Die seun van Isai is klaar, die Seun van Dawid gaan vir ewig voort!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2008-08-31
Teks: 
Psalms 72:20
Preek Inhoud: 

Kopiereg word voorbehou.

Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds HH van Alten

 

Preek – Ps. 72:20; lees Psalm 72, Jesaja 9:1-6

 

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Kom ons verfris net vir ‘n oomblik weer ons herinnering, sodat ons Psalm 72 – en daarmee saam ook ons teks vir vandag – binne die geheel van die Psalmboek kan plaas. Ons het, by die begin van die reeks oor die Psalms, gesê dat die Psalmboek in vyf dele verdeel is; Psalm 72 vorm die afsluiting van die tweede deel. Verder het ons gesê dat Psalm 1 en 2 die inleiding tot die boek vorm. In hierdie inleiding sê God dat Hy aan sy kinders ware geluk wil gee (onthou die ‘welgeluksalig’ van Psalm 1), en dat Hy dit wil doen deur bemiddeling van sy gesalfde, die koning van Psalm 2: Welgeluksalig is almal wat by die gesalfde koning van die Here skuil (Ps. 2:12b). Ons sien dus, broers en susters, dat die koningskap van die grootste belang was in God se plan om sy kinders waarlik gelukkig te maak. En gevolglik bly die koningskap dan ook een van die sentrale motiewe in die res van die psalmboek.

 

Uiteraard gaan dit hierby in die eerste plek oor die koningskap in die lyn van Dawid. Dawid was die man aan wie die Here belowe het dat sy troon vir ewig vas sou staan. ‘n Wonderlike belofte vir Dawid – áltyd sou daar iemand uit sy huis op die troon in Jerusalem sit, áltyd sou die koningskap oorgedra word op ‘n volgende nakomeling. Ons kan dit vergelyk met ‘n aflos-wedloop – elke keer word die stokkie oorgedra aan die volgende persoon van die span (miskien het jy iets hiervan gesien tydens die pasafgelope Olimpiese Spele). Op dieselfde manier sou die troon-‘stokkie’ van Israel altyd weer oorgedra word aan iemand uit Dawid se nageslag. Só het die Here belowe.

En nou, gemeente, vind ons in Psalm 72 die eerste oordrag – die stokkie word oorgedra vanaf Dawid na Salomo. Pragtig, dit blyk dat God se belofte betroubaar is. Die eerste oordrag van die koningskap is suksesvol afgehandel. Hoe ‘n mens die woorde bo hierdie psalm ook al wil vertaal – van Salomo of vir Salomo – dit is in elk geval duidelik dat dit hier oor Salomo gaan. Salomo is die nuwe gesalfde onder wie se heerskappy God se volk geluk kan vind. Dawid, die seun van Isai, se gebede, wat hy gebid het op grond van God se belofte, kan nou maar beëindig word. Want Salomo sal die koningskap voortsit!

 

Ja, dink u miskien, só werk dit in ons tyd ook – Bush kan maar aftree, Obama sal die Amerikaanse droom voortsit. Of Mbeki kan maar terugstaan, Zuma sal Suid-Afrika verder vat as die leier in Afrika. Maar, wonder ons, is daar dan ooit ‘n koning, is daar dan ooit ‘n leier, wat die stokkie oor die wenstreep dra? Watter koning is daar wat kan roem dat hy die finale oorwinning behaal het, watter koning is daar wat kan sê dat hy nie nodig het om die stokkie oor te dra nie omdat sy heerskappy ‘n ewige heerskappy is? Miskien Salomo?

Nee, gemeente, nie Salomo nie – die geskiedenis bewys dit. Ons moet verder kyk as Dawid en Salomo. Dawid, die seun van Isai, en Salomo, die seun van Dawid – beide sterflike mense. Maar daar sou ‘n nakomeling kom in wie die troon ewige vastheid sou bereik! Ons moet in Psalm 72 daarom ook verder kyk as Salomo. Psalm 72 staan op ‘n baie spesifieke plek binne die geheel van die Psalmboek, en wys ons vorentoe na ons groot Koning, Jesus Christus!

Tema: Die seun van Isai is klaar, die Seun van Dawid gaan vir ewig voort! Ons let op:

1.      Die karakter van sy koninkryk (verse 1-4)2.      Die duur van sy koninkryk (verse 5-7)3.      Die omvang van sy koninkryk (verse 8-11)4.      Die sfeer binne sy koninkryk (verse 12-14)5.      Die seën van sy koninkryk (verse 15-17) 

1. In verse 1-4 van Psalm 72 word die uitstaande karakter van die koninkryk vir ons beskryf met die woord ‘geregtigheid’. God se geregtigheid, waarmee Psalm 71 eindig, word oorgedra op God se gesalfde koning. Nou, gemeente, God se geregtigheid gaan daaroor dat God altyd doen wat reg is, dat Hy baie fyn sny tussen goed en kwaad; dit is daarom ook gepas dat dieselfde eienskap beklemtoon word by die een wat hier op aarde namens Hom regeer.

