Hoe ver mag ons gaan met ons beroep op die Here se Naam?

Predikant: 
Ds FJ Bijzet
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 37
Preek Inhoud: 

PREEK OOR SONDAG 37 H K

LITURGIE:
Votum en seëngroet
Ps. 15: 1, 2, 4
Gebed
L. Matth. 5: 13-16 en 33-37 & Prediker 5: 1-6
Ps. 34: 6
Prediking
Ps. 19: 4, 7
Geloofsbelydenis
Ps. 24: 1, 2
Gebed
Kollekte
Ps. 75: 1, 2, 4

Broeders en susters,

Ons Kategismus is 'n pragtige heldere samevatting van die hoofsake in die Heilige Skrif. Dis dié dat die kerke al omtrent vier eeue gelede afgespreek het om elke Sondag in die aanddiens die Woord van die HERE te laat bedien aan die hand van die Kategismus. Op dié wyse word die gemeente gehelp om die hooflyn en die hoofsake in die Heilige Skrif mooi te bly raaksien.

Maar behoort die eed ook al by die hoofsake van die Heilige Skrif?

Die Kategismus dwing ons mos om ook telkens apart stil te staan by die betekenis van 'n eedswering. 'n Afsonderlike Sondagsafdeling is daaraan gewy.

Maar die eed is tog nie só belangrik nie?

Hoeveel van u het al 'n keer 'n eed moet sweer? Dit is 'n uitsondering wanneer 'n mens geroep word om 'n eed af te lê: belangrike owerheidspersone, en mense met 'n baie verantwoordelike taak in diens van die owerheid; en natuurlik in die hofsaal as jy as getuie moet optree.

Die gebruik van die eed bly dus tot 'n minimum beperk in ons lewe. En nogtans moet ons telkens 'n aparte preek daaraan wy? ! Vergly ons aandag nou nie van die hoofsake in die Bybel tot 'n nogal onbelangrike besonderheid nie?

As u bloot konsentreer op die aantal kere wat 'n mens in sy lewe geroep word om die eed af te lê, ja, dan lyk die eed maar 'n taamlik onbelangrike bysaak in die leer van die kerk, gemeente.

Maar die Kategismus vra vir hierdie saak spesiale aandag, omdat daar agter die kwessie van die eedswering 'n vraag skuilgaan wat 'n baie breër terrein bestryk. Agter die vraag of ons 'n eed mag sweer, doem naamlik die uiters belangrike vraag op: mag ons God se Naam slegs noem in die kerk, of het die HERE se Naam ook betekenis in hierdie wêreld? Mag jy God se Naam slegs besing in die kerk of mag jy jou ook op sy Naam beroep in die hofsaal en die stadsaal, in die parlement en as Staatspresident, ja, orals in die breë sameleving?

Dié groot vraag hang regstreeks saam met die kwessie van die eed. Saamgevat: bemoei God Hom net met die kerk, of ook met die wêreld?

En dit is natuurlik 'n vraag waarmee ons wel deeglik elke dag te make kry.

Uiteindelik wil ons vanaand dan ook op dié vraag 'n antwoord vind.

Ons konsentreer dus op die vraag:

HOE VER MAG ONS GAAN MET ONS BEROEP OP DIE HERE SE NAAM?

En dan mag ek vir u wys SO'N BEROEP IS

  1. IN HIERDIE WÊRELD PARTYKEER NODIG VANWEË ONS ELLENDE
  2. IN HIERDIE WÊRELD OOK MOONTLIK VANWEË ONS VERLOSSING
  3. IN DIE KERK OORBODIG VANWEË ONS DANKBAARHEID.

1. Die vraag van die Kategismus of 'n mens wel by die Naam van God 'n eed mag sweer, al doen hy dit ook baie godvresend, is nie so'n snaakse vraag nie, broeders en susters.

