God die Seun leer ons bid om die koms van die ryk van Sy Vader

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 48
Preek Inhoud: 

Ps 21: 1, 2
Ps 21: 9
Ps 97: 1, 5, 6, 7
Ps 149: 1, 2
Ps 149: 3, 4
Lees: Matt. 3: 1 - 12 & Matt. 4: 12- 17
Teks: Sondag 48 H.K.

Broeders en susters, gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons word met ons kinders in sonde ontvang en gebore en daarom is ons onder die toorn van God en kan ons nie in sy ryk kom nie tensy ons weer gebore word.

Ek hoop, gemeente, dat vir u hierdie woorde in elk geval bekend voorkom. Dit is n. l. die begin van die Doopsformulier. Nou sal dit vanmiddag nie oor die Doop gaan nie, maar oor die tweede bede van die Onse Vader. Laat U Koninkryk kom. So bid ons om die koms van God se Koninkryk.

En tog het dit iets met die Doop te doen. Die gedeelte wat ons sopas aangehaal het lees: ons kan in die ryk van God nie kom nie tensy ons weer gebore word.

So blykbaar is daar 'n moontlikheid om in die ryk van God, die Koninkryk binne te gaan maar daarvoor is eers nodig: Wedergeboorte en bekering. Die dopeling word in sy doop n. l. simbolies (maar daaragter lê 'n diepe werklikheid) oorgedra van die heerskappy, die magsgebied van die duiwel na die heerskappy van Christus.

So die Doop is die oorgang van een ryk na die ander. En dit is wat 'n mens hier op aarde kan doen. SWo daardie Ryk het 'n sekere realiteit in hierdie wêreld. Maar daarmee is nog nie alles gesê nie.

In dieselfde Doopsformulier is n. l. nog 'n keer sprake van die Ryk van God. Maar dan aan die einde van die verklaring oor die kinderdoop. Dan staan daar dit: Die kinders moet as erfgename van die ryk van God gedoop word.

Waar sprake is van erfgename is sprake van 'n erfenis. Daar is nog iets te wagte. Vir die toekoms.

Die ryk van God in sy volkomenheid lê nog in die toekoms.

En so kry ons die twee aspekte waarop ons moet let as ons praat oor die Koninkryk van God.

Aan die een kant: Die ryk is vandag reeds aanwesig. 'n Mens kan in daardie ryk binnegaan. n. l. Deur geloof en bekering.

Maar tegelykertyd moet ons sê: Die voltooiing van daardie ryk lê nog in die toekoms. En daarom moet ons bly bid: Laat U Koninkryk kom.

Ek bedien u God se Woord soos volg:

GOD DIE SEUN LEER ONS BID OM DIE KOMS VAN DIE RYK VAN SY VADER.

  1. Hy wys vir ons die ingang van daardie Ryk
  2. Hy wek die verlange na voltooiing van daardie Ryk

Verlede keer, gemeente het ons dit 'n voorreg genoem om van die Here Jesus te leer bid. Saam met Hom mag ons na die Vader gaan en saam met Hom mag ons God as Vader aanspreek.

So het ons van Christus die reg van seuns ontvang. Maar dit beteken dat ons ons ook soos seuns moet gedra. En ook dit kan 'n mens slegs leer as hy let op Jesus Christus.

Die Here Jesus het vir ons voorgebid: Laat U Naam geheilig word. En vervolgens het die Here Jesus sy lewe gegee vir die heiliging en verheerliking van die Naam van God.

En kom die tweede bede: Laat U Koninkryk kom.

En weer sien ons hoe die Here Jesus steeds besig is met daardie saak, die Koms van God se Koninkryk.

En ook dit is weer leerstof vir ons. Wie saam met Christus gaan bid om die Koms van die Koninkryk, hy sal hom ook moet inspan in die behartiging van die belange van daardie Koninkryk!

Wie bid, laat U koninkryk kom, hy moet ook werk!

Net soos Christus.

Hy het eersten opgekom vir die Naam van sy Vader (1e bede). Wel so sal Hy hom inspan vir die Saak van Sy Vader (2e bede). Want daaroor gaan dit hier.

Die Vader van Christus het 'n saak op hierdie wêreld. Daarvan is heel die Bybel vol. God bemoei Hom intens met die wêreld. Die God van die hemel het die aarde nie losgelaat nie. Seker, Hy kon so gedoen het, daarvoor was baie rede gewees. Maar Hy het die aarde vasgehou. Hy wou sy Koninkryk op hierdie wêreld, hierdie aarde vestig.

