Die doop – sintuiglik-waarneembare waarborg van God se beloftes!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-02-22
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 27
Verwysing: 
HK 27a-1 (2009)
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 27; lees Kolossense 2:4-23

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week het u saam met ds. Boon gekyk na die eerste Sondagsafdeling wat die Kategismus aan die doop gewy het (Sondag 26). Daar maak die Kategismus duidelik dat, om gedoop te wees, beteken om aan Christus te behoort. Jy dra nou nie meer die teken van jou slawedrywer – die Satan – nie, maar jy dra nou die teken van jou nuwe Meester, Jesus Christus. Dit bepaal dan ook jou identiteit as mens; dit bepaal wie jy werklik is. En deurdat jy aan Jesus Christus behoort, het jy ook die reg om te deel in alles wat Hy verdien het, naamlik vergifnis van sondes deur sy bloed, asook die vernuwing van die lewe deur die werk van die Heilige Gees.

Maar wanneer ons nou na Sondag 27 kyk, dan lyk dit asof die Kategismus in herhaling begin verval; behalwe vir die vraag en antwoord oor die kinderdoop, wil dit voorkom asof die Kategismus in Sondag 27 eintlik maar presies dieselfde sê as in Sondag 26. En inderdaad, om duidelik raak te sien wat die núwe aspek is wat die Kategismus ons in Sondag 27 wil leer, is nie so eenvoudig nie.  

Miskien kan ons die ‘nuwe’ van Sondag 27 die beste saamvat met die woorde ‘teken en seël’ – dit is die bekende woorde wat die NGB in artikel 33 gebruik om die sakramente te beskryf. Ons lees daar: “[Die sakramente] is immers sigbare tekens en seëls van ‘n inwendige en onsigbare saak, en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees.” Tekens en seëls…

Die doop is dus enersyds ‘n teken om – soos art. 33 dit beskryf – “vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee…” Die doop is as’t ware soos ‘n pragtige skildery van God se beloftes – elkeen kan met sy eie oë sien wat God daarin belowe, naamlik dat Hy ons reinig van al ons sondes.

En andersyds is die doop ‘n seël – nou, gemeente, ‘n seël op ‘n dokument waarborg die egtheid en die betroubaarheid van daardie dokument. Net so is die doop God se seël waardeur ons mag weet dat die heil wat God vir ons belowe het, nie onseker is nie, maar vasstaan!  

Die doop is dus ‘n teken en ‘n seël – ‘n sintuiglik-waarneembare waarborg – van God se beloftes in sy Woord. Maar, gemeente, het God se beloftes in sy Woord dan nodig om gewaarborg te word? Is daar enige iets onseker aan God se beloftes? Nee, maar ons het dit nodig! En daarom begin artikel 33 van die NGB ook deur te sê: “Ons glo dat ons goeie God, omdat Hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou.” Dus, ‘n sintuiglik-waarneembare waarborg – vir óns! Niks meer as dit nie, maar ook niks minder as dit nie… En juis hierop gaan Sondag 27 dieper in. Ek het die boodskap soos volg saamgevat:

Tema: Die doop – sintuiglik-waarneembare waarborg van God se beloftes!

  1. Die gevaar van veruiterliking
  2. Die belang van die uiterlike teken

1. “Is die uitwendige waterbad self dan die afwassing van die sonde? Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sonde.” Broers en susters, in hierdie vraag en antwoord spreek die Kategismus baie duidelik die gevaar teë dat ons van die teken en seël van die doop meer maak as wat dit is, dat ons aan die doopwater ‘n waarde toeken wat God nie daaraan gegee het nie.

