Deur die rusdag lê God beslag op ons lewensritme

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 38 H.K.

LITURGIE:
L. Lev. 23: 1-32
Ps. 92: 1, 2
Ps. 92: 6 (na die geloofsbelydenis vs. 3)
Ps. 100: 1-4
Ps. 138: 1, 3
Ps. 84: 1, 2

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

U is, as alles reg is, almal "Sondagskinders". 'n Kerk vol Sondagskinders.

Nie omdat ons almal op Sondag gebore is nie. U weet, dit noem die volksmond "Sondagskinders": mense wat op Sondag gebore is.

Maar ons is Sondagskinders omdat ons op Sondag her-bore word.

Op elke eerste dag van die week word daar aan ons wedergeboorte gewerk. Ons moet mos wedergebore word om God weer onder die oë te kan kom. Alleen as nuwe, herbore mense kan ons in God se ryk ingaan en die nuwe aarde beërwe.

En daaraan werk die HERE God Self, deur sy Heilige Gees. Elke Sondag beywer Hy Hom daarvoor. Elke rusdag maak Hy tot 'n dag van wedergeboorte vir ons.

Diè wedergeboorte bly natuurlik nie net 'n saak van alleen die Sondag nie. Dit kry 'n vervolg op Maandag en Dinsdag tot en met die Saterdag, ja, al die dae van ons lewe. Maar die begin lê op die Sondag.

Op daardie steeds weerkerende sondae word telkens die nuwe impulse gegee. Die eerste dag van die week beheers die res van die week. En as dit dus op die Sondag nie goed gaan nie, dan gaan dit ook die res van die week fout.

Ons lewensritme lê onder die beslag van die Sondag.

En so is ons Sondagskinders: mense wie se hele lewe deur die Sondag beheers word. Mense vir wie die nuwe lewe op die Sondag inset.

In die volksmond is 'n Sondagskind 'n gelukskind. Die begin op Sondag was veelbelowend.

Maar ons mag dit beslis ook van ons as Sondagskinders in die kerk sê. 'n Kind wat op Sondag gebore is, hoef regtigwaar nie altyd sy hele lewe gelukkig nie.

Maar 'n mens wat op Sondag her-bore word, is wel altyd gelukkig. Ons is diep-gelukkig as ons ons deur die weekliks weerkerende rusdag tot nader mense laat maak. Dan gaan daar 'n lewe vir ons oop met 'n ewige perspektief.

Ek wil u vanaand as Sondagskinders die evangelie van die deur God ingestelde sabbat verkondig, onder hierdie tema:

DEUR DIE RUSDAG LÊ GOD BESLAG OP ONS LEWENSRITME,

  1. TOT SY EER
  2. TOT ONS TROOS

1. Waarom, broeders en susters is die Sondag, dit wil dus sê: die rusdag, eintlik nodig? Diè weekliks weerkerende rus- wat het God daarmee beoog? Waarom het Hy ons lewensritme deur steeds opnuut 'n Sondag laat beheers?

Is dit omdat ons mense rus op sy tyd nou maar eenmaal hard nodig het? Wou God met die sabbat voorkom dat ons oorwerk sou raak en senuweepasient sou word? Is daardie vertroude lewensritme van 6 dae werk en dan 1 dag rus gewoon 'n gesonde maatreël, aangepas aan ons natuurlike aanleg, ingesteld op ons normale uithoudingsvermoë?

By die Russiese Rewolusie is indertyd ons vertroude werkritme 'n tyd lank verbreek en is pleks van 'n 7-daagse week 'n 10-daagse week ingevoer. 9 Dae werk en dàn 1 dag rus. Maar in die praktyk het dit geblyk dat daardie rewolusionère lewensritme nie voldoen het nie sodat hulle na verloop van tyd dit maar weer verander en die ou weeksindeling weer aangeneem het.

Bewys dit miskien dat 'n rusdag na 6 werksdae gewoon 'n natuurlike noodsaak is, aangesien ons die rus eenvoudig hard nodig het? Is die rusdag 'n blyk van God se goedheid, 'n billike maatreël van 'n welwillende Werkgewer?

As dit alleen God se bedoeling met die instelling van die sabbat was- as God voornaamlik daardie een dag in 'n week van 7 dae afgesonder het vir ons om 'n keer heerlik te kan uitslaap, om 'n keer op ons dooie gemak te kan koffie drink, lekker lui onderuit gesak in 'n stoel, en om saam te ontspan êrens in die natuur of om by familie 'n besoek af te lê.... as dit die bedoeling was, dan is dit onbegryplik hoekom die volk Israel soveel moeite met die onderhouding van die sabbat gehad het.

