Die aktualiteit van die tweede gebod

Predikant: 
Ds FJ van Hulst
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2000-01-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

Ps 97: 1-4
Skb 35: 1-3
Geloofsbelydenis
Ps 115: 1-6
Lees: Jesaja 44: 6- 23
Teks: Sondag 35

Brs en srs,

As ons 'n slag rondom ons kyk in ons kerkgebou sal u met my saamstem dat dit eintlik maar 'n kale boel is.

Al wat hier te sien is is 'n paar mure, 'n preekstoel, 'n doopvont, twee plantebakke en 'n bos blomme.

Verstaan u my goed, dit is nie bedoel as kritiek op die inrigtingskommissie nie.

Dit gaan my nou nie daarom wat hier te sien is nie, maar veel meer om wat hier nie te sien is nie.

Wat ons hier nie sien nie is 'n paar beelde van apostels of van die Here Jesus. Daar ontbreek ook groot skilderye met taferele uit die lewe van vroeere heiliges.

Al wat aan die muur hang is 'n paar luidsprekerkassies en psalmbordjies. 'n Kale toestand.

Maar tegelyk moet ons se daar was van die gemeente ook niemand wat gevra het dat hier wel beelde moet kom om na te kyk nie.

Seker maar goed ook. Ons is per slot van rekening 'n gereformeerde kerk. In so'n kerk soek ons nie beelde nie. Dit weet ons almal wel. Beeldediens is vir ons nie meer 'n behoefte nie.

Niemand voel die verlange om beelde van God of van Christus in sy huis te haal nie. In die opsig het ons die tweede gebod klaar in ons sak. Hier is vir ons geen verleiding meer tot sonde nie.

Kan ons dus die preek oor sondag 35 van die Kategismus maar oorslaan?

Gemeente, ek dink nie so nie.

Sonde teen die tweede gebod sit ons almal in die hart. Hierdie sonde sal hom in elke kulturele situasie anders uiter, maar die sonde is daar!

Springlewend en baie bedreigend vir ons omgang met die lewende God!

Ek verkondig u die evangelie soos volg:

Die aktualiteit van die tweede gebod

Drie vrae:

  1. Waarom wil mense beelde maak?
  2. Waarom weier God beeldediens?
  3. Wat beteken dit prakties vir ons?

Ons het vanmiddag uit Jesaja 44 gelees. Dit is een lang tirade teen die diens van afgode deur middel van beelde. En dit is nie die enigste plek in die Bybel waar dit teen die afgodediens gaan nie. Daar is talle plekke waar hierdie saak aan die orde gestel word.

Blykbaar was vir die Israeliete die verleiding groot om ook beelde van God te maak. Waarom eintlik?

Wat is vir 'n mens so aantreklik aan die maak en aanbid van 'n beeld?

Wel die antwoord is nie so vreeslik moeilik nie.

Kort gese is dit dit: 'n Beeld verskaf 'n mens 'n gevoel van sekuriteit.

Kyk, iemand wat 'n god dien doen dit om in die diens van sy god troos, sekerheid, hoop te vind.

Waarom bring 'n heidense mens offers aan sy gode? Dit is hierom: hy verwag om dan op sy beurt weer deur die god beloon te word. Byvoorbeeld met 'n goeie gesondheid of met 'n goeie oes. Jou god gee jou dan 'n sekere veiligheid. Sekuriteit dus.

Nou moet ons nie meen dat die heiden wat 'n beeld van sy god maak dit doen met die oortuiging dat hy werklik sy god self kan maak nie. Nee hy beskou sy god as 'n hoere mag.

Maar waarvoor hy die beeld nodig het is dit: Hy vertrou dat die god hom dan nog meer naby is.

As hy 'n beeeld maak wat op die een of ander manier 'n kompliment vir die bedoelde god is dan voel die beeldemaker dat die god nog meer aan hom verplig is. Die beeld word mos gemaak tot eer van die god. Die beeldemaker steek daarin baie energie, dikwels maak hy die beeld van die mees kosbare materiaal wat hy tot sy beskikking het, van goud of van silwer. Hoe kosbaarder die materiaal, hoe groter die verpligting van die god om iets daar teenoor te stel.

Voel u wat die heiden besig is om te doen? Hy investeer in sy god. Met die verwagting dat daar beloning sal terugkom.

Deur die beeld het hy eintlik 'n manier om sy god te dwing om iets vir hom te doen.

Die beeld gee vir hom die verlangde gevoel van sekuriteit.

Waarom was hierdie beeldemakery so'n aantreklike ding vir die volk Israel?

Wel presies dieselfde as waarvoor die heidene dit gedoen het.

Sekuriteit!

Onthou die bekendste voorbeeld van die maak van 'n beeld van God deur die volk Israel.

