Psalm 101-125

 

Psalm 101

Psalm 101

1.  'k Wil in my lied van reg en goedheid sing
en U daarvoor my hoogste hulde bring.
Opregtheid sal ek, HEER, bo alles ag,
en U verwag.

2.  My wandel, waar ek in my huis verkeer,
was in opregtheid, om U reg te eer;
my strewe altyd hoog, bedagsaam, reg,
van laagheid weg.

3.  Verkeerde hart, bly ver van my vandaan!
Ek roei hul uit wat slimme gange gaan
van lasterpraat. Die trots van hart en oog
sal 'k nooit gedoog.

4.  My oog sal wees op wie opreg en trou
die regte spoor van Gods bevel wil hou;
hy is my vriend en dienaar wat wil gaan
my agteraan.

5.  Hy wat die pad van lis en leuens gaan,
sal voor my oog en ywer nie bestaan:
my huis sal vir die waarheid allermees
'n vesting wees.

6.  My ywer sal met 'n gestrenge hand
die bose daagliks uitdelg uit die land,
sodat die Godstad welbewaak en vry
van onreg bly.

 

Psalm 102

Psalm 102

1.  HEER, u goedheid is onendig;
hoor my as ek diep ellendig,
as ek in my krag verkort,
klag voor U soos water stort.
Hoor die hulproep van 'n lyer,
wil u aanskyn hom nie weier;
hoor in nood, en hoor my nou,
help my, HEER, ag, help my gou!

2.  Net soos rook in stormevlae,
so verdwyn my droewe dae;
my gebeente is dor geskroei,
soos 'n vuurherd so deurgloei.
En soos plante in sonnelande,
welk ek by u sonnebrande;
in ellende't ek vergeet,
soos 'n kranke, om brood te eet.

3.  Al my krag wil my begewe;
vlees voel 'k aan my beend're klewe
weens my benoude sug.
Eensaam voel ek, weggevlug
in woestyne soos die reier -
beeld van die verlate lyer;
soos 'n uil oor bouval heen
sit en tuur, so 's ek alleen.

4.  Eensaam klaag ek deur die nagte,
soos 'n duif, my dowwe klagte.
Heeldag smaad die vyand my,
hoor ek in hul raserny
hou my naam, in my besoeking,
vloekwoord is by hul vervloeking.
As moet ek soos spyse eet,
tranedrank drink in my leed.

5.  HEER, waar U my hoog laat word het,
maar in toorn my neergestort het,
is ek soos 'n plant wat kwyn,
en my dae - skaduskyn.
Maar U, HEER, U is onendig,
u gedagt'nis bly bestendig;
mensgeslagte gaan verby,
maar u roem sal ewig bly.

6.  U sal opstaan tot beskerming,
Sion vind by U ontferming;
tyd van smart is eind'lik om,
dag van guns 't oplaas gekom. 
En u knegte, in hul smarte,
dink met liefde in hul harte
aan die stad wat sonder lof
nog vergruis lê in die stof.

7.  Volke en wie hier hoog in waarde
kroon en septer dra op aarde,
sal, wanneer God Sion bou,
vrees as hul sy mag aanskou;
daar Hy Hom, in hul ellende,
tot die armes heen wou wende
en nie hul versoek of klag
as onwaardig wou verag.

8.  Watter skatte van genade
sal beskryf word op die blade
wat die nageslag sal lees!
Hul sal lofsing op hul fees;
want God het uit mededoë
op gevang'nis, neergeboë,
en op hul gekerm gelet,
"kinders van die dood" gered.

9.  Dan sing hul Gods magvermoë
weer in Sion, opgetoë;
dan weerklink die vreugdestem
uit jou muur, Jerusalem! 
as die volke, saam vergader,
oor die aardbreedte aan kom nader,
as die konings hulle buig
en Hom hul ontsag betuig.

10.  Dis die beeld, vol soet behae,
van die ongebore dae.
Maar nou?... Hoe 't ek ingestort!
Hoe 's my lewenstyd verkort!
Toe sê ek, by soveel plae:
HEER, verkort tog nie my dae!
Ag, hoe kort is reeds my uur!
Maar u jare 't eewge duur.

11.  HEER, die aarde en hemelboë
is die werk van u vermoë
Hul is saam, in hul verband,
kunswerk van u wyse hand.
Maar hul almal moet verderwe,
U alleen, U sal nie sterwe;
soos 'n kleed sal hul verslyt,
maar U bly in ewigheid.

12.  HEER, in plaas van droef te klae
sien ons ongemete dae,
wanneer eind'lik kroos en kind
lewensvolheid by U vind.

 

Psalm 103

Psalm 103

1.  Loof, o my siel, en alles wat in my is,
loof, loof die HEER in wie 'k van harte bly is!
Verhef sy heil'ge Naam met lof en prys!
Laat hoor, my siel, die stem van dankgebede,
vergeet nooit een van sy weldadighede,
vergeet Hom nie wat jou sy guns bewys.

2.  Loof Hom wat jou, van skuldelas onthewe,
genadiglik die sondes wil vergewe,
jou krankheid ken en liefderyk genees;
wat van die dood jou lewe weer verskoon het,
met goedheid en ontferming jou gekroon het,
en in die nood is Hy jou hulp gewees.

3.  Loof Hom wat met die goeie jou versadig,
jou lewenskrag van nuuts af begenadig,
sodat jou jeug is soos die arendsjeug.
Die HEER doen reg - Hy is die hoogste rigter -,
vergeld die kwaad en straf die onregstigter,
maar aan verdruktes skenk Hy ruimte en vreug.

4.  Waar dorheid woon, in velde vergeleë,
het Moses klaar aanskou Gods wonderweë,
en Israel sy diepe bondsbeleid -
hoedat die HEER barmhartig en genadig,
lankmoedig is en altyd weer weldadig.
Die HEER is groot van goedertierenheid.

5.  Hy sal nie altoos twis teen ons ontrou nie
of ewiglik die toorn teen ons behou nie,
want wie kan dra Gods eewge gramskap - wie?
Hy sal met ons nie na ons sondes handel,
ons nie vergeld die boosheid van ons wandel;
Hy straf ons, maar na al ons sondes nie.

6.  Soos hoog bo ons verrys die hemelboë,
so sal sy guns, uit eewge mededoë
geweldig hoog bo al sy kinders staan.
En soos die oosterkim se helder glanse
ver weg is van die kwynende awendtranse,
so ver het Hy ons sondes weggedaan.

7.  Geen vader wat, deur smartgevoel bewoë,
sy kind aanskou met teerder mededoë
as Isr'els HEER die wat Hom eer en vrees.
Hy wat wat van sy maaksel is te wagte,
hoe swak van moed, hoe klein ons is van kragte,
en dat ons stof van jongs af is gewees.

8.  Die mens - soos gras is al sy lewensdae,
'n blom wat ons aanskou met welbehae,
maar wat kortstondig is en baie teer.
Sodra die rukwind oor die veld gekom het,
dan knak die steel wat lustig daar geblom het:
dis weg - sy staanplek ken hom selfs nie meer.

9.  Maar Gods genade en goedheid is onendig
oor almal wat Hom vrees, sy trou bestendig;
dit reik tot aan die verste nageslag
wat sy verbond nie troueloos wil skend nie,
of van sy wet hul hart afkerig wend nie,
maar sy bevel gehoorsaam wil betrag.

10.  God het sy stoel gebou bo lug en wolke,
van waar Hy heers as Koning van die volke,
as HEER van alles op die wêreldrond.
Loof, loof die HEER, o la sy leërmagte,
o eng'le, wat met will'ge heldekragte
die woord volbring wat uitgaan uit sy mond!

11.  Verhef die HEER, o al sy leërmagte,
sy dienaars wat Hom dien as troue wagte!
Laat hemel, aarde en see en berg en dal,
waar ook sy septer swaai - laat alle dinge
sy lof verhef in altyd wyer kringe!
En jy, my siel, loof jy Hom bowenal.

 

Psalm 104

Psalm 104

1.  Waak op, my siel, en loof die HEER!
My God, U is uitnemend seer
verhewe in u majesteit,
U is bekleed met heerlikheid:

2.  u mantel is van sonneglans,
u troongewelf die bloue trans;
die solderwerk van u paleis
is in die wolke, hooggehys.

3.  Daar sweef U op die wolkwa aan,
of wandel op die wind, u baan!
U bode is die windgeluid;
as dienaars vlieg u blitse uit.

4.  Die aarde 't Hy deur sy bevel
op fondamente vasgestel.
Die waters in hul stormgewoel,
oor hoogste berge heengespoel,

5.  het U, soos in 'n vegtersvlaag,
deur donder voor U heen gejaag,
die dal laat sak, die berg laat rys -
u vinger 't hul die plek gewys.