Nou is die vraag: het Salomo hierdie geregtigheid besit? Ja, aanvanklik wel. Dit is immers waarvoor hy God gevra het aan die begin van sy heerskappy. Hy bid in 1 Konings 3:9: “Gee aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei…” En die koningin van Skeba bevestig vir ons dat Salomo se gebed verhoor is, wanneer sy in 1 Konings 10:9 sê: “Omdat die HERE Israel vir ewig liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te doen.” Ongelukkig het Salomo nie in hierdie weg bly wandel nie. Soos wat sy heerskappy voortgegaan het, het hy geleidelik van die Here af weggedraai en ander gode begin dien; hy het ook begin om die volk te onderdruk met hoë belastings om sy verskillende bouprojekte te finansier. Wat dus goed begin het, het uiteindelik skeefgeloop.

 

En so gaan dit eintlik altyd met aardse koninkryke. Hulle begin miskien goed, maar uiteindelik is elke aardse koninkryk altyd bevlek met sonde en selfsugtigheid. Ja, ons bid dat ons regering reg en geregtigheid sal laat geskied, maar die praktyk bewys oor en oor dat hulle ons altyd teleurstel. En, gemeente, dít is nou presies die rede waarom daar soveel onvrede en soveel ontevredenheid in die wêreld is. Immers, Psalm 72 sien vrede as ‘n direkte gevolg van geregtigheid; kyk maar na vers 3: “Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid.” Jesaja sê dit ook pragtig in hoofstuk 32:17 van sy profesie: “En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid.” Vrede, broers en susters, egte lewensvolheid, kom slegs deur geregtigheid. Waar daar reg gedoen word, dáár heers die vrede!

Maar vanweë al die onreg van konings en wêreldleiers, is dit nie vreemd dat vrede so skaars soos hoendertande in ons wêreld geword het nie. Vanweë die onreg in ons land, is dit nie vreemd dat rus en veiligheid ontbreek en dat misdaad hoogty vier nie, is dit nie vreemd dat een van die hoogste regters aangekla word van omkopery nie, is dit nie vreemd dat daar binne politieke partye gestry word nie, is dit nie vreemd dat regverdige mense onregverdig behandel word nie. Ongeregtigheid – om nie te doen wat reg is voor die Here nie – bring altyd onvrede. En te midde daarvan lewe ons, dít is die wêreld waarbinne jy môre weer jou werk moet gaan doen, dit is die omgewing waarbinne jy ‘n bestaan moet maak.

 

Maar onthou dan, broers en susters, dat ons burgerskap in die hemele is, dat Jesus Christus vir ons ‘n hemelse paspoort verdien het! Lewe daarom in hierdie wêreld van ongeregtigheid, staan met altwee jou voete in hierdie ellende, maar moet nooit daardeur verblind word nie. Hou jou oog gerig op Jesus Christus! Hy is, soos wat ons gelees het in Jesaja 9, die egte Vredevors, omdat Hy regeer deur reg en deur geregtigheid. Hy bevestig – so lees ons in vers 6 – die troon van Dawid deur reg en deur geregtigheid van nou af tot in ewigheid! En weet u hoe doen Hy dit? Nee, nie slegs deur regverdige mense te beskerm nie, maar eerder deur onregverdiges regverdig te máák met sy bloed! In hierdie wêreld wat krom trek vanweë sonde en onreg, mag óns deur sy genade deel wees van die ryk van vrede. En, broers en susters, die vergestalting van daardie ryk vind ons, of behoort ons hier in die kerk te vind. Hier heers Christus deur sy Woord, hier geskied die reg deur die toepassing van daardie Woord in konkrete situasies, en daarom ontvang ons hier die vrede wat alle verstand te bowe gaan.

Heerskappy deur geregtigheid, en daarom vrede sonder einde – dit, gemeente, is kenmerkend van die ryk van ons Koning, Jesus Christus. En wanneer ons hier in die kerk doen wat reg is, eenvoudig lewe volgens God se wil, dan vind die hemelse koninkryk hier gestalte. Hier mag daar dan vrede wees vir ellendiges en behoeftiges en verdruktes; hier mag elkeen van ons dan rus vind vir ons siele. Is ons gemeente so ‘n huis van vrede vir elkeen wat in Christus glo?

