sondag 34 (v/a 92)
Preek
Amenlied Ps. 105:23 en 24
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 68:4 en 9
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)