Laat ons die belydenis eggo van die stem uit die wolk…

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-10-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 13
Verwysing: 
HK 13-1
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten.

 Preek – HK, Sondag 13; lees Miga 5, Mattheus 17:1-13 

Geliefde gemeente en kinders van een Vader,

Ons is steeds besig met die behandeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis, en in besonder met die belydenis oor die tweede Persoon van die Drie-eenheid. Hy word genoem Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here (kyk maar na antwoord 23). Vier name, dus: Jesus, Christus, Seun van God, ons Here. Die vorige twee sondagsafdelings het die eerste twee name behandel: Jesus en Christus. En baie duidelik was, dat ons nie een van hierdie name kan ondersoek sonder om daarmee ook onder ons eie vel in te kruip nie, sonder om daarmee ook iets oor onsself te sê nie. Ons kan die verskillende name van die tweede Persoon van die Drie-eenheid nooit as ‘n afstandelike en teoretiese saak behandel nie.

Want wie Jesus sê, sê Verlosser. Verlosser van wie? Verlosser van wat? En onmiddelik bring dit my by myself uit, my verlore toestand, die verlore toestand van my vrou en my kinders, die verlore toestand van die omgewing waarin ek lewe. Ek word gekonfronteer met die feit dat ek verlossing nodig het. En verder: wie Christus sê, sê Gesalfde – Profeet, Priester en Koning. Dit is wat Adam was; en, o ja, dit is wat ek weer moet word. Want ek is van Christus, ek is ‘n christen.

 

Sien u, broers en susters, elkeen van die name van die tweede Persoon in die Drie-eenheid het direk betrekking op my, op ons. Ons moet daarom oppas om ‘n vals skeiding te maak – eers die teoretiese behandeling van die name, en dan later kom die betekenis vir óns. Die Kategismus is nie ‘n logika-boek waarin alles perfek gestruktureerd is nie; nee, die Kategismus is ‘n troosboek – wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?! Jesus, Christus, Seun van God, ons Here – Hy is my troos! By die behandeling van elkeen van die name behoort daar ‘n magdom van emosies in my los te kom, want elkeen van die name konfronteer my in die eerste plek met my God, maar terselfdertyd ook met myself.

En, gemeente, die Kategismus maak juis dit baie duidelik in Sondag 13, by die behandeling van die derde en die vierde naam: “Waaarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem, terwyl ons tog ook kinders van God is?” – sien u, dadelik die verbintenis tussen Christus se seunskap en ons kindskap. En ook die volgende vraag: “Waarom noem jy Hom ons Here?” – nie sommer ‘Here’ nie, nee, óns Here! Weereens die verbinding tussen God en ons.

Kom ons kyk vandag na die betekenis van hierdie twee name vir ons.

