Die kerk roep tot God om sy vriendelike aangesig na ons toe terug te draai…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-04-05
Teks: 
Psalm 80:20
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

Geliefde gemeente van Jesus Christus, broer en suster,

Miskien het u dit nog nie opgemerk nie, miskien nog nie regtig daarby stilgestaan nie, maar in die kerkverband van die Vrye Gereformeerde Kerke gaan dit op hierdie stadium nie alte goed nie. Die kerkverband bevind homself nie in die rustigste waters van sy rofweg vyftig jaar se bestaan nie. Daar is moeites, daar is hartseer, daar is kommerwekkende sake, daar is swaar finansiële laste. Daarmee sê ons nie dat daar nie ook mooi dinge gebeur nie. Beslis! Ons moet die Here se werk ook nie altyd in die groot dinge soek nie. Maar tog is dit so dat die moeites ons aandag op hierdie stadium gevange hou. Die skippie van Christus se kerk hier in ons land gaan deur ‘n behoorlike storm.

Maar dan is die vraag, broers en susters: hoe reageer ons hierop? Hoe reageer die kerk op die moeites waardeur sy gaan? Wat doen die kerk wanneer dit lyk en voel asof die Here sy gesig van ons af weggedraai het? Loop ons dan net weg, kwaad, omdat Hy ons in die steek gelaat het? Is ons soos ‘n rebelse kind wat weghardloop wanneer sy pa hom gestraf het, en homself vervolgens in sy kamer gaan toesluit? Nee, gemeente, wanneer dit lyk asof die Here sy gesig van ons af weggedraai het, dan draai ons nie weg nie, maar dan róép ons! Dan roep ons tot God om sy vriendelike aangesig weer na ons toe terug te draai, omdat ons weet dat daarin ons enigste heil lê! Dan roep ons onophoudelik, soos wat ons dit sien by die weduwee in Lukas 18 wat tot vervelens toe maar weer na die regter gegaan het sodat hy aan haar reg sou doen. En let dan op Jesus se konklusie op hierdie gelykenis: “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie?” Sien u dit? Ons moet bly roep, want die Here hoor! Broers en susters, dít is dan ook die roep wat ons vind in Psalm 80 – tot drie maal toe kom ons die refrein teë: “o God van die leërskare, herstel ons, en laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word” (verse 4, 8 en 20). Ja, hier hoor ons die stem van die roepende kerk.

Tema: die kerk roep tot God om sy vriendelike aangesig na ons toe terug te draai…
1. Die oorsaak vir die roep
2. Die gronde onder die roep
3. God se antwoord op die roep

1. Gemeente, met Psalm 80 bevind ons onsself in die middel van die versameling van sogenaamde Asaf-psalms – psalm 73-83. Maar in teenstelling tot verskeie van Dawid se psalms vind ons in Asaf se psalms geen klinkklare aanduidings van die historiese konteks waarin hierdie psalms ontstaan het nie. En Psalm 80 is hierop geen uitsondering nie. Let wel, ek sê “geen klinkklare aanduidings” nie. Maar as dit nie klinkklaar is nie, beteken dit nie dat dit afwesig is nie. Ons moet dalk net bietjie verder soek. Nou, kom ons soek…

Om mee te begin, kan ons let op die name in vers 2 – God word daar aangespreek as Herder van Israel, Hy wat Josef soos skape lei. Dit gee vir ons alreeds ‘n aanduiding dat hierdie psalm oor Israel, die tienstammeryk, gaan. U sal onthou dat die Here, as gevolg van die sonde van Salomo, die verenigde koninkryk in twee dele geskeur het – enersyds die suidryk met die stam van Juda, andersyds die noordryk met die tien stamme van Israel. Nou, in hierdie tienstammeryk het die stamme van Efraim en Manasse – die twee seuns van Josef – geografies waarskynlik die grootste gebied beslaan. En dit is presies hierdie twee name van Josef se seuns wat ons dan ook vervolgens teëkom in vers 3. Daar is dus alle rede om aan te neem dat dit in hierdie psalm oor die tienstammeryk gaan.

