Hoofstuk 5 - DIE VOLHARDING VAN DIE HEILIGES

1.  Hulle wat God volgens sy voorneme tot die gemeenskap van sy Seun, ons Here Jesus Christus, roep en deur die Heilige Gees wederbaar, verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde. Tog verlos Hy hulle in hierdie lewe nie heeltemal van hulle bedorwe natuur en bestaan nie.

2.  Hieruit ontstaan die daaglikse sondes van swakheid, en selfs die allerbeste werke van die heiliges is nog gebrekkig. Daarom moet hulle hulle voortdurend voor God verootmoedig, hulle toevlug tot die gekruisigde Christus neem, die bedorwe natuur hoe langer hoe meer doodmaak deur die Gees van die gebed en heilige beoefening van godvresendheid en vurig na die bereiking van die volmaaktheid verlang. totdat hulle, losgemaak van hierdie sterflike liggaam, met die Lam van God in die hemel regeer.

3.  Vanweë hierdie oorblyfsels van die inwonende sonde en ook vanweë die aanvalle van die wêreld en die Satan kan die bekeerdes nie in hierdie genade volhard as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou. Uit barmhartigheid bekragtig Hy hulle in die genade wat eenmaal aan hulle gegee is, terwyl Hy hulle ook tot die einde toe kragtig daarin bewaar.

4.  Die mag van God, waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bekragtig en bewaar, is so groot dat dit nie deur die sondige natuur oorwin kan word nie. Tog word die bekeerdes nie altyd so deur God gelei en beweeg dat hulle - deur hulle eie skuld - in sommige besondere gevalle nie van die leiding van die genade sou kon afwyk en deur die begeerlikhede van die sondige natuur verlei kan word en dit navolg nie. Daarom moet hulle voortdurend waak en bid om nie in versoekings gelei te word nie. As hulle dit nie doen nie, kan hulle deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan tot swaar en gruwelike sondes verlei word. Soms word hulle ook inderdaad, onder die regverdige toelating van God, daartoe verlei. Die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges wat vir ons in die heilige Skrif beskryf is, bewys dit.

5.  Met sulke growwe sondes vertoorn hulle God vreeslik, verdien hulle die dood, bedroef hulle die Heilige Gees, versteur hulle die oefening in die geloof, verwond hulle die gewete baie ernstig en verloor hulle soms 'n tyd lank die besef van die genade. Dit gebeur totdat God weer die lig van sy vaderlike aangesig oor hulle laat skyn wanneer hulle deur opregte berou op die regte pad terugkeer.

6.  God, wat oneindig barmhartig is, neem, weens die onveranderlike besluit van die uitverkiesing sy Heilige Gees nie heeltemal van sy eiendom weg nie, selfs nie in hulle jammerlike sondeval nie. Hy laat hulle ook nie só diep val dat hulle uit die genade van die aanneming en uit die staat van die regverdiging uitval nie. Ook laat Hy nie toe dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees begaan en, heeltemal deur Hom verlaat, hulleself in die ewige verderf stort nie.

7.  Wanneer hulle so in die sonde val, bewaar God eerstens in hulle sy onverganklike saad waaruit hulle weergebore is, sodat dit nie vergaan of vernietig word nie. Ten tweede vernuwe Hy hulle deur sy Woord en Gees seker en kragtig tot berou. Die gevolg is dat hulle oor die sondes wat hulle gedoen het, van harte en volgens die wil van God berou het en deur die geloof, met 'n gebroke hart, vergifnis in die bloed van die Middelaar begeer en verkry. So besef hulle weer die genade van God, wat nou met hulle versoen is; deur die geloof in Hom eerbiedig hulle sy ontferminge om daarna met groter ywer hulle eie heil met vrees en bewing uit te werk.

8.  Dat hulle nie heeltemal uit die geloof en die genade uitval of ook tot die einde in die sonde bly of verlore gaan nie, verkry hulle nie deur hulle eie verdienste of inspanning nie maar weens die genadige barmhartigheid van God. As dit van hulle afgehang het, kon dit nie alleen maklik gebeur het nie maar sou dit ongetwyfeld ook gebeur het. Maar omdat dit van God afhang, kan dit glad nie gebeur nie. Immers, sy raad kan nie verander, sy belofte kan nie verbreek, die roeping na sy voorneme kan nie herroep, die verdienste, voorbidding en bewaring van Christus kan nie kragteloos gemaak word nie, net so min as wat die verseëling deur die Heilige Gees verydel of vernietig kan word.

