God eis in die tiende gebod ons hart

Predikant: 
Ds RH Bremmer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van Dr. R H Bremmer oor Sondag 44 H. K.

Gee My jou hart.

Lees: 1 Johannes 3: 1 - 21
Teks: Sondag 44 H. K.
Sing: Ps. 33: 7 en 10
na wet Ps 34: 6
na belydenis Ps 47: 4
Ps 1: 1, 2, 3, 4
Ps 119: 61
Sb. 26: 1, 2, 10, 11

Geliefde broeders en susters in onse Here Jesus Christus!

Ek dink ons almal weet wat 'n werklamp is. 'n Lamp met 'n lang draad sodat 'n mens met die lamp orals kan kom waar hy lig nodig het. Soos wanneer jy onder jou motorkar iets wil reg maak, dan vat jy die werklamp onder die kar saam. Nou kan ons die tiende gebod met so 'n werklamp vergelyk. Tot nou toe het dit in die wet van God veral oor sigbare of hoorbare handelinge van 'n mens gegaan. Afgodsdiens, doodslaan is sigbaar vals getuienis is hoorbaar, maar by die tiende gebod dring God tot in ons binnenste, ons hart deur.

Jy mag nie begeer nie, word in hierdie gebod gese. Jy mag nie begeer wat hoegenaamd ook aan jou naaste behoor nie. Daardie begeer, is dit wat binne-in jou hart roer. Want Jesus se: Uit die hart kom slegte gedagtes. Met hierdie gebod gaan God nou op ons hart beslag le. Die werklamp van die wet dring nou tot in die diepste van ons binnenste deur.

Gemeente die wet van die Here is pragtig opgebou: Sorgvuldig met goddelike orde het God die wetswoorde gerangskik. In die eerste gebod het die Here ons hart vir Hom opgeeis: Jy mag geen ander gode voor my aangesig he nie. Dit werk die Here dan verder uit in die heiliging van sy Naam en dat sy dag onderhou moet word. Vervolgens het die Here ons naaste onder sy beskerming geneem: Sy lewe, sy huwlik, sy eiendom en sy naam. Met die tiende gebod kom God weer by ons hart uit. Soos ook in die eerste gebod, word weer ons hart deur Hom vir sy diens opgeeis. Jou hart sal nimmer iets begeer wat aan jou naaste behoor nie.

In Spreuke 23 kom die dringende oproep van die Here tot die jeug van Israel: "My seun, gee my jou hart, " Dis nou die positiewe vertolking van wat God in hierdie gebod verbied. Hy verbied die sondige begeer. Dit wil positief se: My hart word deur God opgeeis. Daardie sondige, vuile hart van my, word deur God onder die klem van die tiende gebod gele. Van my word geeis dat ek alle sondige begeertes uit my lewe uitban en in die plek daarvan lus tot alle geregtigheid sal he. Die betekenis van die dwingende krag, soos dit in antwoord 113 in die woordjie 'eis' na ons toekom, wil ons nou gaan oorweeg:

GOD EIS IN DIE TIENDE GEBOD ONS HART.

  1. Die eis ontdek ons aan ons sondaar wees;
  2. Die eis bring ons tot verootmoediging;
  3. Die eis dring ons tot gebed.

I Gemeente het ons raakgesien dat sondag 44 glad nie op die teks van die tiende gebod ingaan nie? Die kategismus het dit by al die vorige gebooie wel gedoen. Daarin is steeds by elk gebod verklaar wat God verbied en gebied. Hier het ons belydenis dit anders gedoen. Die tiende gebod word direk in verband met alle vorige gebooie gebring. Ons word verbied: Dat ook die geringste lus of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie. En gebied: dat ons van alle sondes altyd van ganser harte vyande moet wees en in alle geregtigheid lus moet he. Die kategismus plaas hierdie gebod in die verband van die hele wet.

Tog is dit belangrik genoeg om ook die beide tekste van die tiende gebod te oorweeg. Die tien gebooie is by die Sinai in Ex. 20 gegee. En later, net voor die intog in Kanaan, in Deut. 5 nog 'n keer.