6.  Ook vir die see was daar 'n merk,
sy woede is daar ingeperk.
U stuur die sterk fonteine uit,
die berge ruis van stroomgeluid.

7.  Daar laaf die wilde dier sy bors
en wilde-esels breek hul dors; 
daar woon die blye voëlkoor
wat uit die takke 'n stem laat hoor.

8.  Uit boonste kamers ruis Gods reen,
die berge en aarde drink 'n seen;
en gras skiet vir die veedier uit,
en vir die mens ontluik die kruid:

9.  die brood wat hom sy kragte voed,
die wyn wat hom sy smart versoet,
die olie wat sy aangesig,
deur leed verdof, met vreug verlig.

10.  God gee die reën as sy hand
die wilde bome en seders plant,
wat wyd hul lommer opevou
en voëls nooi om nes te bou.

11.  Sipresboom, slanke woudpilaar,
'n huis is vir die ooievaar;
op berg en rots se hoogste top -
daar spring die das en steenbok op.

12.  Gods vaste tydmaat is die maan;
die son weet as hy skuil moet gaan.
Dan word dit nag op Gods besluit,
en roofdier trek op rooftog uit.

13.  Gebrul wat oor die velde rys,
is leeugeroep tot God om spys.
Maar sal die son sy loop begin,
dan sluip hul weer hul skuilplek in.

14.  Nou word die mens deur môrelig
gewek, gewink tot arbeidsplig
totdat oplaas die skemer val.
Hoe eind'loos is u werketal,

15.  hoe wys het U hul geformeer,
hoe vul hul saam die aarde, HEER!
Daar is die see, na alkant wyd;
en 't wemel in sy eind'loosheid.

16.  Daar oor die wye waterbaan
sien ons die blanke seile gaan;
daar laat U Leviatan speel
en in die weidse vreugde deel.

17.  Wat leef in water en op land,
verwag hul spyse uit u hand.
Ontsluit U dit, hul word verkwik;
hou U dit toe, hul word verskrik;

18.  neem U hul asem weg, hul keer
tot stof en as, en is nie meer.
Maar as u Gees weer oor hul sweef,
dan leef hul, en die aard' herleef.

19.  Laat glorie sonder maat of perk
die HEER verbly uit al sy werk!
Hy, wat net kyk en - niks hou stand;
en as Hy slaan, staan berge aan brand.

20.  Ek wil terwyl ek lig geniet,
Gods grootheid sing in psalm en lied.
En die oorpeinsing van my gees -
mag dit Hom welgevallig wees.

21.  Al wie die HEER se lof mishaag,
laat hul soos stof voor wind vervaag!
My siel, wat uitsing tot Gods eer -
sing onvermoeid, en loof die HEER!

 

Psalm 105

Psalm 105

1.  Loof, loof die HEER van alle here!
Verhoog sy Naam en gee Hom ere,
en bring sover daar volke is,
sy dade in gedagtenis;
en spreek met aandag en ontsag
van al sy wonders, dag aan dag.

2.  Laat almal juig met blye galme;
sing voor die HEER jul vreugdepsalme;
beroem jul in sy heil'ge Naam,
Laat almal wat Hom soek, nou saam
hul hart verenig tot sy eer
en hul verlustig in die HEER.

3.  Vra na die HEER der leërmagte,
die HEER oneindig groot in kragte;
soek daeliks sy aangesig;
gedenk die werk deur Hom verrig,
die wonders deur sy hand gedaan,
en wil sy strawwe gadeslaan.

4.  O volk uit Abraham gebore,
uit Jakob, deur God uitverkore;
o volk wat soveel guns geniet -
verhoog die HEER in sang en lied!
Hy 's onse God - 'n wêreldrond
vrees vir die oordeel van sy mond.

5.  Die HEER wat van geen wankel weet nie,
sal nimmer sy verbond vergeet nie;
al sy beloftes bly van krag
tot in die duisendste geslag.
Verbond met Abraham, sy vrind,
bevestig Hy van kind tot kind.

6.  Die HEER wat nooit sy waarheid krenk nie,
sal Hy dan nie die eed gedenk nie
aan Isak, in sy trou gesweer?
Hy het dit ook vir Jakob weer
as wet gegee, as bondsbestel
in ewigheid aan Israel.

7.  Toe hul soos pelgrims rond moes swerwe,
het God gesê: "'k Sal jul laat erwe
die land van Kanaän - dit is
jul afgemete erfenis.
Die volk was swak nog en gering
en in die land 'n vreemdeling.

8.  Van volk tot volk het hul geswerwe
voor hul geslag die land kon erwe;
hul het gegaan van land tot land,
beveilig deur Gods goeie hand;
en konings wat hul wou verdruk,
moes onder sy besoeking buk.

9.  Hy stuur aan koninge die wete:
"Tas my gesalfdes, my profete,
nie aan nie met onheil;ge hand."
Hy roep 'n honger in die land,
Hy breek daar alle staf van brood -
Egipte raas van hongersnood

10.  God het in wysheid lank tevore
vir hul 'n redder uitverkore:
'n Josef gaan in slawerny
en in gevang'nisbande ly:
hul het sy voete vasgedruk
en onder ysters hom laat buk.

11.  Totdat die HEER in nag en duister
sy woord vervul het en dié kluister
verbreek het, moes hy eensaam wag,
deurlouterd in die lydensnag.
Maar eind'lik breek die daagraad aan:
die heer van volke 't hom ontslaan.

12.  Die volkeheer verbreek sy bande
en stel hom oor sy huis en lande,
om in deurlugte ryksbewind
die vorste na sy lus te bind;
en al die oudstes van die staat
dié luister na sy wyse raad.

13.  Daarna kom Jakob in sy grysheid,
gedryf deur honger, waar die wysheid
van Josef hom versorg met brood.
God maak vir Israel daar groot,
totdat die groei van sy geslag
Egipte tref deur tal en mag.

14.  Die volkie word 'n leërskare,
maar God het die Egiptenare
se liefde omgekeer in haat.
Faro se knegte smee 'n raad
om Israel deur druk te dwing
en om hul listig om te bring.

15.  Maar God stuur Moses, wat tevore
deur Hom met Aron was verkore.
Hul twee voer toe Gods raadsbesluit
deur tekens en deur wonders uit;
hul toon aan Gam se ganse land
die strawwe van sy strenge hand.

16.  Hy slaan Egipte met sy plae:
in nag verander Hy hul dae.
Hul twee weerstaan nie die bevel
van God, die God van Israel.
Hy maak hul waterstrome bloed
en laat hul vis sterf in die vloed.

17.  Die kikvors kruip in al hul wonings,
tot in die kamers van hul konings.
Hy spreek, en op sy wonderwoord
vlieg ongediertes ylings voort;
muskiete kwel aan alle kant
die volk van Faro's wonderland.

18.  Hy dek hul lug met wolke en donder
en werp die haelsteen na onder,
wat, met die bliksem in verbond,
hul wynstok neerslaan teen die grond;
hul vyeboom en elke plant
verbreek Hy in hul ganse land.

19.  Nog twis God met die wederstrewers:
nou kom die sprinkaan en die kewers
en eet hul landerye af.
Dan volg die allerswaarste straf:
Die eerstelinge van hul krag
verslaan Hy in die laaste nag.

20.  Nou trek Gods volk na smartverlede,
en niemand struikel in sy skrede;
hul trek vol blydskap deur die nag,
met goud en silwer ryk bevrag.
Egipte juig met vreuggeskal,
want skrik het op die land geval.

21.  God brei 'n wolk uit oor die stamme
om hul te dek teen sonnevlamme;
Hy gee hul in die donker uur
die ligkolom, 'n wondervuur.
Hul bid, en Hy, die milde HEER,
stuur kwartels op hul laer neer.

22.  Hy het hul daagliks begenadig,
met manna, hemelbrood, versadig;
Hy het die rots vir hul ontsluit
en waters vloei oorvloedig uit;
'n stroom spoel oor die dorre land
waarop die son se vlamme brand.

23.  God het gedink, uit welbehae,
aan sy verbond uit vroeër dae:
aan wat aan Abraham, sy kneg,
in vrye guns was toegeseg.
So het die HEER uit slawerny
sy volk met blydskap uitgelei.

24.  Hul erf die Kananiet se lande
en al die arbeid van sy hande -
dit gee die HEER hul in sy trou
dat hul sy wet sal onderhou,
en in hul weë Hom sal eer
Loof, halleluja, prys die HEER!

 

Psalm 106

Psalm 106

1.  Geloofd sy God, die eewge HEER!
Gee aan Hom vrolik roem en eer!
Sy goedheid ken geen pale of perke,
geen maat of tyd. Maar wie is hy
wat uit kan spreek sy grote werke, 
sy lof kan uitsing na waardy?

