Ons mag in ons gebede tot God nader as ons Vader

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 46
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 46 H K

LITURGIE:
SB. 33: 1
(SB. 33: 3 na die Wet, soggens)
Gebed
L. Jes. 63: 15-64: 9 & Luk. 15: 11-32 & Mat. 7: 7-11
Ps. 103: 7
Prediking
Ps. 33: 2, 11
(Ps. 33: 1 na die Geloofsbelydenis, saans)
Gebed
Kollekte
Ps. 4: 3

Broeders en susters,

Die Bybel wek ons op om baie te bid: "Bid sonder ophou".

Maar hoe moeilik is dit nie om te bid nie!

Want wat ís 'n gebed eintlik? Wat doen 'n mens wat sy hande vou en sy oë sluit?

Ons hoor dit party bidders sélf sê as hulle hardop in gebed voorgaan. Een van die eerste sinne van hul gebed is dan:: "HERE, ons God, ons nader weer voor u heilige aangesig.... ".

Dit is effens plegtig gesê, maar darem 'n manier van sê wat presies duidelik maak wát ons doen as ons bid.

Bid beteken: voor God se aangesig nader.

Ons maak ons oë toe, maar op daardie selfde oomblik sien ons baie. Ons kyk in die oë van die Almagtige God. Ons sien Hom wat die hemel, die aarde, die see en alles wat daarin is, gemaak het en nog dag vir dag onderhou. Ons nader tot God en gaan as kleine mensies vlak voor hierdie groot God staan. En... ons spreek God aan, in die vaste vertroue dat ons nie aan dowemansdeur klop nie maar dat God een en al ore is, ja, selfs elke woord wat ons in gedagte uitspreek, hoor.

Dít is 'n gebed: jy gaan staan voor God en praat met Hom.

Maar dit maak 'n gebed juis so moeilik!

Want wie van ons het God ooit in lewende lywe gesien?

Hoe lyk God? Wat moet ons ons van Hom voorstel?

Hy is geen mens maar Gees, sê die Skrif. Hy is so groot en onbegryplik dat selfs die hoogste hemel Hom nie kan bevat nie. Hy is oralteenwoordig. Hy is hier by ons in Pretoria, maar Hy is op dieselfde oomblik ook in Kaapstad en in New York en Amsterdam en Geneve.

Hoe moet ek my hierdie onbegryplike God dan voorstel? Wátter beeld moet ek my voor die gees haal as ek nader voor sy aangesig? Hoe moet ek met Hom praat?

Die HERE het ons in hierdie moeite ver tegemoet gekom, broeders en susters. Ons hoef gelukkig nie te leef met net 'n vae voorstelling van Hom nie. Want die HERE wil hê daar moet in elke gebed 'n direkte en persoonlike ontmoeting tussen Hom en ons plaasvind. Daarom het Hy ons 'n konkrete beeld van Homself gegee. Ons mag tot Hom nader as ons Vader. As ons voor sy aangesig verskyn in osn gebede mag ons in 'n paar liefdevolle váderoë vaskyk.

"Onse Vader...... "- met dié woorde mag ons daarom ons gebed begin.

Ek wil dit in hierdie preek nader vir u uitwerk in drie punte.

My boodskap is dus:

ONS MAG IN ONS GEBEDE TOT GOD NADER AS ONS VADER

OMDAT GOD ONS VADER WIL WEES, NADER ONS MET:

  1. ONTSAG
  2. DANKBAARHEID
  3. VERWAGTING

1. God wil ons tegemoetkom as Hy ons leer om tot Hom te nader as 'n Vader, het ek sopas gesê, gemeente.

Maar dit kán wees dat party mense juis afgestoot word deur juis daardie woord: "vader".

Vir party broeders en susters kan dit die gebed al direk baie moeilik maak as hulle die HERE moet aanspreek as "Vader".

