Aan die nagmaal bereik die gemeenskap tussen God en mens sy hoogtepunt!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-03-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 28
Verwysing: 
HK 28-0 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 28; lees 1 Korinthiërs 9:24-10:22

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het die Sondae wat die Kategismus aan die doop gewy het – Sondag 26 en 27 – afgehandel. Vervolgens kom ons nou by die tweede sakrament wat God ingestel het, naamlik die nagmaal.

Nou is dit opvallend om die ooreenkoms te sien tussen Sondag 26 oor die doop en Sondag 28 oor die nagmaal. Kyk maar: Sondag 26 begin met die vraag: “Hoe word jy in die heilige doop daarop gewys en daarvan verseker dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?” Sondag 28 begin met: “Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?” Die tweede vraag in Sondag 26 lui: “Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?”, terwyl ons in die tweede vraag van Sondag 28 lees: “Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?” En dieselfde ooreenkomste geld die laaste vrae van Sondae 26 en 28. En nie net die vrae vertoon hierdie ooreenkoms nie, maar ook die antwoorde – u kan dit self nagaan.  Met hierdie ooreenkomste toon die Kategismus dus aan dat daar ‘n nou verband bestaan tussen doop en nagmaal; dat hierdie twee sakramente nie uitmekaar gehaal kan word nie, maar in samehang gesien moet word. En dit is baie belangrik, gemeente: moenie dat die 18 of 19 jaar wat daar tussen iemand se doop en sy eerste viering van die nagmaal verloop, ons mislei om hierdie twee sakramente in afsondering van mekaar te beskou nie. Doop en nagmaal lê in mekaar se verlengde. Ons kan dit miskien die beste só stel: in die doop word ek deur God as kind in sy huisgesin opgeneem, terwyl God by die nagmaal verder gaan om my nou ook as sy kind te versorg. Die doop is die sakrament van die aanneming tot kinders, die nagmaal is die sakrament van die versorging as kinders. Doop en nagmaal – saam gegee om God se verbond met mense te stig én te onderhou. 

Maar, broers en susters, behalwe vir die ooreenkomste tussen Sondae 26 en 28, is daar ook ‘n aantal verskille waarop ons moet let. In die eerste vraag van Sondag 26 gaan dit naamlik oor die offer van Christus wat my ten goede kom, terwyl die eerste vraag van Sondag 28 praat van die offer van Christus waaraan ek deel het. By die een is ek passief aanwesig, by die ander een aktief betrokke. In lyn hiermee sien ons dat die werkwoorde in Sondag 26 – oor die doop – in die passiewe vorm gestel is, wat daarop dui dat dit aksies is wat aan my gedoen is, terwyl die werkwoorde in Sondag 28 – oor die nagmaal – in die aktiewe vorm gestel is.

Dus, gemeente, in die doop ontvang ek, as klein babatjie, Christus se verdienste passief, terwyl ek in die nagmaal bewustelik opstaan en na die tafel gaan om aan Christus se verdienste deel te kry. In die doop is die gemeenskap met Christus aan my gegee, sonder dat ek daarvoor gevra het; in die nagmaal neem ek die brood en die beker en beoefen ek daarmee aktief die gemeenskap met Christus. By die doop het God sy verbond met my verseël sonder my medewete, terwyl ek by die viering van die nagmaal persoonlik hierop ‘amen’ sê.  

Nou moet ons nie dink dat die doop dus God se daad is, terwyl die nagmaal ons daad is nie. Nee, beide doop en nagmaal is God se genadige instelling! Beide is genadegawes van God waardeur Hy sy beloftes bevestig en verseël. By beide is God die handelende Persoon. Maar – baie belangrik – by die nagmaal word sigbaar dat die mens ook kan antwoord; by die nagmaal word die mens opgeroep om te reageer: “Neem, eet…, neem, drink almal daaruit…” By die nagmaal bereik die wederkerige gemeenskap, waarna God in die doop al verlang het, sy hoogtepunt. Die nagmaal is dus by uitstek: gemeenskapsmaaltyd.

