Gebod oor die werkersdag en oor die gewersdag

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 42
Preek Inhoud: 

Preek van ds G. van Rongen, emeritus-predikant van die GK te Steenwijk (Ned. ) oor Sondag 42 van die Heidelbergse Kategismus

Geliefde gemeente van onse Here Jesus Christus,

In verskeie lande van die wêreld word 1 Mei gevier as "werkersdag". Blykbaar is daar by baie mense behoefte om te besin op en aandag te vra vir die menslike werk en veral ook vir die werkers.

Ons het ook ons bid- en dankdag vir gewas en arbeid. En dan is daar die prediking oor die Heidelbergse Kategismus. Dit beteken dat ook eenkeer per jaar oor Sondag 42 gepreek word - 'n Sondagsafdeling wat sy hoogtepunt bereik as dit oor die werk van die mens spreek. En hierdie laaste aspek sal nou spesifieke aandag kry.

Onmiddellik moet reeds gesê word dat ons besinning op die daaglikse werk baie eiesoortig moet wees. Want dit wat ons hier in Sondag 42 bely is baie eiesoortig. Dit blyk gou-gou as ons daarop let dat een van die bewystekste wat hier genoem word Ef. 4: 28 is.

Daar gaan dit oor die werk. Ons hoor daar die gebod om te werk - nie net vir onsself nie maar ook om aan ander iets te gee: "Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het".

Deur toevoeging van laasgenoemde word duidelik - ook hierdie vers staan onder die reël wat in vers 20 genoem word: "Julle het Christus só nie leer ken nie". In en deur Hom het julle anders geword, want Christus het anders gelewe.

En hier kom die antitese openbaar, ook vir vandag. Ons moet laat sien ons het Christus leer ken. Dit moet ons toon in ons werk. In die feit dàt ons werk en nie staak nie tensy ons gedwing word om teen Gods Woord te handel. Maar ons moet dit ook toon in die doelwit van ons werk. Ons moet en mag nie vergeet nie - ná die ses dae van werk volg elke week een dag wat spesifiek ook bestem is om te gee. So word die evangeliese antitese van Ef. 4: 20 baie konkreet in vs. 28. Die teks waarin gepraat word oor werk en gee.

So het God die Heilige Gees d. m. v. die apostel Paulus die agste gebod vir ons verklaar. In hierdie woorde oor werk en gee, hoor ons ook vandag nog: So sê die HERE. En dan moet ons alle gedagtes wat ons oor die arbeid gevorm het, ons teorieë en -ismes, eenkant skuif. Ook die gehoorsaamheid aan hierdie agste gebod behoort tot die lewe in die Verbond met die HERE wat ons deur Christus leer ken het.

So verkondig ons u die evangelie van die agste woord van Gods Verbondswet -wat is 'n GEBOD OOR DIE WERKERSDAG EN OOR DIE GEWERSDAG.

  1. Wat hier verbied word
  2. Wat hier gebied word.

1. Hy wat die Nuwe Testamentiese briewe, veral dié van die apostel Paulus, met 'n bietjie ekstra aandag lees, vind daarin 'n merkwaardige ding. Nl. dit - die saak van werk en gee kom daarin dikwels aan die orde.

Daar is in die eerste plek die punt van die arbeid. Paulus sê daar baie oor. In verskillende briewe praat hy oor "die geloof wat deur die liefde werk". En verder oor die feit dat diverse gemeentes geprys kan word omdat hy oor hulle geloofswerk gehoor het.

Dit was waarskynlik 'n saak van allerlei christelike aktiwiteite. Opregte christene kan nooit van 'n bloot "vertikalisme" beskuldig word nie - asof hulle net met God of met die verhouding van God en die siel besig sou wees. Ook die christene uit Paulus se dae het baie vir hul medemense en vir die kerk gedoen.

