Op die eerste dag van die week moet ons leer om die Here ons hele lewe te eer

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 38
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 38 HK

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps 92: 1, 3
Geloofsbelydenis van Nicea
Ps 92: 2
Korte nagmaalsformulier
Viering nagmaal
Danksegging
Ps 103: 1, 2
Gebed
L. Psalm 92
Prediking
Ps 92: 6, 7
Gebed
Kollekte
Ps 104: 1, 20, 21
Seën

Gemeente van die Here Jesus Christus,

Ons sê meestal: die Sondag moet 'n ander dag as die res van die week wees!

Die Sondag moet van die ander weeksdae afgesonder word as 'n spesiale dag vir die HERE.

'n Mens kán dit so sê.

Maar dan is die probleem meestal wel: hoé moet daardie dag dan anders as die ander dae wees? In watter opsig, behalwe natuurlik dat ons kerk toe gaan, moet ons aan die Sondag 'n spesiale karakter gee?

Daarom wil ek vanmiddag, noudat ons saam God se Woord gaan hoor oor die betekenis en bedoeling van die Sabbatdag, dit 'n keer omdraai en sê: die Sondag moet nie 'n ander dag as die ander weeksdae wees nie, maar die ander dae moet net soos die Sondag word.

Ons moet op Sondag nie probeer om 'n bietjie los te kom van die Maandag tot die Saterdag nie, maar ons moet op Sondag leer hoe dit ook op Maandag en Dinsdag t. e. m. Saterdag behoort te wees.

Die een Sabbatdag -rusdag- is deur God ingestel om van ons hele lewe weer 'n Sabbat te maak. Sodat ons die ewige Sabbat al in hierdie lewe begin.

Kom ek vat my boodskap so saam:

OP DIE EERSTE DAG VAN DIE WEEK MOET ONS LEER OM DIE HERE ONS HELE LEWE TE EER

HY VERDIEN ONS EER VANWEË

  1. SY SKEPPING VAN DIE WÊRELD
  2. SY OORWINNING OP SY VYANDE
  3. SY HERSKEPPING VAN SY KERKVOLK

1. Ons het sopas Psalm 92 gelees. Dit is die enigste Psalm in die Bybel waarvan spesiaal vermeld word dat dit "'n Lied vir die sabbatdag" is.

Ek weet dat daar van u is wat daarom elke Sondagoggend juis hierdie Psalm opslaan en lees.

Maar waaróm is juis hierdie psalm 'n lied vir die sabbatdag? Het u uself ooit dié vraag afgevra? Wat maak Psalm 92 spesiaal geskik om op die sabbatdag gesing te word?

Die meeste kommentare bly taamlik vaag daaroor. Hulle gaan nie eintlik op daardie vraag in nie.

Vir iemand as Johannes Calvyn is dit egter g'n vraag waarom juis Psalm 92 as 'n sabbatslied in die Skrif aangedui word.

God het mos die sabbat nie ingestel, sê hy, omdat God behae skep in ledigheid, niksdoen nie. Die bedoeling is juis dat die mense, ontlas van alle gewone bedryf en besigheid, hulle geheel en al aan die oordenking van God se werke sou wy. Die sabbat word nie geheilig deur niks te doen nie, maar is ingestel sodat ons op dié dag God se Naam sou loof en verheerlik.

So leer ons inderdaad uit die Bybel God se bedoeling met die sabbatdag verstaan. Die HERE wou 'n loflied tot sy eer uit mensemonde hoor toe Hy in die Paradys die Sabbat ingestel het.

Hy het Self 'n dag lank die tyd geneem om voldaan die voltooide werk in oënskou neem, nadat Hy in ses dae die hemel en die aarde, die see en alles wat daarin is, geskep het. God het 'n spesiale dag daarvoor geneem om te geniet van wat onder sy hande tevoorskyn gekom het. En Hy was baie tevrede: dit was baie goed. Hierdie hele wêreld is die ene blyk van sy almag en wysheid.

