Die vyfde gebod vra nederigheid

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

Ps 62: 5, 6, 8
Ps 34: 6, 7, 8, 9
Geloofsbelydenis
Skb 15: 1-7
Lees: 1Petrus 5: 1-11
Teks: Sondag 39

Brs en susters, kinders,

Eer jou vader en jou moeder!

Dit is die gebod waaroor dit vanmiddag gaan.

Dit lyk 'n wonderlike geleentheid om vanmiddag spesiaal met die kinders te praat. Oor hulle gaan dit mos hier.

Eer jou vader en jou moeder.

Dus kinders opgelet. Luister maar goed na die dominee.

Dan sal julle hoor julle moet gehoorsaam wees aan Pa en Ma.

As julle Pa en Ma dit self nie reg kry om vir julle gehoorsaamheid te leer, dan moet die dominee maar eens 'n slag duidelik met julle praat.

Ongelukkig moet ek vanmiddag vir u vertel dat dit so nie werk nie.

In die vyfde gebod gaan dit inderdaad oor gehoorsaamheid, maar laat ons asseblief die gemeente nie opdeel in twee groepe nie, waarvan dan die een deel onderdanig moet wees en die ander hul wil maar kan afdwing op die eerste groep.

Nee hierdie vyfde gebod bevat 'n les vir ons almal.

En wel 'n les in nederigheid.

Dit is dan ook die tema vir die preek van vanmiddag:

Die vyfde gebod vra nederigheid

  1. nederigheid in leiding gee
  2. nederigheid in leiding aanvaar

Gemeente as ons die betekenis van die vyfde gebod wil verstaan dan sal ons moet begin om hierdie gebod te beskou as een van die Tien Gebooie. Nou klink dit dalk nogal logies. Dit is mos nommer vyf van die tien.

Maar ek bedoel dit. Hierdie gebod is gegee nadat die Here sy volk uit Egipte verlos het. Hy het met die volk Israel 'n totaal nuwe begin gemaak.

Met dat Hy vir Hom 'n eie volk op hierdie wereld verkies het, is daar 'n begin van sy Koninkryk op die aarde.

En Israel moet leer leef volgens die wette van die Koninkryk.

Gehoorsaamheid aan die wette van die Koninkryk van God is 'n mens nie aangebore nie. Jy moet dit leer.

Ons almal moet dit leer.

En waar is die begin van die leerproses? Dit is in die gesin waar jy gebore word. Daar leer jy eet, daar leer jy beweeg en praat en dink. Kortom alles wat 'n mens nodig het in die lewe.

Daarom is dit ongelooflik belangrik waar 'n mens groot word.

Veral waar dit gaan oor die hantering van menslike verhoudinge. Byvoorbeeld in verband met hierdie gebod. As 'n vader die gebod so verstaan dat dit vir hom 'n vrybrief gee om by die huis soos 'n tiran op te tree, dan kweek so'n vader by sy kinders 'n houding van opstand. En dit laat die vader nog tirannieker optree, met versterkende gevolge by die kind.

Uit die aard van die saak gee dit permanente moeilikheid in 'n gesin.

En nie net daar nie. Hoe moet so'n kind weer met ander mense omgaan? Sy frustrasies met gesag wat hy by die huis optel word net so oorgedra op ander persone wat gesag oor hom moet oefen. En die kind is ook daar weer in die moeilikheid. Arme vrou wat met so'n man sal trou. Arme kinders wat so'n man as vader kry. Voel u watter ongelooflik belangrike saak hierdie vyfde gebod aansny?

Kom ons begin nog 'n keer met die opskrif bo al die tien gebooie: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland uit die dienshuis gelei het.

Niemand van ons is uit die dienshuis Egipte gelei nie, maar vandag mag ons die opskrif so verstaan dat die Here ons uit die slawerny van 'n lewe sonder God, 'n lewe vol sonde wil bevry. Of liewers: reeds bevry het.

God het ons vrygemaak van die slawerny van die sonde.

Wie is ons?

Dit is ouers en kinders.

Die vyfde gebod spreek nie net kinders aan nie. Die vyfde gebod spreek sondige mense aan.

As ouer, as vader of as moeder is jy 'n sondige mens.

Dit moet jy eers bereid wees om te erken voordat jy die vader of die moeder van die vyfde gebod kan wees. God moet jou saam met jou kind verlos van die sonde.

Dit het jy nodig. Dit het jou kind nodig.

En die besef gee vir jou die nederigheid om gesag te kan oefen.

Want om werklik goeie leiding te kan gee is nederigheid nodig. 'n Nederigheid wat 'n vrug van geloof is.

Jy is as ouer 'n deur Christus verloste sondaar.

Wel, die groot taak wat jy teenoor jou kind het is dat jy dit vir hom leer dat hy 'n sondaar is wat deur Christus verlos moet word. Jou groot opdrag teenoor jou kind is nie dat jy vir hom moet leer dat hy jou kind is en dus aan jou gehoorsaam met wees nie. Nee jou eerste taak is om vir jou kind te leer dat hy 'n kind van God is en daarom aan God verantwoording verplig is.