Maar dit val op dat Paulus dikwels presies dieselfde woord gebruik vir die gewone daaglikse werk wat ons moet verrig. Ook dit sien hy as 'n "werk van die geloof". Ook dit het met die gemeente, met die liggaam van Christus te doen. Vir Paulus is werk nie net 'n kwessie van om jou brood te verdien nie. Uiteraard is dit ook 'n aspek daarvan. Die apostel was geen idealis wat met sy kop in die wolke geleef en gesweef het nie, maar hy was 'n nugtere en gelowige realis. In 2 Thess. 3: 12 sê hy bv. dat elkeen rustig moet werk en sy eie brood eet. Ons moet dus werk om ons daaglikse brood te verdien.

Verder is om te werk nie net 'n opdrag wat God in die eerste begin gegee het en waarby die mens as 'n soort vasalkoning in God se wêreld besig moet wees nie. Maar hierdie werk moet ook aan die hele gemeente ten goede kom. Met die gemeente van Christus moet dus rekening gehou word. Ja, dit moet selfs buitekant die gemeente gevoel word.

In die eerste plek sê God dus: daar moet gewerk word. In 'n Westerse samelewing is dit moontlik 'n vanselfsprekende ding, hoewel ook daar baie mense is wat probeer om d. m. v. een of ander sosiale wet aan die lewe te bly sonder om te gaan werk, ookal is dit wel moontlik. Ons ken nog baie bedelaars - soms uit noodsaak, egter ook wel om maar net op 'n ander se beursie te teer.

In die oud-oosterse wêreld was die verskynsel van nie-werkende mense wat op die beursie van ander geteer het ook baie sterk.

Maar Paulus sê teen die mense uit Efese en omgewing: Noudat julle christene is, moet dit anders word. "Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het".

Dit is eintlik 'n herhaling van wat hy teen die ouderlinge van die kerk van Efese gesê het toe hy hulle op die strand in 'n afskeidsrede gewaarsku het: Ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Toe het hy ook nog iets anders gesê, nl.: Julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en dié wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: "dit is saliger om te gee as om te ontvang". Paulus het dus teenoor die Efesiërs tot twee maal toe die waarde van die arbeid hoog geroem. Hy was nie skaam om sy hande vuil te maak nie.

Dit was ook nie net 'n saak van een bepaalde streek nie. Want aan die Thessalonisense (in Griekeland dus) het hy geskryf: Julle moet julle eer daarin stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie (I Thess. 4: 11 en 12). Vir die Thessalonisense het hy dit dus ook tweemaal duidelik gesê. Om te teer op die beursie van 'n ander sou 'n skande wees. Mense buitekant die kerk moes geen aanmerkings aan die adres van die kerklidmate kon rig nie. Op dié tema kom hy in die tweede brief aan die Thessalonisense terug as hy skrywe: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie". Dit gaan hier dus om mense wat nie wìl werk nie. Oor mense wat nie wìl werk nie sê Paulus: "Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet" (II Thess. 3: 10-12). Die teenoorgestelde van rustige werk noem Paulus dus "onordelik wandel", hulle gedra hulle of daar geen reël is nie, normloos.

En 'n ander apostel, Petrus, het geskrywe: daar is valse leraars wat die mense na die mond praat met allerlei liberale idees en wat sê dat hulle vry is om te doen of na te laat wat hulle ook maar wil. En hoekom doen hulle dit? Wel, "en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek" (II Petr. 2: 3). Dit was toe in daardie wêreld vol heidendom dus sleg op hierdie gebied.

Trouens, ook nou nog kan dit gesien word: daar waar die christendom geen vaste voet gekry het of weer verdwyn het, word gewoonlik nie so hard gewerk nie. Of dit gebeur onder die sweep van 'n tirannieke ideologie.

En deesdae kan opgemerk word dat daar waar die christendom verdwyn die mense 'n ander kyk op hulle werk kry. Dit word dan 'n noodsaaklike kwaad - 'n mens moet nou maar eet om in die lewe te bly. Dit word 'n geveg om soveel moontlik geld vir so min moontlik werk; vir luukse en weelde.

