Binne die huisgesin van God is daar besondere aandag vir die weduwees

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-12-07
Teks: 
I Timótheüs 5
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 5:3-8 en 16; lees 1 Timotheus 5, Mattheus 15:1-9, Lukas 2:36-38

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Ons het nou reeds verskeie male in die reeks preke vanuit 1 Timotheus gesien dat die gemeente die huisgesin van God is. En in ‘n geordende huisgesin word elke persoon met respek behandel, ooreenkomstig sy of haar ouderdom en geslag. Of miskien moet ek eerder sê: so behoort dit te wees, veral in ‘n christelike gesin! En God se huisgesin is hierop geen uitsondering nie; kyk maar na 1 Timotheus 5:1 en 2: “’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ‘n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.” Elke lid van die gesin behoort dus op die regte wyse hanteer word. Uiteraard word hierdie aanwysings in besonder aan Timotheus gegee, maar in sy optrede moet Timotheus ‘n voorbeeld vir die hele gemeente wees – só behoort julle almal met mekaar om te gaan.

Vervolgens spits Paulus hierdie reëls vir omgang toe op twee groepe binne die gemeente – in die eerste plek spits hy dit toe op die weduwees (verse 3-16), en in die tweede plek op die oudstes, die ampsdraers (verse 17-22). Dus, verse 1 en 2 vorm die algemene inleiding vir omgang binne die gemeente, waarop vervolgens twee spesifieke kategorieë bespreek word: eer vir die weduwees (vanaf vers 3), en dubbele eer vir die ouderlinge (vanaf vers 17). Vanoggend wil ons spesifiek let op die eerste groep: die weduwees.

 

Die vraag ontstaan egter waarom Paulus so uitgebreid aan hierdie groep in die gemeente aandag skenk. Wel, ongetwyfeld was daar rede in die gemeente van Efese self om hieraan aandag te gee; moontlik dat Timotheus vir Paulus raad oor hierdie onderwerp gevra het. Maar, gemeente, die besondere aandag vir hierdie groep sê ook iets oor God, dit sê iets oor God se sorg vir die weduwees en die wese. Ons is dikwels bang om dit so te noem, want net dalk beweeg ons onsself op die terrein van die bevrydingsteologie, net dalk kom ons op die vlak van die Belhar Belydenis, wat die laaste tyd heelwat aandag in die gedrukte pers ontvang het. En hierdie vrees is nie heeltemal ongegrond nie.

Maar wanneer ons sê dat God ‘n besondere sorg vir die weduwees en die wese het, dan spreek ons daarin ook die Skrif na. Behalwe die talle verwysings na die weduwees en die wese en die oproep om hulle te versorg, kan ons ook verwys na God se eie besondere sorg vir hierdie groep: ons sien byvoorbeeld hoe God vir Rut gevoed het tydens die gars-oes, en hoe Hy vir Naomi ‘n kleinkind geskenk het; ons sien hoe Hy die weduwee van Sarfat versorg het in die dae van Elia; en tydens die bediening van Elisa het Hy aan ‘n weduwee oorvloed aan olie geskenk. Hierdie selfde sorg sien ons ook by die Here Jesus toe Hy op aarde gewandel het – Hy het die weduwee van Nain se enigste seun lewend gemaak, Hy het die volharding van die biddende weduwee aangeprys, Hy het die leiers vermaan wat die huise van die weduwees opeet, en selfs aan die kruis het Hy voorsiening gemaak vir sy moeder in haar weduweeskap.

Daarby moet ons in gedagte hou, broers en susters, dat weduwees baie kwesbaar was in die bybelste tyd. Binne die sosiale reëls en strukture van daardie tyd was dit nie maklik vir weduwees om hulleself en hulle kinders te versorg nadat die man oorlede is nie. Sonder die beskerming van die man was ‘n weduwee dikwels blootgestel aan fisiese gevare, en die ekonomiese vermoë het ontbreek om in hulle eie behoeftes te voorsien, veral wanneer hulle bejaard was. Is vandag soveel anders?

 

Wel, broers en susters, om al hierdie redes was en is God besorgd oor die welstand van die weduwees, en daarmee saam oor alle lede van sy huisgesin wat besondere sorg nodig het: die siekes, die bejaardes, die gestremdes, die alleenstaande moeders… En as God oor hierdie mense besorgd is, dan moet ons dit ook wees. God wil hê dat al sy kinders dieselfde hart vir die weduwees sal vertoon as hulle Vader in die hemel. Daardie persone vir wie Gód besondere aandag het, moet ook hoog op die prioriteitslys van die gemeente staan. Dít is dan ook die rede vir veertien gedetaileerde verse oor die omgang met en die plek van die weduwees in die huisgesin van God.

