B: Die vergadering

Artikel 28 Vier vergaderings
Vier kerklike vergaderings sal gereeld gehou word: die kerkraad, die klassis, die partikuliere sinode en die algemene sinode.

Artikel 29 Opening en sluiting van die vergaderings
By die opening en sluiting van alle vergaderings sal die Here met gebed en danksegging aangeroep word.

Artikel 30 Bevoegdheid van die vergaderings
Hierdie vergaderings mag slegs kerklike sake behandel, op kerklike wyse.

'n Meerdere vergadering mag slegs sake behandel wat die kerke in sy gebied gemeenskaplik aangaan of wat nie in die mindere vergadering afgehandel kon word nie. Nuwe sake wat vanuit die kerke aan die orde gestel word, mag net in die weg van voorbereiding deur die mindere vergadering op die agenda van die meerdere vergadering geplaas word.

Artikel 31 Beroep op 'n meerdere vergadering
As iemand meen dat hy deur die uitspraak van 'n mindere vergadering veronreg is, kan hy hom op die meerdere vergadering beroep.

Die uitspraak wat met meerderheid van stemme aanvaar is, sal as bindend aanvaar word, tensy daar bewys word dat dit in stryd is met die Woord van God of met die Kerkorde.

Artikel 32 Afvaardiging na meerdere vergaderings
Die afgevaardigdes na meerdere vergaderings sal hul geloofsbriewe, onderteken deur diegene wat hulle gestuur het, saambring en op grond daarvan stemreg hê. By sake wat hulself of hul eie kerke raak, moet hulle egter buite stemming bly.

Artikel 33 Instruksies en voorstelle vir meerdere vergaderings

'n Mindere vergadering mag nie 'n instruksie of 'n voorstel vir 'n meerdere vergadering vasstel alvorens die moontlike besluite van voorgaande sinodes betreffende die voorgestelde saak noukeurig gelees is nie. Sake wat reeds afgehandel is, moet nie opnuut aan die orde gestel word nie, tensy geoordeel word dat wysiging noodsaaklik is.

Artikel 34 Taak van voorsitter en skriba
Dit is die taak van die voorsitter om die sake wat behandel moet word, duidelik aan die orde te stel. Hy moet sorg dat die besprekings ordelik verloop. Hy moet sprekers wat stry oor kleinighede of wat hulle deur hul emosies laat meevoer, die woord ontneem en hulle berispe as hul nie luister nie. Sy taak is beëindig as die vergadering afgesluit is.

Saam met die voorsitter sal 'n skriba aangewys word wat alles sal aanteken wat vir skriftelike vaslegging van waarde is.

Artikel 35 Bevoegdheid van die meerdere vergaderings ten opsigte van die mindere
Die klassis het die bevoegdheid om regsgeldige uitsprake te doen ten opsigte van die kerkraad. Dit geld ook vir die partikuliere sinode ten opsigte van die klassis en vir die algemene sinode ten opsigte van die partikuliere sinode.

Artikel 36 Samestelling en byeenkomste van die kerkraad
In alle kerke sal daar 'n kerkraad wees wat bestaan uit die predikant(e) en die ouderlinge. Die kerkraad sal gereeld byeenkom onder voorsitterskap van die predikant of van die predikante beurtelings. Die kerkraad sal ook gereeld saam met die diakens vergader. Hierdie vergadering sal die sake behandel wat die Kerkorde daarvoor aanwys, die materiële sake van die kerk, die finansiële beheer en alles wat na die oordeel van die kerkraad tot die algemene beleid gereken kan word.

Artikel 37 Samewerking waar die aantal ampsdraers klein is
As die aantal ouderlinge en diakens klein is, kan die kerkraad volgens plaaslike reëling altyd saam met die diakens vergader. In so 'n geval word daar by sake van opsig en tug met die advies van die diakens gehandel, en by sake rakende die diakenamp met die advies van die ouderlinge. Hierdie reëling sal in elk geval getref word as die aantal ouderlinge en die aantal diakens minder as drie is.

Artikel 38 Instelling van die ampte
Die ampte kan slegs met instemming van die klassis vir die eerste keer of opnuut op 'n plek ingestel word.

Artikel 39 Plekke sonder kerkraad
Die klassis sal die plekke waar daar nog geen kerkraad kan wees nie, onder die sorg van 'n naburige kerkraad plaas.

Artikel 40 Vergaderings van die diakens
Die diakens sal gereeld vergader om, onder aanroeping van die Here, die diakonale sake te behandel.

Hulle sal aan die kerkraad van hul beleid en beheer verantwoording doen.

Artikel 41 Klassikale vergaderings
'n Klassikale vergadering word deur die kerke van die klassikale gebied gevorm wat elk 'n predikant en 'n ouderling sal afvaardig met die vereiste geloofsbriewe.

So 'n vergadering sal minstens een maal elke drie maande belê word. Elke vergadering sal vasstel waar en wanneer die kerke opnuut sal saamkom. Die predikante sal beurte maak om die voorsitterskap te beklee. Die vergadering mag ook sy voorsitter kies, maar nie dieselfde een twee maal na mekaar nie. Die voorsitter sal vra of die amptelike dienste voortgaan, of die besluite van die meerdere vergaderings ten uitvoer gebring word, en of daar iets is waarby die kerkrade die oordeel of die hulp van die klassis nodig het vir die goeie voortgang van hulle plaaslike kerklike lewe.

