Die Here maak regverdig!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2009-01-25
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 23
Verwysing: 
HK 23-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 23; lees Sagaria 3 en 2 Korinthiërs 5:11-21

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het die Kategismus se bespreking van die Apostoliese Geloofsbelydenis afgesluit. En noudat ons hiermee klaar is, is dit goed om saam vir ‘n oomblik terug te staan en ‘n oorsig te kry van waarmee ons onsself in die laaste halfjaar of wat besiggehou het.

As u terugblaai na Sondag 7 – v/a 22 – dan lees u daar die vraag: “Wat moet ‘n Christen glo?” En die antwoord: “Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.” Hieruit vloei die vraag: “Maar hoe lui die artikels?”, en dan volg die twaalf artikels, oftewel die Apostoliese Geloofsbelydenis. Sondag 8 gee vervolgens ‘n verdeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis in drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking. En dit is aan die hand van hierdie driedeling dat die Kategismus dan daartoe oorgaan om elke artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis te bespreek. Sondag 9 en 10 handel oor God die Vader en ons skepping, Sondag 11-19 oor God die Seun en ons Verlossing, en Sondag 20-22 oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

 

Dit bring ons by Sondag 23… En dit is opvallend dat die Kategismus dan eintlik terugspring na die saak van die geloof waaroor dit in Sondag 7 gegaan het. In kort kan ons dus sê: Wat moet ‘n Christen glo? (Sondag 7) Wel, die evangelie en die samevatting daarvan in die Apostoliese Geloofsbelydenis (Sondag 8-22). En dan in Sondag 23: maar wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Na hierdie lang bespreking van wat jy as christen behoort te glo, kom uiteindelik die vraag: wat is die sin daarvan dat jy dit glo? Bring dit jou enigsins verder? Wat is dus die waarde van jou geloof?

Moontlik is dit ‘n vraag wat jy lankal het… Miskien is dit vir jou nie slegs ‘n teoretiese vraag nie, maar ‘n werklikheid, ‘n worsteling van elke dag… Ja, God die Vader, die maagd Maria, Pontius Pilatus en die kruisiging, die Heilige Gees, die gemeenskap van die heiliges, die vergifnis van sondes, die opstanding van die liggaam – ek weet dit alles, maar hoekom sou ek dit glo? Is dit die moeite werd om geglo te word? Wat bring dit my in die sak in ‘n wêreld waar my huwelik en my gesin, die ekonomie en die misdaad, my werk en my ontspanning skynbaar ‘n baie groter – en daarby ook nog tasbare – werklikheid is? Ja, in so ‘n werklikheid kan die vraag ontstaan: wat baat dit my dat ek dit alles glo? Dit is ‘n baie goeie vraag! Die behandeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis kan so maklik in ‘n teoretiese verhandeling ontaard, waarin ons allerhande vernuftige dinge kwytraak, terwyl die vraag verlore gaan: wat beteken dit vir jou lewe, wat beteken dit vir my lewe? Gemeente, ek mag vanaand aan u die evangelie verkondig wat die moeite werd is om geglo te word! ‘n Evangelie wat vir jou ‘n nuwe wêreld oopmaak – ‘n wêreld van ‘n nuwe verhouding met God, en ‘n wêreld waarin jy ‘n erfgenaam is van die ewige lewe!

Tema: die Here maak regverdig!

  1. Die voorwerpe van die regverdiging
  2. Die voorwaarde vir die regverdiging
  3. Die voorregte van die regverdiging

 

1. In Sagaria se derde naggesig, hoofstuk 2, belowe die Here dat Hy Jerusalem gaan uitbrei so ver as wat die wêreld wyd is. Hy self sal ‘n vurige muur rondom Jerusalem wees, en Hy sal met sy heerlikheid in haar kom woon. Is dit nie ‘n ongelooflike vooruitsig vir die volk wat sopas uit ballingskap teruggekeer het nie? Daar is werklik rede vir groot blydskap: immers, volgens hierdie naggesig sal die kerk op ‘n ongekende wyse uitgebrei word. Maar wag eers … daar is ‘n probleem: want kan dit sommer so gebeur? Kan dit sommer so gebeur dat daar ‘n toekoms is vir ‘n kerk met wie dit, deur eie toedoen, glad nie so goed gaan nie, met ‘n volk wat dit glad nie verdien nie? As die Here werklik hierdie belofte gaan vervul, moet Hy dan nie baie dinge deur die vingers sien nie, baie sondes, baie gebreke?

