Mag ek met Jesus Christus deur die lewe gaan?

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2009-03-29
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 30
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

Preek – HK Sondag 30; lees Luk 17:11-19, Num 5:1-4, Lev 13:45-46, Heb 13:13

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? – dit is die vraag wat die Kategismus vanaand aan ons stel. En in die vraag net daarna wys die Kategismus vervolgens vir ons ook die ander kant van die munstuk: wie moet nie aan die nagmaal toegelaat word nie? Is dit bloot tegniese vrae? Vrae van ‘n kerkregtelike aard: wie mag nagmaal vier en wie nie? Is dit vrae waarvan ons die antwoorde in die kerkraadsreëlings kan opneem sodat ons ‘n goeie riglyn het hoe om in allerhande gevalle te handel? Gemeente, dikwels word hierdie soort vrae en die antwoord daarop baie tegnies en selfs koud hanteer: jy het ‘n attestaat by jou, dus mag jy nagmaal vier; jy het jou papiertjie per ongeluk vergeet… jammer, jy moet in die bank bly sit; en jy kom van ‘n kerk met wie ons geen korrespondensie het nie, dus ook jy moet maar bly sit. Verstaan my goed: hierdie riglyne het goeie redes en ons moet dit handhaaf, maar die praktyk het dikwels so onpersoonlik en koud geword. Die praktyk funksioneer soms soos by een van die kantore van binnelandse sake; jy weet mos hoe dit daar gaan? – “jou papiere is reg, goed, ek sal jou help; joune is verkeerd, jammer, gaan staan maar weer agter in die ry.” 

 

Broers en susters, dit is egter nie die gees waarin Sondag 30 geskryf is nie. Sondag 30 is nie ‘n beleidsdokument oor die nagmaal nie. Nee, Sondag 30 is ‘n vraag na die gemeenskap met Christus! Sondag 30 vra: wie mag feesvier met sy Heiland? Wie mag met God verkeer? En ja, dan spits Sondag 30 hierdie vraag uiteraard spesifiek toe op die nagmaal; dít is immers waaroor dit in hierdie deel van die Kategismus gaan. En daarby is die nagmaal inderdaad ook die hoogste vorm van gemeenskap met God. Maar daarmee word die res van die lewe nie uitgesluit nie! Inteendeel, hierdie Sondag omvat uiteindelik die hele lewe: wie mag met Jesus Christus deur die lewe gaan?

En as ek die vraag só stel, dan kan die kinders en die jongmense, wat nog belydenis moet aflê, nie meer terugsit en dink dat hierdie preek nie vir hulle is nie. Nee, elkeen word by hierdie vraag betrek, hoewel elkeen dalk in ‘n ander vorm. Vir die sesjarige is die vraag miskien: mag ek na die Here Jesus gaan wanneer ek bang is in die nag? Vir die sestienjarige is die vraag waarskynlik: is ek belangrik genoeg vir die Here Jesus, ook al is ek by die skool dalk nie so gewild nie? Vir die ses-en tagtigjarige is die vraag moontlik: is die Here Jesus by my wanneer die aandskemering van my lewe daal? Maar in wese bly die vraag vir ons almal: mag ek met Jesus Christus deur die lewe gaan? En dit is dan ook die vraag wat ons vanaand vanuit God se Woord wil beantwoord:

Mag ek met Jesus Christus deur die lewe gaan? Daar is twee kante aan die antwoord:

1.      Die antwoord is ‘nee’ vir wie onrein is

2.      Die antwoord is ‘ja’ vir wie rein gemaak is

 

1. Gemeente, melaatsheid was ‘n siekte wat in die bybelse tyd redelik baie voorgekom het. Of dit werklik die melaatsheid was, soos wat ons dit vandag ken, is nie heeltemal duidelik nie. As ‘n mens naamlik die Here se bepalings oor hierdie siekte in Levitikus 13 en 14 lees, dan kry jy die idee dat die bybel aan melaatsheid ‘n heelwat breër invulling gegee het as wat vandag die geval is. Allerhande huidsiektes word as melaatsheid geklassifiseer, en daar is selfs ‘n soort melaatsheid aan klere en ‘n melaatsheid van die huis. U kan gerus Levitikus 13 en 14 by die huis gaan lees.

