God doen uitspraak in die saak van Jesus se geboorte uit die dood!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-04-12
Teks: 
Handelinge 2:24
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van die opgestane Here,

Dit is opmerklik hoeveel variasie ons vind in die vertelling van die gebeure net ná Jesus se sterwe. En jy sal dit sien wanneer jy die verskillende evangelies langs mekaar sit – dit is baie moeilik om ‘n goeie chronologiese lyn in die gebeure te vind: wat het nou waar gebeur, en wie het wanneer opgetree? Maar, gemeente, daar is goeie redes vir hierdie variasies. Een van die belangrikste redes vir die variasies is die feit dat ons op die paasoggend ‘n baie groot aantal mense vind wat betrokke is by die gebeurtenisse. ‘n Mens kry dus vertellings vanuit verskillende gesigspunte – die een beklemtoon hierdie feit, die ander weer iets anders. En daarby kom ook nog dat dit almal mense is wat redelik deurmekaar en verward was ná die dood van hulle Meester. Wanneer ons, ten spyte van hierdie verwarring en vrees, tog één gladde verhaal in die vier evangelies sou gevind het, dan sou ons waarskynlik ook gedink het dat dit baie onnatuurlik is.

Nee, ons vind hier nie ‘n verhaal wat agterna deur al die evangeliste saam gladgestryk is nie, maar ons vind hier die eerstehandse getuienis van mense wat deur die emosionele gebeurtenisse van die laaste paar dae oorrompel is. Elke evangelis het sy eie bronne gebruik, mense wat naby aan die gebeure was, en elkeen van hierdie bronne vertel spontaan hoe hy of sy die gebeure op daardie oomblik opgemerk en beleef het.

En tog is dit nie onmoontlik om ‘n lyn in al hierdie gebeure te herken nie. Uit die verskillende weergawes van die vier evangeliste kan ons die volgende gebeure agtermekaar plaas: 1. Jesus is deur Josef van Arimatea, met behulp van Nikodemus, versorg en in ‘n nuwe graf neergelê; 2. nadat hierdie twee manne vertrek het, vorm ‘n aantal vroue ‘n wag by die graf; dit is op die aand van Goeie Vrydag; 3. ‘n derde gebeurtenis is die Jode wat op die volgende dag – die sabbat – wagte voor die graf laat plaas het; 4. vervolgens vind ons op die eerste dag van die week die aardbewing; 5. dit word gevolg deur die vroue wat aankom om die lyk met speserye en salf te versorg; hier word hulle met die engele en die leë graf gekonfronteer; 6. vervolgens vlug hulle en bring berig aan die dissipels wat oral en nêrens verstrooi was; 7 dan kom Petrus en Johannes en vind die graf leeg, soos wat die vroue vertel het; 8. en uiteindelik volg die verskillende verskynings van Jesus aan sy dissipels.

Tot op daardie stadium kon die dissipels nog nie glo dat Jesus uit die dood opgestaan het nie. Hulle verstaan dus ook nie werklik sy woorde aan hulle toe Hy nog geleef het nie, naamlik dat die Seun van die mens oorgelewer moes word in die hande van mense, moes sterwe, en ná drie dae sou opstaan. Eers met Jesus se verskynings aan sy dissipels begin die realiteit stadig by hulle insink: Jesus het waarlik opgestaan. Maar ook nie onmiddellik nie; nee, tot ses verskynings is nodig om al twaalf dissipels daarvan te oortuig dat hulle Heiland leef.

Maar, gemeente, die oomblik wanneer hulle deur die Here daarvan oortuig is, werklik deurdronge is van die die feit en die werklikheid van Jesus se opstanding, dan vorm die opstanding vervolgens ook die kern van hulle prediking: Jesus Christus, die gekruisigde, maar wat lewe! En u kan dit maar in die boek Handelinge gaan naslaan – in byna elke toespraak, in amper elke preek, vorm die opstanding ‘n sentrale deel. Ook in daardie eerste preek van Petrus op die Pinksterdag. En daarna wil ons op hierdie Paassondag luister.

