Die verdeling van die wet plaas God en mens in die regte verhouding

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-05-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 34
Verwysing: 
HK 34a-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

 

Hoe word hierdie gebooie ingedeel? – dit is die vraag wat vandag voor ons lê. Maar, sal u miskien sê, is dit werklik ‘n hele preek werd? Is vraag en antwoord 93 nie een van daardie dele van die Kategismus wat ons met een of twee sinnetjies kan afhandel nie, sodat ons kan oorgaan na die volgende vraag: wat gebied God in die eerste gebod? Is dít nie ‘n baie belangriker vraag nie? Tog, broers en susters, as ons mooi kyk, sal ons sien dat daar in vraag en antwoord 93 verborge goud lê, verborge goud wat net op koestering wag (soos wat ons sing in Psalm 78:1). In hierdie vraag en antwoord lê daar wyshede wat, veral vir ons tyd, van groot waarde is. Antwoord 93 is naamlik nie slegs ‘n formele verdeling van die tien gebooie nie. Nee, antwoord 93 gee vir ons in ‘n neutedop die beginsels vir die verhouding tussen God en mens, asook vir die onderskeid tussen God en mens. En dit bied daarom genoeg stof om vandag in besonder by hierdie vraag en antwoord stil te staan.Tema: Die verdeling van die wet plaas God en mens in die regte verhouding.

 

1.      Twee tafels, een verbond

2.      God se regte eerste

3.      Menseregte tweede 

 

1. Hoe word hierdie gebooie ingedeel? – dit is die vraag. In twee tafels… – so begin die antwoord. Hoe moet ons hierdie twee tafels presies verstaan, broers en susters? Beteken dit maar net simbolies dat die wet in twee dele verdeel is, een deel wat ons vertel hoe ons teenoor God moet optree, en ‘n tweede wat ons vertel hoe ons ons naaste moet hanteer? Nee, so eenvoudig kan dit nie wees nie. Ons het immers in Deuteronomium 9 en 10 gelees dat daar letterlik twee tafels was, twee plat kliptafels wat Moses uitgekap het. O, maar dan moet ons dit seker so verstaan dat God die eerste vier gebooie, oor hoe ons Hom behoort te dien, op die een kliptafel geskryf het, terwyl Hy die ander ses gebooie, oor wat ons aan ons naaste verskuldig is, op die ander tafel geskryf het. Maar, gemeente, ook hierdie verklaring is nie heeltemal bevredigend nie. Daar is nog ‘n ander manier waarop ons na hierdie twee kliptafels kan kyk…  

Ons weet naamlik vanuit buite-bybelse bronne dat wanneer twee partye in daardie tyd met mekaar ‘n ooreenkoms aangegaan het, ‘n verbond gesluit het, dan is die bepalings van daardie verbond – die regte en die verpligtinge – op skrif gestel (dikwels op kliptafels) en het beide partye ‘n kopie hiervan ontvang. En volgens die gewoonte is hierdie kopieë dan in die godsdienstige heiligdomme van die onderskeie partye geplaas, waarskynlik sodat die gode daarop kon toesien dat beide partye trou sou bly aan die ooreenkoms.

Nou, gemeente, is dit nie presies wat destyds by die Sinai gebeur het nie? Natuurlik, ons het by die Sinai nie te make met twee menslike partye wat ‘n menslike ooreenkoms aangaan nie. Maar nogtans bly die grondpatroon dieselfde: God sluit met sy volk ‘n verbond. ‘n Verbond waarin daar aan beide kante regte en verpligtinge is, ‘n verbond waarin God sekere dinge gee maar ook sekere dinge van sy volk eis. En wat doen God dan nadat Hy hierdie verbond gesluit het? Hy sélf skryf met sy vinger die volle teks van die verbondsooreenkoms in tweevoud neer – twee identiese afskrifte – een vir Homself, een vir die volk – en dit word daarom ook in Deuteronomium 9 die “tafels van die verbond” genoem. En, volgens Deuteronomium 10:5, moes hierdie beide afskrifte vervolgens in die ark gesit word – u onthou, daardie houtkis wat ook die ark van die verbond genoem is, en wat sy plek in die allerheiligste ontvang het? Dáár in die ark, wat die grondslag van sy troon hier op aarde was, sou God daarop toesien dat sy verbond gehandhaaf word.  