Maar uit die Bybel is duidelik - om te werk is God se wil. So het Hy die mens gemaak - om te werk; om sy tyd en krag nuttig te bestee. Om daardeur ook sy eie brood te verdien en om nie op 'n ander se beursie te hoef teer nie. God die Heilige Gees het op 'n baie gesonde manier in die Bybel oor die menslike arbeid laat skrywe. Dit was 'n varse geluid in die onvars wêreld van daardie tyd. Ook dit was die verlossende Woord, die Evangelie wat aan die mense ook die seën van die daaglikse arbeid laat sien het.

Wat word hier dus verbied? Om lui te wees; om op 'n ander se beursie te teer. Dit is nie die styl van kinders van Gods se Koninkryk nie. Dit mag hulle mentaliteit nie wees nie. Die ideaal van die teenswoordige materialis mag nie die styl van ons as christene wees nie.

Presies dieselfde kom vorendag as die apostel Paulus nogal dikwels oor gierigheid praat. Dit skyn asof dit juis die omgekeerde mentaliteit is, want gierige mense is gewoonlik nie lui nie.

Die woordgebruik spreek egter duidelike taal. Paulus gebruik selfs verskillend woorde hiervoor. Een daarvan is geldgierigheid. Daarby lê die kwaad dus op materiële gebied. Ons kan hier verwys na I Tim. 6: 10 waar gesê word: "Want die geldgierigheid is 'n wortel van alle euwels". Dit kan ons orals om ons heen sien.

In die Ou Testament is dit reeds duidelik geïllustreer. In Jer. 22 en Es. 22 staan bv. dat konings en ander hooggeplaastes die armes uit geldgierigheid uitgebuit het en dat hulle daarby selfs mense laat vermoor het. Van die een sonde kom die ander!

Ons kan dus ook onmoontlik arbeidstoestande goedpraat waarby die werkkrag en tyd van mense uitgebuit word. As daar in vakbonde teenop gekom word, kan ons dit nie afkeur nie - as daardie vakbonde maar na die Woord van God wil luister.

Maar daar is nog 'n woord wat met "gierigheid" vertaal word en tog nie spesifiek geldgierigheid wil aandui nie. Dit beteken allereers 'n onskuldige ding: om meer te wil hê. Dit is op homself nie verkeerd nie. Ons mag probeer om ons in die maatskappy op te werk sodat ons ietsie ruimer kan leef en verantwoordelikhede gaan dra volgens die talente wat God ons gegee het.

Maar as dit oorgaan in 'n poging om te gryp wat ons nie toebehoort en nie toebedeel is nie, gaan dit die verkeerde kant uit. In daardie betekenis kry ons dié woord in Ef. 5. Die Efesiërs word daar gewaarsku teen die sonde van die hebsug - soos die woord daar tereg vertaal word (vs. 3). Dan kom 'n mens in die greep van die geld, van om invloed uit te oefen - want geld beteken mag.

Die mense gaan kyk jou na die oë as jy geld het. Jy kom dan in die mag van ander kragte.

"Gierigheid" word ook gebruik as dit gaan om onsuiwer praktyke in die besigheidswêreld. As nie by 'n kontrak gehou word nie maar met minder volstaan word. Dit word ook gehanteer vir onrein dinge in die geslagslewe om aan te dui: daaragter is 'n bepaalde drang; jy is in die greep van so 'n drang wat tot verkeerde praktyke aandryf.

So kom 'n mens in die mag van afgode - van die mammon bv. Want gierigheid is vir Paulus dieselfde as afgodediens, soos blyk uit wat hy aan die Efesiërs en die Kolossense geskryf het. Deurdat 'n mens so in die mag van die afgode kom, gaan hy allerlei ander verkeerde dinge doen - om die mense te bedrieg, soos gierigheid in I Thess. 4 genoem word.

Ja, gierigheid is een van die kenmerke van die heidense lewe - die lewe sonder God en sonder Christus. Dit kan ons lees in Rom. 1 en 2 en op ander plekke in die briewe van Paulus waar 'n opsomming van spesifieke sondes gegee word.