Tema: God doen uitspraak in die saak van Jesus se geboorte uit die dood!

Gemeente, ons is gewoond daaraan om Handelinge 2 spesifiek te gebruik wanneer ons die heilsfeite van die Pinksterdag gedenk – die uitstorting van die Heilige Gees met alle gepaardgaande tekens. Maar ek wil hierdie gedeelte, spesifiek Petrus se toespraak, vandag gebruik om die heilsfeite van Páásfees mee te belig. En dit is heeltemal moontlik om dit so te doen, want jy kan die Pinksterfeite in elk geval nie verstaan sonder die Paasfeite nie; jy kan nie die Gees verstaan sonder die opgestane Christus nie (onthou dit maar vir jou omgang met mense wat ‘n oormatige klem op die werk van die Gees plaas). En Petrus wys dit ook in sy toespraak: hy begin naamlik sy toespraak deur eers die opspraakwekkende tekens van wind en vuur en tale vanuit die profesie van Joël te verklaar – Joël wat profeteer van die uitstorting van die Heilige Gees. Maar vervolgens sê hy as’t ware vir sy luisteraars: goed, kom ons gaan nou terug na die begin! Wat het eintlik aanleiding gegee tot die uitstorting van die Heilige Gees? Wat is die oorsaak van hierdie gebeurtenis?

En dan vertel hy, vanaf vers 22, vir die skare eenvoudig die feite van Jesus Christus – sy lewe, sterwe, opstanding en verhoging. En eers aan die einde van hierdie lang toespraak kom hy dan weer terug by die uitstorting van die Gees; vers 33: “Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor.” In sy hele toespraak lei Petrus dus sy luisteraars van Paasfees na Pinksterfees; dit is die regte volgorde! En op dié manier kan ons hierdie gedeelte vandag ook sinvol gebruik.

Dan is daar nog iets anders in Petrus se toespraak waarop ek u aamdag wil vestig. Petrus plaas naamlik sy toespraak reg vanaf die begin in die konteks van die regspraak. Of dalk moet ons eerder sê: hy gaan in op die regsaak wat die omstanders begin het. Húlle, die omstanders, het immers die beskuldiging ingebring dat die apostels dronk was. En nou gaan Petrus voort in hierdie juridiese sfeer. Hy sê in vers 15: “Hierdie mense…” – hier vind ons alreeds duidelik die taal van die regspraak waar die aangeklaagdes met ‘n handgebaar aangedui word, soos die gewoonte was in daardie tyd. Petrus tree hier op as verdediger van die aangeklaagde apostels, en hy ontsenu die aanklag teen hulle met ‘n baie eenvoudige weerlegging: hierdie mense is nie dronk nie, dit is dan pas nege uur in die oggend. Dit is al – ‘n kwaadwillige beskuldiging verdien in elk geval nie ‘n lang weerlegging nie.

Dus, eers weerlê Petrus die beskuldiging. Maar vervolgens láát hy die saak nie net daar nie. Nee, hy begin nou self ‘n regsaak met die aanklaers; hy draai die rolle nou om! En opmerklik is dat, aan die einde van die toespraak, hy dit reg gekry het om die oorspronkliker aanklaers in die beskuldigdebank te laat beland. Hulle wat eers beskuldig het, het teen die einde van die toespraak geen ander keuse as om vol berou hulle eie skuld te erken nie: “Wat moet ons doen, broeders?” (vers 37)