Ons het mos in die Bergpredikasie, Matt. 5, gelees dat die Here Jesus duidelik gesê het: "Sweer hoegenaamd nie...... Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose".

Later het Jakobus aan hierdie woorde van ons Heiland herinner in hoofstuk 5 van sy brief: "Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie. Maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder 'n oordeel val nie".

Die antwoord lyk duidelik te wees: ons mag hoegenaamd nie sweer nie. Dis uit die Bose. En die wat sweer val onder 'n oordeel!

Maar die opstellers van die Kategismus het wel geweet dat so'n simpel antwoord alte maklik is. Hulle het natuurlik hierdie woorde van Christus en van Jakobus geken. Maar hulle het ook in die Skrif gelees dat die eed dikwels deur die gelowiges sowel in die Ou as in die Nuwe Verbond gebruik is.

Die HERE het Self deur Moses aan Israel geleer -ons lees dit in Deut. 6: 13 en 10: 20-: "Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien. En by sy Naam moet jy sweer".

Ons lees van Abraham wat aan Abimelech, die koning van die Filistyne, sweer dat hy met hom en sy nageslag nie vals sal handel nie. Abraham se kneg wat 'n vrou vir Isak moet gaan soek, moet aan Abraham sweer by die HERE, die God van die hemel en die aarde, dat hy vir Isak geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete nie.

Dawid en Jonatan het in die Naam van die HERE aan mekaar trou gesweer. Salomo sweer by die Naam van God dat hy Adonia wat hom die troon betwis, sal doodmaak.

En as u dink: dis in die Ou Testament, maar na Christus se waarskuwing in die Bergrede is daar deur God se kinders nie meer gesweer nie, verwys die skrywers van die Kategismus u na Christus se apostel Paulus. Ook van hom lees ons meer as een keer daty Hy die HERE as sy getuie aanroep. Kyk byvoorbeeld 2 Korint. 1: 23: die mense in Korinthe het Paulus van oneerlikheid beskuldig (vs. 17) sy "ja" is nie regtig "ja" en sy "nee" nie "nee" nie. Hy het gesê hy sou kom, maar hy het nie. Maar dan roep die apostel God as getuie aan oor sy siel: hy het nie sy woord gebreek nie; hy het maar net sy besoek uitgestel en eers 'n brief gestuur om die lug te laat opklaar rondom 'n bepaalde gemeentelid.

Dit is dus onmoontik om Christus se woorde in die Bergrede as 'n absolute verbod m. b. t. die eed op te vat.

Maar wat het ons Here dan bedoel? Hy het dan duidelik gewaarsku om nie sommer 'n eed in die mond te neem nie.

Christus het inderdaad die beroep op die Naam van die HERE aan bande gelê. Ons hoef nie elke nou en dan teenoor mekaar die HERE spesiaal aan te roep, asof die HERE enigsins buite ons gewone lewe staan nie. Die HERE is klaar getuie van al ons woorde. Daarom moet 'n opregte "ja" of "nee" genoeg wees.

Maar ons Here het nogtans daarmee rekening gehou dat daar situasies kan wees dat jy nie met 'n eenvoudige "ja" of "nee" kan volstaan nie. Soms moet jy daar bo uitgaan en tog nadruklik die HERE as getuie aanroep.

Dit is "uit die Bose", sê Christus. En dit klink in ons ore soos: dit is heeltemal verkeerd, sondig.

Maar ons kan ook lees: "Laat julle jawoord ook "Ja" wees en julle "nee" "nee". As julle méér as dit moet sê, is dit die gevolg van die Bose se werk".

'n Spesiaal beroep op die Naam van die HERE moes eintlik nie nodig wees nie. In die Paradys was dit ook totaal oorbodig. Toe het die mense mekaar altyd op hul woord kon glo. Hulle het geen oomblik aan mekaar se woorde en beloftes hoef te twyfel nie. Hulle hart het op hul tong gelê, want hulle het niks in hul hart weggesteek vir mekaar nie. Hulle het mekaar ook nie met halwe waarhede en vae beloftes in onsekerheid gelaat nie. Want hulle was aanhoudend bewus daarvan dat die HERE elke woord en elke gedagte tot op die bodem van hul hart geken het.

