Jy sal die naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie

Predikant: 
Ander
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Génesis 36
Preek Inhoud: 

Vertaalde preek van ds. B van Zuijlekom

Votum en seëngroet
Sing Ps. 145: 1
Geloofsbelydenis
Sing Ps 105: 2
Lees Exodus 3: 1 - 14
Gebed
Kollekte
Teks: Sondag 36
Preek
Ps. 116: 5
Dankgebed
Ps. 116: 10
Seën

Gemeente van ons Here Jesus Christus,

Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie. Letterlik uit die grondteks vertaal lui die gebod: jy sal die Naam van JAHWE, u God nie verhef tot, nie aanwend of gebruik vir iets wat ydel of sinloos is nie.

Vandag oordink ons hierdie gebod in die lig van die skrif. Ons sal ons eers moet afvra watter betekenis hierdie wetswoord vir ons het: Waarom het die Here ons God destyds vanaf die berg Sinaï hierdie gebod vir sy volk Israel, en dus ook vir ons almal, gegee?

Laat ons vanaand in die kader van die derde gebod, dié samevatting maak: In die verlossing van Sy volk Israel uit die egiptiese slawehuis, uit die dienshuis van sonde, het die Here vir Hom NAAM gemaak, geweldige roem en faam verwerf voordat Hy Sy Wet afgekondig het. Deur Sy Goddelike krag, deur Sy uitgestrekte Arm -en dit was Sy werk alleen! - het God die farao deur middel van tien plae op sy knieë gedwing. Die Here het die water van die rooi see laat wyk en Sy volk Israel droogvoets deur die see gelei, en farao en sy keurtroepe in dieselfde see laat verdrink.

Met hierdie verlossingsdaad het die Here vir Hom 'n geweldige Naam verwerf. Daarom - aldus die Here in die derde gebod - sal jy Israel, die groot en heilige Naam, nie ydelik nie maar met vrees, met ontsag en eerbied, gebruik.

So verstaan ons dit: in hierdie gebod waak God oor Sy verhewe Naam, en maak Hom aan Sy volk bekend as Hom wat Sy Naam geëer wil hê. Dit is so ernstig dat God hieraan toevoeg: "want die Here sal die een wat Sy Naam ydelik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. "

So kom vandag hierdie gebod van die Here tot ons almal! Tot ons wat in Jesus Christus, verlos uit die slawehuis van die sonde en alle heerskappy van die bose.

Vir die verloste gemeente sê die Here: julle begenadigdes, gebruik My Naam slegs met diep ontsag, sodat julle op pad na die groot toekoms van My genade, deur die woestyn van hierdie wêreld, julle nie sal skuldig maak aan die ontheiliging van My Naam nie.

Sodat julle, in hierdie wêreld, na alle genade aan julle bewys, nie ten gronde sou gaan nie. Ons oordink nog: Sonder heiligmaking sal niemand van ons die Here Jesus straks mag sien nie.

Die evangelie van ons Here Jesus Christus oor die derde gebod lui dus:

JY SAL DIE NAAM VAN DIE HERE JOU GOD NIE YDELIK GEBRUIK NIE.

Sonder heiligmaking volgens die derde gebod sal niemand die Here sien nie. Daarom sal ons lewe vernuwe word

  1. deur die ware geloof in die God van die derde gebod
  2. na die eis van die God van die derde gebod,
  3. ter ere van die Naam van die God van hierdie gebod.

Met die derde gebod, waarin God die Here ons oor Sy Naam aanspreek, stel die Here heelwat aan die orde.

Ons bely dit in antwoord 99: Jy sal nie met vloek, of met 'n valse eed die naam van ons God laster of misbruik nie; Ons mag ons ook nie aan sulke verskriklike sonde skuldig maak nie deur stil te bly of om dit toe te laat nie.

Soos ons almal weet, word die eed, beide die godsalige en die bedrieglike, in sondag 37 aan die orde gestel.

Wat vloek betref, verstaan ons dit almal as die uitspreek van Gods heilige Naam as 'n kragterm, as stopwoord en as die sogenaamde bastervloekwoorde. Dit is vir die Here 'n gruwel, 'n ernstige belediging. Sy Naam is te verhewe, te groot en te goed om sommer as kragterm gebruik te word. Om stoom af te blaas.

