Voorsienigheid is die hand van die Vader in alles!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2008-08-31
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 10
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – HK, Sondag 10; lees 2 Konings 20

 

Geliefde gemeente van Jesus Christus, ons Here,

Die voorsienigheid van God – dikwels ‘n kontroversiële onderwerp. Dikwels ‘n onderwerp wat bestry word deur mense wat maar net nie kan glo dat ‘n goeie God die soort verskriklike dinge kan toelaat wat ons in ons wêreld sien gebeur nie; hulle kan nie aanvaar dat God aan die stuur staan van hongersnood in Afrika, die verwoestende Vigs-pandemie, ‘n seun wat ‘n mede-leerling met ‘n swaard doodslaan en gister se aardbewing in China nie.

Aan die ander kant sien ons dat aanhangers van die leer van die voorsienigheid hierdie leer  dikwels op onsensitiewe wyse gebruik. Sonder om mense se hartseer en vrae in ag te neem, word God se voorsienigheid as rasionele verklaring van gebeure aangevoer, en dit moet sonder enige twyfel of bevraagtekening aanvaar word. Saaklik is dit natuurlik heeltemal korrek, maar pastoraal baie onwys.   

 

Hoe dit ook al sy, ‘voorsienigheid’ ontaard dikwels in ‘n geskilpunt. So dikwels is God se voorsienigheid rede tot stryd. En dan is dit so wonderlik om te sien dat ons belydenis nie in daardie woordewisseling beland nie; die Kategismus soek op hierdie punt nie die polemiek op nie, maar stel eenvoudig die voorsienigheid as God se onderhouding en regering van lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede. Eintlik stel ek dit verkeerd. Ons belydenis praat nog baie mooier daaroor: ons belydenis praat van die voorsienigheid as onderhouding en regering, nie soseer deur God nie, maar deur die Vaderhand! Ja, die Kategismus stel ‘n onlosmaaklike verbintenis tussen ‘voorsienigheid’ en die Vaderhand. As ons oor voorsienigheid praat, sê die Kategismus, moet ons altyd ook oor die Vaderhand praat.

Tema: Voorsienigheid is die hand van die Vader in alles!

1.      Draai jou gesig na die muur om te bid, want dit is ‘n Vader-hand;

2.      Vergeet eers van die vyekoek, want dit is ‘n almagtige hand

3.      Dink net aan Jerusalem, want dit is ‘n ewige hand

 

1. Koning Hiskia het skielik baie siek geword, dodelik siek. Uit vers 7 blyk dat hy ‘n sweer gehad het. Hierdie sweer was waarskynlik op een of ander gevaarlike plek aan die liggaam, miskien by sy kop. Kort daarna daag die profeet Jesaja daar op om in opdrag van die Here Hiskia se dood aan te kondig: “jy sal sterwe en nie lewe nie.” Die sweer sal dus tot Hiskia se dood aanleiding gee.

As ons gaan uitwerk hoe oud Hiskia op hierdie stadium was, kom ons tot die konklusie dat hy waarskynlik so vyf- of ses-en-dertig jaar oud was – dus, in die krag van sy lewe. In die krag van sy lewe moet Hiskia hoor dat sy lewenskrag nie bepalend is nie; die Hére bepaal sy dag en uur.  Dit is nou die voorsienigheid van die Here oor Hiskia se lewe. Ja, inderdaad, geen gelowige wat daarmee sal stry nie; dit is so ‘n 100%-korrekte verklaring vir dít wat in ons lewens gebeur. Maar, gemeente, hoe is Hiskia veronderstel om hiermee om te gaan? Hoe moet Hiskia reageer? “Wel – sal sommige aanhangers van die voorsienigheidsleer sê – Hiskia moet eenvoudig aanvaar wat die Here oor sy lewe gebring het; hy het die goeie uit God se hand ontvang, sou hy nie ook die minder goeie aanvaar nie?”