Want sê nou jy het hier op aarde maar net slegte ervarings met jou vader gehad. Daar is kinders wat hulle by 'n vader alleen maar 'n man kan voorstel wat deurentyd dronk en driftig is. Daar is kinders wat dit moes meemaak hoe hulle vader sommer hulle ma gelos het om met 'n ander vrou te gaan saamwoon. Daar is kinders wat hul lewe lank die vreeslike herinnering moet saamdra dat hul eie vader hom aan hulle vergryp het.

As dít die beeld is wat jy van 'n vader het, hoe sal jy dan "Vader" vir die HERE kan sê? En as jy dit moét sê, watter afkeer kan dit by voorbaat in jou oproep!

Alleen die wóórd al wek geen ontsag nie, maar minagting.

Daar kan broeders en susters wees wat hierdie moeite in hul gebedslewe ken, gemeente.

Maar dan moet ons hulle help om nie die voorstelling wat die HERE ons van Homself gee, in te vul met dit wat ons weet en ondervind van party vaders hier op aarde nie.

Want wie so maak, draai die verhoudinge presies om. Ons Vader in die hemel lyk nie op die vaders hier op aarde nie. Maar alle vaders hier op aarde moet die beeld van Vader in die hemel vertoon. Alleen ons Vader in die hemel is die "volmaakte" Vader. Dit kan ons selfs van die beste en liefste vaders hier op aarde nie sê nie. Daar is geen pa sonder foute en gebreke nie. En dis reg: daar is vaders wat hulle so afstootlik gedra dat hulle die vadernaam nie meer verdien nie. Maar daarmee kan hulle God se volmaakte vaderskap nie aantas nie.

Wie vreeslik in sy aardse vader teleurgestel is, mag juis vlug tot ons hemelse Vader en by Hom troos vind. Dié Vader word nooit onredelik en ongeskik nie. Hy sal nooit in onbeheerste drif slaan nie. Hy sal Hom nooit aan ons vergryp nie. Hy sal ons ook nooit sommer in die steek laat nie. Hy is inteendeel die ene liefde, geduld en begrip, Hy bly trou tot in ewigheid.

Die HERE het juis die woord "Vader" gekies om vir ons duidelik te maak wát Hy vir ons wil wees. Al is Hy ook in die hemel en ons op die aarde- Hy wil nie as 'n ver en vreemde God op 'n groot afstand van ons bly nie. Hy wil by ons woon.

Dít is mos die woord wat die Bybel talle kere gebruik om God se begeerte tot uitdrukking te bring: "Ek sal by julle woon. En Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees, spreek die HERE, die Almagtige".

Dis tog wat 'n regte vader wil: by sy kinders woon? Saam gelukkig wees. Saam tuis wees. Hy het ons daarvoor nie omhoog gehaal na die hemel toe nie. Maar Hy het na ons toe neergedaal hier op die aarde. Sodat u nou, waar dat u ook al is, u orals tuis kan voel: as u slaap in u bed, of as u eet aan tafel, as u op die fiets of in ons motor skool- of werk toe gaan, as u inkopies doen of op vakansie gaan, as u in die hospitaal opgeneem moet word- u is nooit alleen nie maar Vader se hande omsluit u van voor en van agter.

Hierdie Vader verdien dit dus nie dat ons op Hom neerkyk nie. Ons behoort teen Hom juis hoog op te sien! Met diep ontsag.

Ja, wel met ontsag. Want met die woord "Vader" oorbrug die almagtige God wel 'n enorme afstand tussen Hom en ons, maar terselfdertyd leer Hy ons daarmee ook die regte verhouding tussen Hom en ons.

Die woord "Vader" maak mos ook duidelik dat God aan die begin van ons lewe gestaan het, en nie andersom nie.

'n Kind verwek mos nie sy vader nie, maar die vader verwek die kind.

So is ook die verhouding tussen ons en die HERE: Hy was die eerste, en nie ons nie. Ons het nie Hom tot ons Vader gemaak nie, maar Hy het ons tot sy kinders aangeneem.

"Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie? Het Hy jou nie gemaak en toeberei nie? "- so laat die HERE Self ons vra deur die lied wat Moses aan God se volk moes leer in Deut. 32. Hierdie Vader het vir Homself kinders geskape, uit niks het Hy hulle tevoorskyn gebring.

