Ontsag vir die gesag is 'n eis van die Here van die Here

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 39
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 39 H.K.

LITURGIE:
L. Efes. 2: 3-23 & Efes. 6: 1-13
Ps. 19: 3, 4
Ps. 19: 5
Ps. 100: 2 (doop)
Ps. 2: 1, 2, 3, 6
Ps. 145: 1, 8
SB. 49: 3, 5, 6

Gemeente van ons Here in die hemel,

Die vyfde gebod van God se verbondswet is vir ons menselike gevoel een van die moeilikste gebooie om te aanvaar.

"Jy mag nie doodslaan nie"- so'n gebod is vir die meeste mense taamlik vanselfsprekend.

"Jy mag nie steel nie"- ook diè gebod is, selfs vir 'n nie- christen, nog wel aanvaarbaar.

Maar dat ek my moet onderwerp aan 'n ander mens wat aan my eise kan stel, wat my die wet kan voorskrywe, straf kan gee en so meer- nee, daarteen kom die hart van die mens opstandig in verset.

Dit blyk al vroeg, by nog klein kinders: as pa of ma iets opdra, is al gou die eerste reaksie: "Hoekom moet dit? ". En daardie vraag van klein kinders keer terug by die opgroeiende jeug, dikwels meer brutaal: "Hoekom moet ek so maak? "

En later in die skool smeul meer as een keer die verset in hul oë as 'n onderwyser iets van hulle eis of 'n straf oplê.

Ons beluister diè verset in diskussies in die kerk oor die posisie van die vrou: hoekom moet die vrou aan die man onderdanig wees en moet sy haarself aan sy leiding onderwerp?

Waarom mag net mans in die gemeente ampsdraer word en ampsdraers kies?

So'n opstandige houding kan sigbaar word in die reaksie van gemeentelede op kerkraadsbesluite: "Dink daardie paar broeders hulle kan oor ons besluit? !"

Moeite met die vyfde gebod kan hom openbaar in ons houding teenoor die wat bo ons geplaas is by ons werk. Of in ons politieke opstelling: "Hoekom sal ek met respek praat oor 'n regering met wie se beleid ek glad nie kan saamstem nie? "

Ons mensehart kom in verset teen gesag van 'n medemens bo ons, omdat ons hart deur die sonde verdorwe is. Die rewolusie broei sedert die sondeval in enige mensehart. Die mens wat net soos God wou wees en dus geen God meer bo Hom wou erken nie, wil heeltemal nie meer 'n mens bo hom erken nie.

Maar daar het in ons lewe 'n ander stem gekom wat sterker is as die opstandige stem van ons hart, broeders en susters. Die Woord van God, die stem van die Gees van Christus verhef hom in ons lewe teen die protes van ons hart en lê dit die swye op. Ja, die Heilige Gees lê die wet van God, ook die vyfde gebod daarin, weer in ons binneste en skryf dit op ons hart. Diè wet van die vryheid wat ons by die vryheid wat ons Here Christus met sy bloed vir ons gekoop het, wil bewaar. Die wet wat ons pleks van opstandigheid 'n nuwe gehoorsaamheid leer. Gehoorsaamheid aan God, maar ook gehoorsaamheid aan almal wat deur Hom oor ons gestel is.

Ook vanmôre, in hierdie preek, klink die stem van die Gees teen die opstandige stem van ons vlees. Kom ons hoor wat die Gees aan die gemeente sê m. b. t. die gesagsverhoudinge wat God self onder die mense gegee het.

Ek het die Woord van die Here wat ek aan u mag deurgee so saamgevat:

ONTSAG VIR DIE GESAG IS 'N EIS VAN DIE HERE VAN DIE HERE.