2.  Welsalig wie die reg betrag,
en dankbaar op Gods woorde ag.
O HEER, wees aan my nou gedagtig
en kom my met u guns naby,
dat ek, u volk se heil deelagtig,
my met u erfdeel kan verbly.

3.  Ons en ons vaders het misdaan
en van die heilspoor weggegaan.
U hand was oor hul hoog gehewe
in wonderdaad en gunsbetoon;
maar hul 't daarop geen ag gegewe
en by die Skelfsee U gehoon.

4.  Maar om sy Naam, deur hul verag,
het Hy, tot stawing van sy mag,
die see, wat hul 'n weg wou weier,
gedreig, geslaan, gedryf, sodat
sy vloedgolf agterwaarts moes steier,
terwyl hul gaan langs droë pad.

5.  Maar toe die waters in hul kolk
terugswaai, kon en vors en volk
geen weg meer vind na veil'ge boorde -
so het die waters opgedring!
Gods volk, gelowig aan sy woorde,
het toe sy lof Hom toegesing.

6.  Gou het hul weer sy werk verag
en op sy voorsorg nie gewag.
Toe vraatsug hul as haas verteer het,
nog erger in die hongeruur,
het Hy gegee wat hul begeer het,
maar maerte in hul siel gestuur.

7.  Teen Moses was daar afguns, nyd,
teen Aron, om sy heiligheid.
Die aarde wat toe oopgegaan het,
het gou die muiterskaar verswelg,
'n vlam wat om hul heen geslaan het,
die goddelose saam verdelg.

8.  Hul het 'n kalf van goud gemaak
en God, hul heerlikheid, versaak;
voor niet'ge dierbeeld neergeboë,
hul redder uit Egipteland
vergeet, wat groot was voor hul oë,
gedug was by die see se strand.

9.  "Weg met die volk!" het God gespreek.
"Vir goed wil Ek hul opstand breek."
Maar Moses, held deur God verkore,
het in die bres vir hul gaan staan,
dat hul, so diep in skuld verlore,
nie deur Gods toorn sou ondergaan.

10.  Hul het die skoonste land versmaad,
hul God deur ongeloof verlaat,
en in hul tent was 'n gefluister,
'n murmurering is gehoor.
Maar God die HEER het toegeluister,
en 't was 'n wanklank in sy oor.

11.  Toe 't God sy hand gehef, tot straf
wys Hy hul op die strengste af,
om in die wildheid weg te sterwe.
Hul nageslag het Hy verlaat,
in heidenland het hul moes swerwe
in banningsoord en jammerstaat.

12.  Hul het hul voor die vloekaltaar,
verlei deur Moabs dogterskaar,
tot Baäl-Peors diens begewe.
Hul het geëet die offerand'
na dooie gode opgehewe,
en gramskap het teen hul ontbrand.

13.  Maar Pinehas het opgestaan,
hy het deur wraak Gods reg voldaan:
sy swaard deur sondaarslyf gedrywe.
Dis hom, die heil'ge heldefeit,
hom en sy nakroos, opgeskrywe
as ewige geregtigheid.

14.  Die God wat hul in guns wou dra,
het hul geterg by Meriba.
Toe het 'n Moses, sat gelewe,
verstoord, verward, ten einde raad
want hulle het Gods Gees weerstrewe -
in onbedagsaamheid gepraat.

15.  In Kana'n het plig-trae hand
die volke ontsien en voort laat plant;
aan heidenstam en -bloed verbonde,
en yw'rig in hul godediens,
is hul gevang in wilde sonde
soos in 'n strik, so onvoorsiens.

16.  Verbysterd op verleidingspoor,
werp hulle aan die duiwels voor
hul liggaamsvrug, met offerbede!
Deur kinderbloed, so ruim gestort,
het Kana'n vol afskuw'likhede,
die off'raars self bevlek geword.

17.  Toe het die HEER se toorn ontsteek,
geweldig teen hul uitgebreek;
hul was verwerplik in sy oë.
Daarom het Hy hul oorgegee
aan die wat sonder mededoë
hul slawebande swaar sou smee.

18.  Verdrukking voor, verneedring na;
en dan by God weer hulp gevra!
En as hul in hul kwaad versink het,
dan hoor Hy weer hul angsroep aan -
Hy wat aan sy verbond gedink het,
was met hul harde lot begaan.

19.  So het die HEER hul medely
laat vind, ook by die weerparty.
Verlos ons, HEER, wees ons geneë
en bring ons van die nasies weer
uit banningsoorde vergeleë,
dat ons met roemtaal U kan eer.

20.  Geloofd sy God! Sy bondsbestel,
sy goedheid heers in Israel.
Geloofd sy God in ewighede;
Hy, Isr'els HEER, is God alleen!
'n "Amen" klink uit ver verlede,
'n "Amen" deur die hede heen!

 

Psalm 107

Psalm 107

1.  Loof God, omdat Hy goed is,
en goed is sonder end!
Meld dit, al wie behoed is,
verlos is uit ellend;
wat God uit elke land
in vryheid weer herstel het,
vry van die slaweband,
waarmee hul hom geknel het.

2.  In woesteny verlore,
was daar vir hul geen pad
wat hul langs regte spore
kon heenlei na 'n stad.
Gebrek aan drank en brood
sou hulle laat versmag het
as God nie in hul nood
op hul geroep geag het.

3.  Hy het hul matte skrede
gelei op regte baan
om tot bewoonde stede
met blydskap in te gaan.
Laat hul Hom dank bewys
vir redding wat so soet is,
Hom voor die mense prys,
omdat Hy groot en goed is.

4.  Hy het hul matte skrede
gelei op regte baan
om tot bewoonde stede
met blydskap in te gaan;
met kostelike goed
het Hy hul begenadig,
met brood hul daar gevoed, 
met water hul versadig.

5.  Hul wat al lank gekwel was
in eindelose nag,
in ysters vasgeknel was,
gevange en ontkrag,
omdat hul, dwars van sin,
die HEER se raad verag het,
wat diep die kerker in,
geen redding meer verwag het -

6.  by hul was angs, verfloudheid;
maar hul geroep het God
verhoor in die benoudheid,
met wending van hul lot.
Bo hul het saamgedring
'n nag van kerkerduister
Hy het hul uitgebring,
bevryd van klem en kluister.

7.  Die koper-kerkerdeur het
gewaggel voor Gods mag
wat ysters weggebeur het,
verbreek het met een slag.
Laat hul Hom dank bewys
vir redding wat so soet is,
Hom voor die mense prys,
omdat Hy groot en goed is.

8.  Wie dwaas en ongebonde
geleef het, tref die straf;
gevang deur eie sonde,
mat plaag op plaag hul af,
sodat hul die genot
van alle spys versaak het,
in sware lewenslot
die doodspoort al genaak het.

9.  Angs was daar by verfloudheid,
maar hul geroep het God
verhoor in die benoudheid,
met wending van hul lot.
Hy het sy woord gestuur
wat siekte en kwaal genees het,
'n engel in die uur
toe hul die dood gevrees het.

10.  Laat hul met offerande
die HERE loof en dank,
die werke van sy hande
vermeld met klare klank;
laat hul Hom dank bewys
vir redding wat so soet is,
Hom met hul offers prys,
omdat Hy groot en goed is.

11.  Hul wat na wêreldseë
op skepe uitgevaar,
langs verre waterweë
die handelskat vergaar -
hoe klaar en alte seer
dat hulle daar bemerk het
die wonders wat die HEER
ver in die see gewerk het.

12.  Hy spreek, en om die skepe
spring wilde bare op,
die winde is die swepe
wat hul tot woede klop.
Hul hart versmelt van wee -
hul vleg deur hoë golwe
of skuif langs hulle see,
in dieptes haas bedolwe.

13.  Hul waggel in hul spore
net soos die dronkaard, dan
is hul vernuf verlore,
hul hart beswyk daarvan.
Dan roep hul tot die groot
en eenge Stormbedwinger;
Hy red hul uit die nood
waarin hul was geslinger.

14.  Ver trek die stormgeruisel,
die wind se krag 's gespil;
daar kom 'n sag gesuisel, 
die golfslag word weer stil.
Dan is hul harte bly
deur God se goeie gawe;
die skip, van onweer vry,
bring Hy in veil'ge hawe.

15.  Laat hul van stormbedaring,
van God, wat golwe breek,
van heil en heilservaring
in volksvergaadring spreek.
Laat hul Hom dank bewys
vir redding wat so soet is,
Hom voor die mense prys,
omdat Hy groot en goed is.

16.  God skep die skone boorde
van strome in dorsland om;
Hy laat oor vrugb're oorde
die straf van sonde kom.
Waar vog was, maak Hy droog,
al is die landman wakker,
vergeefs al wat ons poog
op die onvrugb're akker.