Maar wat die bybel ook al onder melaatsheid verstaan het, dit is in elk geval duidelik dat dit deur die mense van bybelse tyd – ook buite Israel – as ‘n ernstige soort siekte beskou is. En ook die Here het hierdie siekte in ‘n ernstige lig beskou. Maar vir die Here was melaatsheid méér as net ‘n siekte. Vir die Here was die melaatse persoon onrein. En volgens Levitikus 13:45 en 46 moes daar aan hierdie onreinheid uiterlike sigbaarheid gegee word. Volgens hierdie verse in Levitikus 13 moes die melaatse sy klere skeur en sy hare los laat hang – beide was aanduidings dat hy in sy toestand van ontbinding en bederf oop en bloot voor God en die mense gestaan het. Die melaatse is immers beskou as dood in die vlees; lees maar Aaron se smeking in Numeri 12:12 in verband met Mirjam, wat met melaatsheid gestraf is; hy sê daar: “Laat sy tog nie wees soos ‘n dooie van wie se vleis, as hy uit sy moeder se skoot uitgaan, die helfte verteer is nie.” En verder moes die melaatse, volgens Levitikus 13, sy baard bedek; eintlik staan daar dat hy sy bo-lip moes bedek. En die rede hiervoor is dat die melaatse se mond as geslote beskou is; hy kon nie langer spreek nie. Al wat hy kon doen is om deur die skrefie van sy geslote lippe te roep: “Onrein, onrein!” Op al hierdie verskillende maniere moes dit vir die volk sigbaar wees, en moes die melaatse dit vir die volk sigbaar máák: ek is onrein! 

 

En die rede, gemeente, waarom dit so belangrik was om dit sigbaar te maak, was omdat hierdie persoon, op bevel van die Here, buitekant die laer weggestuur moes word. Vir hierdie onreine was daar geen plek in die laer nie. U sal onthou dat die volk, tydens hulle reis deur die woestyn, elke keer wanneer hulle op ‘n plek gestop het, laer opgeslaan het. Op ‘n baie spesifieke manier: in die middel die tent van die Here, die tabernakel, as die fokuspunt waarop die volk se diens gerig moes wees, en daar rondom die tente van die volk, in hulle onderskeie stamme. ‘n Duidelike eenheid, waar God en sy volk en die volk onderling gemeenskap met mekaar beoefen het. Maar die melaatse – en ander onreines – was hiervan uitgesluit! Dit was die melaatse nie toegestaan om deel van die laer te wees nie. Die volk kry van die Here die opdrag om seker te maak dat die melaatse mense uitgesluit word van die laer. Daarbuite, in die woestyn, dáár was hulle blyplek – uitgesluit van die diens aan en die gemeenskap met God, en uitgesluit van die gemeenskap met die ander lede van die volk. Eers wanneer duidelik geblyk het dat daar herstel en genesing was, eers dan kon die melaatse weer terugkeer.

 

Gemeente, wat sou die rede vir hierdie behandeling wees? In ons 21ste eeuse, westerse oë lyk dit na effens diskriminerende behandeling. Het die melaatse dan nie regte nie? Vigs-pasiënte mag mos ook nie op grond van hulle HIV-status van indiensneming uitgesluit word nie? As jou buurman HIV-positief is, dan sal dit mos diskrimenerend wees as jy hom uit jou woongebied wegjaag? Broers en susters, ons moet daarom ook nie met vandag se “menseregte”-oë na hierdie wetgewing kyk nie. Soos met so baie ander Ou Testamentiese wette moet ons, volgens artikel 25 van die NGB, die waarheid en inhoud van hierdie wet probeer peil; ons moet God se wysheid in hierdie wetgewing probeer proe. En hierdie wysheid kom ons nie op die spoor wanneer ons net sê dat hierdie wet om gesondheidsredes gegee is nie. God was nie slegs bekommerd oor die higiëne nie.

Nee, in Numeri 5:3 vind ons ‘n ander – baie dieper! – rede. Daar sê die Here naamlik dat Hy hierdie wet gee, omrede Hy sélf in die laer woon! God woon by sy volk; Hy wil graag naby en in hulle midde wees. Maar sy volk moet baie goed verstaan dat waar Hy, die Heilige, woon, dáár kan die onreinheid nie ook woon nie. Die God wat volledig rein is, deel nie sy volk met enige onreinheid nie. En daarom moet die onreine melaatse uit, sodat hy nie dalk die laer ook verontreinig nie. Broers en susters, om dus iets te verstaan van hierdie drastiese hantering van die melaatse mense onder die volk, moet ons iets verstaan van die heiligheid van God. Om hierdie wet te verstaan, moet jy na God kyk: Gód het nooit gemeenskap met die onreinheid nie; die onreine moet daarom ook altyd uitgesluit word van die gemeenskap met God. 

