Ons liggame is tempels vir God

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 41 H.K.

LITURGIE:
L. Gen. 2: 18-3: 7 & 1 Kor. 6: 15-20
Ps. 5: 3, 4, 6
Ps. 5: 11
Ps. 128: 1, 2, 3
Ps. 93: 4
Ps. 96: 5

Broeders en susters,

Sondag 41 dwing ons om oor baie intieme sake te praat. Oor ons liggaam. En dan veral oor die liggaamsdele wat ons soveel moontlik verborge hou. En wat 'n kleur van skaamte by ons kan veroorsaak as ander daaroor begin praat. Of as ons dit by die dokter moet ontbloot. As daar iets heeltemal van myself is, is dit tog wel my eie liggaam. En as ek iets net vir myself mag hou, is dit tog sekerlik daardie mees intieme dele van my liggaam?

Maar Sondag 41 trek ook daardie ligaamsdele openhartig in die kollig. Want die Kategismus het my in Sondag 1 mos alreeds leer bely dat ek met liggaam en siel nie aan myself nie maar aan my getroue Saligmaker, Jesus Christus, toebehoort. "met liggaam en siel"- selfs my eie liggaam is nie van myself nie. En dus ook die mees intieme dele daarvan, die geslagsorgane nie. Jesus Christus het ook my liggaam van top tot toon met sy kosbare bloed gekoop. Soos ons vanmôre ook in 1 Kor. 6 gelees het: "Julle is duur gekoop".

En my Here Jesus Christus het my met liggaam en siel gekoop om 'n tempel vir God te wees. Om voortaan van harte gewillig en bereid nie vir my self nie, maar vir my God te lewe. Om tempeldiens te verrig en my ook met my liggaam, ja, met die mees intieme dele daarvan, aan Hom te offer.

Wanneer ons vanoggend aan die hand van Sondag 41 H.K. die eis van die Sewende Gebod van God se verbondswet gaan lees, gemeente, wil ons dit onder hierdie beeld doen:

ONS LIGGAME IS TEMPELS VIR GOD

En ons gee dan aandag aan drie punte, naamlik ons tempeldiens:

  1. NA DIE SKEPPING
  2. NA DIE SONDEVAL
  3. NA DIE VERLOSSING

1. "En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape". So vat die Bybel in een sin die skepping van die mens saam in Gen. 1: 27. En in Gen. 5: 2 lees ons weereens: "Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is".

Opvallend is in altwee die gevalle die wisseling tussen enkelvoud en meervoud: die een mens wat God skep bestaan uit twee geslagte: man en vrou. Met twee verskillende liggame. Met verskillende gawes en moontlikhede. En daarom ook met 'n verskillende roeping. Hy anders as sy. En sy anders as hy.

Maar nogtans: hulle vorm saam die een mens! Hulle twee is geskape om 'n eenheid te wees.

God het die vrou uit die man geskape. Sy was vanaf die eerste oomblik van haar bestaan "vlees van sy vlees en been van sy gebeente". En die hele wese van die vrou was toeberei om weer "een vlees" met die man te word. Sy het van hom uitgegaan. Maar sodat hy tot haar sou ingaan.

Beide liggame was so gebou dat hulle twee weer tot een vlees kon verenig. En in hulle bloed het 'n liefdevolle verlange gelê om heeltemal een te wees en volledig in mekaar op te gaan.

Hierdie verlange was nie vieslik nie. Dit was nie 'n ding om jou oor te skaam nie. Die Skepper Self het hierdie wonderlike aantrekkingskrag van die een op die ander in die ligaam van man en vrou gelê. Hy, die heilige God, het behae gehad in die ligaamlike spel tussen die twee geslagte.

Maar, broeders en susters, as Adam na sy Mannin gekyk het, het hy in haar meer gesien as maar net 'n mooie liggaam met 'n gladde vel en sagte rondinge. En as Mannin haar man in haar arms en in haar skoot ontvang het, het sy in hom meer gesien as maar net harde gespierde manneliggaam.

