Die gelowige gebed om uitvoering van God se wil

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
1990-01-01
Teks: 
HK Sondag 49
Preek Inhoud: 

Broeders en susters, gemeente van Christus,

Laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.

Dit is die derde bede van die Onse Vader.

Uit die Kategismus word baie duidelik wat bedoel word met die wil van God wat moet geskied! Die geskiede van die wil slaan direk op ons uitvoering van die wil. Dus ons moet ons dit soos volg voorstel: God het Sy wil bekend gemaak b. v. in die 10 gebooie, in die wet of 'n bietjie breeer: in Sy Woord en ons bid in die derde bede dat ons daardie wil sal uitvoer.

Dus daarvoor moet ons eers ons eie wil loslaat, immers ons eie wil is anders as God se wil, dus daar is eers bekering nodig en dan is daar steeds volharding nodig om gehoorsaam te wees aan die wil van God.

Ek meen die Kategismus is hier heeltemaal reg. Dit gaan hier om menslike gehoorsaamheid aan God se geopenbaarde wil.

Maar vandag wil ons ook 'n bietjie aandag vra vir 'n ander gebruik van daardie woord: Laat U wil geskied. Immers daardie woorde kan ons ook gebruik as 'n afsluiting van 'n gebed waarin jy aan die Here jou eie wense en verlange bekendgemaak het. 'n Kind van God mag alles wat hy nodig het van sy hemelse Vader vra, maar tenslotte weet hy ook dat die Vader uiteindelik moet besluit. En daaraan onderwerp jy jou met die woorde: Vader, laat U wil geskied.

Daarby lê jy dus die verhoring van jou gebed in die hand van God. U wil moet geskied, Vader.

Wel, oor daardie woorde wil ons vanmiddag graag iets sê. Daarmee beweeg ons op die oog af 'n bietjie weg van die teks van Sondag 49, maar uiteindelik sal ons ontdek dat sake hier tog baie nader aan mekaar lê as wat ons eers vermoed het.

Ons tema vir vanoggend se woordbediening is:

DIE GELOWIGE GEBED OM UITVOERING VAN GOD SE WIL

Daarvoor is nodig:

  1. dat ons ons aan God se wil onderwerp
  2. dat ons ons met God se wil verenig

Ons wil begin met 'n aanhaling uit die Skrifgedeelte wat ons gelees het. I Joh. 5: 14 "Dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het".

Hierdie teks is een van die Bybelwoorde waarin met besondere nadruk gepraat word van die verhoring van die gebed van die gelowige. Wat ons ook al vra, ons verkry die bedes wat ons van Hom gevra het. Duideliker kan nie gesê word dat enige gebed van ons verhoor word nie. En tog, sit ons met die werklikheid, met die ervaring dat van ons bedes nie verhoor word nie.

Mens kan wel sê dat hierdie kwessie onder christene op twee heel verskillende maniere benader word.

Aan die een kant kry jy mense wat 'n baie sterk nadruk lê op gebedsverhoring. Enige gebed word verhoor, as jy maar ernstig bid, daar mag by jou geen spoor van twyfel wees of jy die gevraagde ook sal verkry nie, want anders sal jou gebed nie deur God verhoor word nie. Want God verhoor slegs 'n 'gelowige gebed'.

En enige gebed wat nie verhoor is nie, daarvoor moet jy die oorsaak by jouself soek. Jy het self nie genoeg geglo nie. Wel, u sal daardie dinkwyse wel herken. Dit kom voor by enige Pinksteragtige sekte.

Daarteenoor staan 'n ander groep van bidders. Hulle sê: Jy kan God vir enige ding bid, jy mag van Hom alles vra, geestelike en materiele gawes maar jy moet altyd daarby sê: Laat U wil geskied!

As dit in God se raad besluit is, dan sal Hy gee, maar as dit anders is, dan sal ons dit ook moet aanvaar.

Ek neem aan ons behoort by die tweede groep. Ons mag alles van God vra, maar die verhoring moet ons in Sy hande laat. En as ons dan lees van gebedsgenesers, of spesiale bidure of selfs 'n nagwake waarin die hele nag deur non-stop tot God gebid word, dan dink ons: ag hulle moet 'n bietjie meer nugter wees. Of: ja maar, 'n mens kan God tog nie dwing nie. Hy voer tog Sy wil uit. Dit alles is heeltemaal waar.