Wel, broers en susters, dit is hierdie soort vrae wat ons in die middel van Sagaria se vierde naggesig plaas – hoofstuk 3 wat ons saam gelees het. Ons word saamgeneem na die hemel, waar daar ‘n soort hofgeding aan die gang is. Josua, die hoëpriester, staan voor die Engel van die HERE. Die Engel van die HERE is die Seun van God in sy Ou Testamentiese gestalte. En Josua is bekleed met vuil klere. Hy pas nie in by die res van die geselskap daar in die hemel nie. Sy besoedelde klere staan in skryende kontras met die reinheid van die hemelse sfeer. Teenoor die reinheid van die hemel is Josua vuil van die sonde – vuil van sy eie sonde, vuil van die sonde van die volk wat hy as hoëpriester verteenwoordig.

 

En wanneer ons vervolgens hoor hoe die satan vir Josua aankla, dan moet ons nie dink dat die satan jok of onredelik is nie. Nee, hy is heeltemal reg. Só het die volk inderdaad voor God gestaan, ook al het sy sopas nog uit ballingskap teruggekeer. Skaars was sy terug uit Babel of daar was al weer baie te sê oor die kerk – dink maar net aan die huwelike met die heidense vroue, dink aan die laksheid om die tempel te bou, dink aan die gerigtheid op eie rykdom en versorging – en dan is daar sekerlik nog meer wat genoem kan word. Ja, broers en susters, Josua se klere was so geweldig vuil – en die satan sien dit raak en hy lag in sy mou. Maar dit is nie al nie: die Engel van HERE het dit natuurlik ook gesien, want met sy vuil klere het Josua reg voor hierdie Engel gestaan. Met die sondes van die volk het Josua in die volle lig van die Seun van God gestaan; daar was geen wegkruipplek nie, daar was nêrens waarheen hy kon vlug nie.

 

Gemeente, só staan die kerk voor God, só staan óns voor God – met vuil klere, met al ons baie sondes, met al ons onheiligheid en al ons liefdeloosheid, al daardie verborge sondes. Nee, daar is vandag nie meer ‘n satan wat ons in die hemel kan aankla nie; sedert Christus se sterwe en hemelvaart is die satan uit die hemel uitgewerp, geen plek meer vir hom nie. Maar die aanklag bly, die aanklag van my eie gewete dat ek, dat ons, teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie, en dat ons nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is – dit bely ons in antwoord 60. So staan ons met die vuilheid van ons sondes oop en bloot voor God. En wanneer ons hierdie werklikheid behoorlik tot ons laat deurdring, goed daaroor nadink, ja, dan kan dit ons benoud maak: watter toekoms het die kerk werklik? Watter toekoms het ek? Sal die Here ooit saam met ons gaan? Hierdie vrae moes sekerlik ook in Josua se hart geleef het: sal die teruggekeerde deel van die volk bly bestaan? Is daar vir hierdie oorblyfsel werklik ‘n toekoms?

 

En dan gee die Here die antwoord, ‘n onverwagse antwoord. Hy rig Hom, opmerklik genoeg, nie tot Josua nie, maar tot die satan: “Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf! Is hierdie een nie ‘n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?” Dus, ook al is die satan se beskuldiging nie sonder grond nie, laat die Here Hom nogtans nie daardeur ophits nie. Laat die satan maar beskuldig soos wat hy wil, dit is nie waar nie! Dit is nie waar dat die toekoms van die volk aan ‘n draadjie hang nie, dit is nie waar dat die toekoms van die kerk onseker is nie. Want die Hére het Jerusalem verkies – ‘n Jerusalem oor wie se sondes daar baie te sê is, ‘n Jerusalem wat deur eie toedoen soos ‘n brandhout in die Babiloniese vuur gelê het en besig was om daar tot as te verbrand. Maar die Here gryp in, Hy ruk Jerusalem uit die vuur, Hy verkies Jerusalem – nie vanweë Jerusalem nie, maar vanweë sy genade! Wanneer almal dink dat dit met die volk gedaan is, wanneer almal dink dat daar vir die kerk geen toekoms is nie, dan gee die Here self ‘n toekoms aan die kerk.

