Die geheim van die skoon reukwerk van die evangeliese gebede

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 45
Preek Inhoud: 

PREEK VAN DS. J.R. WISKERKE UIT LIEFLIJKHEID EN SAMEBINDING

Ps. 138: 1
Ps. 143: 1
Ps. 141: 1, 2, 3, 4
Ps. 116: 1, 10
Lees: Eksodus 30: 1 - 10
Teks: Sondag 45.

Geliefdes.

Ons het sopas gelees, hoe die HERE onder oud Israel baie noukeurige voorskrifte gegee het vir die diens in die tabernakel, en ook met name vir die diens van die goue altaar, wat voor die voorhangsel in die Heilige van die tabernakel gestaan het.

Ons het hierdie spesifieke Bybelgedeelte gelees, omdat God se voorskrif wat die altaar vir die reukoffer betref, vol is van heilsame onderwysing. Onderwysing oor die gebed wat vir God aangenaam is, en wat deur Hom verhoor word. U sou dit ook so kon sê: die gebedsonderwys, wat in die voorskrifte vir die reukoffer gegee word, is nie vreemd ten opsigte van die Heidelbergse Kategismus Sondag 45 nie. Ons moet sê: Sondag 45 word in sy wese teruggevind in die tweede Bybelboek, Eksodus.

Ons het gesê, in sy wese, terwyl ons daarby dadelik in rekening wil bring, dat die reukoffer in sy volledigheid verouderd en verbygegaan het.

Dit is vir die gemeente in die Nuwe Verbond nie meer nodig om reukoffers te offer nie, en tog is daar 'n deurlopende lyn wat ons nie mag verwaarloos nie. Want in Openbaring 8: 5, in die Nuwe Testament dus, lees ons dat die rook van die reukwerk van die gebede van die heiliges opstyg voor God se aangesig. Die apostel Johannes, die siener van Patmos, aanskou die gebed van die gemeente op aarde onder die beeld van die reukwerk.

'n Beeld wat aan die verbygegane erediens ontleen word. Nou sou die Here Jesus, in Sy openbaring aan Johannes, nie 'n beeld gebruik het, as daar nie 'n treffende gelykenis bestaan het tussen die gebed in die Nuwe Testament, en die diens aan die reukofferaltaar van die Ou Verbond nie.

Daardie ou reukaltaar het wel verbygegaan, maar die boodskap daarvan bly aktueel, ook in die jaar waarin ons nou lewe. Ons kan om dit te verstaan baie steun ondervind van art. 25 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Daar word deur die kerke uitgespreek, dat die seremonies en heenwysings van die Wet met die koms van Christus opgehou het, en dat alle voorafskaduwing tot 'n einde gekom het. Die gebruik daarvan moet derhalwe onder die Christene afgeskaf word. In Jesus Christus het hierdie seremonies en heenwysings juis hulle vervulling bereik.

Daarom is ons geen sewendedag-adventiste nie, dit is mense wat, noudat Christus werklikheid geword het, tog nog die skadu van die sabbat op die sewende dag wil vashou. Daarom brand ons ook geen wierook, soos die Roomse Kerk dit nog in hul geboue doen nie. Dit alles is dwaasheid.

Die waarheid is dit, dat die substansie van die skaduwees hulle betekenis bly behou in Christus, wat die skaduwees as sodanig tot vervulling gebring het.

Ek gebruik spesiaal die vreemde woord substansie. In artikel 25 beteken dit: die wese, die kern, dat, waar dit God ook in die Ou Testament om gegaan het, en wat in Christus gebly het, terwyl al die bykomstighede van die skadwee-agtige vorms verbygegaan het.

So was dit ook met die reukoffer. Dat daar in die tabernakel 'n altaar van akasiahout gestaan het wat met goud oortrokke was, dit was maar bysaak. Die substansie, die hoofsaak, die kern was die gebedswerk, waarin God Sy volk wou onderrig. En hierdie groot hoofsaak het gebly.

Daarom verkondig ek u:

DIE GEHEIM VAN DIE SKOON REUKWERK VAN DIE EVANGELIESE GEBEDE.