Dan begryp elkeen van ons die stilswyende toesien - watter kind wat sy ouers liefhet sal stilbly as sy ouers se naam deur die modder gesleep word?

Sal ons dan swyg, uit valse skaamte, of uit vrees vir die mense, of omdat ons bang sou wees om uitgelag te word as ons hoor hoe Sy Naam misbruik word? Hy wat ons so liefgehad het dat Hy sy eniggebore Seun vir ons gegee het? Broeders en susters, seuns en dogters, ons het ons hemelse Vader tog opreg lief?

Om nou die breë, geheelomvattende boodskap van die derde gebod deur die geloof in die God van die derde gebod te leer ken, moet ons nou ons aandag op die letterlike teks van die gebod vestig.

Ten eerste dink ons aan die uitdrukking: "Die Naam van die Here, van JAHWE, u God"; HIERDIE Naam - JAHWE U GOD - mag deur geeneen ydel gebruik word nie, maar moet deur ons almal met ontsag en eerbied bely word. Ongetwyfeld weet ons almal waar en by watter gebeurtenis in die geskiedenis van God se genade Hy Hom met hierdie Naam bekend gemaak het.

Ons het dit saam gelees: Toe God vir Moses by die berg Horeb geroep het, en die Engel van die Here aan Moses verskyn het as 'n vuurvlam in die doringbos. Vanuit die brandende doringbos wat nie verteer word nie! Ex 3: 2

Die Engel van die Here, die Seun van God voor sy vleeswording - Hy wat God uit God en Lig uit Lig is - het Moses daar geroep tot verlossing van die volk van God. Deur Moses se hand uit die slawehuis Egipte.

Wanneer Moses by die geleentheid vir die Here vra (Ex 3: 13): "Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? - wat moet ek hulle antwoord? " - dan antwoord die Here aldus: " EK IS WAT EK IS" So lui Sy Naam. EK IS het my na julle gestuur.

Hierdie Naam, broeders en susters, word weergegee in die Naam waaroor God Sy volk aanspreek in die derde gebod: Die HERE (met hoofletters geskrywe) u God.

EK IS; EK SAL WEES; 'n vreemde Naam, waarvan ons die betekenis maar moeilik verstaan. Om dit te verklaar kyk ons na die volgende.

Waneer die HERE Sy Naam so aan Moses bekend maak, sug Israel reeds jarelank onder die tirannie van Egipte.

In hierdie verdrukking en benoudheid het die Here sy volk laat sug. Menslikerwys gesproke het God geen hand uitgesteek na die volk van Abraham, Isak en Jakob nie, al het die gelowiges onder die volk ook hoe gesmeek om verlossing. (Ex 2: 23).

Die hemel het gesluit gebly, terwyl die HERE tog vir die vadere belowe het dat Hy vir die volk uit hulle gebore, die land Kanaän tot 'n ewige erfenis sou gee, en hulle uit Egipte sou red. Sien Gen 15: 13 - 14.

Sien, dit is hierdie noodsituasie wat ons aandag vra. As ons by die eerste hoor van hierdie vreemde Naam, JAHWE u God, dit wil verstaan soos die Engel van die HERE dit aan Moses genoem het.

Moses, wanneer jy by die Israeliete kom, en hulle vra jou wat my Naam is, sê dan vir hulle: EK IS WAT EK IS, het my, Moses, na julle toe gestuur.

Laat ons ter verklaring 'n enkele woord invoeg; Die naam deur die Here genoem word dan duidelik; EK SAL WEES, dws Ek sal AKTIEF wees, naamlik in die vervulling van die beloftes wat Ek, die Here in die outyd aan die vadere van Israel gemaak het. EK SAL WEES, dws die Here sal nou metterdaad ag gee op die gekerm van sy volk en hulle uit Egipte verlos. EK SAL WEES; dit is: Die God van die vadere - U GOD - sal nou opstaan tot die stryd; Hy sal sy haters, ver en wyd, laat wegvlug voor sy oë. Ek die HERE, sal dit doen deur die diens van Moses.