Op daardie lied van Moses word in Jesaja 63 en 64 (ons eerste Skriflesing vanoggend/aand) teruggegryp. Daar word die HERE aan sy unieke vaderskap herinner: "U is ons Vader, ons is die klei. U is die Formeerder en ons almal is die werk van u hand". God kan ons maak en breek. Sonder Hom sou ons daar ook nie wees nie.

Van dié verhouding moet u altyd mooi bewus bly, gemeente. As die HERE Homself ons Vader noem en ons Hom met dié naam mag aanspreek, impliseer dit wel dat God meer is as net 'n goeie vriend.

As Hy Vader is, is u en ek: kind.

In ons samelewing as mense word 'n kind na verloop van tyd groot, onafhanklik. Hy word self vader en die dag kom dat sy ou vader van hóm afhanklik geword het. Hy moet nou sy pa help en versorg. Die rolle het omgedraai.

So ver kom dit tussen die HERE en ons nooit nie. Ons sal altyd kind bly. En Hy altyd ons Vader van Wie ons in alles afhanklik is.

2. Dit het wel die aard van enige mensekind geword om selfstandig en onafhanklik te wil wees. Ons hou nie daarvan om kind te wees nie. Ons wil "groot" wees en ons eie besluite neem. Dis vir ons dikwels maar moeilik om Vader se wil as wet te aanvaar en ons daaraan van harte te onderwerp.

Talle kinders van die HERE het dan ook reeds, soos die seun in die gelykenis wat ons uit Lukas 15 gelees het, hulle rug op Vader gedraai en die verkeerde pad opgegaan. Met hul eiewysheid het hulle hul eie lewe beskadig. Maar hulle het ook ons Vader in die hemel vreeslik seergemaak.

Maar kyk dan hoe is u en my hemelse Vader, broeders en susters: as daar 'n verdwaalde en beskadigde kind skuldbewus huis toe terugkeer, wag Vader nie totdat sy kind Hom om vergiffenis kom vra nie, maar Hy spring hom voor. Soos die vader in die gelykenis hardloop Hy sy verlore kind vanself tegemoet, omhels hom met ope arms, troos hom en neem hom in genade aan.

En woorde soos: "Ek is nie meer werd om u kind genoem te word nie", oorstem Hy met sy betuigings van liefde.

So staan en wag ons hemelse Vader daagliks vir u en vir my. Ja, ook vir my en vir u! Want ons is eintlik almal verlore seuns en dogters. Ons moet dit almal sê: "Ek is nie meer werd om u kind genoem te word nie". "Nie seuns en dogters nie, maar 'n skandvlek, 'n verkeerde en verdraaide geslag. Kinders in wie geen trou is nie, seuns en dogters wat hul Vader terg"- so beskryf die lied van Moses in Deut. 32 ons.

Maar pleks dat Vader ons wegstuur en ons nooit meer wil sien nie, soek Hy ons op in ons ellende en wys ons die pad terug huis toe. Die pad wat weer oopgemaak is deur ons groot Broer, Jesus.

En Hy stel geen grens aan sy vergewing nie. Al moet Hy ons sewentig maal sewe maal vergewe, daar is by Hom altyd 'n weg terug en ope arms en 'n hart vol ontferming.

En dan mag ons weer alles van Hom vra en verwag wat ons vir ons liggaam en onse siel benodig. Dan maak Hy ook sy hande weer wyd oop vir ons en skenk ons op ons gebed wat ons ook al van Hom vra.

Ons het 'n Vader in die hemel wat nie net ons ontsag nie, maar ook ons groot dankbaarheid verdien.

Laat daarom niemand van ons soos die tweede seun in die gelykenis van Lukas 15 wees nie, broeders en susters. Daardie seun het nogal moeite gehad met die vergewing wat sy vader aan sy broer geskenk het. Dit het hom veels te maklik gegaan. Voorlopig eers maar 'n verwytende houding teenoor daardie slappeling- dit sou meer gepas wees!