Let nou op hoe die situasie van Israel in die teks van die tiende gebod gesien kan word. In Ex. 20 het die Here die huis van die naaste voorop geplaas: Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Daarna volg wat tot die huis van die naaste behoor, sy vrou, sy huisvolk, sy vee, of iets wat van jou naaste is. In Deut. 5 het die Here dit anders gedoen.

Daar staan die nie begeer nie van die vrou van jou naaste voorop. Daarna volg die besit van die naaste. Maar nou moet ons oplet want die Here het hier 'n ander werkwoord gebruik. 'n Woord naamlik wat fel begeren uitdruk en deur 'hunker' vertaal is: Jy mag nie na jou naaste se huis hunker nie.

Daarby word onder die besit nou ook sy landerye genoem wat in Ex. 20 geheel ontbreek. Dis ook goed verstaanbaar want toe Moses vir die tweede keer die wet van die Here vir Israel gegee het het hulle voor die beloofde land gestaan. Hulle sou die land wat oorloop van melk en heuning gaan bewoon. Hoe maklik kan dan na die landerye of die mense wat daarop werk verlang word. Daarom is dit dat God die landerye ook daarby genoem het.

Die twee verskillende werkwoorde wat die Here gebruik het, het vir die roomse en luterane aanleiding gegee om die gebod te splits. Vir die nie begeer van die vrou van jou naaste 'n afsonderlik gebod en vir die nie begeer van die besit van jou naaste nie 'n afsonderlik gebod. Vir hulle tel hulle as die negende en tiende gebod. Om tog tot die aantal van tien gebooie te kom het hulle die eerste en tweede gebod saamgevoeg. Gevolglik nommer die gebooie by die roomses en luterane een getal laer.

By die laaste gebod het hulle dan weer tot die aantal van tien gekom.

Calvyn wou van daardie reeling niks weet nie. Hy het die tiende gebod nie in twee gesplits nie, maar laat dit in sy volle krag na ons toe kom. In die twee kragtige werkwoorde nie begeer en nie hunker nie spreek die gebod vir ons aan. In die dubbele formulering le 'n groot gebiedende krag. Maar, wil u nou moontlik vra, mag ons dan glad nie begeer nie? Is dit totaal verkeerd?

Sekerlik nie. stel jou dit voor! Mag 'n seun nie 'n dogter begeer waarmee hy saam deur die lewe kan gaan nie? Mag 'n dogter nie 'n man begeer waarmee sy 'n gesin kan vorm nie? Mag 'n egpaar nie begeer dat die Here hul huwelik met kinders seen nie? Natuurlik mag dit! Mag iemand wat in die samelewing sy plek wil volstaan geen passende werkkring of promosie begeer nie? Waarom sou dit verbied wees? Het die Here ons nie geleer om vir ons dagelikse brood te bid nie? Daarby is ook die vorentoe beweeg in die samelewing ingesluit.

Ons begeertes kan ook sake raak wat direk op die diens van die Here betrekking het. Dink aan Psalm 27: 4 waar Dawid sy diepste begeerte vir die Here blootgee: "Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. " Ons wil ook Lukas 22: 15 noem, waar ons Heiland self sy begeerte blootgee: "Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly". Om te begeer op homself is nie sondig nie. Die Bybel le ons geen askese op nie. Dink terug aan die paradys. Het God Adam en Eva sonder begeertes geskep? Glad nie, hulle mog alles begeer en geniet wat God vir heerlike vrugte in die hof vir hulle geplant het.

Om te begeer behoort tot ons mens wees. Net die vrugte van een boom mog in die paradys nie begeer word om te eet nie. Daar le dan ook die breuk in ons menselewe en in ons begeertes. Ons ken mos die geskiedenis van die val van die mens. Dis met enkele woorde in Genesis drie beskrywe, maar dit het ongelooflik diep op die mense lewe ingegryp. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet..... 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geeet.