ONS SAL AGTEREENVOLGENS HOOR HOEDAT ONS DIE MENSLIKE GESAGSVERHOUDINGE:

  1. UIT SY MAG KAN VERKLAAR
  2. OP SY GESAG MOET AANVAAR
  3. IN SY KRAG KAN BEWAAR

1. Teen die einde van Paulus se brief aan die Efesiërs gee die apostel van Christus 'n hele aantal konkrete vermanings met die oog op allerhande gesagsverhoudinge wat daar onder ons mense voorkom: tussen man en vrou, tussen ouers en kinders, tussen werkgewers en werknemers........

Maar dis opvallend hoe die apostel telkens diè gesagsverhoudinge met die Here in verband bring: vroue moet aan hulle eie mans onderdanig wees soos aan die Here (5: 22), mans behoort hulle eie vroue lief te hê net soos die Here die gemeente (5: 29), kinders moet hul ouers gehoorsaam wees in die Here, maar vaders moet hul kinders ook opvoed in die tug en vermaning van die Here (6: 1-4), diensknegte moet aan hul here na die vlees gehoorsaam wees soos mense wat die Here dien en nie mense nie (6: 7), en here op aarde moet op verantwoordelike wyse met hulle knegte omgaan omdat hul eie Here in die hemele is (6: 9).

Telkens lê die apostel op die een of ander wyse 'n verbinding met die Here van die here. En so leer Hy ons om verder te kyk as die mens wat bo ons of onder ons geplaas is. Mans en vroue, ouers en kinders, owerhede en onderdane, werkgewers en werknemers, kerkrade en lidmate- hulle staan almal onder Hom wat bo almal 'n plek aan God se regterhand in die hemel ontvang het, die Here van die hemel en die aarde, die Koning van die konings en die Here van die Here.

As Paulus in hierdie gedeelte van sy brief aan die Efesiërs by herhaling op "die Here" wys, broeders en susters, dan gryp hy daarmee terug op, en sluit hy aan by dit wat hy in die eerste hoofstuk van sy brief aangaande hierdie Here van die here geskryf het. Ons sal Efesiërs 6 eers reg verstaan as ons eerste Efesiërs 1 gelees het.

In daardie eerste hoofstuk het die apostel met 'n paar forse lyne en in uitbundige bewoordings heel God se groot heilsplan in Christus aangewys. God werk in en deur Christus na die volheid van die tye toe (1: 10), dit wil sê: na 'n nuwe, vernude wêreld waarin sy oorspronklike plan met sy skepping tog tot voltooiing sal kom.

Immers, God se skone skeppingsplan het deur die sondeval in duie geval. Dit was deur Hom aan die gang gesit soos 'n skitterende ratwerk wat perfek gefunksioneer het. Alles in sy skepping, in die hemel, op die aarde en in die see, was volmaak op mekaar ingestel en op mekaar afgestem. Engele en mense, diere en bome, land en lug, alles was in 'n indrukwekkende sisteem ingepas. Tot meerdere glorie van die Skepper, God die HERE, die Almagtige.

En in diè plan, gemeente, was ook die gesagsverhoudinge heel natuurlik ingebou. God het die man as hoof, die vrou as hulp geskape. Ouers sou kinders kry om op te voed. Onderwysers en leerlinge, leiers en arbeiders, owerhede en onderdane hul almas was ingepas in God se plan om tot die volle ontplooiing van sy skepping te kom.

Die wêreld het mos nog maar aan die begin van sy geskiedenis gestaan. Nou moes die skepping oopgelê, ontwikkel, uitgebou word. En in daardie ontwikkeling mog die mens 'n hoofrol speel. Maar diè gigantiese onderneming het 'n veelvoudige taakverdeling geëis, waarin God die HERE in sy wysheid volmaak voorsien het. Daarvoor het Hy die gesagsverhoudings ingestel. 'n Heel sisteem van range en stande, gesag en ontsag, sou daarvoor sorgdra dat die ontwikkelingswerk in God se skepping uitgevoer sou word. Die mense is almal op hulle eie plek gesit in 'n orde van Bo.