Daardie houding van die oudste seun uit die gelykenis was 'n gevolg daarvan dat hy homsélf nie geken het nie. Hy het op sy teruggekeerde en bekeerde broer bly neersien omdat hy homself nogal hoog aangeslaan het. Hy het homself 'n baie beter seun gevoel as die ander een.

Maar sulke kinders is glad nie beter kinders nie. Want hulle ken die eerste en vernaamste huisreël van Vader nie: LIEFDE. Ons is mos nie Vader se werknemers nie. Ons is nie kontrakwerkers by Hom nie. Ons is sy kinders! En van sy kinders verwag Hy bowenal liefde, vir Hom, maar ook vir mekaar.

En as Hy as Vader sielsbly is dat 'n verlore seun vol berou weer tuisgekom het- moet die ander kinder dan ook nie ewe bly wees nie?

Wie dan nie bly is nie, wie dan nie saam met Vader kan vergewe nie, is self nie minder 'n verlore seun of dogter nie!

U verstaan nou seker wel, gemeente, dat die kerkraad om hierdie rede besluit het om vanoggend in die midde van die gemeente bekend te maak dat 'n aantal jongmense hul skuld waarvan die meeste van ons inmiddels al wel geweet het, teenoor Vader bely het.

Dit is nie gedoen om hulle publiek aan die skandpaal te nael nie. Moet ook nie meen dat dit gedoen is as 'n afskrikwekkende voorbeeld voor die ander jongmense nie. Nee, wie van u sonder sonde is, moet maar die eerste klip na hulle gooi.

Maar indien 'n sonde algemeen bekend geraak het, is dit goed en nodig dat ons óók almal weet dat daar versoening met Vader plaasgevind het. Dan pas daar blydskap en dankbaarheid by al God se kinders saam oor Vader se vergewende genade. Dan het ook niemand meer 'n grond om te kan skinder nie. As Vader die sonde van ons broeder of suster weggedoen het, mag ons hulle sonde dan nog bly vashou? !

Laat ook ons hulle nou weer met ope arms ontvang. En saam met hulle nog sterker besef hoe goed en genadig ons Vader is.

3. Ja, laat ons saam des te sterker besef hoe dwaas dit is om 'n lewe buiten Vader om te wil lei. Buiten Vader is daar mos geen lewe en geen egte geluk nie.

Maar by Vader is ons lewe in die allerbeste hande.

Daar is niemand wat beter vir ons kan sorg as Hy nie.

Ek weet, broeders en susters: ons ervaar dit nie altyd so in ons lewe dat ons by ons Vader in die hemel in goeie hande is nie. Ons voel dit nie altyd dat Vader 'n oop oor en 'n oop hart vir al ons sorge en moeites het nie. Dit lyk dikwels asof ons lewe vierkant in teëspraak met God se Vaderliefde is. Ons het partymaal die neiging om te sê: As God dan ons Vader is, hoekom maak Hy dan so met my?? !! Sy pad met ons loop dikwels so onbegryplik, onoorsienbaar en verwarrend, beangstigend.

Is dit Vader se sorg as jy skielik in die hospitaal opgeneem moet word en die dokters kom agter jy ly aan 'n ongeneeslike siekte?

Is dit Vader se sorg as jy weens 'n stremming of oorspanning jou werk nie langer kan doen nie? As een van jou kinders skielik deur 'n ongeval uit hierdie lewe weggeruk word? As jou man jou skielik met jul kinders los en met 'n ander vrou deurmekaar raak?

Hoe dikwels bid kinders van God wanhopig dat dit anders mag word. Maar wat lyk dit dan ook dikwels asof ons geen gehoor kry nie.

Daar is nie net broeders en susters wat baie teleurgesteld voel in hul áárdse vader nie. Daar is ook broeders en susters wat hulle verwaarloos en beseer voel deur ons hémelse Vader!

Dit vra veel vertroue om "Vader" te sê, broeders en susters. Wie tot God nader as Vader moet bedink dat Vader Váder is. En dat ons dus maar kinders is. Vader weet altyd beter wat die beste vir ons is. Ook as dit met ons anders gaan as wat ons vir onsself gewens het. Vader is geen outomaat wat al ons verlangens vervul sou gou ons op die knoppie druk nie.