Skielik het die begeerte van die vrou nie meer uit gegaan na dit wat die Here gegee het om te begeer nie. Sy het teen die Here God in begeer. Diep in haar binnenste het die sondige begeerte wortel geskiet. Die duiwel het haar versoek om dit te begeer wat God verbied het. Haar hart, tot dan toe suiwer, het boos en skuldig geword. Vir die duiwel het sy ingegee. In 1 Johannes 2: 16 is dit so beskrywe: "Want alles wat in die wereld is - die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oe en die grootsheid van die lewe - is nie uit die Vader nie, maar is uit die wereld. " By Eva was altwee daar die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oe. Begeerlikheid wat nie uit God is nie, maar uit die duiwel kom.

Sinds die sondeval het daar 'n stroom onheilige, ongoddelike begeerlikheid deur die wereld gaan vloei! Die Bybel draai daar geen doekies om nie. Jakob wat in sonde die eersgeboortereg begeer wat God vir Esou gegee het. Dit het hom daartoe gedryf dat hy sy vader, Isak, bedrieg het. Dawid wat Batseba, die vrou van sy troue offisier Uria, begeer het. Simson wat deur sy begeerlikheid vir Delila sy rigterskap verloor het.

Moontlik het ons gesien hoe 'n trop olifante in 'n helder watergat gaan baljaar, deur die modder wat hulle lostrap word die water onmiddelik troebel. So baljaar die duiwel ook in ons hart om daardie goddelose, slegte en bose begeerlikheid los te maak en so ons lewe te vertroebel! In antwoord 114 word skerp geformuleer waar dit in die tiende gebod omgaan, naamlik: Dat ook die geringste lus of gedagte teen enige gebod van God nooit in ons hart mag opkom nie. Dit kan nie skerper geformuleer word nie: Die geringste lus of gedagte. Teen enig gebod van God. Nooit in ons hart mag opkom nie.

Soos by die vorige gebooie bly ons kategismus nie net by die daad nie, maar dring deur tot die hart waaruit die daad voorkom. Agter die doodslaan le die haat. Agter die steel le die begeerte na die goed van die naaste. Agter die egbreuk le die begeerte na die man of vrou van die naaste. Diep uit die hart kom alles te voorskyn. Soos ons Heiland dit skerp verwoord het: " Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, valsgetuienis, kwaadpratery. Dit is die dinge wat die mens onrein maak". (Matt 15: 19, 20)

Met ons kategismus neem ons hier sterk stelling teen die roomse mensbeskouing. Om so te se: splits rome die mens in twee. Hy sou uit 'n natuurlike deel en 'n bonatuurlike deel bestaan. Deur die sonde het nou die bonatuurlike deel in die mens verdwyn, maar die natuurlike deel het gaaf gebly. Ons kan dit vergelyk met 'n appel, waar die stuk wat rot is van afgesny word om 'n gaaf deel oor te hou. Rome se nou: by die val in sonde het die begeerte na God en sy diens verdwyn, maar die begeerte na die natuurlike dinge het gaaf gebly.

Hoogstens mag die begeerte ietwat onordelik geword het, se die roomse teoloe, maar seker nie rot of verdorwe nie. Daarteen kom ons met die kategismus in verset want heel ons begeerte-lewe is deur die sonde aangetas en verdorwe. Daarom formuleer sondag 44 so skerp. Agter ons dade is dit ons sondige hart waaruit dit opkom. Met die werklamp van die tiende gebod dring die Here nou in ons hart deur. So word ons aan die bose en skuldige, wat in ons hart lewe, ontdek.

Die reformatoriese mensbeskouing is nie pessimisties soos ons wel verwyt word nie, maar realisties. Die bose en skuldige in ons hart word blootgele. Die moderne psigiatrie het dit ook uitgevind. Die sielkundige Freud het ook gevind dat agter ons dade ons verdronge gedagtes en verwronge begeertes le. Alleen, kom hier ook die diep kloof wat tussen die skriftuurlike siening en die moderne sielkunde le, openbaar. Ons bose begeertes is nie, soos die moderne sielkunde leer, die gevolg van die verdronge gedagtes en verwronge begeertes nie. Volgens die Skrif is hulle sonde voor God!