  1. Die noodsaak daarvan.
  2. Die erns daarvan.
  3. Die sekerheid daarin.

1. Die geheim van die skoon reukwerk van die evangeliese gebede; in die eerste punt sien ons die noodsaak daarvan.

Jy moet ook 'n altaar maak om reukwerk te brand, so het die bevel van die HERE tot Moses gekom. En as ons nou daaraan dink, gemeente, dat die lieflike reuk van die reukwerk niks anders as 'n beeld van die gebed is nie, dan moet dit vir ons opvallend wees, dat die HERE tot ons, Sy Volk, kom met die bevel om te bid.

Ons mag nie self besluit of ons wil bid nie. Ons mag dit nie maar na willekeur of aan die behoeftes van ons hart oorlaat nie. Die afskaduwing van die reukofferaltaar verkondig u in God se naam: Julle moet bid. U moet dit doen met die heilige roeping wat die HERE u oplê. Daar word geen ruimte gelaat vir 'n vrye besluit of ons wil bid, of dat ons nie wil bid as ons moeg of lusteloos is nie. Hier kink die bevel: Julle moet. Want so wil God verheerlik word. Die HERE vind u gebed so 'n belangrike saak, dat dit nie in ons lewe gemis mag word nie.

Ons kan dit al sien aan die suiwer goud waarmee die altaar van akasiahout oortrek moes word. Goud behoort tot die skatte wat die mense uit die aardbodem moet delf. So, net soos die goud, moet die gebed wees; dit word ingedeel by die kosbaarhede wat God in Sy gemeente wil werk.

Hierdie kosbaarheid is bepaald onmisbaar.

Want dit moes ons getref het, toe ons Eksodus 30 gelees het, dat die God van Israel, dat die Vader van onse Here Jesus Christus 'n God is van heilige orde in ons lewe. Hy reël en verorden in Sy Woord aan ons hoe ons sal bid. Hy eis hierdie blyke van dankbaarheid op as iemand wat daar reg op het.

Ons vind dit terug in die akkuraatheid waarmee die HERE Hom bemoei met die afmetings, met die vorm en met die gestalte van die reukaltaar. Ons vind dit ook, en met name terug in die twee voorskrifte, wat altwee daarop wys, dat die HERE van dag tot dag en op bepaalde tye aanbid wil word. Ons moet daarvoor tyd inruim, aandag aan bestee, soos ons later ook weer in die Bybel vind: bid sonder ophou, dit wil sê: moenie ophou nie, maar bly bid, maak daarvan 'n goeie en heilige gewoonte. In die rigting wys ook die voorskrif dat daar telkens twee ringe aan weerskante van die altaar gemaak moet word, waar dan ook twee draaghoute deurgesteek moet word, sodat die altaar gedra kan word.

Die altaar moet saamgedra word solang die tabernakel op reis is. Nooit en nêrens wil God hê dat die suiwere reukwerk van die gebede ontbreek nie. En in hierdie rigting wys ook die voorskrif op watter tydstip die reukaltaar moet brand. Elke oggend as die priesters die lampe in die Heilige gereed maak, sal ook die reukwerk in rook opgaan. En ook as die lampe weer in die aand opgesteek word, moet daar weer welriekende reukwerk voor die aangesig van die Here wees. Soggens en saans, dus op vasgestelde tye. Sonder simboliek kan ons wys op die voorbeeld van Daniël (Dan. 6). Drie keer per dag het Daniël hom op sy knieë neergebuig, en het hy God aanbid en geglo. Dit was 'n vaste gewoonte vir hom (vers 11), net soos hy dit ook vantevore gewoond was om te doen.

Die God van ons lewe wil in alles deur ons geken word; in groot dinge, maar ook in klein dingetjies. Hy wil ons lof hoor in voorspoed en teenspoed. Ons moet Hom ons sorge bekend maak, vroeg en laat, van dag tot dag.

