Ons God is die enige ware God en daarom wil ons Hom heelhartig dien!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-06-07
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Verwysing: 
HK 34b-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

“Wat is afgodery? Dit is om in die plek van die enige ware God …  of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.” In die plek van God iets anders hê? God uit jou lewe verwyder en Hom met iets anders vervang? Gemeente, vir die meeste van ons is dit iets ondenkbaars, ons kan onsself dit nie voorstel nie. Daarvoor is God darem ‘n te belangrike deel van ons lewe. Maar, broers en susters, juis hier lê vir ons dikwels dan ook die grootste gevaar – God is ‘n te belangrike deel van ons lewe. Hy is ‘n aspek van ons lewe – en ‘n baie belangrike een daarby – maar nietemin ‘n aspek saam met vele ander aspekte: my werk, my vakansie, my verhouding, my geld…  Dus, in die plek van die enige ware God – nee, dit sal nie sommer gou by ons gebeur nie. Maar naas Hom…? Ja, broers en susters, die wesenlike gevaar vir ons, gereformeerde gelowiges, is dikwels: die Here én die ander gode. Hierdie woordjie ‘en’ is baie gevaarlik: die Here én…

Daarteenoor vra die eerste gebod juis van ons dat ons die Here moet liefhê met ons hele hart, met ons hele siel, en met al ons kragte – kyk maar na die woorde in antwoord 94. Ons diens aan die Here moet eksklusief wees! En dit is natuurlik baie moeilik om dit te doen wanneer ons liefde oor meer as een verdeel is, wanneer daar by ons ook nog ander gode voor God se aangesig is. En tog is dit wat die Here van ons vra: niks minder as ons hele hart is vir Hom goed genoeg nie! Ons liefdestoewyding aan die Here moet volmaak en onberispelik wees!
Maar, gemeente, wie van ons kan sê dat hy onberispelik, of selfs volmaak, God dien? Wel, in die Skrif word dit van meer as een persoon gesê. Van Noag, byvoorbeeld, word gesê dat hy ‘n regverdige en opregte man was wat met God gewandel het (Gen. 6:9). Die Hebreeuse woord wat gebruik word om aan te dui dat Noag opreg was, dui letterlik op ‘heelheid’ – Noag se hart was heeltemal, volledig op God gerig; van halfhartigheid in die diens aan God was daar by hom geen sprake nie. ‘n Ander voorbeeld: Jesus sê in Mattheus 19:21 vir die ryk jongman dat as hy volmaak wil wees, dan moet hy al sy besittings gaan verkoop. Hierdie jongman het alreeds baie goeie dinge gedoen; hy was gehoorsaam aan die gebooie wat doodslag, egbreuk, diefstal, valse getuienis en ongehoorsaamheid aan die ouers verbied het. Maar ongelukkig was sy hart nie onverdeeld by God nie… Toe Jesus hom opdra om al sy besittings te gaan verkoop om volmaak te kan wees, het geblyk dat hy halfhartig was, hy kon nie los kom van sy besittings nie. Dit was by hierdie jongman God én Mammon. Daar was by hom dus geen heelheid, geen volmaaktheid nie. Nog ‘n laaste voorbeeld: van Dawid word in 1 Konings 9:4 gesê dat hy met ‘n volkome hart en in opregtheid voor God gewandel het. Natuurlik het hierdie koning baie sondes gedoen, gruwelike sondes selfs, maar hy het elke keer tog weer van harte vir die Here gekies. Daar was ‘n duidelike lyn, ‘n duidelike rigting, in Dawid se lewe – sy hart was, ten spyte van sy sondes, onverdeeld aan die Here toegewy.

Dus, gemeente, om God volmaak te dien, beteken nie dat jy sonder sondes moet wees nie, maar dit beteken wel dat jou hart heel moet wees, dat jy jou lewe heelhartig aan die Here behoort toe te wy. En dit is dan ook die groot belang van die eerste gebod – dit bepaal die koers van ons lewens! 100% vir die Here! Die Here soek by ons geen dubbelhartigheid nie, geen verdeelde harte nie – die Here én… Nee, Hy soek ons hele hart, Hy soek by ons heel harte!