Ons het 'n gedeelte van Levitikus 23 gelees. Het u opgemerk hoeveel vryaf, en hoeveel fees die HERE aan sy volk Israel voorgeskrywe het? 'n Weeklikse sabbat, maar daarnaas ook nog heelwat feestlikhede waarby alle werk volkome stilgelê moes word, waarby absolute rus voorgeskrywe was: "Geen beroepswerk mag julle doen nie" - dit is die refrein in Lev. 23.

Daarin lê tog iets moois? Dit moet tog 'n oplugting vir die Israeliete gewees het? Was hulle vroër nie 'n slawevolk nie? In Egipte moes hulle dag in dag uit slaaf en swoeg nie? Rus was daar amper nie vir hulle nie.

Maar noudat hulle in die diens van die HERE gekom het, mag hulle nie alleen nie, nee, hulle moet sommer ineens elke sewe dae een dag vryaf neem. En daar tussendeur reëlmatig hele weke vryaf! En elke sewende jaar een jaar vryaf nota bene! 'n Hele sabbatsjaar, en na sewe maal sewe jaar selfs twee hele jare, 'n jubeljaar. Dit gee die HERE sommerso. Mens moet maar jou hele lewe lank 'n slaaf gewees het en dan skielik met soveel vryaf en fees oorlaai word.

Die HERE wou met al daardie vryaf benadruk dat die slawerny vir Israel inderdaad verby was. Geen slaafse werk mog Israel meer pla nie. Met al daardie sabbatte en feeste wou God sy volk aan 'n nuwe lewensstyl laat gewoond raak, 'n styl wat deur nie meer slaaf wees nie bepaal moes wees.

Dieselfde ding klink ook deur as Moses in sy afskeidspredikasie in Deut. 5 die Tien Gebooie van God se Verbondswet nog 'n keer aan Israel voorhou. Hulle moet op elke Sabbat maar daarby stilstaan dat hulle vroër slawe was, in Egipte. Die slawerny is nou verby. Vrye kinders van die HERE mag hulle wees, vir wie die lewe een groot fees geword het.

Maar, broeders en susters, dan was die Vierde Gebod mos nie 'n moeilike gebod vir Israel nie? Die rus het vir God se volk tog nie 'n probleem hoef te wees nie?

En tog lees ons by verskeie profete die klag van die HERE dat sy volk sy sabbatte geskend het. Die sabbatte is nie geheilig nie, maar ontheilig. Israel wou van die rus wat die HERE voorgeskrywe het, nie weet nie.

Wat se ding was dit eintlik?

Hoekom het God se volk soveel moeite met die sabbatsgebod gehad? Hoekom het hulle heeltemal uit eie beweging weer tot slawerny verval?

Omdat Israel die werklike bedoeling van God se sabbatte nie kon opbring nie. Want God het vir sy volk nie soveel vryaf en soveel fees gegee vir hulle eie plesier allereers nie! So bring vandag nog baie mense die Sondag deur: vir hulle eie plesier. 'n Lekker afdag, om heerlik uit te slaap, geskik vir 'n partytjie of 'n uitstappie, om sportveld toe of na die stadsteater vir 'n konsert toe te gaan. Daarvoor is tog diè dag? !

Maar daarvoor het God diè dag nie gegee nie! Nie heel eerste vir ons plesier nie, maar in die eerste plek vir sy plesier, as ek dit so mag uitdruk.

Om dit te kan verstaan, gemeente, moet ons na die oorspronklike motief wat God Self vir die sabbat gegee het, luister. Ons hoor dit elke Sondag: "in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, maar op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig".

God wys ons terug na die begin van die wêreld. Na die eerste week van die geskiedenis. Daardie week was vir God 'n week van werk. Hemel, see en aarde het onder sy hande tevoorskyn gekom soos 'n pragtige kunswerk. Met alles daarop en daaraan en daarin.

Maar God se werkweek het nie met die sesde dag geëindig nie, toe, volgens die woord van Gen. 2: 1, tog duidelik "die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag voltooi is". Na die sesde dag begin die HERE nie dadelik weer by 1 tel nie. Hy het aan die sesdaagse werkweek nog een dag toegevoeg, wat hy sabbat, rusdag genoem het.