17.  Dan weer het Hy woestyne
'n waterplas gemaak
en lustige fonteine
in dorsland laat ontwaak.
Daar was dit dat sy hand
wie honger had, verlig het,
sodat hul in die land
'n ryke stad gestig het.

18.  Daar styg - dank sy die Gewer -
die seënmaat ten top;
gesaaide en wynstok lewer
hul vrug oorvloedig op.
Hul kroos vermeerder Hy,
hul vee 't Hy nie verminder;
as God die seen wil sprei,
wie kan dit Hom verhinder?

19.  Daarna word hul weer minder
en kom bykans tot niet;
deur kommernis en hinder,
verdrukking en verdriet.
Oor die geweldenaar
kom onheil en veragting;
hy swerf in woestheid waar
geen pad is of verwagting.

20.  Maar God sal die veragte,
verarmde trou bewaak,
vermeerder sy geslagte
wat Hy soos kuddes maak.
Gods volk is bly daarom:
hul sien wat Hy gewerk het;
maar boosaards staan verstom,
daar hul Gods mag bemerk het.

21.  Wie wys is, merk die dinge
en gee godvrugtig ag
op al Gods handelinge,
sy goedheid en sy mag.

 

Psalm 108

Psalm 108

1.  Hoe rus, o God, my hart in my
nou 'k U 'n môrelied kan wy.
Ontwaak met my, my harp, ontwaak!
Ek wil die rooidag wakker maak.
U trou en goedertierenheid,
tot bo die hemel uitgebreid,
sal ek verhoog bo al wat leef
met sang wat van ontroering beef.

2.  Verhef U bo die hemel wyd,
en bo die aarde u heerlikheid!
Verlos u gunsvolk deur u hand,
verhoor ons, send ons onderstand.
God het dit uit sy tempel al
laat klink met hoogste jubelskal:
"'k Sal Sigems stad my eie heet
en Sukkot as my erfdeel meet.

3.  "Oor Gilead sal 'k Heerser bly, 
Manasse - die is ook van My;
Efraïm weer die aanval af,
en Juda is my veldheerstaf.
Van Moab sal 'k my waskom maak,
oor Edom nog belus op wraak,
sal Ek in hoogheid triomfeer,
oor Filistea jubileer."

4.  Wie bring my in 'n vaste stad?
Wie baan na Edoms land my pad?
U is 't wat ons nie by wou staan,
nie met ons leërs saam wil gaan!
Gee ons u bystand in die stryd,
want mensehulp is nietigheid.
Deur God sal ons tot kragdaad stap;
ons vyand sal Hy self vertrap.

 

Psalm 109

Psalm 109

1.  God van my lof, merk hoe ek ly,
en swyg nie langer meer!
Die lastermond gaan oop teen my -
hoe kan ek my verweer?
Hoe haatlik spreek hul om my heen,
hoe is hul swaard gewet!
Waar ek met liefde hul bejeen, '
vir hul was my gebed.

2.  Stel nou 'n booswig oor hom aan;
laat die verklaer kom;
laat hy as skuldig van U gaan,
sy bede ook pleit teen hom.
Sy dae, wil dit tog verkort,
sy amp aan ander gee;
en laat sy kinders wese word,
sy vrou 'n weduwee!

3.  En laat sy kinders orals swerf
en bedel by gemis
aan brood, verstote uit hul erf
wat nou 'n puinhoop is.
Die woek'raar, laat hy alles neem
en eet met skerp gebit;
die vreemdeling, laat die vervreem
sy ganse erfbesit.

4.  Geen helper moet hom help in nood,
geeneen hom ooit ontferm
wanneer sy wese, arm en bloot,
in bitter smarte kerm.
Laat niemand op sy nakroos ag,
maar wil hul, stam en telg,
reeds in die volgende geslag
met naam en al verdelg.

5.  Die onreg, deur sy stam bedryf,
hou in gedagt'nis, HEER!
Die sonde van sy moeder, skryf
in u gedenkboek neer.
Ruk uit, want hy het uitgeruk,
en laat geen wortel oor;
hy het verdruktes hard verdruk,
wie moed'loos is, vermoor.

6.  Die seën het hy nie gesoek -
dit bly ver weg van hom.
Liefhebber was hy van die vloek -
dit het oor hom gekom;
soos klere 't hy dit aangetrek,
soos water, so kom dit
in hom, en soos 'n olievlek
tot in sy laaste lid.

7.  Laat hom die vloek wees soos 'n kleed
waarmee hy hom bedek
en soos 'n gordel, styfgemeet,
vas om sy heup getrek.
Laat dit die loon wees - daad vir daad! -
wat God hul sal betaal,
hul almal wat my soek en haat
en onheil oor my haal.

8.  Maar, HEER, u goedheid is so goed,
maak U dit goed vir my;
my hart 's deurwond daarby:
ek is 'n skadu wat verdwyn,
'n sprinkaan, voortgejaag; 
my knieë knik van vas; ek kwyn,
my vlees is weggeknaag.

9.  By lyde kom die smaadgekwel:
hul skud hul hoof oor my.
As U, op wie 'k my hoop nou stel,
my tog maar wil bevry!
Wil met u goedheid my bejeen,
toon hul: dit is u daad.
Wat baat hul vloek, as U maar sien -
hul smaad, as U hul smaad?

10.  In vreugde sal u dienaar leef,
en in 'n grote skaar
as smaad hul soos 'n kleed omgeef -
u lof, o HEER, verklaar.
Want God is aan my regtersy
om my met krag te stug;
teen hul wat vonnis soek teen my,
sal my die HEER beskut.

 

Psalm 110

Psalm 110

1.  Die HEER is dit wat tot my HEER gespreek het:
"Sit aan my regterhand as hoogste HEER,
tot Ek u vyand in sy mag gebreek het,
hom werp as voetbank voor u voete neer.

2.  "Aan U, so hoog in heerlikheid verhewe,
gee Ek uit Sion, waar U sit ten troon,
die heerserstaf oor wie u mag weerstrewe.
Sprei voor hul oog u heerskappy ten toon!"

3.  U volk, gereed tot dapper krygsmansdade,
sal met U uittrek in die dag van stryd.
Hul sal verskyn in heil'ge feesgewade,
in diensplig een en al gewilligheid.

4.  Die frisse dou, deur môreglans omtower,
wanneer die son net oor die kimlyn gaan,
word nie so dig gevind op kruid en lower
as wat die jonge manskap om U staan.

5.  Groot-Priester wat die HEER so hoog geëer het
dat U kan opstyg tot die hoogste trap -
U is dit na die eed wat God gesweer het,
na Melgisedeks eewge priesterskap!

6.  Die HEER wat dit van U, sy Vors, voorspel het -
sy moondheid sal met U ten stryde gaan;
en konings wat hul teen U opgestel het,
sal Hy wat saam trek, in sy toorn verslaan.

7.  Hy sal, wanneer sy ywervuur gewek is,
die nasies slaan met 'n gedugte hand,
totdat die veld met lyke gans oordek is
en hy moet swig, die grootvors van die land.

8.  Gods Grootvors sal, omdat Hy dors gely het
so het Hy hul gejaag in somertyd! - 
buk by die beek as Hy die stryd volstry het,
en dan sy hoof hoog ophef na die stryd.

 

Psalm 111

Psalm 111

1.  'k Sal met my ganse hart die HEER
met die opregtes loof en eer -
die Gode dankb're duisendtalle.
Sy werk is groot die wêreld deur,
dit word deur almal nagespeur
wat daarin soek 'n welgevalle.

2.  Sy dade is enkel majesteit,
aanbiddelike heerlikheid,
en sy geregtigheid onendig.
Sy wonders staan in rots gegrif,
en sy genade in eewge skrif
vir al wie arm is en ellendig.

3.  Vir almal wat Hom vrees, het Hy
hul spyse mild'lik toeberei. 
Hy is aan sy verbond gedagtig.
Hy het aan hul 'n erfdeel skoon,
'n land gegee om in te woon,
deur dade groot en oppermagtig.

4.  Die werk van God is reg en waar:
onwrikbaar-vas, onwankelbaar
wat sy bevel aan ons verkondig;
bevestig is dit in sy stand,
verwerklik word dit deur Gods hand
in trou en regtheid, diep en grondig.

5.  Hy het sy volk bevry, bewaak,
vir ewig sy verbond gemaak:
sy Naam is vreeslik, hoog verhewe.
Sy vrees is wysheids-aanbegin.
Kom wandel dan die heilsweg in!
Aan Hom sy ewig lof gegewe.

