Met Jesus se koms breek die fees van vernuwing aan!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-05-10
Teks: 
Johannes 2:1-11
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Dikwels hoor ‘n mens die opmerking dat die lidmate wat hier aan die nagmaal sit so somber lyk; hulle lyk so ernstig: “Laat hulle bietjie blyer lyk! Dis mos ‘n vreugdevolle gebeurtenis!” En dit is interessant dat hierdie opmerking dikwels van ons jonger lidmate afkom; diegene wat nog nie noodwendig saam nagmaal vier nie, maar wat daar in die banke sit en die gebeure hier voor vanaf ‘n afstand dophou. Nou moet ons verstaan dat die eet van die brood en die drink van die wyn ‘n baie gewigtige oomblik; daar is baie om oor na te dink – sonde, verlossing, dankbaarheid… Dis ‘n intense oomblik wat vra om intens beleef te word; heeltemal begryplik dat ons nie almal met laggende gesigte hier sit nie. Dus, kinders en jongmense, as die belydende lidmate diep in gedagte hier voor sit, dui dit nie noodwendig op somberheid nie.

Maar dit gee wel ‘n vraag tot selfondersoek aan die belydende lidmate, naamlik of ons nog besef dat die nagmaal ‘n feesmaal is. En dat die hele lewe saam met Christus ‘n fees is. Miskien ervaar u dit nie so nie, miskien te veel meegemaak om so feestelik met die lewe te kan omgaan. En as ons daarby ook nog kyk na die lewe van Christus self… ja, wat was nou werklik so feestelik daaraan? Hartseer, sonde, kruis, hel, dood… En tóg begin Jesus sy bediening hier op aarde met ‘n fees, ‘n bruilofsfees! En dit is nie verniet nie, gemeente, daarmee wil Jesus iets vir ons sê, daarmee wil Hy ‘n baie spesifieke kleur gee aan sy werk hier op aarde, en daarmee wil Hy ook aan ons lewe saam met Hom kleur gee.

Tema: Met Jesus se koms breek die fees van vernuwing aan!
1. Hy maak die lewe nuut
2. Hy hou die beste vir laaste

1. Gemeente, Johannes 1 en 2 gee vir ons as’t ware ‘n kykie in Johannes se dagboek. En ek noem dit so omdat ons in hierdie hoofstukke ‘n daaglikse dagboek-inskrywing vir ‘n volle week vind. Johannes hou dagboek van Jesus se eerste werksweek, sewe volle dae. Kyk maar saam met my in u bybels [lees saam in bybels]. Dit begin op die dag van Johannes se getuienis teenoor die Jode uit Jerusalem (vers 19, dag 1). Die volgende dag, vers 29, wys Johannes konkreet die Lam van God aan (dag 2). Die dag daarna (vers 35; dag 3) herhaal hy hierdie aanwysing en is daar twee van sy dissipels wat Jesus volg (een daarvan is Andreas); en hierdie twee dissipels bly die res van daardie dag by Jesus (vers 40). Dit is dus weer ‘n dag later – nou al die vierde dag – wanneer Andreas sy broer Simon met Jesus in aanraking bring (verse 41-43). Die volgende dag, vers 44, vind daar nog twee ontmoetings plaas, naamlik met Filippus en Natanael (dag 5). En dan, in hoofstuk 2:1, word die week voltooi wanneer ons lees: “En op die derde dag was daar ‘n bruilof in Kana…” Met “die derde dag” bedoel Johannes die derde dag ná die ontmoeting met Filippus en Natanael. En dan moet ons dit op dieselfde manier verstaan as die opstanding van Jesus op die derde dag – Jesus is op die Vrydag gekruisig en Hy het op die Sondag opgestaan, en tog praat ons daarvan as sy opstanding op die derde dag. Nou, op dieselfde manier moet ons hier ook reken: die ontmoeting met Filippus en Natanael is op die vyfde dag van Jesus se werksweek, en op die derde dag daarna – dus, op dag sewe van sy werksweek – vind die bruilof plaas. Een volle werksweek…