Vervolgens let ons op die duur van hierdie ryk (verse 5-7)

 

2. Verse 5-7 gee vir ons iets weer van die duur van die koninkryk. Nou weet ons dat Dawid ‘n besondere koning was. Hy het veertig jaar lank in Israel geregeer – daar is nie baie heersers in die geskiedenis wat dit kan sê nie. Maar Dawid het te sterwe gekom en sy heerskappy is oorgedra aan sy seun Salomo. Salomo het vervolgens ook veertig jaar geregeer, weereens ‘n besondere koning. Maar ook hy het uiteindelik gesterwe.

Dit maak dus nie saak hoe magtig, hoe goed, of hoe voordelig ‘n koning se heerskappy is nie, dit maak nie saak hoe hard die onderdane roep “Mag die koning ewig lewe” nie, uiteindelik sterf elke aardse heersers en word sy koninkryk oorgedra aan ‘n ander, word die stokkie oorgegee vir die volgende deelnemer in die aflos-wedloop. Ons sien gevolglik op die kuslyne van die geskiedenis die wrakke van die konings en die regeerders van die wêreld. Napoleon, Hitler, Bush, Mugabe, Zuma – hulle is almal skaduwees. Hulle was nie en hulle is nie, maar Jesus Christus sal vir altyd wees, sy ryk sal bestaan vir ewig!

 

En dan is dit opvallend, gemeente, dat die duur van die ryk van Jesus Christus veral gemeet word aan die voortduur van die hemelliggame – solank as wat die son skyn en solank as wat die maan daar is. Op grond hiervan kan ons sê dat Jesus Christus deur die hele geskiedenis heen regeer; sy ryk is so oud soos die skepping self. Sy ryk oortref die duur van enige aardse ryk. Deur die hele geskiedenis heen sal Hy sy volgelinge seën soos reën op die grasveld, soos ‘n swaar reën op die aarde. En daarna dan? Wel, aan die einde van die tyd, so leer Paulus ons in 1 Korinthiërs 15:24, sal Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee. En dan sal son en maan ook nie meer nodig wees, want dan sal God self hierdie koninkryk verlig en die Lam sal sy lamp wees (Open. 21:23). ‘n Ewige koninkryk wat sy bestaan vind in die ewige God!

Gemeente, besef ons die realiteit hiervan? Besef ons dat daardie ewige koninkryk nou bestaan? So dikwels verbind ons onsself aan mense, is ons lojaal teenoor ons land en ons nasie; so dikwels vertrou ons op prinse en mensekinders. Maar dit is alles tydelik; dit is altyd gedoem om teleur te stel en te verdwyn. Die ryk van die groot Seun van Dawid sal egter vir ewig bestaan, dit is werklik die moeite werd om jouself aan Hom te verbind, en jou lojaliteit aan hierdie ryk te bewys. By Hom is daar verseker ‘n toekoms.

Sal jy uiteindelik bevind word as ‘n aanhanger van ‘n verganklike koninkryk, of as ‘n aanhanger van die ewige koninkryk?

In die derde plek let ons op die omvang van die ryk (verse 8-11)

 

3. Die volgende deel van Psalm 72, verse 8-11, spreek van die uitgestrektheid van die koninkryk. In die eerste plek wys dit natuurlik op die ryk van Salomo. Op die hoogtepunt van sy heerskappy het Salomo se ryk inderdaad gestrek vanaf die Eufraat tot by die Middellandse see, en dit is so dat die konings van Tarsis en Skeba geskenke gebring en belasting betaal het. Ons lees in 1 Konings 4:21: “Verder was Salomo heerser oor al die koninkryke van die Eufraat af tot by die land van die Filistyne, en tot by die grens van Egipte; hulle het belasting aangebring en Salomo gedien al die dae van sy lewe.” Maar na Salomo het daar met tyd ‘n geleidelike afgang gevolg; die glorie van Salomo het hoe langer hoe meer in die vergetelheid verdwyn.

En daarom spreek hierdie verse ook nog van iets groters. Vers 8 wys dit alreeds wanneer gepraat word van die eindes van die aarde. En volgens vers 11 sal al die konings hulle voor hom buig, en al die nasies hom dien. Dit kan natuurlik nie van Salomo gesê word nie. Hoe groot Salomo ook al was, tog was sy heerskappy nie universeel nie. Maar dit kan wel van die heerskappy van Jesus Christus gesê, want Christus is groter as Salomo! Daar is geen duimbreedte van hierdie wêreld waarvan Koning Christus nie sê “dit is myne!” nie. En natuurlik, nie almal erken dit nie; nie almal wil hulle voor sy heerskappy buig nie; nie almal wil sê: “My Here en my God” nie. Maar tog is sy heerskappy ‘n realiteit, en uiteindelik sal elke knie buig en elke tong sal bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader (Fil. 2:11).