 

Maar dan stel ek weer die vraag wat ek vroeër gestel het: kan die Here dit sommer so doen? Kan daar sommer so ‘n toekoms wees vir ‘n volk wat dit nie verdien nie? Nee, die Here doen dit nie sommer so nie. Hierdie wonder gebeur slegs omdat die Engel van die Here die reg het om in vers 4 vir Josua te sê: “Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.” Agter die hoëpriester Josua staan daardie ander Hoëpriester, die een met dieselfde Naam – Jesus! Hy het op Golgota alle aanklagte teen ons stil gemaak; Hy, wat enkel en alleen rein en heilig en skitterend wit is, Hy het die vuil klere van ons sondes aangetrek. God het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat óns kan word geregtigheid van God in Hom – so het ons gelees in 2 Korinthiërs 5:21. Ja, gemeente, geregtigheid, regverdiging – deur die werk van Jesus Christus, verniet! Dit is die groot ‘nogtans’ van God se genade, die ‘nogtans’ van antwoord 60: “dat God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant uit louter genade die volkome genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk.” Dit skenk Hy aan Josua met sy vuil klere, dit skenk Hy aan jou en my, sy kerk van vandag. Dit skenk Hy aan sondaars, aan die vuiles van hierdie wêreld!

 

Broers en susters, laat ons baie goed besef hoe ons voor God staan. Laat ons nie vergeet nie dat ons van nature vuil is. Waar jy jouself, waar ons as gemeente onsself in die lig van die hemelse heerlikheid plaas, word elke hoekie en gaatjie van ons donker harte na vore gebring. Oop en bloot staan ons voor God. Soos wat ons sing uit Psalm 139: Waar sou ek heengaan van u Gees, of vlug om van u weg te wees? Geen uitkomkans nie!

Maar, gemeente, dit is ook hoe dit moet wees, dit is die opstelling wat God by ons wil sien. Want God regverdig sondaars; Christus, ons Geneesheer, het nie gekom vir dié wat gesond is nie, maar vir die siekes. Laat die Here ons daarom ontdek aan ons siekte, aan ons vuilheid. En ja, dit maak ons skaam, ons hou nie daarvan om as’t ware ontklee te word en in al ons vuilheid voor God te staan nie. Maar slegs wanneer ons dít doen, mag ons voorwerpe word van sy genadige regverdiging. Die voorwerpe van God se regverdiging is nie die regverdiges nie, maar die onregverdiges, die sondaars, die vuiles. Gelukkig is jy wanneer jy so voor die Engel van die HERE kan staan; gelukkig is die gemeente, die kerk, wat weet dat dit sy is wat soos Josua gelyk het, sodat Jesus kan red!

Ons let vervolgens op die voorwaarde vir die regverdiging.

 

2. Josua kry nuwe klere. Die vuil klere word van hom weggeneem, en hy kry feesklere. Ook ontvang hy ‘n rein tulband op sy kop. Die vuil priester, word weer rein gemaak, sodat hy as sodanig ook weer voor God kan verskyn. Hy en die volk wat hy verteenwoordig mag verder gaan lewe van God se genade!

Maar, let op gemeente, daar is ‘n voorwaarde aan hierdie nuwe lewe verbonde. Die Here sê in vers 7: “As jy in my weë wandel en as jy my verordeninge onderhou… ” Nee, Josua en die volk hoef nie dit alles te doen om die regverdiging te ontvang nie. Maar omdat hulle uit genade die regverdiging ontvang het, moet hulle nou ook ‘n lewe van geloof voor God se aangesig gaan lei. God soek dus die gepaste reaksie op sy genadige verlossing, dit is die voorwaarde. God laat nie maar net toe dat sy geskenk van regverdiging en genade vertrap word nie. Nou, broers en susters, die enigste gepaste reaksie op God se genade is geloof en ‘n lewe uit die geloof. Wanneer God die wonderdaad van skuldvergifnis en regverdiging verniet vir ons gee, dan vra dit oorgawe, omhelsing van Jesus Christus en sy werk.