En wanneer ons vandag na ‘n gedeelte van hierdie verse gaan kyk, broers en susters, dan gaan dit nie in die eerste plek oor die weduwees nie, maar dan gaan dit in die eerste plek oor jou en my. Ons het verlede week geleer van die oefening in die godsaligheid, en hoe belangrik dit is dat ons onsself voortdurend sal bly oefen om die wil van God na te kom. Wel, hier kom nou die mees konkrete proef op die som.

Tema: binne die huisgesin van God is daar besondere aandag vir die weduwees…

1.      Familiesorg tot eer van God

2.      Gebedsdiens tot opbou van die gemeente

 

1. Eer die weduwees wat waarlik weduwees het – só begin Paulus sy onderrig oor die weduwees in die gemeente (vers 3). Hierdie uitspraak van Paulus laat onmiddellik die vraag ontstaan wie dan waarlik weduwees is. Is daar sommige weduwees wat dit nie werklik is nie? Word daar dalk onderskeid gemaak tussen weduwees en weduwees? In óns omgangstaal is iemand ‘n weduwee wanneer sy haar man verloor het – dit is nie so moeilik nie. En Paulus sal ook nie hiermee verskil nie, gemeente, maar tog wil hy binne die groep van weduwees ‘n onderskeid aanbring. Immers, daar is sommige weduwees wat hulle mans verloor het, maar wat nog wel kinders en kleinkinders het; hulle hét nog familie. Maar dan is daar ook diegene wat nie kinders of nageslag het nie, altans nie kinders of nageslag wat nog lewe of wat naby hulle is nie. Dít is weduwees wat werklik alleen agtergebly het – húlle is die weduwees wat, volgens Paulus, waarlik weduwees is.

 

Nou, voordat Paulus die plek en die hantering van hierdie wáre weduwees behandel, fokus hy eers op dié weduwees wat nog kinders en kleinkinders het. Hy wil die gemeente van Efese leer hoe daar met hierdie groep weduwees omgegaan moet word; lees maar vers 4: “Maar as ‘n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God.” Let wel, hier word nie die weduwees aangespreek nie, maar die kinders en die kleinkinders – hoe gaan jy om met pa en ma? Hoe gaan julle om met oupa en ouma? Of indien pa en ma, oupa en ouma, nog jonk genoeg is om vir hulleself te sorg, hoe beplan jy om in die toekoms na hulle om te sien?

Paulus gee dus die taak vir die omsien na hierdie groep weduwees nie in die eerste plek aan die gemeente nie, maar aan die eie familie. Die familie is heel eerste veronderstel om hierdie weduwees te sorg. Terloops, wanneer diakonale sorg vir so ‘n weduwee aan die orde kom, sal die diakens daarom ook heel eerste vra of die familie – die kinders – alreeds in hierdie verband help of dalk kan help. Dit is nie net ‘n billike vraag nie, maar volgens Paulus se aanwysings ook ‘n bybelse vraag.

 

Paulus gee vervolgens twee redes vir die verantwoordelikheid van die kinders om te sorg. Die eerste rede is dat hierdie sorg iets is wat kinders aan hulle ouers verskuldig is. Ouers dra immers vir jare lank die las van die opvoeding en die onderhouding van hulle kinders. ‘n Heerlike werk wat die Here aan ons toevertrou – watter ouer is daar wat sonder sy kinders sou wou lewe? – maar dit is ook ‘n werk wat dikwels met trane, moeite en sorge gepaard gaan. Enige ouer weet dat ouerskap selfopoffering en harde werk vra; jou lewe is nie meer joune nie, want dit word nou deur die kinders opgeëis. Watter ouer sukkel nie om die boompie te buig terwyl hy nog jonk is nie? Watter ouer ken nie die moeite om, in weerwil van die gees van tienerskap, te probeer om sy kind op die regte pad te begelei nie? Nee, om kinders groot te maak is harde werk en vra groot investering, en enige christen-ouer is bereid om daardie investering te maak.

