Maak jou oë oop en sien wat voor jou is!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-03-01
Teks: 
Romeine 10:6-10, 13-15
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou. Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Romeine 10:6-10, 13-15; lees Rom 9:30-10:21, Deut 30:9-16, Gen 28:10-17

 Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here, Het jy dit ook al gehad dat jy na iets soek, dat jy oral daarvoor rondkyk maar dit nêrens kan vind nie? En dan lê die ding waarna jy soek die hele tyd hier reg voor jou. Die hele tyd was dit lewensgroot voor jou, maar jy het dit om een of ander rede net nie raakgesien nie. Wel, broers en susters, iets soortgelyk gebeur ook maklik in ons omgang met die Here, of dalk eerder: in die Here se omgang met ons. Dikwels vertoon die Here Homself lewensgroot aan ons, en tog sien ons Hom om een of ander rede net nie raak nie, en soek ons selfs op die verkeerde plek na Hom! Die bybel gee verskeie voorbeelde hiervan…Dink byvoorbeeld aan Bileam, wat met sy donkie oppad was na Moab toe die Engel van die Here die pad vir hom versper het. Die donkie het die Engel wél gesien, maar Bileam was eenvoudig blind vir die Engel wat reg voor hom gestaan het. Hy het sy donkie tot drie maal toe met sy stok geslaan, omdat hy nie kon verstaan watter vreemde streke sy betroubare rydier nou skielik begin uithaal het nie. Bileam was siende blind vir die werklikheid van God hier reg voor hom. Dink ook aan wat die Here Jesus in Mattheus 11:25 sê, naamlik dat die Vader die dinge van die koninkryk, wat duidelik sigbaar geword het in die koms van Jesus Christus, vir wyse en verstandige mense verberg het, en dit aan kindertjies geopenbaar het. In Christus het God Homself dus duidelik aan die mense geopenbaar, en tog kon selfs die slimstes dit dikwels nie raaksien nie. Ja, broers en susters, dit is inderdaad soos wat die Here Jesus sê, dat ons mense soms kan kyk en kyk, en tog nie sien nie; en hoor en hoor, en tog nie verstaan nie.  En die fout hiervoor lê nie by God nie; dit is nie asof God probeer om wegkruipertjie met ons te speel nie. Nee, God se omgang met ons is altyd ‘n openlike ontmoeting; wanneer Hy Homself openbaar dan is dit altyd lewensgroot en baie duidelik. En tog… ja, tog sien ons Hom dikwels nie raak nie! En dit bring my dan ook by die oproep vir hierdie preek:Tema: maak jou oë oop en sien wat voor jou is!1.      God kom naby2.      God láát Homself naby bring 1. Gemeente, Romeine 9-11 vorm ‘n duidelike eenheid binne die brief aan die Romeine. Hierdie drie hoofstukke word gekenmerk deur ‘n gemeenskaplike tema, naamlik – enersyds – die ongeloof in Jesus binne Israel, en – andersyds – die geloof in Hom vanuit die heidendom. Dít is die rooi lyn regdeur hierdie hoofstukke. En wat nou opmerklik is by hierdie tema, is dat Paulus – die apostel onder die heidene – homself tog baie nou by die lot van sy stamgenote, die Jode, betrokke voel. Hy wil so graag hê dat hulle, soos die heidene, ook in die Messias sal glo, hy is selfs bereid om ter wille van sy broers na die vlees sélf ‘n vervloeking te wees, wég van Christus af (Rom. 9:3). Maar wat was dan die probleem met die Jode, broers en susters?  Wel, sê Paulus in hoofstuk 9:31, die Jode het die wet van die geregtigheid nagejaag, en hulle was selfs baie ywerig daarin (10:2). Maar, let wel gemeente, dit is nie die probleem nie. Dit is immers presies wat God van hulle gevra het; lees maar vers 5: “Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.” Die wet was vir die Jode dus inderdaad die weg tot die lewe, en daarom is dit heeltemal reg dat hulle op daardie weg gegaan het! Máár, gemeente, wat die Jode vergeet het, is dat die wet van die geregtigheid, waarvoor hulle – tereg! – so geywer het, hulle onvermydelik by die Chrístus sou uitbring. Want, sê vers 4, die wet vind sy doel in Chrístus! Die wet kom tuis by Hóm! Ja, die wet het bo-oor alle werke heen altyd uitgesien na