En tog, dit staan tog maar in die Bybel. 'n Gelowige gebed word seker verhoor. Wat ons ook al vra, ons verkry dit. Die Here Jesus sê self: As julle geloof het en nie twyfel nie, al sou julle ook vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see - dan sal dit gebeur.

Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo. (Matt. 21: 22) Wel, wees eerlik, ons voel 'n bietjie van 'n verleentheid by son 'n teks. Want dat dit waar sou wees, dit kan ons nie glo nie. Ons ken mos die feite van die lewe. En daarmee bly die twee groepe teenoor mekaar staan.

Die Pinkstermense, die gebedsgenesers, met hul bybelteks: Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo - aan die een kant. En aan die ander kant, staan die 'nugtere' bidders. Hulle bid, maar daar is ook 'n werklikheid waarmee jy moet klaarkom.

Wat nou opval as ons na die twee groepe kyk is dit, daar is niemand wat die moeite neem om uit te vind wat God se wil is. As jy iemand wat in gebedsgenesing glo vra: Wat sou God se wil wees, b. v. in siekte, dat die pasient gesond word of dat hy sal sterwe, dan aarsel hy nie 'n oomblik nie: Natuurlik is dit God se wil dat hy gesond moet word.

Maar as ons die 'nugtere bidders' (om hulle so maar aan te dui) vra: Wat dink jy wat wil God met hierdie pasient, dat hy sal gesond word of dat hy sal sterwe, dan antwoord hy: Ek weet glad nie. Daarvan kan 'n mens onmoontlik iets weet.

Van God se verborge wil is niks bekend nie. So ook vir hom is dit nie 'n vraag of 'n probleem wat God se wil is nie. Hy bid net en wag af.

En tog lê juis daar die die antwoord op veel vrae wat ons m. b. t. verhoring van ons gebede kan hê. Ons wil later daarop terugkom hoe ons God se wil moet leer ken en hoe dit ons gebedspraktyk raak.

Maar eers moet ons 'n bietjie ingaan op die saak van die gebedsverhoring, warby 'n mens op grond van sekere bybeltekste verwag dat alles hom gegee sal word wat hy maar gelowig vra. Want inderdaad val in al die 'gebedsverhoringstekste' om hulle so maar te noem steeds die nadruk op: jy moet gelowig bid. Jy moet nie twyfel nie!

Maar daarmee word die vraag belangrik: Wat is dan gelowig bid? En waaraan mag jy nie twyfel nie?

As jy b. v. in ernstige siekte bid om genesing, waarin moet jy dan glo? Moet jy glo in genesing of moet jy glo in God? Ek meen dat op hierdie punt dikwels deur gebedsgenesers 'n verskuiwing aangebring word.

Hulle bedoel jy moet glo in jou genesing, jy moet nie daaraan twyfel dat God jou sal genees nie. So word die woorde 'jy moet gelowig bid en nie twyfel nie' dikwels verklaar.

Maar is dit reg? Wat is dit 'gelowig bid'?

Eintlik is dit niks besonders nie. Immers waar die Bybel veel nadruk op lê is dat 'n mens alles gelowig moet doen. Jy moet gelowig werk, jy moet gelowig omgaan met jou naaste, jy moet gelowig omgaan met die Skrif en so moet jy ook gelowig bid! Jy moet gelowig lewe!

En dit is jy wat moet wandel na die eis van God se Woord. Jy moet lewe in gehoorsaamheid. Jy moet lewe voor die aangesig van God. En dan as 'n onderdeel daarvan is daar dan ook die gelowige gebed.

Kyk, jy moet met jou gebed opklim tot God, jy moet die reukoffer van jou gebede voor sy aangesig bring, maar dit kan slegs as jou lewe 'n lewe is van toewyding aan die Here.

Die Here Jesus waarsku in die Bergrede: Nie almal wat Here, Here! roep sal in die Koninkryk ingaan nie, maar net die wat die wil van My Vader doen.

Dus gehoorsaamheid in jou lewe, 'n lewe volgens die wil van God soos Hy dit geopenbaar het, het alles te doen met die effektiwiteit van die gebed.

Jakobus sê in sy brief (Jak. 4) julle bid wel, maar julle ontvang nie omdat julle verkeerd bid! En wat is die verkeerde van hul gebed daar, dit is dit: Hulle lewe in onmin met mekaar! Hulle lewe in oortreding teen uitdruklike gebooie van God. Jakobus noem selfs egbrekers en egbreeksters. 'n Lewe wat in stryd is met God se geopenbaarde wil, met God se wet, is verstikkend vir die gebed.

