Die prediking van die wet is diensbaar aan ons verlossing

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 44
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 44 H.K.

LITURGIE:
L. Markus 7: 1-7, 14-23 & D.L. V, 1, 2
Ps. 51: 1, 5
Ps. 51: 3
SB. 14: 1 na die doop
Ps. 143: 2, 7, 8
Ps. 19: 4, 5
SB. 26: 10, 11

Broeders en susters,

In die brief van Jakobus word die Wet van God met 'n spieël vergelyk. God se verbondswet is soos 'n spieël waarin ons onsself kan bekyk. Ons kom oog in oog met onsself te staan en die spieël wys hoedat ons lewe lyk.

En Jakobus roep ons op om nie te volstaan met gou-gou 'n vlugtige blik in die spiël nie. Nee, ons moet maar vooroorbuig en onsself grondig bestudeer.

Ons het dit weer 'n hele aantal weke gedoen. Tien weke aanmekaar het ons ons spieëlbeeld in die Wet van God bestudeer. Ons het op verskeie onderdele van ons lewe met die HERE en met mekaar gekonsentreer: is daar in ons lewe ander gode naas die HERE lewe? Dien ons die HERE wel so soos wat Hy in sy Woord van ons vra? Hoe gebruik ons sy heilige Naam? Begin ons elke week bewus met 'n rusdag tot sy eer? Eerbiedig ons dié mense wat God met gesag bo ons geplaas het? Hoe lief het ons ons naaste? Bewaar ons ons manlike of vroulike liggaam wel as 'n tempel vir God? Hoe gebruik ons ons geld en goed? Hou ons ons tong in toom? ....

'n Spieël gee 'n eerlike beeld. Dit verhul niks nie, dit wys net die werklikheid nie. Jakobus skryf: jy sien daarin jou "natuurlike gesig". Jy sien jouself soos jy van nature is.

Maar dit is nie altyd aangenaam nie. Al jou gebreke word sigbaar gemaak.

Hoe skokkend was dit ook om die afgelope weke weer in die spieël van God se Wet te moet kyk! Hoe is ons mos van nature? Geneig om God en ons naaste te haat!

Dalk is heelparty van u bly dat ons vandag die Wetsprediking gaan afsluit. Dalk het u meer as een keer nogal onbehaaglik gevoel of u selfs vererg onder die preke van die afgelope weke. Omdat hulle te konkreet, te reguit, te onthullend was.

Dalk het u 'n enkele maal halfpad 'n preek u ore toegemaak omdat die spieëlbeeld wat u in die preek voorgehou is, alte skokkend was.

Maar dit moés skokkend wees, broeders en susters! Ons moét ons boeglam skrik van ons spieëlbeeld, so dikwels die volmaakte Wet van God aan ons voorgehou word.

Ons moet ons dóódskrik.

Waarom dit moet- dit sal ek u vanoggend na aanleiding van die Tiende en laaste Gebod van God se Wet verkondig. Ek kan my boodskap so saamvat:

DIE PREDIKING VAN DIE WET IS DIENSBAAR AAN ONS VERLOSSING

WANT DEUR 'N SKERP WETSPREDIKING LEER GOD ONS DIE NOODSAAK INSIEN VAN:

  1. DIE VERGEWING VAN ONS SONDES
  2. DIE VERNUWING VAN ONS LEWE

1. Sondag 44 beeïndig die behandeling van die Wet met die vraag, gemeente, waarom God die Tien Gebooie "so streng" aan ons voorhou.

In 'n eerdere vertaling het gestaan: "so skerp".

Waarom so skerp?

Ek hou nogal van daardie woord: "skerp".

Want dit wás skerp, inderdaad. Elke gebod opnuut. In dié paar gebooie is ons hele lewe gefynkam. Niks het aan die aandag ontsnap nie. En God het sy eise baie hoog gestel. Nie net ons dade nie, maar ook ons woorde, ons gebare, selfs ons gedagtes en luste moet volkome suiwer wees.

God vra 'n volmaakte lewe.

En die predikante mog die skerpte van God se eise nie bietjie afswak nie.

Maar as u die prediking van die Negende Gebod, en van die Agste en van die Sewende.... reeds as skerp ervaar het, hoe skerp word dit dan nogal by die Tiende Gebod waarmee die HERE sy Wet besluit.