Maar, gemeente, daar kom ‘n tyd van terugbetaling. Dit is letterlik die woord wat Paulus hier in vers 4 gebruik; ons vertaling het dit vertaal met ‘vergelding doen’, maar dit beteken eenvoudig ‘terugbetaal’. En Paulus bedoel dit nie op ‘n wraaksugtige wyse nie – nou moet jy betaal! Nee, hy bedoel daarmee dat die verantwoordelikhede verskuif – eers was dit die ouers wat vir die kinders sorg moes dra, maar met verloop van tyd verskuif daardie verantwoordelikheid, sodat die kinders uiteindelik vir die ouers sorg moet dra. As kinders staan ons by ons ouers in die skuld; moenie huiwer om uit liefde vir hulle te begin met die terugbetaling nie. Binne God se ekonomie, sy huiswet, is dít die manier waarop kinders hulle ouers kan vergoed vir hulle opvoeding en liefde en sorg.

Let wel, broers en susters, dit beteken nie dat die kinders álles vir hulle ouers – en in hierdie konteks spesifiek vir hulle weduwee-ma’s – moet doen nie, of dat hulle dit alles sélf moet doen nie. Daar is ‘n wettige plek vir professionele hulp op verskillende vlakke, daar is ‘n wettige plek vir versorgers en vir bejaardesentrums – maar die verantwoordelikheid moet wel op die regte plek bly, naamlik by die kinders en die kleinkinders. Andersyds moet ‘n weduwee ook daarteen waak om onvanpaste eise aan haar kinders en kleinkinders te begin stel. By die kinders lê inderdaad die plig tot terugbetaling, maar dit gee aan die weduwee nog nie noodwendig die reg tot terugbetaling nie. Aan alle weduwees met kinders dus die waarskuwing: wees wys in wat u van die kinders eis!

 

Dit is Paulus se eerste rede waarom kinders en kleinkinders vir hulle weduwees behoort te sorg. Die tweede rede weeg selfs nog swaarder: “want dit is goed en aangenaam voor God.” Ja, natuurlik is dit goed en aangenaam voor God – Hy is immers die Beskermer van die weduwees. En as sy diensknegte vra Hy van ons ‘n soortgelyke optrede; Hy wil hê dat kinders net soos Hy beskermers van hulle weduwee-ma’s sal wees. Dus, broers en susters, deur die gelowiges op te dra om vir hulle eie weduwees te sorg, probeer Paulus nie om op die kerk se begroting te bespaar nie, maar wil hy hê dat die gelowiges God sal verheerlik. Ons moet sy liefde vir ons weduwees weerspieël.

En, gemeente, hierdie argument geld in besonder na die buite-wêreld. Want wat sal die ongelowige wêreld daarbuite sê wanneer gelowiges hulle weduwees verwaarloos en hulle so gou moontlik in ouetehuise plaas met die uitsluitlike doel om aan hulle verantwoordelikhede te ontkom? Hoe sal die ongelowiges reageer wanneer ons daarop aanspraak maak om ‘n God van liefde te dien, maar self bewys ons geen liefde nie? Daardeur sal die Naam van God mos skade ly? Daardeur sal die ongelowiges mos aanleiding kry om God te spot? Daarom behoort christene, deur die manier waarop hulle vir hul ouers en grootouers sorg, die liefde van God te verkondig. Ja, jongmense, ook julle behoort daardie liefde te verkondig deur mooi na oupa en ouma om te sien. Want só sal God die eer kry wat Hom toekom.

 

Om die belangrikheid van die sorg vir weduwees te beklemtoon, gee Paulus in vers 8 ook nog die volgende waarskuwing: “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ‘n ongelowige.” Ja, selfs ongelowige heidene het ‘n besef van die verantwoordelikheid wat hulle teenoor hulle ouers het, en daarom is ‘n christen wat daardie verantwoordelikheid nie na behore nakom nie, erger as die heiden.

