God se kinders moet net so gehoorsaam word as God se knegte

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 49 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 148: 1, 5
Gebed
L. Koloss. 1: 1-20
T. Sondag 49 HK
Prediking
Ps. 103: 10, 11
Geloofsbelydenis
Ps. 103: 1
Gebed
Kollekte
SB. 28: 1, 2
Seën

Dink u baie aan die engele, broeders en susters?

Hou u rekening met daardie onsigbare medeskepsele, God se knegte wat ons dag en nag met God se sorg omring?

Nee, u kan hulle nie sien nie. Maar hulle is darem daar en dit kan baie bemoedigend wees om daarvan steeds deurdronge te wees.

As die ontelbare lëer van die HERE staan hulle agter ons en werp hulle hul voor ons in die stryd. Op hoeveel teëstand ons ook stuit, ons mag lewe met die wete dat dié wat by ons is, meer is as dié wat by ons teëstanders is.

Maar dit is ook altyd weer beskamend om aan die engele te dink. Ons is mos God se kínders, hulle is die knégte. Nogtans moet die kinders vandag 'n voorbeeld neem aan die knegte. Hulle is gehoorsamer as ons. Ons kan nog heelwat van die engele leer.

Dis dié dat ons Here Jesus Christus, toe Hy vir ons geleer het hoe om as kinders van God te moet bid, nadruklik die engele binne ons gesigsveld getrek het. Hy het na die derde bede die opvallende toevoeging geplaas: "... soos in die hemel, net so ook op die aarde".

Daar is uitleggers wat daarop wys dat hierdie toevoeging heel wel vir al drie die bedes wat inmiddels gebid is, bedoel kan wees: "Laat u Naam geheilig word, laat u Koninkryk kom, laat u wil geskied- soos in die hemel, net so ook op die aarde".

Met ander woorde: die ywer wat die engele in die hemel volkome beheers: vir die eer van God se Naam, vir die koms van sy Koninkryk, vir die volbrenging van sy wil- dié ywer moet ook ons, mense, hier op aarde al hoe meer vervul. Ons as kinders mag nie by die knegte agterbly nie.

Hierdie verwysing na die engele vorm dus 'n kragtige beroep op God om aan te gaan met sy herskeppingswerk. Die verskil tussen hemel en aarde moet weg! God moet alles in almal word.

Maar hierdie verwysing na die engele vorm terselfdertyd 'n kragtige aansporing aan onssélf om nie tevrede te wees met soos ons nou is nie. Ons moet beter kinders van Vader wil word. Die gedagte aan die engele vorm 'n beskamende aansporing om nie op te hou met bid totdat ons weer op dieselfde hoogte as die engele gekom het nie.

Ons gaan vanaand saam 'n slag onsself met die engele vergelyk om des te beter te verstaan wat ons sê so dikwels as wat ons die woorde in die mond neem: "Laat u wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde".

Die boodskap van my preek is, kort saamgevat:

GOD SE KINDERS MOET NET SO GEHOORSAAM WORD AS GOD SE KNEGTE

DAAROM MOET ONS GOD BID OF ONS

  1. NET SO BEKEND MAG WORD MET GOD SE WIL
  2. NET SO AFKERIG SAL WEES VAN REWOLUSIE, EN
  3. NET SO TEVREDE SAL WEES MET ONS EIE TAAK AS DIE ENGELE.

1. Die wat aan God se wil gehoorsaam wil wees, moet allereers weet wát God wil, broeders en susters. Die wat geen idee het van dit wat God wil nie, kan ook nie gehoorsaam wees nie.

Wat dit aanbetref het die engele as God se knegte 'n groot voorsprong op ons, God se kinders.

Baie regstreeks maak God keer op keer aan hulle bekend wat Hy wil hê, sodat hulle dit kan uitvoer. In afwagting daarvan staan die engele voortdurend voor God se troon om sy bevele in ontvangs te neem.

Jesaja het hulle in sy sogenaamde "roepingsvisioen" bo God se troon sien swewe. Wanneer hulle teruggekeer het van 'n opdrag wat hulle moes uitvoer, is dit nie: Op die plek, rus nie. Maar met gespreide vleuels staan hulle dadelik weer in die wegspringplek, gereed om op die eerste bevel weer weg te vlieg.