Tema: Ons God is die enige ware God en daarom wil ons Hom heelhartig dien! Ons doen dit:
1. In voorspoed én teëspoed
2. Nou én vir die toekoms

1. Gemeente, daar was nog ‘n ander man in die bybel wat ook heel van hart was – Job! Ons lees naamlik in Job 1:1 dat hierdie man vroom en opreg en godvresend was en een wat afgewyk het van die kwaad. Weer daardie woordjie ‘opreg’ – Job het God dus heelhartig gedien, en dit het ook uit sy hele lewenswandel geblyk. As voorbeeld hiervan vertel die skrywer van hierdie boek vir ons hoe Job, elke keer nadat sy tien kinders ‘n partytjie by een van hulle huise gehou het, hulle geheilig het en brandoffers vir elkeen van hulle gebring het. Want, het Job gedink, miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën. Nou, gemeente, hierdie laaste woordjie (‘geseën’) word in hierdie konteks nie positief bedoel nie, maar eerder negatief, naamlik in dié sin dat Job se kinders miskien afskeid van God geneem het, God vaarwel toegeroep het, hulle rug op God gedraai het. En ter wille hiervan bring Job vir elkeen van sy kinders ‘n brandoffer. En, só lees ons aan die einde van vers 5, so het Job altyd gedoen. Dus, broers en susters, hier het ons ‘n man wat sy God heelhartig gedien het.

Maar op ‘n dag het daar iets gebeur wat hierdie heelhartigheid onder geweldige druk geplaas het. Onder aanhitsing van die satan het die Here Job en sy besittings in die satan se hand oorgegee. En satan se werk was verwoestend – al seweduisend stuks kleinvee, al drieduisend kamele, al vyfhonderd paar beeste, al vyfhonderd eselinne, al sy dienaars – met die uitsondering van die paar wat vrygekom het – en ergste van alles, al tien sy kinders… dit alles is in een dag van Job weggeneem. En kort daarna word ook nog sy gesondheid aangetas (lees maar hoofstuk 2). Die rykste man van die Ooste word kaal gestroop; daar is niks meer oor nie. Nadat Job hierdie nuus aangehoor het, het hy opgestaan, sy klere geskeur en sy hoof geskeer. Job was in diepe rou. En wie van ons sou nie gewees het nie…
En die satan? Die satan het gespanne gesit en toekyk. Volgens sy voorspelling teenoor die Here in vers 11 was dít nou die oomblik waarop Job die Here vaarwel sou moes toeroep. Hier sou satan die bevestiging kry dat Job eintlik maar net die Here gedien het omdat die Here hom so ryk gemaak het. Maar wat gebeur, gemeente? In volslae rou, met ‘n geskeurde mantel en ‘n kaalgeskeerde hoof, het Job op die grond neergekniel, sy bolyf vooroor gebuig totdat sy kop die grond geraak het. Job het die houding van aanbidding ingeneem! Hy het homself nie onbeheers op die grond laat val nie, maar hy het homself gereed gemaak om aan God die eer te bewys: “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem…” Job vaar dus nie uit teen die Sabeërs nie, hy beskuldig nie eenmaal die Chaldeërs nie, hy sê niks van die natuurgeweld van die rukwind nie, selfs die satan word nie eens genoem nie. Job gaan direk na sy God toe. Op honderde vrae het hy geen antwoord gehad nie, maar hierdie een ding het hy geweet: die Here het geneem.

Wel, gemeente, hiermee kon die satan op sigself heeltemal tevrede gewees het. Sien jy nou, kon die satan gedink het, Job gee vir God die skuld van al sy ellende. Dan sal hy waarskynlik nou ook sê dat hy niks meer met die Here te make wil hê nie. Maar in plaas van verwerping, hoor ons lof uit Job se mond; in plaas van verwyt, klink die aanbidding in Job se woorde: “die Naam van die HERE sy geloofd!” Uit God se hand ontvang Job dus sowel die goeie as die slegte (Job 2:10) – die reën en die droogte, die vrugbare en die onvrugbare jare, die voedsel en die drank, die gesondheid en die siekte, die rykdom en die armoede, soos wat ons bely in Sondag 10 van die Kategismus. Hy erken dat dit alles uit God se hand kom, en dan sê hy steeds: hierdie God is my God. In dit alles bly Job heelhartig toegewyd aan die Here! Die wisselende omstandighede het by Job nie dubbelhartigheid tot gevolg nie; sy teëspoed bring nie mee dat Job nou skielik ‘n ander god gaan soek, of ekstra versekering uitneem om te kompenseer vir die gebreke van sy huidige God nie. Nee, Job bly getrou aan die een God wat hy liefhet en dien; Job is gehoorsaam aan die eerste gebod – in voorspoed, maar ook in teëspoed.

