Die heerlike boodskap word deurgegee!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-09-21
Teks: 
1 Timótheüs 1:18-20
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – 1 Timotheus 1:18-20; lees 1 Tim. 1:12-20, 1 Kor. 5:1-8

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Verlede week het ons gesien hoe Paulus vir Timotheus opgeroep het om die dwaalleer te beveg –  verse 1-11. Vanaf vers 18, ons teksgedeelte vir vandag, bou Paulus voort op hierdie onderwerp. Daar is dan ook ‘n duidelike aansluiting van vers 18 by vers 11. Kyk maar… Vers 11 eindig met: “volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.” En dan vervolg Paulus in vers 18: “Hierdie boodskap vertrou ek aan jou toe … sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry.” Sowel in inhoud as in woordgebruik sluit vers 18 naatloos by vers 11 aan. Maar wat dan van verse 12-17? Hoekom onderbreek Paulus sy betoog om hierdie verse in te voeg?

Wel gemeente, Paulus eindig vers 11 met die verwysing na die evangelie wat aan hom toevertrou is; hy mag daardie boodskap uitdra. En dit is asof die besef van die grootsheid hiervan – die besef van die onverklaarbaarheid dat ‘n sondige mens soos hy die blye boodskap mag bring – asof dít Paulus spontaan laat uitbreek in ‘n lofprysing op God wat hom waardig geag het om in die bediening te staan. Aan hom, as die vernaamste van alle sondaars – ‘n lasteraar, ‘n vervolger, ‘n geweldenaar – aan hóm is barmhartigheid bewys. En daarom bars Paulus uit: “Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”

 

Gemeente, ons dien ‘n ongelooflike God; ons Koning is die beste! Daar is geen Koning soos ons koning nie! Demetrius, die silwersmid van die stad Efese – en onthou, dít was die stad waarin Timotheus werksaam was – Demetrius het daarom alle rede gehad om bekommerd te wees oor die invloed van die evangelie in daardie stad (kom ons lees hiervan in Hand. 19:23-28; dit help ons om die brief aan Timotheus binne sy konteks in die stad Efese te plaas…). Demetrius het dus goeie geld verdien as maker van silwertempeltjies van die godin Diana. Ja, hy het ryk geword uit hierdie ambag … totdat ‘n sendeling met die naam van Paulus daar opgedaag het. Toe begin die gevaarligte flikker, toe begin sy besigheid agteruit gaan. Gevolglik het Demetrius inderhaas die silwersmede van Efese bymekaar geroep om die eer en majesteit van hulle koningin te probeer verdedig, en – nog belangriker – om hulle inkomste te probeer verseker. Maar helaas, gemeente, die koms van Koning Christus in Efese het die einde van koningin Diana beteken. Die God wat sy opwagting in Efese gemaak het, is immers ‘n onverderflike Koning, terwyl dit geblyk het dat Diana maar net ‘n verganklike koningin is; die God wat Efese binnegekom het, is onsienlik, terwyl Diana maar net ‘n standbeeld was; die God wat in Efese naam gemaak het, is uniek, terwyl Diana slegs ‘n massa-produk van silwersmede was. Terwyl hierdie Koning vir ewig eer en heerlikheid ontvang, het die lof en aanbidding aan Diana stilgeword. Met die uitsondering van ‘n paar pilare in die oop veld buite Efese, is die laaste oorblyfsels van Diana se tempel nou uitgestal in die Britse Museum in London. Nee, Demetrius wou dit miskien nie erken nie, maar die evangelie wat Efese binnegekom het, was ‘n blye en blywende boodskap van ‘n ewige Koning. Diana moes wyk voor die blye boodskap van hierdie Koning!

Nou, broers en susters, dit is daardie einste boodskap wat Paulus aan Timotheus toevertrou om daarmee verder te gaan werk in die jong gemeente te Efese. Die boodskap word deurgegee, sodat verse 12-17 nie slegs Paulus se loflied is nie, maar die loflied van duisendes wat in hierdie Koning glo!