 

Psalm 112

Psalm 112

1.  Welsalig is die man
wat God van harte vrees;
welsalig hy wat in sy wet
'n welgevalle het.

2.  Sy nageslag sal groot,
geweldig wees op aard;
opregtes sal van kind tot kind
'n seen en erfdeel vind.

3.  Rykdom en oorvloed is
bestendig in sy huis;
en duursaam 's sy geregtigheid
vir ewig en altyd.

4.  Vir die opregte is God
'n lig in donkerheid:
genadig en barmhartig is
die HEER wat reg beslis.

5.  Gelukkig hy wat hom
ontferm en uit wil leen,
wat nooit by voorspoed en geluk
sy naaste sal verdruk.

6.  Hy sal nooit wankel, nee,
maar vas bly soos 'n rots,
sodat sy nagedagtenis
'n eewge seën is.

7.  Hy sal nie vrees, wanneer
die slegte tyding kom:
sy hart, berustend in Gods wil,
is in hom sterk en stil.

8.  Sy hart is vas, geen skrik
of skok sal hom ontroer,
totdat sy oog, triomf-bewus,
op sy vervolgers rus.

9.  Vir wie behoeftig is,
strooi hy sy gawes uit;
Gods heil verlaat hom nimmermeer;
hy klim in mag en eer.

10.  Die bose wat dit sien,
smelt, tandeknersend, weg;
met nyd sien hy die skouspel aan:
wat hy begeer - vergaan.

 

Psalm 113

Psalm 113

1.  Hef aan, Gods knegte, loof verblyd,
van nou af tot in ewigheid,
die Naam en roem van God die HERE.
Bring Hom van waar die môre straal,
tot waar die sonlig saans weer daal,
die lof, aanbidding, prys en ere!

2.  Die HEER wat in die hemel woon,
wat bo die wêreldvolke troon, 
is hoog, met heerlikheid omgewe.
Ja, wie is hoog soos onse HEER
Nogtans sien Hy genadig neer
op wie voor Hom in kleinheid lewe.

3.  Die HEER verhef uit as en stof
geringes, wat Hy tot sy lof
laat woon by prinse in hul paleise.
Hy skenk onvrugbares sy troos
en maak hul moeders van 'n kroos.
Loof God met eer- en dankbewyse!

 

Psalm 114

Psalm 114

1.  Toe Isr'el uit Egipteland,
die land van vreemde spraak,
getrek het, het God Juda's stam
sy heiligdom gemaak
en Israel sy ryksgebied,
waaroor sy septer waak.

2.  Die see het dit gesien, gevlug;
Jordaanstroom - waar was hy?
Die berge het onhooggespring
soos ramme, ry aan ry;
die heuwels soos 'n lammertrop
wat wegvlug deur die wei.

3.  Wat is dit, see, dat jy moet vlug?
Jordaan, wat steier jy?
En berge, waarom spring jul rond
soos ramme, ry aan ry?
En heuwels, soos 'n lammertrop
wat wegvlug deur die wei?...

4.  Beef, aarde, beef voor Jakobs God,
wees voor Hom skrik-verras!
Hy wat die rots beveel het en -
dit word 'n waterplas;
'n springfontein het uitgebreek
waar eers 'n klipsteen was.

 

Psalm 115

Psalm 115

1.  Nie aan ons, o troue God,
aan u Naam alleen gee eer!
Waarom sou die nasies spot
as hul oor ons triomfeer?
Om u goedheid, wees nie stil!
Red ons om u trou ontwil!

2.  Waarom sou die nasies spot,
met die uitroep ons trotseer:
"Waar is nou die HEER, hul God?"
In die hemel sit die HEER,
en Hy doen wat Hom behaag:
net sy wil geskied omlaag.

3.  Gode van die heidendom,
goue of silwerbeeltenis,
waar die mens sy knie voor krom,
niks as eie maaksel is:
daar's 'n mond, maar sonder taal;
daar's 'n oog, maar sonder straal.

4.  Ore het hul, maar die 's doof
vir die klank van stem of taal;
en die neus van afgodshoof
kan nie ruik of asemhaal.
Hande het hul - alkant vas! -
vingers wat nie voel of tas.

5.  Voete het hul, vasgeklem
aan die altyd-selfde oord;
hulle keel - geen klank of stem
kom uit templstilte voort.
Laat die wat hul dien en vrees,
soos hulself, so nietig wees.

6.  Israel, steun op die HEER!
Hy's hul hulp; hul skild is Hy.
Arons huis, steun op die HEER!
Hy's hul hulp; hul skild is Hy. 
Almal wat die HERE vrees,
laat die HEER jul steunsel wees!

7.  God die HEER het ons gedenk
na sy troue bondsbestel.
Seëninge sal Hy skenk
aan die huis van Israel;
seëninge van die HEER
daal op Arons kinders neer.

8.  Hy sal seën wie Hom vrees,
groot en klein wat op Hom wag;
ja, Hy sal hul allermees
seën in hul nageslag.
Hy wat spreek, en 't het geskied,
sal sy seen oor hul gebied.

9.  HEER, die hemel's u paleis,
U 't die aarde aan ons gegee:
dooies kan die HEER nie prys,
maar ons sal - 'n stemmesee -
ewig juig die HEER ten prys,
hallelujas op laat rys.

 

Psalm 116

Psalm 116

1.  God het ek lief, want die getroue HEER
hoor na my stem uit vrye welbehae;
ek roep Hom aan in al my lewensdae,
Hy skenk my hulp, Hy red my, keer op keer.

2.  Om my was bande en strikke van die dood;
en angste van die hel het my laat bewe;
ek was benoud, vol droefheid was my lewe;
maar 'k het die HEER gesmeek in al my nood:

3.  "Ag, red my, HEER, na u beloftenis!"
Toe 't God gehoor; Hy is my lofsang waardig;
Hy is die HEER wat goed is en regvaardig,
en vir sy volk groot van ontferming is.

4.  Eenvoudiges wil God steeds gadeslaan.
'k Was uitgeteerd, maar Hy is vol ontferming.
Soek dan, my siel, jou rus in sy beskerming,
Hy 't jou verlos en aan jou welgedaan.

5.  U het my siel weer van die dood bevry;
in droefenis droog U, o HEER, my trane;
U lei my voet langs nuwe lewensbane,
om in u lig te wandel, lewensbly.

6.  Ek het geglo toe ek, in smart gedaal,
dit uit moes spreek: "Ek is terneergeboë, "
en uit moes roep, deur sware smart bewoë:
"Die mens se woord is enkel leuentaal."

7.  Wat kan 'k die HEER vir al sy guns vergeld?
Wat kan 'k Hom bring uit dank vir sy genade?
Ek sal Hom prys vir sy verlossingsdade
en by die kelk van heil sy Naam vermeld.

8.  Al my geloftes, uitgespreek in nood,
sal ek betaal as ek voor U maag nader
en met u gunsvolk in u huis vergader.
Hoe kost'lik, HEER, is in u oog hul dood!

9.  Ag, HEER, ek is, o ja, ek is u kneg,
seun van u diensmaagd, in u diens gebore:
my bande is los; vir hoër diens verkore,
bring ek die offers, aan U toegeseg.

10.  Ek sal u Naam met dankerkent'nis prys
te midde van die feestelike skare.
Jerusalem, ek hoor om jou altare
die lofgeluid wat tot Gods eer verrys.

 

Psalm 117

Psalm 117

Loof, loof die HEER, o heidendom!
O volke, prys sy Naam alom!
Sy goedheid is in nood en dood
vir ons, sy volk, oneindig groot. 
Sy waarheid wankel nimmermeer,
Sing, halleluja, sing sy eer!

 

Psalm 118

Psalm 118

1.  Loof, loof die HEER met lofgesange!
O Isr'el, wees in God verblyd.
Sy goedheid volg Hom in sy gange,
sy goedheid duur in ewigheid.
Loof, Arons huis, met jubelsange!
Gods goedheid ken geen grens of tyd,
geen hede, toekoms of vergange,
sy goedheid duur in ewigheid!

2.  Loof, loof die God van ons verlange,
o almal wat die HERE vrees!
Sing voor die HEER jul lofgesange,
en laat Gods volk nou vrolik wees!
Loof almal saam met jubelsange!
Gods goedheid ken geen grens of tyd,
geen hede, toekoms of vergange,
sy goedheid duur in ewigheid!

3.  Toe ek, omring van alle sye,
die vyand rondom my sien staan,
het God my stem gehoor uit lye,
en my weer veilig uit laat gaan.
Ek sal nie langer hulp'loos wees nie,
of wanhoop selfs in doodsgevaar:
ek sal die mens nie langer vrees nie,
wat magt'loos is as God bewaar.

4.  Die HEER, die Hoof van duisendtalle,
sal in die stryd my hulp verskaf.
Dan kyk my oog met welgevalle
op my verwoede haters af.
Dis beter by ons bidde en wense
dat ons vertrou op God se mag,
as dat ons ooit vertrou op mense,
of selfs van prinse hulp verwag.