Met hierdie laaste gebod trek die HERE nog 'n keer al die voorgaande gebooie voor ons aandag en Hy stel nou die hele saak op sy allerskerpste: "Selfs die geringste begéérte of gedágte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Maar ons moet altyd en hartgrondig vyande van alle sonde wees en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê".

God stoot nou deur na die bodem van ons hart toe, na die diepste roersele van ons lewe, en Hy eis dit op vir Hom.

So het die Kategismus tereg die spesifieke betekenis van die Tiende gebod verstaan en onder woorde gebring in vr. en ant. 113.

Alle nadruk lê in hierdie gebod op die verkeerde begeertes by ons. Moet maar eens daarop let: wanneer in die Nuwe Testament 'n enkel maal die Tiende Gebod aangehaal word -Paulus doen dit byvoorbeeld in Rom. 7 en 13- word kort en goed net gesê: "Jy mag nie begeer nie". Sonder dat daarby gesê word wát ons volgens die presiese teks van die Tiende gebod nie mag begeer nie: die huis van ons naaste, die vrou van ons naaste, sy os en sy esel, ja enigiets..

"Jy mag nie begeer nie!", sê God tenslotte en daarmee sluit Hy sy Wet af.

Maar daarmee stoot Hy ook deur na die kern van die sonde in ons. In hierdie een gebod tot slot kom Hy nog 'n keer met die hele Wet voor ons staan en Hy laat geen enkele moontlikheid meer oop om Hom te kan ontwyk nie. Daar bly geen maas in die net van die Wet oor om te kan ontsnap nie.

Deur hierdie laaste gebod gryp die hele Wet ons by die wortel aan.

Want, broeders en susters, by die vorige gebooie kon ons onsself nog in 'n mate gerusstel as ons die gevoel gehad het ons stry darem met krag teen die sonde. Ons sou kan dink: as ek dit maar regkry om uitbrekende sondes in te perk, as ek maar daarin slaag om die sonde-met-die-daad te voorkom, as ek verkeerde gedagtes maar betyds afsny en my bose luste onderdruk- dan gaan dit goed!

Dan kry ons die sonde stadigaan onder die knie.

Ons sou kon dink, ons is al 'n hele endjie gevorder as ons teen die sonde in ons lewe vég en selfs ons sondige gedagtes dadelik indam.

U ken natuurlik daardie gevoel, gemeente: dat u skrik van dit wat u besig was om te doen en betyds daarmee ophou. Dat u skrik van u eie gedagtes en dadelik die sonde terugstoot. En as u dit regkry, voel u dankbaar en verlig: "Gelukkig", so dink u dan, "ek is vir dié sonde bewaar. Gód het my daarvoor bewaar!".

En u mág dan ook bly wees. 'n Gevoel van dankbaarheid en oplugting hê. Is ís vir erger bewaar.

Maar u maak 'n fout as u dan dink alles het nog net goed gegaan. Dit was maar 'n halwe oorwinning. En dit word op die ou end tog nog 'n verlore saak as daar nie méér gebeur nie.

Dis reg, ons moet ons hele lewe lank teen ons sondige aard stry. So staan dit in Sondag 21 van die Kategismus.

Maar Sondag 44 vertel nou vir ons: net vég is nie genoeg nie, selfs 'n oorwinning van tyd tot tyd is vir God onvoldoende.

Daardie sondige aard sélf moet weg!

In die Tiende gebod eis God dat daar van ons sondige aard geen spoor oorbly nie.

Want dit is diep in ons lewe nog altyd aanwesig soos 'n giftige fontein waaruit aanhoudend die verkeerde begere by ons opborrel. Daaruit wel ons verkeerde oorlegginge, kwade gedagtes, troebele fantasieë, onsuiwere blikke, sondige dade.

Daar ontspring die sonde.

Ons hart deug nie, sê die Bybel. En uit die hart is die oorspronge van die lewe (Spreuke 4). Hoe dat 'n mens is, en praat, en dink en doen- dit hang alles af van hoe dit met sy hart gesteld is.

Ons hart is vergiftig.

Sonde is nie iets wat van buiteaf in ons lewe binnedring en wat ons dus buitekant moet probeer hou nie.