Hulle hoef nooit te raai wat God bedoel nie. Hulle ken dit nie dat hulle onderling nie saamstem oor dit wat God bedoel het nie. Hulle leef op die direkte bevele van God.

Eendag, in die paradys, het ook ons so direk God se wil geweet.

Die HERE het keer op keer ook heel regstreeks met die mens gepraat, met sy kind. Hy het met die mens gewandel in die aandwindjie. En die mens het 'n uiters sensitiewe antenne gehad vir dit wat God wou hê. As 'n goeie verstaander het hy aan 'n halwe woord genoeg gehad.

Toe was dit nie nodig om te sê: ".. soos in die hemel, net so ook op die aarde" nie. Toe was dit eerder andersom: ".. soos op die aarde, net so ook in die hemel".

Maar die mens het self daardie direkte, lewendige kontak met God verbreek. Hy het afgestem op die steursender van die duiwel. En sy ontvanger vir God se bevele het defek geraak.

Sindsdien is ons kennis van God se wil danig gesteur.

Die HERE het na die sondeval wel alles daaraan gedoen om die kommunikasie te herstel. Hy het profete gegee, visioene laat sien, op kritieke oomblikke ook engele regstreeks sy boodskap laat oorbring.

Hy het op die ou end selfs alles wat Hy wou sê, onder woorde gebring in Die Woord wat vlees geword het, sy eie Seun wat Hy aarde toe gestuur het.

En nou het ons die komplete Woord van Christus waarvan ons in art. 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis bely "... dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word". Die HERE het daarin die hele wyse waarop Hy deur onms gedien moet word, breedvoerig beskrywe.

Nogtans, gemeente, selfs met die volledige Bybel is ons nog nie sommer weer op dieselfde vlak as die engele nie. Nog steeds is ons kennis van God se wil gebrekkig. Nog steeds hou ons 'n agterstand op die engele. Dit is nie God se skuld nie. Dit lê aan onsself.

Die Bybel is naamlik geen boek vir luie mense nie. Dit gee nie op enige vraag direk 'n antwoord nie.

Die Bybel is geen burgerlike wetboek waarin God daarna gestrewe het om vir alle gevalle wat kan voorkom, 'n reëling te tref nie.

Daar staan wel heelwat direkte voorskrifte en aanwysings in God se Woord wat vir elkeen duidelik maak wat God wil hê.

Maar daar is ook eweveel gevalle waaroor die Bybel nie regstreeks praat nie. Dit is nie altyd in een oogopslag duidelik wat God wil hê nie.

U ken almal wel konkrete voorbeelde daarvan, uit u persoonlike lewe, en ook uit ons kerklike lewe.

Dis nie so dat die HERE ons in daardie gevalle vrylaat nie! As ons nie dadelik 'n beslissing in die Bybel kry nie, beteken dit nie dat ons dan dus mag maak soos ons self wil nie.

Nee, ook wanneer die Bybel geen pasklare antwoorde bied nie, help dit ons wel verder om insig te kry in dit wat die HERE ook in hierdie geval wil hê. Ons moet dan net ekstra mooi luister na die totale onderwys wat God ons regdeur die hele Bybel gee. Want die Skrif gee partymaal direkte voorskrifte, maar meer dikwels net uitgangspunte. Dan word daar lyne uitgesit, lyne wat ons in die konkrete lewe van vandag moet verdertrek en uitwerk.

Die engele kry as knegte slegs regstreekse bevele. Maar ons as kinders, kry van God in sy Woord 'n liefdesverklaring waarmee ons in liefde aan die werk moet spring. Dis die verskil! By kinders moet dit moontlik wees dat hulle aan net 'n handreiking genoeg het.

Maar... die liefde vir Vader in die hemel beheers ons nog veels te weinig. Ons is dikwels nog so oppervlakkig en gemaksugtig in ons besigwees met die Bybel.

Ons meen al gou -veels te gou dikwels- dat ons klaar weet wat God wil. Of ons meen dat dit wel voldoende is as ons ons in breë trekke maar volgens Vader se wil gedra. Vir die res gaan ons dan ons eie gang.

