Christus se doodstryd beteken lewe vir elkeen wat glo!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-11-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 16; lees Lukas 16:14-31

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Die dood en die sterflikheid is ‘n deel van ons lewe. Niemand kan dit keer wanneer dit kom nie. Ook al probeer ons hoe hard om die dood buite ons deure te hou – hetsy deur middel van goeie mediese sorg en ‘n gesonde lewensstyl, hetsy deur middel van beveiliging en sekuriteit – die dood bly! En dié periode in die geskiedenis, waarvan ons weet dat daar toe geen dood was nie, is vir ons gevoel ‘n ver-af utopia; ‘n tyd wat dalk was, maar wat vir ons gevoel weinig of geen relevansie het nie.

En, broers en susters, eintlik het ons daaraan gewoond geraak dat die dood deel is van ons bestaan; ons lees daarvan, ons sien dit op die televisie, ons kyk na programme waarin die hele storielyn sentreer rondom een of ander misterieuse dood. Ja, ons aanvaar die dood as deel van die lewe … totdat hy eendag onverwags en kliphard in ons eie kring toeslaan. Dan staan ons rondom ‘n graf en wonder: wat is die sin van dit alles? Waarom lewe ons nog? En op daardie oomblik voel ons iets van die onnatuurlikheid van die dood, en van die gruwelikheid van die sonde wat die groot oorsaak is van die dood. Dan skielik besef ons dat die dood nie deel is van ons bestaan nie, in elk geval nie van nature nie! Dan besef ons dat die dood ‘n indringer is in ons bestaan, ‘n vreemdeling in God se goeie skepping. Die dood hoort nie by God se goeie skepping nie, die dood hoort nog minder by God self…

 

Of hoort die dood dalk wel by God? Is God en dood dalk nader aan mekaar as wat ons gedink het? Immers, ons bely mos – en dit is waaroor Sondag 16 van die Kategismus gaan – dat die Seun van God gekruisig is, gesterf het en begrawe is, en neergedaal het na die hel. Is dit nie die bewys dat God ook aan die dood onderworpe is nie? Is dit nie die bewys dat die dood ook tot in die hemelse sfere deurgedring het nie? Nee, gemeente, God staan bo die dood, God heers oor die dood. Maar… Hy het Homself wel willens en wetens in die Persoon van die Seun in ons doodsbestaan begewe. Jesus Christus, die Seun van God, het die doodstryd aangegaan met die doel om die dood te oorwin! God is nie onderworpe aan die dood nie, maar Hy onderwerp wel die dood! En dit is presies waaroor ek vanaand aan u die Woord van God wil verkondig.

Tema: Christus se doodstryd beteken lewe vir elkeen wat glo! Dit beteken:

1.      Lewe vanuit die geestelike dood

2.      Lewe ten spyte van die liggaamlike dood

3.      Lewe los van die ewige dood

 

1. In Lukas 16 verkeer ons in die middel van ‘n reeks gelykenisse wat Jesus aan die omstanders vertel het. In die eerste gedeelte van Lukas 16 het Jesus die gelykenis van die onregverdige bestuurder vertel. Die Fariseërs het met spot op hierdie gelykenis gereageer. Hulle, wat volgens vers 14 nogal geldgierig was, het natuurlik aangevoel dat hierdie gelykenis grotendeels op hulle betrekking het. En deur vervolgens die persoon van Jesus te bespot, probeer hulle hulself regverdig en aan die dringende oproep van hierdie gelykenis ontkom; immers, na ‘n bespotlike persoon hoef ‘n mens mos nie te luister nie…