Tema: Die heerlike boodskap word deurgegee!1.      Stry die goeie stryd2.      Beskerm die geloof 

1. Paulus gee dus die heerlike boodskap van die ewige Koning deur aan Timotheus; hy moet daarmee gaan werk in die gemeente in Efese wat aan sy sorg toevertrou is. Maar, broers en susters, nou moet ons nie dink dat dit sonder stryd gepaard sal gaan nie; die verkondiging van die evangelie in die gemeente van Christus en die getuienis na buite, is nooit ‘n gelykpad nie. Nee, uit verse 1-11 het alreeds baie duidelik geblyk dat dwaalleraars die lewe vir Timotheus baie moeilik gemaak het en nog sal maak. En Paulus weet dit, Paulus besef terdeë dat die heerlike boodskap wat Timotheus sal bring, stryd gaan veroorsaak. En hy weet ook dat hierdie geestelike stryd – wat uiteindelik ‘n stryd tussen God en satan is, wat alreeds vanaf die sondeval woed – dat hierdie stryd geen piekniek is nie, maar ‘n worsteling tot die dood toe. En daarom beveel Paulus sy jong kollega om homself voor te berei vir hierdie geestelike stryd. “Stry die goeie stryd…”, sê Paulus vir Timotheus in vers 18.

Dus, gemeente, Timotheus bevind homself in ‘n oorlogsituasie. Hy staan in die leër van Jesus Christus, en hy ontvang sy bevele van generaal Paulus, wat dit weer van die Opperbevelhebber in die hemel ontvang het. Timotheus is ‘n soldaat in die leër van Jesus Christus. As predikant van die gemeente in Efese het hy uiteraard ‘n besondere posisie in die leër gehad, ‘n spesiale taak. En dit is ook duidelik wanneer ons in vers 18 lees van “die profesieë wat vroeër aangaande jou uitgespreek is”. Wat presies hiermee bedoel word, is nie heeltemal duidelik nie. Waarskynlik verwys dit na iets wat gebeur het tydens Timotheus se bevestiging as predikant. Ons lees naamlik in 1 Timotheus 4:14: “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.” Die bybel vertel ons verder nie wat die inhoud van hierdie profesie was nie, maar ons mag aflei dat Timotheus se roeping en bekwaammaking tot die bediening bevestig is deur ‘n profetiese woord. Timotheus het dus die ondersteuning van die kerk, asook die bevestiging van die Heilige Gees gehad om hom vir sy taak in Christus se leër aan te spoor en te bemoedig.

 

Gemeente, nie almal van ons is ‘n Timotheus nie, nie almal van ons is die hande opgelê en het profesieë ontvang oor ons taak nie. Maar, watter posisie of taak ons ook al in die leër het, ten slotte staan élke gelowige in die leër van Jesus Christus. Ons sing immers in Psalm 110:3: “U volk, gereed tot dapper krygsmansdade, sal met U uittrek op die dag van stryd. Hul sal verskyn in heil’ge feesgewade, in diensplig een en al gewilligheid.” Ja, wie in Jesus Christus glo, staan onmiddellik in ‘n strydsituasie; daardie persoon sal ook byna onmiddellik die weerstand voel van die vyand wat teenoor hom staan. En daarom is die liedjie wat ons kinders sing, nie so vreemd as wat ons dikwels dink nie: ek is nie ‘n stapsoldaatjie nie, rysoldaatjie nie, skietsoldaatjie nie, ek is nie ‘n vliegsoldaatjie nie, ek is Jesus se soldaat. Hierdie liedjie sing van ‘n groot realiteit, dit sing van soldaat-wees, dit sing van stryd en oorlog. En, broers en susters, die geveg waarin ons betrokke is, is geen skyngeveg nie, dit is nie ‘n kinderoorlog buite in die tuin nie. Nee, die geveg waarin ons as gelowiges betrokke is, is een wat gaan oor lewe en dood – ewige lewe en ewige dood!

Ek vra myself soms af of ons dit nog genoeg besef. Besef ons nog die strydsituasie waarin ons verkeer? Verstaan jy iets van die geveg waarin jou keuse vir Jesus Christus jou plaas – die daaglikse geveg teen die duiwel, die wêreld en jou eie sondige natuur; die daaglikse stryd vir reg en verkeerd, vir goed en kwaad, vir geloof en ongeloof? Veg ons nog daarvoor? Of het ons geestelike lewens so geoutomatiseer geword – in so ‘n groef beland – dat ons weggeraak het in ‘n dodelike slaap? Of het ons dalk so gewoond geword aan die wêreld in ons huise en in ons kerke, dat ons nie meer die noodsaak vir stryd raaksien nie? Of het ons dalk so vermoeid geword in ons siele dat ons verslap het in die stryd? Gemeente, Christen-wees is geen gelykpad nie! Nee, om Christen te wees, beteken dat jy daagliks besig is met Genesis 3:15: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, tussen jou saad en haar saad.” God het ‘n oorlog begin wat, tot op die jongste dag, nooit sal weggaan nie. Wie in ‘n lewende verhouding met sy Koning lewe, sal elke dag die vyandskap ervaar, sal elke dag die wapenrusting aantrek, en sal elke dag die stryd aangaan. Doen ons dit nog hier in die huis van God? Onthou wat ek verlede week gesê het: die doel van Paulus se brief is dat elkeen kan weet hoe om hom te gedra in die huis van God – wel, gedra ons onsself nog soos soldate?