5.  Toe al die heid'ne my omring het,
hul laers om my opgeslaan,
en hul op my al aan kom dring het,
het ek hul in Gods Naam weerstaan.
Ja, toe die volke my omring het,
met leërs teen my opgestaan,
toe hul ter dood toe my bespring het,
het ek hul in Gods Naam verslaan.

6.  Hul het my wel omswerm soos bye,
maar het soos doringvuur vergaan;
hul het gekom in breë rye,
maar 'k het hul in Gods Naam verslaan.
O vyand, jy 't met harde stote
tot vallens toe my weggedruk;
die HEER bewaar sy gunsgenote,
die HEER het self my uitgeruk.

7.  Dit is die HEER wat my gesterk het.
Hy is my lied, my psalmgesang;
Hy was dit wat my heil bewerk het,
dus loof ek Hom my lewe lang.
Ek hoor alom die blye galme
van vromes na die lydensnag;
hul tent weerklink van dankb're psalme:
Gods regterhand doen grote krag.

8.  Gods regterhand is hoog verhewe,
sy regterhand is groot van daad;
dit laat van skrik die wêreld bewe,
maar hef sy volk uit lyde en smaad.
Ek sal nie kwyn in slawebande
wat my ter dood toe wil omknel;
ek sal nie sterf deur vyandshande,
maar al Gods werke bly vertel.

9.  Die HEER het my met sware slae
getugtig, maar nie tot die dood;
Hy 't my gehoor in donker dae
en my gered uit alle nood.
Ontsluit dan voor my pelgrimskrede
die poort van sy geregtigheid,
om God te loof wat my gebede
verhoor het in die dag van stryd.

10.  Dit is die poort van Isr'els HERE,
wat voor sy huis as wagter staan;
die poort wat meld van heil en ere,
waardeur sy gunsvolk in mag gaan.
Daar sal ek, HEER, met dankgebede
U groot maak op die dag van fees,
want U was in my angsverlede
vir my tot hulp en heil gewees.

11.  Die steen waaraan die tempelbouers
veragt'lik het 'n plek ontsê,
is voor die oog van die beskouers
deur God as hoeksteen neergelê.
Die werk van godd'like alvermoë
is van God self geskied, deur wie
die wonder oprys voor ons oë;
ons sien dit, maar deurgrond dit nie.

12.  Dit is die dag deur God verkore,
die feesdag aan Hom toegewy.
Laat ons, met psalms uit vreug gebore,
ons in die God van heil verbly.
Ag, HEER, gee nou u seëninge;
gee voorspoed, HEER, op hierdie dag -
dit is die dag van grote dinge,
die glorieteken van u mag.

13.  Geseënd is die grote Koning
wat aankom in die HEER se Naam;
geseënd uit die HEER se woning
is volk en Koning altesaam.
Die HEER, die God van ons betroue,
Hy kom ons met sy ligglans teen;
bind dan die offerdier met toue
en lei dit na die altaar heen.

14.  U is my God, al my verlange;
U prys ek om u majesteit.
My God, U loof my lofgesange
van nou af tot in ewigheid.
Loof almal saam met jubelsange!
Gods goedheid ken geen grens of tyd;
geen hede, toekoms of vergange,
sy goedheid duur in ewigheid!

 

Psalm 119

Psalm 119

1.  Salig wie in hul opregtheid
wandel in die Heer se wet,
wie Hom soek van ganser harte
en op sy getuig'nis let.
Salig die wat in hul wandel
nie op onregspaaie gaan,
maar wil wandel op die weë
in Gods wet vir hul gebaan.

2.  Dis u wil dat ons u woorde
in getrouheid sal betrag.
Kon ek maar, ek sou 't van harte.
HEER, verleen U my die krag!
Ag, was tog my voet maar vaster,
dat ek van die spoor nie dwaal
in u wet my voorgeteken,
en geen skande oor my haal!

3.  As ek, HEER, u wet wat billik,
reg en waar is, maar kan leer,
dan word U van ganser harte
en opreg deur my geëer.
Ja, ek loof U, want regverdig
is u regte, woord en daad.
Wil dan nimmer my verlaat nie
wat u wet nie wil verlaat.

4.  Hoe sal in sy jeug die jong'ling,
gou deur ydelheid bekoor,
rein kan wandel in sy weë?...
As hy wandel in u spoor!
U soek ek van ganser harte
HEER, hou U my hande vas,
dat ek van u spoor nie dwaal nie
en die kwaad my nie verras.

5.  Daarom sluit ek al u woorde
in my hart sorgvuldig in,
dat ek nie teen U sou sondig
en te minder U bemin. HEER, 
my God, U is lofwaardig!
Leer my tog u regte wel.
Met my lippe 't ek die wysheid
van u wet alom vertel.

6.  In u wet smaak ek 'n vreugde
groter as waar hy van weet
wat sy goed en aardse skatte
in hul waarde nie kan meet.
Daarmee bly ek altyd besig,
daar't my soetste oorpeinsing is;
mag maar niks die bron van vreugde
ooit uit my gedagte wis.

7.  Help my, HEER, dat ek kan lewe;
dan wil ek u woord bewaar.
Laat my oog aanskou die wonders
wat u wet my openbaar.
Wat besit ek hier op aarde?
Niks is daar wat my behoort.
Maar één ding, daarna verlang ek -
dis die rykdom van u woord.

8.  HEER, U dreig hul wat, vermetel
nie op u gebooie ag.
As hul smaad, wend dan hul smaadheid
van my wat u wet betrag.
Ook al kom die vorste same
en versin hul teen my kwaad -
juig ek tog in teënhede,
want u wet skenk vreugde en raad.

9.  Ag, hoe kleef ek aan die stof al!
Maak my lewend na u woord -
U tog wie 'k my sorg vertel het,
laat u kneg nie onverhoord.
Lei my altoos voort en verder
om u wonders te oordink,
my wat droewig en verslae
haas in kommernis versink.

10.  Weer my voet van leuenpaaie
en verleen my, HEER, u wet,
my wat kies die weg van waarheid
en wat U verorden het.
Gee my hoop, en ek sal lewe,
troos, en weg is my gekwel!
Gaan met weldaad voor, dan volg ek,
dan betrag ek u bevel.

11.  HEER, leer my u wet dat ek dit
tot die einde toe kan hou;
gee verstand en gee volharding,
dan bly ek daaraan getrou.
Laat my leef na u bevele -
niks wat my so kan behaag.
Neig my hart daartoe, maar nimmer
om na woekerwins te jaag.

12.  Wend my oog van wat tog niks is,
maak my lewend in u weg;
u belofte aan al u dienaars -
maak dit waarheid aan u kneg!
Laat geen smaad my ooit oorval nie,
stort weer lewe in my gemoed
uit u woord wat reg en waar is,
en 'n bron van alle goed.

13.  Wees my goed na u belofte,
dat ek smaders tot hul spyt
reg kan antwoord op hul smading
wat my Godsvrees my verwyt.
Neem u woord nie uit my mond nie,
waar my hoop is op gebou.
Dan getuig ek van u waarheid
wat ek graag wil onderhou.

14.  Dan sal 'k wandel in die ruimte,
want ek wandel in u spoor.
Selfs voor konings spreek ek daarvan
en ek skaam my nooit daaroor.
Aan u wet, my hoogste vreugde,
is my liefde toegewy:
daaraan dink ek, daarna soek ek,
daarin, HEER, verdiep ek my.

15.  Wees, o HEER, nou tog gedagtig 
aan die woord, die fondament
van die hoop en heilsverwagting
wat my troos in my ellend.
Of ek al vir trotse mense
dwaas is en tot spotterny -
nogtans het ek aan u woorde
stil my wandel toegewy.

16.  As ek, weg van beuselinge,
klaar aanskou het in my gees
hoe u oordeel op die aarde
van begin af is gewees:
hoe die vromes toe bewaar is
en die bose neergestort -
dan gevoel ek dat my siel weer
in sy diepste vrolik word.

17.  As ek sien die wetverlaters,
kom daar skrik in my gemoed,
en 'n heil'ge vuur van ywer
laat dit opbruis in my bloed.
Want u wet wat hul verwerp het,
in hul agting waardeloos,
is die stof van my gesange,
op my pelgrimspad my troos.

18.  Aan u Naam is ek gedagtig
in my soetste mymery,
as ek uitrus op by bedstee
en die nag die aarde oorsprei.
Is 't 'n wonder? Nee, geen wonder,
want te doen na u gebod
is my hoogste lewens weelde
en op aard' my hoogste lot.

19.  HEER, U is my deel op aarde,
en u woord is my die skat
wat U aan my toebetrou het
op die lange pelgrimspad.
'k Het voor U my hart geheellik
in my smeking uitgestort.
Maak my dan u guns deelagtig,
laat u woorde waarheid word.