Hoekom Hy dit wil kom vervolgens naar vore, wanneer ons let op die reukwerk self, wat as 'n offer ontsteek word. Dit het nie om die rook gegaan nie maar om die reuk. Aäron moet welriekende reukwerk in rook doen opgaan. In Eksodus 30: 34-38 lees ons dat die nadruk juis op die reuk moet val deurdat 'n fyn mengsel saamgestel moet word van storaksgom, naeltjies en gálbanum - speserye en ook suiwer wiereook; alles in gelyke dele. Daarvan moet 'n reukwerk gemaak word soos net 'n salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer en heilig.

Wat God in die Heilige wil, stem dus ooreen met 'n welriekende salf, soos 'n parfuum wat baie lekker ruik. Hoe sterk spreek hierin, dat die gebed die lieflike geur is wat opstyg van mense wat deur Christus van ondergang verlos is. Gebede wat so gebid word is goed en aangenaam voor God. Hy wil graag hoor dat Sy kinders tot Hom roep, Hom loof en Hom dank, en al hulle sorge aan Hom voorlê. Wat 'n heerlike oorwinning vir die Gees van Christus, wanneer 'n mens weer voor God op sy knieë val om Hom te aanbid.

Hoe lieflik is dit vir die HERE wanneer Sy verlossingswerk so voortgesit word. Want waar is 'n mens voor God groter, as wanneer hy klein wil wees voor die aangesig van Sy God, om alles van Hom te vra, alles van Hom te verwag, om alles voor Hom te bely, en om die skat van skuldvergewing wat in Christus Jesus is, te ontvang. Seker, wanneer ons werklik doen wat God van ons verlang: Om Sy Naam groot te maak, dan rus God se welgevalle op ons.

Maar ook, wanneer ons in die weë van God bly wandel en doen wat Hy van ons vra, dan bly daar nog baie gebreke oor.

Dis waarom die gebed, waarin ons ons gebreke erken, God met ons woorde loof en Hom in die grootheid van Sy verlossing roem, die vernaamste deel van die dankbaarheid is. Dit is 'n welriekende reuk vir Hom. Hy wat lang genoeg die stank van ontbinding van ons swart sonde sien opstyg het.

2. Dit bring ons aan ons tweede punt: Die geheim van die skoon reukwerk van die evangeliese gebede; die erns van die gebede.

In die eerste plek moet ons aan die geskiedenis van Nadab en Abihu dink. Hierdie twee seuns van Aäron wou die reukofferaltaar bedien, maar pleks dat hulle daaraan gedink het om die heilige vuur, dit is vuur van die groot brandofferaltaar in die voorhof te neem, het hulle vuur van 'n ander nie geheiligde plek geneem.

Ons as nalatige mense, wat dikwels so min verstaan van wat die Heiligheid van die HERE vra, sou hierdie sonde van Nadab en Abihu glad nie so erg gevind het nie. Maar die HERE het egter baie, baie kwaad geword oor die onheilige vuur wat hierdie twee manne op die wierookaltaar gebrand het. Hulle word op die daad met vuur verteer.

Hoekom het die HERE tot so 'n drastiese straf oorgegaan?

Om Sy Volk dadelik, aan die begin van die diens van die reukofferaltaar, Sy heiligheid skerp in te grif. Hulle moet nie begin dink dat die HERE nie omgee wat daar op die wierookaltaar gebrand sal word nie.

Die voorskrifte is noukeurig deur Hom bepaal.

Hy wil deur die diens van die priesters geheilig word. So wil die Here ook in die Nuwe Verbond deur die gebede verheerlik word.

Die erns blyk uit die houding wat ons in ons gebed jeens Hom aanneem, en veral kom die houding ook weer uit in dinge wat ons vir die HERE wil sê.

Dit is baie belangrik dat ons besef dat ons in ons gebed nie met ons gelyke spreek nie, maar met die lewende God self. Daarom moet ons op die altaar, met heilige eerbied juis die gebedsinhoud bring wat Hom aangenaam is.

Broeders en susters, seuns en dogters, dit is die reël wat die HERE self baie ernstig geneem het: geen vreemde vuur op die altaar nie, maar vuur en welriekende stowwe, noukeurig in ooreenstemming met dit wat Hy beveel het. Dit wil dus sê: Ons weet uit onsself nie wat ons moet bid nie; van onsself is ons so stompsinnig dat ons nie eers meer kan uitvind hoe ons ons moet gedra in ons omgang met God nie.