Dus, gemeente, wanneer die opstellers van die Kategismus in antwoord 93 begin met “twee tafels”, dan doen hulle dit nie om dowe neute nie, dan doen hulle dit nie maar net om daarmee ‘n formele skeiding in die wet te kan aandui nie: “Só deel ons die wet op…” Nee, inteendeel! Hulle doen dit eerder om daarmee ‘n formele verbintenis te kan aandui. Geen skeiding en afstand tussen God en die volk nie, maar eerder ‘n bymekaarkom – Ek is julle God, julle is my volk, saam staan ons in ‘n verhouding! En met die oog op hierdie verhouding het ons hier twee kliptafels, een kopie vir jou – my volk! – en een kopie vir My – julle God! En hierin reël ons ons verhouding, hierin sê ons wat Ek sal doen en wat julle vrymoedig van My kan eis; hierin sê ons ook watter verpligtinge julle moet nakom, en waaraan Ek julle beslis gaan hou; hierin reël ons ons saamleef met mekaar, juis sodat julle kan lewe! En, onthou my geliefde volk, dit is bindend! Ons kan mekaar daaraan hou, ons kan mekaar daarop aanspreek!

Sien u die geweldige genade van die Here hierin, gemeente? Die Here is nie iemand vir ‘n los-vas-verhouding nie; Hy is nie soos baie mense vandag wat maar eerder saamwoon as wat hulle moet trou nie, want net dalk werk dit nie uit nie… Nee, die Here verbind Homself op ‘n permanente basis aan die volk Israel; Hy is in hierdie verhouding vir die langtermyn. En dít terwyl Hy weet hoe hierdie volk is; die Here weet dat Israel ‘n hardnekkige volk is. En tog is die Here betroubaar in sy toewyding. Hoewel Hy weet dat Hy nooit die verbond van sy kant af sal breek nie, maar dat die keuse van sy huweliksmaat potensieel rampspoedig kan wees, sorg Hy tog vir twee kliptafels om daarmee die verhouding tussen Hom en sy volk vas en bindend te maak.  En hoe reageer die volk hierop? Hoe het hulle binne die verbond gelewe? Ag, broers en susters, die kliptafels was skaars klaar beskrywe, of die volk het alreeds hulle God verlaat en die verbond verbreek. En dit is presies wat Moses dan ook aantoon wanneer hy, toe hy van die berg af gekom en die sonde van die volk gesien het, die twee kliptafels stukkend gegooi het. Dit was geen onbeheerste daad van Moses nie, geen blinde woede nie. Nêrens lees ons dat die Here Moses aangespreek het oor hierdie daad nie. Nee, dít wat Moses met die kliptafels gedoen het, is tekenend van presies wat daar gebeur het – die verbond is verbreek! Die vólk het die verbond verbreek deur hulle sonde met die goue kalf. Een van die partye het nie sy deel van die ooreenkoms nagekom nie, en daarmee is die ooreenkoms verbreek. Terloops, dit is ook hoe dit gegaan het in die ooreenkomste wat in daardie tyd gesluit is – wanneer een party nie sy deel van die ooreenkoms nagekom het nie, is die klippe stukkend gebreek. Ja, en nou? Hoe nou verder? Wel, gemeente, gelukkig is die Here oneindig genadig en kon Moses, nadat hy tot die Here gebid het, nuwe kliptafels gaan maak waarop die Here opnuut die verbondsooreenkoms neergeskryf het. Die Here wil verder met hierdie volk… En telkemal daarna sou die volk ontrou wees, maar altyd weer was die Here daar om met hulle verder te gaan. 

Dus, broers en susters, deur in antwoord 93 met die twee tafels te begin, plaas die opstellers van die Kategismus God se wet onmiddellik in ‘n baie spesifieke konteks, die konteks van die verbondsverhouding wat God van sy kant af met sy volk begin het. Die verhouding waarin God met die wonderlike boodskap kom: “Ek is die Here jou God wat jou uit die slawehuis uitgelei het en wat met jou verder wil gaan, en daarom wil Ek so en so deur jou gedien word…” En in daardie lig moet ons, God se volk van die Nuwe Testament, vandag ook nog met sy wet omgaan, naamlik as amptelike verbondsdokument: Ek is julle God, julle is my volk!

