God se gebod bring ons tot gelowige selfkennis

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Preek Inhoud: 

Ps 26: 1-5
Ps 139: 1-3
Geloofsbelydenis
Ps 138: 1-4
Lees: Fil. 3
Teks: Sondag 44

Brs en srs, sns en dgtrs!

Soms word deur mense die vraag gevra, hoekom word elke sondag die wet van die tien gebooie voorgelees?

Ons is tog christene, ons leef nie meer onder die wet nie. Ons leef tog onder die genade.

En dieselfde vraag in 'n ander vorm, waarom word elke sondag uit die H.K. gepreek? En veral, hoekom word daar nog 'n slag die tien gebooie gebod vir gebod behandel?

Ek kan die vraag verstaan gemeente.

Inderdaad neem die wet van God 'n belangrike plek in in die H.K.

Twee keer word die wet van God uitdruklik aan ons voorgehou. Eers in die begin van die Kategismus. Waaruit ken jy jou ellende? Ons ken almal die antwoord: Uit die wet van God.

Ons onthou ook nog wel dat ons op die vraag of ons die wet kan onderhou, ontkennend moes antwoord. Dit is onmoontlik, want ons is van nature geneig om God en ons naaste te haat. Dit was die antwoord by Sondag 2.

Hier by Sondag 44 kom dieselfde vraag terug, kan ons die wet van God onderhou?

Maar nou is die vraag nie of die mens van nature die wet kan hou nie, maar hier is die vraag of die tot God bekeerde, die wedergebore mens dalk in staat is om die wet te onderhou.

En weer is die antwoord ontkennend, ook die wedergebore mens is nie in staat om die wet van God te onderhou nie. Selfs hy nie.

Gemeente, in hierdie Sondag leer ons iets oor onsself.

Ons is kinders van die Here.

Die Here herinner ons steeds weer daaraan deurdat Hy ons deur die Doop in sy volk opgeneem het.

Maar, dit beteken nie dat ons die stryd teen die sonde klaar agter die rug het nie. Inteendeel, in die lewe van 'n ware gelowige is die stryd volop gaande.

Om onsself bewus te maak van die stryd, om vir ons te leer van die nederlae in die stryd en van die oorwinnings in die stryd daarvoor is Sondag 44. Hierdie Sondag leer vir ons die skerpte van die eis van die wet te verstaan en leer vir ons om daarom al ons hoop te stel op Jesus Christus. Want Hy is die enigste wat aan God se gebod ten volle voldoen het.

Ons tema vir die preek is:

God se gebod bring ons tot gelowige selfkennis

Ons leer ken

  1. ons sondige begeertes
  2. ons eie onmag
  3. ons enigste redding

Ons onthou wel die uitdrukking dat die Tien Gebooie aan ons voorgehou word as 'n reël van dankbaarheid. Juis die tiende gebod lyk vir ons 'n geleentheid te bied om dit nadruklik te onderstreep.

'n Kind van God moet dankbaar wees vir sy verlossing. Dus, mag jy nie die vrou van jou naaste begeer nie, jy mag nie sy goed begeer nie, kortom niks wat van jou naaste is mag jy 'n voorwerp van jou begeerte maak nie.

Dit kan nie anders beteken as dat jy moet leer om tevrede te wees met wat jy het. Wees dankbaar met wat jy uit die hand van God ontvang het en begeer nie die goed van 'n ander nie.

Dit lyk op die eerste gesig die boodskap van die tiende gebod. Dit sou ook 'n heel aanvaarbare bybelse les wees. Want wie hunker na iets wat hy nie het nie en tog baie graag wil hê kan moeilik tegelykertyd dankbaar wees.

Tog gaan die kategismus met sy bespreking van die tiende gebod in 'n heel ander rigting.

Hier word enige begeerte of enige gedagte wat ingaan teen 'n gebod van God aangewys as die begin van die sonde.

Immers 'n begeerte is iets wat opkom diep in die hart van 'n mens. En ongelukkig kom uit die hart van die mens baie kwaad. As jy ruimte gee aan sekere begeertes, dan is die sonde daarby.

Wel ek neem aan ons sal dit almal wel verstaan, maar tegelykertyd roep dit ook 'n vraag op.

Is dit dan so dat enige verlange wat in 'n mens se hart opkom dus altyd 'n sonde is wat by die bron besweer moet word?

Wel, ek dink nie so nie. Dat daar in 'n mensehart begeertes leef is 'n volstrek natuurlike ding. God het dit so geskape.

As 'n mens nie meer begeertes het nie dan is hy feitlik reeds dood. Immers 'n begeerte is 'n drywende krag in 'n mens.

Dit is sy energiebron diep binnekant.

En vanuit die energiebron kan 'n mens tot groot prestasies kom. Hy sien 'n ideaal en hy wil dit graag verwesenlik. Dit is pragtig.

Iemand wat vir later die begeerte koester om te trou en 'n gelukkige gesin te kan stig koester 'n voortreflike en diep menslike begeerte. Niks mee verkeerd.