Maar in dié Paradyswêreld leef ons vandag nie meer nie. Die Bose, die vader van die leuen, het ons hart verower en leuenagtig gemaak. Ons is nie meer altyd en is alles eerlik en betroubaar teenoor mekaar nie. Inteendeel, van kleins af word die oneerlikheid reeds merkbaar in die menselewe. Klein kinders kan al lieg en mislei met die mees onskuldige gesiggies. Ons huigel, vertel leuentjies om beswil, verdraai die waarheid 'n bietjie in ons voordeel....

In so'n wêreld vol onbetroubare mense is 'n nadruklike beroep op die Naam en die aanwesigheid van die HERE as getuie 'n beskamende noodsaak.

Wat moet jy maak, as niemand jou eenvoudig op jou woord wil glo nie? Dan is jy wel genoodsaak om in hoër beroep te gaan en die HERE aan te roep.

Wat moet 'n regter maak as hy by die bepaling van sy vonnis vir 'n belangrike deel op die getuienis van derdes aangewese is? 'n Valse getuie kan die oorsaak daarvan wees dat 'n onskuldige mens tot die doodstraf veroordeel word. Dus sal 'n regter getuies nadruklik voor die aangesig van die HERE moet plaas en met twee vingers in die lug moet laat uitspreek dat daar feitlik twéé getuies is: hyself, maar ook die HERE wat alles sien en hoor. En die straf van die HERE is vreeslik as daar nou nog gelieg word.

Hoe kan almal weet dat 'n nuwe Staatspresident wat 'n groot verantwoordelikheid ontvang, sy beloftes sal nakom en regtig die belange van die volk en nie sy persoonlike belange sal dien nie? Hy is ook van nature 'n leuenagtige mens! Daarom moet hy met die hand op die Bybel sweer voor God se aangesig dat sy "ja" ook regtig "ja" sal wees. Dan is dit ook allereers die HERE wat eendag verantwoording sal vra.

En daar is meer van sulke gevalle waarin daar van 'n mens gevra word om met 'n eed sy beloftes te bekragtig.

Maar so'n spesiale beroep op die Naam van die HERE is dus 'n beskamende herinnering aan ons ellende, gemeente! Ons leef in 'n leuenagtige wêreld. Ons kan mekaar nie meer sommer op ons woord vertrou nie.

Elke eed is 'n bittere noodsaak. En telkens as u tot 'n eedswering geroep word, of daarvan getuie moet wees, behoort skuldbesef en skaamte u hart te vervul.

2. Maar werk ons met die gebruik van die eed in hierdie leuenagtige wêreld nie 'n ontstellende misbruik van die Naam van die HERE in die hand nie? Moet dan 'n heeltemal ongelowige regter in die Naam van die HERE aan iemand 'n eed afneem? Moet 'n ateïs die woorde in die mond neem: "So help My God"? Moet 'n man soos Mandela dalk as nuwe Staatspresident eendag sy hand op die Bybel lê en die naam van die HERE aanroep?

Kan dit?

In die tyd waarin die Heidelbergse Kategismus opgestel is, was daar 'n kragtige stroming wat hierdie tipe van vrae met 'n ondubbelsinnige "nee" beantwoord het. Ek bedoel die stroming van die "Wederdopers".

Die Wederdopers was oortuig daarvan dat ons God se heilige Naam glad nie meer by allerhande sake in hierdie wêreld moet betrek nie. Hulle het geleer dat hierdie wêreld feitlik nie langer Gód se wêreld is nie, omdat God lankal hierdie wêreld vol sonde en sondaars aan die Bose en dus aan die verwoesting prysgegee het. Net die gelowiges wat hulleself tot Christus bekeer en met sy Gees laat vervul het, het God bo die verderf uitgehaal. Sy Kerk is die gemeenskap van die nuwe wêreld, maar hierdie kerk het dan ook saam met God sy rug op die wêreld in sonde gedraai.