Ons sien hierdie gevaar baie duidelik in die doopsleer van die Rooms Katolieke Kerk – volgens die Roomse is daar een of ander verborge krag in die doopwater, sodat die genade as’t ware in die dopeling ingegiet word wanneer hy gedoop word; amper soos wanneer ‘n mens jou motor se tenk voltap met brandstof. En dit is, in die lig van hierdie siening, vanselfsprekend dat die doop onmisbaar word vir die saligheid. Hierdie genade-draende water moet immers in jou ingegiet word, jy kan nie daarsonder nie. En daarom word, in die Roomse Kerk, babatjies so vinnig as moontlik na geboorte gedoop, vir in geval hulle vroeg sou sterf. En verder mag selfs ‘n gewone lidmaat die doop bedien wanneer iemand in lewensgevaar sou verkeer, en daar nie ‘n priester naby is om die doop te bedien nie. Solank as wat jy maar net daardie magiese water binnekry voordat jy doodgaan… Maar, broers en susters, dit is nie slegs die Roomse kerk wat aan hierdie soort van veruiterliking ly nie. Nee, deur eeue se heilsgeskiedenis moes God die volk Israel telkemale hiervoor waarsku. Dink byvoorbeeld aan die tyd toe die volk Israel deur die Filistyne verslaan is – 1 Samuel 4. Wat het hulle toe gedoen? Hulle het die ark laat haal om in hulle midde te wees, want met die ark is immers in die verlede ook al wonders verrig. Met die ark was God mos self in hulle midde! Maar hulle het vergeet dat, aangesien hulle God verlaat het, die ark nie meer die teken van God se teenwoordigheid in hulle midde was nie. Dit was nou ‘n eenvoudige houtkis. En hierdie houtkis het hulle doodskis geword, want hulle het die fout gemaak om die téken wat God gegee het, die vórm dus, te beskou as die ware Jakob. Die ark het, vir hulle, Gód geword; die ark het ‘n soort towerstaffie geword. En dit terwyl hulle nie meer die God van die ark na waarheid gedien het nie! En ons ken die uiteinde van hierdie geskiedenis… 

En gemeente, dit is nou ook presies waarvoor Paulus die Kolossense waarsku in die gedeelte wat ons gelees het. Uit verskeie verse in hierdie hoofstuk blyk dit dat Paulus die gemeente van Kolosse waarsku vir die gevaar van dwaalleraars. Hy sê onder andere in vers 8: “Pasop dat niemand julle as buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.” En dan sien ons ‘n paar verse later, in verse 16 en 17, wat Paulus bedoel met hierdie “oorlewering van mense” en die “eerste beginsels van die wêreld”; hy sê daar: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge…” Paulus waarsku dus sy lesers teen, waarskynlik, die Jode in Kolosse wat baie sterk op die uiterlike dinge gefokus het – die vorm.

Om dit te verduidelik gebruik Paulus hier die beeld van ‘n skaduwee – nou, gemeente, ‘n skaduwee wys dat iemand oppad is; jy kan die persoon self nog nie sien nie, maar die skaduwee is die bewys daarvan dat hy binnekort om die hoek gaan kom. En daarom, broers en susters, klou jy mos nie vas aan die skaduwee nie, die skaduwee is mos nie die persoon in lewende lywe nie? Nee, die skaduwee laat jou juis uitsien na die persoon wat oppad is! Maar ‘n mens kry die idee dat die Jode in Kolosse aan die skaduwee bly vasklou het, en hulle het van die gemeente verwag om dieselfde te doen.

En een van die skaduwees waaraan hierdie Jode vasgehou het, was die besnydenis. Hulle het dit noodsaaklik geag dat die christene uit die heidendom ook besny moes word. En daarby het dit vir hulle nie soseer oor die betékenis van die besnydenis gegaan nie, maar oor die uiterlike teken op sigself. Die teken het vir hulle die sáák geword. En in konfrontasie hiermee sê Paulus in verse 11 en 12 vir die gemeente van Kolosse: “Julle is al besny, maar met ‘n besnydenis wat baie meer beteken as die uiterlike besnydenis.” 

Sien u, gemeente, dat die Kategismus se waarskuwing teen veruiterliking van die doop – trouens, van die hele godsdienstige lewe – geen ongegronde waarskuwing is nie. Die geskiedenis van God se volk, sowel as die geskiedenis van die kerk bewys die realiteit van hierdie gevaar. Die gevaar dat die uiterlike vorm belangriker geag word as die inhoud van daardie vorm; die gevaar dat die uiterlike doopsbediening belangriker geag word as dít wat God deur die doop belowe. Die doopwater word belangriker as dít waarvoor die doopwater staan, naamlik dat dit ‘n teken en seël is van God se beloftes in Jesus Christus!