Iemand wat die ideaal het om 'n sekere posisie te bereik in die maatskaplike lewe het 'n waardevolle begeerte wat hom in staat stel om die lang pad na verwesenliking van sy ideaal enduit te gaan.

Daar is niks so erg as om 'n mens sonder begeertes, sonder ambisies te wees. So'n mens is van tevore gedoem om te misluk in die lewe.

Dus op sig is dit 'n gesonde saak as 'n mens begeertes het in die lewe.

Ons het daardie begeertes genoem 'n energiebron binnekant. Laat ons sê 'n vuur binnekant. Solank die vuur heeltemal onder beheer is is niks verkeerd. Dit lewer sy energie en is bruikbaar vir enige doel wat bereik moet word.

Maar nou is daar 'n probleem. By die sondige mens het die vuur binnekant buite beheer geraak.

En u weet wat gebeur met 'n vuur wat buite beheer raak. Daar ontstaan skade. Die vuur raak 'n verterende vuur.

En dit is nou die probleem met ons begeertes.

Al ons begeertes is deur die sonde aangetas.

Die begeertes wat oorspronklik die doel gedien het van 'n lewe tot eer van God, het nou in hul teendeel verkeer.

Die vuur verteer. Die vuur verteer die mens van die binnekant. Hy word gejaag deur sy begeertes.

Die vuur doen skade buitekant. Want die naaste en sy belange word ook die vuur skade gedoen. Jy bedreig met jou begeertes die heil en geluk van jou naaste.

En dit is die probleem waaroor dit in die tiende gebod gaan.

Die woord hunker soos dit in die hierdie gebod gebruik word spreek hier baie.

Jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie.

As jy hunker dan word jy klaar verteer deur die vuur binnekant. Jy is jaloers op sy besit, jy wil probeer om die besit vir jou self te verkry. En daarvoor gaan jy nou offers bring. Daar begin die vuur verteer.

Jy offer jou gemoedsrus, want jy is jaloers.

Vervolgens offer jy jou vrye gewete want as jy nie op 'n eerlike manier aan jou begeerte tegemoet kan kom nie, dan maar op 'n oneerlike manier.

Wel dit is die vreeslike werklikheid waarvoor die tiende gebod ons oë wil oopmaak.

Ons hart is 'n bron van sondige begeertes.

Daardeur staan ons permanent skuldig teenoor God. As ons nog enigsins gedink het dat ons met die verskillende gebooie van God al 'n mooi endjie gevorder het, dan word ons hier tot die realiteit teruggeroep.

Ons is geskape om God te eer en te dien met heel ons lewe en strewe, met al die begeertes van ons hart.

Daar moet vir ons maar een ding belangrik wees in die lewe en dit is die vraag: hoe kom God aan sy eer?

Hierdie eis dat ons altyd en hartgrondig vyande van alle sonde moet wees stel ons almal onverbiddelik skuldig.

Hier ontdek ons ons totale verdorwenheid.

Inderdaad ons is van onsself dood vir God.

Wil daar lewe wees dan is minstens 'n opwekking uit die dood noodsaaklik.

2. ons eie onmag

Ons is dus van onsself dooies vir God. Onbruikbaar vir Sy doel. Onbereikbaar vir sy woord.

Wil daar dus iets gebeur dan sal ons deur Hom lewendgemaak moet word.

Maar sê nou dit gebeur, ons word deur God lewend gemaak, is ons dan wel in staat om die wet van God te hou?

Die H.K. antwoord hier met oortuiging: Nee! Ook hulle wat tot God bekeer is, kan hierdie gebooie nie volmaak gehoorsaam nie.

Ewe oortuig as die Gereformeerde Belydenis hier met Nee antwoord, word in tal van sektes die vraag met Ja beantwoord.

Hulle sê as jy tot God bekeer is, is die wet in jou hart geskryf. Dit is nie meer nodig om die wet aan die bekeerdes voor te hou nie. Hulle doen die wet vanself. Hulle is nou heilige mense wat nie meer as skuldenaars voor God staan nie.

Soos gesê, die Gereformeerde Belydenis gaan nie die kant op nie.

Bly die gelowiges dan maar net soos hulle was?

Is hulle nog steeds net so sulke mense as wat hulle sou wees sonder dat die woord van God in hul lewe gekom het?

Ook op hierdie vraag moet ons met 'nee' antwoord.

By kinders van God is daar nie 'n volmaakte gehoorsaamheid nie, maar ook nie 'n totale ongehoorsaamheid en gebrek aan lewensvernuwing nie.

Nee daar kom 'n kragtige beweging in hul lewe.

Ons het daarvan gelees in Fil. 3. Paulus praat daar oor homself. Hoe hy die lewensvernuwing ervaar.

Hy sê daar in vers 12: Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie. Ek is nie. Maar, ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp.

Sien u hoe Paulus hom laat beheers deur 'n nuwe ideaal?

'n Nuwe begeerte?

Daar het in sy lewe 'n groot dryfkrag gekom. Hy is deur Jesus Christus gegryp.

En dit het vir hom 'n totaal nuwe lewensuitsig en lewensdoel gegee. Hy het nou die begeerte om die Here te dien.