Om te begeer is 'n daad ook al word die begeerte nooit openbaar nie. Al onderdruk ons ons begeertes en dring hulle terug, vir God is hulle sonde. Hy het ons mos rein en suiwer geskep. My begeertes het God in harmonie met sy begeertes geskep. Ons mag begeer alles wat God mild en oorvloedig in die skepping vir ons gee. Ons begeertes gaan egter teen die begeertes van God in. In ons begeertes soek ons onsself ons genot, dis geen begeerte tot God meer nie. Paulus se dit skerp in Rom. 7: 7: ek sou ook die (sonde van die) begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gese het: Jy mag nie begeer nie.

Gemeente daar was een, wat ook in sy hart steeds suiwer en rein het bly begeer. Daar was een wat die dinge van hier die lewe altyd goed en heilig begeer het. Dit is ons Heiland. Ons weet hoe die Satan Hom versoek het, om teen die begeerte van sy Vader in, te begeer. Hy het gese: Aanbid my Christus en ek sal jou al die koninkryke van hierdie wereld skenk. Hy het die helderwater in die hart van Jesus in beroering gebring, maar dit het helder gebly. Hy het gese: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. In die hart van Ons Heiland het geen enkele lus of gedagte teen enig gebod van God ooit opgekom nie. Daar was net lus tot geregtigheid.

Daarom as die duiwel jou versoek sien dan na Christus op vir hulp. Neem toevlug tot sy geregtigheid as daar met ongeregtigheid geworstel word. Bedink dat ons ook met die skerpe sondag 44, ons tog in die deel van die dankbaarheid bevind. Deur sy volmaakte gehoorsaamheid het Hy ons verlos. Deurdat Hy die straf oor ons oortredings van hierdie gebod, gedra het. In Hom word die ware geluk in hierdie lewe gevind. Gee Hom daarom jou hart. Dan vind ons in Hom die ware tevredenheid met alles wat God ons in hierdie lewe skenk.

Wie tot alle geregtigheid lus het, is in God tevrede. Daartoe word ons ook in Hebreers 13: 5 opgewek: "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. " Die ou Statevertaling het hier die woord vergenoeg vir tevrede gebruik wat heel mooi die oorspronklike bedoeling weergee. Soos Paulus die woord ook in 1 Tim. 6: 6 gebruik: "Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is 'n groot wins. " In 'n wereld vol van felle begeertes, is vergenoegdheid skaars.

Dink maar 'n bietjie aan al die handelsflitse vir die televisie wat daar op uit is om ons begeertes te prikkel. Daar is so baie ontevredenheid in die samelewing, 'n felle dors na steeds meer. Laat daarom ons begeertes in Christus ons Heiland suiwer en heilig wees. Nogmaals gemeente, om te begeer is 'n daad. Dis nie vryblywend nie. In die krag van Christus mag ons teen die sondige begeertes stry. Ons is geroep om in Christus krag God en sy ryk en sy diens te begeer. Sodat ons dankbaarheid vir die verlossing wat God ons in Christus skenk mag blom. Deurdat ons in Christus alle geregtigheid begeer.

II Die eis van God in die tiende gebod het ons ook aan ons sondaar wees in hierdie gebod ontdek. Wie kan sy hart so bewaak dat self die geringste lus of gedagte teen enig gebod van God nooit in sy hart opkom nie? Wie bestuur sy hart so dat ons hart altyd alleen in alle geregtigheid behae het? Ja, daar staan ons, in ons tekort om die tiende gebod te volbring.