Maar toe het die HERE ook die mens in sy sabbatviering betrek. God het Adam en Mannin saamgeneem op 'n wandeling deur sy hof en alles aangewys: die skitterlig van die son met sy warmte, die massiewe rotse van 'n berg, 'n oog waaruit helder koel water opborrel, die wonderlike struktuur van 'n blom, die georganiseerde gekrioel van die miere, 'n rondfladderende skoenlappertjie, die lang kameelperd en die groot olifant...

En toe kon God se kind, diep beïndruk, maar net tot die selfde gevolgtrekking as sy hemelse Vader kom: dat alles baie goed is; en dus: dat God baie goed is!! "Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!"

So het God daardie eerste sabbatdag ook uit mensemonde die eer en die waardering en bewondering vir Hom, hul Skepper en Vader gesoek! En Hy het dit ruimskoots ontvang.

Dit beteken dit ook as ons in die teks van die Vierde Gebod lees dat die HERE die sabbatdag "geheilig" het: God het hierdie dag spesiaal bestem tot die verheerliking van Homself. Op hierdie dag moes die mens deurdronge raak van die grootheid van die God wat sy Vader wou wees en met Wie hy voortaan as kind mog saamleef.

Nou ja, lees dan nou weereens Psalm 92.

In hierdie Psalm klínk die loflied van verwondering wat God so graag wil hoor: Vs 6: "Hoe groot is u werke, o HERE, baie diep is u gedagtes. "

Ja, Psalm 92 sluit aan die die refrein van Genesis 1. Dag vir dag kon die HERE met tevredenheid vasstel dat die werk wat Hy tevoorskyn geroep het, goed was.

Die eindresultaat was in sy oë selfs baie goed.

Maar dan is dit ook "goed om die HERE daaroor te loof en tot eer van sy Naam te psalmsing".

Dan is daar vir die mens alle rede om van smôrens vroeg tot saans laat, ja vanaf die oomblik wat ons uit die bed klim tot die oomblik wat ons weer bed toe gaan, mekaar te wys op God se grootheid en goedheid waarvan die hele skepping om ons heen getuig.

Psalm 92 leer ons, broeders en susters, om nog steeds volgens God se oorspronklike begeerte, ons Skepper te eer oor die werk van sy hande.

Nie een dag in die week nie, maar al die dae van ons lewe.

Daar is alle rede om regdeur die dag in psalms en gesange die eer van die HERE te besing en daarby ook maar musiek te maak met die instrumente wat God ook in sy skepping gegee het.

In die tyd wat Psalm 92 gemaak is was dit harp en siter, vandag het ons die orrel, of 'n klavier, blokfluite of 'n viool; maar dit mag ook 'n kitaar wees. As ons maar die HERE grootmaak!

En as u snags nie kan slaap nie, as pyn of te veel spanning u uit die slaap uit hou: moenie begin pieker nie, maar oordink God se wonderwerke en vind daarin rus.

Psalm 92 moet dit ons weer léér.

In die Paradys het soos vanself 'n loflied in Adam en Mannis se harte en monde opgewel toe hulle deur God se skeppingswerk oorweldig is.

Maar hoe is dit vandag?

Kyk Ps 92: 7 "'n Dom mens weet dit nie, en 'n dwaas verstaan dit nie. "

Volgens ons Afrikaanse vertaling, die Ou Vertaling, moet ons hierdie woorde betrek op dit wat volg. Vandaar die dubbelpunt.

Maar volgens die Hebreeuse teks is dit net so aanneemlik om vs 7 op die voorgaande te betrek, en so doen ook die meeste vertalings: Dom en dwase mense het nie meer 'n oog vir die grootheid van God se werke en die diepte van sy gedagtes nie.

Kyk maar om u heen vandag: talle mense maak asof daar geen God is nie; hulle het nog slegs 'n oog vir die mag en die moontlikhede van die méns.

Soos die apostel Paulus skrywe in Rom 1: "Hoewel die mense die HERE uit sy skeppingswerke kan ken, het Hy deur hulle nie as God verheerlik of gedank nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. " (Rom 1: 21, 22).