 

Maar, gemeente, dit is nie wat Hiskia doen nie; hy lê hom nie sondermeer neer by die boodskap wat hy sopas ontvang het nie. Wat doen Hiskia dan? Hy draai, volgens vers 2, sy gesig na die muur toe. Enersyds uit droefheid, maar andersyds ook om met rus gelaat te word, sodat hy kan bid. Hiskia vra in sy gebed aan die Here om te gedenk dat hy voor die aangesig van die Here in trou en met ‘n volkome hart gewandel het, en dat hy gedoen het wat goed is in sy oë. Hiskia wys dus op sy eie lewenswandel voor die Here, omdat hy vanuit die Skrif weet dat aan ‘n vroom lewenswandel die belofte van ‘n lang lewe hier op aarde verbonde is. Dink maar aan ‘n gedeelte soos Spreuke 3:1 en 2: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder” – en talle soortgelyke gedeeltes. Hiskia hou dus, in sy gebed, die Here aan sy eie woord. Só spreek hy Hom ook aan: HERE, Jahwe, God van die verbond, dink tog daaraan…

Maar oorskrei Hiskia hier nie sy grense nie? Het hy dan vergeet dat hy maar net ‘n mens is, terwyl God mos die Een is wat sy lewensweg bepaal? Wie is hy om die Here te bevraagteken deur sy eie lewe aan die Here voor te hou; nee, Hiskia gaan nou te ver! Skynbaar nie, broers en susters! Skynbaar doen Hiskia hier presies waarop die Here gehoop het; dit wil voorkom asof die Here as’t ware op die punt van sy stoel sit en wag het vir Hiskia om Hom op dié manier aan te roep. En ons sien dit in die volgende vers: die profeet Jesaja het die middelste voorhof nog nie uitgegaan nie of die woord van die Here het weer tot hom gekom. Jesaja moet net daar en dan in sy spore omdraai om aan Hiskia ‘n nuwe boodskap te bring, ‘n goeie boodskap: “Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien; kyk, Ek sal jou gesond maak. En Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg en jou en hierdie stad uit die hand van die koning van Assirië red, en ook hierdie stad beskut terwille van My en my kneg Dawid” (2 Kon. 20:5-6). Is dit nou ook God se voorsienigheid? Natuurlik! – niemand wat daarmee sal stry nie. Maar hoe is dit moontlik? Is voorsienigheid dan nie iets wat vasstaan nie?

 

Broer en suster, gaan die voorsienigheid van God vir jou dalk oor sy ongenaakbare en onveranderlike wil, ‘n wil wat in sement gegiet is en waaraan ons net mooi niks kan verander nie? Voel dit vir jou asof jou lewe in die ystergreep van ‘n tiran is, asof jou lewe oorgegee is aan ‘n klipharde vuis? Is dit vir jou ‘n verskriklike gedagte om te val in die hande van die lewende God? Dan is die kans groot dat die voorsienigheid in jou lewe verstar het tot ‘n koue leerstuk: die voorsienigheid. Leer dan van Hiskia hoe ons met God se voorsienigheid behoort om te gaan. Hiskia wys baie duidelik dat die voorsienige optrede van God vir die gelowige nie die einde van die pad is nie, maar juis die opening tot nuwe moontlikhede, nuwe rede tot gebed, nuwe rede om God op sy beloftes aan te spreek. God se voorsienigheid is nie ‘n ondeurdringbare kluis nie, maar is juis die opening tot sy Vaderhart vir dié wat in Hom glo!

En kyk hoe pragtig praat ons belydenis daaroor; vir die Kategismus gaan die voorsienigheid nie oor ‘n harde onveranderlikheid van ‘n ver-af God nie. Nee, vir die Kategismus gaan die voorsienigheid oor die hand van die Vader in jou lewe! Tot drie maal toe in antwoord 27 en 28 vind ons hierdie beeld: “asof met sy hand nog onderhou en so regeer”, “en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy vaderhand toekom”, en “aangesien alle skepsels so in sy hand is”. Gemeente, ons het nie met ‘n harde tiran te make nie, en sy wil vir ons lewens is geen onveranderlike noodlot nie. Nee, ons God is ons Vader! En, sing ons dan in Psalm 103:7, daar is geen vader wat, deur smartgevoel bewoë, sy kind aanskou met teerder mededoë as Israels HEER dié wat Hom eer en vrees. Jy kry nie ‘n meer bewoë pa as God nie, jy kry nie ‘n beter pa as Hy nie.