Iets hiervan sien ons ook in Jesus se onderrig in Mattheus 15, wat ons saam gelees het. In hierdie gedeelte wys Jesus hoe skeinheilig die Fariseërs met die gebod van die Here omgegaan het. Vir die Fariseërs was hulle eie tradisies naamlik so belangrik, dat hulle daarmee te kort gedoen het aan die gebod van die Here, ook die vyfde gebod – eer jou vader en jou moeder. Die Fariseërs het onder andere geleer dat jy dié middele, waarmee jy eintlik jou ouers in hulle nood sou moes versorg, aan die Here kan wy. Klink baie vroom, of hoe? Maar die probleem is: op dié manier het hierdie middele onder die gewig van ‘n gelofte gekom, en kon jy dit nie meer gebruik om jou ouers daarmee te help nie. Nou, broers en susters, die skuiwergat in hierdie tradisie was dat jy nie nodig gehad het om te bepaal wanneer jy die middele aan die Here sou wy nie. In die praktyk het dit beteken dat jy jou lewe lank heerlik van die middele gebruik kon maak, maar intussen het jou ouers daaronder gely. Sien u, gemeente, met hierdie tradisie het die Fariseërs met hulle lippe God geëer, maar intussen was hulle harte ver van Hom. Indien hulle werklik met hulle harte God liefgehad het, sou hulle Hom ook wou geëer het deur hulle ouers te versorg. Maak nie saak hoe welsprekend hulle belydenis met die mond was nie, met hulle lewens het hulle die geloof in God ontken.

Broers en susters, vir ons is die gevaar net so reëel. Ons kan allerhande verskonings hê, allerhande vroom-klinkende redes, waarom ons nie ons weduwees hoef te help nie. So maklik maak ons eie besige lewens en ons eie gesinne ons blind vir die behoeftes van ons weduwees. Maar daardeur is ons ongehoorsaam aan die gebod van God, en verloën ons die geloof in Jesus Christus. Laat ons daarom as kinders ons verantwoordelikheid nakom. Die vroeë kerk het hierdie verantwoordelikheid baie goed verstaan. Ons lees naamlik die volgende inskripsie uit die eerste eeue op ‘n kapel in Rome: “Vir die goeie Regina het haar dogter hierdie gedenkteken opgerig [en dit lui]: die goeie Regina het haar weduwee-ma versorg, ‘n weduwee vir sestig jaar lank; sy het nooit die kerk belas nadat haar ma die vrou van een man was nie. Haar ma het 80 jaar, 5 maande en 26 dae geleef.” Is dit nie ‘n pragtige getuienis vir christene wat hulle ouers versorg nie? Laat die versorging van ons weduwees die gelowiges se eer wees, en nie ons skande nie!

In die tweede plek: gebedsdiens tot opbou van die gemeente.

 

2. Ongelukkig het nie elke weduwee familie wat na haar kan omsien nie. Sommige weduwees se mans sterf sonder dat hulle saam die vreugde van kinders beleef het. Ander weduwees se kinders is dalk op groot afstand, of hulle is moontlik deur hulle families in die steek gelaat. Hierdie weduwees kan van niemand hier op aarde iets verwag nie: hulle enigste hoop in hierdie wêreld is op God gerig. Ons lees immers in vers 5: “En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God…” Hierdie weduwee werp haarself dus op die genade van God, en kom dan agter dat sy nie alleen is nie, want God is met haar. God self eer hierdie ware weduwees deur Homself as Beskermer en Verdediger vir hulle aan te bied. Laat hierdie weduwees hierin troos vind, en hulleself volledig aan God toewy.

Ja, dit is wat Paulus vervolgens ook nog in vers 5 sê: “En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smekinge en gebede nag en dag.” Christelike weduwees wat waarlik weduwees is, word hier opgeroep om hulle aan ‘n unieke gebedstaak te wy. Uiteraard moet elke christen bid, maar hierdie weduwees kry van God ‘n taak in gebed, ‘n opdrag, ‘n lewensroeping. So dikwels voel hierdie weduwees dat hulle geen funksie meer het nie, dat hulle funksie in die samelewing uitgedien is. Maar dan sê die Here: “Bid! Gebed is jou nuwe dagtaak!”

 

Waarskynlik die beste voorbeeld van hierdie biddende weduwee is Anna, die profetes, by die tempel in Jerusalem. Anna was op ver gevorderde leeftyd; sy was kort getroud, slegs sewe jaar lank. En sy het daarna nie weer getrou nie; sy het voortgeleef in haar dikwels eensame weduwee-staat. Maar van haar lees ons in Lukas 2:37: “Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag.” Dit wil amper voorkom asof Paulus hierdie einste woorde eggo wanneer hy in ons teks sê dat die weduwees in smekinge en gebede moet bly nag en dag.” Dít is die opdrag wat die ware weduwees van die Here ontvang. En daarom is elke biddende weduwee ‘n suster van Anna.