Hulle het mekaar as 'n tempel gesien. 'n Tempel waarin God gedien wil wees. Die ander was nie net 'n liggaam nie, maar medemens, deur God gegee om saam Hom te dien. Sy het in hom haar hoof gesien, hy in haar sy hulp. En die onweerstaanbare verlange na mekaar was daarom baie meer as maar net die kortstondige hartogtelike vuur van twee liggame.

Die HERE het by die Man en sy Mannin die liggaamlike begeerte na mekaar 'n plek gegee binne die begeerte van altwee om hulle tempels saam te voeg tot een tempel vir hul God. Hulle liefdesverlange na mekaar was opgeneem in hul liefdesverkeer met die HERE. En daarom was dit vir hulle nie genoeg om net ligaamlik een te wees nie, maar hulle wou hulle verenig in tempeldiens in 'n totale eenheid.

Hulle het die moontlikheid van geslagsgemeenskap nie slegs as 'n middel vir eie en mekaar se bevrediging beskou nie, maar heel eerste as 'n wonderlike middel tot God se verheerliking. Hulle het geweet dat hulle begeerte na mekaar diensbaar moes wees aan die begeerte van God.

En wat begeer God?

Die profeet Maleagi het dit so uitgedruk: "Hy het 'n geslag van God gesoek". God het al hoe meer mense, al hoe meer manne en vroue in sy wêreldhuis gesoek. Al hoe meer kinders van Hom wat Hom sou liefhê en dien. Al hoe meer tempels waarin Hy verheerlik en gedank sou word. Sy eerste opdrag aan die mens was: "Wees vrugbaar en vermeerder en vervul die aarde".

Tot diè tempeldiens het God die mens geroep: om deur samevoeging van hulle twee tempels nuwe tempels te bou. Tot meerdere glorie van God.

Vir hulle kon daarom die gebruik van hul geslagsorgane nie plaasvind in 'n los verhouding, 'n vlugtige ontmoeting met telkens wisselende partners, soos by die meeste diere nie.

Dit mog alleen gebeur in in allesomvattende twee-eenheid van een man en een vrou.

Die Bybel gebruik dikwels vir die geslagsverkeer tussen man en vrou die woord: "beken". Die man beken sy vrou. Daardie woord is afgelei van die woordjie "ken" en dui die totale kennis van mekaar as man en vrou aan. Soos hulle mekaar ken, ken niemand anders hulle. Hul kennis van mekaar is allesomvattend. Hulle is nie twee vreemdes vir mekaar wat hulle net 'n oomblik liggaamlik verenig nie. Hulle is bekendes van mekaar in alle opsigte. Hulle ken mekaar geestelik en liggaamlik. Hulle twee vorm 'n totale eenheid. En hulle liefdesspel mag slegs die beseëling van daardie eenheid wees. Omdat een gees hulle besiel, kan hulle ook een vlees wees.

Want God het aan die liefdesspel die geweldige moontlikheid verbind om kinders te kan verwek en ontvang. Maar daardie kinders moet as God se kinders onder die veilige dak van een huis, een tempelwoning, gebore word. In 'n trouverbond van een man en een vrou wat hulle lewens lewenslank saamgevoeg het. Daardie kinders moet nie in hartstog nie, maar in liefde verwek, ontvang en gebore word. En in liefde deur 'n pa en 'n ma vir die HERE grootgemaak.

Daarom mog die liefdesspel van man en vrou alleen gespeel word binne die grense van die offerdiens aan God. Sonder die offer van lewenslange trou aan mekaar en sonder die offer van die opvoeding van kinders sou die geslagsverkeer ook geen liefdesspel wees nie, maar 'n speel met vuur.

Maar as hulle die offer wou bring sou dit geen las maar 'n lus wees. In die offerdiens mog die man hom aan sy vrou verlustig: "Hoe mooi en hoe lieflik is jy, o liefde, onder al die genietinge! Jou hoë gestalte daar lyk soos 'n dadelpalm, en jou borste soos vrugtetrosse. Ek het gedink: laat ek op die dadelpalm klim, laat ek sy trosse gryp; en laat jou borste tog wees soos trosse van die wingerdstok en die geur van jou asem soos diè van appels. "

En sy mog haar verlustig aan hom: "My beminde is skitterend, uitnemender as tienduisend. Sy haarlokke is golwende, swart soos 'n raaf. Sy lippe is lelies wat van mirre drup. Sy liggaam 'n kunswerk van ivoor, bedek met saffierstene. Sy verhemelte is pure soetigheid, ja hy is geheel en al die lieflikheid self. Laat sy linkerarm onder my hoof wees en sy regterarm my omhels... " (Hooglied).