 

Gemeente, ons kan in hierdie wetgewing ‘n duidelike voorafskaduwing sien – weer ‘n woord uit NGB art. 25 – van God se omgang met sy Nuwe Testamentiese volk in en deur Jesus Christus. Ons lees in artikel 25: “in Christus het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling.” Maar wat is dan die vervulling van hierdie spesifieke wet oor die melaatse mense? Wel, sê artikel 25, ons gaan nog voort om die getuienisse van die wet te gebruik om ons lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig.” Hierdie wet, gemeente, kan ons dus help om ons lewe – ons persoonlike lewe maar ook ons kerklike lewe – volgens God se wil in te rig. En as ons dít in gedagte hou wanneer ons vra na die beteken van die wet oor die melaatsheid vir ons vandag, dan kan ons die konklusie trek: omdat God by sy kerk en by sy kinders wil woon, daarom is daar sowel in ons persoonlike as in ons kerklike lewe geen plek vir die onreine en die onreinheid nie.

En luister nou na vraag 82 van die Kategismus: moet dié mense, wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowige en goddeloos is, aan die nagmaal van die Here toegelaat word? Anders gestel: mag die onreine aan God se tafel sit? Nee! Kan die ongelowige sê dat hy met God gemeenskap mag hê? Kan die goddelose sê dat hy met Jesus Christus deur die lewe mag gaan? Nee! God duld dit nie, Hy kan dit nie verdra wanneer onreines, ongelowiges, mense wat in leer en lewe wys dat hulle Hom nie werklik wil dien nie, dat hulle aan sy tafel kom sit nie. Want so word, volgens antwoord 82, die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek. 

 

U moet dus weet, broer en suster, dat God in sy gemeente geen onreine verdra nie, en u moet weet dat geen onreine met die Here Jesus deur die lewe mag gaan nie. Ek weet, daar is meer om te sê, en ons sal net hierna in die tweede punt daarby uitkom. Maar kom ons sê dít net eers duidelik vir mekaar: die Heilige verdra nie onreinheid nie! En daarom moet dit uit die midde van God se volk verwyder word, daarom moet dit ook uit jou lewe verwyder word. Weg met die sonde uit jou lewe, weg met die sonde uit die lewens van al God se kinders. En as iemand dit nie wil doen nie, verwyder dan die onreine voor God se aangesig. Let wel, broers en susters, as ons praat van die onreine, dan bedoel ons daarmee nie die gelowige wat steeds sondes doen nie. Nee, dan bedoel ons daarmee die ongelowiges en die goddeloses, dié wat openlik wys dat hulle nie die Here wil aanhang nie. Húlle kan voor God se aangesig nie bestaan nie – hulle hoort nie aan die nagmaal nie, en hulle hoort ook nie in die kerk nie.

Maar het ons nie nou soos die Donatiste van die 4de eeu, of soos die Anabaptiste van die 16de eeu geword nie, wat beide na ‘n kerk vol sondelose mense gestreef het nie? En wat gevolglik geen sondige mense in die kerk wou verdra nie? Nee, gemeente, die kerk bly altyd ‘n vergadering van sondige mense. En dit is ook nie grootste probleem nie. Die probleem is daardie sondaars wat in hulle onreinheid bly rondrol, wat hulle nie wil bekeer nie, wat openlik goddeloos lewe. Húlle moet uit! Nie omdat jy en ek so wonderlik en so heilig is nie, maar omdat ons God so ontsaglik heilig is; Hy kan die onreinheid nie verdra nie. En daarom is die Christelike kerk – só lui antwoord 82 verder – volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense – die onreines, sê maar die melaatses van die nuwe testamentiese bedeling – om hulle met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

Gemeente, die tug is nie baie gewild nie, in besonder nie in vandag se tyd van sogenaamde verdraagsaamheid nie. En ons is ook nie altyd so mal daaroor om die tug te bedien nie. Maar onthou: hier gaan dit nie oor my en jou nie. Hier gaan dit oor God! Is jy bereid om alles moontlik te doen sodat die Heilige by ons kan bly woon? Dan moet die onreine uit. En dan is daar ook in die gemeente van Maranata geen plek vir goddelose sondaars wat hulle nie wil bekeer nie – só spreek nie ons nie, maar só spreek die Here!

In die tweede plek: die antwoord is ‘ja’ vir wie rein gemaak is.

 

2. Gemeente, in Lukas 17 kom ons hulle weer teë – die melaatses. Ja, eeue na die opskryf van Levitikus en Numeri het hulle nog nie verdwyn nie. Hulle is steeds daar. En hier in Lukas 17 vind ons hulle sommer tien op een slag.

