God roep ons om burgers van die ryk van die waarheid te wees

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 43
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 43 H.K.

LITURGIE:
L. Joh. 8: 31-47 & Joh. 18: 33-38 & 2 Joh. 1: 1-6
Ps. 15: 1, 2
Ps. 86: 6
Ps. 10: 1, 2, 3, 5, 8, 9
Ps. 25: 4, 5
Ps. 34: 6

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ek mog u vanmôre, aan die begin van die diens, weer met "die genade en vrede van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eersgeborene uit die dood en die Owerste oor die konings van die aarde" groet.

So kom ons Here elke sondag na ons toe: as die Koning wat deur sy opstanding uit die dood alle mag in die hemel en op die aarde gekry het, die Koning van die konings, ja, die Owerste van die konings van die aarde.

Maar boonop as die getroue Getuie. Hierdie Koning hou Homself nie deur lis en bedrog en slinkse middele oorent nie. Sy mag word nie deur leuens verleng nie. Inteendeel, Hy is 'n volkome betroubare Koning. Hy is een en al waarheid. Hy mag Homself "die Waarheid en die Lewe" noem. En so word ook sy Koninkryk deur die waarheid getipeer. Ja, hierdie ryk stry vir die waarheid.

So, broeders en susters, kom Christus telkens na ons toe, en so mag ons Hom as ons Koning ken.

Maar daarmee mag ons onsself dus terselfdertyd as sy onderdane ken. Ons is burgers van sy ryk, daardie ryk van die waarheid waarin die waarheid die lewe beheers.

En as ons nou so ons Koning en onsself ken, sal dit vir u heeltemal vanself spreek dat een van die bepalings in die Grondwet van die ryk van Jesus Christus is: "Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie".

Immers: so Koning, so volk. As Hy die Getroue Getuie is, mag ons geen valse getuienis spreek nie. Dit sou vierkant teen die styl van sy Koninkryk indruis.

Ons gaan vanmôre aan diè grondreël van Christus se Koninkryk aparte aandag gee.

Ons doen dit onder hierdie tema:

GOD ROEP ONS OM BURGERS VAN DIE RYK VAN DIE WAARHEID TE WEES

  1. DIE DUIWEL HET ONS UIT DIE WAARHEID WEGGEHAAL
  2. CHRISTUS HET ONS IN DIE WAARHEID WEERGEBRING
  3. DIE HEILIGE GEES LEER ONS IN DIE WAARHEID WANDEL.

1. Wat is waarheid?

Met diè vraag het Pontius Pilatus die gesprek met Christus oor sy eienaardige koningskap beëindig. Ons het dit in Joh. 18 gelees. As Christus sê Hy is inderdaad 'n Koning, maar Hy wil nie met geweld nie maar met die waarheid die wêreld verower, is Pilatus nie lus om langer te praat nie. Dit word vir hom te moeilik, ongrypbaar. Waarheid- wat is waarheid?

Maar juis toe moes Pilatus die gesprek voortgesit het. Juis toe moes hy Christus se antwoord afgewag het.

Want diè vraag was nou juis die kernvraag. Met die vraag het hy baie naby die geheim van Christus se koningskap gekom.

Wat is waarheid?

Ons tref diè woordjie "waarheid" dikwels in die Bybel aan. Veral in die Nuwe Testament.

Waarheid is meer as dat jy nie teen 'n ander lieg nie.

Die apostel Paulus skryf in Romeine 1: 18 dat die goddelose mense "in ongeregtigheid die waarheid onderdruk". En uit die vervolg van daardie hoofstuk word duidelik dat Paulus met die woordjie "waarheid" hier bedoel: die werklikheid, die realiteit. Die werklikheid naamlik, dat hierdie wêreld Gòd se wêreld is, dat ons mense sy skepsele is. Dit is die waarheid, die werklikheid, dit is die feite: daar begin geen nuwe dag, of die HERE, die Almagtige, bewerk dit. Die lig en warmte van die son, die skynsel van die maan en die sterre- dit alles is sy werk. Sneeu en donderstorms, bloeiende blomme en bome, indrukwekkende bergformasies, gevaarlike roofdiere en die hondjie van ons kinders- Hy het dit alles gemaak en dit behoort Hom toe. Ja, Hy is dit wat aan almal lewe en asem en alles gee. In Hom leef ons, beweeg ons en is ons. Ons toekoms lê in sy hande.

Want uit Hom, en deur Hom, en tot Hom is alle dinge.

Sonder Hom kan ons niks doen nie.

Dit is die werklikheid. Dit is die waarheid.

Maar vir die waarheid het die mens vanaf die sondeval geen oog meer nie. Hy onderdruk die waarheid. Alhoewel hy die HERE in hierdie wêreld, Gòd se wêreld, oral raakloop, sluit hy sy oë vir die werklikheid en leef asof daar geen God is nie.