die belofte van lewe in Christus. Onthou immers vers 5: die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe – en dan beteken dit nie dat die Ou Testamentiese volk deur werke gered kon word nie, maar dit beteken wel dat die gelowige wat alles gedoen het wat in die wetboek beskrywe was, altyd bly fokus het op die beloofde Messias! Die Jode het dus die regte pad bewandel, maar hulle het uit die oog verloor dat daardie pad hulle altyd na die hoeksteen sou en wou lei (9:32). En toe hulle uiteindelik by daardie hoeksteen gekom het, toe wou hulle Hom nie aanvaar nie; toe het hulle hulself gestamp teen hierdie steen van aanstoot. En presies dáár, broers en susters, het nou die probleem van die Jode gelê! Toe die wet hulle uiteindelik by Jesus Christus gebring het – soos wat die doel ook was – toe wou hulle nie in Hom glo nie. En die oomblik toe húlle, wat op die regte pad was, nie op die hoeksteen as basis wou verdergaan nie, toe het die regte pad vir hulle ‘n doodlooppad geword. Op dáárdie oomblik het die geregtigheid voor God buite hulle bereik geraak, omdat hulle dit op eie krag en deur eie werke wou bereik. En, gemeente, wat nou belangrik is om te verstaan, is dat Paulus hier nie iets nuuts verkondig nie. Die Ou Testament was nie ‘n tyd van geregtigheid deur werke van verdienste, terwyl Paulus nou die Nuwe Testamentiese tyd van geregtigheid deur die geloof aankondig nie. Moses en Paulus staan nie teenoor mekaar nie! Nee, ook Moses het reeds oor die wet gepraat as God se weg tot die lewe, deur die geloof! En daarom kan Paulus ook met vrymoedigheid Moses se woorde in Deuteronomium 30 aanhaal. Want reeds in Deuteronomium 30, waar dit spesifiek oor die wét gaan, wys Moses dat die volk daardie wet nie hoef te vervul in eie krag nie; hy sê daar: “Want hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is vir jou nie te swaar nie en is nie ver nie” (Deut. 30:11). Hier blyk duidelik God se genade by die gee van die wet. Hy kom met sy wet naby sy volk – dit is dus nie ‘n wet wat God van veraf afkondig nie, die Afkondiger van hierdie wet is nie ‘n veraf Koning in ‘n koue paleis nie. Die volk hoef nie vir mekaar te sê: “Wie sal vir ons na die hemel opklim en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?” nie. Die wet is ook nie oorkant die see, sodat hulle vir mekaar hoef te sê: “Wie sal vir ons na die oorkant van die see oorvaar en dit vir ons gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan doen?” nie.  Die volk hoef dus nie die uiterste kraginspanning aan te wend om die wet te volbring nie; hulle hoef nie ‘n leer tot in die hemel te bou om daar die verlossing te gaan haal nie. Die oomblik wanneer hulle dít wil doen, dan sê die Here: “Jou dwaas, wil jy opklim? Nee, hou op daarmee! Die leer wat hemel en aarde verbind, word nie opgebou vanaf die aarde na die hemel nie, maar word vanuit die hemel neergelaat na die aarde!” – soos wat ons so pragtig gesien het in die droom van Jakob, waarvan ons gelees het in Genesis 28. God kom dus na sy volk toe, broers en susters, en nie andersom nie. Die wet van die Ou Verbond is ‘n woord van die God wat naby sy volk gekom het toe Hy op die Sinai neergedaal het. Hy is ‘n goeie Vader wat te midde van sy kinders kom woon. Hy is die God wat hulle uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het. Maar wat doen die Jode? Hulle gaan soek dit daar ver – in die hemel, hoog daarbo; en aan die oorkant van die see, wat vir die mense van daardie tyd die einde van die wêreld was. En intussen was God hier reg by hulle, en het die verlossing reg voor hulle neuse gelê. Hulle moes net hulle oë oopgemaak het om dit te sien! Nou, gemeente, Paulus gebruik hier in ons teksgedeelte presies dieselfde Skrifgedeelte en presies dieselfde argumentasie teenoor sy Nuwe Testamentiese lesers in Rome as wat Moses teenoor die volk van ou verbond gebruik het. Al wat Paulus verander is om die woorde van Moses in Deuteronomium 30 te