Maar dan waarsku Jesus hulle om Hom en sy woorde nie te minag nie; hulle kan hulleself nie van Hom losmaak nie, ook al wil hulle. As die Fariseërs meen dat hulle Jesus nie nodig het nie, omdat hulle mos die wet en die profete het – terloops, dit is waarop hulle hulself beroem het – dan maak hulle ‘n groot fout. Want die einste wet en profete waarop die Fariseërs hulleself beroem het, wys dan na Christus toe; daardie einste wet en profete wat hulle sterk laat voel het, dwing alle mense om slégs via Jesus Christus die koninkryk binne te gaan (kyk maar na vers 16)! Jesus sê daarom ook in Johannes 5:39 vir die leiers van die volk: “Julle ondersoek die Skrifte – dit is die wet en die profete – omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.” Wet, profete en evangelie lê dus in mekaar se verlengde – of in ander woorde: Ou en Nuwe Testament lê in mekaar se verlengde – en móét as ‘n eenheid beskou word. Wie Jesus Christus nie wil aanvaar nie, skeur die hart uit die wet en die profete uit. En daarom waarsku Jesus die Fariseërs dat hulle baie mooi na die wet en die profete moet luister.

 

Nou, gemeente, dit wat ons nou gesê het, is van groot betekenis vir die verstaan van die daaropvolgende gelykenis van die ryk man en die arm Lasarus. In hierdie gelykenis wys Jesus die belang daarvan om na die wet en die profete – en dus outomaties ook na die evangelie – te luister. Dit is ‘n saak van lewe of dood – hier op aarde alreeds…

Daar was naamlik ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. Nou, gemeente, hierdie beskrywing is nie negatief bedoel nie – hierdie goeie lewe is goed en mag ook geniet word. Nee, die ryk man se probleem lê nie in sy eie huis nie, maar daarbuite. Want dáár buite was ‘n bedelaar met die naam Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. Hy is óf daar neergesit, óf hy het homself daar neergelê in die hoop dat die poorte van die ryk man ‘n geskikte plek sou wees om hulp te vind. Hy het daarna verlang om sy honger te stil met die krummels wat van die ryk man se tafel geval het. Skynbaar het die honde van die omgewing dieselfde hoop gehad. Maar beide Lasarus en die honde word teleurgestel, en in hulle honger kom die honde om Lasarus se wonde te lek.

Vir die goeie luisteraar is die boodskap van hierdie eerste paar verse duidelik – hierdie ryk man skiet te kort in liefde. In sy gedrag staan hy in stryd met wat Moses in die wet geëis het, staan hy in stryd met wat die profete so dikwels verkondig het, en staan hy bo alles in stryd met die evangelie van Jesus Christus. En skynbaar was die ryk man se vyf broers in hulle gedrag dieselfde, want in verse 27, 28 en 30 vra die ryk man verskeie kere dat iemand uit die dode na hulle gestuur sal word, sodat hulle hul kan bekeer. Maar hy kry net een antwoord: hulle het Moses en die profete; laat hulle na dié luister. Die ryk man besef dus dat hy tydens sy lewe nie reg gelewe het nie, en dat daar verandering in lewenswyse by sy broers moet kom, dat daar bekering by hulle moet kom, ‘n lewendmaking uit die geestelike dood waarin hulle hulself bevind. Hy besef dit! Ja, sy kuur vir die probleem is verkeerd, maar hy weet wat met hulle moet gebeur. En dan wys vader Abraham vir hom die regte kuur: die wet en die profete is die enigste weg tot bekering en vernuwing; en dié kuur hét hulle alreeds…

 

Sien u, gemeente, dat die boodskap van die wet en die profete, wat sy hoogtepunt vind in die evangelie van die kruisdood van Jesus Christus, nie net effek het vir die lewe ná hierdie lewe nie. Nee, reeds hier op aarde werk dit nuwe lewe, lewe vanuit die geestelike dood. Die ryk man, wat nie wou luister na die wet en die profete nie, wat die evangelie van die koninkryk verwerp het, was tydens sy lewe op aarde gevolglik geestelik dood – soos geblyk het uit sy behandeling van die bedelaar Lasarus – en dit het uiteindelik gelei tot sy ewige dood. En indien sy broers hulle ook nie aan die wet en die profete sou steur nie, dan sou hulle op dieselfde plek as hy beland.