20. Ek oordink nou al my weë
om my aan u wet te wen;
of ek staan en of ek struikel,
kan ek klaar daaruit beken.
Of ek dood is, of ek lewe,
kan ek klaar daaruit verstaan.
Ek verhaas daarom my skrede
om weer in u spoor te gaan.

21.  Strikke span die goddelose
voor my voetstap, om en om;
maar u spoor, wat ek gevolg het,
laat my aan hul net ontkom.
Midde-in die stille nagte
staan ek op met lofgeklank
om U vir u wyse regte
met my ganse hart te dank.

22.  Vriend is ek van al u vriende,
met hul in u waarheid een;
leer my, HEER, wat met u goedheid
dring deur wêreldwydtes heen;
maar wat ook na u beloftes
aan u kneg het wel gedaan.
Gee my insig, gee my kennis
en 'n hart om te verstaan.

23.  Voordat ek verdruk was, HERE,
het ek dwaalsiek, al maar voort
op verkeerde pad gewandel;
maar nou let ek op u woord.
U is goed, U is goeddadig,
o fontein van alle goed.
Leer my dan wat goed en reg is,
uit u goedheids-owervloed.

24.  Opgeblase volk dig leuens,
en daar druk hul my mee neer;
maar ek voeg van ganser harte
woord en wandel na u leer;
maar hul hart is onaandoenlik,
in 'n vetlaag ingewoel,
sodat hul die vreug nie voel nie
wat ek in u wette voel.

25.  Dat U my verdruk het, HERE,
dit was enkel goed vir my,
want daardeur het U my dieper
in u kennis ingelei.
Daarom is dit my veel beter
as die allerrykste skat,
meer as al die goud en silwer
wat die wêreld kan bevat.

26.  U, o HERE, 't my geskape
deur u goddelike hand -
ag, herskep my nou inwendig
en verlig U my verstand.
Al u dienaars sien my lewe
en dit is hul siel 'n vreug
dat my siel op u beloftes
so vrymoedig hom verheug.

27.  Al u vonnisse is suiwer,
maar onsuiwer was my weg;
dat U my dan swaar verdruk het,
is 'n daad van trou en reg.
Dog waar ek in u beloftes
al my heil soek en geluk,
bid ek dat U, na u goedheid,
my wil troos in al my druk.

28.  Laat op my u mededoë
neervloei soos 'n sagte dou,
sodat ek die regte lewe
in u vrese kan behou.
Smaad die trotsaards wat hardvogtig
sware druk op my laat daal,
omdat ek hul ore hinder
as ek van u wet verhaal.

29.  Laat hul weer met my vergader
wat u Naam van harte vrees,
dat ons, in u woord verenig,
een gemeenskap weer kan wees.
Laat my hart maar net opreg wees
voor u oog wat alles sien,
dan sal my geen skaamte oorkom nie
as ek U van harte dien.

30.  Op u heil wag ek verlangend,
op u woord hoop ek altoos,
en ek vra met smagtende oë
Wanneer sal U my vertroos?
Want my liggaam uitgemergel,
tot die laaste lid verswak,
is verkrimp al soos die leer is
van 'n swartberookte sak.

31.  Nogtans wag ek op U, HERE,
wat van al my kommer weet -
op die uitkoms van u woorde
wat my hart nie kon vergeet.
Sal daar nie 'n einde kom nie?
Toef U, HEER, nog met u straf?
Spaar U tog my vyand wat my
graag wil neerdruk in die graf?

32.  Die wat op u wet nie ag nie,
skoon dit waar bly en gewis,
hul vervolg my. Help my, HERE!
Lewe wat nog in my is,
het hul amper al vernietig;
maar - hoe kon 'k u wet laat vaar?
Maak my in u guns weer lewend,
dat 'k u woorde kan bewaar.

33.  HEER, u woord is onbeweeglik,
en u waarheid het geen end,
soos die sterre wat bly vonkel
aan die hoë firmament.
Met die duur van mensgeslagte
sal u bondstrou nooit beswyk;
soos die aarde is dit bevestig
wat nie van sy grondslag wyk.

34.  Aarde, hemel, alle dinge -
niks wat ooit u ord'ning breek;
want hul almal is u knegte,
stip-gehoorsaam as U spreek.
Was u wet nie al my lus nie,
dan het ek in smart versmag;
maar nou dit my krag gewek het, 
dink ek daaraan dag en nag.

35.  U behoort ek al my dae,
help u dienaar, goeie HEER!
Soek my heil; ek soek my lewe
in die waarheid van u leer.
Goddelose wil my ombring,
lê en loer en hou die wag,
maar ek let op hoë dinge,
'k gee op u getuig'nis ag.

36.  Nimmer, nêrens het my oë
op die wêreld iets aanskou
wat bestendig voort kan duur nie
en sy wese kan behou.
Wat volmaak skyn, het 'n einde,
moet, met al wat is, verslyt;
net u wet, in duur onendig,
is volmaak en eind'loos wyd.

37.  Waarom is 't dat ek u wette
al my liefde waardig keur,
sodat ek in my bepeinsing
daarmee besig is aldeur?
Omdat hul my wys gemaak het,
wyser as my teenparty,
as my leraars, as die grysaards.
Dis 'n kennisskat vir my!

38.  HERE, ek wyk deur u genade
weg van elke slegte pad;
maak ek wyk nie van u regte,
want hul is my wysheidskat.
Soet soos heuning is u woorde,
soeter, want hul gee my raad;
daarom is 't dat ek van harte
al die valse paaie haat.

39.  HEER, u woord is my 'n fakkel
wat sy ligglans voor my dra,
voor my voet die duisternisse
'van my lewenspad verja.
'k Het gesweer, deur u ontferming
dit bevestig, dat ek my,
van 'n wêreldnag omgewe,
deur die ligglans wil laat lei.

40.  Troos my nou met u beloftes;
teëspoede druk my neer.
Laat my offers - my gebede -
U behaaglik wees, o HEER!
Of my lewe al in gevaar is,
of die dood my al bedreig -
'k kan u wette nie vergeet nie,
so 's my hart daartoe geneig.

41.  Of ek amper al gevang is
in die slim-verborge net -
midde-in gevaarlikhede
dwaal ek nog nie van u wet.
Want dit is my vreug, my erfdeel,
waar ek nie meer sonder kan;
daaraan kleef ek deur u goedheid,
en my voet wyk nie daarvan.

42.  Vir u wette dra ek liefde,
vir die twyf'laars enkel haat.
HEER, U is my skild en skuiling,
en u woord my toeverlaat.
Weg van my, o boosgeaardes;
want dit maak my onrus stil:
om in my bedryf en handel
so te wandel soos God wil.

43.  Stel u woord my tot 'n steunsel,
dat 'k kan lewe, en nie loop
tot my eie spot en skande,
na 'n ongewisse hoop.
Sterk my, red my; laat die liefde
tot u wet in my ontwaak;
want U bring oor hul veragting
wat bedrog hul steunsel maak.

44.  HEER, U skif die goddelose,
soos ons skuim skif van metaal,
en verwerp hul; daarom bid ek 
dat u liefde in my mag daal.
As ek dink aan u gestrengheid,
dan meng liefde en vrees deureen;
en ek voel hoedat daar angste
sidder deur my lede heen.

45.  Wil my, wat u wet betrag het,
nimmer prysgee as 'n roof
van vermeetles, maar beskerm my
soos u woord dit my beloof.
Hoe verlang ek na die heilgoed
wat my toewink in u trou!
Wees my goed, maak my verstandig,
dat ek u bevel kan hou.

46.  HEER, hoe lank het U met hulle
wat u wet verag, geduld?
Kom dan eind'lik, doen vergelding,
bring oor hul die sware skuld!
Maar vir my is u gebooie
reiner, fyner duisendvoud,
meer gelouterd en gekeurmerk
as die allerfynste goud.

47.  Daarom is my u bevele
altyd waar en reg; ek haat
alle dowwe leuenpaaie
wat die regte pad verlaat.
HEER, u wet is my 'n wonder
as 'k sy diepte wil deurgrond;
gaan dit oop, dan skiet dit glanse
skoner as die môrestond.

48.  Dis 'n lig wat klare kennis
aan eenvoudiges ontdek;
dis die asem van die lewe
wat ek diep na binne trek.
Wend U dan nie weg van my nie,
wees my gunstig na die reg
wat in u verbondsgeheim'nis
aan u volk is toegeseg.

49.  Laat die sonde oor my nie heers nie.
Hou my voetstap in u spoor.
Red my van die onderdrukkers;
gaan my met u heillig voor!
Trane kom my in die oë
en dit vloei in strome neer,
omdat hul, die wetsveragters,
van u weg hul voetstap weer.

50.  HEER, my God, U is regverdig,
u verordening is reg;
u getuienis is billik
en u waarheid waar en heg.
Daarom brand in my 'n ywer,
ywer wat my hart verteer,
as ek sien hoedat die vyand
U nie in u waarheid eer.