Die christelike gemeente was nog nie los daarvan nie. Daarteen moes nog gewaarsku word. Teen sekere besitsondes moes in die jong christelike kerk nog geveg word. Daarom praat Paulus so dikwels oor om te werk en oor gierigheid.

En waarop beroep hy hom dan? Wel, hy sê bv. in I Kor. 6: 10: Maar julle het jul laat afwas, julle is geheilig. Hulle sondes is afgewas - hulle is gedoop. Hulle het belydenis van hulle geloof afgelê en het toe die teken en seël van die afwassing van hulle sondes, die doop, ontvang. Hulle is verlos van die skuld van daardie kwaad. En toe het 'n ander mag in hulle lewe begin werk, die mag van Christus en van die Heilige Gees.

So doen Paulus 'n beroep op hulle doop, op die bloed van Christus wat hulle van hul sondes gereinig het. So sê hy op ander plekke: die sondes moet uit julle lewens weggedoen word, die sonde van luiheid, maar ook die sonde van gierigheid - om in die mag van die geld te wees en om op daardie manier jou lewe te wil veiligstel. En dit alles word opgesom in die teks uit Ef. 4: "Julle het Christus nie so leer ken nie".

Wat Paulus hier skryf gaan eintlik terug op 'n uitspraak van die Heiland wat ons in Luk. 12: 15 kan lees: "Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie".

Is dit nie 'n sterke woord nie? 'n Mens kan enigiets najaag met alle energie waaroor hy beskik. Maar dit sal nie werk nie. Uiteindelik is hy nog volkome afhanklik. 'n Mens kan sy lewe nie veiligstel deur geld en besittings nie. Daardie lewe self sal nooit jou eiendom word nie. God kan dit in een oomblik van jou af wegneem.

Indien ons lewe deur Christus gered is, hoef ons nie in geld of besittings ons lewe probeer veiligstel om so lewensekerheid te verkry nie. Dan kan ons nooit gierigaards of luiaards wees nie. Maar indien jy niks anders het nie, soos mense wat Christus helaas nog nie leer ken het of - wat nog erger is - niks met Hom van doen wil hê nie en die geloof van hul vaders afgelê het, dan is dit nie verbasingwekkend as jy daar jou geluk in soek en geld en goed en invloed gaan najaag nie. Maar wat dan gebeur, sê Paulus in Rom. 1. Die sonde word dan só magtig onder die mense dat God hulle daaraan prysgee. Laat hulle dan maar agter geld aanjaag! Hulle sal bemerk dat hulle daaruit niks kan maak nie. Uiteindelik bestaan die lewe nie uit die oorvloed van die besittings nie. Dit bestaan hierin - dat ons aan Christus mag behoort, want hy wat in Hom glo, het die lewe, ja, die ewige lewe.

Nou begryp ons ook hoekom die Skrif op verskillende plekke sê gierigaards kan die Koninkryk van God nie binnegaan nie (I Kor. 6: 20; Ef. 5: 5; Op. 22: 15).

Die boodskap wat in dit alles opgesluit lê is wel duidelik, dit behoef nie eers herhaal te word nie. Daardie boodskap is tegelykertyd Evangelie! Want wat is ons ryk in Christus. In Hom het ons baie meer as geld en besittings. In Hom het ons die lewe. Dit lê in Hom veranker. Dit kan selfs deur die dood nie afgeneem word nie, want Hy het die dood oorwin.

Hoe ryk is ons as ons weet ons lewe is saam met Christus verborge in God (Kol. 3: 3).

2. Maar nou die tweede punt: Wat word hier nou gebied?

Wat die Heilige Gees deur middel van Paulus hieroor sê, kan ook weer onder 'n bietjie algemene opskrif geplaas word - om christelike werk in die christelike gemeente te verrig. Want Paulus spreek in Gal. 5: 6 oor "geloof wat deur die liefde werk". En in die begin van sy beide briewe aan die Thessalonisense praat hy ook oor "die werk van julle geloof".