Om 'n bietjie insig te kry van watter groot saak, u gebed om die Koms van die Koninkryk van God deel vorm, wil ons probeer 'n kort skets te gee van daardie Koninkryk.

Laat ons ons beginpunt neem by die einde van Sondag 48: totdat die volkomenheid van U ryk kom, waarin U alles sal wees in almal. So die voltooiing van die Ryk lê in die toekoms. God is dan alles in almal. Dus dan praat ons oor die tyd dat daar 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde is. Daar is geen opstand teen God meer nie. Daar is nie meer sonde nie, maar mense lewe in volkome harmonie met God en die wêreld.

Daarna toe is God dus oppad. Hy is met die uitvoering van sy plan besig? Vandag reeds. Maar wanneer het Hy daarmee eintlik 'n begin gemaak? Die antwoord is: lankal. Reeds in 'n ver verlede. God was daarmee al besig, Hy het al gewerk aan die vestiging van Sy Ryk toe Hy die Skepping voltooi het en mense op die aarde gebring het.

Hierdie aarde sou word 'n ryk van God waarin God alles in almal is. Maar toe het daar konkurrensie gekom.

'n Ander het ook probeer om sy ryk op hierdie wêreld te vestig. 'n Ander ryk. Die duiwel het planne beraam tee God en Sy Ryk. Met sukses selfs. Hy het vaste voet op aarde gekry toe Adam en Eva sy kant gekies het.

Vanaf daardie oomblik was daar twee ryke op aarde wat om die voorrang gestry het. Die Ryk van God en die Ryk van die Satan. Op daardie oomblik sou God Hom kon terug getrek het en die wêreld as 'n mislukking aan sy lot oorgelaat het. Die mens het nie anders verdien as dat God Hom dan maar in die mag van die duiwel sou laat nie. Maar so het God nie gedoen nie.

Hy wou so nie doen nie.

Hy wou teen enige prys sy Ryk op die aarde vestig. En daarom het Hy onmiddellik 'n skerp grens gestel. Aan die een kant Adam en Eva, die mens aan wie God 'n plek in sy Ryk toegedink het.

En aan die ander kant die Ryk van die Satan, die slang en sy saad.

Wel, ons praat nou oor die moederbelofte uit Gen 3, soos u al wel verstaan het. In daardie belofte hoor ons reeds oorwinningsklanke. Daar sal stryd kom tussen die twee Ryke. 'n Hewige (? ) stryd. Maar die uitslag van die stryd is nie onseker nie.

Daar kom 'n oorwinning op Satan en sy Ryk.

Dus daar in Gen 3 begin reeds die slag om die Koninkryk van God. God belowe daar: Daar sal Iemand kom, (nie presies nie, is vir Adam en Eva nie so duidelik nie - wel noem: die Saad van die vrou) Maar daardie Iemand hy sal die kop van die slang vermorsel.

Daardie persoon sal God se Ryk tot oorwinning bring. Wel, in die geskiedenis sal God langsaam duidelik maak, watter Iemand dit sal wees. En u sal verstaan, hoe duideliker Openbaring God gee van die Koning van daardie Ryk, hoe meer naby daardie Koninkryk kom.

So hoor ons die Here vir Abraham sê: Uit jou nakomelinge sal die Verlosser voortkom. Daarom sal in jou die hele aard geseen word. En baie eeue later by die ou profete hoor ons: Die Verlosser sal kom uit die huis van Dawid. En nog weer eeue later by die profeet Daniel: Dit is die Seun van die mens wat neerdaal uit die hemel.

En tenslotte hoor ons die prediking van Johannes die Doper: Bekeer julle, want die Koninkryk van die hemele het naby gekom! En dan wys Johannes op iemand wat na hom sal kom. Hy is meer as ek, luister na hom!

En nadat die profetiese stem van Johannes tot swye gebring is, neem Jesus sy prediking oor. Eers predik die Here Jesus presies dieselfde as Johannes: die Koninkryk van die hemele het naby gekom!

Maar daar is een kenmerkend verskil tussen Jesus se prediking en Johannes s'n. Immers die Here Jesus verwys nie na 'n ander nie. Hy wys op Homself.

Hy is dit. Hy is die Koning van die Ryk wat van oudsher belowe is. Hy is dit wat Satan en sy Ryk die laaste slag sal toebring.

Laat U Koninkryk kom!

Sien u wel, broeders en susters. Dit is 'n groot saak waarvan die Here Jesus ons hier leer bid.