Tema:  Laat ons die belydenis eggo van die stem uit die wolk…

  1. Dit is my geliefde Seun!
  2. Luister na Hom!

 1. Gemeente, die belydenis van Christus as die eniggebore Seun van God is ‘n ryk belydenis met baie fasette. Maar wanneer ons tot die diepste kern van hierdie belydenis deurdring, dan stuit ons op die vraag na die Godheid van Christus. Is die eniggebore Seun van God sélf God, of staan hy in die sfeer van die geskape werklikheid? Is Hy Skepper of is Hy skepsel? Aan watter kant van die skeidslyn staan Hy – aan die kant van God, of aan die kant van die mens? En dit is nie maar net vrae wat ek opmaak nie, broers en susters; dit is ook nie vrae wat maar onlangs hulle verskyning gemaak het nie. Nee, reeds tydens Christus se lewe op aarde was hierdie vrae brandpunte. Hierdie vrae was brandpunte binne Jesus se eie dissipelkring, soos blyk wanneer Jesus aan sy dissipels die vraag stel: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Waarop Petrus dan bely: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt. 16:16). Maar hierdie vrae was ook brandpunte binne die groot “teologiese fakulteit” van Jerusalem, en ons sien dit wanneer Jesus die Fariseërs uitdaag met die vraag: “Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy?” En wanneer hulle antwoord dat Hy die seun van Dawid is, dan wil Jesus tereg by hulle weet: “Hoe is dit dan dat Dawid Hom in die Gees Here noem…” (Matt. 22:42). Gemeente, deur in daardie tyd Jesus as Seun van God te bely of te ontken, het jy sy Godheid bely of ontken. Verstaan dit baie goed: “Seun van God” het vir die mense in Jesus se tyd dieselfde beteken as God self. Ja, ook vir sy vyande! Hulle het geweet wat Jesus bedoel wanneer Hy Homself die Seun van God noem, en presies daarom wou hulle Hom doodmaak. Ons lees byvoorbeeld in Johannes 5:18: “Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.” En in Johannes 19:7 sê die Jode vir Pilatus: “Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.” Jesus se uitspraak dat Hy die Seun van God is, het Hom uiteindelik sy lewe gekos, want dit was vir die teoloë van Jerusalem ‘n godslasterlike uitspraak. Geen mens mag homself Seun van God noem nie, en geen mens mag God sy Vader noem nie – want dit het geïmpliseer dat jy jouself aan God gelykstel. Die vraag in daardie tyd was dus nie of die mense vir Jesus reg verstaan het nie, maar eerder of hulle geglo het dít waarop Hy aanspraak gemaak het… Ook in die kerkgeskiedenis sien ons die stryd rondom hierdie leerstuk. Dink maar net aan die stryd wat hom rondom die leer van Arius afgespeel het in die 4de eeu na Christus – Arius wat gesê het dat Christus nie God is nie, maar slegs die eerste van al God se skepsels. Nader aan ons eie tyd, kan ons dink aan die Jehowa-getuies wat hulle ontkenning van die Godheid van Christus byna letterlik op ons voordeure kom afdruk. En dalk nog relevanter vir ons is die ‘wegvertaling’ van die Godheid van Christus uit die nuwe psalmberyming, asook uit verskeie onlangse Bybelvertalings. Ek het nou maar net ‘n paar voorbeelde genoem, maar onthou dit maar vir die toekoms, gemeente: in álle stryd rondom die leer van die Skrifte kom dit uiteindelik neer op hierdie een kernvraag: wat dink jy van die Christus? Is Hy vir jou die Seun van God, God sélf? Of is Hy maar net ‘n blote mens, iemand soos jy en ek? By die beantwoording van hierdie vrae staan of val die inhoud van die hele Skrif, en staan of val ook ons geloof. Kom ons kyk wat sê die Skrif self oor hierdie vrae… In Mattheus 17 lees ons hoe Jesus vir Petrus, Johannes en Jakobus saamgeneem het op ‘n hoë berg in die eensaamheid, met die doel om hulle te leer oor sy Persoon en sy taak. En hier op die berg is die dissipels getuies hoe Jesus se voorkoms op besondere wyse verander het – sy gelaat het geblink soos die son, en sy klere het met ‘n bo-aardse lig gestraal. En dan skielik sien die drie dissipels ook vir Moses en vir Elia, wat besig is om met Jesus te beraadslaag. Let wel, dit is nie Jesus wat met hulle beraadslaag nie, dit is Moses en Elia wat met Jesus beraadslaag. Die hemel – want dit is waarvandaan Moses en Elia gekom het – pleeg oorleg met Jesus op aarde! Jesus is dus nie maar net ‘n jong kollega wat die geleentheid kry om met sy wyse voorgangers oorleg te pleeg en hulle raad te vra nie. Jesus is nie maar net ‘n mens wat vanuit die hemel advies ontvang nie. Nee, Jesus is God, sy bestaan gaan terug tot ver vóór Moses en Elia; Hy is die gestuurde wat hier op aarde die belange van die hemel verteenwoordig! Moses en Elia het belang daarby om met Hóm te kan praat.Ons sien presies dit in Miga 5 wat ons saam gelees het. In hierdie hoofstuk verkondig Miga aan die volk, wat ballingskap in die gesig staar, dat ‘n Koning in Betlehem gebore sal word. Maar dit is nie sommer enige koning nie; nee, hierdie koning se uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid! In sy mensheid is daar dus ‘n geboortedag en ‘n geboorteplek, maar in sy Godheid is daar geen begin van dae of jare nie. Hierdie Heerser is van ewigheid tot in ewigheid! Iets hiervan proe die dissipels daar bo-op die berg van verheerliking. Maar ag, die arme Petrus – in sy verwarde reaksie stel hy voor om vir aldrie manne wat daar in gesprek was, ‘n hut te bou. Met hierdie dwase voorstel plaas hy Jesus, Moses en Elia nog steeds op een lyn met mekaar. Totdat die stem uit die helderligte wolk, wat oor die berg neerdaal en wat God se heerlikheid aandui, vervolgens duidelik maak dat Jesus gróter is as die grootste profete: Hy is die geliefde Seun van God! God self kom lewer getuienis aan die dissipels dat hulle rabbi nog soveel is as net dit. Gemeente, vir sowel die dissipels as vir ons vandag is daar dus hemelse getuienis dat die