Maar hierdie skitterende sisteem is deur die sonde stukkend geslaan. Die mens het teen sy God in opstand gekom en vervolgens ook hom teen sy naaste gekeer. Die mense het nie langer almal saam in 'n geordende samelewing aan die verheerliking van hul skepper wil werk nie, maar hulle het elkeen aan hul eie geskiedenis en toekoms begin bou. Dit was vir hulle nie genoeg om as onderkonings aan die Koninkryk van God te mag saambou, maar hulle wou elkeen hul eie haan laat koning kraai.

En toe het die vloek oor die skepping gekom en is alles met nietigheid, vrugteloosheid geslaan. Die mens het die grond onder sy toekoms in God se wêreld weggeslaan.

Maar God het na die rykdom van sy genade 'n nuwe grond daaronder gelê, mag die apostel Paulus in Efesiërs 1 uitbasuin. In hierdie stukkende skepping het God sy Seun gegee om ons sondes, ons opstand te versoen en om die voltooiing van sy skeppingsplan tog te bereik. Danksy Christus kan die ratwerk wat vasgedraai het, tog deurdraai. In Christus bring God in hierdie wêreld alles weer in sy voeë. Deur Christus voer God die wederopbouing deur volgens die oorspronkelike skema. God sal nou alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus verenig (1: 10). Aan Christus is nou gegee alle mag in die hemel en op die aarde. Hy mag sit aan God se regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige (1: 20, 21).

Dit is, gemeente, ongeveer die blye boodskap wat Paulus in die eerste hoofstuk van die brief aan die Efesiêrs vertel. Nie alleen die kerk word deur Christus gered nie, nie net 'n aantal vrome siele nie, nee, heel die skepping word gered. God het sy wêreld deur Christus 'n nuwe toekoms gegee. Daar groei geen blad aan 'n boom nie, of dit is danksy Christus. En daar word geen baba gebore nie, of dit is danksy Christus. Maar dus ook: daar word geen mens man of vrou, vader of moeder, onderwyser of leerling, werkgewer of werknemer, minister of onderdaan, en vul maar aan, of dit is danksy die Here van die here, Jesus Christus, die Seun van God deur Wie God na die volheid van die tye heenwerk.

Aan hierdie boodskap van hoofstuk 1, aan hierdie bevrydende verhaal van God se herskeppingsplan in Christus, knoop Paulus nou in die res van sy brief allerhande konkrete en praktiese vermanings vas. Hy beroep hom nou ook by alles wat hy sê op die Here. 4: 14: "Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel nie... " M.a. w.: Omdat julle nou dus die Here in die hemel leer ken het en in sy verlossingswerk opgeneem is, daarom sê ek dit vir julle. Die gemeente van die Here Jesus Christus moet hom mos as eerste weer gaan voeg na God se oorspronklike plan met sy wêreld!

En so bring die apostel ook die gesagsverhoudings tussen ons mense ter sprake. Stuk vir stuk. Ook nou wys hy telkens op die Here. Sy mag verklaar ons onderlinge gesag.

Waarom moet 'n vrou aan haar man onderdanig wees? Waarom moet kinders aan hulle ouers gehoorsaam wees? Waarom moet leerlinge in die skool vir die onderwysers ontsag hê? Waarom moet knegte hulle aan hulle baas onderwerp? Waarom mag 'n regering oor my besluite neem, en 'n kerkraad in die gemeente gesag uitoefen?

Omdat al hierdie onderskeie verhoudinge deel uitmaak van God se oorspronklike skeppingsplan wat deur Christus as die Here van die here vandag tot voltooiing gebring word. Of die gesagsdraers dit self insien, maak nie saak nie. Christus het hulle in sy diens geneem en gebruik hulle goedskiks of kwaadskiks vir sy doel: die koms van 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde tot God se eer.