 

Gemeente, ons bede “Laat u koninkryk kom” is daarom nie ‘n bede dat Jesus se heerskappy nog moet uitbrei nie. Nee, Hy heers reeds oor alles! “Laat u koninkryk kom” is ‘n bede om erkenning van daardie heerskappy. Óns erken dit alreeds, maar ons wil graag hê dat soveel ander dit saam met ons sal erken. En daarom trek ons ons nie terug in ons hoekie nie; nee, die wêreld is ons woning, want Christus is Koning! En daarom kan ons moedig en voortvarend wees in ons uitdra van die universele heerskappy van Christus. Laat óns lied opklink saam met die lied in die hemel: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Open. 11:15). Is daardie lied ook op jou tong wanneer jy môre weer uitgaan om jou werk te doen?

In die vierde plek moet ons ook iets sê oor die sfeer binne die koninkryk.

 

4. In verse 12-14 word vir ons ‘n kykie gebied in die sfeer binne die koninkryk; en dit blyk duidelik dat ons hier met ‘n deernisvolle koninkryk te make het; die sfeer binne hierdie koninkryk is een van liefde en omgee. Ons kan sê dat dit in Salomo se koninkryk aanvanklik ook die geval was. Die verhaal van Salomo se hantering van die twee vroue met die een babatjie getuig van groot deernis, dit getuig van groot insig by Salomo in die liefde van ‘n moeder vir haar pasgebore babatjie. Maar met tyd het dit verander – soos ons reed hierbo gesê het, het Salomo naderhand begin om ‘n harde las op die volk te lê. Swaar belastings is ingevorder om Salomo se bouprojekte te finansier. Deernis het omgeslaan in selfsug…

En tog kan ons sê dat die meeste wêreldleiers graag as deernisvol onthou wil word. In die 1988 presidensiële veldtog het George Bush herhaaldelik opgeroep tot ‘n welwillender en sagmoediger Amerika. Maar ten spyte van sy goeie bedoelings het Amerika nie welwillender en sagmoediger geword nie. Inteendeel, soos die res van die wêreld is dit toenemend ‘n harde, onvriendelike, en selfs gevaarlike plek om in te lewe. En die rede hiervoor is die sonde van mense wat God verwerp het. Die wêreld is orals dieselfde. Van nature is mense nie sagmoedig of vol deernis nie.

 

Maar, gemeente, waar Jesus regeer, daar word deernis sigbaar. Jesus wys deernis, Hy gee deernis hande en voete op ‘n onvergelykbare manier. Jesus het hierdie deernis tydens sy lewe op aarde laat blyk – dink maar net aan die sagte manier waarop Hy omgegaan het met die vrou wat op owerspel betrap is – en daardie deernis kom uiteindelik op sy diepste na vore in sy werk aan die kruis: “My God, my God, waarom het U My verlaat”, sodat ons deur God aangeneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie – dit, my broer en suster, is deernis! En daardie deernis kom vervolgens ook uit onder sy volgelinge, die kerk. Diegene wat behoeftig is en roep om hulp, ontvang hulp; die ellendige en wie geen helper het nie, vind ondersteuning; die arme en behoeftige word voorsien; en diegene wat moes ly, word gered deur die mense wat Jesus dien en liefhet.

Gemeente, as ons die vergestalting is van Jesus se koninkryk hier op aarde, dan behoort hierdie deernis die sfeer binne ons gemeente te bepaal. Ken ons nog daardie deernis, daardie werklike omgee vir mekaar en vir ons omgewing? Is daar nog ware liefde vir die naaste, om Christus ontwil?

Ten slotte let ons nog op die seën van die koninkryk (verse 15-17)

 

5. Die seën van die koninkryk, wat in Psalm 72 beskryf word, het in al die verskillende dele van die psalm alreeds deurgeskemer. Vanweë die geregtigheid in hierdie koninkryk, sal die berge en die heuwels vrede dra (eerste deel); vanweë die ewige bestaan van die koninkryk, sal die regverdige bloei en sal daar volheid van vrede wees (tweede deel); vanweë die universele uitgestrektheid daarvan, sal skatte inkom vanaf alle wêrelddele (derde deel); vanweë die deernis wat daarbinne heers, sal alle hulpbehoewendes hulp ontvang (vierde deel).