Dit is eintlik die groot saak in hierdie wêreld. Want met hierdie bede stel die Here Jesus ons middein in die groot stryd van die wêreldgeskiedenis. Die stryd van slangesaad en vrouesaad. Die Ryk van God teenoor die Ryk van die Satan.

Die Koninkryk van die hemel teenoor die Koninkryk van die hel.

Die Koninkryk van die hemel het naby gekom, preek die Here Jesus. Seker, so naby as nou was dit nog nooit nie. Want in Christus is die Koning van die Ryk teenwoordig. Nou sal die stryd wat die wêreldgeskiedenis beheers het in 'n beslissende stadium kom.

Vir die Ryk van Sy Vader sit Christus sy lewe in.

Hy sal Sy lewe gee vir die koms van daardie Ryk. En by hierdie stryd, in hierdie groot saak skakel die Here Jesus ook ons in as Hy ook ons leer sê: Vader, laat U Koninkryk kom.

Hy brand dit in ons harte in: Vader, U Ryk moet kom.

Dit is nou maar eenvoudige woorde, gemeente: laat U Koninkryk kom. Maar wat stel ons daarmee 'n groot saak aan die orde: laat U Ryk kom. Daar is heel wat ekering nodig om met hierdie bede in te stem. Dit doen niemand uit homself nie. Immers, met hierdie bede bid jy jouself die groot stryd in.

'n Mens is geneig om hom met talle sake besig te hou. Groot sake en klein sake, maar tog alles sake waarby jy self 'n sekere belang het. Waarna jou eie belangstelling uitgaan.

Maar wie met Christus gaan saambid: Laat U Koninkryk kom, hy leer nie om eie sake te behartig nie, maar om die saak van 'n Ander in sy lewe sentraal te stel.

So leer Christus vir ons om die bede weer te sien in die regte verhoudings: Soek eers die Koninkryk van God.

Ek aanvaar graag dat ons almal op soek is na daardie Koninkryk. Maar let op die voorrang wat Christus vir Sy saak opeis.

Soek eers die Koninkryk van God.

Niemand kan met 'n opregte gewete bid: Laat U Koninkryk kom en tegelyk die bewaring en vermeerdering van die Kerk oorlaat aan ander mense. Om tuis te bid: 'Laat U Koninkryk kom' en op jou werk nie laat weet dat die Evangelie van Christus ook vir ander mense is, dit is 'n onmoontlikheid.

Wel bid 'laat U Koninkryk kom' en volstrek geen belangstelling toon vir geestelike lektuur of bybelstudie, dit is 'n teenstrydigheid. Belangstelling vir kerklike sake en liefde vir die kerklike lewe het regtig niemand uit homself nie. Dit is 'n saak van bekering!

Of as u dit nog duideliker wil: om 'n geillustreerde tydskrif soos Huisgenoot of Sarie te lees, dit gaan maar vanself. Maar om 'n kerkblad of gereformeerde tydskrif te lees, daarvoor is geloof nodig. En ook bekering!

Hoe sal jy kan bid vir bewaring van die kerk as jy glad nie weet uit watter rigting daar op die kerk aanvalle gedoen word nie. Hoe sal jy bid om te bly by die huidige Woord van God as jy geen idee het hoe en watter aanvalle daar op die Woord gedoen word nie.

Ek hoop u sien so wat daar saamkom as u bid: Laat U Koninkryk kom! U bid uself die groot stryd in. Die stryd waarin u wapens skerp moet bly. U het mos te doen met 'n teestander wat u nie mag onderskat nie. Die duiwel gaan rond soos 'n brullende leeu om te soek wie hy kan verslind. Maar een ding staan vas. Jesus Christus sal die oorwinning behaal: Sy Koninkryk kom. En mense kan daar nou reeds binnegaan. Die Koninkryk kom op allerhande maniere. Dit kom in die vergadering van sy gemeente deur Sy Woord en Gees.

Dit kom waar klein kinders die Doop ontvang. Dit kom waar jong mense belydenis aflê van hul geloof. Die Koninkryk kom in die lewensheiliging van die gelowiges. Dit word sigbaar in die vrugte van die Gees. In die liefdevolle en sorgsame omgang van broeders en susters in die gemeente. In die besorgdheid oor mekaar se heil.

O, dit is nog lank nie alles volmaak nie. Maar Christus het vir ons die oe geopen vir die deur na daardie Koninkryk. Daardie deur is Hyself. Gaan almal in deur daardie deur. Laat niemand nou nog bly aarsel.

Want Christus roep: Die Koninkryk is naby julle!