Maar God weet dit wel.

Hy maak dit ook aan ons bekend. Soos die HERE aan Moses die voorskrif gee vir die samestelling van die wierookoffer: soveel dele van dit en soveel dele van daardie speserye. So skryf Hy in Sy Woord 'n duidelike resep voor waarin die samestelling van ons gebede aangegee word.

Hy laat ons deur die winkelvenster van Sy Woord na Sy beloftes kyk, en Hy beveel ons nou om in ons gebed, as het ware, aan die binnekant van die winkel te kom staan. Ons mag nou na die beloftes gryp, wat die Here ons in Sy Woord voorgestel het. Ons moet nou ook na Sy beloftes gryp, want die gebed wat na die belofte gryp, word aan ons voorgeskryf.

God eis dat ons in ons nadering tot Hom, sal vra vir alles wat die Here ons in Sy genade aangebied het.

Daarom skryf die apostel ook dat heel ons lewe alleen geheilig word deur die woord van God, en deur die gebed. Die Woord, die onderwysing van die HERE gaan voorop. Daar moet ons eers na luister omdat ons daarin die reël van ons gebede vind.

Jammer genoeg is die twee-eenheid tussen die woord van God en die gebed baie keer ernstig versteur.

Ons herinner aan die dae van Jesaja. Toe is die reukoffers stiptelik en presies op tyd gebring.

Tog het die HERE Hom vertoorn.

Hy het deur Sy profeet laat sê: u reukwerk is vir My 'n gruwel, en ookal verdubbel jul jul gebede, sal Ek nie na julle luister nie.

Dit het gekom omdat die HERE gesien het hoe die bidders die beloftes van God verag het. Hulle wou nie uit die beloftes lewe nie, maar uit die kwaad wat uit hulle hart gekom het. Hulle het nie by die woorde van genade geleef nie, maar by die begeertes en inbeeldings van hul eie verdorwe verstand. Tog het hulle dit gewaag om nog vir die skyn te bid vir die vervulling van hul wense. Dit het hulle gedoen deur nog wel die reukoffers te onderhou, en daardeur het hulle brutaal gegryp na God se seën. So asof die HERE die verkeerde weë van mense, wat nie uit Sy Woord wil lewe nie, sou seën.

Nee, dit is onmoontlik!

Want wie die wet van God verlaat, dit is, wie die onderwysing van die HERE in die wind slaan, sy gebed sal selfs 'n gruwel wees.

U kan dit miskien nog so mooi in u gebede sê, sodat mense nie die onderskeid kan hoor nie, maar die HERE, wat ons lewe sien, Hy ken die hart en Hy sluit Sy oor vir wat gruwelik is, soos varkbloed in 'n heilige tempel.

Deur die onderwysing van God se woord leer ons ook ons behoeftes, ons nood en ellende grondig ken.

In die suiwer reukwerk van ons gebed moet dus die erkenning opgesluit lê van ons eie onvolwaardigheid, van ons eie gebrek. Hoe kan ons anders na God se beloftes gryp, dan wanneer die nood gesien is wat net deur God se beloftes voldoen kan word.

Dan eers gaan die erns van die reukwerk van ons gebede vir ons betekenis kry. Ek herinner nog eenmaal aan die sonde van Nadab en Abihu, hulle wat vreemde vuur op die altaar gebring het. Hierdie twee seuns van Aäron het hul hoogmoed openbaar gemaak deur dwars teen die bevel van die HERE in te gaan.

Hulle het nie verstaan dat alleen daardie offers die HERE kan behaag, wat in ootmoedige erkenning van die woord van die HERE gebring is.

Maar ons, gemeente, mag nie ophou om ons deur die Woord aan ons nood te laat ontdek nie.

Want:

gebroke hart en gans verslae gees
dit is u offers, HEER! Geen altaardiere,
geen bloed of vet van kleinvee of van stiere,
kan voor u oog die ware offers wees.