Maar, gemenete, vanwaar hierdie dramatiese wending? Hoe het hierdie selfversekerde aanklaers so vinnig in die beskuldigdebank beland? Wel, ons moet seker maar kyk wat die regsaak is waaroor dit hier gegaan het, nie waar nie? En, gemeente, wanneer ons dít ‘n bietjie nader ondersoek, dan sien ons dat dit in Petrus se toespraak gaan oor die regsaak rondom Jesus Christus, wat die doodsvonnis oor Hom gekry het. Dít is die regsaak wat Petrus in die hofsaal van Pinkster weer heropen! Hy haal die dossier weer tevoorskyn en plaas die feite opnuut op die tafel: Jesus Christus is deur die Jode ter dood veroordeel en vervolgens gekruisig, én – sê Petrus vir sy luisteraars – julle het ook deel hieraan. Júlle het Hom geneem en gekruisig en omgebring (vers 23).

Nou is dít nog nie die probleem nie, broers en susters. Immers, as iemand onder God se volk tereg ter dood veroordeel is, dan moes die hele volk – alle getuies – deelneem aan daardie persoon se teregstelling. Dit is hoe God dit deur Moses laat bepaal het, en ons sien ‘n konkrete voorbeeld hiervan by die teregstelling van Agan wat van die bangoed van Jerigo vir homself gevat het. Ons lees daaroor in Josua 7:25 dat die héle Israel hom en sy gesin en al sy besittings gestenig het. So moes dit dus wees…

Nee, die probleem lê nie soseer in die teregstelling van vers 23 as sulks nie. Die probleem kom eers in vers 24, want dan blyk skielik dat die tereggestelde nie dood gebly het nie! Skokkend! Die Jode het Jesus wel aan die dood oorgegee, maar die dood kon Hom nie vashou nie! Die laaste woorde van vers 24 sê dat dit onmoontlik was dat Jesus deur die dood vasgehou sou word – oor die rede vir dié onmoontlikheid sal ons later uitwei, maar die feit bly intussen staan: die dood kon nie sy greep op Jesus Christus behou nie!

Nou, gemeente, die beeld wat Petrus in vers 24 gebruik om hierdie onmag van die dood mee te beskryf, is die beeld van ‘n vrou in kraam; die woord wat in ons vertaling van vers 24 met ‘smart’ vertaal is, beteken letterlik ‘geboortepyne’ (“Hom het God opgewek, nadat Hy die geboortepyne van die dood ontbind het”). Maar hoekom gebruik Petrus spesifiek hierdie beeld? Kom ons probeer verstaan wat Petrus hiermee wil bereik…

Die Jode was moeg vir Jesus, Hy was vir hulle ‘n bedreiging en hulle wou van Hom ontslae raak. Hulle het gedink dat hulle Hom deur sy kruisiging vir eens en vir altyd sou stilmaak, dat die dood hulle van hierdie oproermaker sou verlos. Met ‘n grafiese beeld kan ons sê dat die Jode as’t met die dood gehoereer het – met die dood seksuele gemeenskap gehad het – met die doel dat Jesus vir altyd in die mag van die dood sou beland. ‘n Guns vir ‘n guns, die een hand was die ander hand – die Jode gee aan die dood wat die dood soek, naamlik slagoffers, en die dood bevry die Jode van wat hulle nie soek nie, naamlik van Jesus Christus.

Maar dan gebeur die onverwagse; hierdie eennag-plesiertjie lei tot ‘n ongewenste swangerskap, die dood word ‘swanger’! Die dood het skielik ‘n rol begin vervul waaraan sy nie gewoond is nie en wat ook volledig teen haar natuur indruis: sy het die léwe in haar gedra! Is dit nie verstommend nie, broers en susters: die dóód het swanger geword van die léwe?! En snaaks genoeg, dit is asof die Jode dit aangevoel het en wou keer dat daar aan hierdie lewe geboorte geskenk word. Hoekom anders, dink u, het hulle wagte by die opening van die graf geplaas? Hulle was doodsbenoud dat hulle flirtasie met die dood iets onverwags sou…. “Nee, dit kan tog nie wees nie, Hy is dan dood! Maar goed, net vir die sekerheid plaas ons ‘n paar wagte by die graf.” Sien u, êrens was die Jode nie heeltemal oortuig nie.