Tog het sondag 44 in die tiende gebod nog nie oor die wet van God klaar gepraat nie. Ons het al eerder daarop gewys dat die kategismus 'n meesterlik boekie is met 'n kragtige pedagogiese aanpak. Die plan is om na die wet die gebed te gaan verklaar. Nou word, vanuit die wet van God, die brug na die gebed gebou. Daar word nie sommer so met die uitle van die gebed begin nie. Nee, ons word by die hand gevat en soontoe gelei. Daarom word in vraag 114 die hele wet nog eens vir ons oe gestel. Hoor maar: Kan diegene wat tot God bekeer is, hierdie gebooie ten volle onderhou? Die vraag word nie aan mense van die wereld of aan randchristene gestel nie, maar aan hulle wat tot God bekeer is!

Met die woorde van die kategismus het ons nou leer bely, alles wat die wet van God van ons vra. Die eerste tafel van die wet: God liefhe bo alles. En die tweede tafel die naaste liefhe soos jouself. Nou word ons vir die vraag geplaas: hoever het ons daarin nou gevorder. Dis duidelik dat die kategismus hier die perfeksionisme bekamp. Deur die eeue is daar christene gewees wat gemeen het dat hulle hier al tot die volmaaktheid kan kom.

In die tyd van die reformasie is hulle by die doopsgesindes gevind. Daar was van hulle wat gedink het dat die gebed vergeef ons ons skuldes, vir hulle oorbodig geword het. Dis moontlik se hulle dat jy sover kom dat jy nie meer sondig nie. Hierdie wanbegrip word deur antwoord 114 met een slag verskeur. Antwoord 114 begin direk met 'n kragtig nee! Want word gese: Ook die allerheiligstes het maar 'n klein beginsel van hierdie gehoorsaamheid.

Gemeente dit maak ons klein. Nadat die kategismus in die vorige vraag en antwoord ons aan ons skuld teenoor die tiende gebod, ontdek het, word ons nou tot verootmoediging geroep. Selfs die allerheiligstes! Selfs hulle het in hierdie lewe maar 'n klein beginsel van hierdie gehoorsaamheid. Maak jou Bybel maar oop en lees die geskiedenis van 'n man as Moses en Aaron, van die man na die hart van God Dawid en sy seun Salomo. Wat is hul lewe deur sondes ontsier.

Moses wat pleks tot die rots te spreek, soos die Here gese het, in drif op die rots geslaan het. Sy broer Aaron die eerste hoepriester, wat saam met die volk van God 'n goue kalf gemaak het.

Dawid wat tot tweemaal toe voor die Here in die skuld gekom het. Eers vanwee die sonde met Batseba, daarna deur die volkstelling. Salomo wat hom teen die eind van sy lewe deur sy vroue het laat verlei om afgode te gaan dien.

Kyk dan na 'n grote in die koninkryk van die hemel, 'n man soos Paulus, wat Johannes Markus nie wou saamvat nie sodat daar 'n verbittering tussen hom en Barnabas ontstaan het. (Hand. 15: 39) So gaan dit in die lewe van die allerheiligstes. Jakobus die broer van ons Here het met groot selfkennis geskrywe: "Want ons almal struikel dikwels" (Jak. 3: 2) Ja, die kategismus is skerp in die oordeel oor ons lewe. Self die allerheiligstes het nie meer as 'n klein beginsel van hierdie gehoorsaamheid

Dan volg egter die woorde: solank as hulle in hierdie lewe is. In daardie enkele woorde is 'n troosryk vooruitsig opgesluit. Asof daar gese word laat jou deur die klein begin nie ontmoedig nie, as ons tot die ewige rus ingaan sal ons die gebooie van die Here in 'n volmaakte lewe, ten volle onderhou. Nou is dit egter 'n klein begin.

Moenie die klein beginsel verkeerd verstaan nie. Asof ons vir 'n klein deel van ons lewe die wet van God volbring, en nie in die ander deel glad nie. Want by antwoord 114 word na Rom. 3: 20 verwys wat se: "Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is". In Rom. 7 kom Paulus daarop terug as hy se: Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

Gemeente dit word deur 'n man geskrywe wat meer as al die ander apostels vir Jesus Christus en sy koninkryk gewerk het. Nie die onbekeerde Paulus, maar die bekeerde Paulus. Hy skrywe van homself: "Ek vind in my doen en late 'n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my 'n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is. " (Rom. 7: 23) Is dit nou die laaste? Word ons deur antwoord 114 in wanhoop uitgelos? Bring ek amper niks tereg van die wet van God wat ek tog met my hele hart liefhet?