Dis dié dat die Wederdopers gemeen het God se heilige Naam is te hoog vir die gebruik in die alledaagse publieke lewe. Hofsaal en stadsaal- dis mos sake waarmee God Hom glad nie meer bemoei nie. Hy bemoei Hom net nog met sy kerk.

Geldsake, kontrakte, politieke verdrae- die HERE het lankal sy hande daarvan afgetrek. Moet dus nie God se naam daar meer aan verbind nie.

Ons loop sulke gedagtes vandag steeds raak, broeders en susters, in bepaalde sektes. Sektes wat baie konsentreer op die bekering van die mens en die gawes van die Heilige Gees in jou persoonlike lewe en in die lewe van die gemeente, maar wat geen boodskap het m. b. t. ons roeping in die politiek, ons taak in die maatskappy en so meer nie.

Daar is vandag ook 'n sterk ánder stroming, wat eweneens sê dat ons God se Naam maar nie meer in die publieke lewe moet noem nie: geen eedswering meer, geen hand op die Bybel as daar 'n nuwe Staatspresident optree. Ook hulle sê: beperk die gebruik van God se Naam maar tot die Kerk.

Maar hierdie mense is nie, soos die Wederdopers, kerkmense wat hulleself ver bo die sondige wêreld verhewe voel nie, maar mense van die wêreld wat hulle ver bo die bekrompe lewe van die kerk verhewe voel.

Is daar by die Doperse stroming 'n gééstelike hoogmoed omdat hulle maar net 'n oog het vir God se verlossingswerk in hul eie klein kringetjie en nie aan die herskepping van God se totale wêreld glo nie- by die ander mense is daar 'n wêreldse hoogmoed, wat nóg vir God se werk in die kerk nóg vir sy werk in hierdie wêreld 'n oog het, omdat hulle hoegenaamd nie meer in 'n God glo nie.

U onthou: ek het in die inleiding op my preek gesê dat die agterliggende vraag by die kwessie van die eed is: bemoei God Hom net met die kerk, of ook met die wêreld? Ter wille van dié uiters belangrike vraag is Sondag 37 in die Kategismus opgeneem.

Want dit moet vir ons buite die kwessie wees dat die HERE glad nie sy rug op hierdie wêreld gedraai het nie. Inteendeel: "So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy Eniggebore Seun gestuur het.... ".

En sy Seun het nie gekom om 'n klein klompie gelowiges uit hierdie wêreld weg te suig en in 'n kerk van die wêreld afgesonder te hou nie. Nee, "Vader, Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle vir die Bose bewaar", het Hy gebid aan die vooraand van sy offer op Golgotha. Hy het ons, sy kerk wat Hy deur sy bloed weer versoen het met sy Vader en vervul met sy Heilige Gees, juis 'n belangrike taak in hierdie wêreld gegee.

Lig van die wêreld het Hy ons gemaak, soos ons in Matth. 5 ook gelees het. Maar wat help lig as mens dit onder 'n maatemmer sit? Die lig moet tot ver in ver omtrek alles verlig.

Ons is nou die sout van die aarde. Maar wat is sout solank dit in die soutpotjie in die kombuiskassie staan? Sout moet uitgestrooi word om die bederf te weer en die smaak te veraangenaam. So ons Here Jesus Christus ons, sy verloste kerk, in hierdie wêreld uitgestuur om orals die Naam van sy Vader weer hoog te hou in 'n samelewing vol goddelose mense.