vervleg met die kern van die evangelie: “Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?” Dit is nie nodig nie, want soos wat God in die Ou Testament met sy heerlikheid op die Sinai neergedaal het, so kom die Seun van God in die Nuwe Testament nog nader met sy heerlikheid in Betlehem. Moses en Paulus stry dus nie met mekaar nie; inteendeel, hulle komplementeer mekaar. Die nabyheid van God in sy Seun pas by die nabyheid van God in sy wet. Of dalk eerder: die nabyheid van God in die wet vind sy vervulling en hoogtepunt in die nabyheid van God in sy Seun!Broers en susters, in sy Seun en daarna ook in die Heilige Gees het God nader aan ons gekom as ooit te vore in die geskiedenis. En daarom kan Paulus met amper meer oortuiging as Moses in vers 8 sê: “Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” Naby jou! Ons dien nie ‘n God wat ver van ons af is nie, ook al voel ons miskien soms so. Ons dien nie ‘n God wat die klokwerk van hierdie wêreld aan die gang gesit het en Homself vervolgens in sy geïsoleerde hemelwoning teruggetrek het nie. Ons dien nie ‘n God soos wat ons dit vind in die tradisionele Afrika-godsdiens, waar die godheid ver is en waar mense slegs via die voorvadergeeste iets van hom kan beleef nie. Ons dien nie ‘n God soos die Jode en die Moslems, waar jy met jou goeie werke na God toe moet opklim nie. Nee, ons dien die God van Jakob – Jakob wat op eie houtjie sy toekoms wou bepaal, wat self die belofte van God in sy lewe wou waarmaak, en wat daarom moes vlug voor die toorn van sy broer, Esau. En wanneer Jakob dan by Bet-el sy moeë liggaam neerlê – moeg van sélf probeer! – dan wys die Here in ‘n droom vir Hom: Ek is in beheer, Ek lê die verbinding tussen hemel en aarde, jy hoef nie die onmoontlike te doen deur naby My te probeer kom nie.  Dít is die God wat ons dien! Die God van naby! Al wat ons moet doen, gemeente, is om ons oë oop te maak vir die werklikheid van God hier reg by ons! Ons soek soms op die snaakste plekke na God, omdat ons dink dat Hy moeilik is om te vind, omdat Hy vir ons so ver voel. En dan wil ons allerhande tekens van Hom ontvang, of ons wil soms net hê God moet iets in ons lewens laat gebeur waardeur ons kan weet wat Hy van ons verlang, en sommige van ons jeug wonder of die dinge wat in charismatiese kerke gebeur nie baie meer van God se nabyheid getuig as wat in ons eredienste gebeur nie. Ander kere bid ons, en dan voel dit of ons gebed nie eens die plafon bereik nie; of ons verkeer in baie moeilike en hartseer omstandighede en wil ons eintlik saam met Dawid uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Maar dan sê die Here in eenvoudige taal: Ek is nie ver nie, my kind, Ek is naby jou – “naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.” Ja, gemeente, dít is die manier waarop God naby aan ons is. God kom naby aan ons in die Woord van die evangelie, in die verkondiging van die blye boodskap. Dit wat ons elke Sondag hier doen, en dit wat jy in jou persoonlike lewe hooplik elke dag doen, dít is God se weg om tot baie naby ons te kom – Hy kom woon hier binne in jou hart en Hy kom plaas Homself hier op die voorpunt van jou tong, sodat jy nie anders kan as om oor Hom te praat nie.  En wat vra dit van jou? Wel, net soos wat die nabyheid van die woord van die wet in die ou verbond geloof in die sprekende God gevra het, net so vra die nabyheid van die Woord van die evangelie geloof in Jesus Christus. Wat in beide gevalle aan ons voorgehou word, is ten slotte die weg van die geloof! Paulus sê daarom ook aan die einde van vers 8: “dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.” Maak oop jou oë – reg voor jou is die woord, en daardie woord vra jou geloof. Want, gemeente, sonder geloof kan daar geen belewenis en ervaring van God se nabyheid wees nie. En dit is dan ook presies Paulus se groot hartseer en bekommernis met betrekking tot sy volksgenote: Christus is naby hulle, maar hulle wil Hom nie glo nie.  