JAHWE; dws: jare lank het die skyn bestaan dat God sy beloftes onvervuld laat lê het. Jarelang het dit gelyk asof die HERE sy volk in Egipte sou laat ondergaan, sonder om 'n hand uit te steek, dat Sy beloftes maar net mooi woorde was, waarvan daar niks sou kom nie.

Dit is wat die HERE vir Moses in Midian sê. Dit is wat Moses, as hy in Egipte by sy volk kom, vir hulle sê: Die Naam van onse God is JAHWE, EK SAL WEES. Hy is die God wat tans met sy beloftes gaan NAAM maak. Hy SAL nou bevryding gee, Sy NAAM is so groot.

Verstaan ons teen hierdie agtergrond nou die woorde van die derde gebod?

DIE NAAM VAN DIE HERE U GOD. Hierdie woorde wil soveel sê as: Die God wat tot sy gemeente, uit die slawehuis verlos, spreek vanaf die berg Sinaï - is die enigste God - die eerste gebod - Wat in sy Woord, nie met stom beelde nie - die tweede gebod - in die outyd van genade gespreek het tot die vadere Abraham, Isak en Jakob en sodoende tot die hele volk Israel. Hy het van verlossing gespreek. Hy het jare gelede redding uit die slawehuis en die beerwing van die belofteland in die vooruitsig gestel.

DIT IS SY NAAM, SY ROEM, EK SAL WEES, Hy het nie net belowe en van uittog en intog gepraat nie, maar HY VERVUL Sy beloftes ook.

Ek is wat Ek is; hierdie Naam verkondig dit luid: Ek is die God, die reddende DOEN wat ek toegesê het. Dit is My Naam, My eer, My Faam.

Hierdie selfbekendmaking van die Here aan Moses vanuit die brandende doringbos, wat gebrand het en nie verteer het nie, hierdie selfopenbaring van die Here mag Israel, en mag ons vandag nie ydelik gebruik nie, mag ons nie ophef aanwend of gebruik vir iets wat ydel, leeg of sinloos is nie.

Inteendeel, - antw 99 - HIERDIE Naam van God, HIERDIE God, soos Hy Hom aan Moses verklaar het, en deur Moses se diens aan die hele Israel bekend gemaak is, en soos Hy in Ex. 3 aan ons verkondig word, moet reg, dws deur die geloof, bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys word.

Met ander woorde, ons hele lewe moet 'n deurlopende loflied wees. 'n Loflied oor hierdie groot en heerlike Naam van JAHWE, ONS GOD.

Ons sal moet verstaan dat die Here ons God in die derde gebod vir ons aanspreek oor baie meer as alleen die uitspreek van 'n vloek.

Die Here ons God het Hom aan elkeen van ons persoonlik in die gemeenskap van Sy volk geopenbaar. Ryker, mooier en groter as in die outyd toe Hy Hom aan Moses in Midian, en aan die Israeliete in Egipte bekend gemaak het.

Immers, ons mag Hom ken. Hy het Sy Naam aan ons bekend gemaak, Hom verbind as die God, - Vader, Seun en Heilige Gees.

Dit is vandag Sy Naam, Sy eer en Sy Roem oor ons lewe. Hy IS WAT HY IS; dit wil sê: Hy mmak Hom nie alleen bekend as Vader, Seun en Heilige Gees nie, maar Hy bewys dit. Hy maak dit met die daad waar, as God die Vader, ons Skepper, as God die Seun, ons VERLOSSER, en as God die Heilige Gees, ons gegewe.

Hy IS WAT HY IS; Ons Vader; Wat in Christus Jesus vir ons as Sy kinders aangeneem het.

Dit staan geskrywe in Sy onwankelbare Woord, dit word verkondig in die Heilige Evangelie, en dit is aan ons voorhoof verseël, dat die Almagtige ons Vader en ons God is. Alhoewel ons in sonde ontvange en gebore is. Alhoewel ons ons skulde daagliks groter maak en dus in onsself alleen maar diep verwerplik is, voor Hom nie 'n oomblik kan bestaan nie. Tog het Hy Sy VADERnaam aan ons lewens verbind.