En, gemeente, dit is nie slegs die volk Israel en die Rooms-Katolieke Kerk wat aan hierdie veruiterliking gely het of steeds ly nie. Ook onder ons dreig voortdurend hierdie gevaar; die gevaar dat die uiterlike vorm die saak self word! Dan begin mense dink dat om gedoop te wees, genoeg is, en dat die uitwendige water wat oor ons gesprinkel is die afwassing van die sonde self is. En mense begin dink dat om lidmaat van die kerk te wees, outomaties dieselfde beteken as om kind van God te wees. Ja, dan begin ons die gedaante van godsaligheid vertoon, maar ons het die krag daarvan verloën – soos Paulus sê in 2 Tim. 3:5. Terloops, die Griekse woord wat Paulus hier vir ‘gedaante’ gebruik, is morfe; ons vind hierdie woord byvoorbeeld terug in ons Afrikaanse woord ‘morfologie’, wat ‘vormleer’ beteken. Paulus sê dus in 2 Timotheus 3 dat as ons slegs die vorm van godsdienstigheid vertoon, dan het ons die krag van die geloof verloën en verloor. Die geloof rig hom immers nie op die vorm nie, want die geloof is – volgens Hebreërs 11:1 – nie ‘n bewys van die dinge wat ons wél kan sien nie, maar eerder van die dinge wat ons nie sien nie! Die geloof rig hom op die onsigbare werklikheid agter die vorm! 

En daarom is die Kategismus se waarskuwing baie nuttig op hierdie punt: “Pasop, die uitwendige waterbad is nie sélf die afwassing van die sonde nie!” Slegs die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sonde. Ja, dit is waar, dit is ‘n sigbare teken en seël, maar – soos NGB, artikel 33, sê – dit is ‘n sigbare teken en seël van ‘n inwendige en onsigbare saak. Dank God daarom vir die vorm, die teken en seël van die doop, maar stoot ook dieper deur na die ware inhoud daarvan.

Die doop word ons verderf as ons slegs aan die uiterlike teken bly vashou en nie verder kom as die water nie; water waarvan artikel 33 van die NGB sê dat dit maar net “gewone water” is. Moet daarom nie stop by die feit dat jy gedoop is nie; nee, jou doop is die poort wat vir jou toegang verleen tot die heerlike geheim van Christus se bloed en van die Heilige Gees – vir jou! En daarom – soos Paulus sê – ons besnydenis is nie met hande nie, maar ons het deur die doop deel aan die besnydenis van Christus – dit beteken dat ons saam met Hom begrawe is en die liggaam van die sondige vlees afgelê het, en dat ons saam met Hom opgewek is in ‘n nuwe lewe! En daardie nuwe lewe moet jy elke dag weer soek. Elke dag opnuut moet jy lewe van die bloed van Christus en deur die krag van die Heilige Gees. Elke dag opnuut vra dat ons in berou voor die Here ons skuld bely en in Christus vergifnis ontvang. Maar dit is ‘n geloofsaak, broers en susters! Dit gebeur nie met die swaai van ‘n towerstaffie nie, dit gebeur nie deur vas te klou aan die vorm nie. Nee, in geloof moet ons deurdring na die groot geheim wat in die doop vir ons aangedui is.

Ons let vervolgens op die belang van die uiterlike teken.

 2. Die waterbad is dus nie self die afwassing van die sonde nie; hierdie gewone kraanwater in die doopvont was nie self die sonde af nie. Nee, die water is die teken en die seël – die vorm, dus – en nie die saak self nie. En tog kan ons nie ontken dat die Gees wel op dié manier in die Skrif daaroor praat nie. En dit is dan ook die volgende vraag van die Kategismus: “Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?” (v/a 73) En dan verwys dit terug na die laaste twee teksverse wat in antwoord 71 aangehaal word, naamlik Titus 3:5 en Handelinge 22:16. Waarom sou die Here dit in hierdie Skrifgedeeltes laat klink asof die vorm die saak self is, terwyl dit dit nie is nie?  Wel, gemeente – in die woorde van die Kategismus – God het dit nie sonder gewigtige redes gesê nie. God het presies geweet wat Hy doen toe Hy só die doop beskryf het. Want teenoor veruiterliking aan die een kant – waarna ons in die eerste punt gekyk het – dreig aan die ander kant die groot gevaar dat die waarde van die doop uitgehol word, dat ons nie meer sien wat die doop werklik beteken nie. Ja, ons doop ons kindertjies, want so word dit by ‘ons’ gedoen, en almal dink dis pragtig: hierdie klein babatjie met die water op die kop, en ons sing Ps. 105:5 wat selfs die jong kinders kan saamsing. Alles is baie mooi, maar later dink ons eintlik nooit meer daaraan nie. Die doop word so maklik iets wat lank gelede gebeur het, maar wat vir ons geen Goddelike waarborg vir die res van ons lewens inhou nie; ‘n mooi seremonie, maar geen werklikheid vir elke dag nie. Dit is nie verniet dat die doopsformulier die waarskuwing rig dat ons ons kinders nie uit gewoonte of bygelowigheid moet laat doop nie. Ja, gemeente, dit is ‘n groot gevaar! En dan wil ek die vraag aan u stel: wie van ons wérk nog met sy doop? Wat bedoel ek hiermee? 