En toe gebeur dit inderdaad, hulle ergste vrese word bewaarheid! Die dood word swanger van die lewe; die dood moet doen wat sy nie wil doen nie, naamlik lewe skenk. Meer nog: sy haat dit, sy doen dit nooit uit haar eie uit nie. Maar hier moet sy! Die dood word oorwin, want God dwing haar om geboorte te skenk. Jesus Christus, wat self die Oorsprong en Outeur van die lewe is, kán nie deur die dood vasgehou word nie. Die dood móét Hom loslaat! O ja, sy skop daarteen, sy wil nie, hierdie kraamproses veroorsaak verskriklike geboortepyne, smarte. Maar hoe sy ook al teëskop, sy is nie opgewasse teen die God van die lewe wat die kruisoffer van sy Seun aanvaar het nie. Jesus Christus het in sy lewe die volmaakte offer gebring – volledige gehoorsaamheid en volle oorgawe. Dít, sê die Vader dan, verdien nie die dood nie, maar verdien die lewe. Kom dood, gee nou die lewe aan daardie sondelose Een in jou; laat Hom uitkom, jy kan en jy mag Hom nie vashou nie.

Só het die Vader daarvoor gesorg dat Jesus Christus uit die dood gebore word, opgewek word. Dit is Petrus se boodskap aan sy luisteraars…

En nou verander die prentjie! Onthou u hoe Petrus die dossier van die regsaak van Jesus Christus weer oopgemaak en die feite op die tafel geplaas het: aanvanklik het die luisteraars net deel gehad aan Jesus se kruisiging; daar was nog geen bewys dat hulle ook skuldig was aan ‘n onregmatige teregstelling nie. Maar deurdat nou aan die lig gekom het dat die Vader vir Jesus uit die kloue van die dood verlos het en Hom laat opstaan het, wys God dat Hy ánders oordeel as diegene wat Jesus gekruisig het. Wanneer God, die Regter oor lewende en dooies, ‘n dooie laat opstaan, dan beteken dit méér as net ‘n nuwe lewe vir daardie persoon. Dan beteken dit ook dat God aan daardie persoon reg doen teenoor diegene wat Hom doodgemaak het! Dus, deur Jesus uit die dood op te wek, wys God dat die reg aan Jesus se kant is, en nie aan die kant van dié wat Hom gekruisig het nie. Hy is onskuldig, en hulle…? Ons sien nou hoe die rolle skielik omgedraai word, broers en susters. Die tereggestelde word nou vrygespreek en verhoog, terwyl die beskuldigers in skaamte hulle eie skuld moet erken.

En, broers en susters, dit is dan ook presies die doel van Petrus se toespraak – hy soek skuldbelydenis en bekering by sy luisteraars. Ja, vir eers gaan Petrus nog eenvoudig voort om sy luisteraars van die feit van die opstanding te probeer oortuig. En hy doen dit op ‘n pragtige manier deur bewyse vanuit die Skrif, spesifiek Psalm 16, aan te dra en dit ook uit te lê. Maar uiteindelik – in die slot van sy toespraak – som Petrus op waaroor dit werklik gaan deur reg en onreg teenoor mekaar te plaas: “Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” Petrus sê eintlik: “Die groot Regter het sy uitspraak gelewer, Israeliete: Jesus is reg, en julle is verkeerd! Hy is die Lewende, maar sy doodsvonnis keer op julle hoofde terug. Die opstanding bewys dit!”