 

Hoe dit ook al sy, Paulus roep Timotheus – en daarmee saam die hele gemeente in Efese en ook die gemeente van Maranata vandag – op tot krygsdiens, tot stryd. Maar, let op gemeente, Paulus kwalifiseer daardie stryd. Hy praat naamlik van die goeie stryd. Wat is hierdie goeie stryd? Die uitdrukking op sigself impliseer alreeds dat sommige gevegte nie goed is nie. En ons sien dit ook op verskeie plekke in die brief aan Timotheus wanneer die gemeente deur Paulus gewaarsku word teen die gevare van nuttelose stryd. Die gemeente moet, volgens 1 Timotheus 1:4, wegbly van sake wat net twisvrae bevorder. En verder moet die gemeente, volgens hoofstuk 6:4-5, waak teen ‘n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe in hulle verstand en van die waarheid beroof is en dink dat die godsaligheid winsgewend is. Onttrek jou – sê Paulus vir Timotheus – aan sulke mense.

Die Skrif waarsku ons dus teen dispute wat geen doel dien nie; die Skrif waarsku ons teen oorloë wat kamtig in die naam van die waarheid gevoer word, maar wat uiteindelik blyk burgeroorloë te wees, gevegte tussen broeders en susters wat een is in die waarheid. Natuurlik, die bybelse leer en waarheid moet ten alle koste beskerm word, maar ons hoef nie oor elke leerstuk mekaar die stryd aan te sê nie, ons hoef nie oor elke verskil die wapens te trek nie. Ons behoort die bybelse leer ook nie te verdedig met ‘n voortdurende strydlustige gees nie. En verder, broers en susters, moet ons deeglik waak vir stryd oor kerklike tradisie, of oor praktiese sake wat weinig of geen geestelike konsekwensies het nie. Ons gaan byvoorbeeld nie met mekaar stry oor die inkleding van die liturgiese ruimte hiervoor, of oor die vraag of ons ‘n orrel in die kerkgebou moet hê of nie. Ons gaan nie met ons sustergemeente van Pretoria stry as sommige van hulle lidmate net-net aan hierdie kant, en sommige van ons lidmate net-net aan daardie kant van die gemeentegrense woon nie.

Oor sommige sake is dit beslis nie die moeite werd om te stryd te voer nie, sommige oorloë het werklik nie sin nie. Te dikwels word God se skape gewond en beseer, omdat hulle deur ander lede van dieselfde kudde aangeval is. As jy daarom wil weet of ‘n stryd die moeite werd is, stel vir jouself ‘n paar vrae: “Gaan dít, waarvoor ek nou gaan veg, oor ‘n jaar van nou af nog saakmaak?”, “Veg ek dalk vir myself en my opinie, of veg ek werklik vir die saak van die Here?”, “Probeer ek dalk om my eie optrede te regverdig, of het ek slegs die Here se eer op die oog?”

 

Gemeente, daar is baie slegte gevegte – sien hulle raak en bly daarvan weg. Maar daar is net een goeie stryd. Paulus nóém dit daarom ook die goeie stryd. En dit is die stryd vir die evangelie van die heerlikheid van die salige God, dit is die stryd vir die gesonde leer (verse 10 en 11). Veg jou arms stompies vir die realiteit van God Drie-enig, vir die Godheid van Jesus Christus, vir die noodsaaklikheid van die versoening van sondes, vir die genoegsaamheid van Christus se werk aan die kruis, vir die noodsaaklikheid van die kerk, vir die onfeilbaarheid van die Skrif. Dit is beslis die moeite werd om hiervoor te veg, en hierdie stryd sal ook altyd daar wees. Totdat Christus terugkom, sal die satan probeer om die huis van God, die gemeente, aan te val op hierdie kernpunte van ons belydenis. En weet u hoe doen hy dit dikwels? Hy doen dit deur ons aandag van hierdie kernpunte af te lei en ons te laat deelneem in nuttelose gevegte; so kry hy die gaping om egte dwaalleer te laat posvat.