Wel, gemeente, ons doop behoort ‘n realiteit van elke dag te wees. Iets hiervan sien ons in Kolossense 2. In hierdie gedeelte noem Paulus die doop spesifiek die “besnydenis van Christus”.  Die besnydenis het naamlik in die menslike vlees gesny, God het sy eiendomsmerk in die lewens van mense ingekerf – in die Ou Testament natuurlik net die manlike lede van die volk. En tog kon geen Israeliet hierdie persoonlike litteken negeer nie. Daardeur het elkeen geweet: God wil my as sy eiendom hê, Hy neem my op in sy familie, Hy sny my sondige bestaan weg en gee vir my ‘n nuwe hart.

Maar, broers en susters, dit was slegs ‘n besnydenis met hande verrig – dit wil sê, mensehande. Die besnydenis wat die Kolossense egter ondergaan het, is deur God self verrig; hulle is op die hoogste vlak besny. En hierdie goddelike besnydenis het die aflegging van die liggaam van die sondige vlees behels (vers 11)! Die Kolossense het dus die hele sondige bestaan afgelê, uitgetrek soos ‘n kleed wat nie pas by mense wat Christus leer ken het nie. Waar die manlike Israeliet in die Ou Testament slegs ‘n klein stukkie van sy vleis verloor het, het die Kolossense die volledige ou mens uitgetrek.

In die volgende vers (v. 12) blyk dat dit vir Paulus hier oor die doop gaan – die Kolossense is saam met Christus begrawe in die doop. Die ou mens is deur die onderdompeling in die water begrawe. Nie slegs vir ‘n deel nie, nee, volledig! En toe hulle uit die water opgekom het, het daar ‘n nuwe mens opgestaan.  

Dus, broers en susters, die ‘besnydenis van Christus’ – die doop – is ‘n persoonlike gebeurtenis waarby jy saam met Christus begrawe, en saam met Hom opgewek word. Wanneer jy in die Naam van Jesus gedoop word, word die resultate van Jesus se dood en opstanding jou persoonlik toegereken. Só kerf God sy Naam op jou lewe in! Ja, sommige mense kies vir tatoeermerke; dikwels is dit die naam van ‘n meisie of ‘n ou; ander kies weer vir ringetjies in hulle lip of neus of wenkbrou. Christene word gedoop! Daarmee kerf God sy eiendomsmerk in jou in! Daarmee lê Hy beslag op jou hele lewe!