Seker, Paulus weet ook van stryd in sy lewe. Hy is nou wel 'n nuwe mens deur die ingrype van Jesus Christus, maar daar is ook nog n ander drywing in sy lewe. Dit is die dryfkrag van die sondige begeerte.

En daardeur word 'n mens getrek. Na twee kante.

Daar is aan die een kant die mag van die sondige begeerte.

Aan die ander kant is daar die mag van die Heilige Gees wat 'n mens steeds meer geskik en bruikbaar maak vir die Koninkryk van God.

'n Mens sou amper sê daar is in ons 'n verbouing gaande.

Ons is aangewys as die woning van die Heilige Gees. Die plek word klaargemaak vir bewoning deur die Gees. Maar die verbouing is nog nie klaar nie. Die ou huis staan nog. En ons woon daarin. Of liewers onsself is die huis. Maar dit woon nou nie juis gemaklik nie.

Maar die begin is daar. Die verbouing het begin. En ons sien daarna uit dat die verbouing voltooi word.

Ons raak amper ongeduldig. Wanneer sal dit klaar wees?

Wanneer sal ons as mense so wees dat ons 'n passende woning van die Heilige Gees is?

Wanneer sal ons so word dat ons mense is wat die werk van Jesus Christus so duidelik uitstraal dat almal wat dit nie ken nie, jaloers begin word?

Wanneer sal ons so vervuld raak van die nuwe lewe dat daar geen sondige begeertes meer in ons oor is nie?

Sien u hoe sondag 44 by ons 'n groeiproses wil aanhelp?

'n Proses van geestelike groei.

Daardie rigting wil Paulus vir ons ook stuur in Fil. 3.

Wees my navolgers broeders: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

3. Ons enigste redding

Die laaste vraag van hierdie sondag: Waarom laat God die Tien Gebooie so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?

Die bedoeling is seker duidelik. As niemand die gebooie van God kan hou soos hulle bedoel is, en soos hulle in hul verreikende betekenis in die Kategismus verklaar word, watter sin het dit dan om hulle tog steeds weer te predik?

Kan dan nie beter die eis aangepas word tot 'n meer haalbare vlak?

Wat sou ons dink van 'n onderwyser wat sy toetse steeds so opstel dat die vrae vir geen een van sy leerlinge te beantwoord is nie?

As die toppresteerders onder die leerlinge in die eksamen nooit verder kom as 'n skrale tien persent nie, moet dan die vraestel nie 'n bietjie afkom in moeilikheidsgraad nie?

Klink logies vir ons maar weer is die antwoord van die Kategismus 'nee'.

God hou sy eise hoog. Hy pas sy standaarde nie aan aan ons vermoë nie.

En hoekom nie?

Hy soek geen kinders in die geloof nie, maar volwassenes.

Seker, hy is bly met die eerste begin wat daar is. Maar Hy is nie tevrede nie voor ons volgroei het tot volwassenes in die geloof.

Laat ek 'n voorbeeld mag gebruik.

Ek dink enige vader is opgewonde as sy kind van rond 'n jaar oud sy eerste stappies begin doen. Hy sal die kind baie aanmoedig en prys vir wat die kind al kan. Maar dieselfde vader gaan nie tevrede wees voor die kind werklik kan stap met die vaste tred van 'n volwasse mens nie.

So soek die Here volwassenes in die geloof.

Hy is wel bly met ons eerste stappies op die regte pad, maar nie tevrede voor ons werklik loop soos Hy van sy kinders verwag.

En daarom hou Hy ons steeds die Gebooie voor in volle skerpte. Dit is sy standaard. En op die vlak wil Hy ons bring.

Daarom is by ons dus steeds 'n voortgaande groei nodig.

'n Mens wat geestelik groei, is 'n mens wat sy sondige begeertes deur die krag van die Gees steeds meer begin beheer.

Hy probeer nie meer sy sondes te verdoesel nie.

Hy soek nie meer verskoning vir sy swakhede nie.

Hy erken hulle volmondig. Met spyt en berou dat hy as kind van God nog so min sy begeertes onder beheer het.

Maar hy weet ook wat om te doen.

Want hy wil verder kom.

Omwille van die Naam van Christus.

Hy wil groei. Groei in oortuiging.

Hy wil groei in liefde tot God en sy naaste.

Hy wil groei as 'n kind wat uitsien na die lewe van volwassenheid.

Dit kan hy nie op eie krag bereik nie.

Hy besef ook steeds meer hoe min hy nog van die nuwe lewe wys.

En daarom weet hy elke dag weer om vergewing te vra.

Hoe meer jy groei in geloof, hoe meer jy groei in die oortuiging dat jy voor die Here op die knieë moet.

En by God kan jy maar een ding kom vertel.

Kom nie aan met jou verskonings nie.

Kom nie aan met jou redenerings nie.

Kom slegs met een Naam op jou lippe. Die een Naam van die een persoon wat aan al die Tien Gebooie in hul volle eis volkome voldoen het. Die Naam van Jesus Christus.

Amen.

4 Julie '92

Liturgie: 

(kyk in preek)