Maar andersom kan ons ook sê dat die wet en die profete, wat hulle vervulling vind in die kruisdood van Jesus Christus, nuwe lewe gee aan dié wat daarna luister. Die offerdood van Christus aan die kruis werk dus nuwe lewe, hier op aarde alreeds. In die woorde van antwoord 43: “Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as ‘n dankoffer aan Hom toewy.” Gemeente, dit is die uitwerking van die evangelie van die kruis in die lewe van die gelowige – in teenstelling tot die ryk man lewe ek dan nie meer vir myself nie, maar offer ek myself as dankoffer aan God en my naaste. Die gevolge van Goeie Vrydag moet dus sigbaar en tasbaar wees lank voordat die grafte by die wederkoms sal oopgaan. Die gevolge van die evangelie van die kruis moet in jou en my lewe sigbaar word – dit moet sigbaar word dat jy jou nie meer deur die sonde laat beheers nie, dit moet sigbaar word dat jy nie meer vir jouself lewe nie, maar vir God. Christus se doodstryd aan die kruis bring lewe, nuwe lewe, uit die geestelike dood waarin elke mens homself van nature bevind.

 

Ja, die ryk man was ryk in aardse goed, maar hy het die rykdom van die lewe uit die geestelike dood gemis. En hy besef dit wanneer hy vanuit die doderyk vir sy broers pleit. Maar die antwoord is eenvoudig: jy hoef nie vir hulle te pleit nie, hulle het op aarde alles wat hulle nodig het om ‘n nuwe lewe te begin lei; hulle het die verkondiging van Christus, en Hom as die gekruisigde! Broers en susters, Christus se offer aan die kruis vir ons sondes beteken nie dat ons maar lustig kan voortsondig nie. Nee, hier en nou moet daar ‘n opstanding plaasvind! Opstanding uit die geestelike dood. So dikwels verskuif ons die uitwerking van ons christenskap na die toekoms – eendag sal ons by God wees, eendag sal ons die ewige lewe beërwe. Nee, sê Christus, julle het die wet en die profete, julle het die evangelie van Christus se dood in my plek. Dit moet hier en nou sigbaar word. Broer en suster, werk die verkondiging van Christus se dood iets uit in jou lewe? Het die prediking van die kruis effek in jou daaglikse bestaan? Dit moet! Opstanding uit die dood is nie slegs toekomsmusiek nie; dit begin vandag reeds in ons geestelike opstanding, in ons nuwe lewe van dankbaarheid, in ons voortbring van die vrugte van die Gees. Christus het daarvoor óók gesterf!

Vervolgens: Christus se doodstryd beteken lewe ten spyte van die liggaamlike dood.

 

2. Sowel die arm Lasarus as die ryk man kom te sterwe, en in beide gevalle blyk dat daar ‘n bestaan na die dood is; beide bestaan immers voort. Maar skielik is die rolle, soos wat dit tydens hulle lewe op aarde bestaan het, volledig omgedraai. Nou is die ryk man die een wat by Lasarus kom bedel vir ‘n bietjie water; hy wat nie eens sy krummels met die honde en die bedelaars wou deel nie, is nou bereid om die vinger van die swerende Lasarus af te lek. Daarenteen word Lasarus deur die engele weggevoer na die skoot van Abraham; terwyl hy buite die poort van een van Abraham se kinders moes sterwe, mag hy nou by Abraham self binnekom en saam met hom aanlê vir die maaltyd. Abraham herinner die ryk man in vers 25 aan hierdie verlede: “Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.” Die mens wat dus tydens die lewe op aarde geestelik dood is, moet homself maar daarop voorberei om sy oë oop te maak in die doderyk, in die vlam, die plek van pyniging. Maar die geestelik lewendes van hierdie wêreld mag weet dat hulle lewe voortgaan in die teenwoordigheid van vader Abraham.