2. Dit is dus die rede hoekom de Here van ons ontsag vir die gesag eis, broeders en susters: gesag pas in sy herskeppingsplan eweseer soos wat dit in God se skeppingsplan gepas het.

Maar as ons so die menslike gesagsverhoudinge dus uit Christus se mag kan verklaar, dan moet ons dit ook op sy gesag aanvaar. Dan moet ons ons nou ook gelowig skik in die gesagsverhoudinge waarmee ons, elkeen op sy eie plek, te make kry.

Nou kan die apostel baie konkreet skryf: "Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig". Hoekom? Omdat 'n man nou maar eenmaal sterker as 'n vrou is, of beter, of omdat hy meer kwaliteite het? Nee, glad nie. Maar: "in die Here". Omdat ons Here in die hemel mans en vrouw in die oorspronklike verhouding soos dit in die paradys was, terugplaas: hy hoof, sy hulp. Die man het homself nie man gemaak nie, maar God het hom as man in sy wêreld gesit. Met sy eie roeping en verantwoordelikheid om as man Hom te dien. Soos Hy ook die vrou as vrou 'n plek in sy wêreld gegee het met die opdrag om as vrou Hom te dien.

Ons Here in die hemel roep ons om hierdie verhouding weer positief te aanvaar. Onderdanig wees in die Here beteken nie: nukkerig en gegrief jou maar by jou taak as hulp neerlê, aangesien dit blykbaar moet nie. Nee, dit is blymoedig jou eie onmisbare plek in die diens van die Here in die hemel raaksien. Regtig hùlp wees, sodat die man sy roeping in die diens van die Here volop kan vervul. Danksy jou. Omdat hy sonder jou hulpbehoewend is.

Maar die apostel moet dadelik ook op die ander kant van die medalje wys: "Mans, julle moet jul eie vrouens liefhê". Hoof-wees van die vrou beteken nie dat jy haar soos 'n werkster mag uitbuit en as 'n vryfpaal om jou slegte humeur en jou spannings aan af te reageer, mag gebruik nie. Mans behoort hul vrouens lief te hê soos hul eie liggame. Hoof-wees bring saam: jou vrou verstandig lei, onderrig, troos, beskerm. Nie verbitterd teen haar word nie, maar met geduld by haar woon en haar dankbaar as die hulp wat die Here jou in sy diens gegee het, aanvaar. Want 'n man wat sy vrou misbruik of verag, verag 'n geskenk van Christus.

Die apostel kan vervolgens konkreet aan die adres van die kinders skrywe: "Julle moet julle ouers gehoorsaam wees!" Hoekom? Omdat pa en ma nou maar eenmaal ouer is? Omdat hulle sterker is? Omdat hulle alles beter weet?

Nee, glad nie. Maar: in die Here. "Want dit is reg", skryf Paulus daarby en dit beteken meer as maar net: dis 'n goeie ding. "Reg" beteken hier: dit is volgens God se ou reël. En om dit te beklemtoon herinner die apostel aan die vyfde gebod: "Eer jou vader en jou moeder". "Dit is immers die eerste gebod". Ons vertaling skryf hier ongelukkig: "Dit is die eerste gebod met 'n belofte", maar diè vertaling is nie reg nie. Die vyfde gebod is mos nie die eerste gebod met 'n belofte nie. Die tweede gebod bevat alreeds 'n ryke belofte vir die wat God liefhet en sy gebooie onderhou: "barmhartigeheid tot in die duisendste geslag". Ons moet lees: "Eer jou vader en jou moeder- dit is 'n eerste gebod; met 'n belofte dat dit met jou goed mag gaan ens. ".