As jy in haat en nyd met jou naaste lewe, kan jy nie bid nie. Want dan het jy jou met jou lewe nie aan die wil van God onderwerp nie. Dus 'n voorwaarde vir 'n gebed wat verhoor word is lewensheiliging, gehoorsaamheid aan God se wet. Anders is enig gebed gehuigel.

Dit gaan om heel jou lewensinstelling. Is jou lewe gerig op die doen van die wil van God, ja of nee!

Kyk, as alles in jou lewe om jouself draai, dan draai mos ook jou gebed om jouself. Jy draai net rond in 'n kring. Rondom jouself. En dan kan jy dink: Ek het tog gelowig gebid? En God wil dit gee.

Maar jy mislei jouself. Jy wil dit hê. Vir jouself. Omdat jy dit soek. Ek het dit by 'n preek uit die Bergrede onlangs nog gesê: Die gebed is van dag in 'n krisis omdat mense al hoe meer op hul self gekonsentreer is.. En solank as net jyself in die middelpunt van jou belangstelling staan is jy met jou gebed ook opgesluit in jouself.

En daarom is voor alles bekering nodig. Jou lewe moet weer gerig raak op God. Op Jesus Christus en Sy Ryk. Ons moet leer afsien van ons eie wil en leer vra na God se wil. En daarmee is al die helfte van ons probleem met gebedsverhoring opgelos.

Gelowig bid is nie dat God moet wil wat jy graag wil nie.

Gelowig bid is dat jy graag wil wat God wil.

Daaroor in die tweede punt.

2. ONS MOET ONS MET GOD SE WIL VERENIG

Gelowig bid is dat jy graag wil wat God wil. Daarmee het ons die eerste punt afgesluit. Daarmee sit ons nog steeds op die spoor van Sondag 49. Jy bid: gee dat ek my eie wil versaak, om aan U wil sonder enige teespraak gehoorsaam te wees. En met die wil van God bedoel ons dan in die eerste plek die wil, soos ons die uit Sy Woord ken. God se geopenbaarde wil. Sy eise vir die lewe van 'n gelowige.

Maar nou wil ons nog 'n stappie verder gaan.

Ons het in die begin die voorbeeld genoem van die gebedsgenesers. Hulle meen hulle ken ook die verborge wil van God: genesing. Daarteenoor wil ons ons maar liewers aansluit by die ander groep wat sê: Ja, maar jy moet by jou gebed byvoeg: laat U wil geskied. Ons mag wel vra, maar ons weet nie wat God se uiteindelike wil met ons lewe is nie.

En tog kan 'n mens daar iets verder gaan. Immers partykeer kan ons tog iets agterkom van wat ons noem God se verborge wil. Kyk, wanneer 'n mens homself oopstel vir die wil van God, as jy in gehoorsaamheid heel jou lewe rig op die diens van die Here, dan groei daar so 'n verhouding met God, dat 'n mens weet wat hy wel of wat hy nie moet bid nie.

I Joh. 5: 14 sê heel nadruklik: En dit is in die vrymoedigheid wat ons teenoor God het dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens Sy wil.

Jy kan dus nie sommer van alles vra nie, jy moet vra volgens Sy wil. Kyk, die sterk voorbeeld wat die Here Jesus gebruik van die berg wat jy die see in kan bid, dit het selfs 'n gebedsgeneser nooit probeer nie, of in elk geval daarin het nooit iemand geslaag nie.

Hoekom nie? Dit is nie bid volgens God se wil nie. As dit God se wil is dat die berg in die see moet verdwyn, dan kan jy bid en dan sal dit gebeur. Maar dit is nie sy wil nie. En daarom mag jy dit nie vra nie. 'n Gebed is nie 'n.......... nie.

Maar sal iemand vra: Hoe kan jy ooit weet wat God se wil is? Dit is altyd volledig onbekend!

Maar dit is nie so nie. As daar deur 'n nougesette lewenswandel, 'n vertroulike verhouding met God ontstaan het, dan weet 'n mens wat hy wil of nie moet vra nie.

Soos 'n kind aan die gesig van sy vader dikwels al kan sien of 'n versoek kans op inwilliging het ja of nee. En as hy weet: dis nee, dan vra hy nie eers nie.