Hy wat 'n christen is, wat tot geloof gekom het, wil ook ietsie vir ander, vir die gemeente, gaan doen. En dit noem Paulus "die werk van die geloof". Hy prys selfs verskillende gemeentes omdat hulle daardie werk doen.

Ons moet net nie dink dit het niks met die daaglikse werk van daardie mense te make gehad nie. Want dit was wel die geval. Dit vind ons dan ook verwerk in die slotwoorde van hierdie Kategismussondag as daar gesê word dat ons trou moet werk sodat ons die behoeftiges in hulle nood kan help. En dit is die hoogtepunt hier.

Die formulier vir die huweliksbevestiging het dit oorgeneem - aan die bruidegom word gesê dat hy ywerig in sy beroep moet arbei sodat hy sy huisgesin kan onderhou en ook iets aan die hulpbehoewendes kan gee. En dit is volkome Skriftuurlik, want dit staan in Ef. 4: 28: "Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het".

En weer moet ons sê: dit was as 't ware 'n herhaling van wat die apostel reeds eerder aan die ouderlinge van Efese gesê het toe hy voor sy gevangenskap verbygekom en hulle na die strand ontbied het. Toe het hy gesê gevare bedreig die gemeente. Daar sou dwaalleraars uit hul eie midde opkom. Maar hy het ook gesê: "Julle weet self dat hierdie hande voorsien het in die behoeftes van my en die wat by my was. Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help".

Vir die toekoms was volgens Paulus twee dinge belangrik: Hulle moes paraat wees as daar dwaalleer in hul midde sou opkom; èn hulle moes getrou werk terwille van die gemeente. Daaglikse werk was daar meteens gemeentewerk!

Om onmiddellik die verband tussen die agste en die vierde gebod te laat sien, haal ons Sondag 38 van die Kategismus aan: saam met ses dae van arbeid, ses werkersdae is daar altyd een gewersdag, om aan die armes christelike liefdesgawes te bring. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen, maar die sewende dag, nou die eerste dag van die week, gaan u kerk toe om daar die Woord van God te hoor, God die Here openlik aan te roep, maar ook om aan die armes christelike liefdesgawes te bring.

Nee, broeders en susters, dit is geen oorspanne manier van om te praat of te idealiseer nie. Hy wat dit dink kan moontlik die invloed van hierdie materialistiese tyd vertoon.

U moet u werk verrig ook met die oog op ander mense, sê die HERE, selfs ander as net "huisgenote van die geloof".

Om te werk is 'n opdrag. Ons almal het wel iets om in God se skepping te doen. Arbeid moet verrig word om jou brood te verdien, om jouself nuttig te maak. Dit is alles waar. Maar arbeid beteken ook om te sorg vir ander, vir die saak van onse Here Jesus Christus in hierdie wêreld.

Die moeilikheid is - 'n dubbel gevaar bedreig altyd die gemeente van Christus: dié van valse leer wat kerkverwoestend werk en die geloof afbreek. Ons sien dit duidelik om ons heen hoe gevaarlik dit is om in 'n kerk te bly waar valse leer getolereer word. Maar daar is ook die gevaar van individualisme waarby elkeen vir sy eie sake leef en net probeer om geld te maak, geld!

Om te werk moet vir ons as christene ook 'n gemeentesaak wees. Elke week ses werkersdae en ook 'n gewersdag.

Een van die kenmerkende dinge in die lewenswerk van Paulus was die groot kollekte wat hy vir die arm gemeente van Jerusalem organiseer het. Daarvan hoor ons in die boek Handelinge en in verskillende briewe van die apostel.

Hy sê in II Kor. 9: 5: bring die aangekondigde dankoffer vooraf in orde sodat dit gereed kan wees as 'n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie. As 'n mens nie sien dat die daaglikse werk ook gemeentewerk is nie, is alles wat vir die kerklike lewe gevra word en selfs vir die behoeftiges, afgepers. En u moet nie met droefheid of uit dwang gee nie, soos Paulus in vs. 7 sê, maar soos u in u hart voorgeneem het. Want God het 'n blymoedige gewer lief.

