Volg Jesus Christus, die betroubare getuie, met hart en mond!

Predikant: 
Ds EA de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

27-10-91

SONDAG 43

Openbare geloofsbelydenis

Votum - seëngroet
Sing: Ps. 12 : 1, 2, 3
Wetslesing
Sing: Ps. 15 : 1, 2, 3
Skriflesing: Mattheus 26 : 59-66, 1 Timotheus 6 : 6-16 (herinnering aan 8ste gebod), Openbaring 1 : 4-8
Sing: Ps. 12 : 6, 7
Formulier vir die Openbare geloofsbelydenis
Sing: Geloofsbelydenis
Gebed
Sondag 43 HK
Prediking
Sing: Ps. 122 : 1, 2
Dankgebed
Kollekte
Sing: SB. 25 : 1, 2
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

dit wat 'n erediens anders maak, vang ons aandag. Die feit wat dié diens anders maak is: dat daar hierdie môre 15 jongmense in die openbaar hulle geloof bely en dat een jongman, deur die Here gelei, bewustelik vir die Vrye Gereformeerde Kerk kies. Dit maak die hele erediens spesiaal. Dit skerp jou aandag, dit hou jou wakker.

'n Groot gevaar wat ons altyddeur bedreig is, dat die mooi dinge, die mooiste dinge tot 'n sleur word. By die votum en die seëngroet is ons nog nie heeltemal daarby nie. Die lesing van die Wet maak jou eintlik alweer aan die slaap. By die Skriflesing gaan dit dan gelukkig 'n bietjie beter. Die seëngroet: vanoggend het ek spesiaal dié uit Openbaring 1 gekies. "Genade en vrede ... van Jesus Christus, die getroue getuie!". Het u dit gehóór? Het dit tot jou deurgedring? Nee? Dan mag dit nou: met die oog op die volgende keer.

Toe die oubaas, die apostel Johannes dié groet neergeskryf het, het dit werklik gebeur dat Jesus Christus homself aan hom geopenbaar het. Die visioen was op sy netvlies ingebrand. Hy, die Seun van die mens het homself in sy volle hemelse heerlikheid geopenbaar! "Ek het tussen die sewe kandelaars Een soos die seun van die mens gesien, met 'n kleed aan wat tot sy voete hang, en gegord om die bors met 'n goue gordel" (vs. 13). Indrukwekkend, werklik het Christus nog een keer verskyn! Hy het verskyn soos u Hom vandag in die hemel mag voorstel, soos Hy vir jou is! Hom mag ek ook sien, wanneer ek vir u die 9de gebod van die ou wet van die Sinaï vandag mag verkondig.

Die 9de gebod verkondig u vandag, op 'n dag van geloofsbelydenis:

VOLG JESUS CHRISTUS, DIE BETROUBARE GETUIE, MET HART EN MOND!

Doen dit

  1. in God se wêreld,
  2. as christen-mens en
  3. saam met die christlike kerk

1. VOLG JESUS CHRISTUS, DIE BETROUBARE GETUIE, MET HART EN MOND: IN GOD SE WERELD

Dit mag dalk 'n bietjie bedwonge lyk om nou, rondom die mooi openbare geloofsbelydenis, tog ook oor die 9de gebod en vanuit die Kategismus te preek. Wag maar rustig: die waarde daarvan sal u duidelik word. Daar is 'n mate van ooreenkoms tussen die sfeer van openbare regspraak wat die 9de gebod oproep, en die openbare karakter van die geloofsbelydenis. Dit is mos baie belangrik dat die woorde wat gebruik word, wáár is: "laat julle ja-woord 'já' wees". En: daar is 'n klomp getuies. Hulle hoor wat jy sê en onthou dit. Hulle kan later as getuies opgeroep te kan word, wanneer dit nodig mog wees.