Gemeente lees dan die slot van die antwoord: maar so, dat hulle met 'n ernstige voorneme nie alleen na sommige nie, maar na al die gebooie van God begin lewe. Behoor ons hart aan die Here? Sing in ons hart die lofsang op die wet van God met die mooie woorde van Psalm 19: "Die verordeninge van die Here is waarheid - tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop". (vers 10 en 11) Welaan dan is dit 'n vreugde om volgens al die gebooie van God te gaan lewe. Dan kan ons ook die slot van Sondag 44 verstaan.

III Want daar is nog een dringende vraag wat ons hier aan die hart gele word: Waarom laat God die tien gebooie dan so skerp vir ons verkondig as tog niemand dit in hierdie lewe kan onderhou nie? Dien dit dan nog 'n doel? Is die bedoeling van vraag 115. Ons hart behoor aan die Here, en ons het sy wet bo die fynste goud lief. Maar as ons dan tog nie verder as 'n klein begin kom nie, waarom laat God die gebooie dan tog so streng vir ons predik? Is dit om ons wanhopig te maak, op moed verloor se vlakte te bring?

God dank, nie dit nie. God doen dit, se antwoord 115, vanwee twee heerlike motiewe. Eerste, kortliks, om ons by Christus te bring en te hou. Hoor ons dit gemeente? Met die skerpe prediking van die wet, het God ons hand gevat, om ons by ons Heiland te bring. Soos Paulus skrywe: "Christus is tog die einde van die wet, sodat elkeen wat glo, vrygespreek kan word. " (Rom. 10: 4) Hy, Jesus Christus, is die eintlike inhoud van die wet! Wat Hy vir ons volkome volbring het.

Ons vaders het dit Christus se gehoorsaamheid van die daad genoem. In ons plek het Hy die wet onderhou. Die straf wat ons vanwee die wetsoortreding verdien het, dit het Christus vir ons gedra. Ons vaders het dit die lydelike gehoorsaamheid van Christus genoem. Hy het vir ons aan die kruis van Golgota gely. Dis nou waar die wet van God ons bring. Daarom laat God die wet so skerp predik. My seun gee My jou hart se God in Spreuke 23: 26. Dit wil ook se: Gee jou hart aan Christus en put uit sy volbragte werk die krag, om die wet van God lief te he en te doen. Kry by Hom, vir al jou skuld, vergewing.

Ja sondag 44 staan in die deel oor die dankbaarheid! Ons is deur ons Heiland verlos. Ons vind in Hom vergewing, in sy krag mag ons die wet van God volbring. O ja, ons leer by Hom ons sondige natuur steeds meer ken. Dit bring ons nie tot wanhoop nie. Dit bring ons tot die tweede van antwoord 115. Ons gaan nou vir God bid om die genade van die Heilige Gees, om steeds meer na die beeld van God vernuwe te word.

Nogmaals gemeente, die kategismus is pragtig geredigeer. Ons word van die wet na die gebed gebring.

Nou word ons in die gebed as die voornaamste deel van ons dankbaarheid onderwys. Buig jou hoof en bid. Bid om die krag om by Christus te bly. Bid om jou hele hart alleen vir Hom oop te stel. Bid om die vernuwing van jou lewe, dat dit aan die beeld van God gelykvormig mag word. Daarom lees jou Bybel daeliks en bid sonder ophou.

Wat van die volmaak wees? Gemeente dit kom na hierdie lewe. As ons by God en die heilige engele en al die heiliges wat ons voor gegaan het, sal wees. Dan mag ons God in volmaaktheid sien. Daarom laat ons Jesus Christus loof!

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)