En daarom, broer en susters, as jy gedoop is, kan jy dit nie negeer nie, dit is nie iets waarby jy onverskillig verby kan loop nie. Want daardie water wat oor jou uitgegiet is, is geen leë teken en seël nie; God skilder nie vir sy kinders lugkastele wanneer hulle gedoop word nie. Nee, die doop is teken en seël van ‘n geweldige groot werklikheid! Ja, heeltemal reg, ons het reeds hierbo gesien dat die uitwendige waterbad nie self die afwassing van die sonde is nie. Die water is nie self die werklikheid nie. Maar die water bring wel daardie werklikheid met hom saam! In die doop gaan God se skatkis van genade vir jou oop, en die skatte van genade lê daar om geglo en aangeneem te word.  Kom ons doen gou die moeite om te luister na wat die doopsformulier sê oor die inhoud van die skatkis. Ek lees vir u die volgende uit die doopsformulier:“As ons in die Naam van die Vader gedoop word, verklaar en verseël die Vader aan ons dat Hy ‘n ewige genadeverbond met ons oprig, ons tot sy kinders en erfgename aanneem en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik. En as ons in die Naam van die Seun gedoop word, verseker die Seun aan ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes. Hy maak ons een met Homself in sy dood en opstanding, sodat ons van ons sondes bevry en voor God regverdig gereken word. Net so ook as ons in die Naam van die Heilige Gees gedoop word, verseker die Heilige Gees ons dat Hy in ons wil woon en ons tot lewende lidmate van Christus wil maak. Want Hy maak tot ons eiendom wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuweng van ons lewe. So sal ons eendag volkome rein ‘n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorene in die ewige lewe.” Sien jy dit? Sien jy wat alles in die doop na ons toe kom, al God se skatte? En, gemeente, God se skatkis gaan nie toe die dag nadat jy gedoop is nie. Nee, sy skatkis bly jou hele lewe lank oop, jou hele lewe lank bly die vonkelende skatte van genade jou wink, jou doopnaam staan selfs op daardie kis. Dít is die werklikheid wat in die doop na ons toe kom. Geen onsekerheid nie; nee, net so werklik – dit is die woorde van die Kategismus – as wat die water oor jou kop uitgegiet word, net so seker word hier skatte vir jou aangebied, word hierdie skatte in jou lewe gewerk deur die Heilige Gees.  

Beteken dit ‘n gedoopte kan nie verlore gaan nie? Wel, ons weet almal dat gedooptes verlore kan gaan; dit is ‘n baie hartseer saak – veral vir ouers! – wanneer iemand, wat gedoop is, later besluit om sy rug op die Here te draai. Maar was die skatte van genade, wat God belowe het, daarom nie eg nie? Nee, dit is lewenseg, dit is die grootste werklikheid wat daar bestaan. Maar die werklikheid soek wel ‘n antwoord, die doop vra om beleef en geleef te word. God gee aan jou al die skatte van genade, maar dan soek Hy vervolgens ook jou geloof en jou antwoord: “Ja, Here, ek glo dat hierdie skatte ook vir my is!”

Dus, gemeente, jou doop vra dat jy daarmee sal gaan werk. Jou doop is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, jou doop het nie slegs een datum op nie, naamlik die datum van die dag toe jy hiervoor deur jou ouers na die doopvont toe gedra is. Nee, jou doop dra vandag die datum van vandag – Sondag, 22 Februarie 2009. Vandag, nou, bied God jou al sy skatte van genade aan, en Hy vra dat jy vandag daarmee gaan werk, dat jy dit in geloof sal aanvaar as iets wat werklik vir jou bedoel.

En wanneer ons so daarna kyk, wanneer ons so konkreet met God se beloftes – soos in die doopsformulier verwoord – gaan werk, dan begin ons ook anders kyk na die lewe van elke dag. Dan staan ek soggens in hierdie land op – met dankbaarheid, omdat die Here belowe het dat Hy vir my ‘n Vader sal wees wat my met alle dinge wil versorg en alle kwaad van my wil afweer. Dan kan ek berus in wat God oor my lewe beskik het, omdat Hy as Vader gesê het dat Hy alle kwaad, wat wel oor my lewe kom,  tot my beswil sal beskik. Dan gaan ek werk toe, wetende dat God my nuwe Eienaar is en dat ek my werk vir Hom doen. Dan gaan ek saans op my knieë om, op grond van die belofte van Christus se bloed, vergifnis van sondes te vra. En dan gaan ek Sondae kerk toe, omdat die Heilige Gees belowe om my ‘n lewende lid van Christus te maak.  

Ja, so deurtrek my doop my hele lewe. Laat ons onsself daarin oefen, broers en susters. Oefen jouself daarin om nie net ‘n histories-gedoopte te wees nie (iemand wat êrens in die verlede die doop ontvang het), maar om ‘n praktiserende gedoopte te wees (iemand wie se doop vandag saakmaak), juis omdat God saakmaak, juis omdat die lewe met Hom vir jou so lewensbelangrik is!

Amen

 Liturgie (aand) Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 74:2, 9, 12, 16

GebedLees: Kolossense 2:4-23Sing Ps. 51:4, 7 en 8Teks: HK, Sondag 27PreekAmenlied Ps. 105:3, 4 en 6GebedBelydenis van geloof (staande en singende)Kollekte

Slotsang Ps. 33:2, 6, 10 en 11

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)