Nou wil ek met u die sfeer van die regspraak, soos dit deur die HERE in sy 9de gebod bedoel is, met u proe. Letterlik vertaal sê dié gebod: "jy mag nie as 'n leuenagtige getuie teen jou naaste optree nie". Die regspraktyk van die Ou Testament was dat daar nie 'n advokaat en nie 'n openbare aanklaer is nie. Daar was dus nie beroepsmense wat óf die staat in die aanklag verteenwoordig het of die aangeklaagde professionel verdedig het nie. Daar was net die getuie wat aankla en die getuie wat ter verdediging daar is. Die man wat die sonde of oortreding gesien het, moes as aanklaer optree. Die getuies wat die aanklag ondersteun, moes sterk oortuig wees van die waarheid van die aanklag: só sterk dat hulle bereid moes wees om, ingeval van die doodstraf, self die eerste klip te gooi. Die sentrale figuur is dus nie die regter, nie die openbare aanklaer, nie 'n beroepsadvokaat nie, maar die getuie. Hy klaag aan of ondersteun die aanklag van 'n ander óf hy getuig van die onskuld van die aangeklaagde. Sien u hoe belangrik dit is: die betroubaarheid van die getuie! Die hele regsaak lê in sy hand. Die toekoms van die aangeklaagde lê in sy hand. Dit lê in die hand van 'n gewone mens soos wat u is.

Dink aan die geval van Salomo se wyse regspraak. Daar is die twee vrouens wat saam voor die regter verskyn, niemand meer nie. Of dink aan die saak teen Naboth van Jisreël: twee valse getuies is gereël en die saak is rond. Naboth word gestenig, hulle smyt die klippe. Dink aan die reël vir Israël: "op die getuienis van twee of drie sal enige saak vasstaan". Dit lyk baie primitief: ou stamtradisies in 'n ongesiviliseerde land. Nee, daar is niks primitief, wanneer die HERE die een sterk versekering aangebring het nie: jou woord moet altyd betroubaar wees, wanneer dit oor jou naaste, oor sy lewe, sy toekoms gaan. So wou God die lewe in sy wêreld reël. Wanneer mense vir hom luister, hoef daar nie 'n ingewikkelde sisteem van reëls te bestaan nie. Kyk, dit sê iets oor die hele wet van die HERE! Hy gee u in die nuwe verbond nie baie details nie: u mag sy wil ken en eenvoudig gehoorsaam wees.

Nee, ons mooi erediens het niks met 'n regssitting uit te waai nie. Die 9de gebod noem spesifiek die regspraak van God se volk. U weet van die ander gebooie egter lankal dat die een gebod maar net die toppie van die ysberg is. Die een gebod noem 'n punt van wat 'n hele terrein van die lewe is. Op die kritieke punt van 'n vonnis in 'n strafsaak kom jy agter wat die waarde van mensewoorde ten opsigte van jou naaste is. Daar is egter meer beslissende momente in die lewe. Vandag is so 'n belangrike dag: julle het jul belofte aan die Here gegee! Daar is getuies wat saam met julle bly is. Getuies het by die HERE 'n verpligting. In die Ou Verbond mog jy nie weghardloop, wanneer jy 'n sonde gesien het nie. Jy moes getuig. U broers en susters mag ook nie weghardloop, wanneer julle sou struikel nie. Daar kom die groot verskil: jul broers en susters sal julle nie eerste veroordeel nie, maar hulle is eerste geroep om julle te help. Hulle mag jou herinner aan jou belofte, aan die mooi dag waarop jou "ja"woord so 'n groot waarde gehad het. Dit is met hart én mond mekaar liefde bewys.

So leef ons saam in God se wêreld. U mag getuies wees van mekaar se mooi momente. Om ook op moeilike dae saam te staan en saam te getuig. U is 'n volk, soos Israël die ou volk van God met sy eie regspraak was. God se reëls om op mekaar ag te gee is baie eenvoudig en baie mooi. Kyk, dit is dikwels die waarde van eers na die Ou Testament kyk: dit leer jou om met altwee jou bene op die grond te staan, oom ook in die geloof eenvoudig en prakties te wees. Só kom jy in die rykdom van die geloof van die NT! Met altwee jou bene in God se wêreld, bewus van God se oë wat in genade op jou neersien. Kom ons luister dan nou ook vir die Nuwe Testament:

2. VOLG JESUS CHRISTUS, DIE BETROUBARE GETUIE, MET HARD EN MOND: AS 'N CHRISTEN MENS

Die Here Jesus het onder die kruis van die 9de gebod deurgegaan. Hy wou ook dié gebod eerbiedig: Hy het dikwels wel skerp vir sy naaste gepraat, soos met die ryk jong man wat Hom wel en eintlik ook nie wou volg nie of soos met Fariseërs, Sadduseërs en Skrifgeleerdes wat Hom nie wou aanvaar nie. Ja, die Here het baie skerp die leuen aangewys. "Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan" (Joh. 8:44). Vanuit hierdie woord van Jesus praat die Kategismus van 'lieg en bedreig as die duiwel se eie werk'.