JAHWE, "Ek is wel deeglik daar"- dit is die HERE se Naam. God is hier, Hy is 'n lewende werklikheid in hierdie wêreld, sonder Hom sou ook ons hier nie kon wees nie. Maar dit moet nie net 'n klein klompie kerkmense weet nie. Hiervan moet elkeen weer bewus raak. Dit moet weer besef word in hofsaal en stadsaal, deur parlement en Staatspresident, in die kaserne en in die koerant.

Daarom mag 'n owerheid sy onderdane nadruklik voor die aangesig van die HERE plaas en 'n eed laat sweer. Daarom mag ons is baie belangrike situasies, as mense geneig is om aan ons woorde te twyfel, ons beroep op die HERE wat ons getuie is.

Die noodsaak van die eed is wel beskamend, omdat ons daarin aan ons eie onbetroubaarheid herinner word.

Maar die moontlikheid van die eed is tegelyk genade, want God gee ons daarin weer vastigheid in ons verkeer met mekaar as sondige mense. Ons mag ons nou in gevalle van twyfel aan mekaar se eerlikheid op die Naam van die HERE beroep en sê: ek kan nie in jou hart kyk nie en jy kan nie in my hart kyk nie. Maar daar is Een wat jou en my hart deur en deur ken en Hy is op hierdie selfde oomblik getuie van ons woorde en gedagtes. Sy naam is mos JAHWE, "EK IS VOLOP AANWESIG". Hy weet of ons meen wat ons sê. Hy sal ons straf as hier gelieg of gehuigel word.

Sondige mense mag saam voor God se aangesig gaan staan en mekaar weer op hul woord glo. Want wie is dit wat durf te lieg voor die aangesig van die HERE? !

Ek weet, selfs die eed word dikwels misbruik. Dit gebeur inderdaad dat 'n goddelose regter in die hofsaal iemand die Naam van die HERE laat aanroep. Dit gebeur dat ongelowiges sonder om te blik of te bloos die HERE as getuie aanroep in 'n eed.

Tog mag dit vir ons nooit 'n rede word om die eed maar af te skaf in die wêreld of dit net vir kerkmense te beperk nie. Misbruik hef die gebruik nie op nie. Ons moet nie die Naam van die HERE deur ongelowige en goddelose mense uit hierdie wêreld laat wegdruk nie. Want dan gee ons juis die vastigheid weer prys wat ons in die Naam van die HERE in hierdie wêreld ontvang het. Wat bly oor, as ons ons selfs nie meer op die Naam van die HERE kan beroep nie?

Ons moet teenoor allerhande misbruik van God se betroubare Naam juis des te meer ywer vir die eer van die HERE en vir die regte gebruik van sy Naam. Ons moet die owerheid daarop wys dat hy steeds 'n dienaar van God bly wat geroepe is om die Naam van die HERE in hierdie wêreld hoog te hou. Ons moet die wat God se Naam self in 'n eedswering durf te misbruik, des te meer deurdring van die betékenis van God se heilige Naam: JAHWE, "EK IS TERDEË AANWESIG". Elkeen wat dit nie glo nie of daarmee geen rekening hou nie, moet weet dat daar geen sonde is wat God meer vertoorn as die onheilige gebruik van sy naam nie.

3. Ons het gesien dat die nadruklike beroep op die Naam van die HERE helaas 'n noodsaaklike ding geword het in hierdie wêreld van dat die Bose die leuen hier ingedra het. In die Paradys was 'n spesiale eed heeltemal oorbodig.

Maar daarom -en dit is die laaste punt waarop ek moet wys- moet die gebruik van 'n eed in die kerk, binne die gemeenskap van die heiliges, ook al weer al hoe meer 'n oorbodige ding wórd!

Dis dié dat ons Here Jesus Christus in sy Bergpredikasie die gebruik van die eed onder ons, sy verloste kerkvolk, drasties aan bande gelê het.

Kinders van die HERE wat deur die Heilige Gees weer leer om dankbaar met hul God en Vader en met mekaar te lewe, hoef nie elke nou en dan spesiaal die Naam van die HERE in die mond te neem om hul woorde krag by te sit nie. Ons weet mos saam dat die HERE altyd getuie is van al ons woorde. Hy ken ook ons diepste gedagtes.