So moet 'n gelowige ook God se aangesig soek. Ondersoek. Hy moet van God se aangesig leer lees, wat om te vra en wat nie.

Dit is moeilik, seker.

Ongetwyfeld is dit makliker om elke keer maar weer te bid en dan as 'n toevoeging: Maar laat u wil geskied. So van: ons sal maar kyk wat God doen. Kyk, so 'n houding is die bederf van die gebed.

Dit mag wees dat ons as gereformeerdes, of misskien moet ek wel sê: as nugtere Hollanders so nugter geword het, dat ons van die gebed nie meer soveel verwag nie. Ons bid een keer vir 'n saak en verder vertrou ons maar op die middele. Bekering nodig!

Ons keer terug na die vraag: Wat is dan bid na God se wil? En hoe kan ons iets van daardie wil ontdek?

Wel, slegs deur 'n heel intensiewe omgang met God, waarby die gebed nie 'n blitsbesoekie is aan 'n God wat jy verder in jou lewe maar 'n bietjie op 'n afstand hou nie, maar so 'n omgang dat jy amper God se gesig kan lees.

Ek sal 'n voorbeeld uit die Bybel noem. Soos u weet het Paulus 'n sekere hinderlike liggaamlike probleem gehad. Hy noem dit self: daar is 'n doring in my vlees.

Daarvan sê hy: Drie keer het ek die Here daaroor gebid. En toe nie meer nie. Hoekom nie? Wel, toe het Paulus die antwoord geweet. Die antwoord was: Nee. Hoe het Paulus dit dan geweet? Wel, Paulus het heel sy lewe daagliks onder die wil van God gestel, hy het met God 'n vertrouensrelasie gehad, hy het gedurig God se aangesig gesoek. So leer jy God ook ken. Jy groei na Hom toe.

En so word die afstand tussen wat jy wil en wat God wil steeds kleiner. Nie altyd maklik nie. Afstand doen van wat jy wil kan baie pynlik wees. Kan veel geloof en selfverloening vra.

Maar alleen so groei die wil van God en jou wil na mekaar toe. Hulle moet heeltemaal verenig word. Sodat jou wil en God se wil heeltemaal een word. Daarmee is 'n mens sy hele lewe lank besig. En dalk kom hy daarmee nooit heeltemaal klaar nie.

Daar was slegs Een met wie dit wel so was.

Die Here Jesus. Hy was heeltemaal gehoorsaam aan God.

Sy wil en die van Sy Vader het heeltemaal saamgestem.

Juis deur die intensiewe gebedsoefening van die Here Jesus met Sy Vader.

En daarom is Christus se gebede altyd verhoor.

Hy kon maar vra. En dit is altyd vir Hom gegee.

Hoekom: Omdat Hy slegs gevra het vir dinge waarvan Hy geweet het, God sal dit gee.

'n Pragtige voorbeeld daarvan is die opwekking van Lazarus. Dit is die grootste teken wat Christus in Jerusalem gedoen het. Wat heel opvallend is, is dat Jesus al voordat Hy Lazarus uit die graf roep sy oe opslaan en sê: Vader ek dank U dat U my verhoor het.

Ons sou sê: Roep hom eers uit, en as dit gebeur, dank dan. Maar nee, Jesus het geweet, Sy Vader het die gebed verhoor! En daarom dank Hy al, voor die wonder plaasgevind het.

Vader laat U wil geskied. Die gebed het die lewensgang van Christus bepaal deur gehoorsaamheid. En Hy het dit slegs kan volhou deur volhardende gebed. En so hang hier alles saam. Ook vir ons wat Christus moet navolg. In ons gebed en in ons lewe.

En daarom herhaal ons nog eenmaal:

Die derde bede eis van ons dat ons ons eers onderwerp aan die geopenbaarde wil van God, deur God steeds weer in die middelpunt van ons lewe te stel. En daardeur leer ons ook die verborge wil van God uit ons lewe sien en leer om ons met daardie wil te verenig, sodat ons met blydskap ons weg kan gaan, ook al bly daar soms pynlike dorings in die vlees.

Amen.

Liturgie: 

Ps 122: 1
Ps 122: 2
Ps 25: 9, 10
Ps 24: 1, 2, 3
Ps 86: 6, 8, 9
Ps 117
Lees: I Joh. 5: 1-21
Teks: Sondag 49 H.K.