Maar daar is net een probleempie waaraan ons aandag moet gee, want ons vind in vers 3 ook nog die naam van Benjamin tussen dié van Efraim en Manasse in. En was Benjamin nie deel van die suidryk nie? Wel, so dink ons dikwels, maar as ons na die Skrif kyk dan sien ons dat die Skrif nie duidelik is oor die posisie van Benjamin nie. Enersyds word Benjamin in verskeie Skrifgedeeltes eenvoudig by Juda gereken, en verder het verskeie Benjaminitiese stede duidelik tot die suidryk behoort. Andersyds egter was daar weer ander Benjaminitiese stede soos Betel, Gilgal en Jerigo wat tot die tienstammeryk behoort het. En daarby was daar ook ‘n natuurlike verbinding tussen Josef (Efraim en Manasse) en Benjamin, want húlle was mos die kinders van Ragel. Blykbaar was die gebied van Benjamin dus verdeel. Dalk kan ons sê dat Benjamin in beginsel by die tienstammeryk behoort het, maar dat dit in die praktyk dikwels anders gefunksioneer het. Wat die geval ook al mag wees, die konklusie bly steeds dieselfde, naamlik dat dit in hierdie psalm oor die tienstammeryk gaan.

Maar goed, na watter tyd in die geskiedenis van die tienstammeryk verwys hierdie psalm? Wel, die Septuagint – die Griekse vertaling van die Ou Testament – het in psalm 80:1 ‘n kort nota ingevoeg wat sê dat dit in hierdie psalm oor die Assiriërs gaan. En daar is geen rede om hierdie nota te betwyfel nie. Daarom kan ons sê, broers en susters, dat hierdie psalm afspeel in die tyd toe Assirië die tienstammeryk op ‘n gereelde basis aangeval en uiteindelik in ballingskap weggevoer het. Dus, sê maar, in die dertig of veertig jaar voor die wegvoering van die tienstammeryk in ballingskap in 722 v.C.

In hierdie dertig of veertig jaar het die hand van die wrede Assiriërs voortdurend op die tienstammeryk gedruk. Hierdie vyand was, volgens vers 14, soos ‘n wildevark wat in ‘n wingerd losgelaat word – ‘n baie treffende beeld van die verskriklike verwoesting en wreedheid wat die Assiriërs in die tienstammeryk aangerig het. Wildevarke in die bybelse tyd was naamlik baie woeste diere; hulle het omheinings en mure deurgebreek, die grond omgewoel, die wynstokke uitgeruk en onder hulle pote vertrap. ‘n Paar van hierdie diere was genoeg om ‘n wingerd in een enkele nag te verwoes. En daarby was hulle ook nog gevaarlik en vinnig – met hulle skerp slagtande kon hulle verskriklike pyn en dood veroorsaak. Die onderdrukking deur hierdie wrede wildevark-Assiriërs was sodanig dat dit vir die volk van die noordryk ‘n tyd van baie trane was (vers 6). Trane oor uitmekaar gejaagde families, trane oor stukkende huise en stede, trane oor verwoeste landerye, trane oor honger, ellende en ondergang. Gedurende hierdie periode was hulle voortdurend onder die aanval – nou was dit hierdie Assiriese troepe, dan was dit daardie Assiriese bendes. En die hele tyd moes hulle ook nog na die gespot van hierdie vyand luister (vers 7). ‘n Baie swaar tyd, dus, vir die volk van die tienstammeryk…

En tóg, gemeente, staan die Assiriërs in hierdie psalm nie sentraal nie. Vir die digter gaan dit hier nie oor ‘n geskil tussen Israel en Assirië nie; nee, dit gaan hier oor ‘n saak tussen Israel – die kerk van die tienstammeryk – en Gód. Want Gód het hierdie onheil oor die volk gebring. Kyk maar: “U het hulle tranebrood laat eet” (vers 6), “U het ons ‘n voorwerp van stryd gemaak” (vers 7), “U het sy mure stukkend gebreek” (vers 13), “vanweë die dreiging van u aangesig kom hulle om” (vers 17). Die vroom digter besef dat die volk in al hulle moeites en hartseer met Gód te make het! Gód se toorn rook oor sy volk as gevolg van húlle sonde en afval, en as gevolg van die afgodediens en ongeloof wat die grootste deel van die geskiedenis van die tienstammeryk so duidelik gekleur het.

