A: Die Ampte

Artikel 2 Drie ampte
Daar is drie ampte wat onderskei moet word: die amp van bedienaar van die Woord, van ouderling en van diaken. Sommige predikante sal afgesonder word vir opleiding tot die diens van die Woord, ander vir sendingwerk.

Artikel 3 Noodsaaklikheid van wettige roeping
Niemand mag een van hierdie ampte vervul sonder dat hy wettig daartoe geroep is nie.

Artikel 4 Verbinding aan 'n bepaalde kerk
Niemand mag tot die diens van die Woord geroep word sonder dat hy aan 'n kerk verbind word nie.

Artikel 5 Roeping tot die diens van die Woord
Die wettige roeping tot die diens van die Woord van hulle wat die amp van predikant nog nie beklee het nie, behels die beroeping, die eksamen, die goedkeuring van die gemeente en die bevestiging.

Die beroeping geskied onder aanroeping van die Here deur die kerkraad en die diakens met medewerking van die gemeente en met inagneming van die plaaslike reëling. Alleen diegene wat deur die klassis waaronder hulle ressorteer, voorbereidend geëksamineer is, kan vir die eerste keer beroep word. In kerke sonder 'n predikant in aktiewe diens, sal beroeping plaasvind met advies van die konsulent wat deur die klassis aangewys is.

Die eksamen wat die leer en lewe betref, sal afgeneem word deur die klassis wat die beroep moet goedkeur. Dit sal plaasvind in die teenwoordigheid van die deputate van die partikuliere sinode of 'n aantal van hulle.

Die goedkeuring van die gemeentelede is verkry wanneer die naam van die beroepe predikant op twee agtereenvolgende Sondae in die kerk afgekondig is, en daar geen wettige beswaar ingedien is nie.

Die bevestiging sal plaasvind in 'n erediens waarby die vasgestelde formulier gebruik word, met handoplegging deur die predikant wat die bevestiging waarneem.

Artikel 6 Beroep na 'n ander kerk
Wanneer predikante na 'n ander kerk beroep word, sal die beroeping ook geskied deur die kerkraad en die diakens, met medewerking van die gemeente en met inagneming van die plaaslike reëling.

Die kerke sal hulle hou aan die algemene kerklike bepalings oor die beroepbaarheid van predikante wat buite Suid-Afrika in kerke van gereformeerde belydenis gedien het, en oor die herhaalde beroeping van dieselfde predikant in dieselfde vakature.

Kerke sonder 'n predikant in aktiewe diens sal beroepingswerk doen met advies van die konsulent wat deur die klassis aangewys is.

Dit geld vir alle kerke dat die goedkeuring van die klassis vereis word. Predikante wat volgens hierdie artikel beroep is, moet aan die klassis 'n goeie kerklike getuienis ten opsigte van leer en lewe toon. Die vereiste goedkeuring van die gemeentelede is verkry as die naam van die beroepe predikant op twee agtereenvolgende Sondae afgekondig is en daar geen wettige beswaar ingedien is nie.

Die bevestiging sal plaasvind in 'n erediens waarby die vasgestelde formulier gebruik moet word.

Artikel 7 Aktes van ontslag by die aanneming van 'n beroep
Wanneer 'n predikant 'n beroep na 'n ander kerk aangeneem het, mag hierdie kerk hom nie as sy predikant aanvaar voordat hy wettige aktes van ontslag voorgelê het van die kerk en die klassis waaronder hy gedien het nie.

Artikel 8 Toelating sonder teologiese opleiding
Diegene wat geen teologiese opleiding ontvang het nie, kan nie tot die amp van bedienaar van die Woord toegelaat word nie, tensy dit oortuigend blyk dat hulle besondere gawes van godsvrug, ootmoed, ingetoënheid, verstand, onderskeidingsvermoë en welsprekendheid het.

As sulke persone toelating tot die diens van die Woord vra, sal die klassis hulle eksamineer na toestemming deur die partikuliere sinode. Indien die eksamen volgens die oordeel van die klassis gunstig verloop, sal die klassis 'n periode vasstel waartydens hulle as proponent mag voorgaan in die kerke wat onder daardie klassis ressorteer.