Hy is Vader wat net dít vir sy kinders gee wat goed vir hulle is.

Dit het ons Here Jesus Christus het ook daarby gesê toe Hy vir sy dissipels geleer het: "Bid, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal vind. Klop, en vir julle sal oopgemaak word".

Toe het Hy ons nie geleer om 'n wenslysie in te handig met 'n opbeperkte aantal wense nie. Maar Hy het daarby gesê: "As aardse vaders wat sleg is, tog goeie dinge aan hul kinders gee, hoeveel te meer sal ons Vader in die hemel goeie dinge gee aan die wat dit van Hom vra". So moet ons dit lees, met hierdie klemtoon: Goeie dinge gee Vader vir ons, as ons dit van Hom vra.

Wat verwag ons van God? Wat vra ons van Vader? Hy gee nie alles wat ek vra nie. Ek vra dikwels nie 'n goeie ding vir myself nie. In my kortsigtigheid weet ek dikwels nie wat goed vir my is nie.

Dit is dan ook opvallend dat Christus in 'n later gesprek met sy dissipels die woorde uit Matt. 7 effens verander het. Ons lees in Lukas 11: "...... hoeveel te meer sal julle Vader in die hemel die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid". Ons weet nie altyd hoe en wat om te bid nie. Laat ons daarom om die Heilige Gees bid! Dié weet wat goed vir ons is. Dié kan ons in ons swakheid bystaan en leer hoe en wat om te bid. Dié kan ons ook leer om onder die hand van Vader in die hemel klein te wees as Vader ons deur baie moeite en verdriet klein máák. Vader laat mos alle dinge, ook so'n swaarkry, ten goede meewerk vir die wat hy liefhet, al kan ek dit ook nie altyd verstaan nie.

Hy wil dit, aangesien Hy my Vader is.

Hy kan dit ook, aangesien Hy in die hemele is.

Daardie toevoeging wat Christus ons by die aanspraak van Vader aan die begin van ons gebed geleer het, het 'n bemoedigende klank.

Vader is Vader in die hemel. En soos die hemel hoër as die aarde is, is sy weë hoër as ons weë en sy gedagtes hoër as ons gedagtes. Ons kan Hom daarom nie nareken nie. Maar dan moet ons Hom ook nie wil voorreken nie.

Ek moet van die hemelse majesteit van God nie aards dink nie! Vader se mag en majesteit gaan die moontlikhede van hier benede ver te bowe.

Een woord van Hom en die hele situasie kan verander!

Hy kan die grootste sondaar tot bekering bring. Hy kan die man wat owerspelig weggeloop het, op sy knieë bring. Hy kan u kind wat sy rug op die HERE gedraai het, tot inkeer en bekering laat kom. Hy kan die ergste siekte oorwin, Hy kan 'n dreigende bankrot afweer.... Glo u dit nog, broeders en susters? Bid u in dié verwagting?

Nee, Hy maak nie altyd soos u wou gehad het nie. Maar ook dan laat Hy u nie met leë hande staan nie. Dan gee Hy geduld, aanvaarding, blymoedigheid in verdriet, die moed om Hom selfs nou nog te prys teenoor die ander mense.

Sy liefdevolle sorg is ook daar as Hy u deur diep dale saamneem. Ons is regtigwaar in goeie hande. Vader ken mos selfs die hare van my kop en nie een daarvan kan uitval sonder sy wil nie. Vader bewaar ook alle trane wat ek hier op aarde skrei in 'n bottel. En Hy het belowe om eendag al my trane vir goed te sal afvee. Alles sal eendag regkom.

In dié verwagting mag ons lewe, gemeente.

Maar daardie woord "verwagting" sê reeds: God vra geduld. Ons sal moet wag op sy tyd. Ook daarvoor is Hy Vader. As Hy ons laat wag, dwing Hy ons juis om nog meer te bid. Hy dwing ons om al hoe meer as kind tot Vader te vlug.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)