Gemeente, kom ons stry die goeie stryd; dit is een wat ons saam behoort te doen, en ook saam mág doen. En kom ons doen dit in geloof en ‘n goeie gewete – soos wat Paulus oproep in vers 19. Dus, laat ons die stryd enersyds stry in ‘n regte verhouding tot Jesus Christus, en andersyds in die sorgvuldige toepassing van die waarheid in die praktyk van ons daaglikse lewe. Of om dit nog anders te stel: as die geveg vir jou belangrik genoeg is, laat dit ook blyk uit jou lewenswandel. Die Christelike geloof moet nie slegs verdedig word nie, maar ook geleef word. Die goeie stryd is nie slegs ‘n saak van leer nie, maar ook van lewe!

Vervolgens: beskerm die geloof.

 

2. Wat gebeur wanneer mense die geloof en ‘n goeie gewete verloor? Wel, Paulus beëindig sy oproep aan Timotheus deur twee konkrete voorbeelde te gee van wat met mense gebeur wanneer hulle die geloof en ‘n goeie gewete verloor. Hy verwys na twee manne; hierdie manne was berug in die gemeente van Efese: Himeneus en Alexander. Van Himeneus lees ons weer in die tweede brief aan Timotheus die volgende: “en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar Himeneus en Filetus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om” (2. Tim. 2:17-18). Van Alexander hoor ons waarskynlik weer in 2 Timotheus 4:14-15, waar ons lees: “Alexander, die kopersmid, het my baie kwaad aangedoen. Mag die Here hom vergeld na sy werke! Jy moet ook vir hom oppas, want hy het ons woorde sterk teëgestaan.”

Wat Paulus van hierdie twee manne sê, is dat hulle, deurdat hulle die geloof en ‘n goeie gewete weggestoot het, skipbreuk gely het aan hulle geloof. Hulle leer en lewe het ‘n Titanic geword, wat teen ‘n ysberg gebots en gesink het. En daarom het Paulus hulle oorgegee aan die satan, sodat hulle kon leer om nie te laster nie.

 

Wat word presies met hierdie laaste uitdrukking bedoel? Wel, gemeente, ons vind hierdie selfde uitdrukking ook in 1 Korinthiërs 5:5, wat ons saam gelees het. In hierdie gedeelte gaan dit oor iemand wat ‘n gruwelike sonde begaan het, en oor die vraag wat vervolgens met so ‘n persoon gedoen moes word. Dan beveel Paulus die gemeente “om so iemand aan die Satan oor te lewer…” Uit 1 Korinthiërs 5:2 blyk dat hierdie oorlewering aan die satan tegelykertyd ook ‘n uitsluiting uit die gemeente is; ons lees daar: “sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.” Ook in 1 Timotheus 1:20, waar Himeneus en Alexander deur Paulus aan die satan oorgelewer word, impliseer dit uitsluiting uit die gemeente. Paulus pas dus op streng wyse die kerklike tug toe.

Vervolgens, in 1 Korinthiërs 5:6-8 beklemtoon Paulus die belang van hierdie tugoefening met behulp van die beeld van die ongesuurde brode van die Paasfees. Gedurende die Paasfees moes die Jode alle suurdeeg uit hulle huise verwyder; geen suurdeeg was in die huis toelaatbaar nie. Mense wat wel gedurende die fees gesuurde brood geëet het, moes onmiddellik afgesny word. Suurdeeg was immers ‘n simbool van onreinheid, onreinheid wat so spoedig moontlik verwyder moes word. Hoekom so spoedig moontlik? Want suurdeeg het die vermoë om die hele deeg suur te maak; die gevaar van suurdeeg lê juis in die deurwerkende krag daarvan. In die konteks van die gemeente van Korinthe was die sondaar die suurdeeg wat verwyder moes word; toleransie van hierdie sondaar sou uiteindelik die hele gemeente vervuil.

Gemeente, wanneer ons dus daarop uit is om die goeie stryd te stry, kan ons nie toelaat dat die sonde ‘n vastrapplek in die gemeente kry nie. Wanneer iemand hom aan sekere openbare of growwe sondes skuldig maak – hetsy in leer of lewe – en nie na vermaning wil luister nie, mag ons nie toelaat dat daardie kwaad in die gemeente bly deurwerk nie. Dan moet ons, ter wille van die geloof en die gewete in die gemeente, die tug streng toepas. Om in die leër van Jesus Christus die goeie stryd te stry, plaas ons as gelowiges en as gemeente noodwendig in konfrontasie met die kwaad. En dan kan ons geen kompromieë aangaan met die kwaad nie, geen bondgenootskappe nie. Nee, dan moet ons streng optree: lewer die hardnekkig sondaar oor aan die satan.