Dit kan jy alleen as jy self nederig is. Nederig in die sin dat jy bewus is dat jy van genade moet lewe.

Daardie nederigheid maak 'n mens geskik vir groot werk in God se Koninkryk.

Ons het vanmiddag 1 Petrus 5 gelees.

Daar word in die eerste plek die mense aangespreek wat die leiding in die gemeente het.

Hulle moet toesig hou. Hoe?

As herders oor die kudde van God.

Hulle mag dit nie doen omdat hulle daartoe gedwing word nie, maar moet dit gewilliglik doen.

Hulle moet dit nie doen as heersers nie, maar as voorbeelde vir die kudde.

Dit is 'n pragtige beeld.

Heersers soek net hulle self. Hul posisie, hul eer is die een en die al. Hulle gebruik dwangmaatreels om hul wil af te druk.

Maar 'n herder gee leiding. Hy soek nie homself nie. Hy gaan voorop. As 'n voorbeeld ter navolging. Gelukkig die kudde wat agter goeie herders aangaan. Hulle kom uit by plekke waar dit vir hulle goed is om te vertoef. Die herders soek mos na sulke plekke.

Daar kom nog by die herders is terdee bewus daarvan, dat hulle nie met hul eie besigheid besig is nie. Hulle is op hul beurt onderherders onder 'n Opperherder. Die Opperherder sal opkom vir sy kudde en van die herders verantwoording eis: Hoe het julle met my kudde omgegaan?

Goeie gesag is altyd ten dienste van die mense oor wie die gesag gaan. Hulle baat daarby. 'n herder span hom in ten behoewe van die kudde wat aan sy sorg toevertrou is.

Daarby verwys goeie gesag ook altyd na die bron van die gesag. Waarom het die herder gesag?

Omdat die Opperherder hom daartoe aangestel het.

Waarom het 'n vader en moeder gesag?

Omdat die Here vir hulle die gesag gegee het. Hy is die eintlike persoon wat die gesag oefen.

En dit maak dus van 'n gesagsdraer altyd 'n tussenpersoon. Veral in die geval van 'n vader en moeder is dit heel duidelik. Hulle gesag moet na God verwys. Nie na hulle self nie.

Omdat ek dit wil, dit kan nooit die laaste woord wees nie. Omdat die Here dit vra. Dit is waaroor dit gaan.

Hierdie posisie gee natuurlik aan ouers 'n ontsaglike verantwoordelikheid.

Soms kan die verantwoordelikheid te groot wees. Nie elke ouer is in staat om aan so'n verantwoordelikheid 'n goeie vorm te gee nie.

Jy kan byvoorbeeld sommer jou kind in die pad staan om werklik God te leer ken. As jy deur jou optrede by jou kinders nie juis vertroue inboesem nie, hoe dink jy dat die kind dan sal leer om wel op die Here te vertrou?

'n Posisie van gesag kan natuurlik op tal van maniere misbruik word.

Een van die ergste vorme wat tog baie gereeld lyk voor te kom is bloedskande. Dan word byvoorbeeld 'n dogter deur haar vader seksueel gebruik.

Bedink wat 'n mens dan doen. Jy gee vir die kind 'n totaal verkeerde beeld deur wat gesag is. Jy misbruik jou mag.

Verder gee jy 'n volstrek verwronge beeld van wat seksualiteit of liefde is. As so'n kind dan in die kerk moet hoor dat God ook 'n Vader is, kan u voorstel dat sy net gillend wil weghardloop.

Ons keer terug na die begin.

Gesag soos die vyfde gebod dit bedoel is altyd die gesag van die goeie voorbeeld. In die kerk die ouderlinge as voorbeelde vir die kudde.

In die gesin die ouers as voorbeelde vir die kinders.

En om by Petrus te bly: Laat dit 'n voorbeeld wees in nederigheid.

Wie as ouer bewus is van sy eie beperktheid, is in staat om 'n goeie voorbeeld te wees. Want 'n kind moet van sy ouers leer om die kniee te buig voor die Here.

Dit maak 'n ouer nie kragteloos in sy opvoeding nie. Inteendeel. Hy wat klein kan wees voor die Here is hom steeds bewus van sy roeping. Jy is nie 'n heerser oor jou gesin nie. Maar jy is 'n dienaar in jou gesin.

'n Herder wat die skapies van 'n ander moet oppas. Die skapies van die Opperherder Jesus Christus.

2. nederigheid in leiding aanvaar

Net so moet julle jongeres aan die oueres onderdanig wees.

Hierdie woorde van Petrus uit vers 5, pas nie juis by die algemene gevoel van ons tyd nie.

Daarvoor is seker maar verskillende redes.

In die algemeen het die gevoel vir gesag sterk uitgehol, wat saamhang met loslating van die Woord van God. Mense is nie meer geneig om iets op gesag van 'n ander aan te neem nie. Seker nie as dit gaan om 'n woord wat in 'n Bybel so 2000 jaar gelede geskryf is nie.