Broers en susters, wanneer ons iets van die realiteit van God se nabyheid hier reg voor ons begin verstaan, wanneer ons begin verstaan dat God nie ver is nie, maar dat Hy in alles – elke oomblik van elke dag – naby ons is deur sy woord, dan begin ons ook verstaan dat geloof iets is vir my hele lewe, en dat dit nie net iets vir sekere dele van my bestaan is nie. Wanneer ons sien dat God uit die hoë hemel neergedaal het om, deur sy Woord en Gees, hier in my hart te kom woning maak, dan word dit vreemd om ook maar net die kleinste deeltjie van my lewe los van God te sien. Laat die God wat naby is, daarom jou hele bestaan deurtrek! En ons kon dit vanoggend so pragtig sien in die bediening van die doop – God wat naby gekom het in die lewe van klein Suné. Leer dit daarom ook vir julle dogter; leer haar dat God naby is. Maar meer nog: lewe dit! Wys in julle lewe dat God naby is, ook vir haar. En, gemeente, mag dit ons vertroos en sterk maak, mag dit ons bemoedig waar ons hier in Suid-Afrika lewe – ‘n land waar die vlak van misdaad ons soms laat wonder: waar is God? ‘n Land waar die woorde en dade van leiers ons kan laat wonder of God regeer; ‘n land waarin die skreiende armoede en siekte ons soms laat wonder of God ons nie verlaat het nie. In hierdie land sê God: die Emmanuel – God met ons – is ook vir Suid-Afrika! [Kom ons sing eers Ps. 139:2, 4 en 6] Vervolgens: God láát Homself naby bring.  2.  In vers 13 haal Paulus ‘n Skrifgedeelte uit Joël 2 aan, wat ook op die Pinksterdag deur Petrus gebruik is: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Toe Petrus hierdie woorde op die Pinksterdag uitgespreek het, het Saulus, die yweraar vir die wet en die vervolger van Jesus Christus, dit verwerp. Maar intussen het Paulus dit leer aanvaar. Hy het immers self gesien hoe die Gees van Christus deur alle lande trek en ook heidene tot geloof in die verhoogde Christus bring. Paulus se lesers in Rome, wat eers heidene was, het self ook behoort tot diegene wat die Naam van die Here aanroep. Dit is inderdaad soos vers 12 sê, dat daar geen onderskeid tussen Jood en Griek is nie. Maar wanneer hy dit gekonstateer het, dan voel Paulus onmiddellik ook weer die pyn oor die ongeloof van sy volksgenote, die Jode. Heidene mag ingaan, maar Israel bly agter. En dit bring hom dan by sy sogenaamde kettingredenering in verse 14 en 15: “Hoe kan hulle – dit is nou die Jode! – Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?”  In vers 16 en verder fokus Paulus spesifiek op die verbinding tussen die tweede en die derde skakel: die geloof kom deur die gehoor! En dan vra Paulus: Maar het die Jode miskien nie gehoor nie? Ja seker, is Paulus se antwoord. Die Jode hét gehoor, die stem van die evangeliedraers het – volgens vers 18 – oor die héle wêreld uitgegaan. God sélf het hiervoor gesorg! Hy is immers die Bron en die oorsprong van hierdie hele kettingredenering – Hy is die Een wat stuur, Hy is die Een wat lieflike voete gee wat die evangelie van vrede verkondig. Gemeente, God láát Homself op dié manier naby aan die mense bring, en die Jode is hierop geen uitsondering nie. Inteendeel, hulle was selfs eerste in die ry om die goeie nuus te kan ontvang, want die evangelieverkondiging het in Jerusalem en Judea begin!En daarom – dit is dan ook Paulus se onuitgesproke konklusie – het die Jode geen verontskuldiging nie. Die Here het gestuur, daar was predikers, hulle het gehoor, maar… – en hier breek die ketting stukkend – hulle het nie geglo nie! ‘n Mens kry die idee dat Paulus homself net gou hiervan wou vergewis, hy wou net seker wou maak dat sy volksgenote nie dalk êrens aan die kortste end van God se heilsketting getrek het nie… want dan sou hulle ‘n verskoning hê. Maar nee, Paulus moet ongelukkig konstateer: die Jode staan skuldig omdat hulle die Woord gehoor het, maar nie geglo het nie.  