Gemeente, die digter van Psalm 80, en saam met hom die gelowige res, die sogenaamde seweduisend wat die knie voor Baal nie gebuig het nie, het dus in die afgebrande en leeggeroofde Israelitiese landerye en stede heel eerste die rook van God se toorn gesien oor die ongeregtigheid van die volk. Hulle besef dat die Assiriërs maar net ‘n simptoon is van die werklike probleem: God is kwaad oor sy volk se afval! En dáárom roep hulle ook tot Gód! Hulle roep om herstel – ja, dit is hoe dit in ons vertaling staan: “o God, herstel ons…” Maar in die Hebreeus staan daar ‘n woord wat letterlik “omdraai” beteken, “terugkeer”. Nee, nie in die eerste plek terugkeer van God nie, maar terugkeer van die volk. Wat die digter hier dus vra, is bekering! Bekeer ons! Hy besef dat die toestand van die volk te make het met hulle afval en ongeloof. En daarom vra hy nie vernietiging van die Assiriërs nie, hy vra ook nie nuwe landerye en opgeboude stede nie, maar vra hy vir bekering van die volk. Weg van die sonde – want dáár lê altyd die wortel van die kerk se probleme. En terug na God – want dáár lê altyd die oplossing van die kerk se probleme. Bekering…

Broers en susters, wanneer die kerkskippie van die Vrye Gereformeerde Kerke daarom vandag deur rowwe waters gaan, en wanneer dit voel asof God sy aangesig van ons afgewend het, dan gaan soek ons nie na allerlei eksterne redes nie, dan soek ons ook nie na die sondebok vir ons probleme nie. Nee, dan bely ons óns skuld, soos wat Daniël dit so pragtig doen in hoofstuk 9 van sy profesie: “Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie. Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is…”

Gemeente, laat ons onsself só voor God verootmoedig. Die kerk van Christus het nie selfversekerde lidmate nodig nie; die kerk het nie mense nodig wat teenoor ander kan wys hoe goed dit hier by ons gaan nie. Nee, die kerk het nederige lidmate nodig, mense wat erken dat ons die oorsaak is van ons eie moeite. Laat ons daarom na God roep. Roep dat Hy ons sal bekeer – in ons kerke, maar ook in ons individuele lewens. Die besef van ons afval en ongehoorsaamheid is die oorsaak vir ons roep tot God. En slegs dan wil God Homself vervolgens ook na ons toe terugdraai en sy vriendelike aangesig oor ons laat skyn.

In die tweede plek: die gronde onder die roep.

2. Deur van die moeites van die tienstammeryk ‘n saak tussen God en sy volk te maak, doen die digter iets baie belangriks, gemeente. En dit is goed dat ons dit sal raaksien. Die digter bring naamlik op dié manier ‘n verbondshandeling op gang. Dit gaan hier nie oor twee partye – Israel en Assirië – wat niks met mekaar te make het nie, vyande wat mekaar nie kan verdra nie, en wat mekaar daarom net lelike dinge toesnou. Nee, dit gaan hier oor twee partye wat met mekaar in ‘n verbond staan. God staan met sy volk in ‘n liefdesverhouding, en dit bepaal die omgang met mekaar. En om dit te illustreer, gebruik die digter twee treffende beelde.