Dit kan in 'n enkele geval 'n keer nodig wees om 'n slepende geskil in die gemeente te beëindig deur iemand voor die aangesig van die HERE nadruklik sy onskuld te laat betuig, sodat alle betrokkenes daarna die saak verder moet laat rus. Dan is die eed ook in die kerk 'n seën.

Maar dit moet 'n uitsondering bly. Want ons behoort altyd daarvan bewus te wees dat die HERE oor- en ooggetuie is van ons woorde en dade. Hy weet hoedat ons as man en vrou met mekaar omgaan. Hy weet dit as ons as kinders teenoor ons ouers nie die volle waarheid praat nie. Hy weet of ons as broeders en susters mekaar opreg en ongeveins tegemoet tree, of juis skynheilig.

Daarom hoef ons teenoor mekaar nie spesiaal te sweer nie. Al ons woorde moet so betroubaar soos 'n eed wees.

Ons eenvoudige "ja" of "nee" kan genoeg wees.

Dis ook glad nie nodig om dit te beklemtoon met uitdrukkings soos: "Ek laat my kop afkap..... of: ek mag doodval as dit nie waar is nie". Want sulke kragterme verskil nie soveel van die manier waarop die Jode in Jesus se dae gesweer het sonder om die Naam van die HERE daarby uitdruklik te noem. Hulle het gesweer "by die tempel", of "by die hemel"...... Maar die tempel was natuurlik die huis van God; en die hemel die troon van God. En as u vandag sê: "Ek mag doodval..... ", kan die bedoeling natuurlik alleen maar wees: "Die HERE mag my dood laat neerval as ek nie waarheid praat nie".

Sulke taal is vir kinders van die HERE heeltemal oorbodig. Ook sonder om dit spesiaal te sê, behoort ons almal van die HERE se aanwesigheid en sy straf bewus te wees.

Ons behoort daarvan bewus te wees dat die HERE ons "ja"-woorde gehoor het toe ons openbare geloofsbelydenis afgelê het, toe ons as man en vrou lewenslange trou aan mekaar beloof het, toe ons beloof het om ons kinders volgens die leer van die kerk op te voed en te laat opvoed. Hy het ons belofte gehoor wat ons as ampsdraer uitgespreek het, sowel voor in die kerk as in die kerkraadskamer toe ons ons handtekening onder die Ondertekeningsformulier geplaas het.

Dit was nie meer nie as 'n eenvoudige "ja", maar het darem dieselfde krag as 'n eed gehad.

Die HERE hou ons daarom aan ons beloftes. Moenie dat jy later vir die HERE kom sê: "Ek is jammer, maar dit was 'n vergissing" nie, het die Prediker aan ons voorgehou in die gedeelte wat ons uit sy boek gelees het. Belofte maak skuld. "Dit is beter dat jy nie belowe nie as dat jy belowe en nie betaal nie. Waarom moet God toornig word oor jou stem? "

Die digter van die Psalm waarmee ons vanaand ons diens begin het, het gesê: "Al het 'n kind van die HERE gesweer tot sy skade (byvoorbeeld as hy al gou bemerk dat hy en sy vrou tog nie so wonderlik bymekaar pas nie), hy verander nie".

Want hy mag woon by die HERE, die ewig betroubare God.

Daarom wil hy ook self betroubaar wees.

Eerlik en opreg.

Want as daar selfs in die huis van die HERE, by sy eie kinders geen betroubaarheid gevind word nie- as jy selfs daar moet twyfel of "ja" wel "ja" en "nee" wel regtig "nee" is, waar moet 'n mens dan nog opregtheid soek in hierdie wêreld??

AMEN.

[Ds FJ Bijzet]

Liturgie: 

(kyk in preek)