Artikel 33 - DIE SAKRAMENTE

Ons glo dat ons goeie God, omdat hy met ons stompsinnigheid en swakheid rekening hou, die sakramente vir ons ingestel het om sy beloftes aan ons te beseël, om tekens van sy goedheid en genade teenoor ons te wees en om ons geloof te voed en in stand te hou. Hy het dit by die Woord van die evangelie gevoeg om vir ons uitwendige sintuie des te beter voor te stel wat Hy aan ons deur sy Woord te kenne gee en wat Hy inwendig in ons hart doen. So bekragtig Hy in ons die heil wat Hy aan ons meedeel. Dit is immers sigbare tekens en seëls van 'n inwendige en onsigbare saak en deur middel daarvan werk God in ons deur die krag van die Heilige Gees. Die tekens is dus nie sonder sin en sonder inhoud om ons te bedrieg of te mislei nie; hulle waarheid is juis geleë in Jesus Christus, sonder wie hulle geheel en al betekenisloos sou wees. Verder is ons tevrede met die aantal sakramente wat Christus, ons Meester, vir ons ingestel het en wat slegs twee is, naamlik die sakrament van die doop en van die heilige nagmaal van Jesus Christus.

Rom. 4:11; Gen. 9:13; 17:10,11; Eks. 12; Kol. 2:11; 1 Kor. 5:7; Matt. 28:19; 26:26; Rom. 10:9; Kol. 1:11; 1 Pet. 3:20; 1 Kor. 10:2.