Toe Adam Mannin in sy arms geneem het, haar lippe gesoen en haar liggaam gestreel het en hy in haar oë die oorgawe gelees het, toe was die onweerstaanbare verlange na mekaar suiwer verstrengel met die gemeenskaplike verlange om tot in hulle liefdesspel toe hulle te offer in die diens van hulle God.

En God in die hemel was die stille toeskouer, en - dit was baie goed in sy oë.

2. Genesis 2 eindig met die woorde: "En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie".

Maar nog op daardie selfde bladsy, hoofstuk 3: 7, lees ons, broeders en susters, dat daar skielik wel 'n skaamte vir mekaar se naak wees by die mens en sy vrou gekom het. En dat hulle die liggame wat so onweerstaanbaar mekaar aangetrek het, nou angsvallig vir mekaar verberg. En vanaf daardie oomblik word juis die liggaamsdele wat die hoogste liefdesgenot kan skenk in die Bybel "skaamdele" genoem.

Waarom?

Omdat die mens sy rug op sy God en Skepper gedraai het. Omdat die diens aan God nie langer sy hoogste geluk was nie, maar hy sy eie eer begin soek het. Die mens het in sonde geval. En van daardie oomblik het die ligaam wat 'n tempel vir God moes wees 'n instrument van die sonde geword. Dit kon nie langer nuwe tempels vir God bou nie, maar nog slegs aan die ryk van die duiwel saambou. Elke nuwe kind wat nou verwek sou word, sou in sonde ontvang en gebore word.

Nog altyd was daar die wonderlike drang in die bloed na mekaar. Maar dit het 'n gevaarlike drang geword. Want die een het die ander nie meer in liefde gesoek nie. En hulle het nie mee saam hulle God gesoek nie. Maar in wilde begeerte en hete hartstog het hulle net hulleself gesoek. Sonder die bereidheid tot die offer in die diens aan die HERE.

Man en vrou het nie langer met hulle liggame die verheerliking van hulle God wil dien nie, maar nog slegs die bevrediging van hulleself.

Toe het hulle geskrik van hul eie onbedwingbare hartstog en hulle geskaam vir dit wat die mooiste dele van hulle liggame kon wees, maar die gevaarlikste geword het.

Ja, toe, dadelik na die sondeval, was daar nog skaamte. Maar die tyd het gekom dat die sondige mens selfs sy skaamte afgelê het. Dat hy openlik aan sy wilde hartstogte gaan toegee het.

Vroue het hulle liggame te koop aangebied vir 'n vinnige bevrediging van wellustige verbygangers. Manne het hulle aan die eerste die beste vrou wat hulle begeerte opgewek het, vergryp. Of het aan een vrou nie genoeg gehad nie en nog 'n aantal daarby gevat. Konings het onder mekaar selfs gewedywer wie die meeste vroue gehad het.

En die misbruik van die seksualiteit het al hoe brutaler en onnatuurliker geword. Mans het die natuurlike omgang met die vrou laat vaar en in begeerte vir mekaar ontbrand. En vroue presies dieselfde. Volwassenes vergryp hulle aan kinders. Die mens probeer selfs die geslagsverkeer met diere.

Vrye seks word die slagspreuk.

Ek het hierdie dae gelees hoedat 'n predikant in Nederland, wat homself nog altyd "Gereformeerd" noem, openlik die liggaamlike omgang met velerlei partners vanuit die Bybel wou propageer. Die mens sou homself aan sy medemense kan aanbied met die woorde van ons Heiland by die instelling van die heilige nagmaal (Ja, ek durf dit haas nie te noem nie): "Neem, eet, dit is my liggaam".

In so'n samelewing is natuurlik die geslagsverkeer en die ontvang van kinders heeltemal van mekaar losgemaak. Jou eie bevrediging het die een en die al geword en die koms van 'n kind is dan 'n spelbreker. Jy soek hoogstens twee of drie kinders op die tyd wat jy self beplan omdat hulle so oulik is. Verder is daar mos voorbehoedmiddels en desnoods die moontlikheid van aborsie of sterilisasie.