Daardie Naam, - Hy het Sy enige en beminde Seun daarvoor oorgegee en nie gespaar nie! - wat onlosmaaklik aan ons lewens verbind is, sal ons heilig, roem en prys, deur die geloof elke dag bely in ons woorde en werke, in die middel van hierdie wêreld. Hierdie wêreld wat deur sonde en wetteloosheid hom steeds meer en meer van Sy Woord en Diens afkeer.

Hierdie Naam sal ons bely in 'n wêreld wat dreig om in haar eie bloed te stik, wat vol is van oorlogsdreiging en geweld.

Daardie Naam sal ons hooghou en bely, nou, vandag, terwyl ook ons eie vlees, ons van nature so bedorwe hart ons aanveg om ons van ons genadige en barmhartige Vader te vervreem.

Ek sal U Naam met dankerkerkentenis verhef, ek sal liefde en lof vir U tot offer meng.

Laat die volkere van die aarde woed en bruis - selfs al stort die hele lewe inmekaar onder die verskrikking van die ontketende geweld van mense en volkere, op U Naam sal ek vertrou, my lewe lank!

Ek sal onder die indruk van die FAAM van die Here - HY IS WAT HY IS; HY IS MY VADER EN MY GOD - ek sal deur die geloof in daardie God, wat vir die prys van Sy enige en geliefde Seun nie alleen ons Vader genoem word nie, maar metterdaad IS, daarteen waak om

Sy Naam aan die ydele te verbind. Aan hierdie wêreld en haar wetteloosheid, aan die sonde wat in my hart steeds weer opkom.

Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie; dit wil dus sê: Hoewel ons in hierdie wêreld leef, mag ons nooit VAN hierdie wêreld wees nie. Ons bly in woord en wandel altyd by Hom wat IS WAT HY IS. By ons Vader.

Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie; Het die God van Abraham, Isak en Jakob, toe hy Hom deur die Engel van die Here aan Moses geopenbaar het, Hom nie geopenbaar in die Seun van God se volkome liefde, onse Here Jesus Christus nie?

Staan dit nie geskrywe nie, word dit nie in die Kerk verkondig nie, is dit nie aan ons voorhoofde verseël nie, dat die Seun van God nie nie slegs so genoem word nie, maar dat HY IS WAT HY IS? Dat Hy Hom in die volheid van tyd bewys het en vandag nog bewys dat Hy ons verlosser is. Hy het die volkome versoening van al ons sondes verwerf. Hy het ons verlos uit alle heerskappy van die duiwel deur Sy offer. Is Hy nie metterdaad Diegene in wie ons voor God regverdig gereken word nie, al kla ons gewete ons aan dat ons swaar teen God se gebooie gesondig het? So is Sy NAAM, Sy FAAM en ROEM, waarmee Hy Hom tot in ewigheid aan ons verbind het.

Dan verstaan ons weer deur die geloof in hierdie Christus die boodskap, wat God die Here ons op ons hart gebind het in die derde gebod.

Hierdie Naam, hierdie bekendmaking van God se eniggebore Seun, hierdie daadwerklike aktiwiteit van ons Here Jesus Christus jeens ons, sal ons reg, volgens die Skrifte, volgens die openbaring van Christus Jesus, soos deur die doopwater verleen, bely en in al ons woorde en werke prys.

Dit is: ons sal ons deur Sy Naam oorstraalde lewe nooit aan die heerskappy, aan die invloed, aan die verleiding van die sonde, die duiwel en aan die verdorwe mag van die wetteloosheid verbind nie.

Daarvoor is die Naam van Jesus Christus, die Engel van die Here, te dierbaar. Immers: ons lewe was en is van nature geknel deur bande van die dood. Deur eie skuld gevange, nie net in die slawehuis van Egipte nie maar deur die owerste van hierdie wêreld. Soos Paulus gesê het: verkoop onder die sonde. (Rom 7: 14) Maar die wonder het werklikheid geword - ons weet dit uit die onfeilbare Woord van God - nie met goud of silwer nie, maar met Sy Bloed het die Seun van die Vader ons uit die bose tirannie vrygekoop, ons tot Sy eiendom gemaak.

Daarom, deur die geloof, volgens die derde gebod sal ons in hierdie wereld nie van die wereld wees nie. Ons sal Hom heilig, roem en prys in ons woord en in ons wandel.