Dit was by die berg Horeb. Baie kort na hul verlossing uit Egipte. Die volk Israel het baie goed besef dat hulle heeltemal afhanklik was van Moses. Die man onder wie se leiding hulle uit Egipte getrek het. Die man wat in staat was om groot tekens te doen. Die man wat die oordele oor Egipteland aangekondig het en toe het dit gebeur!

Die man wat hulle voorberei het op die ontmoeting met die Here op die berg.

Wat kan hulle begin sonder hierdie man?

Wat maak hulle in hierdie woestyn met soveel mense as daar nie goeie leiding is nie?

Maar ongelukkig het hierdie Moses stoksiel alleen die berg beklim. Nie vir 'n dag nie, nie vir 'n week nie, maar al meer as 'n maand is hy weg.

En dan kom die vrae. Wat het van hierdie man geword?

Sal hy ooit terugkom?

Wat maak ons sonder hom?

Paniek in die tente van Israel.

En dan gaan hulle op soek na 'n nuwe sekuriteit.

Hulle soek iets om aan vas te hou.

Hulle soek 'n sigbare waarborg.

Hulle soek sekerheid vir die toekoms.

Hulle wil seker maak dat die God wat Moses vir hulle gepreek het Hom nie nou sal terugtrek nie.

En dit is hoekom hulle 'n beeld begin maak.

'n Goue kalf.

Goud, jawel hulle is bereid om in hul toekoms te investeer.

'n Stierkalf. 'n Beeld wat 'n simbool is van krag en lewenslus. 'n Simbool van toekomstige potensiaal.

By so'n beeld voel jy veilig.

Israel, vat moed! Kom ons vier 'n fees! Laat ons vrolik wees want die toekoms lyk weer blink!

Ons het nou ons waarborg by ons vir 'n goeie afloop van hierdie avontuur!

So het Israel gedink toe hulle 'n fees vir die Here wou aanrig rondom die goue kalf.

2. Waarom weier God so'n beeldediens?

Ons het die verhaal van Jesaja gelees.

Oor hoe die mens met allerhande materiaal omgaan. Bv hy gebruik hout. 'n Deel daarvan gebruik hy vir 'n vuur vir verwarmingsdoeleindes. 'n Ander deel gebruik hy om daarvan 'n afgodsbeeld te maak.

'Red my want u is my god!'

Die eerste ding wat ons hier opmerk is dat Jesaja hierdie beeldemakery beskou as benede die waardigheid van die mens.

'n Mens wat op die kniee gaan vir 'n stuk hout!

Het die mens, wat geskape was na die beeld van God, dan sover gedaal?

En dan roep die Here Israel toe: Dink tog hieraan o Jakob en Israel! Want jy is my kneg ! Ek het jou geformeer!

Hoe kan jy, as die kroon van my skepping jou neerbuig vir 'n beeld, vir nietigheid?

Daar kom nog by: Ek het jou verlos!

Verlos!

Waarvan? Wel van hierdie tipe dwaasheid. Ek het jou verlos van angs vir die toekoms!

Soek jy in 'n beeld jou sekuriteit?

Watter dwaasheid!

Jy het mos sekuriteit!

Ek die Here is jou sekuriteit.

Roep my net aan en ek sal vir jou gee!

En dan sluit Jesaja so af:

Jubel, o hemele, want die Here het dit gedoen.
Juig, dieptes van die aarde!
Breek uit in gejubel o berge, bosse en al die bome daarin!
Want die Here het Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel. (Jes 44: 23)

Mense as julle so'n belofte het, wat soek jy nog in so 'n armsalige beeldediens?

Dink jy werklik dat jy die Here moet manipuleer om jou te verseker van sy sorg?

Wil jy eg deur middel van 'n beeld probeer om God digby jou te hou?

Watter dwaasheid!

Die Here is mos veel te groot vir soiets?

Hoe kan jy dit dink dat God die Almagtige so met Hom, laat omgaan?

En daarby, dit is nie minder as 'n belediging vir Hom nie.

Jy hoef hom nie na jou toe te haal nie.

Inteendeel !

Die Here is lankal daar. Die Here het klaar sy sorg vir jou toegese aan jou. Hy het mos 'n verbond met jou gemaak!

Wat wil jy nou nog probeer om deur middel van 'n beeld jou God gunstig te stem?

Hy staan mos reeds by jou. Hy gee homself aan jou.

Nie omdat jy hom deur offers en beelde kan dwing nie, maar Hy wou self in sy genade na jou toekom. Hy het neergedaal vanuit die hemel vir jou verlossing.

Hy betoon sy liefde vir jou!

Daardie liefde is nie te koop nie. Dit kan jy maar net ontvang en beantwoord. Dit is al wat die Here soek.

En daarom vergeet onmiddellik van die hele beeldegedoe.

Die Here kan dit nie sien nie!

Want dit is nie minder as 'n ontkenning van die Verbond wat Hy gesluit het.

En dit is die ergste wat jy jou God die God van die Verbond kan aandoen.