Daarna sal die klassis verder met hulle handel soos dit na sy oordeel verantwoord is, volgens die algemene reëls wat daarvoor deur die kerke vasgestel is.

Artikel 9 Toelating van voorgangers wat nog nie lank lid van een van die kerke is nie
Voorgangers wat hulle kort tevore by een van die kerke gevoeg het en wat nie afkomstig is uit 'n kerk waarmee kerklike gemeenskap onderhou word nie, sal slegs met groot versigtigheid tot die diens van die Woord toegelaat word.

Daarby sal die toepaslike algemene kerklike bepalings in ag geneem word.

Indien die klassis en die deputate van die partikuliere sinode dit nodig ag, sal hulle eers 'n proeftyd deurmaak.

Artikel 10 Voorgaan in 'n ander kerk
Niemand mag in 'n ander kerk die Woord of die sakramente bedien sonder die toestemming van die betrokke kerkraad nie.

Artikel 11 Onderhoud van die predikante
Die kerkraad is, namens die gemeente wat hy hierin verteenwoordig, verplig om sy predikante na behore te onderhou.

Artikel 12 Benoeming vir 'n spesifieke taak
'n Predikant mag geen benoeming aanneem waar hy hom heeltemal aan 'n spesifieke taak wy nie, byvoorbeeld dié van weermag- of hospitaal-predikant, tensy hy aan 'n kerk verbonde bly.

Die verhouding waarin hy tot die betrokke kerk staan, moet gereël word met die goedkeuring van die klassis.

Artikel 13 Emeritering
As 'n predikant deur ouderdom, siekte of ander oorsake nie meer in staat is om sy ampswerk te verrig nie, bly hy regtens dienaar van die Woord.

Die kerk wat hy gedien het, sal hom op gepaste wyse onderhou. Hierdie verpligting geld ook teenoor die weduwees en weeskinders van predikante.

Artikel 14 Ontslag van verbintenis aan die gemeente
Die kerkraad mag nie 'n predikant van sy verbintenis aan 'n gemeente ontslaan sonder medewete en goedkeuring van die klassis en die deputate van die partikuliere sinode nie.

Artikel 15 Ontheffing uit die amp
As 'n predikant eers volgens die reël van artikel 5 geroep is, het hy hom lewenslank aan die kerklike diens verbind. Dit beteken dat hy sy amp nie mag neerlê nie.

Hy kan slegs van sy amp onthef word en oorgaan tot 'n ander staat van lewe, indien die kerkraad en die klassis, met medewerking van die deputate van die partikuliere sinode, van oordeel is dat daar gewigtige redes voor is.

Artikel 16 Taak van die predikante
Die taak van die predikante is om getrou in gebede en in die bediening van die Woord en die sakramente voor te gaan.

Hulle behoort goed op hulle mede-ampsdraers en op die gemeente te let en saam met die ouderlinge die tug toe te pas en te sorg dat alles op gepaste wyse en ordelik geskied.

Artikel 17 Billike taakverdeling
As daar twee of meer predikante aan 'n gemeente verbonde is, sal soveel as moontlik gelykheid gehandhaaf word, sowel in hulle taak as in ander opsigte, na die oordeel van die kerkraad en indien nodig van die klassis.

Hierdie reël geld ook met betrekking tot die ouderlinge en die diakens.

Artikel 18 Opleiding tot die diens van die Woord
Die kerke onderhou 'n teologiese universiteit vir die opleiding tot die diens van die Woord.

By die taak van die professore in die teologie, behoort die uitlegging van die Heilige Skrif en die verdediging van die suiwer leer teen ketterye en dwalings.

Predikante wat afgesonder is vir die opleiding tot die diens van die Woord, bly, op die wyse van emeritus-predikante, verbonde aan die kerk wat hulle gedien het en behou die regte van 'n bedienaar van die Woord.

Die kerke aanvaar saam die verpligting om na behore in hulle en hulle weduwees en weeskinders se onderhoud te voorsien.