Verder het baie mense ook dikwels ervaring van 'n baie swak gesagsgebruik van oueres of van leidinggewendes.

Daar kom nog 'n laaste ding by: In ons tyd het wetenskap en tegniek ongelooflik belangrik geword. Mense het dit gaan sien as die belangrikste van die lewe. Wetenskap en tegniek open vir jou die poort na materiele welvaart en wat is vandag belangriker as dit.?

Op die gebied moet die ouer generasie hopeloos agterbly. Hulle kan onmoontlik die vinnige ontwikkelings volg. Dit het as gevolg by die oueres 'n minderwaardigheids gevoel. Hulle voel self hulle tel nie meer nie. Hulle doen dan ook dikwels nie meer moeite om baie te beteken nie. En daarmee hang weer saam 'n minagting van die jonger generasie vir die oueres, hulle staan buite die lewe. Hulle het nie meer 'n boodskap waarmee ons iets kan doen nie.

Ek vrees dat hierdie laaste in baie gevalle ongelukkig heeltemal waar is.

Het die ouer generasie nog werklik 'n boodskap waarmee die jongeres iets kan doen?

Kyk as die ouer generasie hom al laat verlei het deur materiele welvaart as die belangrikste van die lewe te beskou, dan het die joger generasie 'n punt. Dan hoef hulle van die oueres niks meer te leer nie. Want die jongeres weet dit in elk geval beter.

Maar is dit dit wat die jonger generasie van die oueres moet leer? Nee tog seker?

Wat kan 'n jongere van 'n ouere leer?

Ek kan sommer 'n hele paar dinge opnoem.

  • Roepingsbesef in die lewe. Jy het die lewe nie ontvang om jouself te bederf met allerhande lekkergoed nie, maar om die Here te prys en in sy diens te staan.
  • Vertroue op God. Vanuit 'n groot lewenservaring kan oueres aan die jongeres vertel hoe die Here in hul lewe gewerk het en wat dit beteken.
  • Nederigheid. Jy is nie daar om vir jouself eer in die wereld te verwerf nie, maar jy beskou 'n ander as uitnemender as jouself.
  • Nugterheid. Die ideaal beeld waarmee die jongeres dikwels in die wereld staan is 'n misverstand. Hierdie wereld gaan onder deur gebrek aan godsvrug en liefde. Die satan is besig om al wat nog mooi is stukkend te maak. Die ouere wat daarvan iets kan vertel aan die jongere het 'n besonder waardevolle boodskap.

Die sake wat ek hier nou staan en opsom, brs en srs, bedink ek nie self nie. Hulle staan netso agtermekaar in 1 Petrus 5.

Gelukkig is die gemeente wat sulke oueres in hul midde het.

Gelukkig is die jongeres wat dikwels met sulke oueres kan praat. Want daarvan kan jy leer.

Verwerp hul lesse nie, maar wees onderdanig. Onderwerp jou aan die leiding wat daarvan uitgaan.

Daarvoor is weer nederigheid nodig. Nederigheid om sulke leiding te aanvaar.

Daardie nederigheid word gevra van kinders in die gesin.

Die nederigheid word gevra van kinders op skool.

Die nederigheid moet ons almal ken in situasies waarin mense oor ons gestel is.

Dit is vir kinders maklik genoeg om swakhede van ouers raak te sien en te kritiseer. Maar dit gee vir jou nie die reg om hul gesag oor jou dan maar te verwerp.

Dit is ook nie moeilik om 'n owerheid wat 'n land moet regeer alleen maar te kritiseer nie. Maar dit neem nie weg dat jy as 'n christen ver moet gaan in jou onderwerping aan die wette wat die owerheid gestel het.

Wees in die opsig ook maar nederig. Jy weet nie alles wat aangaan nie. Jy het maar 'n uiters beperkte insig. Bid daarom liewer dat hulle reg sal regeer. Want dit is tenslotte God wat deur die hand van die owerheid mense wil regeer.

Ons mag orals 'n mening oor he. Oor menings van ons ouers, oor die leiding op skool, oor die regering van die land, oor die aanbevelings van die sinode, oor die optrede van die skoolbestuur, oor die besluite van die kerkraad ensovoort.

Maar ons hoef nie in alles mee te regeer nie. Ook al wil ons nog so graag.

Laat ons maar nederig wees en erken dat ons ook nie alles weet nie, en maar bid vir hulle wat leiding moet gee.

Moeilik? Seker maar. Baie moeilik soms.

Maar laat ons ook in die opsig maar net let op Jesus Christus en Hom navolg.

Ek lees voor: 1Petrus 2: 21vv

'Want ook hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg.
Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie;
wat toe Hy uitgeskel is nie terug uitgeskel het nie;
toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel;
wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is;
Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en opsiener van julle siele. '

Dit, gemeente, is die voorbeeld wat aan ons almal voorgehou word.

Jesus Christus was die toppunt van nederigheid. En dis die waarom God Hom dan ook bowenmate verhoog het.

Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.

Want so alleen kom God aan sy eer.

Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.

Amen!

24 Mei '92

Liturgie: 

(kyk in preek)