Tema: Aan die nagmaal bereik die gemeenskap tussen God en mens sy hoogtepunt! Hierdie gemeenskap:1.      vra ‘n gelowige hart2.      bewerk ‘n misterieuse eenheid3.      lei tot ware broederliefde 

1. Gemeente, wanneer ons deur die Here genooi word om aan sy tafel te kom eet, dan is hierdie Gasheer nie ‘n suinige gasheer nie. Hy is nie ‘n Gasheer wat ons porsie rantsoeneer, of wat ons op ‘n dieet plaas nie. Nee, wanneer ons gaste aan die tafel van die Here is, dan is daar elke keer weer oorvloed, dan stroom die weldade van sy genade na ons toe. In die enkele stukkie brood en die enkele slukkie wyn wat ons hier aan die tafel ontvang, belowe die Here Jesus aan ons ‘n stortvloed van genade. Hy belowe onder andere – so lees ons in v/a 75 en 76 – dat sy liggaam vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is; dat Hy my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed vir die ewige lewe voed en verkwik; dat ek deur sy offer vergifnis van sondes en die ewige lewe verkry; dat ek deur die Gees al hoe meer met Christus verenig word, en dat ek deur daardie Gees ewig lewe en geregeer word.

Gemeente, as ons die implikasies van hierdie weldade deurdink, dan besef ons wat ons te beurt val hier aan die nagmaalstafel. En dit is nie slegs vir sekere uitgesoektes bedoel nie. Nee, vir elkeen wat na die tafel kom, en wat die brood en die beker uit die hand van die bedienaar ontvang, word hierdie weldade belowe. Daar is geen uitsondering nie….  

Iets soortgelyks sien ons in die Ou Testament wanneer die Here Israel as sy volk uit Egipteland lei. Dan deel elke lid van die volk in die weldade van sy verlossing. Ons sien dit duidelik wanneer Paulus in die eerste verse van 1 Korinthiërs 10 tot vyf keer toe die woord ‘almal’ gebruik: die vaders was almal onder die wolk, hulle het almal deur die see deurgegaan, hulle is almal in Moses gedoop, hulle het almal dieselfde geestelike spys geëet, en hulle het almal dieselfde geestelike drank gedrink. Die Israeliete het dus álmal die oorvloedige bewyse van God se liefdevolle sorg oor hulle ontvang; niemand was daarvan uitgesonder nie.

Maar, gemeente, met dít in gedagte staan ons verbaas wanneer Paulus vervolgens in vers 5 sê: “Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn.” Die kontras is skreiend – soveel oorvloed, soveel bewyse van God se genade, en tog het die Here in die meeste van hulle geen behae gehad nie. ‘Die meeste van hulle’ – eintlik is dit ‘n versagting van wat werklik met die volk in die woestyn gebeur het. Want van almal bo twintig wat uit Egipte weggetrek het – dus, van almal wat ‘n leeftyd van selfstandigheid bereik het, van almal wat op die liefde van die Here kon antwoord – van hulle almal, hoeveel het daar uiteindelik in Kanaan aangekom? Twee! Josua en Kaleb. Die res het in die woestyn omgekom – Paulus gebruik beeldende taal om te beskryf hoe die liggame van die Israeliete deur die woestyn besaai gelê het.  

Maar hoekom dan, broers en susters? Wat het gemaak dat die Here in die meeste van hulle geen behae gehad het nie? Hulle het dan almal God se weldade ontvang… Ja, maar slegs twee het in geloof daarop geantwoord. Die Here het aan almal sy heerlike genade geskenk, maar behalwe vir Josua en Kaleb het die res almal in ongeloof en ongehoorsaamheid daarop gereageer, en was hulle – volgens vers 6 – begerig na slegte dinge. Ons lees in Numeri 14:21 e.v. hoe die Here sy heilige toorn daaroor uitspreek: “Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word, al die manne wat my heerlikheid en my tekens gesien het wat Ek in Egipte en in die woestyn gedoen het, en My nou al tien maal versoek het en na my stem nie geluister het nie, hulle sal die land nie sien wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het nie, ja, almal wat My verag het, sal dit nie sien nie.”

En presies hiervoor waarsku Paulus nou sy lesers en ons vandag. Hy roep ons immers in die laaste verse van hoofstuk 9 op om te hardloop en te ywer vir die onverwelklike krans. Dit is nie genoeg om maar net die weldade uit God se hand te ontvang nie; kyk maar na Israel van die woestyntyd wat almal die weldade van God ontvang het – tot selfs die geestelike spys en drank – en tog nie die beloofde land binnegegaan het nie. Gemeente, wie die weldade wil ontvang uit die hand van ‘n gulhartige Gasheer, moet in geloof en gehoorsaamheid daarop antwoord. Die passende antwoord aan die feesmaal van Jesus Christus is ‘n gelowige hart.  