En ja, ons het nie meer kliptafels met letters daarop gegraveer nie; ons het nie meer ‘n ark hiervoor met twee klippe daarin nie. Maar, gemeente, die nuwe verbond wat God met sy kerk aangegaan het, is selfs nog kragtiger: ons het naamlik die Gees van die lewende God wat op die vleestafels van ons harte skrywe met die bloed van Christus, soos wat Paulus in 2 Korinthiërs 3 sê. Onuitwisbaar staan dit daar; onuitwisbaar is God se getuienis op ons harte gegraveer, naamlik dat Hy ons verlos het van die bande van die dood, dat Hy met ons wil lewe, en dat dít en dít sy leefreëls is. En, gemeente, daaraan bly God getrou!

En ons? As ons Sondagoggende na die wet luister, is dit maar net nog ‘n aspek van die liturgie? Is dit maar net een van daardie lastige oorblyfsels van die Ou Testamentiese skaduwees? En as ons gedurende die week met God se wet gekonfronteer word, is dit maar net een van vele ander dinge waaraan ons ook gehoor moet gee? Of hoor ons daarin God se verbondswoord (“Ek is die Here jou God”), voel ons daarin ons eie verbondsbreking (“ek het teen al u gebooie swaar gesondig”), en beleef ons daarin God se verbondsgenade deur die bloed van Jesus Chrisus (“gaan heen, en sondig nie meer nie”)? Elke keer wanneer die wet voorgelees of ons daarmee in aanraking kom of daaraan herinner word, dan besef ons weer die realiteit: God het Hom aan my kom verbind, Hy en ek – ons! – staan in ‘n verhouding. Dit is nie net van omdraai en wegstap nie, dit is nie net van kennisneem en verdergaan nie. Besef dat jy voor jou bondgenoot staan, en Hy wil weet: Het jy My lief bo alles? Het jy jou naaste lief soos jouself?

Vervolgens: God se regte eerste.  2. Dus, gemeente, die twee tafels van die wet dui op identiese kopieë van die een verbond tussen die Here en sy volk. Antwoord 93 van die kategismus is daarom – histories gesien – nie heeltemal korrek wanneer ons daar lees dat die eerste tafel vir ons vertel hoe ons ons teenoor God moet gedra, en die tweede tafel vertel wat ons aan ons naaste verskuldig is nie. Immers, ons het hierbo gesien dat beide tafels ons presies dieselfde vertel; twee kopieë met presies dieselfde inhoud. Maar daarmee sê ons nog nie dat antwoord 93 ook inhoudelik verkeerd is en gevolglik sy krag verloor nie. Inteendeel, Skriftuurlik gesien is hierdie antwoord heeltemal reg, Skriftuurlik gesien is daar ‘n eerste en ‘n tweede in die wet, Skriftuurlik gesien het ons optrede teenoor God inderdaad prioriteit bo ons optrede teenoor ons naaste, het ons liefde vir die Here inderdaad prioriteit bo ons liefde vir mekaar. En daarom is die antwoord van die Kategismus van groot waarde.  

Daar bestaan naamlik onder ons dikwels die neiging om aan die gebooie van die tweede tafel meer aandag te skenk as aan die gebooie van die eerste tafel. Daar is soms meer skuldbesef oor wat ons teen ons naaste verkeerd gedoen het, as teenoor God. Moord, egbreuk en diefstal vind onder ons algemene veroordeling, terwyl ons oor eiewillige godsdiens of die ydellike gebruik van die Naam van die Here soms baie ligtelik oordeel. Ons sit eerder die televisie af wanneer daar sekstonele vertoon word as wanneer God se Naam in elke tweede sin misbruik word; ons voel dikwels sterker oor huweliksontrou by gemeentelede as oor hulle versuiming van die Sondagse eredienste.