Nou wil ek u op nog iets anders wys… Lees saam met my die inleiding tot die evangelie volgens Johannes [lees Joh. 1:1-3]. Hier gaan dit oor die Woord deur Wie alles ontstaan het; dit gaan dus oor die skeppingsdade van die Seun van God (“alle dinge het deur Hom ontstaan”, so lees ons). En direk ná hierdie inleiding, wat ons vertel van die skeppingsdade van die Woord, vind ons dan die eerste werksweek van die Woord, wat intussen vlees geword het. Gemeente, sien u die ooreenkoms met die skeppingsverhaal in Genesis 1? God die Vader het in Genesis 1 ses dae gewerk en op die sewende dag het Hy gerus. Die Seun het ook ses dae gewerk en op die sewende dag het Hy … bruilof gehou! God die Vader het ses dae gewerk aan die skepping en op die sewende dag het Hy saam met die mens geniet van sy skone skepping, het Hy saam met die mens in die tuin gewandel, dit is hoe Hy dit wou hê. Die Seun het as’t ware ses dae gewerk aan die herskepping en op die sewende dag het Hy saam met mense fees gevier. En nie sober nie, o nee! Toe die wyn opgeraak het, het Hy juis die feesvreugde kom verhoog met ‘n oorvloed van die beste wyn!

Broers en susters, die bruilof te Kana was die afsluiting van Jesus Christus se eerste werksweek op aarde, en dit teken vir ons presies waarvoor Hy gekom het! Jesus se werk hier op aarde – uitgebeeld deur die ses dae voorafgaande aan die bruilof – het as doel gehad om fees te bring deur die vergifnis van sondes. Jesus het hier op aarde kom werk met die doel om die lewe te herstel, om dit mooi en nuut te maak, sodat Hy saam met die mens kan feesvier, en sodat mense met mekaar kan feesvier.

Maar, sê u miskien – soos wat ek in die inleiding ook alreeds gesê het – die res van Jesus se lewe getuig nou nie werklik van feestelikheid nie. Inderdaad, daar was baie moeites en hartseer, Jesus moes die geweldige las van die sonde dra, veral aan die kruis. Dis waar, dit was geen maklike lewe nie. Maar met hierdie eerste van sy tekens – dit is hoe Johannes dit in vers 11 spesifiek noem – met hierdie eerste van baie tekens wat nog sou volg wys Jesus wel baie duidelik wat die doel van sy werk is, wat die gewenste resultaat van al sy swaarkry en hartseer is – Hy wil, deur sy harde werk, herstel en vernuwing en feestelikheid op aarde bring. Dít is wat hierdie eerste teken vir ons wys. En sy tweede teken – die genesing van die seun van die koninklike beampte in Johannes 4:54 en die gedeelte voorafgaande – en sy derde teken, en sy vierde teken en al die tekens daarna bevestig dit. Elke keer wanneer Jesus ‘n sieke gesond gemaak het, ‘n duiwel uitgedryf het, ‘n dooie opgewek het of brode vermeerder het, het Hy – in lyn met sy heel eerste wyn-wonder – gewys waarvoor Hy gekom het. Hy het gekom sodat die fees van vernuwing kon begin! Niks het Hom groter bevrediging verskaf nie as om te weet dat deur sy gehoorsaamheid die lewe nuut word!

En, gemeente, vandag reeds mag ons deelneem aan daardie fees van vernuwing. As ons, soos die dissipels, werklik in Hom glo (vers 11), dan mag ons die vergifnis en vernuwing in ons lewens begin raaksien. Vernuwing in ons huwelike, vernuwing in ons gesinne, vernuwing in die kerk, by die werk en in ons gemeenskappe. Mag dit só wees dat ons gemeente ‘n toonbeeld van vernuwing sal wees, van frisheid, van varsheid. Kom ons vier vandag daarom gelowig die nagmaal as feesmaal, en ervaar dan die vernuwende krag van Christus in ons lewens! En ervaar ook hoe die feestelikheid van sy werk in jou lewe deurwerk. Uiteraard, dit is ‘n feestelikheid tussen die trane van die lewe deur; natuurlik, dit is ‘n gebroke fees. Maar nogtans is daar fees; nie ‘n fees wat ons kunsmatig skep met ons gelag en plesierigheid nie, maar een wat Christus aanrig. Hy berei die feestafel! En ons mag daaraan deelneem en dit beleef.
In die tweede plek: Hy hou die beste vir laaste.

2. Jesus het die water in wyn verander. Johannes se dagboekinskrywing op hierdie sewende dag vermeld egter niks van ‘n woord of ‘n daad van Jesus om dié verandering tot stand te bring nie. Wanneer hierdie bruilof dreig om in diep water te beland, dan verander Jesus sonder ophef die water in wyn, en sorg Hy op dié manier vir nuwe vreugde. Die realiteit van hierdie wonder word egter wel deur die hoofdienaar gekonstateer. Soos ‘n egte wynkenner herken hy onmiddellik die voortreflike kwaliteit van hierdie wyn wat deur die dienaars vir hom gebring is. En dan word die bruidegom nader geroep en dit wil amper voorkom asof hy deur die hoofdienaar berispe word: “Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegtste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.” Arme bruidegom, die goeie man weet ook nie wat gebeur het nie. Hy is net so verbaas soos die hoofdienaar en moet toegee: dit is inderdaad ‘n omgekeerde wêreld.