Sonde begin van binne-uit. Dit ontspruit uit ons sondige aard.

Die Here Jesus Christus het dit aan sy dissipels voorgehou in die gedeelte wat ons uit Markus 7 gelees het: "Nie dit wat van buite af in die mens ingaan, kan hom onrein maak nie. Maar dit wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, boosheid, hebsug, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein".

Iets dergelyks het ook Jakobus geskrywe, in hoofstuk 1 van sy brief: Verleiding tot sonde begin nooit met iets buite ons nie, dit begin daarmee dat ons deur ons eie begeerte weggesleep en verlok word.

Die sonde kom die van buite af nie. Dit begin êrens diep binne-in ons.

En daarom help dit nie eintlik as ons die sondes wat in ons opkom, probeer onderdruk nie. Daarmee is God blykens die laaste gebod niet tevrede nie. Hy wil dat ook die bron verdwyn. Selfs die geringste neiging of gedagte teen enige gebod van God mag nooit meer in ons hart opkom nie.

So skerp stel God ons tenslotte die Wet!

Hy wys uiteindelik die bronwel van alle ellende aan en sê: dit moet weg! Met minder neem ek geen genoeë nie.

Maar is dit nie om wanhopig van te word nie? !

Ons was reeds bly dat ons paal en perk kon stel aan die sonde in ons lewe; dat ons die sonde in 'n hoë mate aan bande kon lê. Maar nou slaan God al ons tevredenheid daaroor sommer weer uit ons hande uit en sê: dis heeltemal onvoldoende!

God dwing ons tot die gevolgtrekking: dit is nie net bepaalde sondes, af en toe, wat ons voor Hom skuldig maak nie; sondes waarteen ons soveel as moontlik moet stry nie. Dis veel erger: ons hele lewe word beheers deur 'n giftige fontein binne-in ons. En wát ons ook al probeer- ons kry daardie fontein, ons sondige aard, nooit onder beheer nie. Want wie kan dit keer dat daar skielik verkeerde begeertes in hom opkom? En as ons dit probeer keer, is ons klaar te laat. Selfs in ons drome, waaraan jy mos niks kan doen nie, blyk dit in hoe 'n mate die sonde selfs ons onderbewussyn beheers.

Die beste sielkundige kan dit nie verander nie.

En nogtans eis God dat dit moet verander. Dat daar geen spoor van verkeerde begeertes meer in ons oorbly nie.

Is dit nie om wanhopig van te word nie?

Maar so wanhopig wil God ons ook hê, gemeente! Dis juis dié dat Hy tenslotte so onontwykbaar skerp sy Wet aan ons stel.

Sou God dit minder skerp stel- u sou sommer weer op u self begin vertrou; op u ywer in die stryd teen die sonde; op u oorwinnings op die sonde. U sou kon dink dat u die sonde al hoe beter baas word, veral as u uself met ander vergelyk.

Maar nou moet u en ek, ons almal, wel verslae erken: God se Wet is te swaar vir my. Dit lê nie aan daardie Wet nie. Dit lê aan myself; aan my deur en deur sondige hart. Die sonde sit te diep by ons.

Hoe raak ons ooit daarvan ontslae?

Kyk, so ver wil God ons hê. Daarom laat Hy sy Wet so streng aan ons voorhou, al weet Hy ook by voorbaat dat niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie.

Want op hierdie wyse bring Hy ons op die knieë. En op hierdie wyse hoú Hy ons op die knieë. Hy dwing ons om in die spieël van sy Wet te kyk sodat ons ons sal dóódskrik, het ek in die begin van hierdie preek gesê. Ja, ons moet ons doodskrik sodat ons nie langer selfvoldaan die lewe in onsself sal soek nie, maar buite onsself.

Eers as ons onder die skerp prediking van die Wet afgebreek en verbrysel is, sal ons 'n Psalm soos Ps. 130 uit die grond van ons hart begin sing:

Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o HERE, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor!

As u, o HEER, die sonde
na reg sou gadeslaan,
wie sou een enk'le stonde
voor U, o Heer, bestaan? !

Die Wet onthul ons groot skuld, ons onmag en onwaardigheid om in God se nabyheid te kan verkeer.