Maar, broers en susters, let dan goed op die volgorde in die wet: daarin staan “hoe ons ons teenoor God moet gedra” heel eerste, en daarna eers “wat ons aan ons naaste verskuldig is”. In die wet word dus eers die band met God gelê – eers die godsdiens – en daarna die band met die naaste – die lewenswandel, die etiek. En dit is hoe dit moet wees, want die laaste kan nie bestaan sonder die eerste nie; jy kan nie reg lewe sonder dat jy werklik en van harte die Here dien nie. En Christus self bevestig hierdie prioriteit wanneer Hy ons samevattend leer dat ons God bo alles moet liefhê, en ons naaste soos onsself. Die onderskeid wat Christus hier tref, spreek vanself… En gemeente, sien goed raak dat hierdie onderskeid nie maar net ‘n teoretiese saak is nie. Die prioriteit van die godsdiens bo die etiek, van die diens aan die Here bo die liefde vir die naaste, is nie maar net ‘n filosofiese gedagtespinsel nie. Nee! Ons sien naamlik hoe hierdie prioritisering – of die gebrek daaraan! – homself uitwerk in die lewens van mense; dit neem konkreet vorm aan in die manier waarop mense lewe. Ons sien dit op ‘n positiewe manier byvoorbeeld in 2 Korinthiërs 8:5, waar Paulus sê dat die gelowiges in Korinthe hulleself eers aan die Here gegee het en daarna ook aan hulle mede-gelowiges. Ja, broers en susters, wie homself heelhartig aan die Here gee, kán homself vervolgens ook in liefde aan die naaste gee. Die omgekeerde is egter ook waar, soos wat ons byvoorbeeld sien in die gelykenis van die onregverdige regter in Lukas 18; ons lees daar dat hierdie regter “God nie gevrees en geen mens ontsien het nie”. Dit is geen toevallig kombinasie nie; nee, hierdie twee gaan altyd saam. As God nie meer gevrees en gedien word nie, dan lei dit outomaties daartoe dat geen mens ontsien word nie. Die gemis aan vrede met die Here lei altyd tot onvrede, haat en oorlog tussen mense onderling.En sien ons nie presies dit ook in Genesis 4, wat ons saam gelees het nie? Ons vind in hierdie gedeelte twee broers, Kain en Abel. Beide bring ‘n offer aan die Here. Abel bring van die eersgeborenes van sy kleinvee, en daarby ook nog die beste gedeelte daarvan, naamlik hulle vet. Van Kain, daarenteen, lees ons slegs dat hy van die vrugte van die land geoffer het. Lukraak, nie noodwendig die beste nie. Hierdie verskil in toewyding en liefde vir die Here lei gevolglik daartoe dat die Here Abel se offer aanneem en Kain s’n nie, iets waaroor Kain baie kwaad is. Maar dan vra die Here vir Kain: “Is daar nie verheffing as jy goed doen nie?” Inderdaad. Maar Kain beantwoord nie die vraag nie, en daarmee openbaar hy die tekort in sy eie geloof. En vervolgens werk hierdie tekort aan geloof, hierdie gebrekkige diens aan die Here, homself uit in Kain se lewenswandel: hy slaan vir Abel dood. Ongeloof en gebrek aan liefde het tot volle ontplooiing gekom in Kain se lewe, en sy gelowige broer moet daaronder lei. Dit is wat gebeur, broers en susters, as ons die volgorde nie suiwer hou nie. Ek kom nie tot geloof in God deurdat ek my naaste liefdevol hanteer nie; nee, dit is andersom: ek kan my naaste liefdevol hanteer omdat ek in God glo.  