Want die vader van die leuen, die duiwel, het die oë van die mens vir die waarheid toegemaak.

Met hom, die duiwel, het die alles begin. Hy het die waarheid geweld aangedoen. Ons het in Joh. 8 gelees dat Christus oor die duiwel gesê het: "Hy staan nie in die waarheid nie". 'n Noukeuriger vertaling is (u kan dit byv. in die ou Hollandse Statenvertaling aantref): "Hy het in die waarheid nie staande gebly nie". Met ander woorde: in die volmaakte skepping van God, soos dit eendag daar was, waarin God alles in almal was, het hy omvergeval. Ook hy was eendag 'n gehoorsame engel van God, vol ywer om sy Here te dien. Maar hy het die regte kyk op die HERE en op die verhouding van die skepsel tot die Skepper kwytgeraak. Hy het homself tot die middelpunt van die lewe wil maak. En vanaf daardie oomblik was hy die gevoel vir die regte verhoudings in heel God se skepping kwyt. Die waarheid het hom ontglip. Toe hy hom van God afgekeer het, het hy alles in God se skepping onderstebo gekeer en het hy homself in 'n skynwêreld waarin die werklikheid nie meer onder oë gesien word nie, opgesluit.

En toe het die duiwel, die vader van die leuen, die mens gaan opsoek om hom in sy val mee te sleur.

Hy het begin om met 'n geslepe leuen Mannin van haar God los te week, hy het twyfel aan God se betroubare Woord gesaai en het die mens teen sy God opgehits: een kleine daad van ongehoorsaamheid sou groot gevolge kry: die mens sou net soos God wees en daarmee feitlik die HERE nie meer nodig hê nie. Hy sou, onafhanklik van God, sy eie lewe en toekoms kan opbou.

Met diè leuen, gemeente, het die waarheid uit die wêreld begin wyk. Adam en Mannin het vir die advies van die vader van die leuen en teen die gebod van die God van die lewe gekies. Hulle wou dit voortaan sonder God probeer.

En toe wàs die waarheid uit die wêreld weg en het die ryk van die leuen sy heerskappy hier op aarde gevestig.

U moet dit maar in al sy breedheid opvat. Deur na die vader van die leuen te luister het die mens in 'n bedrieglike wêreld tereg gekom. 'n Skynwêreld wat met die werklikheid in stryd is. Dit is baie meer as alleen dat die mense nou mekaar bedrieg en belieg.

Die mens bedrieg heel eerste homself. Soos Dawid in Psalm 14 sing: "Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie". Dìt is die ding! Die mens maak homself voortdurend wys dat daar geen God bestaan nie. Hy het homself 'n god gemaak. Hy het, soos Paulus dit in Rom. 1 uitdruk: "die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens". Hy het die die majesteit van God van die troon gehaal en homself, koning mens, daarop gesit. "Hy het die waarheid van God verruil vir die leuen en die skepsel vereer en gedien bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid".

So onderdruk die kinders van die duiwel in ongeregtigheid die waarheid. Die werklikheid, dat God ons Skepper en Koning is, en dat daar vir ons geen lewe, geen toekoms buiten Hom is nie, en dat Hy daarvoor verheerlik en gedank moet word- diè werkliheid word deur die mens brutaal weggedruk, onder die tafel gewerk. Hy praat homself en die ander aan dat God nie bestaan nie.

"Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie".

Ja, soos Dawid in Psalm 10 gesê het: "Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie, Hy vra geen rekenskap nie. Daar is geen God nie- dit is sy gedagtes".

Teen diè donker agtergrond staan die Negende Gebod, gemeente. Want u sal verstaan dat 'n mens wat homself bedrieg en leef asof daar geen God is nie, asof hy self God is, nou met alles wat in hom is die skyn wil bewaar. Hy moet nou, laat dit kos wat dit wil, homself in sy skynwêreld oorent hou. En veral die wonderlike gawe van die tong, die taal, die spraak word daarvoor ingeskakel. Want die tong is 'n pragtige kommunikasiemiddel in 'n wêreld waarin God alles in almal is: 'n middel om Hom, die HERE te loof en te prys en om onder mekaar die diepste gevoelens uit te wissel. Vra aan een wat doof geword het, of aan 'n mens wat na 'n breinbloeding of 'n beroerteaanval die beheer oor sy spraak geheel of gedeeltelik verloor het, en u sal besef hoe groot die geskenk van die spraak is.

Maar daardie pragtige geskenk het in die ryk van die duiwel, die ryk van die leuen een van die gevaarlikste wapens geword om die waarheid te onderdruk! Deur laster, spot, dwaalleer, in boeke, radio- en t. v. programme, ja selfs in preke probeer die mens om God buite die lewe te hou. "Daar is geen God nie".