In die eerste plek gebruik hy die beeld van ‘n Herder met sy skape. En met hierdie beeld wil die digter veral vir Gód beskryf. Nou, ons beeld van wat ‘n herder gedoen het, is dikwels sterk verromantiseer. Ons het die beeld van ‘n herder wat oor groen weivelde trek en sy kudde rustig daar laat wei. Die lammetjies dra hy in sy arms en verdwaalde skape bring hy weer terug by die kudde. Maar, gemeente, die werklikheid van die herderslewe was baie harder en rowwer. Daar was gereeld diewe en rowers wat daarop uit was om die skape te steel, en die kudde kon onverhoeds oorval word deur ‘n wolf of ‘n leeu wat die skape uitmekaar sou jaag. Verder was skape onder die mense van daardie tyd bekend as hulpelose, eiesinnige en dikwels dom diere wat moeilik is om te versorg. Dus, deur hierdie beeld te gebruik, erken die digter ook iets oor die volk – eiesinnig en dwaas. En tóg vra hy vir God om Homself as Herder vir sy skape te bewys… Hoe kon hy dit doen?

Wel, gemeente, hy doen dit op grond van God se belofte! Luister mooi wat staan daar in vers 2:  “o Herder van Israel, hoor tog; U wat Josef soos skape lei…” Ons hoor hierin ‘n verwysing na Jakob se profesie oor sy seun, Josef, in Genesis 49, waar hy sê dat die Here vir Josef ‘n Herder sal wees. En hierdie profesie van Jákob is tegelykertyd ook Gód se belófte oor Josef! Hy het belowe om ‘n Herder vir Josef te wees. Maar, sê die digter as’t ware, wat het daarvan geword? Waar is die realisering van hierdie belofte noudat Josef dit so nodig het? Here, waarom is U nie wat U belowe het om te wees nie?!

Die tweede beeld wat die digter van Psalm 80 gebruik, is die beeld van ‘n landbouer met sy wingerd (verse 9-17) – en hierdie beeld gebruik hy spesifiek om daarmee die volk te beskryf. Israel word hier voorgestel as ‘n wingerdstok, ‘n algemene beeld in die bybel en weereens een wat ons herinner aan Jakob se profesie oor Josef. Jakob profeteer naamlik dat Josef ‘n jong vrugteboom sal wees, ‘n jong vrugteboom naby ‘n fontein waarvan die takke oor die muur sal klim. En inderdaad het God aanvanklik hierdie profesie in Israel se volksbestaan verwesenlik. Die Here het, so lees ons in Psalm 80:9 en verder, hierdie wingerdstok immers uit Egipte uitgetrek en hom in die beloofde land geplant, nadat hy eers die nasies uitgedryf het. En dit het gelyk asof dit goed gaan met hierdie wingerd – hy het die land gevul, die berge was oordek met sy skaduwee, en hy het sy ranke uitgebrei tot by die see en sy lote na die Rivier toe. Maar toe het die dinge begin skeefloop – God het die muur rondom hierdie wingerd afgebreek sodat almal wat daar verbygeloop het hom kaal gepluk het. En nou het die wildevark van Assirië ook nog ‘n spoor van verwoesting in hierdie wingerd kom saai.

En weer beroep die digter hom met hierdie beeld op God se beloftes! Hy roep God op om te kom ag gee op sy wingerdstok, om ‘n beskerming te wees vir wat sy regterhand geplant het. Hy pleit by die landbouer om tog ag te gee op sy kroonwingerd. Ja, hy roep God op om te doen wat Hy belowe het.

Gemeente, ons moet goed raaksien wat die digter hier doen. Wat die digter met hierdie twee beelde doen, is om egte verbondsverkeer op gang te kry; die digter beoefen gemeenskap met God. Hy gaan nie in gesprek met die wildevark, Assirië, nie; daarmee het hy verder niks te make nie. Nee, die digter praat namens die volk met Gód – sy verbondsgenoot, sy onmisbare wederhelf. En dít is dan ook die grond onder die digter se roep – God se beloftes aan Josef in Genesis 49 is die rede waarom die digter nou, in sy eie tyd, tot God kan roep! Hy roep tot die God van die verbond! En opmerklik is dan dat hy by die derde herhaling van die refrein in vers 20 ook nog spesifiek die Verbondsnaam van God gebruik: HERE, Jahwe, U wat is wat U is, U wat altyd dieselfde is en bly vir u volk. Here, U het belowe om ‘n Herder vir Josef te wees, U het belowe om u wingerdstok te versorg – nóú het ons nodig dat U hierdie belofte waarmaak, doen nou wat U belowe het!