 

Broers en susters, besef daarom: God is nie maar besig om van veraf alles te onderhou en te regeer nie. Hy gee nie maar van veraf reën en kos nie. Hy is nie soos kersvader wat in die nag sy pakkies met aangename of minder aangename verrassings in ons skoorstene kom afgooi nie. Nee, in al die dinge wat Hy gee, of dit nou teëspoed of voorspoed bring, kom Hy sélf na ons toe, in alles wat Hy gee, wil Hy hê ons moet Hóm raaksien, wil Hy hê dat ons die hand wat dit alles gee, sal aangryp. Dít is waartoe God se voorsienigheid in hierdie wêreld ons wil bring – om onsself volledig aan daardie Vaderhand toe te vertrou, oor te gee! Hoekom? Omdat daar altyd kos en klere en oorvloed is? Omdat dit daar in God se hand met die gelowige altyd goed sal gaan? Nee, gemeente, maar omdat ons in God se handpalm die polsslag van sy liefde vir ons ontdek: Jesus Christus!

Jesus Christus is die hoogste bewys dat God se voorsienigheid nie ‘n koue lot is nie. As dit so was, dan moes Adam en Eva by die sondeval oombliklik gesterwe het, dan was dit daar en dan met die mensdom gedaan. Maar die Vaderhand vind ‘n weg deur die chaos heen, Hy maak ‘n pad oop dwarsdeur die ellende van sonde en dood, en daardie pad lei na Golgota! Daar op Golgota klop die Vaderhart op sy sterkste. Daar vind ons die sekerste bewys dat God in groot bewoënheid met ons omgaan; daar vind ons die sekerste bewys dat God se voorsienigheid ons nie muilband en monddood maak nie, maar dat dit ons juis oproep om die gesig na die muur te draai en te bid! Die voorsienigheid is nie ‘n finale ‘nee’ van ‘n God wat geen teenspraak duld nie, maar dit is die ‘ja’ van die Vader wat wys dat Hy regeer! Gemeente, gaan daarom ook in alles na Hom toe; sorg dat, wat ook al gebeur, daar altyd kommunikasie bly, altyd gebed, ook al is dit slegs die ‘waarom’ van die geloof.

Vervolgens: vergeet eers van die vyekoek, want dit is ‘n almagtige hand.

 

2. Ná sy aanvanklike boodskap, het Jesaja nou ‘n pragtige boodskap vir Hiskia, ‘n boodskap wat vol is van die mag en krag van die Here. En verskeie elemente in Jesaja se Godspraak getuig hiervan.

Hiskia kry naamlik te hore dat daar vyftien jaar by sy lewe gevoeg sal word. Vyftien jaar vir ‘n man wat bestem was om te sterwe, ook medies-gesproke – dit is ‘n magtige God wat dit kan belowe en dit vervolgens ook kan waarmaak. Verder hoor ons dat ‘n vyekoek op die sweer geplaas moes word; nou, gemeente, uiteraard het die vyekoek bygedra tot die genesing, maar uiteindelik is dit net deur goddelike krag dat genesing ‘n werklikheid kon word. God het dit gespreek en Hy het dit ook gedoen. Daarby moet ons opmerk dat die genesing nie oombliklik was nie; nee, presies op die tyd deur God bepaal, naamlik op die derde dag, kon Hiskia opstaan om na die huis van die Here te gaan – dit is ’n magtige God wat die tyd so in sy hand het dat Hy die oomblik van genesing so presies kan bepaal. En wanneer Hiskia ten slotte nog vra vir ‘n teken as bewys dat sy genesing werklik sal plaasvind, dan ontvang hy van Jesaja twee opsies: “Moet die skaduwee tien grade vooruit gaan, of moet dit tien grade agteruit gaan?” – dit is ‘n magtige God wat so ‘n aanbod kan maak, wat in staat is om die sonstrale met tien grade agteruit te laat gaan, sonder die katastrofiese gevolge wat veronderstel is om met so ‘n gebeurtenis gepaard te gaan.  

 

Gemeente, hierbo het ons gesien dat God se voorsienigheid nie ‘n doodlooppad vir sy kinders is nie. Die noodlot, ja, dit sou ‘n doodlooppad gewees het, maar nie die voorsienigheid nie. God se voorsienigheid, sy Vaderhand, bied juis ruimte aan sy kinders om in te gaan op dít wat Hy oor ons lewens bring, om daarop te reageer, om daaroor te bid.

Maar goed, broers en susters, dit is natuurlik slegs die moeite werd om in te gaan op God se weg met ons, wanneer Hy ook in staat is om iets daaraan te doen, wanneer dit in sy mag is om op ons gebede te reageer. En dit is dan ook die mooi van die stukkie geskiedenis in 2 Konings 20 – Hiskia bid tot God, nie net omdat hy weet dat God wíl help nie, maar ook omdat hy weet dat God kán help. En as profeet bid ook Jesaja tot God om te vra dat Hy tot uitvoering sal bring wat Hy oor die tien grade belowe het. Sowel Hiskia as Jesaja bid in vertrou tot die God wat werklik kan help!