3. Wat beteken dit prakties vir ons?

Hierdie laaste vraag kan ons nou begin beantwoord.

Ons het gesien dat die motief agter die skepping van 'n beeld van God dit is dat jy God wil inpas in jou planne.

Deur middel van 'n beeld probeer jy sekere dinge van jou god af te dwing.

In die verband het ons die woord 'verbond' genoem.

God, as die God wat Homself vrywillig in 'n verbond gegee het, laat Hom op geen enkele wyse iets afdwing nie.

In die verband kan ons dus ook se dat enige vorm van godsdiens waarby nie die verbondsverhouding in ag geneem word nie die gevaar loop om 'n beeldediens te word.

Beeldediens is mos dat jy God inpas in jou planne.

En dit kom verskriklik baie voor.

Wat dink u in die verband van die diens aan die 'liewe Jesus'?

Ons sal die liewe Jesus maar vra. Hy sal wel vir ons gee. Hy sal alles wel regmaak.

Hoor u hoe deur so'n manier van praat Jesus Christus ingepas word in ons eie plannetjies? Dit klink wel vroom hoor, en dit is ongetwyfeld ook vroom bedoel, maar by so'n godsdienstigheid is daar nie sprake van dat jy jou laat gebruik in God se planne nie. Nee jy staan self sentraal en jy wil net Jeus aanroep vir die dinge wat vir jou pas.

Beeldediens gemeente. Want as die liewe Jesus dan 'n slag nie doen wat jy, soos jy dink, so ernstig gebid het nie, dan is daar moeilikheid. Dan verstaan jy jou liewe Jeus nie meer nie. Hoe kan Hy jou dit aandoen?

Maar werklike geloof in God as die Skepper en die Regeerder van jou lewe bly ook daar as dit nie gaan soos jy so graag wou gehad het nie.

Immers God het nooit vir jou belowe dat dit altyd goed met jou sou gaan nie. As jy wel so gedink het het jy 'n beeld van hom gemaak en dit gedien. En daardie beeld sal die Here een van die dae in skerwe laat val.

Immers die Bybel maak duidelik dat God ons terdee kan beproef met swaar, amper ondraaglike laste, en dan nog vra Hy dat ons Hom as die Almagtige sal eer en prys.

'n Ander voorbeeld van beeldediens wat ons ook naby is.

Daar is geen diens van God dinkbaar sonder dat daar een of andere vorm aan gegee word nie.

Bv by die huis: 'n tafelgebed, 'n bybellesing, 'n aandgebed.

Of in die kerk: 'n bepaalde vorm van liturgie, 'n sekere bybelvertaling, 'n psalmberyming, 'n manier van prediking, ens

Daarmee is hoegenaamd geen probleem nie solank as wat ons net bewus is: dit is sekere vormgewings van ons geloof.

Maar wat dikwels gebeur is dit: die vorme gaan die plek inneem van die geloof self.

Dan word die geloof in Jesus Christus vir jou identiek met sekere dinge wat in die kerk gebeur, of wat jy by die huis doen in verband met godsdiens.

Daardie vorme, daarby voel jy veilig. Jy ken dit. Dit was altyd al so. Dit gee vir jou die gewenste... sekuriteit.

En gemeente, daar kom ons weer uit by die woord wat so kenmerkend is in verband met die tweede gebod.

Sekuriteit.

Vra jouself af waarin vind ek my sekuriteit?

In my lidmaatskap van hierdie gemeente? Met sy spesifieke mense en maniere van doen?

Vind ek my sekuriteit in die ou vertroude vorme van kerkdienste met alles wat daar gebeur?

Of kan ek nog die betreklikheid daarvan insien en besef daar is maar een ding wat vir my die sekuriteit van die lewe uitmaak en dit is die vertroue op my Saligmaker Jesus Christus?

Met die slotvraag van Sondag 35: Het jy vanmiddag hier gekom vanwee die bekende mense en dinge wat jy kan verwag om hier aan te tref?

Of het jy gekom om jou deur die lewende verkondiging van God se woord te laat onderrig?

Die lewende verkondiging van sy woord.

Gemeente, die Woord is diep snydend. Lewend en kragtig soos 'n tweesnydende swaard.

Laat jy daarmee nog in jou lewe insny?

Of het jy jou lankal daarteen gewapen en probeer jy die skerp kante van die prediking langs jou neer te le omdat jy gewoon nie van die boodskap hou nie?

Neem jy net die woord aan vir sover dit vir jou pas?

Brs en srs, ek vrees die sonde teen die tweede gebod is vir ons almal baie naby. Huiwering wekkend naby.

Bekeer julle almal tot die enigste Redder.

Jesus Christus.

Maak van Hom nooit die beeld wat vir jou pas nie. Maar buig jou steeds weer onder sy openbaring. Want dit is die weg wat Hy vir jou gewys het. Die enigste.

Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)