Broers en susters, dít is die taal van die kerk in tye van moeite en terugslag. Ons staan – elkeen afsonderlik, maar ook almal saam – in ‘n verhouding met die Here. In hierdie verhouding vra die Here uiteraard dinge van ons, en ons moet daaraan gehoorsaam wees. Maar die Here belowe ook dinge – ons het dit vanoggend pragtig hier in die doop gesien, God wat klinkklare beloftes maak! En aan daardie beloftes mag ons Hom hou, op daardie beloftes mag ons ons beroep – elkeen afsonderlik, ook Caylee. Maar ook almal saam mag ons ons op daardie beloftes beroep. Dink net daaraan: wanneer pa en ma belowe het dat hulle vir jou ‘n roomys sal koop wanneer jy klaar jou eksamen geskryf het, dan kan jy hulle mos daaraan herinner as jy klaar is, nie waar nie? Jy kan mos sê: “Pa en ma, dit is mos wat julle belowe het…” Wel, net so mag jy God herinner aan wat Hy belowe het, en mag jy vrymoedig van Hom eis, soos wat ons sing in Psalm 81. Nee, dan kom ons nooit in voorbarigheid nie, dan kom ons nie na die Here op grond van óns prestasies, of op grond van óns werke nie. Maar dan kom ons wel met vrymoedigheid: “Here, dit is wat U belowe het, nou moet U dit asseblief ook waarmaak!” En dít, broers en susters, is die behoud van ons kerke in die huidige omstandighede. Ons bely dat ons skuldig staan, ons bely dat ons dikwels van die Here afwyk, ons bely dat ons verdien om deur Hom verwerp te word. Maar dan loop ons nie weg nie. Nee, dan gaan ons nogtans na die Here en dan herinner ons Hom daaraan dat Hy belowe het om sy kerk nie alleen te laat nie, dat Hy belowe het om sy skape bymekaar te maak, dat Hy belowe het om sy wingerd te versorg sodat dit veel vrug sal dra. En ons is mos sy wingerd?

Gemeente, laat ons daarom in ons gebede na Hom toe gaan, roep Hom aan, en roep weer en weer! Dit is nie verniet dat die refrein driemaal herhaal word nie – ons moet aanhou, ons moet bly bid. Vra vir God of Hy rus sal bring in die moeites in ons kerkverband, vra of Hy uitkoms sal gee uit situasies waarin ons nie uitkoms sien nie, vra of Hy die nodige middele sal gee sodat die verkondiging van die Woord kan voortgaan. Pleit op sy belofte in Psalm 50 – terloops, nog ‘n psalm van Asaf – waar Hy sê: roep My aan in die dag van benoudheid, en Ek sal jou uithelp!

Ten slotte: God se antwoord op die roep.

3. Gemeente, die antwoord op die roep is nie eksplisiet in hierdie psalm aanwesig nie. As jy deur hierdie psalm lees, gaan jy nie ‘n duidelike reaksie van God op die pleidooi van die digter vind nie. Om daarom die antwoord te hoor, moet ons verder kyk en enkele lyne na die Nuwe Testament trek. Kom ons rig daarom weer ons aandag op die twee beelde wat die digter gebruik: dié van die Herder, en dié van die wingerdstok. In Psalm 80 word die beeld van die Herder spesifiek gebruik om God mee te beskryf, en die beeld van die wingerdstok word spesifiek gebruik om die volk mee te beskryf.