Maar, gemeente, nou moet ons oppas om die lyn van Job af direk deur te trek na ons toe: neem Job as voorbeeld en wees soos hy. Nee, broers en susters, so eenvoudig is dit nie. Job staan nie sentraal in hierdie boek nie. Want hierdie boek wys vir ons ook nog ‘n ander kant van Job… Vanaf hoofstuk 3 sien ons naamlik hoe Job se drie vriende met hom in gesprek gaan; hulle probeer hom troos, maar hulle is – in Job se eie woorde – “treurige vertroosters” (Job 16:2). En inderdaad, die Here bestraf hulle ook oor hulle lamlendige pogings om Job te probeer troos; Job moet selfs aan die einde namens hulle versoening doen vir hulle verkeerde woorde (42:8). Maar let op, broers en susters, self kom Job ook nie skotvry van hierdie pastorale sessie af nie; hy is nie onskuldig in hierdie gesprek nie. Want teenoor sy vriende se beskuldigings vind ons by Job dat hy voortdurend besig is om homself te regverdig en sy onskuld te handhaaf; die hele tyd wys hy dat die Here geen rede gehad het om hom so swaar te tref nie. Job het in sy selfregverdiging selfs ‘n klompie vrae wat hy aan die Here sou wou stel, en hy is oortuig dat hy goed van hierdie ondervraging sal afkom…
Nou, gemeente, presies hieroor gaan die Here vanaf hoofstuk 38 met Job in gesprek: “Ja, Job – sê die Here – jy’s reg, hierdie kamtige vriende van jou is maar treurige vertroosters; maar wie dink jy is jy, Job? Dink jy dat jy in die posisie is om My te bevraagteken?” En dan begin die Here vir Job te vertel wie Hyself is, en Hy doen dit vanuit sy verstommende werk in die skepping: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? (38:4), het jy, solank as jy lewe, die môre ontbied? (38:12), kan jy prooi jag vir die leeuin? (39:1), sal die buffel gewillig wees om jou te dien? (39:12), sweef die valk opwaarts deur jou verstand? (39:29)…” (dit is maar enkele voorbeelde). In al sy grootheid en almag teken die Here Homself voor Job se oë. En dan kan Job nie anders nie as om te antwoord: “Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond.” En wanneer dit vir die Here nog nie genoeg is nie, en Hy in hoofstukke 40 en 41 nogmaals onder Job se aandag bring wie Hy, die Here, is, dan moet Job ten slotte erken: “Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie… Daarom herroep ek en het berou in stof en as” (42:1 en 6).

Nee, broers en susters, Job is nie soseer ons groot voorbeeld van toegewydheid nie, want Job se heelhartige liefde vir die Here, wat hy aanvanklik geopenbaar het, lê nie in homself nie. Hierdie verhaal gaan nie oor Job se geloofskrag nie, hierdie verhaal gaan oor God! Hoe groot is God in die skepping en die onderhouding van die wêreld! Hoe groot is God in die feit dat Hy sy kneg, te midde van die aanslae van die satan, laat volhard in die geloof! Hoe groot is God in die geseënde einde van Job en sy gesin! Maar die ander kant is ook waar: hoe groot is God in alle teëspoed en hartseer! Hoe groot is God in dood en verwoesting! Hoe groot is God in alle omstandighede: “Ek is die HERE, en daar is geen ander nie. Buiten My is daar geen God nie.”
En, gemeente, dít is nou die belydenis wat die eerste gebod in alle omstandighede by ons wil ontlok; dít is die algehele oorgawe wat die Here van ons vra in voorspoed en teëspoed. Want God regeer in al hierdie omstandighede! Dit is nie die satan wat regeer nie, dit is nie die lot wat heers nie; ons sekuriteitstelsels en lewenspolisse kan niks vir ons doen nie. Nee, God regeer, en Hy doen dit volledig. En daarom, omdat God vir 100% regeer, daarom word ons deur die Kategismus in antwoord 94 opgeroep om onsself met alle nederigheid en geduld aan Hom te onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge te verwag.