Jy kan jouself indink watter skok dit onder die luisteraars veroorsaak het: “Ons het ‘n onskuldige doodgemaak! Wat gaan Hy met ons doen noudat Hy weer lewe? Gaan Hy nou kom om al sy moordenaars te straf? Wat moet ons doen, broeders?” Dit is amper ‘n wanhoopsvraag in vers 37; die luisteraars besef hulle skuld, maar hulle sien geen uitkoms nie. En dan mag Petrus aan hulle verkondig dat Jesus se opwekking uit die dood nie noodwendig húlle dood hoef te beteken nie. Dit is nie hoekom Jesus opgestaan het nie. Dit is nie soos wat ons lees in die boek Daniël, waar Daniël se teenstanders, nadat sy onskuld in die leeukuil bewys is, sélf in die leeukuil gegooi word nie. Dit is ook nie soos in die boek Ester waar Haman, nadat Mordegai onskuldig verklaar word, sélf aan die paal gehang word wat hy vir Mordegai opgerig het nie. Nee, Jesus soek nie die dood van sy moordenaars nie, sy opstanding het nie ten doel om wraak te neem of verderf te bring nie, maar eerder om die lewe te gee aan elkeen wat hulle aan Hom oorgee. Jesus wil mense juis red uit die kloue van die dood! Hy wil die dood as’t ware permanent swanger maak, sodat die doderyk uiteindelik baie dooies – ‘n ontelbare skare! – moet vrylaat, sodat hulle ewig kan lewe!

En dit is dan ook waartoe Petrus oproep in vers 38: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” Die luisteraars word opgeroep om nie van hulle moord-slagoffer af weg te hardloop nie, maar om juis na Hom toe te vlug! Laat julle doop in die Naam van Jesus Christus. Laat hierdie vrygespreekte aan julle genade bewys; laat Hy die Regter, wat Hóm vrygespreek het, oorhaal om julle nie te straf nie; by Hom is daar genade! Gemeente, dit is Petrus se heerlike Paasboodskap op die Pinksterdag: Kom na Jesus Christus! Julle het Hom wel doodgemaak, heeltemal reg, maar nou het die tyd van genade aangebreek. Moenie langer met die dood gemeenskap beoefen nie. Hy is ‘n gebroke vennoot, hy is verslaan, hy kan jou uiteindelik niks in die sak bring nie. Laat julle daarom red uit hierdie verkeerde geslag!

Dit is Petrus se oproep, en die antwoord op hierdie roep bly nie uit nie. God wat mag het om sy Seun uit die dood op te wek, is ook by magte om lewe in dooie harte te verwek. Met die gevolg dat op daardie dag omtrent drieduisend persone gedoop is. Drieduisende siele wat verlos is van die bande van die satan en die dood en wat op daardie oomblik aan Jesus Christus begin behoort het. Drieduisend siele wat oppad was na die ewige lewe.

Maar, broers en susters, ons is mos nie deel van die bende moordenaars wat Jesus omgebring het nie? Watter boodskap is daar dan vir ons in hierdie toespraak? Of is ons dalk óók sy moordenaars? Wel, gemeente, ons moet weet dat as ons onsself nie aan hierdie lewende Here oorgee nie, ja, dan wórd ons een van sy moordenaars, dan vertrap ons sy bloed wat in die prediking van die evangelie oor ons uitgegiet word. Wie Sondag na Sondag die prediking van die evangelie hoor, wie dag na dag die bybel oopmaak en daaruit lees, wie jaar in jaar uit huisbesoek ontvang en die woord daarin hoor, en dit afwys… daardie persoon word ‘n moordenaar van Jesus Christus, soos wat ons lees in Hebreërs 10:29: “… hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?”

En daarom is dit so belangrik dat die oproep ook telkens na óns toe uitgaan: bekeer julle tot Jesus Christus! Ontvang by Hom vergewing van sondes en die gawe van die Heilige Gees. Laat julle red uit die bande van die dood, laat julleself deur hierdie Oorwinnaar-oor-die-dood weergebore word. Ja, gemeente, dit is wat ons nodig het. Ons, wat dood is in ons sondes, ons moet weergebore word. Vanuit onsself is dit nie moontlik nie. Die dood se greep op ons is daarvoor te stewig; nee, hy sal ons nie sommer loslaat nie. Maar wanneer ons na Jesus Christus toe gaan, ons hele lewe aan Hom oorgee en Hom as die Lewende erken, dan móét die dood ook óns vrylaat! Die mag van die satan is dan gebreek, en ons is vry! Dan het ons siel vrygeraak soos ‘n voël uit die vangnet van die voëlvangers; die vangnet van die dood is dan gebreek, en ons, ons het vrygeraak, soos wat ons so pragtig lees in Psalm 124.