Maar solank dit nog so is, sal ons ons agterstand op die engele nooit kwytraak nie. Oppervlakkige en gemaksugtige Bybellesers sal nooit die wil van Vader kan volbring soos wat Hy dit wil hê nie. Luie luisteraars na die preke sondags sal ook altyd lui bly as dit kom gehoorsaam wees aan God se wil.

Want gehoorsaam wees begin met hoor. Luister, lees en studeer; Vader leer ken in al sy liefde vir ons soos Hy dit in 'n lange geskiedenis indrukwekkend bewys het.

Daarom beteken ons gebed: "Vader, laat u wil geskied... " allereers dat u vra, broeders en susters: Gee, Vader, dat ek as u kind, baie mooi weet, en al hoe beter leer verstaan wát u wil is. Net so mooi soos u knegte in die hemel.

Maar die wat so bid, moet ook werk!

U moet ook daaraan werk dat u weet wat Vader se wil is.

Dan moet die Bybel oop. En daar sal geduldig geluister, gesoek, vergelyk, nagedink en deurgedink moet word.

Deur elkeen afsonderlik. En deur ons saam: in ons gesinne, in die verskillende verenigings vir Skrifondersoek wat ons in ons gemeente het. Hoe 'n belangrike werk doen ons daar saam!

En as ons in konkrete gevalle nie dadelik saamstem oor dit wat God se wil is nie, moet ons nie die ander maar laat praat en ons eie wil probeer deurdruk nie, maar saam nog vuriger bid en nog grondiger studeer om eensgesind te word in ons gehoorsaamheid aan God se wil.

Kom ons pas dit toe op die konkrete verskil van mening wat daar onder ons op die oomblik is t. a. v. die wyse waarop die eenheid tussen ons en die Gereformeerde Kerk "Die Kandelaar" herstel moet word. So'n meningsverskil kan ons sommer as kinders van God uitmekaar ja en teenoormekaar laat staan. As ons naamlik ons eie mening by voorbaat met God se wil gelykstel en dus enige ander mening as gevaarlik en verkeerd veroordeel. Maar so'n meningsverskil moet ons eerder na mekaar toe drywe in 'n gemeenskaplike gebed: Vader, laat ook in hierdie saak u wil geskied. Leer ons daarom saam al hoe duideliker verstaan wat u wil is. En dan moet ons gebed natuurlik ook gepaard gaan met 'n gemeenskaplike bereidheid om na mekaar se argumente te luister en dié te toets aan die Woord van onse God. Hoe wil Hy hê moet ons in hierdie saak verder handel?

2. Om so besig te wees, kos wel stryd, broeders en susters. Dit kos ons 'n stryd met onsself.

Dit is wat ek in my tweede punt moet aanwys.

Want wie in alles alleen God se wil gehoorsaam wil wees, moet dikwels sy eie wil die swye oplê, sy eie sienings prysgee.

Ook wat dit aanbetref het ons 'n agterstand op die engele.

God se knegte is maar alte graag gehoorsaam aan God se wil. Gewillig en trou doen elke engel wat van hom verlang word.

Ons moet egter heelwat by onsself oorwin voordat ons sonder enige teëpratery gehoorsaam is. Ons is mos van nature geneig om vierkant teen God se wil in te gaan. U wil nie altyd dit wat God wil nie.

Dus bring God se wil ons telkens in konflik met onsself. En daar word 'n selfoorwinning van ons gevra.

So'n moeilike tweestryd elke keer weer, ken die engele glad nie.

Moenie sê nie, broeders en susters, dat hulle soiets ook nie kán hê nie, omdat hulle daarvoor te simpel geskape is. Hoe dat die engele presies is, ook innerlik, weet ons nie. Maar ons weet wel dat die engele geen robotte of rekenaars is nie.

Ons weet mos selfs dat daar ook in die engelewêreld eendag 'n rewolusie teen God se wil geheers het. Een van die engele, hy wat ons nou die duiwel noem, het teen God se wil in opstand gekom. Hy het geweier om langer God se wil wat alleen goed is, sonder teëpratery gehoorsaam te wees. Daardie engel het sy eie wil tot wet gemaak. En in sy opstand teen God het hy 'n deel van die engele saamgesleep.

Toe het al die engele die konfliksituasie meegemaak wat ons almal elke dag ken: wie se wil moet geskied?