En of ons daarmee ook alles verstaan wat die Here oor ons lewens bring? Beslis nie! Ek kan nie altyd verstaan hoekom ek hierdie verlies moet verduur nie, hoekom hierdie siekte oor my lewe gekom het nie, hoekom ek soveel pyn en hartseer moet hanteer nie. Ons vra dikwels hoekom, maar selde kry ons die antwoorde op hierdie vrae. Job het ook nie die antwoord gekry op sy vrae nie; die Here het nie vir hom gesê: dit is hoekom Ek jou so getref het nie. Nee, die Here het eenvoudig na Homself gewys: dit is wie Ek is! Ek is die enige ware God! En as sodanig wil Ek deur jou gedien word, Job, of dit nou met jou goed gaan of nie!
Gemeente, uiteraard is Job se belydenis in hoofstuk 1 verbasend – ‘n man wat alles verloor het en wat steeds die Naam van die Here kan loof. Maar ons sien ook ‘n ander Job, ‘n opstandige Job, een wat die Here ter verantwoording roep. Nee, Job is nie ons groot voorbeeld nie. Dit gaan hier oor God – God in sy verstommende leiding van elke gebeurtenis; God in sy onbegryplike wysheid ter wille van ons; God wat nie noodwendig verstaan kan word nie, maar wat wel gedien wil word. Kom ons leer hierdie enige ware God reg ken, kom ons bou aan ons verhouding met Hom, kom ons bid dat Hy Homself al hoe meer aan ons bekend sal maak en dat ons vertroue in Hom rotsvas sal wees, sodat ons in voorspoed kan sê: die Here het gegee! En sodat ons in teëspoed kan sê: die Here het geneem! En sodat ons onder alle omstandighede kan sê: Die Naam van die Here sy geloofd. Mag die Here heel ons harte hê, wat die omstandighede ook al mag wees.
Vervolgens: Ons God is die ware God en daarom wil ons Hom heelhartig dien, nou en vir die toekoms.

2. Gemeente, die teëspoede en moeilike omstandighede waaroor ons hierbo gepraat het, was nog altyd iets wat die mens bang en onseker gemaak het. Want wat gaan die toekoms vir my en my geliefdes bring? Wat gaan môre met my gebeur? Ons het dit mos self ook, of hoe? En om tog vooruit iets daarvan te kan weet en myself daarop te kan voorberei, het die mens van die vroegste tye af na middele gesoek om sy toekoms in sy eie hand te hou. As voorbeelde van hierdie middele noem die Kategismus in antwoord 94: towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels. Dit is alles middele waarop die mens in die eeue wat verby is, gebou het. Nou, met die eerste oogopslag lyk dit na voorbeelde wat vir ons nie meer werklik relevant is nie – ons besoek mos nie waarsêers nie, en bygeloof is eintlik iets van die primitiewe tradisies wat ‘n mens moontlik onder die swart volke nog vind. Miskien is hierdie voorbeelde, wat tiperend is van die tyd toe die Kategismus opgestel is, relevant vir die sendingsgemeentes; miskien moet dit dáár gepreek word. Maar, broers en susters, nie te vinnig nie… Dit is naamlik opvallend dat die Skrif self in Deuteronomium 18 hierdie einste onderwerpe noem.
In Deuteronomium 18:9-14 gaan dit oor waarsêery, goëlery, die verklaring van voortekens en towery; dit gaan verder oor mense wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg. Dit is die soort praktyke wat onder die heidene rondom Israel geheers het en wat deur die Here as gruwels beskryf word. Hy verbied sy volk om hulle enigsins hiermee besig te hou. Maar hoekom? Wel, gemeente, ons sien vervolgens vanaf vers 15 hoe hierdie gruwels teenoor die ware profesie van die Here gestel word. Vanaf vers 15 gaan dit immers oor die ware Profeet, wat alles sal sê wat die Here Hom beveel (vers 18). Só word daar ‘n kontras geskep tussen enersyds die valse profesie, wat homself manifesteer in die gruwels van verse 9-14, en andersyds die ware profesie. En, gemeente, presies hierin lê dan ook die sonde van die gruwels wat sopas genoem is; hulle wat hulle tot hierdie gruwels wend, vertrou nie meer op die ware profetiese woorde van die Here, en soek hulle sekerheid oor die toekoms nie meer by Hom nie! Die sekerheid wat daar by die Here is, wanneer daar in geloof na sy woorde geluister word, word nou gesoek by die waarsêer of by die gestorwe gees. Dít is die groot probleem met hierdie gruwels: ons vertrou vir nou en vir die toekoms nie meer slegs op die Here en op sy woord nie!