Ek weet, die vyfde gebod is nie die eerste gebod van die Tien Gebooie nie. Wel die eerste gebod van die tweede kliptafel van God se verbondswet waarin Hy die onderlinge verhoudinge tussen ons mense reël. Maar dalk bedoel Paulus met "'n eerste gebod" hier: dit is mos een van die eerste gebooie waarmee enige mens te make kry. Enige mens begin sy lewe op aarde as 'n baba by 'n vader en 'n moeder van wie se sorg hy volslae afhanklik is. By geen gesagsverhouding blyk dan ook duideliker dat dit die HERE self is wat dit skep. Geen egpaar kan mos hul baba kies nie? En geen kind kan sy ouers kies. God self lê daardie heel spesiale band en daarmee terselfdertyd die vanselfsprekende verhouding van gesag en ontsag.

En dus sê Christus se apostel: aanvaar as kind nou ook hierdie verhouding. In die Here. As jy 'kind van die Here' wil wees, sal jy ook 'n gehoorsame kind van jou ouers moet wees. Erken in jou ouers die leiding van die Here met jou lewe en onderwerp jou daar met jou hele hart aan. Jou pa en ma is ook maar sondige mense met hulle swakhede en gebreke, ongeduldig en onregverdig partykeer, maar hulle bly jou pa en jou ma. Want die Here het hulle diè posisie, diè amp, diè gesag oor jou gegee.

Maar opnuut vul die apostel dadelik aan: "Vaders (en ons mag die moeders daar gerus by reken), moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en die vermaning van die Here".

Dit is nie moeilik om met die vuis op die tafel te slaan en om te heers met 'n "jy sal maak soos ek sê!" -heerskappy nie. Maar daarmee verbitter mens sy kinders en vervreem jy hulle van jou. Vader en moeder-wees beteken: jy het 'n heel belangrike plek in diens van Christus ontvang om kinders so groot te maak dat ook hulle hul van harte in God se herskeppingsplan wil voeg tot verheerliking van sy naam. Dit vra liefde, geduld, wysheid, daarvoor moet elke kind sy eie aandag kry. Dit vra veral dat jy in jou hele optrede duidelik maak dat God self hulle deur jou hand wil regeer.

Dieselfde kan ek sê van die verhouding tussen onderwysers en leerlinge, tussen werkgewers en werknemers, tussen owerhede en onderdane, tussen kerkraadslede en gemeentelede. Die Here van die here wys elkeen sy eie plek: gesag dra of ontsag hê En ons is almal aan Hom verantwoording skuldig.

Wie hom verset teen 'n mens wat oor hom gestel is, wie 'n meerdere brutaal of met veragting bejeën, wie rewolusie naja, verset hom maar nie teen mense nie. Hy verset hom teen die Here van die here en teen die verlossing wat Hy besig is om in die wêreld uit te werk.

Nee, ek sê nie dat mense wat oor ons gestel is, geen foute meer maak nie. Die Kategismus is wat dit betref, in navolging van die Bybel, nugter genoeg. Ek sê ook nie dat ons daardie foute nie mag raaksien nie, dat ons alles maar kritiekloos moet aanvaar. Ons moet juis so'n fout raaksien en hartgrondig verwerp, juis omdat dit 'n dienaar van Christus is wat op daardie punt sy gesag nie op die regte wyse uitoefen nie. Maar ek sê terselfdertyd dat ons nooit, as ons die verkeerde gebruik van die amp verwerp, daarmee ook die gesagsdraer self en sy amp wat hy van Christus ontvang het, sondermeer mag verwerp nie. Solank as Christus self 'n gesagsdraer nie van sy pos onthef en sy amp ontneem nie, sal ek ontsag vir sy gesag bly hou en my aan sy goeie leer en tug met gepaste gehoorsaamheid onderwerp, hoeseer ek ook sy gesagsmisbruik verfoei.