Maar baie engele het hulle toe tog verset teen die rewolusie en hulle met nog meer oorgawe aan God se wil onderwerp. En dit, terwyl ons, mense, ons juis deur die duiwel ook in sy ongehoorsaamheid laat betrek het.

Nou is ons as kinders verder van huis af as die knegte. Daar broei diep in ons denke steeds die rewolusiegees.

Daarom roep ons met die bede: "Laat u wil geskied, Vader, soos in die hemel net so ook op die aarde" onvermydelik 'n innerlike tweestryd op. Ons bring ons self in die srtyd om nie aan ons eie wil die laaste woord te gee nie, maar om ons, net soos die engele, gehoorsaam te onderwerp aan God se wil.

U ken tog daardie stryd, broeders en susters? U weet mos van daardie moeilike worsteling partymaal met u self om sonder teëpratery gehoorsaam te wees, nie aan dit wat u self wil nie, maar an dit wat Vader in die hemel vra.

Hoe weet natuurlik hoe dat dit is om diep in jou hart baie mooi te weet wat God wil, en nogtans nie daartoe te kom om dit ook te doen nie. U weet hoe dit is as 'n ander jou waarsku en jy weet hy is reg, en nogtans soek jy na verskonings om aan die konkrete gehoorsaamheid te kan ontkom: Ek weet jy is reg, maar....

Dikwels vergoeilik ons ons doen en late en probeer so die stem wat aan God se wil herinner, oorstem.

U bid met die derde bede hierdie stryd nie weg nie, gemeente. U roep dit juis op. Dié stryd word deur u gebed maar net al hoe hewiger.

U vra aan God mos om selfoorwinning. U wil net soos die engele word en dus sonder "ja maar's", sonder verskonings, sonder vergoeilikings gehoorsaam word.

Ja, u moet eintlik nog vérder kom as die engele. Want hulle bly maar knegte. Ons is kinders. Vir ons is slááfse gehoorsaamheid nie voldoende nie. God mag van ons 'n kínderlike gehoorsaamheid verlang.

Gehoorsaam wees sonder om teë te praat kán nog steeds gebeur met 'n hárt wat in verset bly.

Ek sê nie dat dit so by die engele is nie.

Ek sê wel: as dit al nie so by die engele is nie, mag dit heeltemal by ons mense nie so wees nie. God soek geen kinders wat Hom skoorvoetend gehoorsaam is omdat dit nou maar eenmaal moet nie; omdat dit in die kerk nou maar eenmaal van jou verwag word of omdat die dominee of die ouderling anders elke huisbesoek weer daaroor begin praat.

Nee, ons Vader in die hemel wil graag hê ons is kinders wat van harte gewillig en bereid is om in alles vir Hom te lewe, soos Hy dit wil; kinders wat net so afkerig van rewolusie is as die engele wat gehoorsaam gebly het; of eintlik nog afkeriger, omdat hulle inmiddels uit ondervinding weet watter ellende die rewolusie teen God veroorsaak het.

So ver wil God hê moet ons kom.

So ver kan dit ook weer kom. Ons mag hierom vra met 'n beroep op die groot Seun van God, wat Homself ter wille van ons 'n tyd lank benede die engele verneder het om in ons plek die gehoorsaamheid aan God te volbring waarin ons te kort geskiet het.

Christus se Heilige Gees kan ons nou met Christus weer bo die engele verhef en maak tot gehoorsame kinders van God wat Vader se wil in hul harte saamdra.

En wanneer u by uself daardie aanhoudende worsteling tussen God se wil en u eie wil ken, broeders en susters, moenie dat u daarvan skrik nie. Wees maar bly daarmee. Dit bewys dat Christus se Gees besig is om u verkeerde wil die swye op te lê, ja, om dit weer eenswillend met God te maak.

Dit is die bewys dat u gebed "Laat u wil geskied" verhoor word.

U groei al weer na die engele toe!

3. Daar is nog een ding waarop ek moet wys.

En dit is dat die derde bede ook impliseer dat elkeen van osn tevrede moet wees met die taak waartoe hy geroep is.

Die Kategismus omskryf die inhoud van die derde bede so dat ons so ver moet kom dat "elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou sal uitvoer soos die engele in die hemel".