Tenslotte, jy sal die Naam van die Here jou God, die DERDE Naam van die die DERDE Persoon van God, waarmee die Here Hom geopenbaar en Hom aan ons verbind het, nooit ydelik gebruik nie.

Immers, die Heilige Gees leer vir ons in die Woord van die Here ons God dat HY IS WAT HY IS, en Hy verseker ons in en deur middel van die water wat in die heilige doop op on voorhoof gesprinkel is, dat Hy nie slegs so sê nie, maar metterdaad God die HEILIGMAKER is, wat deur Sy Woord en deur die verkondiging van die evangelie van die Almagtige en deur die aanhoor, lees en oordenking van hierdie blye boodskap die invloed van ons bose hart terugdring en verbreek. God is u, Hy is jou Vader, en Christus het waaragtig gesterwe tot 'n volkome versoening van al u, van al jou sondes. Die Heilige Gees is tog diegene, wat deur hierdie magtige evangelie die stem van die sonde in ons hart en vanuit die wêreld, die swye oplê. Hy is dit wat deur die krag van Sy genadeboodskap ons elke dag sterk en staal tot die stryd teen die magte en owerhede in hierdie wêreld, teen die bose, verleidende geeste wat in die Kerk, in hierdie wêreld, in die alledaagse lewe, ons deur Christus verloste lewe wil ontheilig.

Verstaan ons nou die derde gebod broeders en susters?

Wanneer ons deur die geloof sien en bely, dat die Gees van die Here, die Gees van die Engel van die Here, ons Here Jesus Christus, só besig is, hier en nou, deur middel van die verkondiging van die evangelie, om ons vry te maak van die mag van die sonde, en ons heilig te maak vir die Here ons God, dan kan dit nie anders nie of dat ons Sy Naam bely, roem en prys, in ons woord en in ons wandel. Van onsself is ons lewe verlore, aan die sonde vasgekluister. Met harte wat deur mense onbuigbaar is.

Dan waak ons daarteen om ons deur die Gees oorstraalde lewe te buig na die ydele en sondige. Dit na die eis van die derde gebod.

Al die skitterende in hierdie wêreld wat geen bestand het nie, en die ontheiligende kragte hier benede gun ons geen plek in ons lewe nie. Rein en heilig sal ons wees, nie deur eie krag nie, maar deur die krag van die Gees wat aan ons gegee is.

Jy sal die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik nie, nie verbind met iets wat sinloos, sondig en onheilig is nie.

Immers, geliefdes, die Here ons God - die Vader, Seun en Heilige Gees - die Drie-enige is spaarsaam met Sy Naam. Op Sy Naam, waarmee Hy Hom aan ons verbind het in Sy daadwerklike, reddende genade.

Hy begeer dat ons, oor wie Hy Sy Naam genadiglik uitgeroep het, ook Sy Naam spaarsaam sal gebruik. Het Hy ons nie verlos nie, het Hy Sy Naam nie reddend aan ons verbind nie, SODAT ons 'n heilige volk, geroepe uit die duisternis na Sy wonderbaarlike lig sou kom, SODAT ons die deugde van ons God sal verkondig!. Onder die ou bedeling het die Here op die LOFsange van Israel gewoon, net soos die hemel vandag en die nuwe aarde straks vol is van die lof, eer en aanbidding van God, wat op Sy troon sit. So sal deur die verkondiging van hierdie gebod vandag ons lewens in woord en wandel geheilig moet word. Geheilig en vernuwe ter ere van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Nie ontheilig ten koste van ONSE Vader, nog ten koste van die Seun ONS Verlosser, of ten koste van die Heilige Gees wat begeer om ons te heilig voor die Here nie.

Sonder heiligmaking sal immers niemand die Here Jesus mag sien in Sy eweige vreugde nie.

Dit is die erns waarmee ook hierdie gebod op ons harte gebind word. As die heiligmaking ontbreek, as die daaglikse worsteling tot daadwerklike lewenswyding tot ere van die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees onder ons nie gevind word nie, dan het ons geen toekoms nie.

Daarom, ter ere van die Here, tot lof van die Naam van die Here sal ons Sy grote, ons genadige verlossende Naam, heilig, roem en prys.

AMEN

Liturgie: 

(kyk in preek)