Wanneer u daarom opstaan om na die nagmaalstafel te kom, en wanneer u die brood en die wyn ontvang, aanvaar dan met ‘n gelowige hart die oorvloedige weldade wat daarin vir u aangebied word. Moet nooit gewoond raak aan die oorvloed nie, moenie hierdie oorvloed ooit as normaal vir jouself toe-eien nie. Verwonder jou, en sê: “Dankie Here, dat dit ook vir my is.”

Vervolgens: die nagmaal as gemeenskapsmaaltyd bewerk ‘n misterieuse eenheid.

 2. Paulus gee vervolgens in 1 Korinthiërs 10:6-10 verskeie voorbeelde van die ongehoorsaamheid en afval van Israel in die woestyn. Bo en behalwe die feit dat ons hier met historiese gebeurtenisse te make het, wys Paulus dat hierdie historiese gebeurtenisse primêr gegee is as voorbeelde en as waarskuwing vir die komende geslagte. Die nageslag, die kerk van die nuwe verbond, moet dus lering trek uit die geskiedenis van Israel in die woestyn – terloops, dit is ‘n beginsel wat steeds in ons tyd van onskatbare waarde is: ken die geskiedenis en leer daaruit! 

Paulus pas dit nou ook toe op die gemeente van Korinthe. Vanuit die voorbeelde uit die geskiedenis en die waarskuwing wat daaruit getrek kan word, roep Paulus die gemeente in hoofstuk 10:14 dringend op om te vlug vir die afgodediens: “Want kyk na Israel, kyk na die afgodediens van die volk in die woestyn, kyk wat met hulle gebeur het; sorg dat julle hiervan wegkom!”

Op dié manier hervat Paulus ‘n onderwerp wat hy in hoofstuk 8 alreeds aangeroer het, naamlik die saak van deelname aan maaltye waarvan die vleis aan die afgode geoffer is. Dit was een van die kwessies wat die Korinthiërs in hulle brief aan hom geopper het. En met betrekking tot hierdie saak stel Paulus nou in 10:14 baie duidelik dat die Korinthiërs van die afgodery moet wegvlug. Maar hoekom? Hy sê immers in vers 19 tereg: is ‘n afgod iets? Is ‘n afgodsoffer iets? Nee, natuurlik nie. En hy sê ook in 8:5-6: “… al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is … tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.” Dus, om afgodsvleis te eet, beteken op sigself niks nie, want afgode bestaan nie! 

Maar, sê Paulus, let goed op; hier sit meer agter… Kyk maar na die nagmaal – as jy uit die beker van danksegging drink, dan bring dit jou in gemeenskap met die bloed van Jesus Christus. En as jy eet van die brood wat gebreek word, dan bring dit jou in gemeenskap met die liggaam van Christus (vers 16). Dus, broers en susters, deur gelowige deelname aan die nagmaal beoefen jy die gemeenskap met Christus; meer nog: soos die Kategismus sê, jy word deur die Heilige Gees met Christus verenig, jy word vlees van sy vlees en been van sy gebeente. Jy word een met jou Heiland! Hy in jou en jy in Hom!

Nou, presies dieselfde gebeur wanneer jy afgodsvleis eet; wanneer jy dít doen, dan bring dit jou in gemeenskap met die duiwels. Dan word jy een met die satan! En daarvan roep Paulus uit: “Julle kán nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kán nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie” (vers 21). Hierdie twee sluit mekaar wedersyds uit, hulle kan nie saamgaan nie, hulle kan mekaar nie verdra nie.  

En, gemeente, dít is van die grootste belang wanneer ons nagmaal vier. Ons Gasheer aan die tafel is gulhartig, Hy gee ons genade op genade uit sy verdienste aan die kruis. Maar Hy laat nie met Hom spot nie, Hy duld dit nie dat ons met verdeelde harte aan die nagmaalstafel kom sit nie. Ons kan nie deelneem aan die dinge van die satan en dan ook deelneem aan die maaltyd van die Here nie; ons kan onsself nie van Maandag tot Saterdag bewustelik besighou en verlustig in die sondige genietinge van die wêreld, en dan dink dat dit reg is om vorentoe te kom om van die brood en die wyn te geniet nie. Dan bring ons as’t ware die satan sélf hier aan die tafel en ontheilig ons op dié manier die nagmaal. Daarom dat die nagmaalsformulier ook so duidelik oproep om jou van die nagmaal van die Here te onthou wanneer jy in sonde lewe. Die Here Jesus beskerm sy maaltyd met heilige jaloesie…