Ook ons het van nature sulke dom en dwase mense geword, as gevolg van die sondeval. Ook ons kyk dikwels aan God se grootheid om ons heen verby. Ook ons is dikwels so besig met ons eie planne en ideale, met ons eie eer en roem, of met ons kommernisse en spanninge, dat ons vergeet om die lof op die HERE te sing.

Dis dié dat ons die sabbat, daardie een spesiale dag nou meer as tevore nodig het.

Veral nou moet ons tenminste een dag heel spesiaal, sonder om deur ons daaglikse beslommernisse en bekommernisse afgelei te word, besig wees met die HERE se werke en sy diep gedagtes. Sodat ons die loflied algaande weer sal leer, nie net op die sabbatdag nie, maar ook weer op al die ander dae van die week: "o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!"

2. Wanneer Psalm 92 sing van God se "werke" en "dade" (altwee woorde word gebruik), moet ons egter vandag daarby nie meer net aan God se skeppingswerk dink nie.

Ons moet vandag ook sy reddingsdade in die geskiedenis na die sondeval daarin betrek.

Sinds die sondeval het mos die goddelose mense opgeskiet soos onkruid. (Kyk Ps 92: 8) Die wêreld is vandag vol werkers van ongeregtigheid. Vyande van God wat 'n groot mond het teen die hemel.

Die allergrootste vyand van God speel baas op aarde en kry talle mense aan sy kant. Maar hy sleep hulle saam na die dood.

Kinders van die HERE wat hul sondeskuld teenoor hul hemelse Vader bely het en Hom weer wil liefhê met hul hele hart en siel en verstand, ly daaronder en kry swaar.

Maar dan leer Psalm 92 ons op die sabbatdag om ons hoofde op te hef.

As ons op die sabbatdag spesiaal God se skeppingswerk oordink, laat ons dan ook sy reddingswerk nie vergeet nie!

Kyk vs 9 en 10: Die goddeloosheid gaan nie die aarde oorwoeker nie. God se vyande gaan nie die stryd wen nie. Die HERE is sterker as hulle almal saam.

Almal sal vergaan. God sal hulle op sy tyd verstrooi en vernietig.

En dan dink ons natuurlik dadelik aan Christus, gemeente. Hy het die Aanstigter van die goddeloosheid, die Aanvoerder van God se vyande klaar die nekslag gegee. Hy sal eendag al God se vyande as 'n voetbank onder sy voete hê.

Hy sal bewerk dat God eendag weer alles in almal is en die goddeloses van die aarde af verdwyn het.

En danksy Hom hoef ook ek vir g'n vyand meer te vrees nie.

Al moet ek vandag nog temidde van hulle leef en lyk hulle dikwels sterker as ek: God sal maak dat ek hulle soos 'n buffel op die horings neem en verrinneweer. (Kyk Ps 92: 11)

Met Christus is ek vandag al meer as 'n oorwinnaar en ek is klaar met vars olie gesalf ter voorbereiding op die fees wat sal kom: die fees van die inwyding van die nuwe Paradys.

Ons moet op die sabbatdag veral ook hierby spesiaal stilstaan, broeders en susters. Danksy Christus is ons op pad na die nuwe Paradys.

Dis dié dat ons die sabbat een dag verskuif het in ons weekindeling. Pleks van die laaste dag, die Saterdag, soos in die Ou Testament, het ons die eerste dag van die week, die Sondag, tot sabbatdag gemaak.

Nie sommer, eiewillig nie. Maar vanweë Christus se oorwinning op al God se vyande toe Hy uit die graf opgestaan het. Dié dag was die keerpunt in God se geskiedenis met hierdie wêreld. Dié dag gee 'n mens nog meer stof tot lof as die Ou-testamentiese sabbat.

Want nou moet ons nie slegs sing van God se grootheid en wysheid nie; nou moet ons veral ook sing, soos Psalm 92 dit by voorbaat al doen, van God se "goedertierenheid" en "getrouheid". (Kyk vs 2)

U weet tog wat daardie woorde beteken? Hulle omskrywe God se genade en verbondstrou teenoor sondige mense wat die dood verdien.