51.  HEER, u woord, dit is gelouterd
en bemind deur my, u kneg,
wat, hoewel hy klein, verag is,
nog aan u bevel bly heg.
U geregtigheid bly ewig,
onveranderlik bestaan,
en u waarheid is 'n waarheid
wat nie wankel of vergaan.

52.  As ek wandel in benoudheid,
en in diepe angs geraak,
is u woord die een en alles
waar my hart hom in vermaak.
Ewige geregtighede
vloei uit u getuienis.
Leer my daaruit so te lewe
soos die ware lewe is.

53.  Tot U roep ek; HEER, verhoor my,
en verlos my, maak my trou,
dat ek u getuienisse
heel my lewe lank kan hou.
Op u woord steun my verwagting:
smôrens by die eerste lig
is my oë en my hande
en my stem tot U gerig.

54.  Diep nog in die stille nagte
as ek niemand wakker hoor,
bring ek my u woord te binne
en bepeins dit oor en oor.
Hoor genadig, wek my lewe
na u heil'ge ordening;
want die snode wetsveragters
kom al nader aangedring.

55.  Hul kom nader! Kom ook nader!
Ja, ek weet van ouds af al
uit wat U voorheen getuig het:
ewig staan u waarheid pal.
Sie my aan in my ellende,
'k voel my aan u wet verkleef;
wil my regsaak nou verdedig;
laat my, na u woord, herleef.

56.  Ver 's u weldaad van die bose,
want hul swerf van U af weg;
maar oor my is u ontferming:
maak my lewend na u reg.
My vervolgers, vals en vinnig,
hul getal vermeerder nou;
maar dis u getuienisse
wat my voete staande hou.

57.  'k Het gesien die trouelose -
en gesmaak hoe hul U smaad,
maar dit wek in my 'n walging
dat hul, HEER, u woord verlaat.
Merk tog hoedat u bevele
soetste spys is van my gees;
maak my lewend na die woorde
wat vir ewig waar sal wees.

58.  Vorste haat my sonder oorsaak,
op my pad vervolg hul my;
maar ek vrees u Woord alleenlik,
en ek is daar vrolik by.
U beloftes gee my vreugde
soos die wat oorwinnaars smaak,
as hul tel die ryke skatte
op hul togte buitgemaak.

59.  Leuens haat ek; in u wette
is my lus en liefde altyd:
en die ganse dag deur sing ek
lof op u geregtigheid.
Vrede is daar, enkel vrede,
en dit daal in die gemoed
van wie u bevele liefhet,
vrede sonder teëspoed.

60.  Tot U loop ek, op u hoop ek,
op u wette gee ek ag;
en ek hou wat U getuig het
vol van liefde en stil ontsag.
'k Voeg my stil na u bevele
mag ek die maar nooit vergeet!
HEER, U weet dit - al my weë
is voor U wat alles weet.

61.  Mag my klag maar tot U nader,
mag dit opklim deur die lug!
Maak my, na u woord, verstandig,
red my as ek tot U sug!
Van my lippe stroom die sange,
want U maak my waarlik wys:
al u wette is regverdig,
daarom sal my tong dit prys.

62.  Help my, HEER! Ag, hoe verlang ek
en hoe sug ek diep en swaar
na die heil wat U beloof het,
na u kennis wonderklaar!
Laat my leef; o HEER, dan loof ek!
Laat niks my die heil ontroof!
Laat u oordeel my tot hulp wees!
Laat my lewe om te loof!

63.  HEER, ek is 'n skaap verlore,
in die wildernis verdwaal.
U, my HEER en Herder, bid ek
dat U my tog wil kom haal
Soek my, bring my weer, u dienaar
wat in al sy harteleed,
en in al sy teënhede, u gebooie nie vergeet.

 

Psalm 120

Psalm 120

1.  As die hoë nood by tye
en die storm van alle sye
dreigend teen my op kom staan,
dan verhef ek my gedagte,
send tot God my bitter klagte,
want Hy neem dit gunstig aan.

2.  Red my, HEER, in hierdie stonde
van die tong en leuenmonde
wat my smaad in my verdriet.
Watter straf keur God jou waardig,
lastertong wat my so vaardig
met jou lastertaal beskiet?

3.  Pyle ylings afgevloë
van die staalsterk heldeboë
met 'n dodelike sprong,
saam met vuurstraal uit die rosse
kolegloed van besembosse -
dis jou loon, o valse tong!

4.  Wee my, dat ek om moet swerwe
waar my sielsrus weg moet sterwe
by die wat die vrede haat;
by 'n volk wat, as my rede
spreek van vriendskap en van vrede,
des te meer van oorlog praat.

 

Psalm 121

Psalm 121

1.  Ek hef my oë bergwaarts heen
en staar die ure om,
tot my verlossing kom.
My hulp is van die HEER alleen.
Hy, oor my lot bewoë,
is eind'loos in vermoë

2.  Bedreig gevaar jou reispad ooit -
Hy is dit wat jou voet
vir wankeling behoed.
Hy, Isr'els wagter, sluimer nooit.
Die HEER is jou ontfermer,
jou skadu en beskermer.

3.  Die son wat bo jou trekpad staan,
sal jou nie steek by dag;
die maan ook nie by nag.
Die HEER sal met jou samegaan.
Hy, Israels ontfermer,
is altyd jou beskermer.

4.  Die HEER sal jou bly gadeslaan;
in onheil en gevaar
sal Hy jou siel bewaar.
Wanneer jy uit of in mag gaan -
Hy, Israels ontfermer,
is ewig jou beskermer.

 

Psalm 122

Psalm 122

1.  Ek was verheug toe die geluid
weerklink het bo die ruimtes uit:
Kom, laat ons optrek hiervandaan,
om na die HEER se huis te gaan!
O heil'ge stad, gelukkige oord,
ons voete staan nou in jou port!
Jerusalem, waar al die stamme
op Gods bevel hul feesdag hou,
Jerusalem is goed gebou
en glinster in die son se vlamme.

2.  Daar staan die Dawidstroon gestig -
'n regterstoel vir die gerig.
Gelukkig hy wat jou bemin,
wat juigend gaan jou poorte in
en bid dat vrede lank mag duur
in jou paleis en vestingmuur.
Om vriende en broers soek ek jou vrede;
en om Gods huis, my hoogste skat,
soek ek vir jou die goeie, o stad,
wat skoonste is van alle stede.

 

Psalm 123

Psalm 123

1.  Ek hef tot U wat in die hemel sit,
my oë op en bid.
Net soos die kneg sy oog nie weg wil weer nie,
of aftrek van sy heer nie;
en soos die diensmaagd smekend van haar vrou nie
die oë af kan hou nie -
so staar ons op die HEER tot daar van Hom
oplaas erbarming kom.

2.  Wees ons in lydenstyd genadig, HEER,
en red u erfdeel weer!
Ons word, terwyl ons leef in heilsverwagting,
versadig met veragting.
Ons is so moeg van trotsaards en hul smading,
van spot- en skimpversading;
gefolter en verag slaan ons die oog
na U, o God, omhoog.

 

Psalm 124

Psalm 124

1.  Laat Israel nou uitroep bly van gees:
Ja, was die HEER nie toe by ons gewees,
toe mensemagte, teen ons aangekant,
ons aangegryp het, in hul toorn ontbrand -
dan was ons lewendig verslind gewees

2.  Het toe die HEER sy volk nie bygestaan -
toe trotse waters oor ons heen wou slaan,
dan het die vloed vir ons te sterk geword,
dan het hy bruisend oor ons heengestort,
dan het 'n stroom ons oor die siel gegaan.

3.  Geloofd sy God: Hy het ons vrygemaak;
die woedende ondier het ons nie genaak;
God het die dodelike sprong gestuit
en ons nie oorgelewer tot 'n buit.
Dies loof ons God: Hy het ons vrygemaak!

4.  Die troue HEER het self ons vrygemaak:
die strik is los en ons het vrygeraak,
vry soos 'n voël wat vind sy vryheid weer.
Die eewge God, van alle dinge HEER,
Hy is ons hulp, Hy het ons vrygemaak.

Psalm 125

Psalm 125

1.  Die wat op God vertrou,
al kom die vyand aan,
is soos die Sionsberg
wat altyd vas bly staan.

2.  Die hoë berge is
net soos 'n vaste skans
rondom Jerusalem:
geen vyand het daar kans.

3.  So is die HEER rondom
sy volk in ewigheid -
'n berg wat vas bly staan
in dag van storm en stryd.

4.  Hy sal sy Sion wat
op sy verlossing wag,
nie ewiglik laat bly
in tirannieke mag;

5.  nie ewiglik laat bly
in so 'n droewe staat;
laat hul maar net die hand
nie uitstrek na die kwaad!