 

Gemeente, hoe dikwels bid ons nog in hierdie besef? Hoe dikwels bid ons nog met die vaste wete dat die God met wie ons te make het, Hom deur niks laat keer nie? Ja, ons bid, maar so dikwels bid ons met een oog oop. Een oog is op God gerig, maar met die ander oog moet ons darem tog die omstandighede dophou. Met die een oog fokus ons op God om ons te help wanneer ons in finansiële moeites is en die begroting nie wil uitwerk nie, maar met die ander oog hou ons die wisselkoers en die rentekoers dop. Met die een oog fokus ons op God vir genesing en beterskap, maar met die ander oog soek ons na ‘n tweede opinie en soek ons na ander moontlike medikasie. Met die een oog soek ons na God in die onseker politieke toestande van ons land, maar met die ander oog kyk ons alreeds rond, opsoek na ‘n uitkoms of na ‘n leier wat ons deur hierdie tyd kan neem.

Nou sê ek nie, broers en susters, dat ons nie die rente- en wisselkoers mag dophou nie, of dat ons ‘n tweede opinie of beter medikasie moet ignoreer, of dat ons nie goeie leiers mag identifiseer nie. Maar wat ek wel sê, is dat God se voorsienigheid nie verdeelde aandag kan verdra nie. Hy verdra nie dat ons met die mond die voorsienigheid bely, maar tog in ons hart ons vertroue op iets buite Hom plaas om ons te help nie. Nee, so werk dit nie, sê die Here. Trouens, so sal dit ook nooit kan werk nie. Die Kategismus praat in antwoord 28 nie verniet van “‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader, dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels só in sy hand is dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.”

 

Gemeente, Gód is die Almagtige! Hy is die Bron van alles! Hý is die Een wat aan almal lewe en asem en alles gee! Lees maar Psalm 104:27-29: “Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof.” Dit het geen sin om met die een oog op God en met die ander oog op die moontlikhede van die wêreld gefokus te wes nie. Nee, besef en glo: ons en elke lewende wese bestaan volledig by die genade van God! Slegs in Hóm lewe ons, beweeg ons en is ons – ook op hierdie einste oomblik! Hierdie aarde, elke nasie, elke mens, is totaal van Hóm afhanklik – of ons dit nou erken of nie. So is dit! Ons is in sy hand!

Mense, ook ons, het so dikwels hulle eie voorsieninge vir lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede… Mense skep vir hulleself ‘n sisteem waarin niks kan foutgaan nie! En wanneer iets foutgaan, dan wil hulle weet waar God was. Dan skielik wil die kleipot by die pottebakker weet hoekom hy hom so gemaak het! Dan skielik moet God verantwoording aflê, terwyl hulle Hom nooit erken het as die Een wat alles in sy hand hou nie. Dan skielik moet God regstaan…

 

Gemeente, kom ons leer weer om onsself volledig in die hande van die Vader toe te vertrou. Dit is hande wat vir niks verkeerd staan nie. Niks wat jy vra is vir Hom onmoontlik nie. Moenie op twee gedagtes hink nie; moenie ‘n bietjie van God se mag en ‘n bietjie van die wêreld se moontlikhede wil hê nie. Vergeet eers van die vyekoek! Gaan na God toe, want vir Hom is niks ontmoontlik nie! Jou finansiële moeites, jou siekte, jou onsekerheid oor die toekoms van ons land vang Hom nie onkant nie. Gaan lees maar die Skrifte oor die magtige hand en uitgestrekte arm van God wat altyd gereed staan om sy kinders te help.  

Ten slotte: dink net aan Jerusalem, want God se hand is ‘n ewige hand

 

3. Hiskia is weer gesond en op die been. Maar goed, nuus in daardie tyd het nog nie so vinnig gegaan soos by ons vandag nie, want kort daarna ontvang hy nog vertraagde siekebesoek van die seun van die koning van Babel. Hiskia, weer perdfris, wys aan die besoekers al sy rykdom: “daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskia hulle nie laat sien het nie” (vers 13). Op sigself nie verkeerd nie, die Here veroordeel ook nie hierdie daad van Hiskia nie. Maar Hy gebruik dit wel as aanleiding om ‘n boodskap aan Hiskia oor te dra. En die boodskap is nogal ironies: hierdie Babiloniërs het nou jou rykdom kom bewonder; eendag sal al hierdie rykdom deur die einste Babiloniërs weggevoer word na Babel, en daar sal niks oorbly nie.