Gemeente, laat ons daarom hierdie verdeling – wat nie maar net ‘n formele verdeling is nie, maar ‘n teologiese orde – laat ons dit handhaaf en in ons lewens na vore bring. Die wet van die Here reël heel eerste hoe ons met die Here moet lewe. Hy is immers die een wat uit genade die vryheid van die slawebande aan ons geskenk het; Hy is die Een wat ons verlos het, sodat ons kan lewe. En van daaruit, en daarmee saam, leer ons ook hoe ons met mekaar behoort om te gaan. Bou daarom voor alles aan u verhouding met die Here, ywer daarvoor, vra jouself gedurig die vraag hoe dit gaan in jou verhouding met die Here, en doen dit aan die hand van die gebooie – dien ek Hom alléén (1ste gebod)? Dien ek Hom op die wyse soos wat Hy dit in sy Woord vir ons voorskryf (2de gebod)? Eer ek Hom in die regte gebruik van sy Naam (3de gebod)? En eerbiedig ek die dag wat Hy ingestel het (4de gebod)? En wanneer daarop fokus en daaraan werk, dan volg van daaruit ook ‘n gesonde lewe met die naaste, en daarop let ons nou nog ten slotte.Ten slotte: menseregte tweede 3. Maar… is daar dan iets soos menseregte? Ons word immers van jongsaf geleer dat menseregte iets van die wêreld is. Die christen het mos geen regte nie? Hy lewe mos van die genade van die Here? Dit is so, gemeente, dat die menseregte soos wat ons hulle vandag ken, volledig teen die Skrif ingaan. En die rede hiervoor is dat hierdie menseregte uitgaan van die soewereiniteit van die mens. Vanuit hierdie perspektief, wat inherente individualisties is, is die mens ‘n op sigselfstaande wese wat die reg het op lewe en geluk. En van hieraf is dit ‘n klein treetjie na die regte van ongebore baba’s, die regte van diere en die regte van die natuur. Nee, hierdie pad wil ons nie gaan nie. Die Skrif ken naamlik geen mens wat op homself bestaan nie; inteendeel, die kern van ons mens-wees is om aan God verbonde te wees. Slegs deur die wil van God is ons geskape en bestaan ons. Daarom kan ons nie oor menseregte praat as iets wat inherent is aan die waardigheid van die mens nie. Nee, ons moet eerder na die status van die mens kyk as ‘n skepsel van God; ek is wie ek is in my verhouding met die Skepper; Hy bepaal wie ek is. En in dáárdie verband kan ons wél van regte praat, gemeente. Die mens as Beeld van God het sekere regte, wat God aan Hom geskenk het. Waarskynlik die mooiste reg, wat die Bybel self ook só aandui, is die reg aan almal wat in Christus glo om kinders van God te word (Joh. 1:12). Die Griekse woord wat hier gebruik word, word in die Ou Vertaling met “mag” vertaal (“het Hy mag gegee om kinders van God te word”), maar hierdie selfde woord word elders wel met ‘reg’ vertaal; gaan lees byvoorbeeld 1 Korinthiërs 9:5-18 waar Paulus tot vier maal toe hierdie selfde woord gebruik en waar dit met ‘reg’ vertaal word. Pragtig! Ek het die reg om, deur die geloof, kind van God te wees! En daardie reg gebruik ons mos, of hoe? As ek in Jesus Christus glo, dan mag ek mos sê: Ek is God se kind! Dink verder byvoorbeeld ook aan die regte van die weduwees en die wese en die vreemdelinge, regte waarvan God Homself gereeld in die Ou Testament as die Beskermer laat geld het. En weereens, gemeente, sien dit in die regte lig! Hierdie is geen regte wat die mens in homself het nie; moenie daaroor dink in terme van vandag se menseregte ideologie nie. Hier gaan dit oor ‘n reg wat God aan my skenk, dit is ‘n onverdiende reg, dit is ‘n genadige reg – maar dit is nogtans ‘n reg! God géé dit! Pasop daarom om, in die lig van die hedendaagse mensverering en menseregte-ideologie, deur te slaan na die ander ekstreem en te sê: die mens het geen regte nie, net voorregte. Want dan ontken jy wat God gee.  