Maar elkeen wat gesag ontvang het, moet dus ewe goed voortdurend bewus wees daarvan Wie hom in hierdie magsposisie geplaas het. Want wie sy gesag misbruik, wie sy vrou, sy kinders, sy leerlinge, sy personeel, sy onderdane verkleineer en met bruut geweld oor hulle regeer, omdat hy hom geen skakeltjie weet in die groot ratwerk wat in diens van die Here van die here staan nie- so'n mens verset hom net so goed teen Hom wat alle mag in die hemel en op die aarde het en wat eendag elkeen van ons rekenskap sal vra. Vir Hom is die wat gesag moet uitoefen, nie meer as die wat hulle onder die gesag moet skik nie. Vir Christus is altwee eweseer diensbaar aan die bou van die nuwe aarde. En wee dus ook die maghebber wat nie 'n dienskneg van die Koninkryk van God wil wees nie maar sy eie haan wil laat koning kraai. Hy maak homself 'n obstakel in Christus se verlossingwerk en geen mens kan ongestraf so maak nie.

3. Ek het in die inleiding alreeds gesê, broeders en susters: hierdie gebod is moeilik vir ons sondige vlees. Ons hoogmoedige hart aanvaar nie so maklik die gesagsverhoudinge so soos die Here dit wil nie. In enige hart broei van tyd tot tyd verset daarteen.

In elke huis word wel 'n keer met deure gegooi. In elke huwelik val daar wel 'n keer harde woorde. Watter kind het nog nooit vir sy ouers 'n brutale mond gegee nie? Ook op ons Gereformeerde laerskool word die onderwysers soms gepla. Ook Gereformeerde mense ignoreer robots en stopborde. Of praat oor die regering op 'n wyse wat glad nie van ontsag vir die gesag wat Christus op hierdie oomblik gee, getuig nie. Of neem 'n houding aan teenoor hul ouderlinge waaruit openlike minagting spreek.

Maar net so goed is daar gesagsmisbruik aanwysbaar. Watter pa of ma het nog nooit in onbeheerste drif 'n klap uitgedeel wat nie tereg was nie? Ook deur Gereformeerde onderwysers kan op 'n onbillike wyse gestraf word.

Dis 'n swaar opgawe om die gesagsverhoudinge suiwer te bewaar.

Dis diè dat die apostel Paulus in Efesiërs 6 ook geskrywe het: "Eindelik (sê maar: Tenslotte), word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte".

Hierdie afsluiting van sy brief betref al die voorgaande vermanings, maar dus ook die oor die gesagsverhoudinge. Alleen deur die Here wat ons in die onderskeie gesagsverhoudinge gestel het, is ons ook in staat om diè verhoudinge gesond te bewaar. As ons geneig is om ons teen die gesag bo ons te verset, èn as ons geneig is om ons gesag te misbruik- in altwee gevalle moet ons ons daarteen sterkmaak deur die krag wat alleen die Here ook maar kan gee.

Want as daar met deure gegooi word, harde woorde val, brutale monde gegee word, onbeheerste klappe uitgedeel word...... dan is dit maar nie net 'n stryd tussen mense onder mekaar nie. Maar dan het bose geeste in ons lewe binnegedring wat Christus se herskeppingswerk wil probeer saboteer. Dan moet daar 'n worstelstryd gestry word, nie maar teen vlees en bloed nie, maar teen diè onsigbare geeste wat in diens van die duiwel staan.

En in die worstelstryd is ons by voorbaat verlore, tensy die Here self ons deur sy Heilige Gees staande hou. Alleen die wapenrusting wat die Here self ons aanreik, kan ons so sterk maak dat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel en in die gesagsverhoudinge geen obstakel vir Christus se verlossingswerk word nie.

In hierdie preek het Christus se Heilige Gees daardie wapenrusting weer aan u voorgehou, gemeente.

Neem dit dan op en trek dit dan aan, sodat u weerstand kan bied in die dag van onheil, dit is: in die dae dat die rewolusiegees u hart in besit wil neem, en u elkeen in u eie amp gehoorsame diensknegte van die Koning van die konings en die Here van die here bly.

AMEN.

(Pretoria, 18 Junie 1989)

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)