Gemeente, weereens gaan dit hier oor die voorsienigheid van die Here, maar met dié verskil dat dit voorsienigheid vir die verre toekoms is. Die Here bepaal vir die verre toekoms die lot van Jerusalem. Die stad Jerusalem, waarvan die Here in vers 6 nog gesê het dat Hy dit ter wille van Homself en van sy kneg Dawid sal beskut teen die koning van Assirië, sal eendag tog die straf van die Here ondergaan. Daar sal ‘n dag kom wanneer die Here die stad nie meer sal beskut nie. Oor die hoekoms en waaroms van hierdie besluit van die Here hoef ons nie nou verder te praat nie; die punt is dat die Here die lot van hierdie stad bepaal.

 

Hiskia aanvaar hierdie boodskap gelate; dit is goed soos die Here gespreek het. Hiskia het vervolgens nog sy vyftien jaar gelewe, en hy het blykbaar nog ‘n dam asook ‘n watervoor gebou waarmee water in die stad ingebring kon word. Vers 20 noem dit alles Hiskia se ‘magtige dade’. Maar magtige dade of nie, Hiskia het gesterwe en Manasse het in sy plek koning geword. Die bybel beskryf hier vir ons die magtige dade van ‘n sterflike man, maar wanneer ons dieper kyk, dan beskryf die bybel vir ons ook die ewige voorsienigheid van die onsterflike God. Hiskia sterwe, en ja, ons weet iets van wat hy gedoen het. Maar die Here gaan verder, sy hand deur die geskiedenis gaan eenvoudig voort.

Oor Jerusalem het presies gekom wat Hy voorspel het, Jerusalem is verwoes en alles en almal is weggevoer na Babel. Maar daarna het die Here ook nog verder gegaan met Jerusalem. Jerusalem is weer opgebou, Jerusalem het weer glorie bereik, Jerusalem sou uiteindelik die werkplek van die Here Jesus word. En dan, in 70 na Christus, sou Jerusalem weer verwoes word, hierdie keer deur die Romeine. Maar uiteindelik, wanneer Christus terugkom, sal die nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal, soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. Die geskiedenis van Jerusalem, soos dit onder andere hier in 2 Konings 20 vir ons beskryf word, wys dus vir ons dat God se hand nie ‘n kortstondige voorsienigheid is nie, maar ‘n voortgaande. Sy voorsienigheid strek tot in die ewigheid. Nooit sal dit ophou nie, nooit hoef ons bekommerd te wees dat ons of ons kinders in ‘n fase van die geskiedenis sal lewe waarin God nie teenwoordig sal wees nie.

En in hierdie lig kan ons dan ook Hiskia se reaksie verstaan op die profesie van Jesaja. Hiskia sê nie maar net dat die Here se woord goed is, omdat hy slegs oor sy eie tyd bekommerd is nie; nee, Hiskia kan die boodskap aanvaar omdat hy weet – en ook eerstehands geleer het – dat God se hand ook in die toekoms in beheer sal wees, en dat God se hand ook in die toekoms daar sal wees vir sy kinders.

 

En in daardie vertroue mag ons ook verder gaan, en mag ons die toekoms van ons kinders, van die kerk en van ons land by die Here laat. Wat Hy daarmee doen, is goed. Ons weet wat die doel is waarheen ons oppad is; die roete daarheen laat ons rustig in God se hand. Dink net aan Jerusalem, en weet dan verseker dat God se hand ‘n ewige hand is; ‘n hand wat sy kinders bring in die ewigheid!

Amen

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liturgie (aand)

 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.

Sing Ps. 116:1, 4 en 5

Gebed

Lees:    2 Konings 20 (opgegee verse 1-11, maar lees hele hoofstuk)

Sing Ps. 39:3, 6 en 7

Teks: HK, Sondag 10

Preek

Amenlied Ps. 103:6, 7, 9 en 10

Gebed

Belydenis van geloof (staande en singende)

Kollekte

Slotsang Ps. 36:2 en 3

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)