 

Dus, gemeente, vir die wat reeds tydens hierdie lewe hulle krag put uit die doodstryd van Christus aan die kruis, vir hulle is daar die werklikheid van lewe na die dood. Die liggaamlike dood het geen houvas meer op die geestelik lewende nie! Maar waarom moet ons dan nog sterwe? – so lui die vraag van die Kategismus (v/a 42)… En dit is ‘n goeie vraag! As Christus reeds gesterf het, kan ons dan nie maar voortlewe totdat Hy terugkom nie? Hoekom moet ons in ons huidige bestaan nog steeds met die dood in aanraking kom? Is die dood nie ‘n vyand wat reeds oorwin is nie? Paulus sê mos in 1 Korinthiërs 15:54: “Die dood is verslind in die oorwinning”, en daarna stel hy die retoriese vraag: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar jou oorwinning?” Hoekom dan nog sterwe? Gee ons nie daarmee toe dat die dood tog die laaste sê het nie?

Nee, gemeente, die dood het nie die laaste sê nie. Vir die gelowige kry die dood ‘n totaal ander funksie. Die Kategismus praat van ons sterwe as die deurgang tot die ewige lewe. Die dood vervul dus die funksie van ‘n poort. Sowel gelowiges as ongelowiges kom voor daardie poort te staan, en vir beide is daar deurgang. Maar vir die ongelowige is daar slegs ‘n deurgang na die plek van pyniging, terwyl die gelowige deurgang kry na die ewige lewe. Waar die arm Lasarus tydens sy lewe voortdurend in die geslote poorte van die ryk man moes vaskyk, elke dag tevergeefs gehoop het dat daardie poorte sou oopgaan vir ‘n stukkie brood, vind hy uiteindelik in sy dood geopende poorte, en vind hy gewillige engele om hom deur daardie poorte te dra na die paleis van die Koning! Die deur van die Vaderhuis gaan vir die gelowige oop, en hy mag ingaan in die vreugde van sy Heer.

Broers en susters, so iets mag ons onsself voorstel wanneer ons nadink oor die dood, en wanneer ons wonder oor die dood van ons geliefdes wat ons voorgegaan het. Die ongelowige word by sy sterwe ingesluk deur die dieptes van die doderyk – weg, verslind! Vir die gelowige egter is die dood slegs ‘n treetjie; ‘n treetjie vanaf die lewe met God hier op aarde na die lewe met God in die hemel. Ja, te dikwels maak ons die skeiding te groot tussen aarde en hemel, tussen die lewe hier en die lewe na die dood. En dit is begryplik, want die gemis is so groot! Maar weet dan, broers en susters, dat die lewe van ons gestorwe geliefdes so eg is, soos wat iemand in die kamer langsaan myne lewe. Daar is ‘n deur tussen ons twee se kamers, en hy het van hierdie kamer na daardie kamer beweeg! En ja, ongelukkig is die vloei van die verkeer net in een rigting – van hier na daar, en nie van daar terug hiernatoe nie. Maar onthou, dit is ‘n vloei van lewendige verkeer! Sonder geloof in Christus en sonder geloof in sy kruisdood, vind ons ‘n beweging van lewe na dood. Maar in Christus beweeg lewendes van hier na daar, ten spyte van die dood! Christus was werklik dood, en daarom mag ons werklik lewe, ook al het ons gesterwe.

Ten slotte: Christus se doodstryd beteken lewe uit die ewige dood.

 

3. Gemeente, die ryk man is homself volledig bewus van die plek waar hy beland het – in vers 23 word gepraat van die doderyk en van die smarte wat hy moes verduur, en in vers 24 sê hy: “ek ly smarte in hierdie vlam”, en in vers 28 praat hy van die “plek van pyniging”. Is dit nou die hel? Ja, ons kan sê dat hier na die hel verwys word. Maar, gemeente, om werklik iets van die vlam en die pyniging te proe, om dit werklik te verstaan, moet ons luister na wat vader Abraham sê in vers 26; hy praat daar van ‘n groot kloof, “sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.”