Deur gelieg en bedrieg, geskinder en huigelary probeer die mens ook sy naaste op 'n afstand te hou. Want jou medemens vorm 'n potentiële bedreiging vir jou posisie. Almal wil immers god wees. En dus is elkeen jou mededinger wat jy moet probeer uitskakel.

Wanneer mense geen oog vir die waarheid meer het nie, as hulle hul oë vir God gesluit het, word hulle direk klipharde egoïste wat in die omgang met mekaar nog maar net op eiebelang uit is, hulleself wil handhaaf en daarvoor desnoods die ander met leuen en bedrog eenkant skuif. En dan kan woorde doodmaak!

Die vader van die leuen het die lewe hier op aarde in een groot leuenagtige samelewing verander.....

2. Maar in diè wêreld het die Seun van God ingekom om weer vir die waarheid te getuig. As koning van die ryk van die waarheid het die die stryd met die ryk van die leuen kom aanbind. "Luister na my Woord", het Christus gesê, "en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak". Ek kom julle die waarheid vertel en die skynwêreld van die Bose stukkend prik. Ek kom julle weer in die waarheid terugbring, in die werklikheid waarvoor julle nie meer 'n oog het nie, naamlik dat hierdie wêreld nog altyd God se wêreld is en julle geen lewe in julleself het nie.

Wie na My luister, kry die regte kyk op God terug en sal in plaas van slaaf van die sonde weer kind van Vader word.

Vir daardie hoë doel het Hy in die wêreld gekom.

Dit bedoel Christus as Hy vir Pilatus sê: "Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem".

Maar oor die hoë doel moes Hy eers ten volle ervaar hoeseer die waarheid in hierdie wêreld geweld aangedoen word en hoe oppermagtig die leuen die lewe regeer.

Die duiwel het met leuens en verdraaiing van die Heilige Skrifte ook Hom aan die waarheid ongehoorsaam probeer maak.

Hy moes opkom teen die vervalsing van die diens van die HERE selfs onder God se eie verbondsvolk. Die wetgeleerdes het voorop geloop in die leuendiens en juis hulle het die mees verbete teëstanders van die Koning van die ryk van die waarheid geword.

Met lis en leuens en skynheilige vrae het hulle geprobeer om Hom ten vbal te bring.

Een van sy eie dissipels het Hom met huigelagtige hartlikheid verraai. En toe het die Sanhedrin 'n hele klomp valse getuies bymekaar gemaak om Hom maar te kan doodmaak. En op die ou end het hulle Hom met 'n leuen by Pilatus oor die drumpel geskuif, hopende om Hom langs diè weg vir goed die mond te kan snoer.

En al het Christus toe ook probeer om uit te lê dat Hy gekom het om in die wêreld vir die waarheid te getuig, ook by Pilatus het Hy geen gehoor gevind nie. "Wat is waarheid? ". Pilatus is nie lus om oor so'n filosofiese onderwerp te diskussieer nie.

Dit interesseer hierdie wêreld ook nie eintlik wat waarheid is nie. Die regiem van die vader van die leuen beval opperbes.

En dus was daar vir Christus en sy waarheid geen plek in hierdie wêreld nie. Die duiwel, die mensemoordenaar van die begin af, het die mense tot moord op die Koning van die ryk van die waarheid opgestook. En dit het gelyk asof die leuen vir goed oor die waarheid sou triomfeer.

Maar ook dit was slegs skyn!

Want God se Koning is deur die leuen nie vir eens en vir altyd uit die wêreld weggewerk nie. Hy het deur sy lyding die heerskappy van die leuen juis in beginsel gebreek en die fondament vir sy ryk van die waarheid gelê. Sy ryk wat eendag wêreldwyd verbreid sal wees.

Hom, die Getroue Getuie, is nie vir goed die swye opgelê toe Hy aan 'n kruis opgehang en vervolgens in 'n graf weggestop is nie. Hy het die Eersgeborene uit die dood geword en doe Owerste oor die konings van die aarde. Vanaf Pase kan geen mens of mag sy Koninkryk meer uit die wêreld wegkry nie. Hy het die aanval op die ryk van die duiwel geopen en sal nou nie rus voordat die waarheid dit op aarde volkome gewen het nie.

Hy het geen ander wapen as die Woord van die waarheid nie. Die Evangelie wat sondaars vrymaak uit die greep van die duiwel en na God terugroep.

Orals in die wêreld word die woord van die waarheid nou gepredik. Moet maar daarop let hoe dikwels in die Nuwe Testament God se Woord die woord van die waarheid genoem word.

En daardie Woord van die waarheid is deur Christus toevertrou aan sy kerk. Die kerk is die brughoof van die Koninkryk van die waarheid in hierdie leuenagtige wêreld.