In die laaste vergadering voor 'n partikuliere sinode sal die afgevaardigdes na daardie sinode gekies word.

Artikel 42 Nie-afgevaardigde predikante in die klassis
As daar twee of meer predikante aan 'n kerk verbonde is, mag die predikante wat nie volgens die vorige artikel afgevaardig is nie, in die klassikale vergadering aanwesig wees, waar hulle 'n adviserende stem het.

Artikel 43 Konsulente
Die klassis sal vir elke vakante gemeente 'n predikant as konsulent aanwys wat die kerkraad ter wille van die goeie orde sal adviseer, in die besonder by beroepingswerk. Beroepingsbriewe behoort ook deur die konsulent onderteken te word.

Artikel 44 Kerkvisitasie
Die klassis sal elke jaar 'n paar van sy mees ervare en bekwame predikante magtig om visitasie te doen in alle kerke in sy gebied. Indien nodig, kan hy behalwe predikante ook 'n ouderling benoem wat vir hierdie taak bekwaam is.

Die visitatore sal ondersoek instel of die ampsdraers elkeen afsonderlik en gesamentlik hulle ampte getrou vervul, hulle by die suiwer leer hou, die aanvaarde orde in alles nakom en die opbou van die gemeente na die beste van hul vermoë met woord en daad bevorder.

Die doel van die visitasie is om ampsdraers by wie nalatigheid bemerk word, betyds te vermaan en ook om met raad en daad saam te werk aan die vrede, die opbou en die welsyn van die kerke.

Die visitatore sal 'n skriftelike verslag van hulle werk aan die klassis voorlê.

Artikel 45 Partikuliere sinodes
'n Partikuliere sinode word gevorm deur 'n groep naburige klassisse, wat elk twee predikante en twee ouderlinge afvaardig. Die aantal kan op drie gestel word as die sinode deur twee of drie klassisse gevorm word. Die partikuliere sinode sal een keer per jaar saamkom, tensy daar dringende redes is om dit meer dikwels te doen.

Aan die einde van die partikuliere en algemene sinode sal die tyd en plek van die volgende sinode vasgestel word. Daar sal ook 'n sameroepende kerk vir hierdie vergadering aangewys word.

Artikel 46 Die algemene sinode
Die algemene sinode sal een keer in drie jaar gehou word, tensy daar dringende redes is om eerder te vergader.

Elke partikuliere sinode vaardig twee predikante en twee ouderlinge af.

Indien die algemene sinode na die oordeel van ten minste twee partikuliere sinodes binne die drie jaar saamgeroep moet word, sal die aangewese sameroepende kerk die tyd en plek daarvoor vasstel met die goedkeuring van sy partikuliere sinode.

Artikel 47 Verhouding met buitelandse kerke
Die algemene sinode beslis oor die verhouding met kerke in die buiteland. Daar sal, sover dit moontlik is, kerklike gemeenskap beoefen word met buitelandse kerke van gereformeerde belydenis.

Die buitelandse kerke sal nie op grond van ondergeskikte punte van kerkorde en kerklike praktyk veroordeel word nie.

Artikel 48 Sensuur in meerdere vergaderings
Aan die einde van klassikale en ander meerdere vergaderings, sal sensuur uitgeoefen word oor diegene wat hul in die vergadering misgaan het.

Artikel 49 Deputate van meerdere vergaderings
Elke meerdere vergadering sal deputate benoem vir die uitvoering van sy opdragte. Daar sal sover moontlik afsonderlike groepe deputate vir die onderskeie sake aangestel word.

Die partikuliere sinode sal ook deputate benoem wat die klassisse moet bystaan in alle gevalle waar die Kerkorde dit voorskryf, en - op versoek van die klassisse - by spesiale probleme. Ook sal hulle, of 'n paar van hulle, toesig hou by die finale eksamen van die voornemende predikante.

Die deputate sal hul werksaamhede noukeurig aanteken en dit rapporteer.

Hulle moet hulself, as dit gevra word, kan verantwoord.

Artikel 50 Argiewe
Die kerkrade en die meerdere vergaderings behoort hul argiewe goed te versorg.

Artikel 51 Verteenwoordiging van die kerkraad in materiële sake
Ten opsigte van die bestuur van materiële sake word 'n kerk regtens verteenwoordig deur twee persone wat deur die kerkraad met diakens daarvoor aangewys is.

Artikel 52 Verteenwoordiging van die kerke in regsake rakende kapitaalbesit
Ten opsigte van regsake rakende kapitaalbesit wat die kerke in klassikale, partikulier-sinodale of algemeen-sinodale verband gemeenskaplik het, word hulle verteenwoordig deur die klassikale, partikulier-sinodale of algemeen-sinodale vergaderings, of deur deputate wat deur hierdie vergaderings benoem word, instruksies ontvang en ontslaan word, en wat in al hulle handelinge aan instruksies gebonde is.