En 'n mens wat maar net die bevrediging van sy eie hartstogte soek, ken ook geen lewenslange trou nie. Jy bly met die ander een saam solank as die vuur van die hartstog brand. Maar as 'n ander partner vir jou vuriger lyk, los jy jou vorige man of vrou -egskeiding- en jy verbind jou aan daardie nuwe partner. Hoeveel vroue het 'n man soos dr. Chris Barnard al nie verstoot om in plaas daarvan 'n jonger een te vat nie?

In so'n wêreld leef ons, broeders en susters. In so'n wêreld word ons kinders groot.

Ja, ons maak self deel uit van hierdie wêreld. Want ons mag al hierdie misbruik van die seksualiteit dalk nie openlik bedrywe nie, maar dieselfde begeertes smeul ook in ons harte! Vuile fantasië en hete hartstogte vertroebel ook dikwels ons gedagtes. Ook ons oë word onweerstaanbaar getrek deur die voorprent van blaaie soos Scope of nog erger wat in diverse winkels uitgestal lê.

Ook in die kerk kom die sonde teen die Sewende Gebod van God se wet veelvuldig voor! Verkragting binne die huwelik, vaders wat hulle aan hul dogters vergryp, owerspel, egskeiding.

Self voorgangers blyk in hierdie opsig swak en sondige mense te wees, soos ons plaaslike kerkgeskiedenis meer as een keer bewys.

Ons is vleeslik, verkoop onder die sonde, soos die apostel Paulus in Rom. 7 geskrywe het. Ook as ek die goeie wil doen, bly die kwaad by my aanwesig. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek dikwels.

Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

3. Want God het deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, die sonde veroordeel in die vlees. God die Seun het ons vlees en bloed aangeneem en in alles aan ons gelyk geword. Hy het mens van vlees en bloed geword soos ons. Man. Met 'n voluit manlike liggaam. Met bloed waarin die drang na die andere geslag eweseer gesluimer het soos by ons.

Maar Hy het nie een oomblik daarmee die bevrediging van sy eie begeerte gesoek nie.

U onthou dalk nog: 'n paar jaar gelede is daar 'n rolprent oor die lewe van ons Heiland gemaak waarin dit voorgestel word asof ons Here Jesus Christus tydens die lyding aan die kruis allerhande seksuele fantasië oor 'n verhouding met Maria Magdalena gehad het. Giftige laster is dit, gemeente.

Sekerlik, Jesus was ten volle man. Maar Hy het sy eie begeertes heeltemal aan die begeerte van sy Vader diensbaar gemaak. Hy het die tempel van sy liggaam nie in geslagsverkeer nie, maar aan 'n vloekhout geoffer om so nageslag vir God te verwek. Hy het vir ons sy lewendmakende Gees verdien wat deur sy Woord sy intrek in ons lewens kom neem om daarvan weer tempels vir God te maak.

Sodat die begeerte van die Gees in ons lewe sy stem sou verhef teen die onreine begeertes van ons vlees.

Die Heilige Gees van Christus bring ons sover dat ons ons geslagsorgane weer leer sien as 'n middel om God te verheerlik en nie net as 'n middel om ons self te bevredig nie.

Die Gees leer ons dat ons ons alleen in herstelde tempeldiens vir God oor ons skaamdele nie hoef te skaam nie.

Hy leer die opgroeiende jeug om hulle liggame kuis en ingetö te bewaar solank hulle die moontlikhede daarvan die tot eer van God en in sy diens in 'n heilige huweliksverbond kan gebruik nie. Hy leer hulle om nie daarmee te speel nie. Om nie die ander geslag met jou aantreklike liggaamsdele uit te daag en te prikkel nie of van die ander geslag intimiteite af te dwing wat alleen binne 'n gemeenskaplike tempeldiens 'n plek mag hê. Want as iemand die tempel van God skend, sal God hom of haar skend!