 

En waar vind ons hierdie oproep mooier as juis in 2 Korinthiers 5 wat ons saam gelees het. In hierdie gedeelte tree Paulus as ambassadeur van God op. En in die lig van wat God deur Christus vir sondaars gedoen het, is dit vir Paulus ‘n saak van groot erns om die goeie nuus te bring en die oproep te laat hoor: laat julle met God versoen!

Hier vind ons God se oproep aan alle mense sonder uitsondering; dit is geldig vir alle mense van alle tye en plekke. Inderdaad, in verse 18 en 19 lees ons dat God die wêreld met Homself versoen het, maar nou soek Hy ook die antwoord. God bied die versoening aan, maar Hy verwag van ons om dit nou ook aan te neem. Hy vra geloof! Sonder geloof kan niemand gered word nie, sonder geloof is daar geen saligheid nie. Let egter op, gemeente, dat daarmee die geloof nog geen verdienstelike karakter kry nie, ons gelóóf verdien nie vir ons die verlossing en die herstel van die verhouding met God nie.

So dikwels in die geskiedenis van die kerk het hierdie gedagte sy kop uitgesteek; dink maar aan die Remonstrante in die tyd van die Dordtse sinode. O ja, die Remonstrante wou ook die regverdiging deur die geloof vashou; maar vir hulle was die regverdiging en die vergewing van sondes afhanklik van die geloof; eers geloof en dan, as gevolg daarvan, regverdiging! En as die gereformeerdes hulle dan daarop gewys het dat die geloof ‘n genadegeskenk van God is, dan het die Remonstrante dit heelhartig erken; hulle het nie moeite gehad met die gedagte dat ons deur God se genade die geloof ontvang nie, maar uiteindelik was hierdie deur-God-gewerkte geloof vir hulle tog wel die grond vir die regverdiging van die mens.

 

En, gemeente, dit is so ‘n subtiele gedagteskuif, so ‘n fyn lyn wat ons hier moet raaksien. Luister mooi: die geloof rig hom op Jesus Christus, en by Hóm vind ons die volle saligheid; en nie: die geloof rig hom op Jesus Christus, en op grond van daardie geloof word ons dan verlos nie. Nee, sodra hierdie subtiele skuif in ons gedagtes en lewens opkom dan rig ons nie meer ons verwagting volledig op Jesus Christus nie, hoe mooi ons ook al oor Hom praat. Dan rig ons in werklikheid ons verwagting terug op onsself, op ons geloof! Maar dan is dit ook nie meer geloof nie; nee, dan het dit verdienste geword. Ware geloof soek geen verdienste nie, maar rig hom inteendeel op sy groot Verdienste, Jesus Christus! En dit is wat ons ook bely in antwoord 61 van die Kategismus: “Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is. En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie.”

Ware geloof is ‘n gawe van God wat my in staat stel om Jesus Christus te omhels en sy verdienste myne te maak! Ware geloof is om teen alle waarskynlikheid in jouself te rig op waar jy weet daar werklik verlossing is. Ware geloof is die bedelaar met bakhande, wat sê: “Here, ek het niks om te bied nie, ek kom slegs om u genade te ontvang.”

 

Dus, wat baat dit jou dat jy dit alles glo? Wel, gemeente, geloof laat ons die reddende krag van God in ons lewens ervaar. Dít wat ek nie verdien nie, dít waarvoor ek volledig onwaardig is, word werklikheid wanneer ek my in geloof op Jesus rig. Geloof in Jesus Christus is werklik die moeite werd – daar kom genesing vir sondaars, daar kom nuwe lewe uit die dood. Wanneer jy daarom worstel met die geloof, wanneer jy wonder óf en hoekom jy glo, wanneer jy twyfel of die geloof enigsins wins boek – moet dan nie moedeloos word nie, keer elke keer weer terug na die sprekende God, na sy Woord, na sy oproep wat sê: Laat jou met God versoen! En dit beteken nie dat jy allerhande dinge moet gaan doen nie. Geloof is eenvoudig om te sê: Vader, Christus is vir my alles! En omdat Hy vir my alles is, daarom wil ek ook vir U alles gee. Hier is my lewe, neem dit, gebruik dit na U welbehae.

Ten slotte: die voorregte van die regverdiging.