Moet ons daarom bang wees om na die nagmaal te kom? Moet die sondes in ons lewens ons daarvan weerhou om nagmaal te vier? Absoluut nie! Maar wees wel eksklusief in die uitnodiging wat jy aanvaar. Jy kan nie Christus én die duiwel se uitnodiging tot ‘n maaltyd aanvaar nie. Kom na die nagmaal, maar dan ook nét na die nagmaal. Dan bring dit jou in die heerlike gemeenskap met jou Verlosser.  

En, broers en susters, wie daardie gemeenskap beleef, met sy hele wese ervaar wat dit beteken om een met Jesus Christus te wees, raak self ook jaloers. Hy leer al hoe meer om die sondes in sy lewe te haat en daarvan weg te vlug; hy begeer al hoe meer om Christus en sy wil na te volg. Daardie persoon begin al meer verstaan dat gemeenskap met Christus nie slegs iets van die nagmaal is nie – elke drie maande het ons gemeenskap met Christus! Nee, gemeenskap met Christus is iets van elke oomblik, elke dag.

Kyk maar na die volk in die Ou Testament – ons lees in hoofstuk 10:3 en 4 dat hulle almal dieselfde geestelike spys en drank geëet en gedrink het. En dit verwys dan na die manna en die water uit die rots. Die manna en die water is die geestelike spys en drank wat die Israeliet met die geestelike rots, Christus, verbind het. Die volk het dus nie slegs aardse, stoflike seëninge daar in die woestyn ontvang nie; nee, dit was geestelike voedsel en geestelike drank – Christus was daar in die woestyn aanwesig! Maar dink u dat dit net vir sekere tye was, miskien net vir die sabbat? Nee, elke môre vroeg het die Israeliet gaan manna optel, het hy dit gebak en saam met sy gesin geëet; elke dag het die Israeliet verskeie male gaan water drink uit die rots. Sien u, die gemeenskap met die rots Christus was ‘n gewone, daaglikse aktiwiteit. Uiteraard, gemeenskap met Christus is buitengewoon besonder, maar daarom hoef ons dit nie vir buitengewone tye te bewaar nie. Nee, ons mag elke dag, in die gewone dinge die gemeenskap met Christus beoefen – daar waar die kos op die oond staan, daar waar jy in jou motor werk toe ry, daar waar jy jou huiswerk doen of sport beoefen. Die geestelike lewe moet die alledaagse lewe verower, die nagmaal moet uiting vind in die lewe van elke dag, die gemeenskap met Christus is iets vir die alledaagse!

Ten slotte: die nagmaal as gemeenskapsmaaltyd lei tot ware broederliefde 3. Paulus het gewys dat om van die beker te drink, aan jou gemeenskap gee met die bloed van Christus; en om van die brood te eet, gee jou gemeenskap met die liggaam van Christus. So ontstaan daar gemeenskap tussen Christus en elke gelowige. Opmerklik is dat Paulus éérs van die beker praat en daarna die brood noem – dít terwyl hy net hierna in hoofstuk 11 eers die brood en dan die beker sal noem, soos wat hy dit van die Here ontvang en aan sy lesers oorgelewer het (11:23-25). Die rede waarom Paulus in hoofstuk 10:16 die volgorde omruil, is waarskynlik omdat hy in vers 17 op die aspek van die brood wil voortbou.  

Hierdie brood wat naamlik gebreek word, en waarvan ek ‘n stukkie kry, is een geheel – dit is een brood. En net soos wat ek ‘n stukkie van die een brood kry, so kry my broeder hier langs my dit ook, en die suster aan die ander kant van my ook. Almal saam het ons deel aan die een brood. En daarom, so sê Paulus in vers 17, is ons almal saam een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood.