Was dit 'n ekstra dag om weer op asem te kom? Na gedane arbeid is dit goed om te rus?

Maar broeders en susters, die HERE slaap of sluimer mos nooit, sê Psalm 121. Nee, God het op Goddelike wyse gerus. Nie as een wat moeg is nie, maar as een wat voldaan die voltooide werk in oënskou neem. God het 'n spesiale dag daarvoor geneem om daarvan te geniet dat sy Skepping heeltemal klaar was. God wou self as eerste die pragtige boek van sy Skepping waarin alle skepsele, groot en klein, die letters is wat sy ewige krag en goddelikheid, sy wysheid en rykdom van gedagtes tot uitdrukking bring, 'n keer rustig deurblaai. En God het dit alles gesien en- dit was baie goed. God het sy eie werk bewonder. Maar daarmee het die Skepper in wese dus Homself bewonder. Hy het daardie dag sy eie eer gesoek! Daarvoor het Hy tog ook feitlik die wêreld tot lewe geroep? Tot meerder glorie van Homself! Dit beteken dit ook as ons in die teks van die Vierde Gebod lees dat die HERE die sabbatdag "geheilig" het: God het hierdie dag spesiaal bestem tot die verheerliking van Homself. Afgesonder tot sy eie eer.

En met diè doel betrek Hy dan ook die mens in sy sabbatviering. Ook die mens moet, saam met God, 'n dag lank die boek van God se Skepping deurblaai, daardie boek waarvan hy self deel uitmaak, en dan tot die selfde gevolgtrekking soos die Skepper kom: dat alles baie goed is; en dus: dat God baie goed is!!

Die HERE laat die mens sy lewe op aarde begin met om 'n dag lank sy skeppingswerk te bewonder en om so die Skepper te te eer.

"Dan breek die mens in sangstem uit,
'n lofgeluid klink God dan teë.
Want groot is God in heerlikheid,
sy majesteit in al sy weë!"

En so moes dit voortaan elke week opnuut wees. In ooreenstemming met God se eie werkskema moes die mens voortaan telkens na 6 dae van werk 1 dag die werk stillê en die tyd daarvoor neem om, nee, nie die skepsel nie, maar die Skepper te eer.

'n Pragtige werk was aan die mens opgedra: hierdie aarde gaan ooplê en die baie skatte wat God daarin nog weggesteek het daaruit opdiep. Maar dit moes tot meerdere glorie van God bly. Nooit mog die mens in homself opgaan nie, nooit hom op sy eie prestasies beroem nie. Steeds moes Hy in sy God bly opgaan en aan Hom die eer bly gee. Voortdurend homself God se grootheid en goedheid bewus bly en nooit vergeet nie dat dit God se werk is waarin hy mog saamwerk. Daarvoor het God die sabbat ingestel. As 'n dag wat al die ander dae van die week moes beheers. Om die mens weekliks daaraan te herinner: ons leef uit sy hand en tot sy eer.

En dit, gemeente, was weer, en nòg God se bedoeling, toe Hy na die uittog uit Egipte opnuut die lewensritme van sy volk deur die Vierde Gebod weer na die sabbat gereël het. Die weeklikse rusdag is toe in ere herstel.

Maar God het sy verloste volk daarmee nie telkens een dag vryaf gegee nie. Hy het hulle nie reëlmatig geleentheid om 'n fees vir hulleself te organiseer gegee nie. Dit was nie sy bedoeling om vermoeide mense tot hulleself te laat kom nie. Dit was sy bedoeling dat daardie vermoeide mense, moeg as gevolg van die vloek wat daar oor die Skepping gekom het sodat hulle nou in die sweet van hulle aangesig moes brood eet- dit was God se bedoeling dat daardie mense weer tot Hom sou kom. God het begin om uit sy skepsels wat weggeloop het, 'n nuwe volk bymekaar te bring. 'n Volk wat dit afleer om sy eie eer te soek en opnuut leer om God se eer en glorie te soek. 'n Volk wat homself weer soseer aan die sonde ontworstel dat dit weer breek in sangstem uit, en sing 'n lofgeluid oor God se weë- verlossings-, herskeppingsweë nou ook!