 

3. Aan die geloof en ‘n gelowige lewe is daar vir Josua en die volk ‘n geweldige voorreg verbonde, ‘n voorreg vir nou en vir die ewigheid. Ons lees naamlik in vers 7 dat die Here die belofte skenk dat Josua, en deur hom die hele volk, vrye toegang sal hê onder diegene wat daar by hom in die hemel aanwesig is. Dit is ‘n besondere werklikheid wat hier vir die gelowiges ontsluit word. Deur die geloof in Jesus Christus, ons groot Hoëpriester, is die weg na die hemel oop. Waar ons voorheen slegs in vuil klere moes beef voor die regterstoel van God, mag ons nou met vrymoedigheid na die troon van genade gaan. Deur die geloof is daar niks wat ons keer om in die hemelse geweste binne te gaan en daar met God te kommunikeer nie. Besef u watter werklikheid hier vir ons oopgemaak word? Ware geloof bring ons te midde van ‘n leërskare van engele, maar meer nog: dit bring ons in ‘n nuwe verhouding met die Vader en met sy Seun, Jesus Christus. Wat ‘n voorreg!

 

En gemeente, is dit nie waaroor die lewe uiteindelik gaan nie? Soos ek in die inleiding reeds gesê het, is ons huwelike en ons gesinne, die ekonomie en die misdaad, ons werk en ons ontspanning vir ons dikwels ‘n baie groter werklikheid as God en Christus. Maar as dit die grootste werklikheid is wat daar vir ons bestaan, dan moet ons wel besef dat dit ‘n werklikheid onder ‘n geslote hemel is – dan is my huwelik een sonder God, dan is my gesin een sonder die teenwoordigheid van Christus, dan is die ekonomie en die misdaad probleme wat ek self moet hanteer, dan is my werk iets wat ek doen vir ‘n verganklike loon en my ontspanning word dan ‘n leë aktiwiteit.

Hierdie is alles dinge waarvan daar ‘n geweldige groepsdruk in ons tyd en wêreld uitgaan; ons staan onder groot druk om in hierdie dinge te doen en te wees soos wat die wêreld dit verwag. Sagaria 3 – die oop hemel – en 2 Korinthiërs 5 – laat julle met God versoen – speel geen rol in die wêreldse bepaling van sin en betekenis nie. Maar laat jou nie daardeur mislei nie. Sagaria 3 en 2 Korinthiërs 5 spreek van ‘n groter voorreg as wat die wêreld homself dit ooit kan voorstel: ‘n oop hemel, vrye toegang tot die Skepper en Verlosser van hierdie wêreld, ‘n gesonde en bloeiende verhouding met Hom wat alles in sy hand hou. Broers en susters, geniet deur die geloof van die voorregte van die regverdiging.

 

Maar Sagaria sien ook nog ‘n ander voorreg, een wat spesifiek vir die toekoms weggelê is; ons lees dit in vers 10: “In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal julle mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom.” Ons weet dat in Palestina, wanneer die ryp vrugte bewaak moes word, die boer en sy gesin hul intrek in eenvoudige hutte in die landerye geneem het. Dit was die tyd van rypheid, die tyd van oes en pluk. Dit was die tyd van vrede en welvaart en aangename rus.

Hierin, gemeente, vind ons ‘n aanduiding van die wêreldvrede. Die vrede, nie net van elkeen se eie hart en lewe nie, maar universeel, ‘n vrede wat die hele aarde raak. Want Christus is die ewige Vredevors, wie se koninkryk geen einde sal ken nie. So kom vir ons die nuwe hemel en die nuwe aarde in sig. Ja, daar kom ‘n tyd waarin die een vir die ander sal sê: kom geniet saam met my in die gemeenskap van die heiliges van die groot geskenk van die vrede wat alle verstand te bowe gaan: vrede, deur die bloed van die kruis. Vrede met God, vrede met mekaar, en vrede met die aarde.

Amen

  Liturgie (aand) Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 71:9, 12 en 14

GebedLees:    Sagaria 3            2 Korinthiërs 5:11-21Sing Ps. 130:2 en 4Teks: HK, Sondag 23PreekAmenlied Skr. 7:1, 5 en 8GebedBelydenis van geloof (staande en singende)Kollekte

Slotsang Ps.   84:3, 4, 6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)