9.  Die gelowiges kan sekerheid hê van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die saligheid en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof. Hulle het hieroor sekerheid volgens die maat van die geloof waarmee hulle seker glo dat hulle ware en lewende lidmate van die kerk is en altyd sal bly en dat hulle vergifnis van sondes en die ewige lewe het.

10.  Hierdie sekerheid spruit dus nie voort uit enige besondere openbaring wat sonder of buite die Woord plaasgevind het nie, maar uit die geloof aan die beloftes van God wat Hy in sy Woord baie oorvloedig tot ons troos geopenbaar het; uit die getuienis van die Heilige Gees: Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. (Rom. 8:16-17), en laastens uit die ernstige en heilige strewe na 'n goeie gewete en goeie werke. As die uitverkorenes van God in hierdie wêreld nie hierdie vaste troos het dat hulle die oorwinning sal behou en hierdie onfeilbare pand van die ewige heerlikheid sou besit nie, sou hulle die ellendigste van al die mense wees.

11. Voorts getuig die Skrif dat die gelowiges in hierdie lewe teen verskillende sondige vertwyfelings stry en, as hulle in ernstige versoekings kom, nie altyd hierdie volle geloofsvertroue en hierdie sekerheid van die volharding ondervind nie. Maar God, die Vader van alle vertroosting laat nie toe dat hulle bo hulle kragte versoek word nie, maar gee saam met die versoeking ook die uitkoms (1 Kor. 10:13), en deur die Heilige Gees maak Hy steeds weer die sekerheid van die volharding in hulle wakker.

12.  Dit is egter totaal onmoontlik dat hierdie sekerheid van die volharding die ware gelowiges hoogmoedige en sorgelose mense sou maak. Dit is daarenteen 'n ware wortel waaruit nederigheid, kinderlike vrees, ware godsvrug, geduld in alle stryd, vurige gebede, standvastigheid onder die kruis en in die belydenis van die waarheid en blywende vreugde in God spruit. Ook is die oordenking van hierdie weldaad vir hulle 'n aansporing tot ernstige en aanhoudende beoefening van dankbaarheid en goeie werke, soos uit die getuienisse van die Skrif en die voorbeelde van die heiliges blyk.

13.  Wanneer die vertroue in die volharding weer lewendig word in hulle wat uit 'n val in sonde weer opgerig word, bring dit geen ligsinnigheid of verwaarlosing van die godsvrug nie maar eerder 'n baie groter besorgdheid om nougeset die paaie van die Here te bewaar. Hierdie paaie is vantevore gemaak. Wanneer hulle daarop loop, behou hulle gevolglik die sekerheid van hulle volharding. 'n Verdere gevolg is dat die aangesig van die versoende God - waarvan die aanskouing vir die gelowiges soeter as die lewe en die verberging bitterder as die dood is - nie weer weens hulle misbruik van sy vaderlike goedheid van hulle afgewend word en hulle só in swaarder gemoedskwellings verval nie.

14.  Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die sakramente.

15.  Hierdie leer van die volharding van die ware gelowiges, en die heiliges, en van die sekerheid daaroor het God tot eer van sy Naam en tot troos van die vromes baie uitvoerig in sy Woord geopenbaar en in die harte van die gelowiges ingeprent. Die sondige natuur verstaan hierdie leer nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit, onkundiges en huigelaars misbruik dit en dwaalgeeste bestry dit. Die Bruid van Christus het dit egter altyd as 'n skat van onberekenbare waarde innig liefgehad en dit volhardend verdedig. God sal sorg dat die kerk dit ook in die toekoms doen. Teen God kan geen beplanning standhou nie, nog minder kan geweld iets teen Hom vermag. Aan hierdie enige God, Vader, Seun en Heilige Gees kom toe eer en heerlikheid tot in ewigheid. Amen.