Broers en susters, wees daarom wys en nie dwaas nie. Moenie oop-oë daarvoor kies om in die tentakels van die dood te bly lewe nie. Vir nou is daar miskien ‘n mate van genot daarin, vir nou mag dit voel asof jy deur niks gebind is nie – niemand wat sê dat jy nie dit of dat mag doen nie, niemand wat sê hoe jy behoort te lewe nie – maar uiteindelik sal jy agterkom: dit is leeg en leweloos. Gee daarom jou lewe oor aan Jesus Christus; gryp Hom aan wat jou eerste gegryp het, en léwe saam met Hom. Nie net by tye nie, nie net wanneer jy in nood is nie, maar elke oomblik, elke dag. Bekeer jou as jy tot dusver ver van Jesus gelewe het, roep jou man of jou vrou op om saam met jou opnuut die Here Jesus aan te hang! Wandel weer saam met Jesus Christus, maak Hom jou reisgenoot deur jou hele lewe. En dan mag jy weet – en glo dit, broers en susters! – dat die dood jou niks kan doen nie. Hy het geen houvas op jou lewe nie! Ook al sterwe die mense om jou heen, ook al sterwe jy self, die dood is nie meer jou baas nie. Jy het ‘n nuwe Heer, ‘n lewende Heer. Hy het die bande en die strikke van die dood verbreek! Wat sou ek vlees dan vrees?

En eendag, broers en susters, sal Paasfees ons bring by nog ‘n geboorte, die geboorte van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde. Soos op Paassondag die aarde gebewe en die graf sy dooie gelewer het, so sal eendag – dalk baie binnekort! – by die aardbewing ook ‘n hemelbewing gevoeg word. Dan sal die grafte oopgaan en sy dooies lewer, die hemel sal in volmaaktheid op aarde neerdaal, en dan sal ons ewig, onsterflik met ons lewende Here verenig word. En dan sal die dood en die doderyk gewerp word in die poel van vuur – dit is die tweede dood (Openb. 20:14). Dan word die dood binnestebuite gekeer – hy wat eers die vernietiger van menselewens was, sal dan self vernietig en doodgemaak word. Nou is die dood alreeds verslaan, maar dán sal die dood dóód wees, ewig dood.

En óns? Ons sal lewe, saam met Christus. Die dood is immers gedwing om geboorte te geskenk aan ‘n ontelbare skare. Nuutgebore mense op ‘n nuutgebore aarde met nuwe sange van lof. Stil maar, wag maar, alles word nuut, die hemel en die aarde!

Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 21:1-4
Lees:  Mattheus 28:1-10 (feit van Chr. se opstanding maak dat ons in nuwe lewe kan opstaan)
Exodus 20 (wetslesing)
Sing Skr. 10
Gebed
Lees:  Handelinge 2:14-40
Sing Ps. 16:3-5
Teks: Handelinge 2:24
Preek
Amenlied Ps. 49:3, 5 en 6
Gebed
Kollekte
Slotsang Skr. 24:6 en 7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings
Votum en seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 21:1-4
Lees:  Mattheus 28:1-10
Gebed
Lees:  Handelinge 2:14-40
Sing Ps. 16:3-5
Teks: Handelinge 2:24
Preek
Amenlied Ps. 49:3, 5 en 6
Gebed
Sing Geloofsbelydenis
Kollekte
Slotsang Skr. 24:6 en 7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)