Ja, dit maak seer. Maar hoor jy ook hoe Jesus die gevaar van die leuen vir joú identifiseer? Dit wat so gevaarlik is, sny Hy vir jou uit. Ja, dit maak seer, wanneer Hy iets uit jou lewe uitsny: skinder, 'n story verdraai, iemand sleg laat lyk om self beter te lyk. Hy wil jou egter 'n christenmens maak, soos Hy! Jesus het nooit sy naaste belaster nie, nooit geskinder nie. Ja, Hy was juis in enige mens persoonlik geïnteresseer. Tog het spesiaal die 9de gebod so 'n groot en verskriklike rol téén Hom gespeel.

In Mattheus 26 het ons gelees hoe opsetlik valse getuies gesoek is om teen Jesus van Nasareth te getuig. Daaraan het vooraf-gegaan dat die Joodse leiers, sê Lukas, spioene onder die volk wat Hom gevolg het, uitgestuur het om "Hom op 'n woord te kon betrap" (Luk. 20:20). Dan kom die proses: 'n skynproses wat onder die dekmantel van die nag gevoer word. En hulle "het valse getuienis teen Hom gesoek om Hom dood te maak en niks gevind nie" (Mt. 26:59). Die volk van God het die bedoeling van God se wet totaal eenkant geskuif: met hart en mond. Tydens daardie voorbereidende proses word die Heiland dan ook nog deur sy vriend, sy volgeling Petrus verloën. Verloëning, pleks van belydenis van die pragtige geloof in die Heiland. Voel u hoe naby die 9de gebod ons vanmôre is?! Want wat was die ergste: dat verstokte ongelowiges kwaad van Jesus spreek of dat sy volgeling, soos die christenmens Petrus su Here verloën? Altwee is sonde teen die 9de en teen die 3de gebod. Dit wys hoe mense hulself kan afskerm om nie te glo nie. Dit wys ook hoe christenmense kan struikel op die pad om Jesus te volg. Toe is deur middel van verkragting van die 9de gebod Jesus veroordeel vir 'n sonde teen die 3de gebod: godslastering.

Maar, kwaad spreek van 'n mens is tog nie dieselfde as die valse getuienis wat die Heiland aan die kruis moes bring nie? Nee dis nie dieselfde omdat u die Heiland nie kan veroordeel nie. Wat egter daarvan, as Christus die sonde van kwaadspreek teenoor jou naaste opvat as 'n sonde teen Homself? Hy het van die waarheid getuig, Hy het u die waarheid in sy suiwerste vorm gegee. Dan mag u nooit meer die leuen toelaat nie. Volg Hom met hart en mond. As jou hart suiwer is, sal jou mond suiwer spreek. Ondersoek jouself of daar ook liefde vir jou naaste in jou hart is. Of kom kwaadspreek in die gemeente daaruit voort dat ons nog nie geleer het om mekaar lief te hê nie? Leer dan maar van u Heer om eindelik 'n christenmens te word, 'n mens wat Christus sien en soek en volg. 'n Mens wat bly is dat Hy tenminste suiwere waarheid is, suiwere liefde, ook teenoor jouself.

Teen die grootste leuen, die skynproses teen Homself, het die Heiland van die waarheid getuig. Dit is waaroor Hy met Pontius Pilatus gepraat het. "Wat is waarheid?", vra Pilatus skepties. En tog getuig dié regter publiek dat Jesus onskuldig was. En hy het gehoor hoe Jesus Homself die Seun van God en Koning van die Jode noem. Die apostel Paulus het daaroor nagedink. Hy skryf dan oor "Jesus Christus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het" (1 Tim. 6:13). "Betuig" is letterlik inderdaad: "getuie wees van". Jesus Christus, die kroongetuie van wat die goeie belydenis is! By Hom leer jy, van Hom hoor jy wat die beste is om te glo en om te bely. Een stappie verder doen Johannes, as hy die mooi omskrywing gee: ek groet julle met die genade van Jesus Christus, die "getroue getuie", die hoogsbetroubare (Openb. 1:5). Hy het mos die Here self die brief aan Laodicea se gemeente hoor dikteer: "Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige getuie, Ek ken jou werke" (3:14). Hóór u Hom? Sién u Hom?! Dit is waar 'n erediens toe bestem is: om die beeld van Christus voor u oë te kry, om Hom te kan volg, met hart en mond, om christenmense te wil wees.

