Artikel 31 - DIE AMPSDRAERS VAN DIE KERK

Ons glo dat die bedienaars van die Woord van God, die ouderlinge en die diakens tot hulle ampte verkies moet word deur middel van 'n wettige verkiesing deur die kerk, onder aanroeping van die Naam van God en in goeie orde, soos die Woord van God leer. Daarom moet elkeen terdeë daarteen waak om hom met onbehoorlike middele in te dring. Hy moet wag totdat hy deur God geroep word, sodat hy van sy roeping oortuig kan wees en sekerheid kan hê dat dit van God kom.
Verder, wat die bedienaars van die Woord betref: hulle het, op watter plek hulle ook al mag wees, een en dieselfde mag en gesag, omdat hulle almal dienaars van Jesus Christus is - die enigste algemene Opsiener en die enigste Hoof van die kerk. Verder sê ons, met die oog daarop dat die heilige bevel van God nie verkrag of geminag sal word nie, dat elkeen vir die bedienaars van die Woord en die ouderlinge van die kerk besondere agting moet hê ter wille van die werk wat hulle doen en sover moontlik sonder murmurering, twis of tweedrag in vrede met hulle moet saamleef.

Hand. 6:3,4; 1 Tim. 4:13; Hand. 1:23; 13:2; 1 Tim. 5:22; 1 Kor. 12:28; Rom. 12:8; 1 Tim. 4:14; Matt. 18:26; 1 Kor. 3:8; Rom. 12:7,8; 2 Kor. 5:19; Hand. 26:18; Jes. 61:1; Ef. 1:22; Kol. 1:28; 1 Tess. 5:12,13; Heb. 13:7,17.