Gemeente, hier trek Paulus ‘n konklusie met betrekking tot die nagmaal, wat hy op hierdie punt nie regtig verder uitbou nie, maar wat ons ook nie sommer oor die hoof kan sien. Hy het eers duidelik gemaak dat die nagmaal gemeenskap skep met Christus – dit is die vertikale verhouding. Maar, wys hy vervolgens, dit skep ook gemeenskap tussen al die maaltydgangers. Almal wat van die een brood eet, word daardeur ook met mekaar verenig; almal wat aan die maaltyd deelneem, word saamgevoeg tot een liggaam – dit is die horisontale verhouding. Die kerk in Korinthe, wat uit bekeerde heidene sowel as bekeerde Jode bestaan het, was saam een liggaam. Ongeag die verskille in kultuur, in ras, in agtergrond, was hulle een in Christus.  Broers en susters, wanneer ek aan die nagmaalstafel gaan, is ek nie die enigste maaltydganger nie; die Gasheer het nie maar net een gas genooi nie. Nee, talle gaste gaan saam met my aan die nagmaal. Kyk maar om u heen – dis almal genooides na die maaltyd van die Here, almal mense wat deur die geloof een is in Christus. En presies dít – ons verbondenheid met Christus – maak van ons een liggaam. Ons kom eet almal van die een brood, ons kom geniet almal saam van dieselfde liggaam en bloed van Christus tot vergewing van sondes en tot die ewige lewe. Daardeur word ons in gemeenskap aan mekaar verbind. Nee, óns kies nie met wie ons gemeenskap beoefen nie, óns skep nie daardie gemeenskap nie; onderlinge gemeenskap ontstaan nie deurdat ons na mekaar kyk en soveel moois en goeds in mekaar ontdek nie; die lyne van die horisontale gemeenskap loop nie via u en my nie; nee, dit loop via Christus. Die gemeenskap van die een liggaam is ‘n realiteit deur die blote feit van die gemeenskap met Christus. Jy is my broer, u is my suster – eenvoudig omdat ons altwee in Jesus Christus glo. Aan die nagmaal bereik hierdie onderlinge gemeenskap sy absolute hoogtepunt. Saam staan ons op, saam gaan sit ons om die tafel, eet ons van dieselfde brood, drink ons uit dieselfde beker – een om Christus wil.  

En gemeente, laat ons dit maar vir mekaar sê: te veel in die gemeente hoor ons nog: “ek hou nie van daardie persoon nie”, of “daardie persoon iriteer my”, of “ek en hy het nie regtig ooghare vir mekaar nie”. Dit is onbelangrik wat jy van daardie persoon dink, sê Christus. Hy is óók in My en Ek in Hom, hy is óók vlees van my vlees en been van my gebeente. Sien My in hom raak! Sien hoe Ek genadiglik sy lewe verander, net soos wat Ek ook jou lewe moet verander.

Paulus het hiervoor duidelik gemaak dat gemeenskap met die Here onversoenbaar is met gemeenskap met die duiwel. Maar net so, broers en susters, is gemeenskap met die Here onversoenbaar met ‘n liefdelose hart teenoor my medegelowige. Dit is ‘n onmoontlikheid in die liggaam van Christus, dit mag nie bestaan nie. En daarom vra Christus dat wanneer ons die een liggaam herken, soos dit uitkom in die plaaslike gemeente, en wanneer ons daarvan deel is, ons met ‘n liefdevolle hart daarop sal reageer, konkreet in die omgang met mekaar.

En wanneer dit begin blom, dan kan ons nie wag vir die volgende nagmaal om te kom om daaraan uiting te gee nie, dan sien ons uit na die hoogtepunt en die viering van die eenheid aan die nagmaal. Hoekom sal ons dan drie maande daarvoor wag… Hoekom nie elke tweede maand nagmaal vier nie? Hoekom nie elke maand nie? Christus het daaroor geen riglyne gegee nie. Hy het eenvoudig gesê: “So dikwels as wat julle van die brood eet en uit die beker drink…” Hoe dikwels? So dikwels as moontlik! Gemeenskap is immers nie sporadiese kontak nie. Gemeenskap is ‘n lewe saam – ‘n lewe saam met Christus, ‘n lewe saam met broers en susters.

Amen

Liturgie (aand)

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Skr. 6:4-6

Gebed

Lees: 1 Korinthiërs 9:24-10:22

Sing Ps. 106:8, 10 en 12Teks: HK, Sondag 28PreekAmenlied Ps. 133GebedBelydenis van geloof (staande en singende)Kollekte

Slotsang Ps. 115:3, 6 en 7

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)