Broers en susters, in hierdie woorde vind ons iets van die verskriklike realiteit van die hel, naamlik die feit dat die skeiding so finaal en absoluut is. Die hel is die plek waarvandaan niemand terugkeer nie! En dit is wat die ryk man ook so beangs en benoud maak; geen kans meer nie – asseblief, gaan waarsku dan net my broers, gaan sê net vir hulle daar is net een geleentheid en dit is tydens hierdie lewe. Gemeente, voel u iets van die angs en benoudheid? Dit is hierdie angs en benoudheid wat u en ek ook verdien; ons was ook veronderstel om saam met die ryk man die smarte in die plek van pyniging te verduur – vir ewig, sonder moontlikheid van verbetering, sonder ‘n tweede kans…

 

En daarom is dit so ‘n Godswonder dat ons tydens ons lewe alreeds – en baie konkreet: vanaand – mag hoor dat Jesus Christus neergedaal het na die hel. Reeds tydens ons lewe mag ons weet dat niks ons kan skei van die liefde van God nie. Want Christus – ja, Hy was van God verlate; Hy moes verduur dat niks en niemand vir Hom omgegee het nie, selfs nie die Vader nie; erger nog, Hy moes verduur dat die Vader doelbewus sy aangesig van Hom af weggekeer het.

En dink daaraan, gemeente, dat, volgens antwoord 44, Christus dit nie net vir ‘n kort tydjie gely het nie; nee, “deur sy hele lewe maar veral aan die kruis…” Kan ons dit sê? Kan ons sê dat Christus op een of ander manier – hoe presies is nie heeltemal duidelik nie – tydens sy héle lewe, maar veral aan die kruis tydens die drie ure duisternis, van God verlate was? Ja, op ‘n manier kan ons dit sê. Op ‘n manier kan ons praat van Jesus se lewenslange angs, smarte en verskrikking aan liggaam en siel; op ‘n manier kan ons praat van Jesus se lewenslange Godverlatenheid. Maar… is dit nou ‘n lewe? Het die arme man nie daaraan ten gronde gegaan nie? Hoe lewe jy as jy op so ‘n deurlopende basis en so totaal aangeval word met angs en verskrikking? Ons sou waarskynlik lankal van ons verstand af geraak het. Ja presies, en dan verstaan ons iets van die geweldige offer van Jesus Christus. In my plek het Hy – tydens sy lewe alreeds – die las van die ewige dood gedra.

 

En ek dan? Ek hoef nie meer hierdie hel deur te maak nie; my lewe is ook nooit meer hel nie – ook al praat ons dikwels so – ontereg! Want ook al gaan ek ook deur ‘n dal van doodskaduwee, ook al voel dit vir my soos die hel, onthou dan: dít wat ons deurmaak is nooit hel nie. Want, sê Psalm 23, U is met my! U stok en u staf, dié vertroos my. Dit is die wonder van Christus se tog deur die hel – God is met my! Ja, ek gaan miskien deur ‘n dal van doodskaduwee, maar ek weet: ek gaan deur hom! Ek mag anderkant uitkom; ‘n gelowige gaan nooit die dal van doodskaduwee binne om daarin te bly nie. Altyd kom die gelowige anderkant uit, altyd is daar lig. Want Jésus is deur die hel en het anderkant uitgekom! Sy duisternis was oorverdowend – drie ure lank totale duisternis; my God, my God, waarom het U my verlaat! – maar daarna: dit is volbring! En daarom kan die digter van Psalm 66 vir al sy vriende vertel: “Ek het geroep, God het geluister toe alles nag was om my heen; en voor die lig skyn deur die duister, was God my lof, net Hy alleeen.”

 

Gemeente, Christus se doodstryd beteken lewe vanuit die geestelike dood – vandag reeds; sy doodstryd beteken lewe ten spyte van die liggaamlike dood; en sy doodstryd beteken lewe uit die ewige dood. Hy is met reg ons lewe! Amen

Liturgie (aand)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 95:1 en 4

Gebed

Kort nagmaalsformulier en –viering

·        Sing terwyl tafel in gereedheid Skr. 17:1 en 2

·        Sing aan tafel Skr. 17:6

·        Voltooi formulier + gebed

Lees: Lukas 16:14-31

Sing Ps. 69:12-14

Teks: HK, Sondag 16

Preek

Amenlied Ps. 18:1-3, 15

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Skr. 10:2-6

Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, en die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees is met julle almal. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)