Jesus is op reis na Jerusalem, en wanneer Hy ‘n sekere dorp binnegaan, kom daar tien melaatse manne op Hom af. Ja, net soos wat Hy die dorp wil binnegaan – dus, ook hier is die plek van die melaatses buitekant die gemeenskap. En soos dit hulle betaam, bly hulle op ‘n groot afstand van Jesus en sy dissipels staan; dit was immers die verpligting wat hulle onreinheid meegebring het. Deur Jesus egter tegemoet te gaan en as’t ware ‘n verwelkomingskommissie te vorm, wys hulle dat hulle vereerd voel met sy besoek aan hierdie dorp. Is dit nie wonderlik nie, gemeente? Melaatses moet buitebly, maar daardeur word hulle die eerstes om hierdie eregas te verwelkom. Vervolgens doen hulle vanaf ‘n afstand ‘n beroep op Jesus: “Jesus, Meester, wees ons barmhartig!” Tien onrein mans, wat by niemand – selfs nie by die priester – enige hulp kan ontvang nie, en wat uit die samelewing en uit die tempel uitgesluit is, hulle erken Jesus as Meester. Hulle verwag iets van Hom wat ‘n mens van niemand anders sal verwag nie. Hulle hoop om deur sy ontferming rein te kan word. Dít op sigself is alreeds ‘n bewys van hulle vertroue in Jesus se wondermag. 

 

Jesus beantwoord hulle roep om hulp. Maar in sy antwoord wil dit voorkom asof Hy ‘n stap oorslaan in die proses van reiniging. Kyk wat gebeur: Jesus stuur die melaatse manne na die priesters in Jerusalem om hulleself daar te gaan vertoon. Dit was die reël ná reiniging – die priesters het die taak gehad om die reiniging vas te stel en om die nodige offers te bring. Jesus stuur hierdie melaatse manne egter na die priesters net soos wat hulle is. Dit lyk asof Hy vergeet het om hulle eers te reinig. Wil hy werklik hierdie melaatses, net soos wat hulle is, na die priesters stuur? Ons kom nou-nou nog hierop terug. Wanneer die melaatse manne egter vol vertroue gaan, dan gebeur die wonder: oppad word hulle van hulle melaatsheid gereinig. Ons weet mos: Jesus doen wonders oor ‘n afstand…

Maar wat nou?

 

Wel, nege gereinigde melaatses gaan verder oppad na die priesters. Dit is mos wat Jesus hulle opgedra het?! En daarby het hulle mos ook die offers van die priesters nodig gehad vir hulle reiniging; ja, daar was ‘n komplete ritueel aan die reiniging van melaatse persone verbonde. Ons het daarvan gelees in Levitikus 14 – om mee te begin was daar die spesifieke reinigingsoffer van twee lewendige rein voëls, dan was daar vervolgens ook nog die beweegoffer, en die skuldoffer, die sondoffer, die brandoffer en ten slotte die spysoffer. Hierdie ritueel het ‘n goeie twee weke in beslag geneem. Twee weke van offers en bloed. En nege gereinigde melaatses is maar al te gewillig om hierdie pad van die wet te volg; hulle is maar al te gewillig om twee weke van hulle gereinigde bestaan hiervoor af te staan.

Maar een draai om, ‘n Samaritaan. Hoekom? Omdat die Joodse priesters tog niks gehad het om vir hom te bied nie? Omdat hy as Samaritaan hulle reiniging tog nie nodig gehad het nie? Nee, hierdie Samaritaan kom terug na die bron van sy reinheid. In plaas daarvan om homself met al die skaduagtige offers van die wet besig te hou, kom hierdie man terug na die enigste werklike offer vir sy reiniging, kom val hy neer voor die enigste Lam wat sy reiniging kan waarborg. Eintlik is al tien melaatses veronderstel om hier by Jesus te wees. Maar waar is die ander nege? Was daar nie tien wat rein geword het nie? Jesus se vraag in vers 17 impliseer dat die Samaritaan se optrede die regte optrede was. Al tien is hulle gereinig, maar hierdie Samaritaan se reiniging was tot diep in die siel. Hy het verstaan wat Jesus werklik aan hom gedoen het. Hy het verstaan dat hy nie die ritueel van die reinigingsoffers nodig gehad het nie, maar dat hy Jesus nodig het. Hierdie man het teruggekom omdat hy in Jesus Christus begin glo het! En daarom kan Jesus vir hom sê: “Staan op en gaan; jou geloof het jou gered” (Luk. 17:19). 