 

Maar, broers en susters, buiten dat die geméénte beskerm moet word, is daar ook nog ‘n ander doel met die oorlewering aan die satan. Paulus bring dít onder woorde in die tweede deel van 1 Korinthiërs 5:5: “om so iemand aan die Satan oor te lewer, tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus.” Paulus bedoel hiermee dat die sondaar, wat aan die satan uitgelewer word, nie langer die beskerming van Christus kan geniet nie, en dat hy kan verwag om in hierdie lewe deur allerhande ellende geteister te word. Maar – baie belangrik! – dit moet lei tot sy bekering! Hooplik, sê Paulus, word sy gees gered op die dag van die Here Jesus!

Die manne in Efese, Himeneus en Alexander, het aan die geloof skipbreuk gely, maar Paulus – van alle mense! – het geweet dat dit moontlik is om ‘n skipbreuk te oorleef. En die sonde wat hierdie manne begaan het, naamlik laster, was ook een van Paulus se vorige sondes (kyk maar na vers 13). Paulus het geweet dat dit moontlik is om vergifnis te ontvang vir laster, en om gered te word van ‘n skipbreuk. Dit help ons om te verstaan hoekom Paulus Himeneus en Alexander aan die satan oorgelewer het. Hy het die behoud van hierdie manne op die oog gehad! Hy het gepoog om bose manne te help, deur middel van die Bose, die Satan. Dit was Paulus se opregte begeerte dat God vir Himeneus en Alexander terug sou bring na Homself.

 

Kerklike tug, gemeente, het daarom nie slegs ten doel om die gemeente te beskerm nie, maar ook om sondaar te herstel. Kerklike tug het dus na twee kante toe medisinale krag. Dit is nie bedoel om seer te maak nie, maar om heel te maak – sowel die gemeente as die sondaar. Wanneer kerklike tug reg toegepas word, handhaaf dit die eer van God en die reinheid van die gemeente, en hooplik bring dit ongehoorsame sondaars terug in die kudde. Dus, broers en susters, ten slotte word die geloof word beskerm – die geloof van die gemeente teen die invloed van die afbrekende mag van die sonde, maar ook die geloof van die sondaar self! Só behoort daar opgetree te word in die huisgesin van God.

 

 

Ten slotte…

 

Paulus het in die leër van Jesus Christus gebly tot die einde van sy lewe. Teen die einde van sy tweede brief aan Timotheus was hy ‘n veteraan van vele veldslae. Hy skryf dan, as sterwende, die volgende woorde: “… die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:6-8). Gemeente, hierdie is woorde wat ons kan toepas op die lewe van elkeen van Christus se soldate. Ons mag dit vanoggend sê van br. Haak: “hy het die goeie stryd gestry, hy het die geloof behou, hy het die kroon van die geregtigheid ontvang.”

Ons gaan intussen verder met die goeie stryd – ernstig, bewustelik en volhardend. Maar onthou: jy hoef die oorlog nie meer te wen nie. Dit het Christus reeds gedoen. Die oorwinning is al behaal! Sit daarom die stryd voort met die oog gerig op Christus, en verlang na die oorwinnaarskroon wat weggelê is vir elke gelowige. En glo die belofte in Romeine 16:20: “die God van vrede sal die satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal.”

Amen

     

Liturgie (oggend)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1 (Gemeente, kom ons gaan staan voor die Here om ons afhanklikheid van Hom te bely)

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen. Sing Ps. 16:3-5 (in die lig van hierdie vredegroet mag ons sing van die lewe, die ewige lewe, wat ons by die Here het, ook wanneer ons vandag hartseer is oor die afsterwe van ‘n broeder; kom ons doen dit uit Ps. 16:3-5)

Wetslesing + HK v/a 106 en 107

Sing Ps. 5:4, 5, 9-11

Gebed

Lees:    1 Timotheus 1:12-20

            1 Korinthiërs 5:1-8

Kollekte

Sing Ps. 61:3-6 (in Ps. 61 sing ons van die rykdom wat ons by die Here ontvang, en hoe ons in antwoord daarop ons offers dag na dag aan Hom bring; kom ons gee nou ons gawes aan die Here, wat bestem is vir…, en dan sing ons daarna uit Psalm 61:3-6)

Teks: 1 Timotheus 1:18-20

Preek

Amenlied Skr. 40:2-5

Gebed

Slotsang Ps. 144:1 en 6

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)