Dalk dink u by amp en beroep aan spesiale take in die kerk.

Maar die Kategismus bedoel die hele breë lewe waarin ons aan die werk gesit is, net so goed ook buite die kerk.

Dit is vir God ook belangrik hoedat ons ons gedra by ons werk, in die skool, in u gesin, as bestuurlid van 'n organisasie, as staatsburger en so meer. Ons het elkeen talle take en verantwoordelikhede. En Vader in die hemel wil hê juis daarin word dit sigbaar en merkbaar dat ons ons volgens sy wil gedra. Gelowig, ywerig, nie selfsugtig nie, nie gierig nie, maar ook nie verkwistend nie....

Die hele wêreld is van Hom en Hy wil hê ons moet in daardie breë en bonte lewe die houding van gehoorsame kinders wys.

Maar... nie elkeen kry dieselfde taak nie. Ons kry nie almal dieselfde verantwoordelikhede nie. Nie in die wêreld nie: nie elkeen word staatspresident of minister of direkteur nie. Daar is ook jongste bediendes nodig. Daar is ook mense wat glad nie werk kan kry nie.

Ook in die kerk kry nie elkeen dieselfde amp nie. Nie elke broeder word tot ouderling of diaken geroep nie en nie alle vroue kan voorsitter van die vrouvereniging wees nie.

Daardie verskil kan 'n bron van afguns en ontevredenheid oplewer. Ons sien dit telkens in die wêreld om ons heen. Korrupsie, jaloersie, 'n stoeledans om die beste posisies te kan beset. Stakings en protesmarse omdat mense hulleself agtergestel voel.

Sulke ontevredenheid met die take wat God aan óns toegewys het, bedreig ons net so goed, gemeente.

Sowel in die maatskaplike lewe as in ons kerklike lewe. En dan word dit moeilik om jou nog met 'n hartlike bereidwilligheid te gee aan die take waartoe God jou op hierdie oomblik geroep het.

Ook wat dit aanbetref, moet ons daarom van die engele wil leer.

Daar is ook verskil in take in die engelewêreld! Nie alle engele kry dieselfde opdragte nie. God het verskillende ampte en pligte gegee.

Daar is gerubs, en serafs, aartsengele..... Engele wat boodskappe moet aaordra en engele wat moet veg teen die bose geeste; maar ook engele wat God se troon omring met lofgesange.

Ons weet glad nie hoe veel meer take God dalk nog aan sy engele opgedra het in hierdie immense skepping nie.

Maar daar is geen sprake van afguns en ontevredenheid onder God se knegte. Elke engel doen gewillig en getrou wat hom opgedra is. Al bring dit byvoorbeeld ook saam dat twee engele die glorieryke intog van Christus in die hemel nie kon meemaak nie, omdat hulle op daardie oomblik die dissipels wat op die Olyfberg agtergebly het, aan hul opdragte moes herinner. Terwyl weer ander engele onder leiding van Migaël op daardie oomblik die stryd moes gaan aanbind met die duiwel en sy leërmag, om hulle nou vir altyd uit die hemel te verwyder.

So gewillig en getrou en tevrede as die engele- so moet ook ons as God se kinders word. Getrou op dié plek waar God op hierdie oomblik roep en 'n taak gee. Sonder om telkens afgunstig na ander te kyk wat 'n ander verantwoordelikheid as jy gekry het.

Dan moet ons eerlik beken, broeders en susters, dat dit ook wat dit aanbetref op die aarde nog nie is soos in die hemel nie. Ons kan van die knegte nog baie leer.

Dus is daar nog baie rede om te bid.

Want dit kan nie so bly nie. Hierdie kontras tussen God sew kinders en God se knegte kan nie ewig so bly voortduur nie.

Maar as u bid, en in u gebed ook nadruklik die engele betrek -al is dit ook hoe beskamend vir ons- begin die herstel van die eenheid tussen hemel en aarde tog te kom. Dan groei kinders en knegte na mekaar toe. Ons bid hulle na mekaar toe.

'n Mens moet geloofsoë besit om dit te kan raaksien, maar dit gebeur darem: ons bring deur ons gebed die nuwe paradys digterby.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)