 

Wat ‘n wonderlike uitspraak, en dit nogal teenoor ‘n Samaritaan. Jesus sê in feite vir hom: “Vir jou sal alles regkom; jy saam mag met My deur die lewe gaan; jy mag met My gemeenskap beoefen.” En hierdie Samaritaan ontvang dit nie ná besnydenis en ná inlywing in die volk Israel nie, soos wat die Jode geëis het, maar enkel en alleen deur geloof. Hierdie man het besef waar sy werklike reiniging en saligheid lê, en daarom het hy net daar omgedraai. Die priesters kan maar wag, want sy groot Priester verdien alle lof. Al singende en prysende het hy in sy spore omgedraai, terug na sy Verlosser. 

 

Gemeente, om aan die nagmaal met Christus gemeenskap te kan hê, en om op Maandag en Dinsdag en elke dag en elke oomblik van ons lewe met God te kan wandel, het ons nodig om by Jesus Christus te wees. Maar hoe dan, is die vraag miskien? Want ons is van nature onrein; ons is in onreinheid gebore. In ons natuurlike staat wil God niks met ons te make hê nie; in ons natuurlike staat kan en mag ons nie eens voor God bestaan. God kan dit nie verdra nie. Wat moet ons dan doen om in hierdie staat by Jesus te kan kom? Kon die Ou Testamentiese melaatse nie eers na die priester gaan wanneer hy genees was nie? Kon die reinigingsoffers nie eers gebring word nadat die reiniging deur die priester vasgestel is nie? Ja, só was dit in die Ou Testament. Maar onthou, Jesus het dit kom verander. Hy het mos meláátses na die priester gestuur, Hy het siek mense gestuur om die offer te gaan ontvang. ‘n Vreemde handeling in daardie tyd, maar daardeur wys Jesus dat ons, onrein soos wat ons is, na Hom mag kom om die offer vir ons onreinheid te kan ontvang. 

 

By Jesus Christus, broers en susters – dáár lê ons reiniging. Dáár moet ons dan ook wees. Elke dag terug na Christus, elke dag op ons knieë voor die gekruisigde, elke dag van ons lewe. Moenie in die woestyn van die lewe bly rondloop en wag tot jy eendag vanself rein gaan word nie; moenie die gemeenskap met Christus verbeur deurdat jy dink dat jy eers self jou lewe moet regmaak nie. Nee, gaan soos wat jy is! Jesus het in elk geval nie gekom het vir die gesondes nie, maar vir die siekes. En ek weet, ons skaam ons dood, want ons lyk verskriklik soos wat ons is. Ja, ons weet hoe vuil ons harte is, ons weet watter bloed daar aan ons hande kleef. Ons kry dit nie oor ons harte om só voor God te verskyn nie. Maar gaan tog! Moenie eers probeer mooimaak nie, moenie eers probeer toesmeer nie. Die Here ken jou onreinheid beter as wat jy dit self ken; die omvang van jou sondes is vir die Here nie verborge nie. Gaan as onreine en ontvang die reinheid wat Christus vir ons verdien het. Dit is nie opsioneel nie; nee, dit is ‘n opdrag van God af. En wie dit besef, hoor ook skielik hoe die opstellers van die Kategismus vraag 81 geformuleer het. Daar staan nie net: wie mag na die nagmaalstafel van die Here kom nie. Nee, daar staan: wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? As jy weet dat jy onrein is, dan moet jy nagmaal toe kom. 

 

Wie mag met Christus gemeenskap hê? Wie mag saam met Christus deur die lewe gaan? Die een met die briefie, die attestaat? Natuurlik, hy ook – dit is ‘n goeie kerklike reël waardeur ons getuienis ontvang van iemand se leer en lewe, soos wat dit deur mense beoordeel kan word. Maar uiteindelik – in die oë van God – is dit slegs die onreine wat rein gemáák is, wat met Christus mag wandel. Dít is die persoon wat weet dat hy nooit alleen is; altyd is Christus by my. Ek was onrein, buite die laer, maar nou is ek rein. Ek was eens verlore, maar nou is ek gevind.

Amen

 

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 72:2, 10 en 11
Gebed
Lees:    Levitikus 13:45-46, 14:1-20

           
Numeri 5:1-4

           
Lukas 17:11-19

Sing Ps. 116:7, 9 en 10

Teks: HK, Sondag 30, spesifiek v/a 81 & 82

Preek

Amenlied Ps. 51:4-6

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 102:2, 3, 6, 12

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)