mens Jesus terselfdertyd die ewige en natuurlike Seun van God is. En as Seun van God is Hy van dieselfde wese as sy Vader, en daarom self God! Op die berg van verheerliking word dus nie ‘n mens verheerlik nie, maar word God verheerlik, want aan Hom behoort immers die Koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid! En ja, dis waar, sy verskyningsvorm op hierdie stadium in sy lewe is nie heeltemal wat ons van die Seun van God sou verwag nie. Terwyl hulle van die berg afgeklim en Jesus sy dissipels oor sy lyding onderrig gegee het, noem Jesus Homself daarom ook nie Seun van God nie, maar noem Hy Homself Seun van die mens. Die Seun van God het die Seun van Adam geword om vir die skuld van die mense – wat deur Moses en Elia nie uitgewis kon word nie – te sterf. Jesus se taak as die Seun van Adam het op hierdie stadium voorrang bó sy glorie as die Seun van God. Maar dit doen nie afbreuk aan sy Godheid nie. As God word Hy mens, om mense by God te bring. En dit is van die grootste belang vir ons saligheid dat ons hierdie belydenis sal vashou – die Seun van God is sélf God. Want wie anders sou sondige mense soos ons na God toe kon bring as slegs God self? As mense is ons immers almal soos die trop varke in die verhaal van Jesus se genesing in Gadara; almal saam storm ons by die krans van die lewe af en kom ons om in die see van sonde en dood. Geen mens kan by God uitkom nie, en geen mens wil by God uitkom nie. En as die mens nie self die mens by God kan of wil bring nie, wie moet dit dan doen? God self! En dit is presies wat Hy gedoen het, “want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dit is deur die Persoon en werk van hierdie eniggebore Seun van God dat jy en ek weer toegang het tot God. God se aksie tot redding van die wêreld is volledige eensydig. Nog nooit in die geskiedenis van die mensdom was daar so ‘n eensydige reddingsaksie soos hierdie nie. Maar dank die Here daarvoor, want daardeur is daar vir weeskinders weer ‘n familie, kry hulle weer ‘n Pa in ons hemelse Vader, kry hulle ‘n groot Broer in Jesus Christus, kry hulle weer broers en susters – en noem hulle maar by die naam soos wat hulle hier sit. Die Godheid van Christus is nie ‘n minder belangrike deel van ons belydenis nie. Inteendeel, dit raak die hart daarvan – want daarmee wil God jou hart raak. Voel jy dit ook?Vervolgens: Luister na Hom! 2. Saam met die verklaring uit die hemel dat Jesus Christus die Seun van God is, en daarmee God self, kom daar ook ‘n opdrag: “Luister na Hom!” Ja, as Hy die God is wat red en wat ons kinders van die Vader maak, dan het Hy ook seggenskap oor ons lewe, dan is Hy inderdaad “ons Here”. In die konteks van Mattheus 17 het hierdie opdrag van die stem uit die wolk ‘n baie spesifieke betekenis. Immers, net hiervoor in Mattheus 16 wou Petrus, nadat hy Jesus Christus as die Seun van God bely het, nie aanvaar dat dieselfde Jesus na Jerusalem moes gaan om daar te ly nie. In werklikheid wou hy dus nie na Jesus se lydensaankondiging luister nie. Maar nadat hy die hemelse getuienis uit die wolk gehoor het, sien Petrus raak dat die Persoon wat hierdie lydensaankondiging gedoen het, self God is; as God weet die Here Jesus wat Hom te wagte staan en kan Hy vry-uit daaroor praat. Wanneer Jesus vervolgens na die verheerliking saam met die drie dissipels van die berg afgaan, hervat Hy sy lydensaankondiging wat enkele dae gelede so wreed deur Petrus onderbreek is. En hierdie keer luister Petrus; nee, hy verstaan nog nie alles nie – soos blyk uit die vraag van vers 10 – maar hy is bereid om onderrig te word. Hy luister na sy Heer!  Gemeente, om Jesus as Seun van God te bely, het dus praktiese implikasies. Pétrus moes dit leer, maar óns moet dit net so goed leer. Dit het die praktiese implikasie dat hierdie Heer die bepalende woord in ons lewens behoort te spreek, en dat ons onsself gewillig aan daardie woord moet onderwerp. Ons sien dit byvoorbeeld baie duidelik in die profesie van Miga 5. Dit is opmerklik dat Miga in vers 3 van hierdie hoofstuk die beeld gebruik van ‘n herder met sy kudde. Dit is opmerklik, aangesien die Here Jesus in Johannes 10 ook hierdie beeld gebruik. En dan sê Hy onder andere hierby: “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (Joh. 10:27). Om Jesus as verlossende Seun van God te erken, beteken dat ons ook na sy woord luister en Hom volg waar Hy ook mag gaan. Wie “Seun van God” sê, sê terselfdertyd “Heer en Meester van my lewe”. En in die gedeelte net voor Mattheus 17 wys Jesus hoe radikaal hierdie keuse is: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg” (Matt. 16:24).  Hierdie radikaliteit blyk ook uit Miga 5. Nadat Miga die koms van die Heerser verkondig het, wys hy vervolgens dat hierdie Heerser radikaal sal ingryp in die lewe van die volk. Vreemde invloede en praktyke sal uit die midde van die volk uitgeroei word. In die eerste plek sal Hy die volk reinig van hulle vertroue op militêre mag: “En in dié dag, spreek die HERE, sal Ek jou perde uit jou midde uitroei en jou strydwaens vernietig.” Ja, daar is min dinge wat die vertroue in God so vinnig afbreek as die moontlikheid om jouself te versorg nie. In die tweede plek sal Hy die volk reinig van okkulte praktyke: “Verder sal Ek uitroei die towerye uit jou hand, en jy sal geen goëlaars meer hê nie.” Weereens gaan dit hier oor die vertroue van die volk: waarop stel hulle hul vertroue? En ten slotte sal die Heerser ook die afgodery uit die volk uitroei: “En Ek sal uit jou midde uitruk jou heilige boomstamme en jou stede verwoes”, sodat die volk Hom alleen kan dien en na Hom alleen sal luister. Radikaal, ja. Maar om Jesus Christus, die Seun van God, as jou Verlosser te mag ontvang, het ook radikale konsekwensies! 