Toe Israel dus as God se uitverkore volk uit die slawediens in Egipte weggehaal is, is hulle direk tot erediens geroep. Al daardie sabbatte en feeste wat God in Lev. 23 voorgeskrywe het, is mos vol erediens. God se volk mog nie langer 'n lewe wat in homself opgaan, lei nie. Israel moes weer in God opgaan. Hom in alles die eer gee. Beheers deur die weeklikse rusdag moes die hele lewensritme aan God se eer diensbaar wees. Israel moes weer uit die wetenskap lewe dat uit God en deur God en tot God alle dinge is. Want alleen wie dit besef, sal werklik vry wees. Verlos.

Nou kan u verstaan, gemeente, waarom die Heidelbergse Kategismus aan ons 'n hele werkprogram vir die rusdag voorskryf?

Wat vir Israel gegeld het, geld vir ons nog des te meer: ons is van die slawerny verlos. Die sabbat aan die einde van elke week het 'n belofte ingehou van die groot verlossing wat God eendag vir sy volk sou bewerk deur die offer van sy eie Seun. Verlossing uit die heerskappy en slawerny van die sonde. Maar daardie verlossing is inmiddels 'n feit.

En toe God se Seun op die eerste dag van die weet uit die graf opgestaan het, kon God eers reg deur sy Heilige Gees 'n nuwe volk bymekaar gaan bring wat weer in Hom verblyd van sy heerlikheid, sy majesteit in al sy weë sou sing.

Maar daarom bly die HERE ons deur Christus verloste lewe aan die ritme van die rusdag bind. Die laaste dag van die week het die eerste geword, omdat die groot verlossing geen vooruitsig meer is nie, maar alreeds 'n feit. Ons hoef nie meer elke werkweek na die rus toe te lewe nie, maar ons mag vanuit die rus die werkweek begin.

Maar die ritme van: elke week een rusdag, bly dieselfde. Want ons hou dit nodig dat ons weekliks daarby bepaal word dat ons lewe een groot loflied op God se heerlikheid en majesteit moet wees.

Daarop is dus heel die rusdag gerig. En dis hoekom die rusdag allermins 'n dag van luier en lanterfanter is nie. Ook geen dag waarop ons 'n hele boel dinge opeens nie meer mag doen nie wat anders wel mag, sodat ons ons met al diè vrye tyd geen raad weet nie.

Maar dit is 'n dag waarop die erediens sentraal staan, soos die Kategismus tereg aanwys. 'n Dag waarop die kerkdeure oopgemaak word en God se volk in 'n feestlike erediens saamkom.

Ons sal ywerig kom, sê die Kategismus. En dit beteken dat niemand sy plek leeg mag laat as dit nie beslis noodsaaklik is nie. Want God wil ons almal bymekaar sien, tot sy eer. Hy wil dat ons kom, vir Hom, jonk en oud. Ook die kinders daarby so gou as wat dit moontlik is, want ook hulle is sy kinders en moet leer om sy kind te wees.

God wil dit agterkom aan ons sondagse kleding, dat ons bewus is daarvan dat ons voor sy oë verskyn in die kerk. Hy wil dit opmerk aan ons houding tydens die hele diens, dat ons weet Wie dat ons mag ontmoet in die kerk. Hy wil ons psalmgesang hoor as 'n uiting van ons lof op sy grootheid. Want in hierdie wêreld is vreeslik baie lawaai sedert die sondeval. Die mense maak heelwat herrie. Hulle raas, vloek en skreeu, hulle praat, lag en bral. Maar die lof vir God word uit hulle monde nie meer gehoor nie.

Dis diè dat dit so pragtig is wanneer daar in die kerk die psalms opklink. As jonk en oud, heldere en gebarste stemme, hulle in Psalms tot God se eer vermeng.

Daarnaas verwag die HERE ons gebed, waarin ons ons skuld teenoor Hom erken, ons afhanklikheid van Hom bely en Hom eer oor sy genade en ontferming.

Maar ons moet veral luister!

Die belangrikste onderdeel van elke erediens is ons die verkondiging van God se Woord en ons gelowig en eerbiedig luister daarna. Dit is diè middel waardeur die Heilige Gees ons uit onsself lostrek en ons na ons God en Vader toe trek. Die prediking is diè middel waardeur die Gees ons wedergebore laat word tot Sondagskinders wat ook op Maandag, Dinsdag t. e. m. Saterdag tot eer van hulle HERE leef en loof, werk en ontspan. Deur die prediking leer ons mos onsself in al ons ellende ken, maar daarom ook des te meer ons Skepper en Vader, die Vader van ons Here Jesus Christus wat eendag alles nuut sal maak. Die prediking leer ons om met ander oë in hierdie wêreld rond te kyk en om in alles die HERE besig te sien as die Herskepper wat vir ons alles laat meewerk ten goede.