Immers, óns verdien dit mos nie dat God óns spaar wanneer Hy alle goddeloosheid van die aarde af verwyder nie? Ons verdien dit tog nie dat Hy óns in sy oorwinning op sy vyande laat deel en ons saamneem na die fees van die nuwe aarde nie? God se eie Seun moes dit vir ons verdien.

Ons was oorspronklik sélf vyande, goddeloses! Ons het dit vandag in die Nagmaalsformulier nog weer gehoor: Christus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. Ons is met God versoen terwyl ons nog vyande was.

Ook ons het dit verdien dat God ons in sy toorn vernietig.

Maar in plaas daarvan het Hy, in sy onbegryplike goedertierenheid en getrouheid, sy eie Seun Jesus Christus oor ons sondes vernietig op Golgota.

Danksy dié goedertierenheid leef ons elke dag.

Oor dié goedertierenheid verdien God ons loflied, elke dag.

Maar om God daarvoor alle dae te eer, kan ons nie sonder daardie een spesiale dag elke die week waarop ons dit steeds weer moet léér.

3. Daarom moet ons dié dag in elk geval kerk toe gaan.

Daar, in die kerk, word immers Christus se oorwinningswerk aan ons uitgedeel.

Daar waar die Evangelie van Christus verkondig word en onderstreep word in die Doop en die Nagmaal en waar die loflied op God as 't ware aan ons voorgesing word - daar moet ons elke sabbatdag in die eerste plek wees en die nuwe week begin.

Want ook ons is van onsself soos goddelose onkruid wat deur God uitgeroei moet word.

Slegs as ons wortelskiet in die huis van die HERE en ons voeding by Hom alleen soek, slegs as ons ons laat voed met die versoening wat Christus vir ons bewerk het, sal óns opskiet soos sterk palm en sederbome wat alle onkruid oorleef. (Sien Psalm 92: 13, 14).

Ons kerkdienste op die Sondag is onmisbaar, broeders en susters.

En dit is lewensgevaarlik om slordig te raak in die kerkgang, of om slegs uit sleur en tradisie kerk toe te kom.

Hiér maak God die lewe weer oop vir ons. Hier begin die nuwe lewe met Hom.

Hier herskep Hy ons tot mense wat weer voldoen aan die beeld wat Hy oorspronklik met die mense voor oë gehad het: mense wie se lewe die ene loflied op sy grootheid is. Mense wat leef om te loof.

Want dit is die belangrikste resultaat wat God bereik as Hy ons nie uittrek soos onkruid nie, maar plant in sy huis en laat groei in sy voorhowe: nie dat ons soos sterk bome 'n paar storms kan trotseer nie, maar dat ons vir Hom ryke vrugte begin dra!

Watter vrugte?

"Die vrug van ons lippe wat sy Naam bely" sê die skrywer van die brief aan die Hebreërs.

Vrugte "om te verkondig dat die HERE reg is, ons rots in Wie daar geen onreg is nie" sê Psalm 92: 16.

Vir dié vrugte word 'n mens nooit te oud nie. Inteendeel: hoe ouer, hoe ryper en oorvloediger kan die vrugte wees.

In die wêreld word ou mense al hoe onbelangriker. Hulle tyd is verby. Hulle bydrae word nie meer gevra nie.

Maar in die kerk werk God anderste. By Hom is dit: hoe ouer hoe waardevoller.

Want die loflied tot sy eer klink al hoe kragtiger en kry al hoe meer diepgang namate die mens alles waarvoor hy dalk sélf eer kon ontvang, uit sy lewe sien verdwyn.

Aan sulke vrugte werk God in sy herskeppingswerk in die kerk.

Elke dag. Maar spesiaal op die eerste dag van die week.

En dit maak die sabbatdag dus tot so 'n spesiale dag.

Nie dat ons op daardie dag anders moet wees as in die res van die week nie.

Maar dat ons op die dag moet word soos ons al die dae van ons lewe, ja, tot in die ewige lewe, moet wees.

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)