Die Seun van God het ons immers van die slawediens van die sonde en die dood verlos en vrygekoop, nie met goud of silwer nie, maar met sy kosbare bloed – tot sy eiendom! Dit is belangrik om dit raak te sien, broers en susters. Die vryheid waarin die Seun ons plaas, die vryheid om nou ‘n kind van God te mag wees, is geen ongebrydelde vryheid nie, dis geen vryheid sonder grense nie, dis nie ‘n vryheid waarin ek vervolgens kan doen wat ek goeddink nie. Nee, ons word vrygekoop om nou aan Christus te behoort – Hy word nou ons Here!

Maar gaan ons op dié manier nie maar net oor van die een slawediens na die volgende nie? Hoe ons ook al daarna kyk, ons staan nog steeds onder ‘n meester. Of nie? Nee gemeente, want waarvan het Christus ons verlos en vrygekoop? Van die sonde en die heerskappy van die duiwel (antw. 34). Dit was ‘n dodelike slawediens waarin ons verkeer het, ‘n slawediens waarvan die uiteinde die ewige hel is. Dáárvan word ons verlos! En die nuwe heerskappy waaronder ons nou staan, is dié van die Seun van God – ‘n lewegewende heerskappy! Ons het hierbo al gesien watter geweldige rykdom dit is om aan Christus te behoort – kind van die Vader, deel van ‘n liefdevolle familie!

 Gemeente, ons is dus deur die Seun van God vrygekoop om kinders van God te wees. Maar besef baie goed dat ons kindskap slegs veilig is in diensbaarheid aan ons Here. Slegs binne die grense wat Hy stel, is daar ware vryheid. Want onthou: ons is aangenome kinders! Natuurlike kinders kan wat ook al doen, hulle is en bly kinders van hulle pa en ma. Maar aangenome kinders kan daardie status verloor. Aangenome kinders van die Here is dit nie vanselfsprekend nie – ons bly slegs kinders wanneer ons in Hóm bly wat ons daardie status in die eerste plek gegee het. Ons word tot kinders aangeneem deur die werk van die Seun van God, en ons bly dit slegs deur gehoorsaamheid aan daardie selfde Seun. Hy is ons Here – nie om ons weer slawe te maak nie, maar om ons te hou binne die vryheid wat ons as kinders het. Kinders van een Vader, ons kan dus nie net lewe en praat en dink soos wat ons wil nie. Dit is nie maar net ‘n kwessie van in die regte leer staan, terwyl die lewensinvulling my eie saak bly nie. Om die Seun van God as Gód te bely en vervolgens my eie lewe te gaan lei, is lippediens. En God haat lippediens! Te veel word ons lewens nog gekenmerk deur lippediens, te veel word die ortodoksie (die regte leer) beskerm terwyl die ortopraksie (die uitlewing daarvan) aan die goeddunke van die gelowige oorgelaat word. En moet dit net nie waag om iemand op sy lewenswyse aan te spreek nie… Gemeente, laat ons ons nie skaam om ook in ons lewenswandel uit te staan nie, ongeag die konskwensies wat dit mag hê vir jou lewe by die werk, die universiteit of die skool. Te dikwels wil ons nog ons lewens red – maar, sê Jesus in Mattheus 16:25, dit is dan wanneer jy dit sal verloor. Kom ons verloor eerder ons lewe om Christus ontwil, en dan sal ons dit vind. ‘n Lewe in ewigheid saam met die ewige Seun van God. Amen               

Liturgie (aand) 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seën: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing: Ps. 106:20

Gebed

Lees:    Miga 5           

Mattheus 16:13-17:13

Kollekte

Sing Ps. 2:4 en 6

Teks: HK, Sondag 13

Gebed

Preek

Amenlied Skr. 5

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Slotsang Skr. 24:2-4

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)