En, sê die apostel, dink ook aan watter vrug dit gee, wat dit uitwerk - danksegging styg daardeur op tot God. En daarom gaan dit tog uiteindelik! Dit is nie net 'n saak van om behoeftiges te help nie, maar die bediening van hierdie hulpbetoning is ook oorvloedig deur baie danksegginge aan God (vs 12).

Ja, ons moet ook werk met die oog op die gemeente van Christus. Onder christene mag niemand in sorg gelaat word nie. Christus en die apostels vermaan dat die broeders en susters nie so wreed mog wees as die heidene toe vir die arm mense was nie. Deur die geloof in Christus moes iets nuuts vorentoe kom, 'n nuwe gemeenskap moes opgebou word en van daardie gemeenskap moes 'n goeie invloed op ander uitgaan. 'n Nuwe visie op die daaglikse werk en die bedoeling daarvan moes duidelik word.

Ook dit gaan weer terug op 'n woord van die Heiland self. 'n Woord wat Paulus aan die ouderlinge van Efese deurgegee het, nl. "Dit is saliger om te gee as om te ontvang".

Dit is ook weer 'n sterk woord, 'n woord vol innerlike krag wat die Heiland gespreek het. "Dit is saliger om te gee as om te ontvang". Dit is 'n saak van ons hart.

Daarvoor moet ons dan ook werk, ons daaglikse werk doen. Dit is waar: ons moet onsself nuttig maak in hierdie wêreld, ons kultuurmandaat verrig. Ons moet sorg vir ons gesin, ons lewensonderhoud.

Maar wat ons rêrig nie moet vergeet nie as ons môre weer aan die werk spring, is ons moet ook vir Christus se gemeente en vir ander sorg. Kerk, sending, evangelisasie, skool vra alles baie. Maar die HERE gee ook baie. Aan die een meer, aan die ander minder, maar alles bymekaar tog baie. Daarom kan en moet ons ook almal gee.

In hierdie lig moet ons ook ons daaglikse werk sien wat die HERE vir amper almal van ons tog nog gelaat het. Om in blymoedigheid te kan gee. Dit is 'n blymoedigheid wat ons nie kan voortbring as ons redeneer soos wat die materialistiese mens doen nie: ons het reg op werk en voorspoed en wat nog meer. Ons kan dit slegs toon as ons bedink wat die apostel Paulus sê in II Kor. 8: Christus self het arm geword vir ons, sodat Hy ons ryk sou maak.

Dit is geen kollektepreek nie - dit is evangelieverkondiging. Dit is om te laat sien wat ons bely met die woorde van Sondag 42 van die HK waarin duidelik die Skrif nagespreek word wat sê dat ons ook moet werk om vir die behoeftiges te kan sorg.

"Maar julle het Christus nie so leer ken nie". Hy het Homself oorgegee en 'n voorbeeld gestel. Die antitese wat dit inhou, moet ook vandag nog sigbaar wees in die lewe van ons almal. Ons moet werk - nie teer op die beursie van 'n ander nie. Dit is geen christelike deugd nie.

Ons mag ook nie gierig wees nie. Nie geldgierig, nie onsuiwer in ons besigheid doen, geen mammondienaars nie. Dit is dinge waarvan ons in Christus se bloed en deur Christus se Gees skoongewas moet wees.

Die HERE wil by ons sien dat ons 'n ander visie op ons werk het as die mense van die oeroue materialisme en individualisme. Ons moet ons werk ook as kerkwerk sien en doen. Sodat daar baie danksegginge na God opstyg. Ons moet ook in die dinge van ons werk, van werk en gee, laat sien ons lewe is verlos deur Christus en dit is nou ook saamlewe.

Negatief moet ons sê: luiaards en gierigaards sal die Koninkryk van God nie sien nie. Maar die positiewe is: God het die blymoedige gewer lief. Dit is die positiewe kant van die agste gebod van Gods Verbondswet. Dit is 'n gebod oor werk en gee, 'n gebod oor ses werkersdae en ook een gewersdag.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)