Kyk byvoorbeeld weer na Genesis 4, wat ons saam gelees het: Kain wat vir Abel doodmaak. Dan spreek God tot Kain; Hy vra vir hom: “Waar is jou broer Abel?” Ja, die Here kom op vir die regte van Abel: “Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.” Roep na my… - gaan kyk maar hoe dikwels kom hierdie uitdrukking in die bybel voor; dit is ‘n regsterm en dit dui op ‘n roep om hulp van iemand wat groot onreg moet verduur. En ook al is daar op aarde geen reg vir so iemand nie, nogtans hoor die Here hierdie hulpgeroep en bewys Hy Homself as die berskermer van die regte wat Hy sélf aan mense geskenk het. En dit is presies wat hier gebeur: God kom op vir die reg van sy vermoorde kind, Abel, wanneer hy dit self nie meer kan doen nie. Maar impliseer dít nou dat Kain sonder enige regte is? Is hy nou skielik voëlvry? Ja, sal ons sê, hy het mos sy regte verspeel!? Maar nee, kyk wat doen die Here toe Kain juis hieroor kla… Hy gee ook aan Kain sekere regte – as iemand Kain doodslaan sal dit sewevoudig gewreek word. En dan gee die Here ook nog ‘n teken vir Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie. Wat ‘n genade, gemeente! Ten spyte van die feit dat Kain ‘n moordenaar was, is ook hy nog beeld van God en moet hy deur sy naaste as sodanig behandel word. Dit hef nie die straf op nie, nee, maar dit maak nog nie van Kain ‘n dier nie. Hy bly mens, beeld van God, en daarom bly ook hy binne die sfeer van die regte wat God aan sy beeld gegee het.  En, gemeente, dit is wat in die tweede tafel van die wet so pragtig na vore kom. Saam met die verpligtinge wat elkeen van hierdie gebooie beklemtoon, gaan ook regte. Ek mag nie steel nie, nee, maar draai dit om: dan mag iemand anders ook nie van my steel nie. So beskerm God die ander teen my, maar so beskerm Hy ook my teen die ander. En die christen wat, op grond van die eerste tafel van die wet, God liefhet en dien, sal ook hieraan gehoor gee; hy sal die regte van sy naaste respekteer. Maar, gemeente, Lameg wys aan die einde van Genesis 4 wat gebeur wanneer die eerste tafel vergete geraak het; dan is ook die tweede tafel ‘n fiasko. Lameg het homself sekere regte toegeëien, maar hy was nie bereid om volgens daardie regte ook ander te hanteer nie. Hoor maar wat sê hy vir sy vroue: “Voorwaar, ek slaan ‘n man dood wat my wond en ‘n seun wat my kwes.” En Lameg is daarin nie so uniek nie. Nee, Lameg is tipies van hoe ons almal is: ons eien onsself regte toe ten koste van die ander. Ek, koning mens, ek het die reg om … en vul maar self al die regte in wat ons onsself toeeien. Maar intussen trap ons op die ander, gaan ons oor lyke om bo uit te kom, voel ons vere vir die naaste. Dus, gemeente, in die tweede tafel van die wet beskerm God sy beeld, sy kunswerk – die mens! Hy beskerm ons teen mekaar.  Maar… waak daarteen dat hierdie tweede tafel ‘n eie lewe begin lei. Nee, dan loop dit mis. Dan word dit menseregte per se, menseregte eenvoudig omdat ek mens is. Slegs waar ons die eerste en die tweede tafel in samehang met mekaar sien (God liefhê bo alles en my naaste soos myself), slegs dan werk die wet heilsaam. Slegs wanneer ek myself aan God toewy, kan ek vervolgens ook my naaste dien en kan my gelowige naaste my dien. Maar wat dan van die ongelowige? Hy dien God nie? Hoe weet ek dat ek veilig is by hom? Wel, gemeente, soms gaan ons inderdaad onreg moet verduur; in ‘n wêreld waar God nie gevrees word nie, word ons inderdaad dikwels sleg behandel. Maar kom ons hou die fokus op ons Verbondsgod, kom ons wees trou aan sy wet, en dan sal Hy saam met ons gaan. Dan is die Heer ewig jou ontfermer, jou skadu en beskermer. Amen              Liturgie (aand) Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 87

Gebed

Lees:    Deuteronomium 9:6-19, 10:1-5           

            Genesis 4

Sing Ps. 81:11-14Teks: HK Sondag 34, v/a 93PreekAmenlied

Ps. 119:19, 22, 29

GebedBelydenis van geloofKollekte

Slotsang Skr. 14

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)