En tog was die seën tot dusver nog voorlopig. In hierdie laaste gedeelte van Psalm 72 word die volle aandag nou op die seën van hierdie koninkryk gerig, ‘n seën wat sowel materieel as geestelike van aard sal wees.

 

Die materiële seën word beskryf in terme van goud uit Skeba, asook graan en vrugte wat welig groei op die toppe van die heuwels, wat die mees onproduktiewe dele van die land was. Goud, graan en vrugte was in daardie tyd die maatstaf van welvaart. Dit beteken nie, gemeente, dat Christene op elke plek en in elke tyd ryk sal word nie. Rykdom is nie altyd ‘n seën nie. Maar dit beteken wel dat waar Jesus geëer word en geregtigheid nagejaag word, daar volg byna altyd ook voorspoedige tye. Gesinne word stabiel; ouers sorg vir die welstand van hulle kinders; onproduktiewe lede van die samelewing word bygestaan om weer betekenisvol besig te wees; deug begin weer in die werkplek heers, en rykdom word geskep deur harde werk.

Vervolgens, in die tweede deel van vers 17 sien ons ook iets van die geestelike seën, ‘n seën wat God alreeds aan Abraham belowe het: in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word. Deur Jesus Christus, Abraham se saad, mag alle nasies – ook die heidene – nou deel in die seën van Abraham. Deur Jesus Christus mag elkeen wat glo ‘n kind van Abraham wees, en daarmee saam ook draer van ewige beloftes!

Gemeente, hier het ons te make met ware voorspoed. Nie noodwendig om ryk te wees in aardse dinge nie, maar om ryk te wees in die seëninge van Jesus Christus.

 

 

Gemeente, ek sluit af…

 

Deur die geloof in Jesus Christus gaan daar ‘n nuwe wêreld vir ons oop, hemel op aarde in die koninkryk van God. Daaraan behoort elke Christen. Daaraan behoort ons, of ons nou in Suid-Afrika woon of in Nederland of in Australië, of in watter ander wêrelddeel ook al. Met ons paspoorte wat vanuit die hemel kom, is ons wêreldburgers hier op aarde, nie gebonde aan land- of taalgrense nie. Mense praat deesdae van die ‘global village’, die wêrelddorp. Deur die internet, deur moderne kommunikasie-tegnologie, deur vinnige vliegtuie het die wêreld toeganklik geword. Maar vir die Christen behoort hierdie gedagte nie nuut te wees nie. Vir die Christen was die wêreld nog altyd toeganklik, vir die Christen was die wêreld nog altyd sy woning, ook al het hy nog nooit die geleentheid gehad om buite die grense van sy eie provinsie te gaan nie. Ons Koning heers tot aan die eindes van die aarde, en as onderkonings doen ons dieselfde! As onderkonings is daar geen wêreldheerser wat bo ons staan nie; ons regeer saam met Jesus Christus. Geagte meneer die Staatspresident van Suid-Afrika, luister daarom na ons, luister na ons wanneer ons u oproep met die woorde van ons Here, luister na ons wanneer ons u vermaan vanuit die Skrif… luister na Jesus Christus! Dit is so ‘n groot genade, broers en susters, en ons God verdien daarvoor alle lof – die lof waarmee Psalm 72 eindig. Geloofd sy die Here, die God van Israel, wat alleen wonders doen. En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam. En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Ja, daardie lof mag ons besing.

Hier eindig die gebede van Dawid, die seun van Isai. Inderdaad, die koningskap is suksesvol oorgedra aan sy seun Salomo. Maar dit is vervul in Jesus Christus! Rus in vrede, Dawid, jou troon is in goeie hande. Eendag sal ons ons broeder Dawid weer sien in die ryk van Hom voor wie ons almal in nederigheid buig, en wat ons saam met Dawid sal aanspreek as “ons Here!”

Amen

 

Liturgie (oggend) 

Groet en afkondigings

Votum Ps. 121:1

Seëngroet: Genade vir julle en vrede van God ons Vader, en van die Here Jesus Christus. Amen.

Sing Ps. 65:3, 7, 8 en 9

Wetslesing + v/a 103

Sing Ps. 84:1, 2 en 5

Gebed

Lees:    Psalm 72

            Jesaja 9:1-6

Sing Skr. 32:1 en 2

Teks: Psalm 72:20

Preek

Amenlied Ps. 72:1, 3, 6 en 9

Gebed

Kollekte

Slotsang Ps. 72:10 en 11

Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)