So word daar by ons die loflied losgemaak.

Maar dis hoekom ons ook ywerig, getrou moet kom, elke Sondag, soggens en saans as die gesondheid en die gesinsomstandighede dit ook maar enigsins toelaat. En luister!. En by die huis daaroor verder praat. En daaroor verder lees. Ons kinders leer om te luister.

Dis hoekom ons ook ons moet beywer daarvoor dat die weeklikse eredienste kan aangaan. Nie beknibbel op die kerklike bydrae en die kollektes nie. Rojaal gee vir die "instandhouding van die erediens", soos vroër die kollekte vir die kerk so mooi aangekondig is. En ook meewerk aan en meebid vir die instandhouding van die Opleidings tot die diens van die Woord, waar telkens nuwe leraars gevorm word.

So blyk die rusdag vir ons dus 'n werkdag van God se Gees te wees waarop die HERE ons elke week weer losmaak van ons self, ons besighede, ons ideale, ons aspirasies en ons leer om die lewe buite onsself, by Hom, in Christus te soek. So maak Hy ons al hoe meer Sondagskinders vir Hom.

2. Maar so, broeders en susters (en daaroor tenslotte nog 'n enkele opmerking: ) so word die rusdag ook 'n dag waaruit ek vir heel my lewe troos kan put. Want Calvyn het dit tereg gesê: "As ons tot God se eer wil lewe, beteken dit vir onsself die saligheid". God se Sondagskinders is gelukkige kinders. Want God trek ons al hoe meer los van onsself, reken af met die ou mens en laat ons herbore word tot nuwe mense wat geen slaaf van die sonde meer is nie maar in vryheid weer tot eer van die HERE lewe. En daar waar weer die eer van die HERE die sentrum van die lewe word, kom daar nie die paradys terug nie?

Sonder God is die lewe eindeloos vermoeiend, benouend ook dikwels en sonder enige uitsig.

Maar ons leer van Sondag tot Sondag die HERE weer al hoe beter ken; en daardeur gaan daar al hoe meer die uitsig op 'n nuwe wêreld met God, 'n nuwe paradys oop. Ons word aan die begin van elke week daarby bepaal dat daardie nuwe wêreld deur Christus is verdien en dus sal kom.

En so word elke kerkdiens 'n fees waarin God ons kom bemoedig en vertroos. Elke preek is 'n krag van God tot ons redding, waardeur ons lewe bygestuur word en ons uit kortsigtigheid en bysiendheid losgetrek word. Elke doopsbediening gebeur nie net tot God se eer nie, maar ook tot ons troos en tot bemoediging van die hele gemeente. Want God onderstreep aan ons kinders sy ryke beloftes en herinner ons almal daaraan dat dieselfde beloftes ook aan ons gegee is. En reëlmatig staan die Nagmaalstafel voor in die kerk, waar ons by brood en wyn ons harte in die hemel leer verhef en baie intiem die gemeenskap met ons Verlosser mag belewe. In elke kerkdiens mag ons saam in gebed heel ons lewe met sy probleme en verdriet en spannings aan die HERE voorlê. En ons mag baie direk die gemeenskap van die heiliges belewe as ons ons liefdesgawes gee, mekaar in gebed aan die HERE opdra, saamstem in die loflied op ons gemeenskaplike God en Vader.

Niemand hoef in die kerk eensaam te wees nie. Hy of sy is mos omring deur broeders en susters.

Verstaan u hoeseer die sondag as dag van erediens ook 'n bron van troos vir die hele lewe is?

Want so is elke Sondag 'n dag waarop dit sigbaar en voelbaar word dat ons God as Herskepper besig is om alles weer goed, ja: baie goed te maak op aarde. In die kerk, by kansel, doopvont, nagmaalstafel, by kollektesakkie en psalmgesang- daar bring God die nuwe paradys digterby, waar dit eendag vir ewig sabbat sal wees en enkel weer verwondering.

Daarom, gemeente: gedenk die sabbatdag dat u dit heilig. Moet maar Sondagskinders wees, al die dae van u lewe, tot God se eer en so ook tot u eie troos. Dan sal u gelukkige mensekinders wees!

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)