3. Die geheim van die skoon reukwerk van die evangeliese gebede; in die derde punt die sekerheid in die gebede.

Ek kan my voorstel dat die geskiedenis met Nadab en Abihu vir u 'n skrikwekkende geskiedenis is. Want wanneer die HERE so noulettend op ons toesien, hoe sal dan, sonder die simboliek van die Ou Testament, ooit 'n gebed in staat wees om die HERE welgevallig te wees? Watter gebed is nou so volmaak dat dit die HERE, die hoogheilige God, sag kan maak om aan ons goed te doen?

Om uit hierdie gedagtegang uit te kom, moet ons nog 'n keer aan Nadab en Abihu dink. Die wese van hulle sonde het daarin bestaan, naamlik dat hulle geen vuur van die brandofferaltaar in die voorhof wou gebruik vir die wierookaltaar in die Heilige nie. En as ons daarop let, dan sien u, dat dit by hulle nie om die een of ander rituele onvolmaaktheid gegaan het nie, maar om veragting van die genade. Want deur middel van die brandoffer in die voorhof, word immers die versoening met God afgebeeld en geskenk. En nou was juis hierdie kole van die brandofferaltaar vir die vuur van die wierookaltaar nodig om aan te dui dat daar van geen diens van die gebede sprake kan wees, sonder die versoening nie.

Sonder versoening, sonder dat daar 'n toestand van vrede ingetree het tussen God en die volk, kan die HERE nie in 'n gebed aangeroep word nie. Hoe sou die HERE die reuk van die wierookoffer 'n lieflike reuk kan vind, sonder die vuur van die brandofferaltaar wat die skuld van die volk verteer het?

Een keer per jaar moes hierdie intieme samehang tussen die bloed, wat daagliks by die brandaltaar gevloei het tot versoening, en die diens van die reukaltaar ook ten volle openbaar word (Eks. 30: 10).

Aäron sal met die bloed van die sondoffer van die versoening eenmaal per jaar op die vier horings aan die uiteinde van die reukaltaar versoening doen. So word daardie altaar op die groot versoendag geheilig en bekwaam gemaak om gebruik te word in die diens van God.

Onder hierdie simbole vind ons 'n baie kragtige prediking van die versoening van Christus. Die dierebloed aan die horings van die reukaltaar en die vuur van die brandaltaar van die versoening, hulle altwee wys heen na die werk van Christus, wat alle gebede moontlik maak en dra.

Ons gebede is alleen lieflik voor God, omdat hulle deur Christus in die hemel opgevang word, omdat hulle deur Hom gereinig word, en as het ware omgeset word tot 'n lieflike reuk, omdat hulle alleen so kan opklim tot voor die aangesig van God.

So lê in die middelaarswerk van Jesus Christus die veiligheid van ons gebede opgesluit. En die sekerheid dat hulle deur God beluister en verhoor word!

Soos Johannes skryf (1 Joh. 2: 1): My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het 'n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.

Christus het Homself op Golgotha geoffer. Daarheen wys die bloed aan die horings van die reukaltaar.

En daardie offer op Golgotha, aan die kruis gebring, was die onmisbare voorwaarde vir die Here Jesus om met Sy hemelvaart die heiligdom van die hemel te kan binnegaan, om daar ons Voorbidder te wees. Met Sy voorspraak kom Hy nou intree by die Vader.

En as Christus daarna in die hemel leef om vir ons te pleit en om ons gebede aanvaarbaar te maak, dan smeek Hy nie om 'n guns nie.

Dan kan Hy pleit op Sy eie werk, en vra Hy om Sy reg: 'Vader, Ek wil'. Want deur Sy Middelaarswerk, hier op aarde, het Hy daardie reg verwerf.

Hy eis dus heel vrymoedig by die Vader: 'Vader, luister na almal, wat in My naam tot U roep'.

En die eis word altyd ingewillig.

U mag dus volledig sekerheid hê: die reukwerk van ons gebede word deur die Vader ontvang.

Hy hoor die geroep van Sy kinders.

Hy hoor en verhoor!

AMEN.

Liturgie: 

(kyk in preek)