Artikel 23 - ONS GEREGTIGHEID VOOR GOD

Ons glo dat ons geluksaligheid geleë is in die vergewing van ons sondes om Jesus Christus ontwil en dat ons geregtigheid voor God daarin bestaan. Die leer Dawid en Paulus ons deur te verklaar dat die mens se geluksaligheid daarin bestaan dat God hom die geregtigheid buite die wetsonderhouding om toereken (Ps 32:2 en Rom 4:6). Dieselfde apostel sê dat ons verniet, dit wil sê uit genade, geregverdig is deur die verlossing wat in Jesus Christus is (Rom 3:24). Ons hou daarom hierdie grondslag altyd vas: Ons gee aan God al die eer, verneder ons voor Hom, erken dat ons is wat ons is en roem glad nie in onsself of in ons verdienste nie maar maak staat en steun op die gehoorsaamheid van die gekruisigde Christus alleen. Hierdie gehoorsaamheid is ons eie as ons in Hom glo; dit is ook genoegsaam om al ons ongeregtighede te bedek en die gewete van vrees, verbystering en skrik te bevry en om ons vrymoedigheid te gee om na God te gaan, terwyl ons nie handel soos ons eerste vader, Adam, wat al bewende probeer het om hom met vyeblare te bedek nie. Waarlik, as ons voor God moes verskyn terwyl ons, in watter geringe mate ook al, op onsself of op enige ander skepsel sou staatmaak, sou ons - helaas! - verteer moes word. En daarom moet elkeen saam met Dawid sê: 'En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie' (Ps 143:2).

Heb. 11:7; Ef. 2:8; 2 Kor. 5:19; 1 Tim. 2:6; 1 Joh. 2:1; Gen. 3:7 (Rom. 5:19); Rom. 4:6; Hand. 4:12; Eseg. 36:23,32; Deut. 27:26; Jak. 2:10; Ps. 143:2; Luk. 16:15; Job 1; 1 Kor. 4:4; Ps. 18:28; Sef. 3:11; Heb. 10:20.