Artikel 19 Sorg vir studente in die teologie
Die kerke sal daarna strewe dat daar studente in die teologie is. Hulle sal, indien nodig, finansiële steun verleen.

Artikel 20 Roeping van ouderlinge en diakens
Die ouderlinge en diakens sal tot hul amp geroep word deur die kerkraad en die diakens, met medewerking van die gemeente en met inagneming van die plaaslike reëling. Dit sluit in dat die gemeentelede die kerkraad se aandag kan vestig op persone wat hulle geskik ag.

Die kerkraad sal die gemeente uit 'n dubbele getal laat kies en daarna dié wat gekies is, benoem. Indien daar geen wettige beswaar ingedien word nie, sal hulle tydens 'n erediens in hulle ampte bevestig word.

Die kerkraad kan ook soveel persone as wat nodig is om elke amp te vul, aan die gemeente voorstel.

Indien daar geen wettige beswaar teen hulle ingedien word nie, sal hulle op dieselfde wyse in hulle ampte bevestig word. In beide gevalle moet die vasgestelde formulier vir die bevestiging van ouderlinge en diakens gebruik word.

Artikel 21 Taak van die ouderlinge
Die taak van die ouderlinge is om saam met die bedienaars van die Woord die gemeente in herderlike sorg te regeer. Hulle sien toe dat die predikante, die mede-ouderlinge en die diakens hul amp getrou vervul. Hulle doen huisbesoek so dikwels as wat nodig is vir die opbou van die gemeente, ten minste eenmaal per jaar. Ook moet hulle saam met die predikante die tug toepas en sorg dat alles in die gemeente op 'n gepaste en ordelike wyse geskied.

Artikel 22 Taak van die diakens
Die taak van die diakens is om die diens van barmhartigheid te verrig.

Deur huisbesoeke te doen, sal hulle hul op hoogte stel van die moeites in die gemeente. Waar nood is, sal hulle help en bemoedig, en ook die gemeentelede aanspoor om hulp te verleen. Verder sal hulle die liefdegawes insamel, dit goed beheer en na gesamentlike oorlegpleging na behoefte uitdeel.

Artikel 23 Aftreding van ouderlinge en diakens
Die ouderlinge en diakens sal twee of meer jare dien, afhangende van die plaaslike reëling. As reël tree daar elke jaar 'n eweredige aantal af. Die aftredende ampsdraers sal deur ander vervang word, tensy dit vir die gemeente wenslik geag word dat hulle opnuut tot die amp geroep word. Daarby sal die reëls van artikel 20 geld.

Artikel 24 Orde by die vervulling van die sendingsroeping
Die kerke sal hul sendingsroeping met inagneming van die artikels in hierdie Kerkorde vervul. As kerke by die vervulling van hierdie roeping saamwerk, sal hulle hul hou by die indeling in gebiede wat deur die kerkverband aanvaar is.

Artikel 25 Taak van sendelinge
Die taak van die predikante wat vir sendingwerk geroep is, is om die Woord van God te verkondig in die gebied wat aan hulle toegewys is. Hulle sal aan diegene wat tot die geloof gekom het, die sakramente bedien en hulle leer om alles te onderhou wat Christus aan sy gemeente beveel het.

Ook sal hulle volgens goeie orde die ampte instel.

Artikel 26 Kerkraad en evangelisasie
Die evangelisasie moet daarop gerig wees om hulle wat God nie ken nie of van Hom en sy diens vervreemd is, deur belydenis van die geloof volgens die gereformeerde leer by die gemeente van Christus te voeg. Die kerkraad sal toesien dat daar vanuit hierdie doelstelling gewerk word.

Artikel 27 Ampsdraers en owerheid
Die ampsdraers sal dit aan die gemeente voorhou dat hulle gehoorsaamheid en eerbied aan die owerheid verskuldig is omdat God die owerheid ingestel het. Hierin moet hulle self 'n goeie voorbeeld stel en in die weg van gepaste respek en korrespondensie daarna strewe dat die owerheid die diens van die kerk steeds wettig beskerm.