Maar die bedoeling daarvan is nie om ons uit God se nabyheid weg te ja nie! Ons moet nie wegvlug nie, maar ons toevlug neem tot die gekruisigde Seun van God, ons Verlosser Jesus Christus.

Die prediking van God se Wet is, juis omdat dit so skerp sny, heeltemal aan ons verlossing diensbaar, broeders en susters. Hoe skerper die Wet gepreek word, des te duideliker besef ons dat ons nog slegs kan lewe danksy die vergewing van sondes wat Christus met sy offer op Golgota vir ons bewerk het. God hou ons met sy Wet klein, sodat Christus groot bly in ons lewe. En so bewerk Hy deur sy Wet ons regverdigmaking.

Ons moet elke dag opnuut ons buig en verslae van hart bely: "Ek het ook vandag teen al u gebooie swaar gesondig en geeneen daarvan gehou nie, en ek is nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig. O God, wees my sondaar genadig. Om Jesus ontwil".

Dit bly 'n lewenslange leerproses, waarin ons toenemend ons eie sondige aard moet leer ken. Besef van sonde is nie 'n bepaalde fase in die lewe van 'n christen wat jy op 'n stadium, na 'n geslaagde oorgangseksamen, agter jou kan laat nie. Die HERE laat ons gedurende ons hele lewe met ons sondige aard worstel, en Hy dwing ons met die skerp prediking van sy Wet toenemend om ons te skaam. Ons moet al hoe duideliker besef hoeseer ons in alle opsigte te kort skiet teenoor God en teenoor mekaar. Ons kleinsielighede en kleinmenslikhede, ons kompromisse en gemaksugtighede, ons selfsug en skynheiligheid.... ons moet al hoe meer begin voel hoe onverdraaglik dit vir God moet wees.

Want wat anders kan ons dan nog maak as om elke dag terug te val op ons doop en dit weer te leer: Ek is te vuil om voor God se oë te verskyn. Net Christus se bloed kan my nog van al my sondes skoonwas.

Wat anders kan ons dan nog maak as om elke keer weer skuldbewus aan te skik aan die tafel van die Here en uit sy hande brood en beker aan te neem tot 'n volkome versoening van al ons sondes?

Sien u, gemeente, dat die skerp wetsprediking volop aan ons verlossing diensbaar is? Skerp wetsprediking is juis heilsaam aangesien dit ons na Christus toe dryf. Dit is onmisbaar om ons van genade-alleen voor God te leer lewe.

2. Maar wanneer God ons eenmaal so ver gekry het, kom daar ook meer. Dan werk God ook verder in ons lewe. Wanneer Hy deur middel van die prediking van sy Wet aan ons regverdigmaking gewerk het, sorg Hy terselfdertyd vir ons heiligmaking, die daaglikse vernuwing van ons lewe.

Want wanneer die prediking van God se gebooie in al sy skerpte by ons 'n afkeer van die sonde, ja, van ons sondige aard veroorsaak het en die begeerte na vergewing van ons sondes laat groei het, groei daar soos vanself ook die begeerte na 'n radikale en totale vernuwing. Dan is genade-alleen vir ons nie genoeg nie. Dan wil ons ook dat God se genade ons genees; ons genees van ons sondige aard; van ons dodelike hartkwaal. Dan wil ons nie langer lewe met so'n giftige fontein binne-in ons nie. Dan wil ons hê daardie bronwel moet verdwyn. Of totaal gesuiwer word. Dan verlang ons na 'n nuwe hart. So, dat selfs die geringste neiging of gedagte teen enige gebod van God nooit meer in ons hart kan opkom nie, maar dat ons altyd en hart-grondig vyande van alle sonde is en 'n begeerte tot alle geregtigheid hê.

As God se skerp Wet een keer ons hart geraak het, besef ons dat ons nog maar beginnelinge is op die pad na die herstelde paradyslewe. Maar ons het nie die minste behoefte daaraan om ons agter die verskoning te verskuil "dat selfs die allerheiligstes nog maar 'n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid het nie". Ons is nie meer tevrede daarmee dat ons die uitbrekende sondes bietjie binne perke kan hou nie. Ons stel onsself ook nie gerus met 'n deursnee gereformeerde lewe wat in die oë van ander mense wel min of meer aanvaarbaar is nie. Daar is geen sprake meer van oppervlakkigheid, gemaksug en kompromisse nie. Maar ons skaam ons daaroor dat ons nog so bitter weinig tereg bring van 'n lewe in liefde met God en die naaste.