En, gemeente, dit is vandag nog presies so. Ons soek vandag miskien nie meer die waarsêer en die geeste van dooies op nie – hoewel, om so af en toe die sterre in die koerant of die Huisgenoot te lees nie slegs onskuldige nuuskierigheid is nie – maar daar is vandag nog talle ander maniere waarop ons wys dat ons vertroue nie ten volle op die Here en sy woord is nie. Ook ons soek ons lewensekerheid en die sekerheid oor ons toekoms op ander plekke. Ook ons het naas die Here en sy Woord nog ander ‘afgode’, middele waardeur ons aan ons lewens sekerheid probeer gee – ons beleggings wat voorsiening moet maak vir die dag wanneer ons oud is, ons gesinne waarvoor ons ten alle koste ‘n toekoms probeer verseker, ons kwalifikasies wat ons moet help om ‘n werk en ‘n goeie pos vir die toekoms te verseker, en vul self maar in wat u afgod is…
En hiervan beveel die Here nou in die eerste gebod: vlug daarvan weg! Nie omdat God bang is vir die afgode nie, want hulle is niks nie. Hy is immers alleen God. Nee, Hy sê dit omdat Hy bekommerd is oor óns. Of soos die Kategismus dit verwoord: “ter wille van my sieleheil”… Dit gaan dus oor my saligheid, dáároor bekommer God Hom. Want Hy is bang dat ons miskien die liefde van ons hart, wat ons aan Hóm verskuldig is, sou weggee aan iets wat géén god is nie; Hy is bang dat ons verdeelde harte sou kry, en Hy is bang dat ons miskien te laat agterkom dat ons gevolglik op ydelheid gebou het. God soek ons hele harte, gemeente, vir nou, maar ook vir die toekoms.

En dit is vir ons so moeilik – ons is naamlik nie gewoond daaraan om onsself net oor te gee nie. Die wêreld verkondig vir ons die boodskap dat ons beheer moet neem van ons lewens en van ons toekoms. Advertensies op televisie en radio pomp dit in ons in: ons moet beheer neem van ons finansiële sake, ons moet beheer neem van ons emosionele en fisiese welstand, ons moet beheer neem van ons sê in die regering van die land. In alles word vir ons vertel dat ons beheer kan uitoefen oor ons toekoms. En om dan te moet hoor: “Ek is die Here jou God, vertrou op My alleen!” – dit is vir ons bitter moeilik.
En tog is dit heilsaam! Dit is heilsaam vir ons om slegs na God se woord oor ons toekoms te luister. Die is heilsaam om na sy Profeet, ons Here Jesus Christus, te luister. Hy weet wat aangaan! Hy is immers die vervulling van al die profesieë van die Ou Testament; in Hom, só sê Paulus in 2 Korinthiërs 1:20, is al die beloftes wat God deur die eeue gemaak het, ja en amen! In Hom het die verlede dus sy vervulling, en in Hom kan ons weet dat God ook die toekoms beheer. Hy is immers die Lam van Openbaring 5 wat die mag het om die seëls van die toekoms oop te breek; Hy regeer. En daarom is dit werklik die moeite werd om in alles op Hom te bou. En heeltemal reg, dan weet ek nog nie wat môre gaan gebeur nie; ek ken nie die details van my lewe oor vyf of oor tien jaar nie; nee, dit openbaar Christus nie vir my nie. Terloops, die ekonomiese kundige en die politieke ontleder en die marknavorser weet dit net so min. Maar intussen is die toekoms, ook my persoonlike toekoms, vir die Here Jesus wel volkome helder. Niks in die toekoms is vir Hom verborge nie. Hy is die Alfa en die Omega, die begin en die einde; Hy weet wat gister gebeur het, maar Hy weet ook wat môre gaan gebeur. Geen sekonde is vir Hom onbekend nie. En daarom is dit, ter wille van my sieleheil, heilsaam om op Hom te vertrou – nou en vir die toekoms.

Gemeente, laat ons daarom ons lewens ondersoek om te sien wat die afgode in ons lewens is, waar ons naas God iets ander het waarop ons ons vertroue stel. En as u eerlik in die lig van God se Woord kyk, sal u waarskynlik nie ver hoef te soek nie. En waarskynlik sal ons as hele gemeente ook nie so ver hoef te soek om ‘ons’ afgod te vind nie. En as ons hierdie afgode gevind het, hulle geïdentifiseer het, kom ons maak dan konkrete planne om van hulle weg te vlug, kom ons stel konkrete maatreëls in om ons keuse vir die Here nie in gevaar te stel nie. Laat Hy jou hele hart hê – nie ‘n deel nie, ook al is daardie deel hoe groot. Nee, jou hele hart en heel jou hart – in voorspoed… en teëspoed, nou… en vir die toekoms. Want dan is daar vir jou toekoms, ‘n ewige toekoms van voorspoed en geluk.

Amen

Liturgie (aand)
Groet en afkondigings
Votum en eëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.
Sing Ps. 145:1-4
Gebed
Lees:  Job 1, 39:34-38, 42:1-6
 Deuteronomium 18:9-22
Sing Ps. 131
Teks: HK, Sondag 34, v/a 94 + 95
Preek
Amenlied Skr. 8:1, 2 en 5
Gebed
Geloofsbelydenis (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Ps. 89:3 en 6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

 

Liturgie: 

(kyk in preek)