Gemeente, só bewys Jesus Homself as die Bruidegom van die omgekeerde wêreld. Hy bewaar die allerbeste vir die allerlaaste, naamlik vir die bruilof van die Lam. En dit is sy eie bruilofsfees! Hy het naamlik belowe dat Hy die nuwe wyn saam met sy leerlinge sal drink in die Koninkryk van sy Vader. En dan sal die vreugde en die vernuwing, wat nou alreeds deur Hom gewerk word, volmaak wees!

Maar, gemeente, dit sal nie slegs volmaak wees nie, dit sal ook oorvloedig wees. Ja, eendag sal daar ‘n Messiaanse oorvloed wees. En ons teksgedeelte in Johannes 2 maak dit alreeds duidelik. Jesus beveel die dienaars naamlik om die ses kanne, wat daar gestaan het ter wille van die rituele reiniging, vol te maak met water. En dan lees ons in vers 7 dat die dienaars hierdie kanne tot bo toe volgemaak het. Ses kanne vol water. En dit was nie sommer kanne nie, gemeente. Hierdie ses kanne het in totaal omtrent seshonder liter water bevat. Seshonderd liter wyn! Wat deur wie gedrink gaan word? Hierdie wyn was hopeloos te veel vir al die bruilofsgaste daar in Kana. Jesus het dus baie meer wyn gemaak as wat nodig was.

Dalk bietjie uitspattigheid van die Here Jesus? Ons sien weer dieselfde by die vermeerdering van die brode: twaalf mandjies met brood wat oorgebly het… Was Judas Iskariot nie dalk reg toe hy Maria vermaan het oor die pond kosbare nardussalf waarmee sy die voete van Jesus gesalf het nie? Het Jesus so af en toe ‘n uitspattige bui gehad? Nee, gemeente, hier is nie sprake van uitspattigheid nie. Geen uitspattigheid nie, maar oorvloed! Jesus wys naamlik dat hierdie wonder die beperkte behoefte van die bruilof in Kana oorstyg. Hierdie baie wyn wys na iets groters, dit wys na die Messiaanse oorvloed wat vir ons wag, gemeente. Daardie oorvloed waarvan Jesaja 25:5 spreek, waar ons lees: “En die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ‘n maaltyd van vetspyse, ‘n maaltyd van ou wyn, van vetspyse volg murg, van gesuiwerde ou wyn.” En, volgens Jeremia 31:12, sal die gelowiges kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die HERE, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste…” En iets soortgelyks lees ons in Amos 9:13 en 14: “Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees. En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet.” Dít is die oorvloed wat vir ons wag, gemeente. As ons vandag reeds iets van die vreugde smaak wat Jesus kom bring het, dink dan net wat se wonderlike vreugde nog wag! Want Hy hou die beste vir laaste!

En daarna mag ons ook uitsien. Die nagmaalsformulier rig daarom ons geloofsoë na die toekoms. Ja, vandag reeds mag ons vreugde en vernuwing ervaar, maar dit bly ‘n vreugde en vernuwing te midde van moeite en hartseer en gebrokenheid. Dit wat ons vandag mag geniet, is slegs ‘n voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Hy ons belowe het. Ons sien met groot verlang uit na sy verskyning in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn saam met ons sal drink in die koninkryk van sy Vader. Laat ons dáárom – omdat ons leef in die omgekeerde koninkryk van Jesus Christus, waar die laaste beter sal wees as die eerste – laat ons dáárom bly wees, ons vreugde wys en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam kom!

Amen

 

Liturgie (oggend)

Votum: sing Ps. 121:1
Seën: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus.  
Sing Ps. 117
Kort gebed 
Lees + teks: Johannes 2:1-11
Preek
Sing Ps. 118:2, 12-14
Lees formulier + wet
Na lesing van die wet, sing Ps. 26:1, 2, 5 en 7
Vervolg lesing van formulier
Terwyl die tafel in gereedheid gebring word, speel net die klavier/orrel
Viering van die nagmaal
o Eerste tafel – Skr. 31:1
o Tweede tafel – Skr. 31:2
o Derde tafel – Skr. 31:3
Voltooi formulier & dankgebed
Kollekte
Slotsang Skr. 29:6-9
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)