Wat is daar mos, in weerwil van alle preke oor God se gebooie wat ons in ons lewe alreeds gehoor het, en in weerwil van al die huisbesoeke waarin ons aangespoor is om met nog meer ywer vir die HERE te lewe- wat is daar by ons nog baie eiewysheid, oppervlakkigheid en opvlieëndheid, afguns en hebsug, onreinheid, skynheiligheid en geskinder.

Maar dit kán nie so bly nie! Ons wíl dit nie meer nie. Ons kan eenvoudig nie hierin berus nie. Dit moet tog al hoe beter met ons word? Moet ons nie hoe langer hoe meer na die ewebeeld van God vernuwe word nie? Sodat ons weer word soos ons eendag was, in die paradys? Mense wat die liefdeswet van hul God en Vader in hul hart gedra het in 'n volmaak goeie lewe?

Dus volstaan ons nie daarmee om alleen vergewing van God te vra terwyl ons verder ons sondige gang bly gaan nie. Nee, ons gaan bid ook al hoe vuriger om die totale suiwering van ons lewe deur die Heilige Gees.

En ons gaan uitsien na die dag waarop ons word losgemaak van hierdie sterflike liggaam. Nie omdat ons lewensmoeg is nie. Maar omdat ons moeg vir die sonde is. Omdat ons heeltemal vir Gód wil lewe en daarom ontslae wil raak van hierdie liggaam met sy sondige aard. Ons gaan verlang na die bereiking van die volmaaktheid, die nuwe paradys waarin ons weer volkome heilig met God en ons naaste sal lewe.

Ken u so'n verlange by uself, broeders en susters?

Ja?

Dan bemerk u in u eie lewe dat 'n skerp prediking van Gods Wet dus wel deeglik sinvol is. Dat dit heilsaam is om in die spieël van die Wet te kyk.

Daardeur bereik God dat u tog met 'n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie maar volgens al sy gebooie te lewe. Daardeur wek Hy in u die verlange na meer, na volmaaktheid. Hy plaas u deur die prediking van sy ou paradyswet op die weg na die nuwe paradys. Ja, Hy ja u deur sy Wet rusteloos voort op daardie pad. Hoe indringender die wet gepreek word, des te vuriger moet u verlange word na die volmaaktheid. Want dáár wil God ons hê: volkome verlos. Eerder is Hy nie tevrede nie. En eerder mag u ook nie tevrede wees nie.

Moet dus maar aandagtig in die spieël bly kyk. En u nie te gou vererg as die spieëlbeeld nie te aangenaam is nie. Want as die skerpte van die Wetsprediking afgeslyp word, sal ons lewe met God sy diepgang verloor. Ons sal nie meer rêrig verdrietig wees oor die sonde en nie meer verwonderd oor God se genade nie. Ons sal nie meer huiwer vir die grootheid van God nie. En ewemin sal ons iets gewaar van die afgrond van ons skuld teenoor God en ons naaste. Ons sal nie meer regtig ons toevlug neem tot die gekruisigde Christus en nie meer jaag na die heiliging van ons lewe nie. Die doop word 'n vertederende tafereeltjie en niemand kom meer met 'n verslae hart na die nagmaal nie. Ons sal al hoe meer selfgenoegsame christene word, wat hooguit nog party pynstillers benodig. Daar is nie meer werklike bekering by ons nie, ons hou net nog 'n christelike fatsoen in stand. Pleks van 'n heilsame onrus oor ons skuld teenoor God en ons sondige aard wat ons bly pla, kom daar 'n valse gerustheid. Dit gaan mos goed met ons... En ons besef nie dat die ryk van die bose alreeds besig is om ons weer in te sluit nie!

Kyk gemeente, daarom kan u nie sonder 'n skerp wetsprediking nie. Wie weier om in die spieël van Gods volmaakte Wet te kyk, wie hom vererg oor sy spieëlbeeld en daarom sy oë en sy ore toemaak, draai sy rug op die verlossing wat God deur hierdie middel juis wil bewerk.

AMEN.

(Pretoria 23 September 1990)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)