Dit staan voor U. Want Ek, Christus, die Koning is mos daar.

2. CHRISTUS WEK DIE VERLANGE NA DIE VOLTOOIING VAN DIE RYK

As die Here Jesus predik: Die Koninkryk van die hemel het naby gekom, die Koninkryk is onder julle, dan bedoel Hy dus: Noudat Ek hier is, is die Koninkryk ook daar.

En wie in My glo, hy gaan in in My Koninkryk.

Maar daarmee is dit nog nie klaar nie. Die Koninkryk is nog nie kompleet nie. As die Here Jesus die Evangelie gaan verkondig, as Hy genesings verrig, as Hy mense opwek uit die dood, ja selfs as Hy self opstaan uit die dood dan is dit alles tekens van Sy Koninkryk.

Tekens wat roep om meer.

Dit is voorbodes wat uitsig open op die volmaakte Koninkryk. Noudat ons die eerste presentasie van God se Koninkryk in Christus gesien het nou gaan ons na meer verlang.

Dit kan 'n mens nie beter verduidelik as met die so belangrike gelykenis vir die verstaan van hoe dit gaan in die Koninkryk van die hemele. Ek dink nou aan die bekende gelykenis van die saaier.

'n Mens kan van daardie gelykenis 'n hele paar dinge vertel, maar ons vra nou net aandag vir die beeld van die saai.

Wat gebeur as jy iets saai? Dan gooi jy iets wat goed en bruikbaar is weg. Die koring wat jy het sou jy kon gebruik om onmiddellik op te eet. Jy kan daarvan dadelik brood bak.

Maar die saaier doen dit nie. Hy strooi die saad uit op die land. Bewus neem hy 'n risiko. Hy hoop n. l. om later meer terug te win. En dit maak die saaiery tot 'n spannende besigheid. Mens moet afwag wat daarvan teregkom of terugkom.

Die Here Jesus is die saaier.

Die saad is veral Sy Woord en daarby ook die tekens wat Hy doen. En nou word dit spannend. Wat sal die Here van die saad wat Hy gesaai het terugsien? Sal daar 'n oes wees?

Dit is nog steeds saaityd, broeders en susters. Die saad van die Koninkryk word ook vandag weer onder julle uitgestrooi. Dis goeie saad hierdie. Die woorde van die Here Jesus en daarby ook Sy kruisdood, sy opstanding en sy hemelvaart.

In die prediking strooi ons die saad van die heilsfeite. En noudat ons weet van die saad wat uitgestrooi is, nou eers gaan ons ook regtig na die oes verlang. Noudat ons weet van Christus se opstanding uit die dood, nou gaan ons ook uitsien na ons bevryding van die dood.

Noudat ons weet van die eerste genesings deur die Here Jesus, nou gaan ons verlangend uitsien na die volkome herstel van die siekes, invalides en gestremdes.

Ons het die Koninkryk van die hemel gesien in sy eerste verskyning toe die Here Jesus op aarde was. En in sy omgewing het Hy sondes vergewe. Daar het blindes weer kon sien, dowes weer kon hoor, verlamdes kon weer loop.

Maar dit was alles net: Saai. Die volle oes is nog vorentoe.

Daarna het ons nou leer uitsien, na die volmaaktheid waar God sal wees, alles in almal.

Daarna toe leer Christus ons bid: Laat u Koninkryk kom.

Here, kom met U voltooide Koninkryk!

Juis omdat ons nou weet dat Christus sterker is as Satan, juis daarom gaan ons vol verlange uitsien na die totale vernietiging van Satan.

Here, verbreek al die werke van die duiwel.

Sla neer alle mag wat teen u opstaan.

Laat U Koninkryk kom. Here, neem ook weg alle weerstand wat daar in my hart nog is teen U Koninkryk.

Laat U Koninkryk kom: Here, U het ons laat doop. U het ons gebring uit die ryk van satan na die Ryk van God. En so bid ons daagliks weer: Laat U Koninkryk kom.

Laat ons die inhoud van daardie bede nog een keer mag omskryf met die woorde uit die slotgebed van ons Doopsfomulier.

Here gee dat ons u vaderlike goedheid en barmhartigheid wat u aan ons almal bewys het mag leer ken en bely, om in alle geregtigheid onder ons enigste leraar, Koning en Hoepriester Jesus Christus te lewe en moedig teen die sonde die duiwel en sy ganse ryk te stry en oorwin, om u en u Seun Jesus Christus en ook die Heilige Gees, die ewige en waaragtige God ewig te loof en te prys.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)