Die Gees van Christus leer vir hulle om by die voorbereiding op die huwelik meer as alleen 'n aantreklike liggaam te soek. 'n Kind van Gods kan mos alleen trou met iemand wat saam met hom of haar tempeldiens vir die Here wil verrig. Dit kan dus in elk geval al nie 'n ongelowige wees nie, want watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die tempel vir die afgode? (2 Kor. 6: 15, 16)

Die Heilige Gees leer vir die wat ongetroud bly of al jonk hulle huweliksmaat verloor, dat die tempeldiens wat die Here van ons vra, baie meer is as alleen om te trou en kinders te ontvang en groot te maak. In die wêreld na die sondeval gee God nie aan elkeen 'n huweliksmaat nie. En daar is weduwees en wewenaars. Maar ook as hulle hulle geslagsorgane nooit, of nooit meer sal gebruik in die liefdesspel met 'n eie man of vrou nie, en dus ook die vreugde daarvan nie sal beleef nie, is daar baie take vir hulle. Hulle sal die luste van die huweliksverkeer nie smaak nie, maar hulle hoef ook die laste wat die huweliksverkeer onvermydelik saambring nie te dra nie.

Die Gees leer mense met homofiele verlangens -en sodanige mense kan daar ook in die kerk wees!- om nie die bevrediging van eie onnatuurlike verlangens te soek nie, maar die bevrediging van God se natuurlike verlangens: 'n lewe tot sy lof.

Die Gees van Christus leer getroudes dat 'n huwelik geen uitlaatklep vir hulle selfgesentreerde hartstogte is nie, maar 'n middel tot gekonsentreerde tempeldiens vir God. Sodat die huweliksmaat ook meer as 'n liggaam is.

Die Gees leer dat daar liefde kan en moet wees, ook as die liefdesspel nie gespeel word of selfs vir 'n hele tyd nie gespeel kan word nie.

Die Gees leer getroudes om ook inderdaad trou te wees. Tot die dood toe. Ook as albei die karakters dikwels blyk te bots. Ook as jy partymaal die gevoel het jy het die verkeerde een getroud. Want het jy by die voltrekking van jou huwelik tot jou skade gesweer, die Gees leer jou om dit nou nie meer te verander nie. Want God haat die egskeiding. Jy het met die ander een vlees geword. Julle twee tempels is tot een saamgevoeg. En wie een gebou uitmekaar skeur, veroorsaak 'n puinhoop.

Die Heilige Gees leer ons om in ons lewe weer offers te bring. En om ons diep te buig onder die las wat dit in 'n weens die sonde gevloekte wêreld kan saambring.

Hy wek in ons die begeerte om weer te mag saambou aan 'n geslag van God, aan nuwe tempels vir God, aan 'n volk van God wat eendag sonder sonde die nuwe paradys mag bewoon. Dus is die ontvang en grootmaak van kinders geen spelbreker in ons huweliksverkeer nie, maar juis die bekroning daarvan. Ons beplan geen kinders vir so ver ons hulle wens nie, maar ons ontvang kinders omdat God hulle wens, soveel as ons in ons gesin verantwoord kan opvoed tot sy eer.

En as God aan ons 'n gestremde kindjie toevertrou, leer die Gees van Christus ons om dit nie teleurgesteld en opstandig weg te wens nie, maar om met ekstra liefde en sorg ook hierdie kind van God tot sy eer groot te maak.

So maak die Gees van Christus van ons weer tempels vir God gemeente. So leer Hy ons die oorspronklike offerdiens van die paradys.

Dit veroorsaak in ons lewe 'n ontsaglike stryd. Want die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar. En hoe sterk die begeerte van die vlees nog kan wees, weet elkeen van ons uit ondervinding. Dikwels struikel en val ons nog.

Maar ons mag altyd weer opstaan in 'n nuwe lewe. Deur Jesus Christus, ons Here en Verlosser.

En as ons nie in selfversekerdheid meen ons is sterk genoeg om die verleidinge te weerstaan nie, maar ons toevlug tot die Gees van Christus bly neem, sal die selfbevrediging in ons lewe toenemend minder word en die verheerliking van God al hoe meer.

Ja, dan sal ons in die verheerliking van die HERE die grootste bevrediging vind!

AMEN.

(Pretoria, 16 Julie 1989)

(Johannesburg, 31 Desember 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)