3. VOLG JESUS CHRISTUS, DIE BETROUBARE GETUIE, MET HART EN MOND: SAAM MET DIE CHRISTELIKE KERK

Wanneer die apostel Paulus só aan Jesus se getuienis teenoor Pilatus herinner, doen hy dit om met krag op die dag van Timotheus se eie belydenis te kan wys. Man, "jy het die die goeie belydenis voor baie getuies afgelê" (1 Tim. 6:12)! Jy het daarin jou Here nagevolg! Stryd dus die goeie stryd van die geloof ook vorentoe. En doen dit saam met die hele christelike kerk. Daarom herinner Paulus aan die "baie getuies" wat op die dag van Timotheus se belydenis aanwesig was. Op grond van die getuienis mag Paulus sy leerling aanmoedig: hou vol! Ons mag mos saam in die geloof volhou!

Julle weet so baie oor God se ryk genade: in die persoon en die lewe van ons Here Jesus self. Julle weet hoe Hy vir die waarheid gestry en gesterf het. Julle het die Woord van God ontvang en het die volle onderwys daarin saamgekry. Die Heilige Gees het jou sover laat groei dat jy jou geloof saam met ander jongmense wou bely. Jy het jou "ja"-woord gegee. Besef nou ook vorentoe die waarde van jou woord. Jy kry nou as volwasse mens 'n volle plek in die gemeente. Mense gaan vir jou vertroue skenk, jou hulp vra, op jou reken. Sal jy betroubaar wees? Jy is geroep om ook op die ander ag te gee: sal jy dit waag om van God se genade en wysheid te getuig, wanneer daar moeilikheid is? Ja, die 9de gebod is, kan mens sê, 'n sosiale gebod. Die Here wil ook in die Nuwe verbond die verkeer van sy volk reël en beskerm. Dus: verdraai niemand se woorde, wees nie 'n onrusstoker of 'n kwaadspreker. Daar is al teveel van hulle. Veroordeel niemand onverhoord en ligtelik, want dit gebeur in die wêreld al so baie.

Ja, wie God se Woorde in sy hart en in sy mond mag neem, sal sy eie woorde op die klank moet afstem. Dan mag jy ook oor mekaar praat! Ja, mense praat oor mekaar. Dit is normaal, dit kan suiwer interesse vir mekaar beteken. Jy mág, sekerlik as gelowiges, oor die ander praat. Jy mag van die ander se geloof, sy eenvoud of sy kennis, sy betroubaarheid of sy wysheid getuig. Die goeie gerug mag jy altyd versprei! Jy mag praat. Daar is een voorwaarde, omdat daar altyd een ding aan jou praat voorafgaan: die Woord van God het dit ryk gemaak om te kan praat. Dus is die voorwaarde om oor die ander te praat: dat jy dit in liefde doen, met die oog op Christus. Dan sal jy saamstaan met die christelike kerk. Dan sal daar 'n christelike kerk wéés: 'n gemeenskap van sondaars wat ook mekaar "heiliges" wil noem.

"Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie". Is dit nie ook 'n sterk, 'n vlammend gebod, wanneer ons oor christene in ander kerke praat nie? Ja, jy mag 'n gemeenskap op sy trekke beoordeel. Die kenmerke is in ons belydenis, uit God se Woord opgesom. Dan is jy egter al besig aan 'n swaar taak: die gerig oor die wese van 'n kerk. Dit kan ons net saam maak: in die gesamentlike wysheid, terwyl ons op mekaar ag gee om nie ligtelik en onverhoord te oordeel nie. Dit lyk dikwels asof ons negatiewe berigte versamel. Kom ons soek ook vir goeie getuienis, wanneer dit voor God se aangesig kan bestaan. Die christelike kerk moet altyd getuie van die waarheid wil wees. Want as ons sou lieg, wie sal dan die kerk glo wat die waarheid wil verkondig?

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)