Gemeente, in hierdie voorbeeld van die Jode is daar vir ons ‘n duidelike waarskuwing. Ons mag net soos die Jode die evangelie hoor. En vergelyk jouself dan maar ‘n slag met ‘n groot deel van die res van die wêreld, en sien hoe ryk ons is. Vir die meeste van ons kom die evangelie nou al vir baie jare elke Sondag twee maal na ons toe. Ons het ‘n bybel wat ons kan lees, ons mag deel wees van groepe waar die bybel bestudeer word, ons ontvang katkisasie, ensovoorts! Het ons dus gehoor? Natuurlik het ons gehoor! Ons het in oorvloed gehoor! Maar het ons geglo? Dit is ‘n belangrike vraag, broers en susters. Die Here het gestuur, die verkondigers het gepreek, jy het gehoor, maar het jy geglo? Glo jy met jou hart dat, volgens vers 9, God vir Jesus uit die dode opgewek het? Hoekom moet ons spesifiek dít glo? Wel, Paulus gebruik as’t ware die kernpunt van die evangelie, Christus se oorwinning oor die dood, om daarmee die hele evangelie saam te vat. Sy vraag is dus eintlik: glo jy in die hele evangelie, soos wat dit sy hoogtepunt vind in Jesus se opstanding? En bely jy gevolglik ook met jou mond die Here Jesus? Gemeente, laat dit nie by ons soos met die Jode wees dat die evangelie in oorvloed gepreek is, maar dat God ten spyte daarvan moet sê: “Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ‘n ongehoorsame en teësprekende volk.” Maak daarom jou oë oop en sien dat God reg voor jou is. Ja, in die prediking laat Hy Homself tot by jou bring. Hy wat naby ons kom, láát Homself ook naby bríng deur eenvoudige mense, sondige mense, mense met foute en gebreke. Dit is die weg wat Hy gekies het om Homself tot by ons te bring – eenvoudige sondaars, wat met vrymoedigheid kan sê: “dit is die woord van die geloof wat ons verkondig.” Hoor hierdie woord – u is beslis nie benadeeldes wat dít betref nie; inteendeel, u is bevoorregtes. Sien wat die Here doen deur sy bedienaars en moet dit nie verag nie, maar glo die Woord! En, broers en susters, presies in verband hiermee gaan ons net na hierdie erediens daaroor besin of ons nog ‘n evangeliedraer gaan beroep, ds. Magagula, vir die sendingwerk in die gebied F4. En verder gaan ons ook net hierna met blydskap herdenk dat ds De Boer al vir meer as dertig jaar die evangelie mag uitdra. Pragtige dinge! Maar laat ons agter dit alles die Here raaksien – Hy stuur, Hy maak mense bekwaam en bereid. En niemand het dit beter as Paulus verstaan nie – hy getuig immers verskeie male dat die Hére hom gestuur het om die evangelie na die heidene te bring. Mense besluit so iets nie op hulle eie nie, die Here stuur. En laat ons daarom die Hére dank vir die moontlikheid om ‘n nuwe sendeling te kan beroep – ons roem nie in ds. Magagula se gawes nie, maar ons roem in die Here wat hom stuur. En verder dank ons die Hére vir ds De Boer se ampsdiens wat oor ‘n tydperk van dertig jaar strek. Deur siektes en moeites heen het die Here hom getrou gemaak in die bediening van die evangelie. Ons roem in God se genade oor dertig jaar. En ons roem in die Here oor elke evangeliedraer wat met lieflike voete die evangelie van die goeie verkondig – hier in ons land, en ook oor die hele wêreld.  Want dit ís die manier, gemeente, waarop die Here Homself baie naby aan ons bring. Naby jou is die Woord… Jy het gehoor; glo nou ook! En wanneer ons glo, broers en susters, dan kan ons ook die Here aanroep, en kan ons sê: “Dankie Here, vir ds. Magagula, dankie vir ds. De Boer, dankie dat U stuur, dat U naby kom. Want U nabyheid is vir ons die lewe. Amen

Liturgie (oggend)

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 108:1 en 4

Wetslesing

Sing Ps. 99:3-5

Doopsformulier

Doopsbediening & dankgebed

Sing Ps. 105:5

Lees:    Romeine 9:30-10:21

            Deuteronomium 30:9-16

            Genesis 28:10-17

Sing Skr. 24:1 en 6

Teks: Romeine 10:6-10, 13-15

Preek

·        Na punt 1: Ps 139:2, 4 en 6

·        Amenlied Skr. 22:3-5, 9-11

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 147:1, 6 en 7

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)