En, broers en susters, hierdie gebede van die weduwees is dikwels die stille krag agter die kerk. As gevolg van hulle gebede ontvang jong moeders met klein kindertjies, predikante agter hulle boeke, sendelinge op die sendingsveld, manne en vroue by hulle daaglikse werk, en studente in die klas, die geestelike krag vir dit wat hulle moet doen. Deur die gebedsdiens van die weduwees word die gemeente gebou. Wat ‘n heerlike gedagte om as man my werk te kan gaan doen met die wete dat die weduwees van die gemeente vir my bid. Wat ‘n heerlike gedagte om as ampsdraer op huisbesoek te gaan, wetende dat die weduwees my aan die Here se sorg opdra. Wat ‘n troos om as moeder my kinders op te voed in die besef dat ek gedra word deur die gebede van die weduwees!

 

As u daarom waarlik ‘n weduwee is, roep God u op tot diepe gemeenskap met Hom deur die gebed. En wie weet, miskien begin die groot werk van u lewe nou eers – die groot werk van bemiddelende gebed! En, gemeente, dit is nie slegs ‘n gróót werk nie, maar ook ‘n besondere kragtige werk.

Die kommuniste in die eertydse Sowjet-Unie het die krag hiervan misken deur die ouer weduwees toe te laat om saam te bly vergader. Hulle is nie werklik as ‘n bedreiging vir die nuwe orde beskou nie. Maar dit was juis húlle gebed en getrouheid wat die kerk deur al daardie jare bymekaar gehou het, en wat ‘n generasie manne en vroue en jongmense laat groei het wat die Here wou dien. Ons moet daarom nooit die plek en die krag onderskat van ons godvrugtige weduwees nie.

 

Paulus se oproep tot gebed verduidelik daarom ook hoekom sy volgende woorde so hard is: “Maar sy wat losbandig is, is lewendig dood.” Hierdie losbandige weduwee is immers geen vrou van gebed nie. Haar hoop is nie op God gerig nie, maar sy soek haar troos in die dinge van hierdie wêreld, en sy lewe vir plesier eerder as vir God. Sy hou daarvan om haarself te bederf met luukse verwenning. ‘n Vrou wat so lewe, is in feite dood. Sy behoort tot die lewendige dooies, want alhoewel sy fisies lewe, is sy nie lewendig vir God deur die geloof nie. Ons sien hier dus die verskil tussen die twee soorte weduwees: Die een leef ‘n lewe van selfbevrediging maar is in werklikheid geestelik dood; die ander leef ‘n lewe van selfverloëning maar is in werklikheid geestelik lewendig!

Aan die ware weduwees daarom die oproep: u taak is nie verby nie. U word nie soos uitgediende klere in die hoek gegooi nie. Broers en susters, mag die Here ons bewaar dat ons dit ooit so sal sien. Nee, u taak is geweldig groot. Bid vir ons jonger mense, bid dat ons trou mag arbeid, bid dat ons heilig mag lewe; bid vir ons gesinne, bid vir ons huwelike. Bid vir die kerkraad en vir die skool. Bid vir ons jeug en ons babatjies. Bid vir geloof en bekering. Bid dat die Here Jesus gou mag kom!

 



In vers 7 kry Timotheus ten slotte nog die opdrag om hierdie dinge aan die gemeente te leer. Die Here wil immers hê dat die gemeentelede in hulle omgang met mekaar onberispelik sal wees. En daarom is hierdie teks ook werd om gepreek te word. Vandag is hierdie dinge aan ons geleer. Kom ons wees dan ook onberispelik. Veral in hierdie tyd waarin daar feesgevier word, waarin ons die geboorte van ons Here Jesus Christus gedenk, laat ons ons weduwees nie vergeet nie. Dit is juis ook waarvoor Christus mens geword het en gesterf het. Want toe Jesus aan die kruis hang en sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun. En Hy sê vir die dissipel: Dáár is jou moeder. En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Dít is die manier van omgaan wat die Here Jesus in sy gemeente reël. Kom, en laat ons net so doen.

Amen

 

 

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 116:1, 4, 8-10

Wetslesing

Sing Ps. 53:2-4, 6 en 7

Gebed

Lees:    1 Timotheus 5

            Mattheus 15:1-9

            Lukas 2:36-38

Sing Ps. 94:3, 4, 6 en 8

Teks: 1 Timotheus 5:3-8 en 16

Preek

Amenlied Ps. 146:3, 6-8

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 68:2, 3 en 5

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)