Maar wanneer ons mooi na hierdie twee afsonderlike beelde luister, dan hoor ons daarin wat die Here Jesus in die evangelie volgens Johannes van Homself gesê het: “Ek is die goeie Herder” (Joh. 10:11), en verder: “Ek is die ware wynstok” (Joh. 15:1). Ja, in Jesus Christus word hierdie twee beelde in een Persoon verenig: Jesus Christus is sowel die Herder (God) as die wingerstok (die ware Israel). Hy is die man van Psalm 80:18, die menseseun wat God vir Homself grootgemaak het. Hóm het God opgewek en grootgemaak om vir sy volk verlossing te bewerk, God en mens in een persoon!

Jesus Christus is dus die Goeie Herder waardeur ons ons moet laat lei, gemeente. In alle moeites in die kerkverband moet ons daarom hierdie vraag stel: klink die stem van die Goeie Herder nog hier in ons midde? Laat ons Hom nog aan die Woord – nie net hier in die erediens nie, maar ook in die kerkraadsvergaderings, tydens die bybelstudies, by die jeugvereniging, in ons kommissie-vergaderings, in ons onderlinge gesprekke en omgang. Laat ons nog die Herder toe om ons, wat soms maar halstarrige skape is, te lei?

En behalwe dit, broers en susters, wanneer Hy wel spreek, luister ons dan ook? Laat onsself deur die geloof in Hom as die ware wynstok inent sodat ons op dié manier van sy lewensappe kan  lewe? Dit is natuurlik alles goed en wel as die Herder spreek, maar as daar nie geluister word nie dan bly die vrug afwesig. Dus, luister ons werklik? Glo ons wat vir ons gesê word? Glo jy werklik die woord wat in die prediking na jou toe kom? Luister jy werklik wanneer die ouderling met die Skrif vermaan en aanspoor? Of draai ons om en loop weg? Die stem van die goeie Herder moet ons daartoe bring om in die ware wynstok ingeënt te word.

Broers en susters, om dus God en mens, God en sy kerk in die harmonie van die verbond te laat saamleef, moet ons begin en eindig met Jesus Christus. Hy moet met sy woord ons lei, en ons moet deur die geloof in Hom ingelyf word. Deur sy lyding en sterwe, wat ons komende Vrydag gaan gedenk, is Hy voorwaar die Seun van God se regterhand. En dáár regeer Hy nou ter wille van sy kerk; deur Hom en deur sy werk skyn God se aangesig wees oor ons. En daarom moet ons by Hom wees. Laat ons ootmoedig kerk wees in die Naam en deur die bloed van Jesus Christus. Dáár lê ons verlossing, en dáár lê die voorspoed van die kerkverband.

Gemeente, die digter van Psalm 80 was een van ‘n baie klein groepie wat die Here nog gesoek. Die grootste deel van die tienstammeryk het God verlaat. En die gevolg was dat enkele jare later die Assiriërs onder God se toelating die volk in ballingskap weggevoer het. Die digter se bede om bekering en herstel het op dowe ore geval, en daarom het God se oordeel die volk getref. Die sonde van die tienstamme-kerk het tot volheid gekom, en God het gestraf. Laat ons nie hierdie weg gaan nie, gemeente. Kom ons leer uit die les van Psalm 80. Kom ons vlug na Jesus Christus, sodat ons, volgens vers 19, nie van God afwyk nie. Kom ons bid dat God ons in die lewe sal hou, sodat ons sy Naam kan aanroep: “o HERE, God van die leërskare, herstel ons; laat u aangesig skyn, sodat ons verlos kan word.”

Amen

Liturgie (oggend)
Groet en afkondigings
Votum Ps. 121:1
Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 47:1 en 2
Wetslesing + genadeverkondiging
Sing Ps. 50:3, 7 en 11
Gebed
Doopsformulier en –bediening
Dankgebed en sing Ps. 103:7 en 9
Lees:  Psalm 80
          Genesis 49:22-26
Sing Ps. 28:2, 6-8
Teks: Psalm 80:20
Preek
Amenlied Ps. 80:5, 8 en 10
Gebed
Kollekte
Slotsang Ps. 23 (wysie soos in die psalmboek)
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)