Christus het sy gemeente tot 'n pilaar en grondslag van die waarheid in hierdie wêreld gemaak. Paulus noem die kerk so in 1 Tim. 3. Daar is uitleggers wat pleks van "grondslag" vertaal: pilaar en "aanplaksuil" van die waarheid. Die kerk dra dan die waarheid, soos 'n pilaar, en terselfdertyd dra dit die waarheid uit, soos 'n aanplaksuil. Hoe dit ook al mag wees, in elk geval is dit duidelik dat Christus sy kerk inskakel om in hierdie wêreld vol leuens en valse skyn die waarheid hoog te hou. Dit is ons veelbetekenende plek in hierdie wêreld, broeders en susters: bolwerk van die waarheid wees en terselfdertyd die waarheid in die wêreld indra, uitdra. Mense na die werklikheid van 'n lewe met en voor God terugroep.

3. Want in die kerk leer die Gees van Christus deur die Woord van die waarheid mense weer in die waarheid wandel. Die Heilige Gees wat in die evangelie volgens Johannes ook "die Gees van die waarheid" genoem word. Diè Gees bewerk dat hulle hele lewenswandel weer deur die waarheid beheers word. Dat hulle weer in die werklikheid dat hierdie wêreld God se wêreld is, lewe. En dat die mens sy skepsel is. Die werklikheid nou ook, dat ons mense oor ons eiewysheid en hoogmoed en verset teen ons hemelse Vader almal die ewige dood verdien. Maar dat God in sy genade sy eie Seun uit die hemel vir ons in die dood oorgegee het, sodat ons deur Hom weer sou lewe. Lewe met en vir Hom.

Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.

Maar die Gees leer ons: Daar 's wèl 'n God! Die HERE in die hemel, die Vader van ons Here Jesus Christus.

Neus in die lug sê die goddelose: God vra tog geen rekenskap nie.

Maar die Gees leer vir ons: God vra wèl rekenskap. Van elke ydele woord wat die mense praat, selfs daarvan moet hulle rekenskap gee in die oordeelsdag.

Daarom word ons versigtig met ons woorde. Ons leer om net tot eer van die HERE en tot heil van ons naaste ons mond oop te maak. God moet in al my woorde en werke geprys word.

En my naaste, al is hy ook 'n sondaar en al weet ek ook baie slegtigheid van hom- ek sal sy eer en goeie naam na my vermoë verdedig en bevorder.

Die Gees van die waarheid leer my om nie met leuens 'n medemens kapot te maak, of te benadeel of te mislei nie. Want enige woord wat ek sê, word mos deur God gehoor. Ja, geen woord het nog my tong ontval, of kyk, die HERE weet dit al.

Ek verdraai niemand se woorde in my voordeel of in 'n ander se nadeel. Want ek is bewus daarvan dat my God in die hemel so'n gedraai dadelik agterkom. Ons leef mos onder sy oë en voor sy ore!

En ek kom nie met kritiek agter iemand se rug nie, maar sal padlangs hom of haar die waarheid sê. Maar: met die gees van sagmoedigheid, aangesien ons saam onder God se oë lewe en ek bewus is daarvan dat ek voor God nie beter as hom of haar is nie.

Waar die Gees van die waarheid mense weer leer om in die waarheid te wandel, verdwyn geskinder, en 'n ander swartsmeer. Daar word iemand se sondes nie verder vertel om saam daaroor die hoof te skud en te sê: het jy dit nou verwag?? !! Dat hy so sou maak? nie.

Want hulle weet dat God dit anderste van hulle vra.

Hulle verdedig slegpratery of 'n ligtelike veroordeling van 'n medemens ook nooit met die argument: Maar ek praat mos die waarheid! Dis tog wààr wat ek sê! nie. Want in die ryk wat Jesus Christus opbou, word die waarheid deur die liefde beheers. En die liefde reken die kwaad nie toe nie. Dit is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. En daarom: Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Kortom, gemeente, daar waar deur die Gees van die waarheid God in die menselewe sy oorspronklike plek terugkry en 'n mens weer leer om voor Hom te kniel, word die hele samelewing gesuiwer. Daar kom die tong en die spraak weer in diens van die onderlinge opbouing.

En so ruk ons Koning langsaam maar seker met sy ryk van die waarheid op, teen die ryk van die duiwel. En Hy skakel deur sy Gees ons, sy gemeente daarby in. Daar is alweer 'n plek op aarde waar mense in die waarheid wandel.

En ons Koning sal nie rus voordat die ryk van die leuen heeltemal ten onder gegaan en die waarheid vir goed aan die lig gebring is nie.

En dan sal daar geen mens meer wees wat dit nog waag om te vra: Wat is waarheid? nie!

AMEN

(Pretoria, 30 Julie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)